Wys tans plasings met die etiket Artikels. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Artikels. Wys alle plasings

Dinsdag 31 Desember 2019

2020 Perspektief


📌🖋Oral op Facebook, Twitter, LinkedIn, Instagram en Pinterest is bewyse van 'n opgewondenheid oor 2020. Dit is asof mense se persepsies en beskouinge geskuif het na iets groter. Vir my is dit ook waar.

👩Ek het die laaste maand myself herbeplan as te ware. Die dinge wat my tyd gesteel het in 2019 en voor dit, is nou mee gedeel en die tyd om vorentoe beweeg 'n feit. Ek voel meer gefokus om my drome te bereik.
Van 2019 het ek geleer wat om te los wat my besig gehou het maar nie noodwendig my bevorder het nie. Vrees veroorsaak dat jy rondskarrel vir behoud en oorlewing - en dit was als 'n gejaag na wind. Ja, ek het geleer daaruit maar ek het my waarde weer besef en in die proses my selfvertroue terug gekry. Ek het weer die woord "nee" ontdek.
🏜Die laaste 10 jaar was 'n wildernis tydperk waar ek rond geploeter het en heelwat wonde en rowe opgedoen het. Ek het foute gemaak en tussen die peule beland. Ek was deur die wereld geweeg en te lig bevind; sommer 'n paar maal. Dit doen iets aan jou as mens en as vrou.
👠💍👑Toe Vader my weer roep, het Hy 'n nuwe ring aan my vinger gesit, en 'n nuwe kleed gee en my skaamte weggevat; toe het ek geweet my tweede kans sal baie anders wees.
Hierdie nuwe blad is reg vir nuwe dinge. Nuwe belewenisse. Maar bowenal 'n tyd van vrug dra. Van leef vir die regte redes. 'n Tyd om myself ten volle uit te leef sonder om jammer te wees of weg te kruip. Tyd vir terug staan is verby.
Mag hierdie jaar vir elkeen van my vriende die begin van iets nuuts wees. Mag Vader se guns jou vooruitgaan en jou vul met 'n nuwe waardering vir Sy wereld, die natuur en die koninkryk. Mag sy liefde jou vul, voed en versterk.
🎁'n Voorspoedige 2020 aan elkeen wat my lewe deel en die wat my ken op die sosiale netwerk. Mag jul pad oop en sonder struikeling voor jul le. Pak die jaar met nuwe ywer aan en wees geseend.
📖Jer 43.19
Lynelle

Maandag 14 Oktober 2019

Bosveldstilte deur Lynelle Clark

Foto geleen

DAAR IS IETS WAT KENMERKEND is van die bosveldstilte wat jy nie ervaar op ander plekke nie. As gereelde kampers beleef ons dit dikwels.
Dit is ‘n stilte wat jy voel tot in jou beendere en jou heel laat. Van die noorde tot die suide van die land is die bosveldstilte eiesoortig. Die stilte se spore in jou gemoed altyd treffend wanneer jy terug verlang na die besondersheid en sodra jy weer daar kom voel jy tuis. Op jou gemak en gerus; reg soos koffie kapitaal vroeg in die oggend.
Dit is baie meer tasbaar in die aandskemering en nag. Die getinte hemelruim in goud gehul wat jou Asemloos laat. Deur die dag is dit die sonbesies, swerms vlieë en derglike insekte plus die dag tot dag take wat jou besig hou maar laat middag tot skemer begin jy rustig raak, selfs die muskiet iets wat jy vinnig wegklap terwyl die natuur se magnetisme ‘n daadwerklike invloed het wat jou outomaties lei na buite. Na die ooptes en jy jou longe vol trek van die vars lug.
Voor die bostv kan jy die stilte hoor in die soelheid van die aandskemering. Die geritsel van die natuur in wonder soos dit haarself gereed maak vir die donkerte. Die volmaan wat stadig maar seker die hemelruim klim kompleet asof hy opgetrek word aan ‘n katrol. Verskans tussen blare en takke klim hy die hemelruim op ‘n defnitiewe koers. Die natuur se kleur verandering laat ‘n heimweë agter verskans in skaduwees wat dan in jou beendere kom sit. Dit dwing jou om te ontspan sodat jy ingestel kan word op die mees basiese dinge. Niks is dan meer belangrik as daardie oomblik vasgelê in tyd nie. ‘n Tyd van gesels, vriende maak, suie aan ‘n glassie rooiwyn omring met die nagtelike geluide terwyl die vuur sy dans dans.  
Die vuur praat sy eie taal soos dit suis en kners. Die ligte bries laat vuurvliegie-tonge rond dans, net so bo die gloeiwurmhout. Snoesig in sy vuurkombers. Net om so nou en dan te knetter in luide klanke gevul met hitte en energie. Dit boei jou. Vernuwe jou. Jou praat en lag kom dan natuurlik, jou luister beter ingestel. Daardie oomblikke van saamwees skep ‘n nuwe energie in jou eie wese maar maak jou kalm meer oplettend.
Dan is daar die wind wat behoorlik baljaar tussen die droeëblare. Diè jaar is die bome en veld dor van dors nog so laat in Oktober. Gestroop van groenigheid is hulle nog verskuil in hul bruin wintersgewaad. Skakerings van groen ‘n kleur wat jy kry rondom die watergat of spreier, vir die wat nog gelukkig is om ‘n boorgat te hê.
Tussen dit als bly die stilte praat. Sy stem stil met ‘n defnitiewe suising wat so nou en dan versteur word deur die geritsel van die wind of die klap van die vuur. So asof hulle in ‘n vergadering is. Met ordelike tussenposses en individuele spreekbeurte.
Dit is dan wat jy as mens net kan luister na die stil klanke. Die harmonie van natuur, stilte en vuur asook die wind in ‘n eenheid vasgevang wat jou wese vul met geure en verlange. ‘n Verlange na dinge wat jy nie behoorlik weet nie. Na die onmeetlike soos die uitspansel bo jou uitstrek, die flikkerende sterre ‘n herinnering van ‘n Hoër hand. Wat jou opnuut weer klein laat voel. Jou aandag vasgevang in die wonder wat om jou afspeel.   
Ja, die stilte is ‘n defnitiewe gebeurtenis wat jou versadig laat. ‘n Versadiging van innerlike vrede dat dit môre sal goed gaan, dat vandag verby is. ‘n Gewaarwording so groot soos die uitspansel self.
Kopiereg voorbehou


Saterdag 29 Junie 2019

Luister jy na jou spieëlvrou? deur Lynelle Clark


Anders as die meeste van ons is die spieëlvrou baie geduldig. Haar beeld ‘n konstante herinnering van wie jy is, wie jy geword het en selfs jou tekortkominge word onderstreep deur haar. So in die stilligheid is haar teenwoordigheid ‘n vingerwysing en vermy ons haar eerder as die spreekwoordelike wit olifant in die vertrek.
Vir baie jare het ek my spieëlvrou vermy. Sy was daar, onopmerklik, geduldig en stil. Altyd opgesluit in die vergulde of houtrame van my spieëls. Ek het haar geignoreer, haar geen erkenning gegee nie. Vir jare haar vermy soos die plaag. Want om na haar te kyk is om tot in jou siel te kyk. Daar waar dinge anders lyk as jou huidige lewe. Jou sielsoë die veroordeling, wat die hoekom vrae loslaat, en die een wat meer soek.
Sy wek in jou ‘n gewaarwording van die ware self vanuit die spieëlbeeld. Sy kom nie met kwistige woorde of ‘n heuningkwas en paai jou nie. Nee, sy is die waarheid. Sy verteenwoordig die jy in ‘n weerkaatsende formaat. Haar weerkaatsing is nie wensdenkery nie. Dit is eerder die realiteit verdoesel in die spanningsvolle eise van jou lewe.
Stil en sluimerend sal sy so nou en dan verskyn en indien jy haar nie raaksien nie, retireer sy in haar spieëlwêreld en wag. Die dag wat sy uiteindelik jou aandag het verander jou lewe. Handomkeer verander dit vir die goeie. Haar waarheid soos ‘n wakker-word klap wat jou tussen die oë tref.
Ek weet, myne het. Dit was een oggend, tydens die normale was-roetine voor die dag begin het toe sy my vra, “Wie is jy nou eintlik?” Ek het toe geweet ek kan haar nie langer vermy nie. Die eie ek so ver weg gebêre tussen al die moets en moenies dat sy nie meer geskitter het in haar eie reg nie.
As vrou word jy maklik in ‘n hoekie geplaas en dink jy dit is reg en eintlik baie Christelik van jou maar die een wat die meeste skade lei, is jy. Die spieëlvrou wys dit uit. Dit is ‘n harde werklikheid maar sy dra dit tog sagkuns oor. Daar is geen eise of oordeel van haar kant af nie. Soos ‘n goeie feë-moeder wys sy jou die tekortkominge uit. Soms met een vraag, of dalk ‘n beeld wat na jou terugstaar. Maar jy weet onvermydelik dat sy die een is wat nou praat. Heel moontlik omdat sy na 30 jaar besluit het genoeg is genoeg. As sy nie nou tussenbeide tree nie sal jy sterf.
Omdat sy net die beste vir jou op haar hart het wil sy jou sien skitter. Om te verdof in die niet in beteken sy verdwyn ook. In dit is sy eintlik selfsugtig. Sy soek haar plekkie in die son en gun dit vir jou. Sy wil hê julle twee moet saam die eindstreep behaal. Daardie plek waar jy skitter, blink en gepoets uitgestal word as ‘n kosbare edelsteen.
Ons onderskat haar waarde as spieëlvrou. Sy is die beeld van die ware jy. Dit beteken nie jy spring die proses van skitter vry nie. Allermins. Maar jy stap dit nie alleen nie. As mens is jy van daardie oomblik wat jy haar erkenning gee bewus van haar.
Elke tree wat jy stap is sy daar, altyd teenwoordig. Sy bly jou aanspoor. Sy vertrou jou om die regte ding te doen. Om jou beste te doen. Sy word dan jou eie private rasieleier en bly getrou aan jou sy. Sy verdwyn nie, sy bly op haar plek. Elke keer wat jy die spieël besoek is sy daar.
Die spieëlvrou se deursettingsvermoë is iets om te admireer. Net sy weet wanneer jy jou volle potensiaal bereik het. Tot dan bly sy getrou in haar aanmoediging.
So min is eintlik bekend van haar. Haar naam onbekend, en haar afkoms onbelangrik. 
Ons elkeen het ‘n spieëlvrou wat geduldig wag om ons te ontwaak soos ‘n Sneeuwitjie van ouds. Dit is net wanneer ons uit ons slaap geruk word dat ons werklik kan groei in ons potensiaal. Ons lewe gevul met die goeie, want sien wanneer ons skitter gee ons vanuit daardie plek van oorwinning.
Indien jy nie oorwinning gesmaak het nie of die pad ken nie, bly jy bitter en stagneer. Dit ontneem jou van ‘n toekoms. Bitterheid maak jul albei lam, druk al die lewe uit julle uit. Maar sy is veerkragtig en spring dadelik in plek indien jy haar toelaat om jou uit jou kassie te laat kom. Maar die besluit berus by jou. Om haar te erken as jou gewete is die begin van jou lewe.
Indien nie, wag sy getrou op haar pos so in die rame opgehang oral in jou huis.
Kopiereg Lynelle Clark 2019

Saterdag 07 April 2018

Hekke: 'n Simboliese kykie van 'n plaashek. 'n Unieke vryheid.



Hoeveel keer moes jy al uitklim om ‘n hek oop te maak?

In ons daaglikse lewe het ons gemaklik geword. Ons druk net ‘n knoppie en die hek maak vanself oop.  Die nuwerwetse hekke is so swaar dat jy nie eers sal droom om dit per hand te stoot nie. Om nie eers te noem dat dit so toe is dat jy nie kan sien wat aan die anderkant is nie. Dit skei ons geheel en al van die lewe daar buite/ binne. Onsigbare wesens wat geruisloos deur ry sonder ‘n gedagte van die wêreld om ons. Indien jy op pad uit is, is jy binne minute deel van die besige lewe en voel ons moeg en afgemat nog voor die dag behoorlik begin het. Selfs die oopskuif in die middag bring net jou verantwoordelikhede nog meer onder die vergrootglas. Alhoewel by die huis is die verpligtinge van ‘n gesin die grootste druk op enige mens en soek jy die ontvlugting van ‘n oop pad sonder dat jy dit besef. Die kontrole knoppie het ons afgestomp gemaak met geen verwagting vir die nuwe nie. 

Alhoewel dit ons lewe vergemaklik, het dit nie dieselfde bekoring as ‘n plaashek nie.
Ons platteland is besaai met die tipe hekke. Dit is laag genoeg dat jy sommer daaroor kan spring met net ‘n paar drade om die diere uit te hou. Verder het jy ‘n duidelike beeld van wat te wagte is voor jou. Dit maak ‘n vryheid oop wat in ons alledaagse bestaan vergete geraak het. Dit vat ons as te ware weer terug na ons wortels, ons word gevul met vrede en ‘n besitreg en jy haal opnuut asem. ‘n Unieke vryheid.
Die natuur het ‘n manier om ‘n mens te anker, weer perspektief te gee. Vars lug in jou longe. Nuwe lewe sigbaar oor die veld. Diere wat kommerloos rond dwaal en herkou. Die geheel beeld wat ‘n verrykkende invloed op jou het.

Met ons afgelope vakansie in die Oos-Kaap moes ek verskeie kere uitspring om ‘n hek oop en toe te maak. Dit is heel anders as ‘n gemotoriseerde hek, nie waar nie? Daar is amper ‘n afwagting in daardie oopmaak. Die lug en lig is skoner, helder so sonder enige wasige rook of afval of op hoede wees vir kwaaddoeners. Dit is die opening tot ‘n ander wêreld en met hernude krag stap ons dit tegemoet. Die kronkelpad, afwagtend om jou te vat na sy geheime plekke lê uitgestrek voor jou oppad iewers heen.
Die eindbestemming wink in die verte en opgewondenheid bruis deur jou are.  Soms is hierdie paaie in skadu’s gehul, geheimsinnig asof dit nie sy geheim met jou wil deel nie. Ander kere glinster dit helder voor jou uit maar gee geen aanduiding van sy eindbestemming nie – geheimsinnig, winkend, al kronkelende verdwyn dit oor die volgende kop of rant. Op een stadium was ons bo op die Baviaansberge en moes ek weer uitspring om ‘n hek of twee oop te maak en die verlatenheid was sprekend, tasbaar maar tog gevul met ‘n eiesoortige heimweë. Miskien na ‘n wêreld van weleer of miskien sommer net na die stiltes van die natuur.

Is ek die enigste een wat dit so ervaar?

‘n Mens kan dit selfs ‘n stap verder vat. Behalwe vir die fisiese is daar ‘n figuurlike betekenis tot die oopmaak. Die oopmaak van jouself veroorsaak dat jy beter sien. Dit bring nuwe lewe asook ‘n verwagting vir die onbekende. Wanneer ons daardie hek oopmaak gebeur daar iets in ons en nuwe lewe bruis deur ons. Dit is dan wanneer ons weer gefokus raak en opnuut ons talente raaksien, onsself leer ken en sommer net weer mens word. ‘n Mens met ‘n doel.

Vanuit my pen groete
Lynelle


Sondag 21 Januarie 2018

Die ander vrou deur Lynelle Clark


As geskeide vrou leer jy vinnig wat beteken die terme: Die ander vrou. Dit is nie iets waarvoor jy beplan nie maar is onvermydelik wanneer jy weer betrokke raak met ‘n man. Julle kan hoe diep in mekaar se oë kyk en op elke vlak mekaar aanvul maar sy is die een wat hom die beste geken het en nogsteeds ‘n rol speel. Soms dink ek dit is juis nodig dat die twee bymekaar uit moet kom en gesels wat positiewe resultate kan lewer. Selfs hartseer kan voorkom. Maar dan kan dit ook ‘n fiasko wees en julle twee is soos olie en vuur en die vonke spat. So, skrap die gedagte. Want dit werk nie. Ek weet.
Die ander vrou is skielik iemand, met ‘n naam. Alhoewel jy haar nog nooit ontmoet het nie, is sy ‘n permanente deel van jou lewe. As nuweling word jy vergelyk, beoordeel en bespreek deur vriende en familie. Ongeag hoe hard jy probeer jy kan haar nie ignoreer nie. Deels omdat sy gedurigdeur opkom in gesprekke veral as julle in dieselfde kringe beweeg of indien daar kinders betrokke is.
Met sosiale media is dit selfs makliker om van die ander vrou te wete te kom en op haar te volg aka spioeneer. Wie het dit nie al gedoen nie? Ons gebruik verskeie redes om onsself te regverdige maar feit bly ons wil meer weet oor die vrou wat die man in jou lewe gedeel het of deel. Dit hang af aan watter kant jy staan.
Ek onthou in my eerste huwelik het ons verhouding ook maar pas begin en het ons saam na ‘n kerkkamp gegaan. Die Sondagoggend moes hy gou ‘n draai loop en sê ek moet solank gaan sit. By ons sitplek het sy Bybel op die vloer gelê waar ek dit op getel het. Daar, voor my voete val toe ‘n foto uit van sy vorige meisie. ‘n Duisend vrae het deur my gegaan in ‘n bestek van sekondes. Agterna het hy my verseker dat die verhouding verby is. Ek het hom geglo. Ons is getroud. Met verloop van tyd het sy elke keer, op die mees onverwagse oomblikke, na vore gekom. Jy sien, sy familie kon haar nie vergeet nie, en het by tye ook kontak met haar gehad. Elke keer het hy my verseker dat sy iets van die verlede is. Maar sy het bly opduik wat wel sy stremming geplaas het. Toe ons huwelik op die rotse loop was sy skielik weer terug. Sommer netso, na 30 jaar van geen kommunikasie. (Ek wil ook nou nie enige wyshede hoor nie… Los dit daar.)
Toe jy vir die eerste keer getroud is was die ander vrou die skoonma en ‘n baie mooi verhouding ontstaan tussen julle twee. Vir my het dit tien jaar gevat om ‘n goeie verhouding op te bou met haar. Ons het beslis ons verskille gehad aan die begin maar selfs dit het minder geword en het ons mekaar aanvaar.  Vir ander is die verhouding pynigende en vind dit so ondraaglik dat hulle sal wegstap bloot net vir die vrede. Luister net na al die skoonma grappe wat sirkuleer en jy sal weet wat ek bedoel. Eintlik is dit baie ernstig en kan ‘n huwelik maak of breek.
Ek het al verskeie boeke gelees, films gekyk en na vrouens geluister waar die ander vrou eintlik ‘n
groot rol speel, besluite en hantering van die nuutgevonde verhouding. Dit is natuurlik nie iets wat ons sal erken nie maar dit gebeur onbewustelik. Soos ek, wat onlangs my haarstyl verander het toe ek agter gekom het ek en die ander vrou se styl is dieselfde. Jip, het haar opgespoor op die sosiale netwerk. Eintlik so onnodig maar dit werk tog sielkundige op jou in. Moenie lag nie… ek is ook net mens.
Ek glo altyd dat ‘n saak twee kante het, elkeen se weergawe kan verskil van die ander. Ek hou daarvan om eerder ‘n ingeligte besluit te neem as om toe oë in iets te stap. Het mos gesê ons elkeen regverdig die spioenasie ding op die Internet. Met my vorige verhouding het die man my alles van homself vertel, sy eie tekortkominge erken en my oortuig dat hy gereed was vir ‘n nuwe blaadjie. Hy het my selfs gevra of ek hom sal help en soos ‘n dapper vrou het ek die stryd betree. Maar daar was verskeie kere wat ek gewonder het wat maak hy, met wie praat hy, en waar is hy? Die saadjie van twyfel was geplant, vernaam hoe meer ek te wete gekom het. Dan het ek gaan ondersoek instel oor die ander vrouens en probeer om alles op te lees wat ek kon. Met hom was dit eintlik maklik want Google het heelwat inligting oor hom gehad.
 Wanneer jy na haar kyk dan wonder jy hoeveel van hierdie man se kwessies moes sy verdra bloot vir die vrede in die huis. Hoekom het sy koud geword? Hoekom het sy weggestap? Wat het haar gedryf om te vra vir ‘n egskeiding? Honderde vrae wat jou laat peins oor die wysheid van die verhouding. Moet jy die kans waag?
Ons wil so maklik glo dat ons lewensmaat die regte ou is vir ons. Jy is bereid om sy foute te oorsien, saam met hom te groei en ruimte te maak vir mekaar maar die ander vrou is altyd in die agtergrond.
“Ek wil eerder by jou bly maar nou moet ek haar gaan help.” Moes ek ‘n paar keer hoor in ‘n vorige verhouding. Dan staan jy terug, oortuig hom dat dit reg is om haar te help. Por hom aan om te gaan.  Jy wil tog nie as die feeks bekend staan nie. Nie dat sy bewus was van my nie – dit het ek ook geweet.
Die ander vrou in my gewese man se lewe het my vinnig laat verstaan dat ek my plek moet ken. So lyk my daar is tog vrouens wat nie ‘n probleem het om te baklei nie. Daar is niks fout daarmee nie en miskien is ek maar net te sag… Hoe ook al sy, elke houding het ‘n reaksie en ek wou net wegkom van als af. So dit het my nie gepla nie.
Op een stadium was ek beskou as die perfekte vrou maar die eise van die egskeiding asook die toenemende finansiële druk gevul met onsekerhede het die verhouding laat skipbreuk ly.
In sommige verhoudings veroorsaak die kinders dat hulle nog moet kommunikeer. Sy kan die kinders gebruik om hom te manupileer om haar sin te kry en as pa is hy in twee geskeur. Jy, as die ander vrou staan dan eerder terug, omdat jy glo dat dit die beste is. Of is dit net ek wat so opgetree het?
In baie gevalle is daardie vrou ‘n spookagtige figuur in jou huishouding. In my verhouding met my verloofde is ek baie dankbaar byvoorbeeld dat niks van die ander vrou saam gekom het nie. Ek weet nie of ek gemaklik sou gewees het om haar geliefde bak uit te haal en iets daarin voor te berei nie. Of om haar tafeldoek te gebruik om vir my kinders te dek nie. Dit is klein goedjies – en sommige sal sê dit is aardse goed – maar aan dit kleef tog ‘n nostalgiese gewaarwording wat jy nie kan ontken nie. Ongeag hoe hard jy probeer om dit te vermy. Ek dink baie keer aan die goed wat ek agtergelaat het, en hoe sy voel daaroor. Kan sy dit regtig met vrymoedigheid gebruik? Of bly sy ook maar stil, verdra dit en stap aan?
Die ander vrou is onlosmaaklik deel van jou lewe. Dit is iets waarmee elke vrou saam leef en na die beste van haar vermoë moet verwerk. Ons vrouens is mos goed daarmee. Om te verdra en aan te stap sonder om ‘n groot bohaai daarvan te maak. Jy steek dit net diep weg want jy wil tog nie hê mense moet dink jy is jaloers of gun haar nie iets nie. Jy leer om nie te reageer op die subtiele maniere van domineer of manupileer nie. Jy wil eerder glo jy is beter as dit. In die proses leer jy jouself vind en bou jy ‘n nuwe lewe saam met jou nuwe liefde as om te top oor haar.    
Ek glo dit is ‘n onderwerp waaroor baie gepraat sal word. Maar is juis ook een van die onderwerpe wat min gepraat word. Ons is net nie altyd bereid om eerlik met onsself te wees nie.
Die ander vrou is hier om te bly – met of sonder jou toestemming. ‘n Wese, nes jy wat net die beste vir jou maat wil hê en sal baklei vir haar eie plekkie in die son. Hoe elkeen dit hanteer hang van ons af.

Kopiereg@LynelleClark2018

Vrydag 12 Januarie 2018

‘n Terugblik op 2017


Die jaar het rof begin. Van ‘n blink toekoms op Stilbaai het net die suur van verraad en hofsake oorgebly. My wêreld het oornag drasties verander en ek moes introspeksie doen oor die pad vorentoe. Verdere negatiewe gebeure in die begin van die jaar het my nog verder in ‘n maalkolk gesit en my lewe het uitmekaar geval, so het dit gevoel. Ek kon net niks reg doen nie, elke besluit katastrofies.  Die donker dieptes reg om my in te sluk.
Lesse is onvermydelik in die lewe, daarsonder sal ons onvolwasse mense bly wat geen besluite kan neem nie. Die kleinste dingetjie sal ons ontspoor en verward laat. Lesse maak ons tog sterk, leer ons wat om te vermy en van watter stoffasie ons nou eintlik gemaak is. Die lewe is een groot leerskool – daar betaal jy herhaaldelik skoolgelde, met geen sertifikaat aan die einde daarvan nie. ‘n Kringloop wat ons meësleur en onverklaarbaar laat in sommige gevalle.  Die lewenslesse vorm ons: liggaam, siel en gees.
Die grootste les wat ons moet leer is dat die wêreld ons niks skuld nie en dat alles nie om “my” draai nie. Hoe maklik het ons-ons nie vererg of gewip omdat ons nie ons sin kon kry nie en op geeindig met eier in ons gesig. Want die wêreld skuld my. Of is ek die enigste een met wie dit gebeur het?
Elke les van 2017 het my nog verder gevorm wat my letterlik na ‘n plek gelei het, ‘n plek waar ek moes hensop en oor gee. Vir lank het ek God weggeskuif uit my lewe as gevolg van diep gewortelde seer. Selfs hiermee moes ek deel, danksy gehoorsame mense wat oor my pad gekom het op die regte tyd. Ek moes weereens erken:  sonder Hom is ek niks. Toe ek die leisels weer terug gee aan die groot bestuurder het dinge in plek begin val.
Daar is nog dinge waarmee ek worstel – selfs tye wat ek myself verwyt vir verkeerde besluite die laaste drie jaar wat ‘n nadraai gemaak het. Maar soos wat ek altyd my kinders geleer het – elke besluit kom met verantwoordelikheid saam, en ek moet saam met die gevolge leef. Dit het my tog sterker gemaak, al wou ek dit nie so insien nie of selfs nie verstaan nie. Daar sal seker nog lesse kom, en sommiges sal ek slaag en ander sal ek dop maar ek weet nou sonder die Anker sal ek nie my skippie deur die storms kry nie.
Ek het defnitief geleer om meer te lag en alles nie so ernstig op te neem nie.
Ek het geleer om te laat gaan en dinge te aanvaar vir wat dit is: lesse.
Ek het geleer om nie oor alles skaam of vernedered te voel nie. Life happens met almal, goed of sleg.
Ek is nog hier, ek haal nog asem. Ek leef. Solank ek dit doen is daar hoop om eendag met sekerheid te kan sê: die meetsnoere het vir my ook op lieflike plekke geval.
Kopiereg @ LynelleClark2018


Maandag 18 Desember 2017

Toewyding skets – 16 Desember


Daar is iets omtrent naambordjies langs die pad wat altyd my oog vang. Dit is so eiesoortig van ons lewe en kultuur as Afrikaner. ‘n Stempel van ons uniekheid afgedruk op ‘n gebied en die spilpunt van ons denke en wyse.  
Weereens was dit so met my onlangse tog na die Suide van ons land en het dit my weereens diep geraak. Dit gee jou ‘n vorm van besitreg, soos ‘n welkom matjie – miskien die rede dat dit so ‘n aanstoot is vir ons regerende regering. Ongeag hoe hulle toi-toi en verander, die waarheid skree dit uit.
Kruger – Dassiedeur – Gannavlakte is ‘n paar name wat by jou bly. Soms wonder ek oor die bepaalde dorpie, sy inwoners en die tipe lewe wat hulle lei. By tye is dit net ‘n vlietende blik van name wat jy mis maar dit verminder nie hul waarde of boodskap nie. Lank na ek en jy weg is sal hulle nog hul doel dien: ‘n stille getuienis van wie ons is.
Die tweede ding wat jou opval van die pad is die berge wat opskied, somtyds in ‘n waas van deinserige blou en in die agtergrond bly─afhangende van die pad natuurlik. Daar is plekke wat dit so naby jou kom dat jy net kan opstaar na die muur van soliede rots soos dit bo jou uittroon en jou in stille eerbied laat. ‘n Konstante  en standvastige teenwoordigheid wat soos sentinels staan: geanker, uitgebeitel en onbeweeglik altyd teenwoordig met ‘n onwrikbare geloof opgehef na die hemele. ‘n Aanwysing van ons eie afhanklikheid na ‘n Hoër hand, ons oë gerig op Hom ongeag die aanslae.
Jou uitsig word verder omsoom met skakerings van lowergroen en spatsels kleur; versierings wat bydra tot ons kleurvolle menswees. ‘n Mengelmoes van besondersheid; die simbool van lewe. Fynbos, Aalwyne en Vuurpyle vertel van deursettingsvermoë en dapperheid. Fyn en fraai of grof en ongeslyp; dit simboliseer ons diepste wese. Selfs die kleinste spikkels van wit, oranje en rooi verklaar ons vermoë om te blom daar waar ons geplant is. Selfs daarin is ons karakter vasgelê en is dit ‘n stille herinnering van ons krag as volk. Sweet en bloed gedrup vir die behoud van hierdie land wat volksbesit geword het. Soos kronkelende riviere bruis dit deur ons. Vol lewe: sterk en magtig. Altyd besig om sy weg te baan, onverstoord deur die vlaktes en klowe. Soms onopsigtelik maar altyd daar.
En dan word jy herinner aan die woorde – woorde wat so ‘n steen des aanstoots geword het.
Ons sal antwoord op jou roepstem. Ons sal antwoord as jy vra. Ons vir jou Suid Afrika.
Kopiereg voorbehou @LynelleClark2017



Maandag 11 September 2017

Alleenheid word nie beplan nie...

Alleenheid word nie beplan nie maar tog bevind baie mense hulself in daardie posisie; ekself is baie gemaklik met my eie geselskap maar ek het tog die behoefte om my lewe met ‘n spesiale persoon te deel. Daar is baie ander wat gemaklik is om vir die res van hul lewens alleen te wees – daar is niks fout daarmee nie.  

Alleenwees het sy eie kriteria waaraan ‘n mens moet voldoen. Jy moet genoeg selfvertroue hê om alleen uit te gaan en nie skaam of ongemaklik voel wanneer mense na jou staar nie. Indien jy ongemaklik is en dit makliker vind om by die huis te bly dan het jy ‘n probleem. Jy veragter heeltemal en verloor waardevolle tyd met mense. Jy raak as te ware afgestomp en verleer om te kommunikeer. 
Jy skuld dit aan jouself om jouself te vind. Jy moet bereid wees om jouself onder vier oë te kan sien en tevrede te wees met wat jy sien. Daar was ‘n tyd dat ek nie na my eie beeld in ‘n spieël kon kyk nie omdat ek bang was vir my eie weerskaatsing.  Jou oë gee jou ‘n kykie in jou siel en partykeer is dit makliker om dit te vermy. ‘n Mens raak gemaklik om jouself mis te kyk: te sien maar niks waar te neem nie. Maar wanneer die lewe jou dwing dan het jy nie ‘n keuse nie. En daardie kyk kan jou gemak zone omkeer en jy moet dit konfronteer want as jy dit ignoreer kan dit groter skade berokken.
Wanneer jy skielik na ‘n egskeiding of dood van ‘n lewensmaat jouself alleen bevind kan daardie alleenheid jou dom dinge laat aanvang in ‘n desperate hoop om die leemte te vul met iemand anders. Maar dit is nie so maklik nie. Indien jy nie vrede gemaak het met die trauma en jou eie menswees nie kan jy nie aanbeweeg en saam met iemand wandel nie.
‘n Mens sien dit so baie: daardie radelose vereensaaming spesifiek op die sosiale netwerke. Enkelmense wat smeek vir aandag, wat op enkelgroepe gaan vir aanvaarding in die hoop om hul droomman/vrou te vind wat geen goeie einde het nie – ek weet, ek was daar, alles om daardie alleenheid te vul. Die seer wat so opgedoen word het verrykende gevolge omdat jou ewewig heeltemal versteur word.
Gesond word kan op verskeie maniere gedoen word: om ‘n berader te besoek, ‘n baie goeie vriend in jou vertroue te neem en jou hart bloot stel aan hom/haar of om jou te verdiep in jou werk. Vir sommige is hul onwrikbare geloof in God ‘n plek van genesing en vrede. Elkeen in sig self kan jou die vertroue gee om voort te gaan na ‘n traumatiese gebeurtenis maar op die ou einde is dit net jy wat dit kan bewerkstellig. Daarom is dit belangrik om jouself te vind en heel te word.
Wat ookal jy besluit op hierdie nuwe pad weet dat jou groei gelyk is aan die tyd wat jy aan jouself spandeer.    
Skitter Diamante.
©LynelleClark – Diamant Diva
Om my te volg gee my net 'n duimpie by: Diamant Divas Facebook Blad 

Dinsdag 05 September 2017

‘n Skets oor Passie deur Lynelle Clark


Gedeel van Tekst Plaatjies.com

Daar was ‘n tyd dat my lewe ‘n nimmereindigende swart put was; waarvan die einde nie sigbaar was nie. Ek het nie geweet of daar enigsins vir my ‘n toekoms was nie en het eenvoudige gestop om te droom, niks het sin gemaak nie. Vir ‘n lang tyd was dit ‘n goeie wegkruip plek – en ek was heel gemaklik daarmee. Maar toe word ek wakker geskrik, in so ‘n mate dat ek besef het ek is ontevrede met my lewe. Die drang na meer het alles oorheersend geword en ek het gerebelleer teen die normale. Ek het geweier om langer aan bande gelê te word en het in ‘n nuwe lewe in gestap.
In die skud-proses is die lewe geneig om jou wêreld om te krap, jou te skud en jou as te ware dwing om uit daardie zone te beweeg. Ja, dit is erg. Dit is baie erg. By tye wil jy verdrink tydends die proses, dit is versmorend selfs, maar dan vind jy iets wat jou anker in die midde van die rond-slingerende strome. Dit is daardie anker wat jou toelaat om die wêreld met nuwe oë te bekyk.
In my geval was my anker skryf. Ons het pas ons besigheid verloor en skielik was ek werkloos asook kinders-loos. My volwasse kinders het in daardie tydperk elkeen hul eie lewe aangepak en net ek en my gewese man was oor. Alles het op eenslag gebeur en ek moes dit verwerk in die beste sin moontlik. Gedurende die skommelings jare was skryf een van die dinge wat my gehelp het in my ontvlugting en geanker het. Dit was ‘n plek waar ek kon ‘praat’ wat op my hart was sonder dat die papier met my terug gepraat of veroordeel het. Ek kon net myself wees.
In die proses het skryf ‘n wêreld vir my oopgemaak waarvan ek nie voorheen bewus was nie. Ek is lief vir lees, was nog altyd, maar het nooit die proses van skryf of die ontwikkeling daarvan verstaan nie totdat ek my eie stories begin skryf het. Om die storie te skryf is seker die maklikste van alles – praat met enige gesoute skrywer en hulle sal dieselfde vertel. Die groot werk kom by die slyp daarvan, die skep van karakters om die storie geloofwaardig te maak, die navorsing - tot by die finale eindpunt: ‘n gepubliseerde boek. En dan, net voor jy dink nou kan jy rus begin die bemarking daarvan. Jy word bemarker, voer onderhoude, boer op die sosiale netwerke en bly gesels oor jou werk totdat jy raakgesien word. Skryf neem jou wêreld oor.
Hierdie proses laat ‘n passie opvlam wat jou aanspoor vir die volgende uitdaging. Sodra die gogga jou gebyt het los dit jou nie; ten spyte van die opofferinge hou jy aan om te glo in jouself. Passie verander jou – en net die wat dit self beleef kan dit verstaan. Dit vernuwe jou denke en open ‘n wêreld so groot dat jy verstom staan oor die omvang daarvan. Passie maak jou vry.
@Lynelle Clark 2017

Die skets word vandag gedeel op Rainbow Gospel Radio deur Ria Fourie.  


  

Saterdag 15 April 2017

Die verlore dogter vind haar pad terug deur Lynelle Clark





Ek het so lank laas geskryf dat ek eintlik dom voel hier voor die sleutelbord maar tog maal die woorde nimmereindigend in my kop dat ek nie anders kan as om wel stil te sit en neer te pen dit waarvan my hart van vol is nie. Die laaste paar jaar was ‘n warboel van emosies en gebeurtenisse en ek het gesukkel om enige iets neer te pen. Persoonlik dink ek 'n mens is bang om nabetraging te doen vir wat jy mag vind. Ons is immers ons mees kritiese kritic. Skryf gee my die platform om my gedagtes te orden, my gevoelens raak te sien vir wat dit is en opreg te bly in my soeke.

My fokus het geskuif van dit wat vir my belangrik was na die gejaag na fisiese satisfaksie: “I want it my way.” en basta die res, maar tog, indien dit nie gebeur het nie sou ek nie nou met meer insig en wysheid my lewe weer op die regte koers gekry het nie. Die “varkhok” pad het my juis gelouter - soos leer gelouter en die harde kors is gebreek sodat God se lig weereens kan skyn in die donkerste kamers van my hart.

Daar is niks soos lewenservaring wat ons terug bring na die werklikheid toe nie. Vir ‘n geruime tyd was my balans so versteur dat ek swak besluite geneem het en nou dra ek die verantwoordelikheid van daardie besluite.

Die belangrikste lesse wat ek geleer het is:
Wie is ek; wie het ek nodig in my lewe en wie kan ek vertrou. En natuurlik, wat wil ek rerig he van die lewe. My binnekring van vriende is ook op die lys van belangrikheid en kan op een hand getel word maar hulle is die mense wat by my staan deur dik en dun – selfs deur al my onnosele foute. Hulle is onselfsugtig in hul bystand, versigtig met hul wysheid maar met ‘n onbaatsugtige liefde wat my veilig laat voel in hierdie groot wêreld met sy voort snellende skommelinge wat my soms laat voel dat ek gaan verdrink. Hulle is die mense teenoor wie ek my hart kan oop maak en ek weet is veilig; daar is geen veroordeling van hulle af nie. Dit is dan wat ek weer besef hoe gelukkig ek is.

Ek kan ook die bewaring van die Hoër Hand sien in dit alles – kon altyd, wou dit net nie erken nie. Telkemale is ek beskerm op die self opgelegde pad en ten spyte van die eie ek was God altyd daar. Dit in sig self  laat my besef hoe spesiaal ek vir Vader is.



Die warboel van gebeure het defnitief sy merk gelaat en ek bevind my op ‘n mooi plek op die oomblik, die terug keer na die Hemelse Vader ‘n welkome terugkoms soos versadigende reën op dorre grond, terug na die bekende toe – dit nadat ek so verbitterd was oor die lewe.

En deur dit alles vind ek my voete weer op die pad na die enigste uitlaatklep wat vir my werk: skryf. Daar was ‘n tyd in my lewe dat ek boeke vol geskryf het maar in die laaste twee jaar het dit weg gesyfer tot druppels tot die woorde later opgedroog het: leeg, sonder betekenis.

Ek het dit alles geweet maar soos ‘n steeks donkie het ek geweier om te erken dat ek God nodig het maar Hy was nogtans getrou. Die ironie van alles is die ondersteunings groep wat ek om my geskaar het is juis Sy kinders – gebrei deur die lewe in elke opsig – dit is hoe groot Sy Liefde vir my is. Hy het geweet wie ek nodig het en mense so geposisioneer dat ek nie anders kon as om Sy einddoel te sien nie. Hoe kosbaar om te weet dat Hy nog steeds in beheer is.

In 2010 was ek ‘n verbitterede mens wat my rug op Vaders’ Liefde gedraai het en ek het baie verhard in my uitkyk. In die proses het ek baie mense weg gestoot, selfs my 30-jaar lange huwelik het in die slag gebly en die verhoudings met my kinders het bitter seer gekry. Nou, 7 jaar later, vind my voete weer die pad terug en durf ek dit aan tree vir tree. Ek leer weer om Hom te vertrou, om oor te gee en toe te laat dat Sy Gees die leemtes vul en die hardheid finaal af te breek. My lewens uitkyk is besig om te verander en nou, wanneer ek die Woord van God oop maak is dit met nuwe begrip.

Ek het geleer om op te hou om myself te veroordeel en af te skryf op grond van wat ander dink of praat oor my maar myself in die lig van God se genade te beskou. Immers tel Sy opinie meer.

My verhouding met my kinders het die jaar sodanig verbeter dat ek met opregtheid kan sê dit is wel met my siel. Sonder hulle liefde, aanvaarding en bystand sou dit nie moontlik gewees het om weer my voete te vind nie. Kinders maak ons heel – selfs die kleinseuns se kleine handjies is genesing vir die moeë siel. Nathan se woorde het my nou die dag, tydens ‘n kuier, diep getref: “Ek is so bly ouma het nie Kaap toe gegaan nie.” Meer daaroor in ‘n volgende aflewering maar ek het net weereens besef hoe my besluite selfs hom geraak het. Dit is daardie woorde wat dan soos ‘n lieflike geur om my hals hang en ek weet ek is geliefd ongeag die modder waarin ek my bevind het. Miskien klink dit narsisties vir sommige maar my gemoedtoestand was so stukkend en rou dat sulke klein gebare vir my die wêreld beteken.

Alhoewel die huwelik in die slag gebly het sal die goue klontjies van wysheid en die mooi herinneringe daarvan iets wees wat ek sal vertroetel in my hartkamers en die swaar tye, die tye wat my met insig gevul het, my verder lei soos ek die lewe verder aanpak. Elke nuwe tree wat ek gee vul my met groter dankbaarheid vir dit wat tans gebeur.

Ek voel voorwaar soos die spreekwoordelike verlore seun wat in die varkhok tot die besef gekom het dat sonder Hom dit ‘n koue plek is. Weer het ek terug gekom na ‘n Vader wat met ope arms my in gewag het: Sy liefde onverandered en sy rus balsem vir ‘n moeë gees.

Sy genade is genoeg. 


@Lynelle Clark 2017






Woensdag 07 Desember 2016

Die lewe is 'n Cha-cha.

Net sodra 'n mens dink jy het nou als geleer wat daar te leer is dan leer jy nog iets.
Dit is nimmereindigend!
Daar is tye wat net niks sin maak nie en ipv om vorentoe te beweeg, beweeg ek terug. Ek het al menigte kere die stelling gelees: "Die lewe is 'n Cha-cha; twee tree vorentoe en een agteruit." 'n Repeterende stappie wat die meeste van ons goed ken. Voeg daar by sensuele musiek, hoehakskoene en ‘n bloedrooi satyn rok en jy het die beste vorm van ontspanning wat jy kan kry. Maar dit is nie werklikheid nie. Dit voer jou weg vir ‘n kortstondige paar minute na ‘n wereld van passie, een word met jou metgesel terwyl polsende musiek deur jou are vloei.
Die werklikheid is nie so nie. En soms dink ek mense is gek om die stelling te glo maar as ek rerig eerlik moet wees met myself dan is dit presies hoe dit is.
Die lewe is vol passie, die eenwording van siele terwyl ons ‘n sekere tyd mekaar se nabyheid deel met die polsende ritme van die lewe wat eb en vloei soos die see om ons. Dit bruis en lewe wat gevolg word met branders wat teen rotse slaan wat jou broos laat aan die einde.

Ons droom van daardie passie - om van die eentonigheid van die lewe weg te kom en vir kortstondige oomblikke gebeur dit wel totdat daardie een tree terug gegee moet word en ons die harde werklikheid in die oe moet kyk.
Dit is hoe my lewe is die laaste 2 jaar. Dit is 'n konstante cha cha van twee tree vorentoe en een tree agter uit. Miskien, juis nou meer omdat ek die lewe alleen aandurf. Voorheen het ek dit nie so intens ervaar soos die afgelope tyd nie; of miskien is dit omdat ek met ander oe daarna kyk. Hoe ook al sy, my uitkyk van die lewe en mense het verander - of miskien is dit omdat ek verander het.
My grootste droom is om onafhanklik te wees.
Ek jaag daarna soos 'n drenkeling wat na ‘n reddingsboot spartel.
Dit dryf my.
Dit spoor my aan.
Dit hou my koers vas; nog net eenmaal op hierdie reis was ek bereid om dit tersyde te stel. Totdat werklikheid my weer 'n paar klappe gegee het. Die werklikheid is so realisties, dit raak die diepste snare van jou hart aan en bring jou vinnig terug na moeder aarde toe. Dan besef jy ipv net een het jy sommer 'n paar tree agter toe beweeg. Tans bevind ek myself sku amper bang om sekere verhoudings weer toe te laat. Versigtig om myself weer oop te maak en net om weer weg te stap met lee hande.
In retrospect bring ek baie van hierdie dinge oor myself. Diep binne my wil ek nog glo in die goedheid van mense. Dat die lewe se passie deel van myne kan word en dat ek dit vir altyd sal leef. Ek wil ek glo dat dit wat mense se hulle respekteer en doen. Nie net se om iets te kry nie maar omdat hulle werklik omgee en waar is teenoor hulle eie woord. Maar telkemale loop ek my vas teen hierdie valsheid en doen ek weer die agter uit stappie. Dit is dan wat ek in elke situasie die leuen wil oop kloof en mense wil eenkant smyt net om te vergeet. Dit is dan wat my droom weer opstaan, my weer herinner hoekom ek op hierdie pad is.
Ek is al voos bloedneus geslaan en soms is dit met moeite wat ek ‘n glimlag op my lippe sit maar tog kry ek dit reg. Tog is daar iets binne my wat die passie geproe het en dit na jaag en glo dat daar tog so iets is soos ‘n Cha-cha waar die musiek sal aanhou speel. Polsend deur my are sal bruis en my die satisfaksie gee waarna ek so naarstiglik soek.
Met my laaste onderonsie het my nou gewese baas sekere beloftes aan my gemaak. Dit was seker die mees interresantse onderhoud wat ek nog gehad het. Hy het 'n paar dinge vir my gese maar wat my die meeste by gebly het was toe hy gese het: "You are the perfect age and at the right place to receive all that was stolen from you. You gave a lot and stood back alot but now is your time to harvest." Nodeloos om te se ek was verstom en ek het die volgende dag begin werk- wat geklink het na 'n droom wat waar geword het.
Nou, 3 maande later bevind ek my weer terug op die plek waar ek begin het met 'n nuwe lewe wat weer vir my wink. En ek wonder wat nou, hoekom weer? Wat gaan aan dat ek my telkemale teen dieselfde goed vas loop om weer van voor af te begin?
Hoekom kan ek nie weg kom van die begin en net vorentoe beweeg nie?
Hier is my konklusie van dit alles: ek het geleer!
Jip, ek was raadop, wou soms teen die mure uit klim van frustrasie, wou my hare uit my kop trek, aanhoudend gehuil waar iemand net kyk vir my en die trane is oop - soos ‘n vloed.
Maar ek het geleer.
Ek verstaan nou die spel van die lewe beter.
Ek verstaan daar is stappe wat gevolg moet word.
Ek verstaan dat elke proses ‘n leer fase was wat my elke keer nader aan my doel gebring het.
Ek het sterker geword.
Geleer om my instink te vertrou.
Geleer om die stil tye waar die musiek so sag is dat dit onhoorbaar is te vertrou dat dinge sal uitwerk. By hook or by crook - soos ons sal se. :)
Maar bo alles het ek geleer dat, as vrou, ek sterker is as wat ek myself wou toegee.
Ek slim genoeg is om nuwe dinge te leer, te verstaan en deur te voer.
Dat ek ek vol energie is wat die lewe in die oe kan kyk.
Bowenal dat ek met 20 plus jariges kan meeding selfs al kom ek tweede: my stamina is onuitblusbaar want ek is op die regte plek. al is dan net vir 2 of 3 maande
En tussen al die nuwe ervarings, ontmoet ek nuwe mense, leer ek die bedryf in al sy fasette beter en sien ek plekke en ry ek paaie wat ek andersins nooit sou ry nie.
Iemand het eenmaal gese dat ek doen sonder om te dink. Dat ek nie bang is om nuwe dinge te probeer nie - en dit is waar - ek doen. Hoekom?
Want ek het niks om te verloor nie!
Geniet die lewe - elke tree wat vorentoe en agtertoe beweeg, volg die polsende ritme daarvan sodat jy ook jou eindbestemming kan bereik.
Maar bo als bly GLO!
Ek wens julle elkeen ‘n Geseende Kersfees toe en ‘n Voorspoedige Nuwe jaar.


Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...