Wys tans plasings met die etiket Artikel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Artikel. Wys alle plasings

Saterdag 02 September 2023

Vroue word bemagtig tydens Die Deugsame vrou byeenkoms in Brakpan.


Op 25 Augustus 2023 was vroue bemagtig tydens Die Deugsame vrou byeenkoms in Brakpan.

Die geleentheid was positief, en deelnemers het die program geniet.

RATA en verskeie belanghebbendes het verlede Vrydag 'n geleentheid vir Vrouemaand gehou om die vroue in die Brakpan-gemeenskap te bederf.

Hulle het dames wat dit bygewoon het, getrakteer op motiveringspraatjies, kos, klein geskenke, en vaardigheidsontwikkeling. Elke vrou het 'n Doelgerigte Lewe Joernaal ontvang.

Die dames het na 'n motiveringstoespraak deur Lynelle Clark geluister. 'n Emosionele getuienis deur 'n oorlewende van huishoudelike geweld en verslawing het die saal stilgemaak. Gebed en liedere deur Ps. Magda van der Merwe het aanklank gevind by almal, en raadslid Riaan van Zyl van die Vryheidsfront Plus het sy eie unieke dinamika by die groep gevoeg, wat die vroue geniet het. Die vroue het wenke oor gesinsbeplanning deur Gloria Khalakhu ontvang en is gemotiveer om terug te keer na die Woord vir genesing deur Ps. Martha Neethling. Dit is opgevolg deur 'n demonstrasie vir selfverdediging van die span van ZULEKU-vegkuns skool.

Die lewensafrigter en skrywer Lynelle Clark het gesê: "Diamante word onder geweldige druk gebore. 'n Deugsame vrou word nie gebore as een nie. Sy word geplant, ervaar geweldige druk en lyding, word soms vergeet, maar wanneer sy opstaan en skoongemaak word, skyn sy. Maar dit begin alles by een besluit. 'n Besluit wat net sy kan neem."

Die vaardigheidsontwikkeling was 'n enorme sukses en oud en jonk het aan hierdie aktiwiteit deelgeneem. Hoe om bad soute te maak as ‘n inkomste vir hulself, was kranig gevolg. Dit is gevolg deur heerlike etes.

Die energie het gedurende die geleentheid hoog gebly, en sommige dames het ‘n nael behandeling soos die tyd dit toe gelaat het, ontvang.

Belanghebbendes en NPO's wat by die geleentheid teenwoordig was, was RATA, Brakpan SAPS Youth Crime Prevention Desk, Gesondheid en Maatskaplike Dienste, ZULEKU, Truth Heals, Psalm 91 Soul Recovery, I Care Collective en Worthy Ministry Brakpan.

 


 

 

Maandag 07 November 2022

Grepe uit My Lewe: Hoofstuk 3: Deel 2

 

Dit vang my altyd onkant; die verwagting, teenoor die realiteit. ‘n Mens sal dink dat wat ek verwag en wat werklik gebeur my nie meer onkant kan vang nie. Maar dit doen. Die verwagting het getaan en die werklikheid staar my in die gesig en dit sny diep. Soms wens ek dinge wil vinniger gebeur en nie so uitgerek word nie. Of hoekom moet ek alweer hiermee sukkel?

Skoonmaak bring mee dat jy met goed moet deel en dit vat tyd. Daardie dinge wat in jou verlede weggekruip het, kom nou na vore en staar jou in die gesig. Soos bondels stof lê dit oral in die hoeke van jou siel. Die walgende reuk van dood sweef op en kriewel jou neus en jy nies totdat die trane vloei. Allergex gaan nie hier voor help nie. “Elbow grease” wel, plus om myself te vergewe, en om ander te vergewe met kamers vol genade. Dit is ‘n moeisame proses en daar is dae wat ek net nie lus is daarvoor nie.

Na vier maande van geweldige pyn, is my arm nou meer beweeglik en word dit makliker om bokse rond te skuif. Ek het nuwe respek gekry vir mense met sportbeserings of ander liggaamlike gebreke.  Die liewe vader weet dit is vrek seer. Dit maak nie saak hoeveel keer jy probeer iets doen nie jou liggaam werk nie saam nie. Skielik mis jy die vryheid van beweging en kyk jy verlangend na mense wat dit wel kan doen. Dan klop selfbejammering aan jou deur en jy moet deur dit druk om nie verswelg te word in die selfbejammering-partytjie nie. Kompleet met ballonne, rooi koeldrank en streamers.

Wanneer jy uiteindelik wel daarby uitkom bring elke nuwe skuif ‘n nuwe vlaag van stof mee en weer word jy gedwing om met die nuwe gevoelens te deel. Dit het party dae gevoel soos ‘n maalkolk waarvan ek net nie kan losbreek nie.

Dit is waar wat Salomo in al sy wysheid geskryf het: “Dit is daardie klein jakkalsies wat die wingerd verwoes.” Dit sluip baie subtiel rond en wag totdat dit iets sien wat kwesbaar is en dan fokus dit daarop. Soos ‘n dief in die nag sluip dit al hoe nader en wanneer jy dit die minste verwag val dit aan. Dit gaan gewoonlik vir die nek maar sal aan enige iets byt om jou te verswak tot waar jy heeltemal ingee en gaan plat lê. In my geval was dit my skouer. En die kommentare van familielede. Ken my familie my dan nie? Is gewoonlik my weervraag. Hoekom sou hulle so dink van my? Voel almal so?

Ek weet nie van julle nie maar wanneer ek beskuldig word van iets so absurd slaan dit al die lug uit my seile uit en laat my lam. Dan gaan delf ek diep rond in my geheuekabinet en inspekteer en evalueer elke aantuiging. Is dit waar? Ens.

Maar ons het altyd ‘n keuse. ‘n Keuse om terug te baklei of terug te staan en toe te laat dat die Here ons lei. Immers belowe Hy om my te beskerm en selfs te verdedig. Hy ken my hart. Hy weet waarmee ek sukkel en waar my swak plekke is. Daarom, wanneer ek swak is, is Hy sterk. Dit is dan wanneer die emosies en gebeurtenisse waarmee ek lank terug gesukkel het opnuut weer verrys uit die as.

Daar is baie bitter herinneringe waarvan die rowe nog nie afgeval het nie, in my lewe. Dan is die mooi minder mooi en die glimlagte geforseerd. Ek is een van daardie mense wie se emosies openlik op my gesig wys. Die besef dat jy nooit met daardie gevoelens gedeel het nie en die rede hoekom jy nogsteeds optree soos toe, ‘n helderheid wat jou eintlik laat klein voel.

Skoonmaak is beslis nie maklik nie. Die deurbrake is ver uit mekaar uit maar wanneer dit klaar is en die stof weggegooi is dan haal jy vrylik asem.

Dit is waarheen ek mik. My doel om eendag heeltemal vry te kan wees van hierdie juk.

Miskien eendag kan ons ‘n allergiese pil drink teen dit. Maar tot dan moet ons met hierdie dinge deel op die ou manier. Dit maak ons immers sterker en maak ons pad duideliker.

En God is getrou. Hy sal ons nooit los nie.

©LynelleClark

Woensdag 25 Mei 2022

Afrikaanse Kultuur


Afrikaanse kultuur word gevind in die sintuie van ons menswees.

Dit word geproe in warm souskluitjies.

Dit word geruik in vars omgeploegde grond.

Dit word gehoor in ’n Hoëveldse donderweer. Dit is fel maar vol lewe.

Dit word gesien in die trots wat daar vloei in elke Afrikaner hart en gevoel in die deeg waaruit die heerlikste gebak uit voorkom.  Dit is die hartklop van ons bestaan.

Dit is ’n kosbare kleinnood wat oorgedra word van geslag tot geslag. Sonder huiwering word dit gepraat en geleef sonder om omverskoning te vra. Dit is ’n alles oorheersende liefde vir als eie aan ons.

Soos Charmain Olivier dit stel: “Om op 'n Sondag middag skaapboud, rys, gebakte aartappels en soet patatas te eet.”  Ons kultuur is in die detail; gedek op ’n tafel waar familie saam kom en ’n glasie klink sommer net vir die lekker daarvan.

Kultuur kom voor in ons skrywes, ons geloof, musiek, kleredrag, en eetgewoontes. Dit is die uitvloeisel van wie ons is, wat ons doen en waarheen ons op pad is.

Na ’n onlangse besoek aan die Voortrekker monument merk Lorraine du Plessis die volgende op: 

“... Soos ek tyd verwyl besef ek dat die Afrikaanse kultuur nie altyd uit Afrikaanse wit mense bestaan nie.”

Dit is toepaslik maar gun die wat die taal lief het ruimte om te groei. Ons hart saamgevat in ’n taal. Dit kan nie in ’n vorm gegiet word nie, maar eerder is dit ’n gevoel van behoort wat hier ter sprake is.

’n Behoort wat met trots dit uitbasuin. “Ek is Afrikaner.” Ongeag waar ons onsself bevind in die wêreld, die trots maak ons uniek.

Die Afrikaanse kultuur is ’n lewende organisme wat wil groei mits ons dit lewendig hou deur aan te hou om te sing, te skryf en te ontwikkel.  


Vrydag 15 Januarie 2021

Die Donker deur Riaan Palmer.

 


Beste lesers.

 

So is daar ‘n paar van julle wat my vra waar is ek en hoekom het ek niks te sê nie. Nou dat ek ‘n boek geskryf het, dink ek, ek is klaar? 

 

Hoe sê jy vir mense? In ‘n samelewing waar mense gereeld op hulle Facebook post “Ek is hier vir jou as jy wil praat.” Maar kan hulle regtig verstaan? Jy het al telkemale gevind dat ander mense nie belangstel in jou probleme nie. So, jy bly maar eerder stil.

So, hierdie post is nie om jou te laat lag nie. As jy gekom het om te lag, moet jy maar eerder nie verder lees nie. Nie vandag nie. Probeer more weer.

Ek skryf dit nie vir simpatie of “toemaar dit gaan beter word nie”. Hierdie post is vir myself. En dit is vir elkeen wat dit nodig het. En dit is vir elkeen wat regtig hulle geliefdes wil verstaan en help. Ek het “Die Donker” lank terug geskryf, maar dit is nog steeds relevant. Want wéér en wéér kom daar mense op ons pad wat die kaarte wegruk, wegloop en jou net daar los – opgebruik.

Partykeer is dit nie mense nie, maar Die Swart hond wat stil-stil gegroei het tot in ‘n onhanteerbare wilde dier.

 

Onthou dat elkeen wat jou pad kruis is besig om 'n stryd te voer waarvan jy niks weet nie. Wees altyd versigtig hoe jy ander mense behandel. Jou aksies kan iemand se dag beter maak of verwoes. 'n Lewe red of 'n lewe neem.

* * *

𝗗𝗶𝗲 𝗗𝗼𝗻𝗸𝗲𝗿

Jy bou ‘n huisie van kaarte. Elke kaart ‘n hoop. ‘n Droom. ‘n Wens. ‘n Aspirasie. ‘n Verlange. ‘n Begeerte.

Jy werk hard. Jy glo. Hierdie gaan ‘n pragtige huisie wees. Dit is jou hele lewe. Jou hele menswees.

Skielik kom daar ‘n warrelwind – dalk net ‘n ligte briesie en jou hele huisie tuimel in duie. Jou harde werk, hoop, drome, trots: verwoes. Jy sak inmekaar van die terugslag, net soos die huisie tuimel jy – plat op die grond. Moedeloos. Maar jy haal diep asem en jy begin weer bou. Jy blaas die kooltjie van hoop weer aan. Stadig maar seker kry jy opgestaan. Jy pak weer jou kaarte – drome, wense, familie, liefde, jou hart – en stadigaan groei die huisie weer. Uiteindelik staan jy weer regop, trots, by jou skepping. Jy glimlag breed en wys vir ander mense jou huisie – jou hele menswees. Jou siel. Jou vriende en familie bewonder dit. Behandel dit teer en met respek.

‘n Vreemdeling kom verbygestap en bekyk jou huisie van kaarte.

“Nee.” Sê die vreemdeling sonder verduideliking. Gevoelloos. Sonder empatie trek die vreemdeling een van die kaarte uit. Dit is ‘n kaart wat die fondasie van jou huisie vorm. Die huisie stort weer ineen. Die vreemdeling stap tevrede weg. Hulle verwoestende werk is gedoen. Onaangeraak deur die verwoesting, teleurstelling en hartseer wat hulle in hulle pad los. Dalk is dit nie eers ‘n vreemdeling nie. Dalk is dit iemand wat jy gedog het jy kan vertrou. Iemand wat help bou het aan die huisie.

Oorweldig deur die terugslag gaan lê jy plat op die grond. Hopeloos. Gebreek. Om jou lê die kaarte gestrooi. Jou handewerk, wat nou ‘n hoop rommel is, word nat van jou trane.

Jy kan nie meer nie. 

Jy wil nie meer nie.

Die Donker kom sit langs jou. Die Donker vat met sy hand aan jou arm.

Laat my in.” Sê Die Donker.

Die Donker sit sy arm om jou.

“Ek sal vir jou sorg.”

Jy weet dis leuens. Die Donker sorg vir niemand en niks. Maar jy is te moeg, te seer om terug te baklei. Jy voel Die Donker heeltemal om jou. In jou.

 

‘n Vreemdeling kom verbygestap en bekyk jou huisie van kaarte.

“Nee.” Sê die vreemdeling sonder verduideliking. Gevoelloos. Sonder empatie trek die vreemdeling een van die kaarte uit. Dit is ‘n kaart wat die fondasie van jou huisie vorm. Die huisie stort weer ineen. Die vreemdeling stap tevrede weg. Hulle verwoestende werk is gedoen. Onaangeraak deur die verwoesting, teleurstelling en hartseer wat hulle in hulle pad los. Dalk is dit nie eers ‘n vreemdeling nie. Dalk is dit iemand wat jy gedog het jy kan vertrou. Iemand wat help bou het aan die huisie.

Oorweldig deur die terugslag gaan lê jy plat op die grond. Hopeloos. Gebreek. Om jou lê die kaarte gestrooi. Jou handewerk, wat nou ‘n hoop rommel is, word nat van jou trane.

Jy kan nie meer nie.

Jy wil nie meer nie.

Die Donker kom sit langs jou. Die Donker vat met sy hand aan jou arm.

“Laat my in.” Sê Die Donker.

Die Donker sit sy arm om jou.

“Ek sal vir jou sorg.”

Jy weet dis leuens. Die Donker sorg vir niemand en niks. Maar jy is te moeg, te seer om terug te baklei. Jy voel Die Donker heeltemal om jou. In jou.

Mense loop verby jou, daar waar jy sonder hoop lê.

Vriende. Familie. Hulle sien nie dat jy plat op die aarde lê nie. Hulle sien nie hoe Die Donker oor jou kruip, deur jou vloei, jou verder wegvat nie.

Die mense vra jou vriendelik “Hoe gaan dit?”

Jy lig jou kop op en glimlag breed. “Goed dankie!” Dit is makliker om te glimlag as om te probeer verduidelik hoe jy voel. Hulle wil in elk geval nie die waarheid hoor nie, want hulle weet nie wat om daarmee te doen nie. Jy wil eintlik jou hand uitsteek en uitroep “Help my!”

Maar Die Donker maak jou stil. “Ek is joune. En jy is myne. Dis net ons. Niemand anders nie.” En dit word nog bietjie donkerder. 

 

Jy weet jy moet hier uit. Maar daar is nie meer krag nie. Nie meer hoop nie. Nie meer drome nie.

Jy het genoeg gehad. Wil nie. Kan nie. Sal nie.

Hoeveel keer moet jy die huisie weer probeer bou? Die kaarte van hoop en drome en geluk en liefde is so gebuig, verinneweer, dat dit nooit weer ‘n sterk fondasie sal wees nie.

Soos jy lê en wag, vir Die Donker om sy werk te doen, sien jy ánder mense om jou wat groter, mooier huisies gehad het. Hulle huisies het ook in duie gestort en nou lê hulle met gewonde siele op die grond. By elke gebreekte mens sit daar Die Donker.

Een vrou het haar kind verloor. Haar Donker is Hartseer. Sy kan geen lig verby haar Donker sien nie, dit oorweldig haar totaal en al. Haar Donker is dood stil. Hy hoef niks te sê nie.

‘n Ander man het alles verloor. Sy Donker is Drank. “Nog net een keer. Hierdie slukkie sal anders wees. Dis die laaste keer.” Sê sy Donker vir hom.

Jy weet Die Donker lieg.

Jy sien al die ander mense om jou wat ook deur Die Donker gevat is. Jy verstaan hulle. Hulle verstaan jou. Jy weet jy kan niks vir hulle doen nie. Hulle weet hulle kan niks vir jou doen nie. Party se Donker is baie donkerder as joune. Maar hulle Donker is húlle Donker. Jou Donker is jóú Donker.

 

𝐷𝑖𝑒 𝐷𝑜𝑛𝑘𝑒𝑟 𝑖𝑠 𝑤𝑟𝑒𝑒𝑑. 𝐺𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒𝑙𝑜𝑜𝑠.

𝐷𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑘𝑜𝑜𝑟𝑠 𝑛𝑖𝑒, 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑜𝑛𝑑𝑒, 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑏𝑙𝑜𝑒𝑑,

𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑡𝑜𝑒𝑡𝑠𝑒 𝑜𝑚 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑡𝑒 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑖𝑒𝑡𝑠 𝑖𝑠 𝑓𝑜𝑢𝑡 𝑛𝑖𝑒.

𝑁𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑎𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑒𝑟𝑜𝑠𝑖𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑒𝑙𝑓, 𝑠𝑜 𝑣𝑒𝑟𝑟𝑎𝑑𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑘𝑎𝑛𝑘𝑒𝑟.

𝐸𝑛 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑘𝑎𝑛𝑘𝑒𝑟, 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑛 𝑤𝑒𝑠𝑒 '𝑛 𝑒𝑒𝑛𝑠𝑎𝑚𝑒 𝑒𝑟𝑣𝑎𝑟𝑖𝑛𝑔;

'𝑛 𝑘𝑎𝑚𝑒𝑟 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑙 𝑚𝑒𝑡 𝑛𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑛𝑎𝑎𝑚 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟.

Jy sien ‘n man gaan staan stil langs ‘n gevallene. “Staan op man!” Sê hy vir die gevallene. “Dis nie so erg nie. Moenie so sussie wees nie. Ruk jou reg.” Die gevallene probeer opbeur, maar Die Donker is te groot. Te swaar. Jy wil uitroep “Los hom uit! Wat weet jy van Die Donker af?”. Maar jy’t nie ‘n stem nie.

Langs jou kom kniel iemand. ‘n Vreemdeling. Sy glimlag vir jou en gee vir jou ‘n splinternuwe kaart. Sy draai woordeloos om en loop.

Jy draai die kaart om en om in jou vingers. Dis maar ‘n vaal, onbenullige kaart, maar in jou oë is dit ‘n besondere mooi kaart.

Die Donker haal sy knieg van jou bors af.

Die kaart sal ‘n sterk fondasie maak.

Die Donker gee ‘n tree agteruit.

“Jy is spesiaal. Jy is belangrik vir ons.” Staan die woorde op die kaart.

“Jy is niemand. Jy is niks.” Probeer Die Donker vasklou.

Nog. Net. Een. Keer.

Jy sit die blink nuwe kaart regop en balanseer een van jou ou, geskeurde vuil kaarte teen dit. HOOP – kan jy net-net die woord uitmaak. Die twee kaarte teen mekaar staan net-net regop. Die begin van ‘n kaartehuisie.

Moenie huil as die son nie meer skyn nie. Jy gaan nie die sterre deur jou trane kan sien nie.

𝘕𝘰𝘨. 𝘕𝘦𝘵. 𝘌𝘦𝘯. 𝘒𝘦𝘦𝘳.

* * *

Opgedra aan:

Ek dra hierdie op aan almal wat sukkel met depressie, seerkry, swaarkry. Almal wat Die Donker ken. Ek het nie woorde van wysheid wat jou gaan laat beter voel nie.

Net dit: Nog. Net. Een. Keer.

Nog net een tree.

Nog net een dag.

As jy verlore is in die woud, neem dit jou soms 'n rukkie om te besef dat jy verlore is. Vir ‘n rukkie probeer jy jouself oortuig dat jy net so bietjie van die paadjie afgestap het en dat jy enige oomblik weer die voetpad sal kry. Dan word dit nag en weer en weer, en jy weet nog steeds nie waar jy is nie. Dan is dit tyd om te erken dat jy so ver van die pad afgedwaal het, dat jy nie eers meer weet watter rigting die son opkom nie. Maar soek die lig. Dis wanneer dit die donkerste is, wat jy lig die maklikste kan raaksien. En gaan daarnatoe. Dit voel of jy nie krag het nie. Maar jy hét. Soek die lig. Laat die lig toe.

* * *

Meer belangriker dra ek die op aan die mense wat NIE nou op hulle knieë staan met Die Donker langs hulle nie: 𝘋𝘦𝘦𝘭 ‘𝘬𝘢𝘢𝘳𝘵𝘦’ 𝘶𝘪𝘵. Oral waar jy gaan. Jy het géén idee hoe groot verskil die mees onbenulligste kompliment aan iemand se lewe/dag kan maak nie. As jy wegstap by iemand, wat los jy daar? Verwoesting? Of hoop? Lewe jy jou lewe so dat, as jy vertrek, die mense wat agter bly is, of jammer is dat jy moet gaan? Dit is so eenvoudig. Daar is mense om ons wat lewens verwoes, en daar is mense om ons wat lewens red. Jou keuse.

 © Riaan Palmer 2021

 Kontak Riaan op sy Facebook blad 


 

Dinsdag 31 Desember 2019

2020 Perspektief


📌🖋Oral op Facebook, Twitter, LinkedIn, Instagram en Pinterest is bewyse van 'n opgewondenheid oor 2020. Dit is asof mense se persepsies en beskouinge geskuif het na iets groter. Vir my is dit ook waar.

👩Ek het die laaste maand myself herbeplan as te ware. Die dinge wat my tyd gesteel het in 2019 en voor dit, is nou mee gedeel en die tyd om vorentoe beweeg 'n feit. Ek voel meer gefokus om my drome te bereik.
Van 2019 het ek geleer wat om te los wat my besig gehou het maar nie noodwendig my bevorder het nie. Vrees veroorsaak dat jy rondskarrel vir behoud en oorlewing - en dit was als 'n gejaag na wind. Ja, ek het geleer daaruit maar ek het my waarde weer besef en in die proses my selfvertroue terug gekry. Ek het weer die woord "nee" ontdek.
🏜Die laaste 10 jaar was 'n wildernis tydperk waar ek rond geploeter het en heelwat wonde en rowe opgedoen het. Ek het foute gemaak en tussen die peule beland. Ek was deur die wereld geweeg en te lig bevind; sommer 'n paar maal. Dit doen iets aan jou as mens en as vrou.
👠💍👑Toe Vader my weer roep, het Hy 'n nuwe ring aan my vinger gesit, en 'n nuwe kleed gee en my skaamte weggevat; toe het ek geweet my tweede kans sal baie anders wees.
Hierdie nuwe blad is reg vir nuwe dinge. Nuwe belewenisse. Maar bowenal 'n tyd van vrug dra. Van leef vir die regte redes. 'n Tyd om myself ten volle uit te leef sonder om jammer te wees of weg te kruip. Tyd vir terug staan is verby.
Mag hierdie jaar vir elkeen van my vriende die begin van iets nuuts wees. Mag Vader se guns jou vooruitgaan en jou vul met 'n nuwe waardering vir Sy wereld, die natuur en die koninkryk. Mag sy liefde jou vul, voed en versterk.
🎁'n Voorspoedige 2020 aan elkeen wat my lewe deel en die wat my ken op die sosiale netwerk. Mag jul pad oop en sonder struikeling voor jul le. Pak die jaar met nuwe ywer aan en wees geseend.
📖Jer 43.19
Lynelle

Donderdag 12 Desember 2019

Bismarck, die Rottweiler


Ek en Isak het mekaar ontmoet op die 14de April 2017. Vandaar af was ons lewe gevul met die goeie en die nie so goeie tye. Ons het ook al ‘n sak sout of twee opgeeet in die kort tyd. Dinge wat ons goed geskaaf het sodat ons nog bymekaar is. Dit is al ‘n wonderwerk. Maar daar is tog dinge wat konstant bly.
In baie nuwe verhoudings is daar altyd dingetjies wat dierbaar is of uitstaan en waarmee die ander party vergas word met staaltjies van die dierbare cuteness. Jy verdra dit want dit is deel van daardie persoon.
Bismarck is een so ‘n konstante staaltjie wat gedurigdeur op kom. Ongeag die gebeurtenis, as die onderwerp na honde draai word Bismarck genoem; met trots. Of, wanneer ons verby ‘n huis ry met ‘n rottie wat stertswaaiend voor die hek staan, word ek breedvoerig ingelig oor Bismarck se merkwaardige verskille en dat die hond net nie in dieselfde klas is as sy rottie nie. As jy nou ‘n hondesnob wil ontmoet dan is Isak jou man.
Ek het Bismarck nog nooit ontmoet nie maar die Rottweiler is “larger than life” in ons verhouding. Toe ons by ‘n hondeskou was in Gallagher in die winter moes ons oplaas na die rotties gaan kyk. Dit was nou behoorlik ‘n gedoente. Soos ‘n opgewonde kind het Isak my rondgetrek van een kampie na die ander en is elke hond breedvoerig bespreek. Van die manier wat die stert gehou word, die reguit rug tot die manier wat die hond beweeg of staan. Of ek nou wil weet of nie, ek moet luister. Ek dink nie ek is al ooit so baie breedvoerig oor ‘n hond ingelig soos met die rottweiler nie.
Huidiglik hang daar ook ‘n skildery in ons kamer van die groot hond met die blink pels en groot pink tong. ‘n Pragtige skildery deur een van ons Faceboek vriende, Elsa du Plooy.  
Om die waarheid te sê, toe ons in Julie ‘n vakansie wegbreek verniet ontvang het, het ons Elsa ontmoet. Sommer so in die warm swembad en was ons werklik begeesterd deur die aangename en opkomende kunstenaar. Toe ons deur haar portfolio blaai was Isak se eerste woorde aan haar, “Sal jy Bismarck kan skilder?” Die man was nou behoorlik begeesterd en was ek deur elke stap van die skilder proses vergas op Faceboek. “Het jy gesien hoe vorder sy?” of, “Hy lyk mooier as die foto.” Moes ek aanhoor vir ‘n week lank en toe ek van die Eksderde kamp af kom in November hang Bismarck in my kamer.  
Bismarck is Isak se hond vir die laaste paar jaar maar vandat hy geskei is het die hond agtergebly om nog die voordeel van die groot erf te kan benut. Isak was bereid om met baie min oor die weg te kom in daardie tyd solank Bismarck net gemaklik is.
So ‘n ruk gelede, my gedagtes ontgaan my nou presies wanneer, is Bismarck gediagnoseer met kanker en moes uitgesit word. Toe Isak die nuus hoor was hy stil. Trane het geloop en het hy homself onttrek van almal in die huis. Deur die nag was hy rusteloos maar die volgende oggend laat weet hy sy dogter om Bismarck nie te laat uitsit nie. God sal hom genees. Hy was so oortuig dat niemand hom sou kon oorreed het om sy gedagtes te verander nie. Ek dink nie ek het al ooit iemand so hard hoor bid vir ‘n hond nie. Maar die gebed van ‘n gelowige dra veel krag en die hond se lewe is gered. Nou hardloop hy weereens die wêreld vol en gaan dit baie goed met hom, en Isak.
Dit is die een ding van ‘n egskeiding, dit ontneem jou van diere en selfs mense met wie jy ‘n hegte band gevorm het en dan, skielik, omdat jy en sy nie meer oor die weg kom nie word daardie hegteband verbreek. Isak het al verskeie kere probeer om weer die hond te sien na al die jare maar was tot dusver nog onsuksesvol. Daarom verdra ek nou maar die hond in my kamer. Ek kla nie as ek my oë oopmaak en die rottie lê oop mond vir my en kyk nie, hoekom, want dit maak Isak gelukkig. Gelukkig maak die raam op daarvoor… danksy Elsa. Miskien het sy iets aangevoel die dag tydens ons ontmoeting, hoe ook al als werk ten goede uit.
So is dit in enige verhouding, reg. Ons verdra mekaar, leer om dinge te geniet wat vir die ander belangrik is en deel in die lief en leed al is die hond eintlik ‘n vreemdeling vir jou. Bismarck is ‘n lewensgrote werklikheid maar vir Isak is hy ‘n konstante persoonlikheid wat hom in ‘n groot mate anker.
So hou ons almal vas aan iets of iemand, dit anker ons en gee ons die rustigheid ongeag die ander veranderde dinge in ons lewens. In Isak se geval is daardie anker (benewens God) Bismarck.
@LynelleClark  


Besoek gerus my Gogetfunding page waar ek besig is met 'n fondsinsameling 
vir die verspreiding van my boeke. Jul ondersteuning word opreg waardeer. 

Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...