Wys tans plasings met die etiket Afrikaanse kortverhaal. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Afrikaanse kortverhaal. Wys alle plasings

Sondag 13 November 2022

Die Genooides deur Lynelle Clark


“Santie, sal jy vir ons ‘n mooi uitnodiging skryf, asseblief?” Die matriekdogter kyk op van haar werk en knik instemmend.

“Watse bewoording wil Ma gebruik?”

“Die normale ding. Jy word hartlik uitgenooi om volgende Sondag te kom aansit vir ‘n familie-ete, so uit Ouma se kombuis - of so iets.”

“Gaan ons nou werklik aan met die ete, Wilma?”

“Natuurlik, Bertus. Die kinders is lus vir Ouma se kos. Jy weet almal het saamgestem dit is ‘n goeie idee.”

“Maar hoekom hier?” vra Bertus en kyk skuinsweg op van die skootrekenaar.

“Omdat ons huis die grootste is en almal kan akkomodeer.”

“Gaan Ma souskluitjies maak?” vra Albi of Albertus volgens sy identiteisdokument, met ‘n sjokoladebroodjie halfklaar in die hand.

“Natuurlik, my kind.”

“En pampoenkoekies,” sê-vra hy grootoog.

“Ja, en pampoenkoekies, boontjies … ,”

“Aggenee Ma, net nie dit nie. Ma weet ek hou nie van groente nie,” onderbreek hy sy ma.

Wilma kyk op van die resepteboeke wat oor die tafel gestrooi is en frons liggies.

“Maar jy eet dan pampoenkoekies?”

“Ja, want dit is soet en lekker.”

“Te veel soetgoed is nie goed vir jou nie, ou seun,” val Bertus die sestienjarige in die rede.

“Ek hou nie van boontjies nie.”

“Wel, ek gaan dit maak soos Ouma dit sou gemaak het. Kompleet - met ‘n klont botter en spek daarin.”

“Wie betaal vir al die kos?”

“Almal dra by. Katrien bring hoenderpastei. Karli maak bobotie met geelrys.”

“En rosyntjies?” vra Santie met opgewondenheid. Onmiddellik keep daar ‘n diep lyn tussen haar oë terwyl Wilma haar kop genoeglik skud. Wilma weet al wat gaan volg.

“Goeie genade, Ma. Wil julle hê ons moet ons dood eet?” vra sy verergd en lig haar kop vir ‘n wyle op van die werksboek.

“Dié kossoorte is besig om uit te sterf. Kitskos is nou die norm. Die lewe bestaan uit meer as net pizza en hamburgers. Ons wil hê julle kinders moet dit onthou. Daarom het ons besluit om dit te maak.”

“Ek dink eerder julle wil julle dood vreet.”

“Bertus! Jou taal asseblief.”

“Toemaar Ma, ons is erger gewoond,” mompel Albi tussenin.

“Moenie met ‘n mondvol kos praat nie. En jy en Wouter gedra julle Sondag. Daar word geen speletjies gespeel nie. Dit is ‘n familiedag.”

“So dit beteken ek moet opgeskeep sit met wat-se-naam van Karli,” sê Bertus en skud sy kop.

“Pieter is ook hier. Jy maak verniet of jy nie met Charles oor die weg kom nie.”

“Wat weet die man in elk geval van Afrikaanse kos?” vra hy vies, staan op en stap reguit na die yskas toe.

“Kultuur is aansteeklik en boerekos het mense nog altyd bymekaar gebring,” antwoord Wilma. Sy skuif die resep vir melktert eenkant toe en gryp ‘n ander boek en begin weer deur dit te blaai. Om die dood toe kan sy net nie Ma Ann se resep kry nie en geen ander sal werk nie.

“Ek dink nie die ding met Charles gaan werk nie.”

“Dit is nie vir ons om te besluit nie, Bertus. Dit is Karli se besluit.”

“Dit beteken nie ek moet die mannetjie aanvaar aan my etenstafel nie.”

“As hulle die knoop deur hak het ons nie ‘n keuse nie.” Bertus kyk gepynigend na Wilma, draai die bierbottel oop en vul sy glas vir die derde keer die aand.

“Ek dink in elk geval jy moet begin kyk na jou bier inname. Kyk waar hang daai maag.”

“Los my maag uit.” Hy trek die boepie in, maar net vir ‘n oomblik voor dit weer al bultend oor die belt hang.

“Jis, het Ma gesien hoe lyk Charles se maagspiere?”

‘n Dodelike kyk van Bertus laat Wilma haar antwoord sluk … maar ja, sy het gesien. Almal het dit gesien. Die betowerende prentjie het almal laat kyk en die vrouens behoorlik laat drink. Lank gelede het Bertus se maag ook so gelyk, maar dit was baie lank gelede; en sy verberg haar glimlag agter haar wynglas.

***

“Is jy seker jy het als onthou?” vra Bertus die Sondagoggend toe hy die laaste inkopiesak op die tafel neersit.

“Ja, ek is seker.”

“Dit ruik lekker, Wilma,” sê hy oor haar skouer toe sy die gaar skaapboud op die marmerblad neersit. Die stomende geur begroet haar neus en sy trek dit behaaglik in. Dit ruik nes Ma s’n, dink sy genoeglik.

“Dankie, Bertus. Dit is opgestop met stukkies spek en uie ook,” antwoord sy - die trots onverbloemd in haar stem.

“Nou praat jy! Kan ek proe?” Voor sy nog kan antwoord vat hy die skerp mes vas.

“Nee! Dit is vir later, nie nou nie,” betig sy.

“Net een proeseltjie, toe man.”

“Nee. Dit bly nooit by net een proeseltjie nie,” keer sy en sit die deksel terug op die kasserol.

“Jy is ‘n sadis,” grom hy en gee haar ‘n piksoen.

“Ek is seker jy sal kan uithou tot middagete. Nou nog net die souskluitjies, dan is ek ook klaar. Santie, kom laai die skottelgoedwasser vir die eerste lot, asseblief.”

“Ma hoef nie so te skree nie, ek is hier.”

“Moenie vir jou so parmantig hou nie, Santie. Werk net saam. Waar is Albi?” vra Wilma en kyk oor haar skouer na die TV kamer. Die TV is tot haar verbasing af en sy laat haar blik oor die res van die groot vertrek gaan.

“Hy is buite besig om die oprit te vee. Gisteraand se wind het weer die plek behoorlik bemors,” beantwoord Bertus haar vraag.

“Daar is nie nou tyd daarvoor nie. Die kind moet kom help om die tafel te dek.”

“Ek sal dit nou doen, Ma,” bied Santie aan.

“Die tafel moet geskuif word en is te swaar vir jou alleen.”

“Waarmee kan ek help?” vra Bertus.

“Ek is so lus vir ‘n koppie tee.”

Hy kyk Wilma vieserig aan, draai om en gaan sit in sy geliefkoosde stoel. Die volgende oomblik hoor hulle ‘n kardeur toeklap en Albi kom ingehardloop.

“Hy is hier, Ma. Hierdie keer met die swart Porsche.”

“Seker gesteel,” mompel Bertus.

“Wie Albi?” vra Wilma. Sy kyk op van die mengbak en gluur Bertus aan.

“Charles. Vrek, Ma moet sy arms sien.”

“Gedra vir jou, Albi,” grom Bertus. “Is die oprit skoon?”

“Ja, Pa.” Albi gaps ‘n gebakte skyfie aartappel; en voor Wilma nog kan keer is dit in sy mond. Die kraakgeluid ‘n goeie teken dat die aartappels krakerig is.

“Ouch … !” sê hy en Wilma se smalende glimlag spreek boekdele.

“Môre, môre,” groet Karli joviaal en plaas ‘n groot kasserol op die eiland neer. Sy stap oor en gee Wilma ‘n soen en drukkie.

“Hallo, Sus.”

“Charles is hier.” Sy wys na agtertoe waar die gebore Brit kop en skouers bo Bertus uittroon.

“Wilma, dankie vir die uitnodiging. Ek sien baie uit na die unieke ete.” Hy steek ‘n groot hand uit na haar. Sy Afrikaans rol van sy lippe asof dit die mees natuurlikste ding is en Wilma glimlag.

“Hallo, Charles. Daar is niks uniek hieraan nie. Dit is maar normale kos vir ons.”

“Dit klink so eksoties. Souskluitjies, pampoenkoekies, pannekoek en hoenderpastei,” noem hy dit stelselmatig op - elke woord duidelik en perfek uitgespreek.

“Ek sal nou nie boerekos eksoties noem nie, maar ek is bly jy is hier.” Wilma kyk na Bertus wat met rollende oë die gesprek volg en sy glimlag. Immers is die man in háár huis en as daar nou een ding is waarop Ma Ann gesteld was, was dit gasvryheid.  

“Mense, maar dit ruik lekker hier binne,” groet Pieter gul en Karlien gee elkeen van haar susters ‘n stywe druk.

“Hallo julle. Kom in en maak julle tuis. Waar is my peetkind?” vra Wilma.

Klein Magda is die laatlam in die familie en word deur almal bederf. Toe Karlien en Pieter hulle verwittig het van hulle peetouerskap, was hulle aangenaam verras en hulle geniet die kleinding terdeë.

“Sy slaap. Pieter het haar sommer op die sitkamerbank neergelê,” antwoord Karlien terwyl sy elke bak se deksel lig en daarin kyk. Net voor sy die kastrol wil oopmaak keer Wilma haar blitsig.

“Asseblief, moenie oopmaak nie! Die keer moet daai souskluitjies reg uit kom of ek gee dit op vir ‘n bad job.”

“Souskluitjies. Ek lief souskluitjies,” roep Pieter uit. Hy haal twee botteltjies uit hulle ysboks en oorhandig een aan Karlien.

“Hou asseblief duime vas dit kom perfek uit hierdie keer.”

“Ja, laas het Ma ons met kluite gestraf. Daar was niks fluffy daaraan nie,” laat hoor Albi en Wouter glimlag skeefweg.

Wilma gluur hom aan, maar glimlag tog. “Help vir Santie met die tafel, julle twee,” gebied sy gemaak streng en die twee tieners draai om na Santie wat alreeds die wit tafeldoek oopgooi.

“Wanneer kom Pa en sy nuwe vrou?”

“Hulle behoort nou enige tyd hier te wees,” antwoord Wilma angstig. Sy kyk na haar horlosie en dan na die stomende kastrol.

“Ek is seker dit gaan perfek uitkom,” praat Charles en sy knik. Sy is nie so optimisties soos hy nie.

“Is daar nog iets wat gedoen moet word?” vra Karli.

“Nee, als is onder beheer. Jy kan miskien net ‘n ogie hou oor die tafeldek. Ek wil hê ons moet eet sodra Pa-hulle kom anders word die kos koud.”

“Reg so.” Karli hak by Charles in en alle oë volg hulle waar hulle vriendelik met die jonger klomp begin skerts. Dan kyk hulle vir mekaar. Die Britse biljoenêr se onderwêreldse konneksies spel net moeilikheid. Sy ouma, ‘n boerenooi van Cullinan, is die rede vir sy liefde vir die taal.

Oupa Theuns sou Charles by die deur uitgeboender het bloot net omdat hy ‘n Engelsman is. Sal Karli veilig wees, of moet hulle haar keuse eerbiedig? Net tyd sal leer.

Op daardie oomblik slaan ‘n kardeur toe en Bertus stap voordeur toe.

“Kom in, Pa … Elize. Welkom,” groet hy. Wilma stap nader en druk haar pa styf vas.

“Hallo Pa … Elize,” groet sy en staan eenkant toe dat hulle kan in kom.

“Ek het soet patats gebring. Jou pa sê julle is baie lief daarvoor.”

“Dankie, Elize. Ja, ons is.”

“Jis, Tannie. Baie dankie,” roep Albi uit en kom staan ook nader toe Wilma die deksel so effens lig.

“O donderdag!” gil Wilma. Wit water borrel oor die rand en sy trek dit haastig oor na ‘n koue plaat wat ‘n sissende spoor agterlaat.

“Wat nou?” vra Bertus.

“Ek het van die souskluitjies vergeet,” roep sy verbouereerd uit. Die hele stoof is bemors. ‘n Onaangename reuk slurp die welriekende geure in tot ‘n onherkenbare reuk. Bertus gooi die vensters oop. Pieter pluk die agterdeur oop.

“Ek is seker dit sal reg wees,” laat hoor Charles naby haar. Al die bemoedigende woorde kolk om Wilma, maar sy hoor niks en haal die deksel huiwerig af.  

“Ek hoop so.”

“Laat ek help daarmee. Waar kan ek dit afgooi.”

“Nee, ek het die water nodig vir die sous,” keer sy Charles wat regstaan met sy bultende arms om die kastrol op te lig. Hy tree terug en Wilma neem ‘n opskeplepel. Sy diep in die kolkende massa terwyl sy ‘n skietgebedjie opstuur - haar hart in haar keel.

“Hier is ‘n bordjie, Sus,” bied Karlien aan. Dankbaar vat sy dit en sit een perfekte bolletjie daarin. Versigtig steek sy deur dit en dit val oop – mooi uitgerys en geurig.

“Dit lyk perfek, Sus,” sê Karlien en gee haar ‘n drukkie.

Wilma slaak ‘n sug van verligting en werk vinnig om die kluitjies na ‘n ander bak oor te plaas. Dan sprinkel sy dit mildelik met kaneelsuiker en voeg klontjies botter oor die lae. Laaste volg die sous en sy kyk op. Alle oë is op haar gerig, Karli se minsame glimlag die laaste wat sy sien voor sy die kasserol toemaak.

“Daar … ons is klaar. Kan almal kom aansit?” vra sy met ‘n moeë stem.

“Albi, Santi. Is die tafel klaar gedek?”

“Ja, Tannie,” antwoord Wouter.

“Waar is die twee?”

“Hier, Ma. Sjoe, moet al die vensters oop wees?” vra Albi en gryp die eerste vensterknip en slaan die venster toe. Bertus maak die res toe, sy glurende blik op Albi wat eenkant toe staan.

“Dit lyk baie lekker, my kind. Nes jou ma se kos,” sê Pa Jan en gee haar ‘n drukkie.

“Dankie, Pappie. Vandag verlang ek baie na Ma.”

“Ek ook,” beaam die ander dogters. Elize skuifel eenkant toe en Charles gaan staan by haar.

“Ek is Charles.”

“Aangename kennis,” groet sy en kyk na haar pa; en dan na Wilma voor sy die aangebode hand neem.

“Kom sit almal. Pa, sit op die kop en Elize, jy kan aan sy regterkant sit. Sus, Pieter, julle kan in die middel sit. Jul kinders sit oorkant Oom Pieter-hulle. Karli, Charles, julle kan hier sit,” wys Wilma aan en elkeen gaan sit terwyl sy en Santie die kosbakke op die tafel sit.

“Dit lyk nou sommer baie lekker, Ma.”

“Ja Tannie, dit lyk soos ‘n fees.”

“Mammie!” gil die kinderstemmetjie vanuit die sitkamer.

“Ek sal haar kry, tannie Karlien.”

“Dankie Santie.”

“My ma het gesê dat die Afrikaanse kultuur gevind word in die sintuie van ons menswees. Vandag kan ek dit ruik en sien uit om dit te proe ook,” val Charles weg en almal se oë draai na hom voordat Pa Jan hom antwoord.

“Dit is nou wyse woorde daardie, jong man.” Hy gee sy bord aan vir Elize. “Lekker warm,” voeg hy by en glimlag vir Wilma. Warm borde is vir Pa Jan ‘n baie belangrike element van enige goeie ete. Gelukkig het sy dit net betyds onthou.

“Sal Pa die seën vra, asseblief?” vra Bertus en all koppe sak. Selfs klein Magda sit stil op haar pa se skoot, vinger in die pruilmondjie.

Pa Jan knik en almal vat hande. Charles, wat langs Bertus beland het, bied ook sy hand aan en Bertus kyk na Wilma wat sy hand hard druk. Hy sit sy hand in Charles s’n en Pa bid.

Wilma staar na die groepie langs die tafel - dit is háár familie. Dan beland haar blik op Charles wat met geboë hoof na Pa luister. Daarenteen, staar Elize strak na haar bord. Soos altyd is sy eenkant, maar op haar plek. In die twee jaar wat hulle al getroud is, is sy nogsteeds ‘n vreemdeling en miskien is dit tyd om dit te verander. As hulle Charles kan aanvaar, kan hulle haar ook aanvaar.

Wilma skiet ‘n gebedjie op en wanneer Pa amen sê kyk sy na haar stiefma en sê kliphard:

“Ma Elize, die patats lyk lekker. Ek kan nie wag om daarvan te eet nie.”

Die vrou lig haar blik, verbasing in die dieptes. Vir die eerste keer merk Wilma op dat hulle bruin is net soos hare; en sy glimlag breed vir haar en dan vir haar pa. Hy gee haar ‘n waarderende kopknik. Dan verskuif sy haar blik na die res van haar familie toe.

Dit is waar wat Charles se ma gesê het, dink sy. Kultuur bring ons saam, ongeag die verwantskap.

Kopiereg Lynelle Clark

Donderdag 26 Mei 2022

Kort Grepe uit my Lewe #8


Hoofstuk twee uit Grepe uit my lewe. 

Deel 1

Ek was elf toe ek die eerste keer dié vertrek betree het - ‘n 3.5x6 kamer met ‘n groot venster aan die onderpunt van die vertrek en ‘n nou venster, die lengte van die symuur; ‘n ingeboude tweedeurkas en deur. Die koudste vertrek in die huis.

My pa het pas die huis in Prince Georgelaan gekoop. Dit was ‘n groot huis - baie groter as die een in Olgastraat, met genoeg kamers vir my en my suster en my broer wat nog in wording was.

My jongste suster sou eers twee jaar later verskyn.

Die vertrek het ‘n groot muurskildery gehad van die Koningin van Spades. Ek het daar en dan besluit dit is my kamer. My ouers was nie beïndruk nie en dit was summier verberg met pienk plakpapier. Die hele kamer was gehul in pienk; van siamees-dekens oor die enkelbeddens tot blommetjie-pienk gordyne - met skakerings van pienk in die strooikussings en vloermatjies vasgevang, tot groot konsternasie van myself. As ek reg kan onthou was die kamermat ook pienk. So ‘n dowwe vuilpienk wat later nie meer mooi was nie ongeag die kere wat dit onder die matwasser deurgeloop het.

My sussie was op die Barbie-stadium en was mal daaroor. Vandag nog is sy lief vir die kleur en dit pas haar. ‘n Regte Barbie in lewende lywe met geen haar uit sy plek.

Ek haat die kleur. Tot vandag toe hou ek niks van pienk nie en my twee dogters het nie dieselfde marteling deurgegaan nie. Ek het botweg geweier dat pienk ooit iewers in my huis sou wees.

Kan jy my smalende glimlag sien … 

Teen standerd agt, toe ek my eerste naweek werk se geld verdien het, nogal by ‘n haarsalon, het ek plakkate aangeskaf en die oorverdowende kleur verberg aan my kant van die kamer. Lieb Bester, Farah Fawcett, Abba, perde en boekaanhalings in skakerings van bont, swart, blou en wit net om die monotoon te breek. As ek reg onthou was daar selfs een van Bruce Springsteen. Die ander helfte was besaai met Barbie en Ken en pienk. Die tweestryd tussen ons twee was toe alreeds merkbaar.

Later, toe ek uit die huis is, is die plakpapier verwyder en die muurskildery uitgewis met verfrollers. Die dag toe ek dit sien was ek befoeterd, maar ‘n mens is mos groot en jy kom daaroor. ‘Life goes on’ en alles wat daarmee gepaard gaan - die 3.5x6 vertrek nie meer deel van my wêreld nie.

Toe hulle twee uit die huis is, is die kamer weer geverf. Roomkleur in plaas van wit het nou die mure versier en donker-pienk gordyne het die vensters behang. Bloedrooi blomprag spatsels het die roomkleurige kussings besprinkel en gaste kon die vertrek na hartelus gebruik.

Ek het my eie huis gehad, min wetend dat ek dertig jaar later na die vertrek sou terugkeer.

©Lynelle Clark 2022

Sondag 05 Desember 2021

Tyd vir Aksie. Tyd vir Saamstaan.

 


TYD VIR AKSIE. TYD VIR SAAMSTAAN.

Liewe vriende. Ek kan 'n borgskap kry van 'n Nederlandse kultuurorganisasie vir die Afrikaanse stories wat ek al die afgelope maande voorlees. Soos sommige van julle al weet doen ek potgooie vir Afrikaans.com en programme vir Kaapstad Radio. In die programme lees ek veral kortverhale voor en gesels ek met nuwe, bekende en minder bekende skrywers. Ek doen hierdie werk saam met Nico Schamrel van Ns Uitgewers. In die nabye toekoms word hierdie verhale ook op nog drie lokale radiostasies uitgesaai. Daarnaas maak ek saam met Nico Schamrel Verhale in Leesbeeld vir Net-Afrikaans. Ons is ook in gesprek met Nederlandse taalorganisasies om ons Afrikaanse woordkuns ' n plekkie op (belanghebbende)Nederlandse platforms/forums geplaas te kry.



Om hierdie werk voort te sit het ons nou borgskappe nodig. Beide ek en Nico doen hierdie werk doodgewoon omdat ons lief is vir Afrikaans en omdat ons ons skrywers, veral minder bekende skrywers, graag in die skynwerpers wil plaas.



HOE KAN JY ONS ONDERSTEUN? Dit is maklik. Ons uitdaging is om die Nederlandse kultuurfonds te oortuig dat ons inderdaad 'n gehoor het vir ons werk. DAAROM WIL ONS JULLE VRA OM BY ONS ALLES AFRIKAANS YOUTUBE kanaal aan te sluit. Ons het minstens 1000 (eenduisend) lede nodig om die aanvraag 'n slaagkans te gee. DIT KOS JOU NIKS. Ons plaas weekliks nuwe stories op die kanaal. Sluit aan. Nooi (AL) jou vriende om aan te sluit. Help ons om ' n duisend lede te werf! Dit kan gedoen word as ons mekaar dit gun. Baie dankie vir elkeen se steun.

Saterdag 05 Oktober 2019

Storietyd: Het drome 'n vervaldatum? Deur Lynelle Clark


“Ma, Pa… ek het fantastiese nuus!” Nellie het deur die tuin gehardloop tot waar haar ouers onder die koelte boom gesit het.

“Waaroor is die bohaai?”
“Pappa, ek is in!” het sy gegil van vreugde.
“In by wat?” Haar pa se kenmerkende frons afgeëts tussen donker groen oë. Oë sprekend van haar eie groen poele.
“Die onderhoud. Ek moet môreoggend elfuur daar wees.”
“Ek dink dit is sommer lawwigheid. Jy sal in elk geval nie die geleentheid kry nie.”
“Hi Frans, hoe kan jy so sê? Nellie is goed en verdien ‘n kans.”
“In watter land bly jy Mattie?” met rollende oë draai haar ma na haar toe, “Bevestig my kind, mamma sal jou vat.”
“Dankie, Mamma.” Sy kon altyd reken op haar ma se ondersteuning, iets waaroor sy baie dankbaar was.
“Dit is simpel om eers te wil probeer. Sy is te wit in die eerste plek.” Snou hy toe maar dit klink meer soos ‘n grom. Hoekom geld uitgee op ‘n meisiekind se geleerdheid, sy gaan in elk geval trou en dan was dit geld mors; is sy gedagtegang. Hy het dit menigmaal al voorheen gesê. Die politieke toestand het hom ook bitter gelaat. Hy wou nie meer die goed raak sien nie.
“Gaan maak eerder tee pop.” Het hy haar verjaag en weer sy aandag op die oopgevoude koerant op sy skoot gespits. Doeltreffend het hy hulle uitgesluit. Nellie onthou die absolute radeloosheid wat sy ervaar het. Stilweg het sy omgedraai, mamma se bemoedigende glimlag het maar min gehelp.
“Ek wens jy wil net eenmaal belangstelling in Nellie toon, Frans.” Nellie kon nog die woorde onthou. Die papiergordyn die enigste antwoord oor haar toekoms.
“Sy het hard gewerk. Haar punte lyk goed. Sy sal ‘n uitstekende joernalis wees.”
“Stop met die argumente vrou.” Weer het sy die koerantpapier hoor skud voor sy verdwyn het in die kombuis in.
Vir lank het sy net daar gestaan en uitstaar. Haar ma in diep gesprek met die koerant. ‘n Gefrustreerde traan het teen Nellie se wang af gerol en sy het dit verergd af gevee. By haar studeertafel het sy ‘n pen en eksamenblad uit gehaal en begin skryf. Haar duidelike skrif was ‘n teenstelling met haar gemoed maar sy het als neergeskryf wat in haar hart op gekom het. Opgehoopte emosies van jare se verwerping het net gevloei daardie dag.
Nellie was besig om kaste reg te pak toe sy weer op die oorgetrekte boks afkom met haar kinder drome daarin. Die deksel se blink papier nou dof van ouderdom. Daardie selfde gevoelens woed weer in haar. Die hele gesprek en daaropvolgende afspraak was net ‘n droom wat ook weggepak was. Die universiteitbrief netjies toegevou saam met die brief. Haar pa het sy sin gekry en sy het nooit gegaan nie.
Haar ouers is albei oorlede, kort na mekaar. Die lewe het aanbeweeg en die leemtes het verskuil gebly. Die jong Nellie se drome en ideale het saam met die boks verdof. Hier sit sy nou. Haar lewe opgeoffer vir haar man, kinders en huis. Die laaste dertig jaar was vervuld op sy eie manier. Nou is die laaste kind ook uit die huis uit. Wat nou? Waar laat dit haar?
“Nellie, waar is jy?” swaar voetstappe kom die gang af en sy vee haastig die lastige trane af en plaas dan met bewende vingers die brief weer terug.
“Hier is ek Walter.” En haar man van die laaste vyf en twintig jaar stap hul kamer binne. Hulle het ontmoet in die jaar wat sy negentien geword het. Toe sy swanger raak met hul oudste seun het sy haar drome weggepak sodat sy die regte ding kon doen. Sy het hom drie seuns gegee. Sy drome het hy uitgeleef deur hulle groei en sy loopbaan as boekhouer en sy het stilweg toegesien dat alles glad verloop by die huis. Die verlange na ‘n beroep weggebêre soos so baie ander dinge in haar lewe.
“Wat maak jy?”
“Pak sommer die kaste reg,” en sy sit die boks ongeërg terug op sy plek; op die heel boonste rak, in die verste hoek.
“Ek ken nie daardie boks nie, waar kom dit vandaan?” en hy gaan sit op die hoek van die bed, vraende oë opgehef na haar.
“Sommer niks, ek moet dit eintlik weggooi.” En sy maak die deur beslis toe.
“Wys my toe.”
“Kom ons gaan kombuis toe, ek het sommer snack witches gemaak vir middagete.”
“Nellie, stop. Wat gaan aan?”
“Niks nie Walter, kom nou, die broodjies gaan pap word.”
“Ons kan dit weer warm maak. Wat se boks is dit en wat is daar in?” sy stem baie beslis. ‘n Stem wat hy gewoonlik vir die seuns gebruik. Stry gaan nie help nie.
Met ‘n sug maak sy weer die kas oop en trek die boks nader wat sy dan afhaal en vir hom gee. “Dit is sommer net kindergoed van my jonger dae,” probeer sy dit afmaak.
“Ek wil sien. Jy het dit nog nooit vir my gewys nie,” en hy neem die boks by haar.
“Daar is niks interessant in nie. Boring eintlik,” skerm sy.
Stil haal hy al die kaartjies en briewe uit en vou dan die brief oop wat sy geskryf het. Met ingehoude asem hou sy hom dop. Die universiteitsbrief lees hy eerste en kyk dan na haar voor hy weer na die eksamenblaaie kyk. Toe sy hande eintlik op sy knieë sak kyk hy direk na haar. Sy oë gevul met ‘n onbekende lig wat sy nog nie voorheen gesien het nie. Nellie kon sweer daar is vogtigheid in maar sy moet haar verbeel want Walter is die sterk soort. Trane word net nooit gesien in die dieptes nie.
“Nou maak baie dinge sin,” en vryf hy sy oë maar voor Nellie kan vra watse dinge kom die volgende vraag. “Hoekom het jy nooit gepraat nie? Voel jy nogsteeds so?”
“Dit is lank terug. Jy weet hoe dit gaan. Die lewe gaan aan.” Wat meer kan sy sê om dit te verduidelik? As sy eerlik moet wees dan voel sy nog netso. Onvervuld, nou meer as ooit is sy nuuskierig oor haar lewe en wat sou gebeur het as sy deurgedruk het. Maar tyd het nou uitgehardloop.  As, verbrande hout wat nie meer kan brand nie.
“Nel… daar is nog tyd. Jy kan weer probeer.” Sy gee ‘n sieniese laggie. “Nee my man, ek is te oud. Niemand sal my meer ‘n kans gee nie,” sy vat die boks by hom en plaas die verlede weer terug agter die vier mure van die kas. Vir ‘n lang oomblik is daar doodse stilte in die kamer. Sy kan Walter se priemende oë op haar voel terwyl sy die boks weer terugsit en die kasdeur toemaak. Dan verlaat sy die kamer om sodoende sy oë te vermy. Haar huis is nou haar lewe. Haar drome verweef by haar seuns sin.
“Nellie, vrou…”en voor hy die sin voltooi gee sy vir hom die halfklaar tamatiesousbottel aan. In stilte eet hulle verder. Toe Walter opstaan steun hy effens. ‘n Steun wat meer geklink het soos ‘n sug maar sy los dit daar. Toe hy deur die agterdeur verdwyn met die karsleutels in die hand weet sy hy gaan ry. Dit was nog altyd so. Sy kom en gaan het sy lank gelede aanvaar so sonder verduideliking. Veel later stap hy in en soengroet haar waar sy sit en TV kyk. Die bekende sepie se laaste deuntjie sypel deur die vertrek.
“Môreoggend moet ons kollege toe gaan en gaan uitvind van joernalistieke klasse wat jy kan loop.”
“Ek sien nie meer kans nie. Wie sal dan ‘n ouvrou ‘n kans gee om te werk?” haar oë stip op die TV terwyl haar hart bons.
“Ek ken die redakteur van die plaaslike koerant, Tinus Beeckman. Ek het met hom gaan gesels vanmiddag. Hy wil jou ‘n kans gee Nellie.” Hy kom sit reg voor haar sommer op die koffietafel. Iets wat sy verpes maar op daardie oomblik staar sy hom aan. Haar ore moet stukkend wees, daarvan is sy seker.
“Hy wil van jou werk sien. Hier is sy e-pos adres, jy kan dit direk aan hom stuur.”
“Hmmm…”en Nellie sluk, haar woorde opgedroog.
“Ek het lanklaas geskryf,” kry sy dit eintlik uit, haar hals aan die brand.
“Dan sal ek aanbeveel dat jy die TV afsit en begin skryf.” En met dit kom ‘n reghoekige boks te voorskyn, een wat sy nie vroeër gesien het nie. Sy weet genoeg om te weet wat dit is maar het nog nooit een van haar eie gehad nie.
“Op jou nuwe loopbaan.” Kom die verleë woorde en Walter plaas die skootrekenaar op haar skoot. Die skerm flikker aan; sy blinkoog ‘n uitnodiging wat haar vorentoe laat stu en aan die muis raak. Vlugtig speel sy oor die sleutelbord en gaan dan reguit na die dokument.
Haar siel op daardie oomblik vry en lig en sy glimlag breed.
“Daar is my vrou.” 

Kopiereg voorbehou


As jy hou van my stories oorweeg 'n donasie, 
dit sal my instaat stel om voort te gaan. 

Woensdag 14 Augustus 2019

Terug in tyd deur Lynelle Clark

“Wat maak jy?” vra Melandi met ‘n defnitiewe toon van frustrasie. Vandat Pieter dit in sy kop gekry het om terug in tyd te gaan sien sy hom bitter min. Hy is alewig besig met iets in die werkswinkel. Wanneer sy vra dan sê hy net: ‘Jy sal sien.’

“Amper klaar dan kom ek.” Hy is so verdiep in sy werk en kyk nie eers op waar sy in die deur staan nie. Twee jaar gelede het hulle die huis gekoop in die platteland juis om weg te kom van die alledaagse dinge wat hul tyd in beslag geneem het. Die ink was nog nie eers behoorlik droog op die kontrak nie toe rig Pieter die ou stoor in as werkswinkel. Van daar af sien sy hom per geleentheid en leef hulle eintlik in twee wêrelde. Sy probeer verstaan en ondersteun waar nodig maar dit raak darem nou baie erg. En sy is lus om uit te kom, iets te doen voordat die vier mure haar gaan verswelg.
“Ek gaan sommer kos by die Griek bestel. Waarvoor is jy lus?” maar sy kon net sowel met die masjiene gepraat het, diè wys meer reaksie as haar man.
“Vyf minute dan is ek daar,” Melandi sug, om ‘n gesprek met Pieter te voer is net so goed sy praat met haarself. Met ‘n laaste blik na die rekenaar gedoente en flitsende rooi ligte draai sy om en verdwyn die huis in. Die stoel met leerbande vertel sy eie storie, sy het al gevra maar kry net ‘n afwesige kyk.
Die staanhorlosie slaan hoeka al 7 uur in die eetkamer. Dit gaan weer ‘n aand van alleen wees, boek lees of miskien moet sy bietjie aan daardie storie werk wat sy begin het vir die skrywers groep. Sy het in elk geval niks anders om te doen nie.
“Micos, I am wonderful, thanks for asking. How is the family?”
“Wonderful to hear, greetings to Mamma Rosa. I like to place an order for two please.”
“Yes the usual, thanks Micos.”
“Yes, takeaways, can you deliver?”
Glas in die hand verdwyn sy verby die muurhorlosie na haar eie werkshoekie wat deel uit maak van die groot plaaskombuis. Die vertrek was die rede dat hulle die huis gekoop het in die platteland. Met ‘n paar veranderinge in die huis het die plek ‘n veilige hawe geword alhoewel sy dit deesdae eintlik maar alleen gebruik.
By haar tafel wys die digitale horlosie dit is alreeds 7:30 en sy sug. Die ‘nou-daar’ iets van die verlede en sy hoor hom mompel van uit die werkswinkel. Die hele plek is so opgestel dat hulle by mekaar kan wees maar terselfdertyd hul eie plek het. In die begin was dit wonderlik om so by mekaar te wees, maar soos tyd aangestap het, het sy die werkswinkel vermy. Dan hoor sy Pieter swets iets allerverskrikliks en draf na die plek langsaan.
“Wat gaan aan?”
“Ek kom nou, gee my net ‘n paar oomblikke.” Kom die bars antwoord. Teensinnig draai sy om en beantwoord dan die interkom en druk die knoppie vir die afleweringsman. Die geure kielie haar hongerpyne en sy sit die pakkie op die groot ou kombuistafel neer.
“Kom jy? Die kos gaan koud word.”
“Moet tog nie so karring nie, ek kom nou.”
Met ‘n glas rooiwyn gaan sit Melandi by die gedekte tafel. Pieter se plek leeg en sy skep van die heerlike bredie waarvoor Micos so gewild, in.
Die mikrogolfoond se digitale horlosie wys dit is alreeds 8:16 en haar man is nog steeds besig. Ten einde laaste maak sy die kombuis aan die kant sit sy bord kos in die mikrogolfoond en stap doelgerig na die deur wat die werkswinkel en kombuis skei.
“Ek gaan maar inkruip en ‘n fliek kyk,” praat sy met die rug wat nou gebukkend oor die masjien staan. Die rooi ligte het nou verander na groen en flikker soos Kersliggies vir haar. Geen antwoord kom vanuit die baas van die masjien nie en sy sug verwese.
Die ding met tyd is alles oorheersend vir haar man. Hulle maak al horlosies bymekaar vandat hulle getroud is; dit is nou al 32 jaar. Haar huis is gevul met die ritmiese klanke van horlosies se konstante tik-tok. Baie dae hoor sy dit nie eers meer nie. Vriende en familie het al gekla en gesê dit is darem te erg, en sy het hom altyd ondersteun maar Pieter vat sy stokperdjie darem nou te ver. Vandat hy ‘n artikel gelees het in die Reader’s Digest is hy oortuig dat hy terug wil gaan in tyd. Om wat daar te maak het sy al menigmaal gevra; sy antwoord was net altyd dieselfde. Dit sal interessant wees. Maar sy dink daar skuil iets anders daar agter. Die hele beheptheid het begin ‘n jaar na hul enigste kind, Heinie dood is. Hulle was net 12 jaar met hom gegun, twaalf wonderlike jare gevul met lag en speel en lekker vakansies. Vandat hy weg is het die huis stil geword en die vakansies al hoe minder. Lag is nou net iets wat sy hoor op TV of tydens vriende- en familiekuiers.
Pieter is oortuig hy kan tyd terug rol en so weer vir Heinie sien. Sy verstaan sy verlange na sy enigste kind is by tye onuithoudbaar, sy mis hom immers ook, maar om te glo dat hy hom weer sal sien is rerig net ‘n bietjie dik vir ‘n daalder. Hoekom Pieter so aandring daarop verstaan sy nie. In die begin was sy bedkassie en die kombuistafel besaai met notaboeke, gevul met diagramme en wiskundige berekeninge. Sy het dit so aanvaar en hom ondersteun. Wanneer mense kom kuier het praat hy oor terug rollende tyd asof dit die natuurlikste ding onder die son is. Uit beleefdheid het die mense geluister maar agterna het hulle gedink hy het sy varkies verloor. Sy het probeer verduidelik maar naderhand opgehou.
In die bed trek sy haar skootrekenaar nader, die nuutgevulde glas wyn op die bedkassie en begin ‘n paar gedagtes neer te tik op die geopende Word dokument. Die horlosie in die regterhoek van die skootrekenaar wys dit is amper 10:30, toe die kamer ‘n kwaai ruk gee. Fronsend staan sy op, trek haar pantoffels en kamerjas aan en draf die gang af verby die Oupa klok wat sy tyd uit beier in ‘n diep stem; ‘n erfstuk van haar oupa aan moederskant. Verby die musikale horlosie wat hulle nog in België gekoop het, die laaste vakansie saam met Heinie. Heinie was so beïindruk met die vakmanskap dat Pieter dit onmiddelik gekoop het. Hul bankbalans was goed in die moeilikheid daarna maar Pieter was oortuig hulle moet Heinie ondersteun. Die groot hoender horlosie wys dit is net na half elf toe sy deur die kombuis sweef met vinnige passies, haar hart in beklemming toe sy die mistigheid onder die deur van die toe werkswinkel sien.
“Wat op aarde gaan aan Pieter?” roep sy benoud uit terwyl sy die deur oop maak. Die leë vertrek lyk spookagtige in die nag stilte en verdwaas skakel sy die hoofligte aan. Melanie knip haar oë ‘n paar maal en stap dan teen die drie trappe af en staan op die, nou verlate sement vloer. Daar waar haar man gestaan en peuter het aan die masjien ure gelede lê nou net ‘n elektriese draad gehul in warrelende mis. Die skerp lig waarmee hy gewerk het, omgeval en skyn nou vir die rakke.
“Pieter!” roep sy benoud “Waar is jy?”
Dan val ‘n voorwerp op haar skouer en land op die vloer. Dit weergalm deur die leë vertrek en sy tel dit vinnig op. Met ‘n verdwaasde uitdrukking staar sy na die klein horlosie in haar palm. Sy onthou die horlosie. Dit was ‘n verjaarsdag geskenk van sy ouers toe hy sestien geword het. Die datum wys 16 September 1996 teen die wit agtergrond, drie dae voordat hul seun weg is op 19 September 1996. Verstom gaan sit sy plat op die yskoue vloer.
“Pieter?” en kyk weer om haar, ‘n geritsel laat haar opkyk en ‘n papiertjie kom al warrelend af na haar en vang dit sonder moeite. Die woorde laat ‘n benoudheid in haar opvlam en sy lag terwyl trane teen haar wang afrol.
“Heinie stuur groete, ek is nou-nou terug.”
©Lynelle Clark2019


Vrydag 21 Desember 2018

Storietyd - Die geskenk deur Lynelle Clark

“Ek het al so baie dieselfde gebed gebid. Oor en oor dieselfde woorde maar niks gebeur nie, hoekom? Is ek dan so sleg dat God nie die een ding vir my kan doen nie?”
“Jy moenie so daarna kyk nie, Mart. Natuurlik wil God vir jou help, jy verdien dit.”
“Dit beantwoord nie my vraag nie, hier sit ek, nogsteeds werkloos net omdat ek nie ‘n kar het nie. Ek bid, vertrou en glo maar nogsteeds gebeur niks nie. Hoe moet ek positief bly met die konstante negatiewe terugslae. Hoe meer ek probeer hoe minder gebeur dinge. Vanoggend het die persoon weer benadruk, as ek nie vervoer het nie kan hulle nie vir my die werk gee nie. Waar moet ek die geld vandaan kry vir ‘n kar as niemand my ‘n kans wil gee nie?” Mart se stem breek van ingehoude snikke, moeg gesukkel voel sy rusteloos en vasgevang in haar omstandighede. Bang vir môre. Dit als hoor Elmarie in haar vriendin se stem. Sy self is al voos gebid. Maak nie saak wat sy doen nie Mart wil of kan nie verby haar probleme kyk nie, nou is klein Bekka ook siekerig wat haar onvermoë nog verder uitbuit. Sy kan haar ook nie rerig blameer nie maar wat sê sy vir haar om haar op te beur? Hoe praat jy iemand hoop in as dit lyk of daar geen hoop is nie? Hierdie land is besig om sy eie mense in die steek te laat.
“Kom ons gaan fliek, Maria sal na Bekka kyk. Ek stick jou.”
“Jammer, maar ek kan nie. Watse tipe ma is ek wat gaan prente kyk terwyl haar tienjarige koorsig is?”
“Ek is seker dit is nie so erg nie. Sy was gister heeldag in die son, sy moet dit net rustig vat vandag.” Probeer Elmarie haar moed in praat. “Kom, dit sal ons albei goed doen om bietjie uit te kom.”
++++
“Jou Oom het gebel, net toe julle weg was.” Verwittig Maria vir Mart die oomblik wat hulle terug stap in die huis. Die fliek was ‘n regte tranedal wat hul energie getap het en beide vrouens wil net ontspan.
“Watter Oom?”
“Hy het nie sy naam gelos nie net sy nommer. Dis daar by die tafel?”
“Waar is Bekka?”
“Sy slaap, ek gaan nou.” Se Maria stroef.
“Dankie Maria.” En Elmarie staan nader met Maria se geld in haar hande. Mart kyk rond op die kombuiskas en sien die nota met ‘n nommer op geskribbel. Sy ken nie die nommer nie en ken geen oom wat haar sal wil bel nie en sit die nota terug op die blad. Sy wil eers seker maak Bekka is rustig en dan sal sy bel.  
“Hoe voel Bekka?”
“Nog koorsig, sy het opgebring net toe ek by die kamer instap en ek moes eers skoon maak. Ek het vir haar iets gegee en sy slaap nou.”
“Julle kan oorslaap vanaand.” Elmarie hou ‘n beker koffie na haar vriendin uit wat sy met ‘n waarderende knik vat. “Dankie, miskien moet ons so maak. Ek sien nie vanaand kans vir daardie klein woonstellejie nie. Partydae voel dit ek gaan versmoor daar binne.”
“Ek blameer jou nie, ons motorhuis is groter as daardie plek.” Beaam Elmarie met ‘n glimlag maar Mart vermy haar oë. In stilte geniet hulle die drinkgoed, woorde min. “Jy moet onthou om te bel.” Herinner sy Mart ‘n paar minute later.
“Sal môre oggend, ek is nou net lam en nie lus vir familiedramas nie.”
++++
“Jy beter bel jong.” Herinner Elmarie haar vriendin weereens. Deur die nag was daar min geslaap. Bekka het gesorg dat hulle omtrent geen ooglid toegemaak het nie en hulle moes vroegdag dokter toe gaan. Een of ander maagvirus het haar beetgekry en teen laat middag was sy uiteindelik rustig genoeg om te kon insluimer. Elmarie het vir hul elkeen ‘n glasie wyn ingeskink terwyl hulle elkeen deur ‘n tydskrif blaai. Na ‘n lang gesukkel het Elmarie Mart oortuig om ‘n paar goedjies te gaan pak en by haar te bly vir die naweek. Mart was moeg en teer en Elmarie kon nie anders as om haar vriendin weer opnuut jammer te kry nie. Met ‘n stil gebed het sy haar vriendin weer opgedra aan die Een wat iets kon doen. 
“Ek het al vergeet daarvan,” sê Mart en spring op. Terug in haar stoel hou sy die nota in haar hand, ‘n ligte frons tussen haar oë.
“Jy kan my foon gebruik om gou te bel.” En oorhandig die foon aan haar.
“Dankie.” en met die maak sy die oproep.
Skalks hou Elmarie haar dop terwyl sy met die oom praat. Dit is ‘n oom aan haar pa se kant lei sy af en luister hoe Mart stil raak en dan aan haar arm tik. Glinsterende oë is op haar gerig, ‘n opgewondenheid verander haar hele gelaat, ‘n verdwaalde traan wiggle al teen haar wang af en sy wonder wat aan gaan. Mart stap uit die patio en stop langs die swembad haar hele houding opgewonde soos sy vrae vra. Ongeduldig wag sy dat haar vriendin moet aflui en in kom. Die oomblik wat sy op die patio verskyn dans haar oë jubelend. Elmarie besef opnuut hoe meer sy is werklik is.
“Raai wat?” en nog voor Elmarie haar kan antwoord beantwoord sy haar eie vraag “Ek het ‘n kar gekry.” En sy vat haar hande saam terwyl trane verder rol, trane van vreugde en verligting.
Verstom staar Elmarie haar aan, “Wat bedoel jy?”
“Oom Gert het van my storie gehoor en wil vir my ‘n kar koop.”
“Hoe, wat…” en beide vrouens begin te lag, hardop. Swaarmoedigheid word vervang met verligting soos die twee na my kyk.
“Ek kan dit nie glo nie. Jy moet my knyp!” Roep Mart uit. Haar lag lig en borrelend. "Besef jy ek kan nou vir Meneer van Deventer bel en laat weet ek het vervoer. Besef jy wat dit beteken? Ek. Het. Werk.” En sy lag uitbundig. Spring op en hardloop binne die huis in, seker om vir Bekka van hul geskenk te vertel.
Elmarie lag en gaan dan op haar knieë… “Dankie Here. Dankie Here. Weereens het U bewys dat ons U kan vertrou.”

Kopiereg Lynelle Clark 2018 

Saterdag 29 September 2018

Ithuba: 'n Tweede kanse Deur Lynelle Clark



Net soms sou ek ook wou weet wat is ware geluk, dink Netta terwyl sy na die bedrywighede om haar kyk. Leonie was nog altyd ‘n raakvat mens, haar huis en kinders getuig daarvan. Sy weet net hoe om als reg te doen. Anders as sy – haar lewe is presies die teenoorgestelde.  Op die oog af lyk haar vriendin gelukkig, tevrede en met ‘n man wat onvoorwaardelik lief is vir haar; hoe dan anders. Sy sug beswaard, eintlik meer verwese as sy eerlik moet wees.
“Wat gaan aan met jou?” verbreek Leonie die stilte
“Niks nie.”
“Dit lyk nie soos niks nie. Daardie sug praat boekdele.”
“Hou op karring, asseblief.” Skerm sy. Hoe verwoord sy haar binneste aan haar?
“Ek karring nie, stel net belang.”
“Wel stop daarmee.” Met dit storm sy uit die kombuis en loop na haar kar toe op ‘n drafstappie. Haar trane te vlak vir haar eie gemoedsrus.  Die wêreld is nat maar sy steur haar min daaraan. Vandag sien sy niks raak nie. Hoeveel kan een mens nog hanteer? Wonder sy moeg. 
“Aggenee man, ‘n papwiel. Ek is nie lus hiervoor nie!” roep sy in frustrasie uit en huil onbedaarlik terwyl sy afsak teen die kar tot in ‘n modderpoel. Te laat merk sy die nat spul op en besef daar is geen manier wat sy so in die kar kan klim nie en sug moedeloos.
“Wat op aarde gaan hier aan?” met een kyk som Leonie die situasie op en kan nie help om uit te bars van die lag. Die koddige prentjie van haar papnat vriendin is net te snaaks.
“Verlekker jou in my lot.” Snou Netta haar toe maar dan kyk sy ook na haar situasie en glimlag, sy moet saamstem, dit is vrek snaaks. Die volgende oomblik sif nog water van bo neer en gou was hulle albei deurdrenk. Trane loop nou vrylik oor Netta se gesig in gelid met die druppels en alhoewel sy probeer glimlag mislei dit Leonie nie. Sy weet haar vriendin se gemoed is vol en sy druk haar styf vas.
Leonie weet die jaar was swaar en nog lank nie verby. Hoe kon Frank dit aan haar doen? Haar net so los met geen geld om vir haarself of sy seun te sorg nie. Haar soeke na werk lewer ook niks op nie en die uitsettingsbevel het gister opgedaag. Waarheen sal sy gaan? Wat gaan van haar word?
Sy, wat Leonie is, het self nie genoeg plek vir haar eie gesin nie. Haar 4 kinders vat elke denkbare spasie in die huis op. Hulle sukkel ook met Etienne se kleiner salaris vandat die maatskappy moes sny op elke plek. Elke sent word 4 keer omgedraai.
Elke moontlike deur het in Netta se gesig toegeklap en sy kan haar eintlik nie verkwalik nie. Dit was ‘n geleentheid om stoom af te blaas.    
Albei haar ouers is lankal oorlede en sy was die enigste kind. Daar was geen heenkome vir haar en klein Nate nie.
ꝏꝏꝏ
Later, na ‘n warm bad en skoon klere vanuit Leonie se kas het Netta by haar huis in gestap. Neels was so goed om die karwiel om te ruil terwyl hulle binne was. Leonie het haar dadelik in ‘n warm bad met die heerlikste borrels gesit waar sy vir ‘n paar minute net weer vrou kon word. Leonie is ‘n gelukkige vrou. Hoekom kon Frank nie ook so goed vir haar gesorg het nie?
“Mamma?” roep Nate haar terug uit haar morbiede gedagtes.
“Ja Nate?”
“Mamma, Jack het my genooi na sy verjaarsdag partytjie môre, kan ek gaan, asseblief, ma?” Haar skouers sak. Nog ‘n uitgawe. Sy is al so moeg om nee te sê. Negejarige groen ogies staar haar opgewonde aan en sy sluk verbouereerd. “Ek weet nie Nate. Mamma kan nie nou ‘n geskenk koop nie.”
“Mamma hoef nie te worry nie, ek sal een van my onoopgemaakte karretjies vir hom gee. Ek het nie so baie karretjies nodig nie.”
“Ai my kind,” en trane stroom opnuut weer oor haar wange.
“Here, dankie vir ‘n kind wat verstaan.” Prewel sy saggies as sy deur die donkerkop vryf; haar hart stukkend. Hulle het so lank vir hom gewag. Tien jaar van hul getroude lewe was op hul knieë deurgebring. Haar beker van geluk het oor geloop toe sy uiteindelik swanger geword het. Toe, agt jaar later vertel Frank hy het iemand anders gevind. Dié kind, het sy uit gevind is al 12. Hy het haar twaalf jaar lank verkul terwyl sy alles in haar vermoë gedoen het om vir hom ‘n kind te gee. Selfs toe sy dit gegee het was dit nie goed genoeg nie. Bitter draai sy weg.
Kosmaak tyd lê soos ‘n berg voor haar.
ꝏꝏꝏ
“Hello Tannie,” groet Jack beleefd. Die swartkop bons opgewonde rond die oomblik toe hy Nate gewaar. Sy groet maar is al klaar vergete toe Nate die geskenk oorhandig.
“Jis Nate, dit is mooi. Ma!” gil hy en hardloop weg om haar die nuwe speelding te wys. Netta onthou die trok. Frans het dit die vorige jaar vir Nate gegee. Toe die ander kind ook instap was die geskenk terstond terug gesit in die boks en nooit weer aan geraak nie. Nou gee hy dit vir Jack. Haar kind het duidelik oor die verraad gekom. Wens sy kon ook.
Toe Frans ‘n opmerking daaroor gemaak het, het sy hom net geignoreer. Die man het geen gevoel vir Nate nie en geen geskenk sou hom omkoop nie.
“Verskoon tog dame, is dit die Pieterse huishouding?” vra ‘n stem agter haar en sy draai om net om op te staar na die lang man. Met een oogopslag neem sy als van hom in. Van die leê trouring vinger tot die grys in die donker hare. Sy groen oë helder en vol lewenslus. Hy kug weer en dit ruk haar terug. “Ja, dit is die regte huis.”
“Dankie. Jy het nie dalk so ‘n kort vrou gesien wat…” met die hoor Netta ‘n gil agter haar en Fransien storm op die man af. “Boeta! Jy het dit gemaak!” en sy omhels hom vuriglik. Hy lag hartlik vir haar manewales en sit haar dan veilig op die grond neer. “Ek sien jy het Netta ontmoet.”
“Nie rerig nie, sus. Ek wou net seker maak ek is by die regte huis. Julle het omtrent verbou van ek laas hier was.”
“Peet het omtrent gewerskaf om als reg te kry maar kom, dan wys ek jou die plek.” Sy storm die huis binne en hy tou agter haar aan. Netta verstom haar aan die gemaklike verhouding tussen broer en suster. Dit was iets wat sy altyd gemis het. Sy het haarself belowe dat haar kinders die vreugde van ‘n boetie of sussie sou ken, en kyk nou. Nate was besig om kop onderste bo in ‘n boom te swaai en sy draai benoud weg.
“Netta, hier is ons!” hoor sy haar naam en sy sluit aan by nog ouers. Jare hul senior drink sy die aangebode drankie terwyl sy die gesprek volg. Sy moes heeltemal weggeraak het in haar eie gedagtes toe sy ‘n tik aan haar skouer voel. Toe sy opkyk, kyk sy in helder groen oë vas.
“Ek glo nie ons het al ontmoet nie.” begin hy en sy knik.
“Ek is Teuns van Niekerk, en met wie het ek die voorreg om te gesels?”
Sy glimlag half verleë, “Jeanette Barnard. Maar my vriende noem my Netta.”
“Bly te kenne, Jeanette. Kan ek jou maar Netta noem?”
“Ja seker Teuns.”
“Hoe lank ken jy al my sus?”
“Seker so vyf jaar, die twee seuns ken mekaar van Graad R af en is dik pelle.”
“Dit is goed vir seuns om vriende te hê.”
“Ja dit is.” ‘n Gemaklike stilte val tussen hulle terwyl hulle luister na die gesprek om hulle. Toe Netta weer op haar horlosie kyk is dit al vyfuur, tyd om te gaan. Sy roep Nate nader en vra dat hy sy goed moet kry.
“Ag nee Netta, bly asseblief,” se Fransien, “Hier is so baie kos, bly gerus.”
“Asseblief, Ma,” soebat Nate ook, “ons speel nou baie lekker. Het ma die tent gesien wat Jack se oom vir hom gegee het?” en sonder om te wag vir ‘n antwoord is hy vort waar seuns om die blou tent vergader.
Die res van die aand loop lekker gesellig. Teen die tyd wat kos opgedien word was die kinders duidelik moeg gespeel. Sonder seremonie word hulle eerste kos gegee en een na die ander raak hulle aan die slaap terwyl die ouers nog heerlik kuier.
“Kom ek help jou met jou seun,” bied Teuns aan en tel Nate op sonder om te wag vir toestemming. By die kar lê hy hom op die agtersitplek neer en kom dan regop. “Daarsy. Dit was heerlik om jou te ontmoet Netta. Ek hoop ons kan weer so ‘n geleentheid kry binnekort.”
“Dankie Teuns.” En sonder om verder te gesels klim sy in die kar en ry weg.
“Daardie vrou sukkel iets vreesliks,” vertel sy suster hom waar hy die kar agterna staar.
“Hoe so?” vra hy ingedagte.
“Haar man het haar net so gelos met geen onderhoud. Sy kry ook nie werk nie. Ek verstaan sy moet die einde van die maand uit haar blyplek uit.”
Stilwyend staar hy na die rooi liggies en kyk dan na sy suster, “Kan jy my haar nommer gee? Ek kan dalk moontlik help.”
“Dit sal fantasties wees, sy het rerig hulp nodig.”
ꝏꝏꝏ
“My broer wil weet of ek jou nommer vir hom kan gee?” kom die WhatsApp boodskap deur net toe Netta by die huis in stap. Hoekom wil hy my nommer hê? Wonder sy. Die aand was lekker maar daar is niks wat sy aan enigiemand kan bied nie. Haar oë val oor die karig gemeubileerd huisie wat sy al twee jaar bewoon. Frans het in die begin gesorg dat sy aan niks tekort skiet nie maar soos wat tyd verloop het, het die geld minder geword en later heeltemal gestop. Genadiglik het sy genoegsaam gespaar maar die spaargeldjies is ook al amper op. Sy weet nie meer nie.
“Hoekom?” vra sy amper agressief.
“Hy sal self aan jou verduidelik.” kom die onmiddelike antwoord.
“Ek is nie lus vir nonsens nie.” antwoord sy moeg.
“Ek belowe jou my boeta is opreg in sy navraag. Hy wil graag help.”
“Hoe?”
“Praat asseblief self met hom. Is dit reg, kan ek maar gee?”
“Is reg, ek soek net nie enige probleme nie.”
“Jy sal nie spyt wees nie. Ek dink hy wil jou ‘n tweede kans gun.”
“Tweede kans se gat man, ek het al so baie stories gehoor en dan kos dit my net. Ek het nie geld om te mors nie.” wip sy haar onmiddelik en haar vingers sukkel om die klein knoppies korrek te druk. Haar spelling lyk beroerd maar wie gee om oor spelling wanneer die wêreld om jou in mekaar tuimel.
“Hy wil werklik net help. Indien hy droog maak laat weet jy my en ek sort hom vir jou uit.” en sy plaas ‘n klomp laggende gesiggies by die gesprek. Netta hoop dit is waar want van vryerige mans wil sy niks weet nie.
Sy het net in die bed gekruip toe haar selfoon ping. Lusteloos vat sy die ding en kyk by die kennisgewings. ‘n Onbekende nommer verskyn op die skerm met ‘n boodskap by.
Sy maak die WhatsApp toepassing oop en klik op die nommer.
“Hello Netta,
Teuns hier. Jammer om jou so laat te hinder, jy is heel moontlik klaar in droomland.
Ek sal sommer dadelik met die deur in die huis val.
Ek het ‘n gastehuis in die noorde van Pretoria. My bestuurderes het gister geloop sonder om vooraf kennis te gee. Ek sit met ‘n huis vol gaste en niemand wat kyk dat als vlot verloop nie.
Jy sal ideaal wees vir die pos. Ek kan jou ‘n salaris van R15 000 ‘n maand aanbied. Dit sluit ook ‘n kar in vir werk. Daar is ‘n groot woonstel agter die gastehuis waar jy en jou seun kan bly. Die pos is onmiddelik beskikbaar.
Laat weet hoe jy voel daaroor en bel my asb.
Groete, Teuns.”
3 fotos volg en dan ‘n skakel. Versigtig bestudeer Netta die inligting op die webwerf en lees die boodskap weer. Die geleentheid klink wonderlik. Maar Nate vorder goed in sy skool, sal die verandering hom nie skade doen nie? Sy slaap min soos duisende vrae deur haar maal maar toe die son sy strale oor die huisie gooi bel sy haar jarelange vriendin.
ꝏꝏꝏ
Sy en Teuns spreek af om daardie middag by die gastehuis te ontmoet. Nate is in ekstase oor die skuif. Selfs toe sy vir hom vertel dat hy Jack nooit weer gaan sien nie huppel hy rond van blydskap en sy glimlag weereens vir die kind van haar.
“Ek sal jou graag die kans wil gee en jy sal my uit ‘n groot verknorsing help. Sien jy kans?” vra hy huiwerig. Nate hol rond klaar tuis by die plek. Die woonstel wat vir haar gewys is tweekeer haar huisie se groote. Klaar gemeubileerd met keurige stukke wat haar onmiddelik welkom laat voel het. Die indrukwekende gastehuis kyk uit oor die rante. Die horison strek vêr en wyd en die dekstoele nooi elke gas om uit te ontspan met ‘n glasie wyn in die hand. Die spannetjie lyk ook almal opgewasse vir hul taak en sy kan nie help as om beindruk te wees met die gesogte plek se diens nie. Die vol bespreekte gastehuis het haar volle aandag en stilweg beweeg sy deur die mense om alles te observeer.
“Wat dink jy Nate?” vra sy haar seun waar hy rustig op ‘n swaai sit. Die hele speelarea is baie netjies uit een gelê en Nate het die hele middag saam met van die gaste se kinders baljaar op die klimrame.
“Ek dink hierdie plek is reg vir ons.” Sê hy nadenkend en sy glimlag. Toe Teuns op die stoep verskyn vroetel sy deur Nate se hare vir oulaas en stap dan met breë skouers haar nuwe baas tegemoet.
“Ek sien kans. Dankie vir die geleentheid.” Sê sy met sekerheid en hy glimlag, gelukkig.
“In daardie geval moet ons jou onmiddelik help met jou trek. Welkom by Ithuba Lodge.”
‘n Vonkeling in sy kykers maak haar opeens opgewonde vir die lewe.


 Kopiereg@LynelleClark2018    

Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...