Wys tans plasings met die etiket egskeiding. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket egskeiding. Wys alle plasings

Dinsdag 06 November 2018

My stand in die samelewing. Waar pas ek in as enkelling?



Vandag se program handel oor My stand in die samelewing. Waar pas ek in?
Om dit te beantwoord moet ek eers die volgende vraag beantwoord; is daar nogsteeds ‘n stigma aan ‘n geskeide persoon?

Julle kan dalk verskil met my vraag maar onbewustelik dink ek daar is nogsteeds so iets. Die samelewing en ons geestelike oortuigings is getuienis daarvan. Daarom kry jy baie ongelukkige mense wat in ‘n huwelik bly lank nadat die huwelik verby is. Elkeen bly omdat hulle geldige redes het waarvan kinders gewoonlik die mees algemeenste rede is. Naas dit is daar finansieële oorwegings. Die man sal dalk dink hy gaan nie sy ‘hard earn’ skatte aan die vrou gee nie en bly liewer. Die vrou het nie ander heenkome nie, het geen geld van haar eie nie en bly. Of die ekonomie veroorsaak dat hulle bymekaar bly want sonder die ander inkomste gaan hulle dit nie maak nie. In die proses vernietig hulle mekaar emosioneel en die kinders dryf weg in hul eie wêreld in.  

Ek wil tog byvoeg dat indien julle kan werk aan jul huwelik, en selfs hulp inroep doen dit. ‘n Huwelik is tog ‘n werkbare instelling wat vir albei partye en hul kinders ‘n vaste grondslag gee om op te staan. Vandag, in ons gejaagde wêreld is dit nog meer van belang. Die wêreld val uit mekaar uit, kinders beleef meer probleme daarbuite en indien dinge nie goed is by die huis nie dan benadeel dit hulle nog verder. So, indien jul albei voel jul wil dit nog ‘n kans gee doen als in jul mag om dit te maak werk. Dit kos baie geduld en kompromie maar ek glo dit is die moeite werd vir sommige verhoudings. Ondersteuning is belangrik en om die regte mense om julle te kry is die belangrikste belegging wat jy kan doen vir jul pad.

Maar ek weet ook dat dit nie altyd so maklik is nie. Ongeag al die geduld en kompromieë werk dinge net nie uit nie. Dit is feite. Albei moet bereid wees om te werk aan die verhouding. Indien een nie wil nie gaan die ander party haarself moeg maak en onnodige letsels by kry.

Ons leef in ‘n verligte tyd waar die meeste dinge aanvaarbaar is maar ons wil almal glo wanneer ons voor die kansel gaan staan dit vir altyd sal wees. Wanneer dit nie gebeur nie dan laat dit ‘n wrang smaak in die mond. Dit laat jou skaam, verward en baie kere selfs vernederd voel. Dan praat ons nie eers van die mislukte-gevoel wat jy oor jou trek soos ‘n kombers nie. Die gevoel word versterk juis met die feit dat vriende jou ook verlaat en jy alleen staan. Hoeveel te meer as jy die skuldige party is. Dit vat ‘n lang tyd om rerig deur al die emosies te werk, kenners sê dit kan tussen 2 tot 4 jaar vat voor jy weer voel jy kan jou voete met sekerheid op die aarde sit. Die hele pad ruk jou van balans af en dit is belangrik dat jy geduldig met jouself sal wees.

In ‘n studie wat gedoen is noem hulle dat tot 46% voel dat hulle daagliks geoordeel word vir hul besluit of standpunt. Dit dra nog meer by die gevoel van hopeloosheid en verlorenheid wat enkellopendes ervaar.

Dan praat ons nie eers van die toutrekkery wat plaasvind agterna nie. Die feit dat een party dink hulle het meer regte is ook iets waarna gekyk moet word. Dit is min wat jy hoor partye kom goed anderkant uit. Die battles is bloedig en laat een persoon gewoonlik in ‘n wurggreep. Veral op finansieële gebied dink die een dat hulle meer verdien en dit tap die lewe uit die ander uit. Om dan kop te hou is net moontlik met die regte ondersteuning om jou.

Ek wil tog hierby voeg, indien jy jou mes in het vir jou gewese maat en jy hom/haar wil benadeel. Stop vir ‘n oomblik en dink aan die gevolge. Dit is nie net daardie persoon wat jy benadeel nie maar alles waarvoor hy/sy verantwoordelik is, insluitend jul kinders.

Maar kom ons kom terug na die oorsponklike vraag - My stand in die samelewing. Waar pas ek in?

Voorheen sou dit my nie gepla het nie maar die manier wat mense jou benader of selfs behandel verskil. Jy is nie meer mevrou so en so nie. Dit is verbasend hoe daardie titel ons ‘n plek gee van eienaarskap. Mense weet sommer dadelik met wie hulle te doen het wanneer mevrou instap. Dit dra gewig en status. En vir ons vrouens is dit ook ‘n plek van sekuriteit. Maar nou, wat nou, wanneer daardie titel net op papier is en jy in realiteit enkel is. Jy probeer als in jou vermoë om weg te kom van daardie titel maar dit volg jou soos ‘n skaduwee.

Die eerste ding wat jy doen is verwyder die ringe. Die ringe en titel loop hand aan hand. Die ringe is ‘n uiterlike teken dat jy aan iemand behoort. Die titel bekragtig dit. Die ringe-afhaal-seremonie, is iets wat stilweg gebeur. Sommer so in die stilte van jou kamer of badkamer. Daar is geen basuin of trompet wat die gebeurtenis aankondig nie. Nee, dit is ‘n stille gebeurtenis wat soos ‘n gewig, gestroop word van jou vinger en dan voel jy verlig, amper eufories.

Wanneer jy dan weer die buite wêreld betree voel jy anders oor als om jou. Die vryheid wat jy nou smaak is amper ongekend, veral as jy jonk en lank getroud was. Die wêreld lyk skielik baie groot. Dit is ook opmerklik hoe vining mense dit raaksien. Die leë vinger word skielik ‘n nuwe simbool en staan vir vryheid en weereens is mense of jaloers of bly vir jou. Wanneer mense jou nader is hulle nie seker hoe om jou aan te spreek nie. Ek help gewoonlik vining om enige verleentheid te voorkom.

Mense kyk nou anders na jou. Of miskien is dit jy wat nou anders na mense kyk, weet nie maar daar is tog ‘n defnitiewe skuif in persepsie. Dit is dan wat jy agterkom getroude vrouens dink nou tweemaal voor hulle jou nooi. Jy word nou met versigtigheid hanteer. Daar is min getroude paartjies wat gemaklik is met ‘n geskeide vrou of selfs weduwee as vriendin. Jy word gerieflik weggelaat met enige uitnodigings. En op ‘n punt kom jy agter dat jy net na familie byeenkomste genooi word en jy bevind jou meestal alleen. 

Indien jy nog kinders op skool het kan skoolbyeenkomste ook styf en formeel word en jy as enkellopende persoon moet bedag wees op hierdie veranderinge. Soms moet jy bereid wees om liewer terug te staan as jou wil af te dwing. Behou jou waardigheid as vrou te alle tye.

Jy sal baie kere wonder waar pas jy nou eintlik in. Die grense van voorheen het nou geskuif, jou benadering verander. Jy word nou amper speels, selfs flirterig in jou gesprekke. Jy kan nou meer openlik gesels oor sekere onderwerpe. Hier moet jy ook let wat jy sê. Want vat jy dit te ver kan jy heelwat probleme op die hals haal. Plaas ‘n wag voor jou mond is kardinaal. Kort voor lank kan jy meer probleme hê wat jy nie op gereken het nie. Mans veral, gaan dit letterlik opneem en jou selfs opvat daarop. Nee is dan nie ‘n antwoord wat hulle gemoedelik gaan aanvaar nie. Dit is dan wat jy ‘n oop teiken vir elke wolf daar buite word en jy voel baie kere weerloos. Dit is als okay om te sê ‘mense moet my aanvaar soos ek is’ maar daarin is soveel gevare opgesluit. In die eerste plek gaan jy nie daarvoor reg wees nie en gaan jy nie weet hoe om dit te hanteer nie. Onthou, jy is nou alleen. Jy het geen beskerming nie. So, wees versigtig.  

Ek het dit veral op Bakkiesblad gesien; veral by die enkelgroepe. Daar praat mense soos hulle wil en noem ‘n spade ‘n spade. Vulgere taal is aan die orde van die dag. Maar saam met dit gaan mense jou toets op jou reaksies van verskillende plasings. Hulle gaan kyk hoe ver is jy bereid om hierdie nuutgevonde vryheid te vat. Mans is dan lief om truth or dare speletjies te speel. Wees versigtig vir dit – want jy kan in ‘n lokval instap. Onthou hy weet wat hy wil he, en indien hy enigsins agterkom dat jy bereid is om jou inhibisies eenkant toe te skuif gaan hy jou probeer kry om oor te gaan na die daad.
Die gevare van sosiale media vir ‘n enkel vrou is legio. En ek praat nie van die Nigirier scammers nie. Hulle is teen die tyd maklik herkenbaar. Nee, daar is baie meer waarvoor jy bedag moet wees. Dit is belangrik dat jy weet van die wolwe, die wat net fun wil hê, en die wat teer op geskeide vrouens. Daar is getroude mans wat ‘n ietsie soek langs die kant sonder die verantwoordelikheid. En glo my, hulle gaan nie hul vrou los vir jou nie. Dan is daar die Toy-boys wat dink dit is cool om met ‘n ouer vrou gesien te word… ens.

Vir die normale gesinsman of vrou maak die goed nie sin nie, maar daar is ‘n wêreld binne in FB waarvan min mense bewus is. En agter geslotenheid van hierdie wêreld sal jy seerkry, oop oë. Dan kan jy nie jou wonde gaan bekla nie want jy het openlik daarin gestap. Jy is mos nou ‘n groot vrou wat jou eie besluite kan neem. Reg?

Waaksaamheid sal nou jou grootste vennoot wees. Versigtigheid en wysheid die sleutel tot hierdie groepe. Maak nie saak hoe versigtig jy is nie, jy gaan ‘n stel of twee aftrap. Wanneer jy die gevoel kry om weg te stap. Gee gehoor daaraan. Stap weg. Jy verloor niks nie. Maak nie saak hoe nice die man is nie.

Jou stand in die samelewing word bepaal deur hoe ernstig jy jou nuwe status hanteer. Jy is nou in beheer en gee die pas aan. Koelkop is nou die beste. Jy moet vir jouself bakens stel. Hierdie bakens word bepaal deur jou eie verwagtinge en, in ‘n groot sin finansies. Jy word heelwat aan bande gelê as jy nie geld of selfs ‘n kar het nie. Jou beweeglikheid hang dan af saam met wie jy uitgaan. Hierin kan veiligheid wees maar, indien jy die mense nie goed ken nie jou grootste gevaar. Groepsdruk kan dan ‘n wesenlike probleem word. Net jou eie oortuigings kan jou dan help.

Op hierdie onderwerp - Hoe ver is jy bereid om te gaan byvoorbeeld. Of wat soek jy in ‘n man. Defineer jou eie planne en hou daarby. Kry ‘n vriendin aan wie jy rekenskap gee, dit sal jou kop skoon hou en jy sal met groter sekerheid op die pad bly. So vining kan jo stand verander na iets wat jy glad nie op voorbereid was nie. Onthou, nie almal wat jy leer ken is jou vriend nie. Onthou, jy soek nou jou voete. Jy het planne. Jy weet waarheen jy oppad is, indien iets dit wil benadeel of sink dan is dit beter om dit te laat gaan.

Dit help nie jy gaan blindelings in ‘n nuwe ding in nie. Stel riglyne op. Sit merkers op jou nuwe pad. Doen nuwe dinge, maar probeer dit in ‘n groep te doen. Gaan uit maar wees versigtig waarheen jy gaan. Slegs deur te waag sal jy uitvind wat werk vir jou. Indien jy nie gemaklik is nie en liewer by die huis wil bly, doen dit. Solank jy net nie afgestomp word nie. Kry Stokperdjies wat jou nie net besig hou nie maar ook stimuleer. Facebook is nie ‘n stokperdjie nie.

Jou benadering tot die lewe bepaal jou pad vorentoe. Slimgeid gaan jou net in die moeilikheid bring. Kry ‘n vertroueling en vra vrae. Wees bereid om te leer. Dit help veel jy het hierdie nuwe vryheid en jy is nie bereid om te leer nie. Probeer om nie weer die foute van die verlede te herhaal nie, jy het nou ‘n geleentheid om oor te begin. Maak die beste van hierdie tyd.

Of jy dit nou wil hoor of nie, moenie net ‘n nuwe man soek om die leemte te vul of jou te help in jou geldelike verknorsings nie. Mans is nie die antwoord op als nie. Die meeste mans, in my ouderdoms klas gaan deur hul eie probleme en het net eenvoudig nie die geldelike vermoë om jou te ondersteun nie of hulle is so voos geslaan dat hulle nie kans sien vir ‘n ander vrou se probleme nie. Om sulke verwagtings te he sal jou net verder aflei van hierdie nuwe pad waarop jy is.

Dit is natuurlik oog goed om te kyk wat Vader sê van enkelskap juis omdat dit vir baie vrouens dan belangrik is. ‘n Vrou vind gewoonlik skuiling by die Opperwese en besef dat God haar beskermheer is. En natuurlik, dat hy haar nie verwerp nie. Baie van ons sukkel met die vraag wanneer ons voor god kom en wil sommer vroegtydig wegkruip maar ek wil jou verseker dat god jou nie verwerp nie. Nooit nie. Hieroor kan lank gedebatteer word en elkeen sal self by die Here moet gaan hoor wat is die beste pad vorentoe. Daar is geen reël of wet oor dit nie. Maar God weet wat hy vir jou beplan en wie jy nodig het op jou pad vorentoe. Indien hy wil he dat jy alleen moet bly sal hy dit ook uitwys.

Vraag: "Wat sê die Bybel oor ‘n Christen wat enkellopend is?"

Antwoord: Die vraag of ‘n Christen enkellopend mag bly en wat die Bybel sê oor gelowiges wat nooit trou nie, word dikwels misverstaan. Paulus sê vir ons in 1 Kor 7:7-8, “Eintlik wens ek dat alle mense kon wees soos ek is. Maar elkeen het van God sy besondere gawe ontvang, die een dit en die ander iets anders. Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek: Dit is vir hulle goed om ongetroud te bly soos ek.”
Let daarop dat hy sê dat sommige die gawe het om enkellopend te bly en sommige die gawe van die huwelik. Alhoewel dit lyk asof byna almal trou, is dit nie noodwendig God se wil vir almal nie. Paulus, byvoorbeeld het nie nodig gehad om oor die ekstra probleme en stres wat die huwelik en/of familie bring, te bekommer nie. Hy het sy hele lewe daaraan toegewy om die Woord van God te versprei. Hy sou nie so ‘n bruikbare boodskapper gewees het as hy getroud was nie.
Aan die ander kant doen sommige mense beter as ‘n span - hulle dien God as ‘n familie of as ‘n egpaar. Beide van hierdie groepe mense is ewe belangrik. Dit is nie sonde om enkel te bly nie, al is dit lewenslank. Die belangrikste ding in die lewe is nie om ‘n maat te vind of kinders te hê nie, maar om vir God te dien. Ons moet onsself opvoed in die Woord van God deur ons Bybel te lees en te bid. Indien ons God vra om Homself aan ons te openbaar, sal Hy dit doen (Matt 7:7) en as ons Hom vra om ons te gebruik om Sy goeie werk te voltooi, sal Hy dit ook doen, Rom 12:2, “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Om enkellopend te wees, moet nie as ‘n vloek beskou word nie of as ‘n indikasie dat daar “iets verkeerd” is met die enkel man of vrou nie. Alhoewel die meeste mense trou en die Bybel ook aandui dat dit God se wil is, is ‘n enkellopende Christen geensins ‘n “tweedeklas” Christen nie. 1 Kor 7 dui aan dat enkellopendheid ook ‘n hoër roeping is. Soos met alles in die lewe, moet ons God vir wysheid vra (Jak 1:5), ook rakende die huwelik. Deur God se plan te volg, óf dit huwelik óf enkellopend is, sal die resultaat produktiwiteit en vreugde wees, soos God dit vir ons begeer. 


Tot ‘n volgende keer
Skitter net waar jy is.




Die Stasie Vir Passievolle Mense


Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580

SKAKEL IN: 

SIMPLE RADIO App.
http://www.liveonlineradio.net/south-…/elan-global-radio.htm



Woensdag 18 Julie 2018

Diamant Divas Program 6: Gee jouself tyd

As ’n verhouding eindig, kan dit pynlik wees, selfs vir die persoon wat dit beëindig het. “Ek het verskriklik gevoel!” hoor ek dikwels in gesprekke met enkellopendes, wat die verhouding beëindig het. “Hy was deel van my lewe vir baie jare, my toekoms gevleg in die wete dat hy daar was; die volgende oomblik was dit verby. Die samesyn, en deel van kinders groot maak asook baie ander gedeelde oomblikke is dan iets van die verlede. Indien jy iets noem daaroor dan word jy vinnig herinner daaraan dat jy die een was wat die besluit geneem het en word jy gestroop van jou verlede, nie geregtig om daardie dinge te onthou nie. Ek het die gemeensaamheid van ‘n eenheid verskriklik gemis in die begin. Ek bly mens wat dinge intens ervaar en op daardie oomblik van negatiewe reaksies keer ek inwaarts en verwerk dit sodoende.
Hoewel dit pynlik is om ’n verhouding te verbreek, kan dit ook ’n goeie ding wees. Jou doel is nie om die persoon seer te maak nie maar jy besef dat dit julle albei sal seermaak as julle in ’n verhouding bly wat eenvoudig nie werk nie. Julle het gesels daaroor, berading ontvang en weer probeer maar niks kon help om die opbreek te keer nie. Ek was aan albei kante; die een wat weg gestap het en die een wat moes agterbly om weer die leisels op te tel. In retrospek besef ek dat die kortstondige verhouding seker nooit sou gewerk het nie. Daar was net te veel dinge wat teen ons getel het. Tydens die opbreek proses probeer jy rasioneel dink maar dit is moeilik vernaam as jou gevoelens hoog loop en jy probeer verstaan, maar sonder sukses. Agterna kon ek aan myself erken dat daar net te veel ooglopende redes was dat dit die verhouding nie sou werk nie en dat dit beter was om die verhouding te verbreek.
’n Mislukte verhouding maak nie van jou ’n mislukking nie. In werklikheid lei ’n suksesvolle verhouding tot ’n besluit, nie altyd tot ’n huwelik nie. As jy of jou maat ernstige bedenkinge het, is dit die regte besluit om die verhouding te beëindig. As dit gebeur, beteken die feit dat die verhouding misluk het, nie dat jy misluk het nie. Jy kan weer gelukkig wees!
Gee jouself tyd om te herstel.
Erken jou gevoelens. Ek het my beste vriend verloor. Dit maak nie saak hoe lank die verhouding was nie. Wanneer julle so na aan mekaar was en die verhouding eindig, is dit normaal om ’n tyd lank te treur. ‘n Mate van pyn sal deel wees van die besluit en dit is belangrik om jouself daardie tyd te gun. Jy sal dalk voel soos koning Dawid in die Bybel gevoel het. “Ek huil die hele nag deur”, het hy geskryf toe hy ’n moeilike tyd deurgemaak het (Psalm 6:6Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Soms is dit beter om nie die pyn te probeer vermy nie, maar te aanvaar dat dit normaal is om hartseer te voel. Om die werklikheid van jou eie gevoelens te erken, is dikwels die eerste stap tot genesing.

‘n Mens moet kan rou oor die verlies wat jy gely het. Geduld is dikwels n kritiese noodsaaklikheid. Net soos wat n diep wond, of ou vrot wond tyd gaan neem om te genees, sal jou binneste ook soveel tyd neem as wat nodig is. Moeilike en onstellende emosies kan deel wees van die herstelproses, net soos die skoonmaak van ‘n fisiese wond seer behoort te wees, maar ervaar en laat jouself toe om werklik te “voel” sonder om jouself te oordeel of skuldgevoelens te hê.
Assosieer met mense wat vir jou omgee. Dit is dalk nie altyd maklik nie. Jy mag dalk vind dat jy nie mense om jou wil hê nie. Jy het tyd nodig om te herstel; om oor alles te deur dink en daarvan sin te maak. Maar ná ’n ruk is dit verstandig om tyd deur te bring met hegte vriende wat jou kan opbou. Daardie verpletterde gevoel van voorheen verminder in intensiteit hoe meer jy kommunikeer met ander.
Leer uit wat gebeur het. Vra jou self af: ‘Kan hierdie ondervinding my enigiets leer in my volgende verhouding?’ Tyd is die geneesheer van hartseer. Nadat tyd verloop het, kan jy met helderheid die situasie evalueer en ontleed voordat jy jou emosies opsy skuif. Dit het my ’n jaar geneem om oor die kort verhouding te kom en amper twee jaar na my lang huwelik. Dit het my selfs langer geneem om te sien wat ek uit die ondervindings kon leer. Wat ek deurgemaak het, het my baie geleer oor myself, die teenoorgestelde geslag en verhoudings. Ek voel glad nie meer so hartseer wanneer ek daaraan dink nie.
Kyk met nuwe oë na binne en buite. Kyk hoe jou lewe verander. As ons die wonde van die verlede met sorg en kennis skoonmaak, sal hulle genees.

As jy nog nooit in 'n slegte verhouding was nie, is jy nog baie jonk, baie onervare of geweldig gelukkig. Dit is ook moontlik dat jy 'n persoon is wat so hoogs funksioneel is dat jy 'n slegte verhouding herken voordat jy betrokke raak en wegkom voordat dit begin. Indien wel, gee jouself ‘n goue ster of ‘n klop op die skouer.
Vir die res van ons is ongesonde verhoudings net deel van die groeiproses. Hulle het juis oor ons pad gekom sodat ons daaruit kon leer.
o    Watter denkpatrone moet ons verander?
o    Wat is die knoppies wat my verkeerd opvryf dat die verhouding misluk?
o    Wat is my verwagtings in 'n verhouding. Toe ek en Isak bymekaar kom was ek eintlik baie eerlik en tot die punt met my verwagting: Ek is nie meer lus vir nonsies nie. Kort en kragtig.
Dus as jy in 'n ongesonde of ongelukkige verhouding was, wens jouself geluk want daaruit het geleer om sterk te staan en te triomfeer. Maak seker dat dit wat jy geleer het toegepas word in jou pad vorentoe.

“DIE HART GENEES WEL”
“Toe my kêrel die verhouding beëindig het, het ek skuldig, verward, eensaam en selfs waardeloos gevoel. ’n Gebroke hart is een van die moeilikste dinge wat ’n mens kan deurmaak. Maar God het ons nie geskep met die vermoë om lief te hê net sodat hy ons daarmee kan martel nie. Hy het ons ook die vermoë gegee om te genees. Dit neem tyd om op ’n persoon verlief te raak, en dit neem tyd om te herstel as julle verhouding tot ’n einde kom. Maar dit kan gedoen word. Die hart genees wel.” En dit het ‘n dame geskryf met die naam van Marcia.
Trauma
Ek wil net ‘n oomblik by hierdie punt staan en voel tog dit moet genoem word. Weereens ek is nie ‘n berader nie so praat asb met iemand wat jou beter raad kan gee in die verband of jy twyfel. Trauma gebeur wanneer jou veiligheid en sekuriteit ‘n ernstige knou gekry het, veral tydens mishandeling en verkragting.
‘n Paar tekens wat daarop kan dui dat jy dalk professionele hulp nodig het, vernaamlik as die verhouding traumaties was: (die punte wat ek hieronder noem is ‘n verkorte lys en daar is nog meer simptome om op te let. Die lys is gewysig vir enkellopende persone wat nie die teleurstelling kan verwerk nie.)
·         Terugflitse, helder herinneringe en/of nagmerries
·         Emosionele afstomping – voel net niks, niks maak saak nie
·         Misbruik van alkohol of dwelms om beter te voel
·         Sukkel om behoorlik te funksioneer by die huis of werk. Jou slaap patroon is verkeerd. Jy het geen eetlus nie.
·         Verhoudings wat skade lei weens jou oorreaksie of aggressie.

Trauma kan veroorsaak dat ‘n mens se senu-stelsel in ‘n veg-of-vlug toestand “vashaak”.  Suksesvolle behandeling moet hierdie wanbalans herstel en jou ware sin van veiligheid herstel. Trauma behandeling deur ‘n terapeut wat jy vertrou sluit prosessering van die trauma verwante gedagtes en gevoelens in.  Dit is ook belangrik dat jy leer hoe om verwante oorweldigende emosies aan te spreek.  Jy sal waarskynlik moet leer om ander mense weer te vertrou.
Ek het dit al voorheen genoem maar dit is tog belangrik. Gee jouself tyd en spasie.
Bly weg van jou eks vir ten minste 2-3 maande. Moenie bel nie, moenie hom besoek nie. Moenie teruggaan om jou tandeborsel of jou broodrooster te kry nie, of iets wat nie noodwendig vir jou oorlewing nodig is nie. Daardie dinge kan wag totdat jul albei 'n kans gehad het om af te koel en gewoond te raak aan jul skeiding. Meestal sal jy vind dat jy sonder daardie items kan lewe of dit kan vervang. As jy iets moet ophaal, doen dit met die hulp van 'n neutrale derde party.
Die eerste paar maande na die opbreking is 'n tyd wanneer jy verward en kwesbaar voel, kwaad of moontlik skuldig sal wees.
Op daardie oomblik is jy in gevaar om terug te keer in dieselfde ongesonde verhouding wat jy verlaat het, en om terug te gaan na iets wat vergete is, is waarskynlik 'n verskoning vir jouself om dit te doen.
Moenie antwoorde terug verwag om dinge te bevestig nie. Elke keer wat korrespondensie plaasvind veroorsaak dit negatiewe terugvoer. Dit kan wees omdat hulle nog self dinge moet verwerk of druk van die werk het en jy word skielik ‘n teiken om hul frustrasies van ontslae te raak. En so begin ‘n sneeubal-effek van dinge wat liewer nooit gesê moes word nie.  Die redes vir jou breek gaan nie verander nie maak nie saak hoeveel keer jy probeer in kontak bly nie.
Sê nee vir Rebounds
Die grootste rede van my kortstondige verhouding was juis om hierdie rede. Alhoewel hy in die begin my verseker het dat ek nie ‘n rebound was nie was dit tog die geval en het hy dit aan ander partye erken. Een van die laaste dinge wat jy nodig het na afloop van 'n langtermyn verhouding is 'n rebound verhouding. Hulle eindig amper altyd sleg, en jy voel selfs meer skuldig en gefrustreerd as wat jy andersins sou gewees het. As die een wat aan die ontvang kant staan voel jy vernedered en probeer dit uitrek. Daardie uitrek-proses veroorsaak juis meer skade hoe langer jy bly as wat jy net sou wegstap sodra jy dit agtergekom het.
Nog erger as jy die een is wat eers besef dat dit 'n rebound is na die tyd, en dan met die uitdaging sit soos hoe om van die ander persoon ontslae te raak.
Rebound verhoudings vind plaas omdat ons bang is om alleen te wees of gewoond is daaraan om ‘n maat te hê. Uiteindelik is hulle dikwels ongesond en gebaseer op fisiese behoeftes eerder as 'n ware vennootskap. Jy kan vind dat die verhouding net 'n katalisator was om jou uit die ou verhouding te kry.
As jy by hierdie nuwe persoon behoort, sal jou liefde vir mekaar die toets van tyd deur staan. En as jy omgee vir hulle, sal jou toekomstige verhouding sterker wees as jy jouself tyd gee om die patrone te verstaan wat jou in die verlede onsuksesvol gemaak het.

Verbind tot tyd om alleen te wees

Ek beveel aan om 'n verbintenis aan jouself van 3 maande tot 'n 6 maande van selibaatheid te gee en uit die “dating pool” te bly.
Hieroor het ek ook al ‘n paar keer gesels en verlede week het ek ‘n paar praktiese wenke gegee om jouself mee besig te hou. Gebruik die tyd oordeelkundig:

Sorg vir die dinge wat nodig is om te doen

Die meeste van die tyd sal die wêreld nie ophou om jou te bedroef nie. Jy kan rekenings hê om te betaal of adresse wat verander moet word, 'n werk om te hou, projekte wat afgehandel moet word en kinders of diere om te sorg. Die lewe gaan ongelukkig voort en jy moet die beste daarvan maak.
As jy vakansie tyd het, gebruik dan beslis voordeel daarvan. Indien nie, fokus op die roetine as 'n manier om jou kop skoon te hou.
Maak seker dat jy gereeld stort, skeer as dit nodig is en skoon klere te dra. Dit voel dalk te veel moeite om dit te doen, maar jy sal vind dat jou emosies meer gebalanseerd met ‘n skoon lyf.

Spandeer tyd saam met jou vriende.

Dit kan help om 'n ondersteuningsstelsel of 'n vriend te hê wat verstaan wat jy deur gaan. Onthou egter dat jy nie te veel van 'n las op enige een vriend wil plaas nie.
'n Waarskuwing: As jy en jou voormalige maat gesamentlike vriende het, moet hulle nie gevra word om kant te kies nie. Om te vra of te verwag dat hulle dit doen, kan jou vriendskap met hulle vernietig. As jy iemand nodig het om na te gaan, is dit beter om 'n persoonlike vriend eerder as een wat jy saam deel, te kies.
Eer jou vryheid
Om alleen te wees, kan beide eng en bemagtigend wees.
In my eie geval het ek my gewese man op die ouderdom van agtien ontmoet en van my ouerhuis verhuis na ons woonstel. Ek het nooit die kans gehad om alleen te wees nie. Vir oorlewing redes moes ek weer terug trek na my ouerhuis tot ek weer op my voete kon kom. Daar was altyd mense om my. Vir ‘n kortstondige tyd het ek dit wel gesmaak. Dit was wonderlik. Ek het niemand gehad om te antwoord nie. Dit was net ek en al hierdie tyd op hande. Dit is 'n waardevolle ondervinding dat, indien moontlik, niemand moet misloop nie. Jou selfrespek styg omdat jy vir jouself kan sorg.
Eer jou verhouding met jouself
As jy alleen is, is dit maklik om te eindig met aandete oor die wasbak, of voor die yskas staan en knibbel uit die bakke of terwyl jy TV kyk.
Neem ten minste een aand 'n week om 'n spesiale aand vir jouself te hê. Maak jouself 'n tuisgemaakte maaltyd. As jy nie kook nie, kry 'n goeie bord kos by een van die ketting winkels en dek jou tafel, wyn ingesluit.
Stort en trek iets aan wat jy wil dra as jy uitgaan. Verdof die ligte of vervang dit met kerse. As jy kan, koop vir jouself blomme. Indien jy ‘n TV het, skakel dit af en sit mooi musiek op.
Geniet jou tyd saam met jouself en besef dat jy belangrik genoeg is om alles op jou eie te geniet.
Doen iets wat jy nog altyd wou doen.
Neem dans- of karate lesse. Pak daai rugsak en toer deur Europa. Leer om te duik. Volg enige droom op. Nou is dit die tyd daarvoor.
Assesseer jou foute
Selfs as jy voel dat jou ex verantwoordelik was vir die opbreek, moet jy besef dat jy waarskynlik ook foute gemaak het. Jy is net mens. Moenie dink dat jy 'n verskriklike persoon was nie. Die doel hier is nie om jouself te straf nie. Dit is nie nuttig nie en lei nie tot groei nie.
Kyk eerder na jou foute met 'n objektiewe oog en vra dinge soos:
o    "Hoe kon ek anders in spesifieke situasies gereageer het?"
o    "Watter patrone skep ek keer op keer in my lewe?"
o    "Hoe kommunikeer ek?" "Hoe sal ek graag wil kommunikeer?" Lees op daaroor sodat jy beter ingelig is.
o    "Wat is die klagtes wat jou gewese maat gehad het? Is daar enige geldigheid? Indien wel, wat kan ek doen om 'n verandering te doen?"
Kyk na Jou triggers. Bv: Hoekom word jy vinnig kwaad? Hoekom is jy jaloers? Wat veroorsaak jou onsekerhede?
Dit is amper onmoontlik om in volwassenheid te groei sonder om te kyk na die snellers. Dit is dinge wat outomatiese reaksies veroorsaak wat nie in lyn is met die manier waarop jy wil optree nie, veral tydens tye van konflik of stres.
Byvoorbeeld, as een van jou ouers gegil het, het jy dalk 'n besondere reaksie ontwikkel om te skree en te argumenteer. Miskien het jy in jou kamer weggekruip, of uit die huis gehardloop.
Die kans is goed dat, tensy jy jouself 'n nuwe hanteringsmeganisme geleer het, jy op dieselfde manier gereageer het as jou ouers in jou verhouding.
Wat het jy reg gedoen in die verhouding?
Selfs in 'n verhouding wat nie uitgewerk het nie, het jy ook die regte goed gedoen. Terwyl jy die foute wat jy gemaak het, oorweeg, let op die maniere waarop jou verhouding gesond was en hoe jy daaraan bygedra het.
Dit is patrone wat jy wil hou, dus, dit is nuttig om te onthou wat hulle is sodat jy dit in enige nuwe verhouding kan herhaal. Dit sal jou help om rustig met jouself te wees.
Oorweeg wat jy geleer het
Elke verhouding was ‘n leerskool waar jy belangrike dinge oor jouself geleer het. In my gewese huwelik wou ek weer die vryheid van onafhanklikheid he en skielik het die wye pad gewink. Nuwe geleenthede het my soos magnete aangetrek en ek was onverskrokke. Die oomblik toe ek alleen is het dit my aangemoedig om op my eie beroep te fokus. Ek het ook geleer om op te staan vir myself. Om verskille op 'n gesonder manier te hanteer. Om my drome te volg. Om myself te waardeer vir wie ek is, foute en al. Wanneer jy hierdie vrae beantwoord neem jy beter besluite oor verhoudings en jou verwagtings is gedefinieer. Dit word bakens in jou lewenspad wat jou lei en beskerm.
Watter lesse het jy uit jou verhouding en die opbreking geleer?
Hoe is jy 'n beter of sterker persoon om alleen te wees?
As jy en jou eks kinders het:
As jy en jou eks minderjarige kinders het, kan die 2-3 maande geen-kontakreël uitdagend wees. Jy mag dalk 'n vriendin of familielid betrek wat reëlings tref namens jou soos die kinders se gesondheid en skoolwerk wat nie kan wag nie. Maak in hierdie geval seker dat hulle jou eks per epos laat weet dat dit tydelik is totdat die twee van julle 'n kans kry om 'n asemhalingsruimte van mekaar te kry. Die ongelukkige feit van egskeidings wat kinders betref, is dat jy uiteindelik moet leer om met mekaar te kommunikeer, maar dit is nog nie die tyd om dit te doen tensy iets lewensbedreigend kom nie. Ek kan ook hierby voeg: Indien daar alreeds iemand anders in die prentjie is moet daardie persoon leer om terug te staan en nie regte toe te eien wat nie aan hom/haar gegee is nie.
Moenie jou gewese maat sleg maak voor die Kinders nie.
Maak nie saak hoe verleidelik dit mag wees nie, moenie dit doen nie. Dit is ook 'n kwesbare tyd vir jou kinders. Hulle sal waarskynlik kwaad en verward wees. “Badmouthing” jou eks sal net dien om jou kinders te vervreem, hulle seer te maak en verder te verwar.
Die redes vir jou egskeiding is 'n volwasse aangeleentheid wat tussen julle moet wees. In elk geval, vind 'n ander volwassene om stoom af te blaas en te vent wanneer jy wil.
Indien moontlik, maak 'n ooreenkoms met jou eks om die kinders uit die situasie te hou. Stem saam dat julle nie weer in die kinders se teenwoordigheid teen mekaar sal praat nie.
Die enigste geval waarin jy jou kinders in enige nasleep van jou egskeiding of verbreking moet betrek, is wanneer hulle self slagoffers van fisieke geweld of mishandeling was, getuies van jou eie misbruik of getuies was / betrokke by verslawing. In daardie geval, kry vir jou kinders hulp.
o    Laat jou kinders weet dat jy hulle liefhet.o    Laat hulle verstaan dat julle albei nog lief is vir hulle.o    Laat hulle weet dat die opbreek nie hul skuld is nie.o    Beantwoord hul vrae volgens hul verstaan vlak.

Steek die vure aan
As jy gereed is, kry jouself 'n metaal vullisblik of ander veilige houer vir vuur, soos 'n rooster.
Sorteer deur die items wat jy uit jou verhouding het. Dinge soos liefdesbriewe, afskrifte van e-posse, klein geskenke wat jou voormalige vennoot jou gegee het, kaartjiestompies van flieks of ander aandenkings. Dinge wat persoonlike betekenis het. Jy kan ook dinge soos 'n spesiale kledingstuk insluit wat 'n sterk herinnering aan jou verhouding is. Moenie enige items insluit wat die persoonlike eiendom van jou eks is nie.
Moenie enige items wat jy besit, insluit nie, later kan jy spyt wees daaroor of indien dit waarde het dit verkoop het. 'n Opgebreekte verhouding beteken immers dikwels dat jy jou finansiële posisie moet aanpas. Dit is soms beter om eerder dit op OLX of Gumtree te verkoop of na 'n pandjieswinkel te gaan, doen dit eerder.
Wees sensitief vir ouer kinders, die verbranding van items soos trou fotos, jou trourok en so meer sal dalk ‘n probleem veroorsaak. Gee hulle die keuse juis omdat dit deel is van hulle geskiedenis. Jou seer is hulle anker.
Wraak gedagtes / vergelding.
Baie keer word daar aan wraak gedink veral in gevalle waar die persoon jou verkul het. Onthou:
o    As jou verhouding volkome was, sou jou eggenoot jou nie verkul het nie. Dit is jou eie uitdaging sowel as hulle s'n. (Ek weet daar is gevalle dat die vrou / man die elke ding reg doen en nogsteeds sal die persoon fout vind, moet jouself asb nie hieronder sien nie.)o    Die persoon met wie jou eggenoot jou bedrieg het, is nie verantwoordelik vir die mislukte toestand van jou verhouding nie, al was hulle daarvan bewus dat jou voormalige eggenoot of lewensmaat getroud is.o    Maak nie saak wat jou eks se foute mag wees nie, jy sal geoordeel word deur jou aksies. Tree op soos 'n volwassene en jy sal soos een behandel word.

Genesing na 'n breek kan uitdagend wees, maar onthou dat jy dit kan kry. Hou jou oog op die prys - word 'n heel en gelukkige persoon. Ek verseker jou dat jy eendag wakker sal word en dat jou opbreek nie die eerste ding in jou gedagtes sal wees nie. Fokus daarop om met jouself vriendelik te wees. ‘n Blymoedige hart bring genesing vir jou liggaam, siel en gees. Skitter net waar jy is en besef jou waarde.
Tot ‘n volgende keer.



ELAN GLOBAL RADIO
Die Stasie Vir Passievolle Mense

Lynelle Engelbrecht Clark: Diamant Diva's

WOENSDAG 18 JULIE 2018 at 10h00 SA Time

GESELS MET ONS:

Faceboek: Elan Global Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580

Gaan kuier en leer meer van ons, blogg saam en luister saam:

SKAKEL IN: 
SIMPLE RADIO App.

…/elan-global-radio.htm

Dinsdag 17 Julie 2018

Program 3 Ontnugtering van 'n opbreek

In die laaste twee programme het ek met julle gesels oor Alleenheid en ontnugtering, twee groot hindernisse waarmee enkellopende mense sukkel. Daarmee saam wil ek ook net herhaal dat ek nie ‘n berader is nie. Maar dat jy my gerus kan kontak as jy meer vrae het. Indien ek nie antwoorde het nie kan ek jou verwys na ‘n berader of jy kan Riekie Knoetze, ‘n pastorale berader hier by Elan Global Radio kontak. 

Alleenheid, waarmee die meeste enkellopendes sukkel, klop dadelik aan jou deur. Vernaam Vrydaeaande, wanneer families bymekaar kom, gaan jy alleen huis toe en al wat vir jou voorlê is die koue huis en TV. Dit is dan wat depressie jou heeltemal oorval en sommiges selfs selfmoord oorweeg. Dit is ook die tyd wanneer baie enkellopende vroue, net om met iemand te gesels, die verkeerde persoon kontak en so ontwikkel nog groter probleme waarvoor sy nie gereed is nie. 

Ontnugtering is die tweede grootste struikelblok. Jou oogklappe word vinnig afgeruk en jy moet die drade optel op die beste manier vir jou omstandighede. Geen twee sake is die selfde nie en elke persoon hanteer dit verskillend. Ons kan dit nie in ‘n boks sit en dink die resep werk vir almal nie.

Gedurende hierdie tye besef jy hoe belangrik is ‘n ondersteunings groep en dan jy steun nogal baie op hulle. Die meeste van ons is gelukkig as ons een het, die meeste – agv jou verwysings raamwerk – staan alleen. Ons elkeen se pad tot hier was anders, party is deur baie finansiële swaartye, ander moet ontrouheid verwerk of minderwaardigheid omdat hulle vir solank gedwing was om te glo hulle is sleg. Die emosionele en fisies afbreking van ‘n vrou vat jare om te herstel. En hulle is juis die vatbaarste vir enige manupileering. My raad sou wees om dit stap vir stap te vat, gesond te word. voordat daar enige iets anders oorweeg word. Ek sou ook aanbeveel om weg te bly van enige sosiale blaaie totdat jy genoegsame selfvertroue opgebou het om die wêreld weer in die gesig te kyk.

As vrou is ons gewoonte doeners wat weet wat van ons verwag word. Dit kom outomaties, ingeprent deur jare se herhaling wat tydens popspeel begin. In ruil daarvoor soek ons stabiliteit en aanvaarding toegegooi in ‘n kombers van liefde.

Ons is eintlik baie maklik om te vrede te stel wanneer die bogenoemde dinge in plek is maar wanneer ons onseker is van enige iets rakende ons maat dan verander dit ons in die spreekwoordelike druppende kraan, koue yskaste en negatiewe wesens, tevrede met niks. Mans is dan onhandig en heeltemal uit hul gemaksone en het geen benul hoe om die vroulike geslag te hanteer nie. Hulle verskoon dan hulself met verskonings soos ek verstaan nie hoe haar kop werk nie. Of sy is koud en wil net kerk praat die heeltyd. Daarom kan ek die dinge doen wat ek doen.

Van kleins af word vrouens gevorm om kinders groot te maak, te kook,
wasgoed op die regte manier te doen, ons huise perfek skoon te hou. Ons is binneversierders, stokperdjiekundiges, taak navorsers van formaat. Ons word huurmotorbestuurders vir die kinders wat hul oral vat na buitemuurseaktiewieteite, ons is baas baksters, ons kan kerkbasaars reël en kinders die regte leiding gee in elke area, selfs tuiniers en in baie gevalle ‘n handy man. Met ‘n wye belangstelling in die dinge om ons.
Maar oo wee as jy aan die rekenaar wil raak of iets wil leer bloot net om jou kennis te vermeerder en jouself te verryk, dan is jy dom verby. Glo my, dit is nie net ‘n outydse konsep nie, dit gebeur nog, net meer subtiel. Selfs vrouens sal neerhalend wees as jou algemene kennis groter is as hulle sin. Dit is ‘n lelike sirkel wat jou kan maak of breek.

Vir groot meerderheid van vrouens is werk buite die huis net ‘n droom en die vaalheid van jou bestaan strek voor jou uit. Maar dan verander dinge. Omdat die man jou nie kan verstaan nie of wat ookal die rede is wat hy aanvoer, beland jy skielik buite hierdie veilige kokon van aanvaarbare status. Vir sommige is dit ‘n skok wat eers verwerk moet word. Maar wanneer dit verby is staar die werklikheid jou in die oë. Die vissie se bak het gebars en die wêreld is vreemd en geweldig groot. Nou sien jy dit met nuwe oë raak. Jy is vreesbevange, skrikkerig en heeltemal verdwaald.

Jy is alleen met geen steunpillaar wat jou kan help nie. Skielik is die bekende wêreld onbekend en jy voel baie klein, en jy wonder waar pas jy in? Daar is niemand met wie jy kan gesels of raad vra nie. Jou ewewig is versteur sodat dit voel of jy verdrink.

Jy het ook al hierdie stemme om jou en jy voel ongebalanseerd, beangst probeer jy om jou balans te vind tussen die mengelmoes van stemme, verantwoordelikhede en vrouwees.

Vir die meeste jonger vrouens, wat tans deur so iets gaan, is dit tog in ‘n groter mate makliker. Ons huidige, duur lewe veroorsaak dat al hoe meer vrouens die werksmark betree, hulle studies gee hulle alreeds ‘n voet in die deur en hulle loopbaan is suksesvol en dan is baie van hierdie struikelblokke irrelevant. Die meeste van die jonger vrouens het heel moontlik ‘n kar, kan ‘n blyplek bekostig (miskien nie waaraan hulle gewoond was nie maar het nogsteeds ‘n dak oor hul kop) Skeiwette help ook in daardie area en vroue is net meer bekend met die dag tot dag sake. Anders as ons vrouens van 50 en ouer.

Maar in ‘n groot mate is baie van die verskonings van jonger mans nog dieselfde. “Sy verstaan my nie. Of sy is koud en stel nie belang nie daarom soek ek groener weivelde.” Of baie jonger mans is bloot net lui om te werk. Wat ookal die rede is wat aanleiding gee tot die skeiding is die ontnugtering en aanpassing ewe swaar met verrykende gevolge. Jonk en oud.

Na 30 jaar van my eie huishouding behartig was ek weer terug in my ouer huis. Niks berei jou voor vir al die veranderinge nie en jy skuifel voetjie vir voetjie vorentoe in die hoop dat iets iewers sin sal maak en dat deurbraak net agter die volgende deur is. In my geval was ek die een wat weggestap het en het myself voorberei vir die tekortkominge waarmee ek sou moes klaar kom. Maar die ontnugtering los jou tog steeds in ‘n maalkolk wat jou balans heeltemal omvergooi en jou met ander oë na die wêreld te kyk.

Dit is ‘n nimmereindigende pad van lesse wat skaaf in elke area. Almal wil help maar op hulle terme. Hulle wil jou slyp na hul prentjie. Hoe jy optree, met wie jy praat, hoe jy praat, elke aksie wat jy maak het nagevolge en jy wonder soms of jy op 50 dan nie met mense kan kommunikeer nie? Is jy rerig so sleg soos mense jou dan beskuldig? As eiendomsagent is ek al rondgeslinger tussen menslike opinies wat my verward agtergelaat het. Van: jy is te reguit tot moenie dankie se wanneer jy samewerking van ‘n klient kry nie. Of jy baklei nie hard nie genoeg nie daarom verdien jy nie die listing nie. Dit is ‘n harde wêreld wat jou goed kan laat twyfel en jou in die duister laat met geen lig in die tonnel nie. Hoe meer jy sug na onafhanklikheid hoe meer sukkel jy om vry te kom van die tentakels van vrees wat jou wil aftrek. Of jy in ‘n staat van afhanklikheid wil hou met geen grasie nie.

Die velle ontnugtering hiervan laat jou terug trek.

Elkeen van ons hanteer sulke situasies anders. Alles dien as verdedigings meganisme – ‘n manier om jouself te beskerm teen mense wat jou “vyandig gesind” is.

‘n Mens sou dink op hierdie ouderdom sal jy teleurstelling beter kan hanteer, wat nie die geval is nie. Die grootste les wat jy kan leer is om jou lewe privaat te hou. Met groter onderskeiding jou pad te stap en te doen wat binne jou vermoë is, die res is uit jou hande.  

Die vraag “Wie is ek?” kom dan weer onwillekeurig op. Die titels het in ‘n groot mate verander. Maar die struikelblokke is nog daar. Hierdie struikelblokke hou aan om jou te slyp en skaaf.



Verdere struikelblokke wat ook op jou pad kom is:

    1.    Verwerping: ‘n Ruk gelede het ek ‘n motiveringsboek gelees. Ek ontvang heelwat boeke van aspirant skrywers vir ‘n Resensie en kry soms met die mees interresantse mense te doen. Tal Gur, ‘n Israeliese jongman wat in Australie bly, se lewe is dinamies en tree hy as motiverings spreker op deur net sy eie raad te leef. Die man kry dit baie goed reg om jou op te bou op ‘n baie praktiese manier. En ek kon werklik aanklank vind met dit wat hy met my gedeel het. Dit is wat hy skryf oor die onderwerp:
a.     “There are many factors that constitute a successful journey. But perhaps the biggest secret of success is one’s mental toughness. Eventually, we all reach a threshold, the point at which we just can’t go any further. This is where our ability to withstand discomfort becomes vital.” TAL GUR. The Art of Fully Living. Omdat hy besig was om voor te berei vir ‘n fiets toernooi het hy verstaan hoe belangrik dit is om verby die fisiese pyn te kom om ‘n wen te kan verseker.
b.    Net so is dit van toepassing vir onsself. Ons moet ons self druk om verby die ongemak te kom van persoonlike verwerping om so te kan seëvier te midde van die probleme. Verwerping is net ‘n vorm van pyn wat ons kan terughou in ons groei en dit is so maklik om verswelg te word daarin. Ons moet ons denke vernuwe sodat ons sterk kan staan en paraat wees vir die pad vorentoe.


    2.    ‘n Negatiewe gesindheid kan soos ‘n gewig word wat jou af trek. Dit is beslis ‘n struikelblok met geen positiewe uitkoms nie. Depressie is een van die grootste dinge waarmee mense sukkel en hulp is die meeste kere ‘n goeie ding. Moenie dan probeer om dinge alleen te verwerk nie. Praat eerder met iemand. ‘n Positiewe gewaarwording maak jou sterker. Dit verander jou gemoedstemming en jy sien als deur ander brille. Wanneer dit gebeur is jou gesindheid ook verskillend van die normale. Geen deprisant kan ‘n negatiewe in ‘n positiewe verander nie. Ek verstaan dat daar wel mense is wat onder dokter toesig dit wel gebruik maar indien jy dit nie nodig het nie bly weg daarvan. Krukke op die ou einde maak jou afhanklik en jy leer nie om op jou eie voete te staan nie.
    3.    Die lewe self kan ‘n struikelblok wees. Daar is baie eerstes wat jy gaan beleef wat nogal intimiderend kan wees. Aanvaar die dinge en maak dit die beste. Kry goeie raad, as jou pa nog leef, vra hom veral as dit by kar of praktiese probleme kom. Daar is heelwat slaggate om voor op te pas in hierdie tyd. Mense wat kringe om jou sal loop omdat hulle weet jy is naïve en desperaat. Daar is mense wat gewetenloos is deur geld uit jou te maak. Jou finansiële tekorte beindruk hulle nie, nog minder jou storie en hulle sal elke sent van jou vat sonder om jammer te voel. Want dit gaan oor hulle en wat hulle kan kry. Bedrieër bladsye op Facebook is een van die grootste probleme wat enige persoon sal jag veral enkellopende vroue. Wees bedag op die kulkunstenaars. Hulle rympies is almal dieselfde.
Dit is ‘n kwessie van copy paste en verder voel hulle niks vir jou nie. Jy kan hulle maklik uitken: Die meeste is sogenaamde “wewenaars” wat in “Kaapstad” bly. Onveranderd in hul storie, probeer hulle jou oortuig dat hulle die ware Jakob is. Hulle sal jou byvoorbeeld oortuig dat hulle op ‘n skip is en fondse nodig het vir ‘n siek kind. En dan moet jy help met geld en beloof plegtig hulle sal jou terug betaal. ‘n Ander profiel wat hulle graag gebruik is die profiele van Amerikaanse soldate. Elkeen het ‘n storie, van ‘n pakkie wat jy op die lughawe moet optel, tot geld wat jy moet oorbetaal.
En die eintlike kriminele, wat daar agter sit, is sindikate wat meerendeels in Nigirie gebaseer is.

Daar is ook sommige SA mans wat skaamteloos in wat hulle soek en sal voorgee hulle het vir jou werk. Baie van hulle het ook alter ego blaaie om hul ding te doen, weg van die vrou en kinders se oë. Hul intensies is nie eerlik nie. Heuning word kwistig om die mond gesmeer en sal sê net wat jy wil hoor. Meeste van die blaaie is splinternuut of het net pornografiese plasings daarop. Indien dit jou nie pla nie gaan voort en gesels maar wees op en wakker en moenie foto daarop plaas wat hulle teen jou kan gebruik nie. FB is ‘n sosiale blad en die goed kan soos ‘n veldbrand versprei so waak daarteen. Hul blaaie het ook geen persoonlike inligting nie. As jy vra hoekom is hulle nie bevriend met hul familie of kinders nie dan het hulle slim stories en so word die lys van leuns net langer. Wees bedag hierop want jy is ‘n teiken.

Ons onskuld lei ons gewoonlik aan die neus en dit is dan wat ons straat wys moet wees. Gewoonlik teen ‘n vinnige pas want die lewe is onvoorspelbaar. Niks kan jou voorberei teen die lewe daar buite nie maar as jy bedag is en bereid is om te leer kan jy redelik skotvry deur dit gaan sonder te veel skade. Moenie dat jou alleenheid jou desperaat maak en jy dom besluite neem nie. Staan eerder terug en vat die pad stadig. Daar is geen haas nie. Word gesond eers. Die regte maat sal kom op die regte tyd. Werk aan jouself en skitter net daar waar jy is.

Tot volgende Woensdag, selfde tyd, selfde plek. 


Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...