As geskeide vrou leer jy vinnig wat beteken die terme: Die
ander vrou. Dit is nie iets waarvoor jy beplan nie maar is onvermydelik wanneer
jy weer betrokke raak met ‘n man. Julle kan hoe diep in mekaar se oë
kyk en op elke vlak mekaar aanvul maar sy is die een wat hom die beste geken
het en nogsteeds ‘n rol speel. Soms dink ek dit is juis nodig dat die twee
bymekaar uit moet kom en gesels wat positiewe resultate kan lewer. Selfs
hartseer kan voorkom. Maar dan kan dit ook ‘n fiasko wees en julle twee is soos
olie en vuur en die vonke spat. So, skrap die gedagte. Want dit werk nie. Ek
weet.
Die ander vrou is skielik iemand, met ‘n naam. Alhoewel jy
haar nog nooit ontmoet het nie, is sy ‘n permanente deel van jou lewe. As
nuweling word jy vergelyk, beoordeel en bespreek deur vriende en familie. Ongeag
hoe hard jy probeer jy kan haar nie ignoreer nie. Deels omdat sy gedurigdeur
opkom in gesprekke veral as julle in dieselfde kringe beweeg of indien daar
kinders betrokke is.
Met sosiale media is dit selfs makliker om van die ander
vrou te wete te kom en op haar te volg aka spioeneer. Wie het dit nie al gedoen
nie? Ons gebruik verskeie redes om onsself te regverdige maar feit bly ons wil
meer weet oor die vrou wat die man in jou lewe gedeel het of deel. Dit hang af
aan watter kant jy staan.
Ek onthou in my eerste huwelik het ons verhouding ook maar
pas begin en het ons saam na ‘n kerkkamp gegaan. Die Sondagoggend moes hy gou
‘n draai loop en sê ek moet solank gaan sit. By ons sitplek het sy Bybel op
die vloer gelê waar ek dit op getel het. Daar, voor my voete val toe ‘n foto
uit van sy vorige meisie. ‘n Duisend vrae het deur my gegaan in ‘n bestek van
sekondes. Agterna het hy my verseker dat die verhouding verby is. Ek het hom
geglo. Ons is getroud. Met verloop van tyd het sy elke keer, op die mees
onverwagse oomblikke, na vore gekom. Jy sien, sy familie kon haar nie vergeet
nie, en het by tye ook kontak met haar gehad. Elke keer het hy my verseker dat
sy iets van die verlede is. Maar sy het bly opduik wat wel sy stremming geplaas
het. Toe ons huwelik op die rotse loop was sy skielik weer terug. Sommer netso,
na 30 jaar van geen kommunikasie. (Ek wil ook nou nie enige wyshede hoor nie…
Los dit daar.)
Toe jy vir die eerste keer getroud is was die ander vrou die
skoonma en ‘n baie mooi verhouding ontstaan tussen julle twee. Vir my het dit
tien jaar gevat om ‘n goeie verhouding op te bou met haar. Ons het beslis ons
verskille gehad aan die begin maar selfs dit het minder geword en het ons
mekaar aanvaar. Vir ander is die
verhouding pynigende en vind dit so ondraaglik dat hulle sal wegstap bloot net
vir die vrede. Luister net na al die skoonma grappe wat sirkuleer en jy sal
weet wat ek bedoel. Eintlik is dit baie ernstig en kan ‘n huwelik maak of
breek.
Ek het al verskeie boeke gelees, films gekyk en na vrouens
geluister waar die ander vrou eintlik ‘n
groot rol speel, besluite en hantering
van die nuutgevonde verhouding. Dit is natuurlik nie iets wat ons sal erken nie
maar dit gebeur onbewustelik. Soos ek, wat onlangs my haarstyl verander het toe
ek agter gekom het ek en die ander vrou se styl is dieselfde. Jip, het haar
opgespoor op die sosiale netwerk. Eintlik so onnodig maar dit werk tog
sielkundige op jou in. Moenie lag nie… ek is ook net mens.
Ek glo altyd dat ‘n saak twee kante het, elkeen se weergawe
kan verskil van die ander. Ek hou daarvan om eerder ‘n ingeligte besluit te
neem as om toe oë in iets te stap. Het mos gesê ons elkeen regverdig die
spioenasie ding op die Internet. Met my vorige verhouding het die man my alles
van homself vertel, sy eie tekortkominge erken en my oortuig dat hy gereed was vir
‘n nuwe blaadjie. Hy het my selfs gevra of ek hom sal help en soos ‘n dapper
vrou het ek die stryd betree. Maar daar was verskeie kere wat ek gewonder het
wat maak hy, met wie praat hy, en waar is hy? Die saadjie van twyfel was
geplant, vernaam hoe meer ek te wete gekom het. Dan het ek gaan ondersoek instel
oor die ander vrouens en probeer om alles op te lees wat ek kon. Met hom was
dit eintlik maklik want Google het heelwat inligting oor hom gehad.
Wanneer jy na haar
kyk dan wonder jy hoeveel van hierdie man se kwessies moes sy verdra bloot vir
die vrede in die huis. Hoekom het sy koud geword? Hoekom het sy weggestap? Wat
het haar gedryf om te vra vir ‘n egskeiding? Honderde vrae wat jou laat peins
oor die wysheid van die verhouding. Moet jy die kans waag?
Ons wil so maklik glo dat ons lewensmaat die regte ou is vir
ons. Jy is bereid om sy foute te oorsien, saam met hom te groei en ruimte te
maak vir mekaar maar die ander vrou is altyd in die agtergrond.
“Ek wil eerder by jou bly maar nou moet ek haar gaan help.”
Moes ek ‘n paar keer hoor in ‘n vorige verhouding. Dan staan jy terug, oortuig
hom dat dit reg is om haar te help. Por hom aan om te gaan. Jy wil tog nie as die feeks bekend staan nie. Nie
dat sy bewus was van my nie – dit het ek ook geweet.
Die ander vrou in my gewese man se lewe het my vinnig laat
verstaan dat ek my plek moet ken. So lyk my daar is tog vrouens wat nie ‘n
probleem het om te baklei nie. Daar is niks fout daarmee nie en miskien is ek
maar net te sag… Hoe ook al sy, elke houding het ‘n reaksie en ek wou net
wegkom van als af. So dit het my nie gepla nie.
Op een stadium was ek beskou as die perfekte vrou maar die
eise van die egskeiding asook die toenemende finansiële druk gevul met
onsekerhede het die verhouding laat skipbreuk ly.
In sommige verhoudings veroorsaak die kinders dat hulle nog
moet kommunikeer. Sy kan die kinders gebruik om hom te manupileer om haar sin
te kry en as pa is hy in twee geskeur. Jy, as die ander vrou staan dan eerder
terug, omdat jy glo dat dit die beste is. Of is dit net ek wat so opgetree het?
In baie gevalle is daardie vrou ‘n spookagtige figuur in jou
huishouding. In my verhouding met my verloofde is ek baie dankbaar byvoorbeeld dat
niks van die ander vrou saam gekom het nie. Ek weet nie of ek gemaklik sou
gewees het om haar geliefde bak uit te haal en iets daarin voor te berei nie. Of
om haar tafeldoek te gebruik om vir my kinders te dek nie. Dit is klein
goedjies – en sommige sal sê dit is aardse goed – maar aan dit
kleef tog ‘n nostalgiese gewaarwording wat jy nie kan ontken nie. Ongeag hoe
hard jy probeer om dit te vermy. Ek dink baie keer aan die goed wat ek
agtergelaat het, en hoe sy voel daaroor. Kan sy dit regtig met vrymoedigheid
gebruik? Of bly sy ook maar stil, verdra dit en stap aan?
Die ander vrou is onlosmaaklik deel van jou lewe. Dit is
iets waarmee elke vrou saam leef en na die beste van haar vermoë moet verwerk. Ons
vrouens is mos goed daarmee. Om te verdra en aan te stap sonder om ‘n groot
bohaai daarvan te maak. Jy steek dit net diep weg want jy wil tog nie hê
mense moet dink jy is jaloers of gun haar nie iets nie. Jy leer om nie te
reageer op die subtiele maniere van domineer of manupileer nie. Jy wil eerder
glo jy is beter as dit. In die proses leer jy jouself vind en bou jy ‘n nuwe
lewe saam met jou nuwe liefde as om te top oor haar.
Ek glo dit is ‘n onderwerp waaroor baie gepraat sal word.
Maar is juis ook een van die onderwerpe wat min gepraat word. Ons is net nie
altyd bereid om eerlik met onsself te wees nie.
Die ander vrou is hier om te bly – met of sonder jou
toestemming. ‘n Wese, nes jy wat net die beste vir jou maat wil hê
en sal baklei vir haar eie plekkie in die son. Hoe elkeen dit hanteer hang van
ons af.
Kopiereg@LynelleClark2018
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking