Vrydag 29 April 2022

Kort grepe uit my Lewe #7


Wat vooraf gebeur het:

Deel 1 en 2

Deel 3 en 4

Deel 5 en 6


Deel 7

Nabetragting

Elke vrou is soos die van ‘n Michelangelo beeld. Elke kurwe vasgevang in meesterlike kleurharmonie wat haar ten toon stel as ‘n sagte liefdevolle mens.

Elke keer wat sy vergelyk word met ander se siening van ‘n Michelangelo word ‘n stukkie van haar weg gebeitel. Later bly net klompe of krake oor.

Na dertig jaar van verdra en ingee was daar niks oor nie. Daardie een woord was ‘n dawerende kraak wat die begin van die einde aangekondig het. Veertien jaar na daardie vernietighende hou was dit oor.

Maak nie saak hoe oop kop jy probeer wees nie, pornografie breek alle mooi af. Dit verwoes nie net die huwelik nie maar ook die vrou.

Al hoe meer vrouens wend hulle na hulpmiddels in die hoop om weer die krake te vul. Die sug na “wie is ek” ‘n uitroep vir hulp.

Drank en promiskuïteit het nie vir my gewerk nie.

Die enigste plek waar my stukke weer aanmekaar gesit kon word is by God.

Toe ek terug draai na Hom toe, het Hy my krake ingevul met Sy genesende krag, en word ek gepoets in Sy geregtigheid en heerlikheid. In Sy oë is ek mooi en dit is vir my genoeg.

©Lynelle Clark

 

Sondag 24 April 2022

Kort Grepe uit my Lewe #5 en 6


Wat vooraf gebeur het:

Deel 1 en 2

Deel 3 en 4

Deel 5

“Julle sal reg kom vir ‘n rukkie? Ek wil net gou iets doen.”

“Ek is lus vir roomys.” Skimp my seun.

“Jy weet daar is nie.” Ek gee hom ‘n vuil kyk en hy laat sak sy koppie oor die wiskunde boek.

By die rekenaar stop ek. Ek weet nog nie hoe die elektroniese ding werk nie maar goed word weggesteek en ek wil weet wat.

Die toring lyk intimiderend maar ek druk die knop versigtig. Die skerm flikker aan en ek gaan sit.  

Ek maak soos wat ek Henry sien doen het en kliek op een simbool. ‘n Klomp dokumentasie maak oop. Verbouereerd gly ek die muis rond maar niks gebeur nie.

Onderaan die skerm sien ek ‘n simbool wat baie soos ‘n disk lyk en kliek op dit. ‘n Ander venster maak oop en ek staar geskok daarna. Blonde hare verberg ‘n groot gedeelte van haar gesig. Haar rooi mond in ekstase terwyl ‘n gilletjie van genot oor haar lippe borrel.

‘n Kardeur slaan toe en ek kyk na die deur. Dan druk ek die knop weer en die skerm gaan dood.

“Lynelle waar is jy?” hoor ek sy stem en ek staan woedend op.  Vandag soek ek antwoorde. Basta die werk.


 Deel 6

“Ek het goeie nuus.” Begin hy. Ek verstyf in sy arms en stoot hom weg.

“Ek vlieg oor twee weke Frankryk toe vir akkreditasie. Hannes het gebel.” Henry gaan voort sonder om agter te kom dat my oë vuur spoeg. Die galbitterheid gereed om hom tussen die oë te tref.

“Hy weet van ‘n belegger wat belangstel om in te koop. Die Here het voorsien, Lyn.” Hy plaas die dokumentasie langs die rekenaar neer, draai om en ontmoet my blik en frons.

“Ek …” begin hy maar ek stap uit. Nie in staat om twee woorde bymekaar te voeg nie.

Ons het al hieroor gesels. Het selfs vir huweliksberading gegaan. Duidelik was dit als verniet en ek … ek voel soos ‘n dwaas.  

“Lynelle …” sluit hy minute later by my en die kinders in die klaskamer aan. Ek gaan aan om Isabel se werk na te sien.

“Het jy gehoor wat ek gesê het?”

“Ja.”

“En?”

“Baie geluk.” Is al wat ek kan uitwurg.

Later toe als stil word en ek kamer toe stap sit hy daar. Duidelik jammer vir homself.

“Is jy nie bly oor wat die Here doen nie?”

“Is ek vir jou mooi?” kom my weer vraag. Stom staar hy na my en raak dan stil.

“Nee.”

©LynelleClark

Vrydag 22 April 2022

Kort Grepe uit my Lewe #3 en 4

Wat vooraf gebeur het: Deel 1 en 2


Deel 3

“Mamma, foon!”

“Ek kom.” Die kragopwekker gee ‘n ruk. Die petrol is klaar. Ek sluit die ysterhek en stoot dan die houtdeur op die snerpende koue toe en stap vinnig deur na die klaskamer.

“Wie is dit?”

“Weet nie mamma.” Antwoord my dogter en gaan voort met haar studies.  

“Lynelle wat praat.” Dit is ‘n onbekende nommer en ek frons. Teen die tyd is ons lugtig vir vreemde nommers wat gewoonlik net skuldeisers is. Niemand anders bel nie.

“Lynelle, dit is Tania. Is julle by die huis?”

“Ja, ons is.”

“Ons wil net die yskas kom haal. Ek weet ek het gesê jy kan dit gebruik totdat julle regkom maar ons het weer daaroor gedink en Piet wil dit kom haal. Ek hoop jy verstaan.”

Wat anders moet ek doen as my kop knik in stom verbasing. Die krag is in elk geval af en die yskas leeg. Die kragopwekker kan hom ook nie met genoegsame krag voer nie. Die boksie melk en bakkie margarien kan maar buite staan.

Die vorige week tydens bybelstudie het Tania die yskas aangebied nadat hulle gehoor het van die balju se besoek. Nou wil hulle dit terug hê.

Het God ‘n fout gemaak?

Het ons verkeerd geluister?


Deel 4

“Wat maak jy?” vra ek Henry ure later. Die huis is doodstil. Dit was ‘n lang dag van baie introspeksie en sielswroeginge.

Die mense is hier weg sonder om ons in die oë te kyk. Die yskas vasgemaak agter op die bakkie. Nie lank terug nie het ons saam met hulle deur ‘n krisis gebid. 

“Net besig.” Met sy rug gekeer na my is die rekenaar skerm verskuil.

“Met?” vra ek en stap nader.

“Sommer net iets,” en verander die beeld vinnig. Maar wat ek sien verstom my, dit kan nie wees nie. Ons het al hieroor gepraat.

“Iets gehoor van die offer?”

“Moet die bestuurder en direkteur by LG ontmoet môre.”

“Hoe gaan jy daar kom?”

“Phillip sal my vat.” Ek ontklee, trek my warm nagklere aan en klim tussen die koue lakens in en lê doodstil. Ons sal môreoggend weer water kook vir bad. Nou moet ek staatmaak op my liggaamshitte.

Henry het nog nie beweeg van die lessenaar nie. Die skerm so gedraai dat ek nie kan sien waarmee hy besig is nie.

“Gaan jy nie kom slaap nie?” die woorde bitter in my mond.

“Sal nou. Wil net klaar maak.” Ek draai op my sy en krul in ‘n bondeltjie. Die ‘nou’ gaan nog lank vat.

©LynelleClark

Woensdag 20 April 2022

Kort Grepe uit my Lewe #1 en 2

 

Ek het dit begin skryf tydens 'n mini-kompetisie op 'n skrywersblad. 
Die enigste voorwaarde was dit moet slegs 200 woorde bevat. 
Op daardie stadium het ek alreeds met die gedagte gespeel om my eie verhaal te skryf om oor my eie vrese en skugterheid te kom. Ek het net nie geweet hoe moes ek te werk gaan nie maar die uitdaging het my aangespoor om te begin. Nou vind ek die skrywe bevrydend. 
Waarheen dit gaan lei weet ek nog nie ... maar dit is 'n ander dag se besluit. 

 Hier volg die gebeure tussen 2000 en 2002 in kort grepe.

Skuilname is gebruik waar nodig. 



Deel 1 

“Kan jy die krag aansit? Ek sien dit is af.” Die kind gluur my aan. Venyn merkbaar in die hovaardige houding. Die gordyn sak en ek stap verslae weg. Hoekom Here?
“Pay and I will switch it on!” skree die oudste kind uit die sitkamervenster en die onmiskenbare gegiggel volg my terug na my huis. My voetval dof ploffend op die gras.

“Hoekom is die krag af ma?” vra my oudste.

“Hulle dink dit is snaaks.” Moedeloos ontkoppel ek die strykyster uit die muur en sit dit weg. Vir nou is ek klaar gestryk. Sal môre weer probeer.

“Is die tannie nie daar nie?” Ek skud my kop en verberg my skaamte terwyl ek omdraai en die plank wegsit. Ek sal wat wou gee vir koffie maar water sal moet doen.

“Het pa al iets gehoor van die werk?” vra sy weer. Weer skud ek my kop. Die swaarkry dik en bitter in my keel.

“Wat eet ons vanaand?” vra my elfjarige seun. Ek maak die kasdeur oop. Een blikkie sop staan eenkant in die leë kas.

‘n Kar wat stop voor die voordeur bring my uit my beswyming. Opgevolg deur ‘n vinnige voetval en dan die dawerende klop. “Balju! Maak oop.”

Deel 2

“Lyn, jammer om te pla. Ek wou net die vir jou kom gee.” Val buurvrou weg die oomblik toe ek die voordeur oopmaak en oorhandig drie twintig rand note aan my.

“Ek was besig om vir my kinders lekkergoed te koop toe dink ek aan jou drie. Hulle sal seker ook ietsie lekker wil geniet. Hier is ietsie klein vir elkeen. Hoe gaan dit? Enige nuus oor werk?”

“Hallo Wilma, baie dankie.” Sê ek en stoot die deur groter oop en sluit die ysterhek oop.

“Nee, Henry het nog niks gehoor nie.”

“Die lewe is swaar, en ons kan ook nie almal help nie. Maar sterkte.” Haar medelye klink hol, niksseggend.

“Wil jy inkom?” ‘n Outomatiese vraag en toe dit uit is, is ek dadelik spyt. Die ongemak is duidelik op haar gesig te bespeur, en in my stem te hoor en ek trek die deur op die kaal vertrek toe. 

“Weet jy, die kinders is alleen by die huis. Miskien ‘n volgende keer. Weet ons dink aan julle.” Maak sy verskoning, draai om en begin om weg te stap.

“Baie dankie Wilma. Totsiens.” Groet ek en staar die fyn vrou agterna. My gedagtes in ‘n warboel maar dankbaar vir die klein gebaar.  

Dankie Here. 

©LynelleClark

Vervolg: 

Deel 1 en 2

Deel 3 en 4

Deel 5 en 6

Deel 7

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...