Wys tans plasings met die etiket 'n Liefdadigheidsprojek. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket 'n Liefdadigheidsprojek. Wys alle plasings

Donderdag 24 Februarie 2022

Projek My Gebed vir 'n Boer, Boek Twee deur Ns. Skrywershuis.



In onderhoud met Nico Schamrel.

Nico, baie welkom en dankie dat jy ingestem het tot ’n onderhoud met my.

1.       As afskop vraag en omdat dit Internasionale Moedertaaldag is, wat beteken Afrikaans vir jou?

Afrikaans is my moedertaal, skryftaal en voertaal – die fondamente waarop ek gevorm is. Dit is my taal waarmee ek myself kan identifiseer. ’n Persoon sonder sy eie taal het nie meer ’n identiteit nie en om daardie rede is ek ’n kampvegter en ondersteuning vir die behoud van Afrikaans. Dit is ons elkeen se reg in ’n demokratiese land om sy taal te kan praat, daarin opgevoed en geskool te word. Afrikaans is vir my die kern van my bestaan.

2.       Jy is ’n kranige sosiale netwerk gebruiker. Wat beteken hierdie platforms vir jou? Vergas ons met ’n staaltjie van jou ondervindings.

a.       Platforms soos Facebook en Twitter is ’n maklike kommunikasieinstrument waarop mens nie net sosiaal kan kommunikeer nie, maar ook kennis kan oordra en nuwe idees kan voorstel. Sosiale media is ’n bron van inligting, mits jy dit produktief en vir die regte redes gebruik.

 

b.       My staaltjie is van ’n ander aard. Baie jare terug het ek ’n fiktiewe karakter geskep – Antie Fancie van der Merwe – burgemeester van ’n fiktiewe dorp met die naam van Holbrandfontein. Dit was vet pret! Antie Fancie het oor die 2000 bewonderaars gehad en sy het byna elke dag ’n storie vertel oor haar dorp. Die mense was gaande oor haar, maar ek moes haar vaarwel groet toe ek meer ernstig begin skryf het. Nietemin, Antie Fancie was vir baie eensame mense geselskap en het ’n lag in leke dag gesit – selfs ’n vrou uit haar depressie gehelp.

Ek glo lag is die beste medisyne wat ons Skepper vir ons gegee het – ons doen dit net te min.

3.       Jy het met Ns. Skrywershuis in 2021 begin. Wat het daartoe gelei en wat is jou ondervinding sover daarmee?

a.       Ek het net gevoel dat daar te veel skrywers is wat nie die nodige diens ontvang as wat hulle verdien nie. Te veel swak werk word gepubliseer omdat geld ’n rol speel. Die kostes om te publiseer was belaglik hoog en daar is talentvolle skrywers wat dit nie kan bekostig nie. Bemarking word veral agterweë gelaat met uitgewers, want sodra hulle die betaling ontvang, vergeet hulle van die skrywer.

Die proeflees by sommige van hierdie uitgewers is skokkend en onaanvaarbaar. Oor dit wil ek my liewers nie uitlaat nie. Ek het ongelooflik baie klagtes ontvang van ongelukkige skrywers en ontvang dit steeds gereeld – hulpkrete nadat hulle baie geld betaal het vir publikasies en swak teksversorging – selfs vertalings van boeke.

Ns. Skrywershuis is gestig om talentvolle skrywers te help, sonder om hulle duisende rande uit die sak te jaag, maar ook om die skrywer se werk doeltreffend te bemark met stylvolle advertensies en kwaliteit werk.

Ek werk nou saam met PENdit.za wat die proeflees hanteer. My ondervinding is dat skrywers goeie diens verwag, maar hulle wil ook waarde vir hul geld geniet. Hulle waardeer daardie ekstra wat mens doen. Dit is nie ’n geldmaak bedryf nie, maar ’n bedryf wat ek verskriklik geniet. Dit is só lekker om ’n tevrede en gelukkige skrywer by jou aanlyn winkel te plaas – daardie vreugde en tevredenheid is meer werd as rykdom.

4.       Hoe belangrik is boeke in jou lewe?

Boeke is soos kos – ek kan nie daar sonder nie! Boeke is soos poeding – ek kan ook nie dáár sonder nie. Daarom lyk ek soos ’n paaseier. Ek woon alleen op ’n gasteplaas. Ek sien die stad min en boeke word jou lewensmaat. Daar is nie ’n beter kameraad in die lewe as ’n boek nie (behalwe poeding).

5.       Waar kom die idee van My gebed vir ’n Boer vandaan?

Dit was in die begin van ons eerste grendeltyd – toe ons almal toegesluit was sonder sigarette, drank en Kentucky, met kaste vol toiletpapier.

Ek het net besef dat ons boere gebed nodig het. Die geweld in ons land ruk hande uit. Die boer voorsien ons van die kos op ons tafel – hulle is God se geskapenes om Sy werk op aarde te doen.

Ek het ook toe besef dat ons nie saam kan bid soos, bv. ’n biddag vir die boer nie (weens grendeltyd). Toe vra ek myself: waarom bid ons nie almal saam in ’n boek nie? So het die boek toe ontstaan.

6.       Jy is ook besig met die opvolg van die boek. Hoekom ’n opvolg?

Die behoefte vir trauma-berading onder slagoffers is geweldig groot. Slagoffers het professionele hulp nodig. Daar is baie kostes daaraan verbonde en daar moet soms lang afstande afgelê word om by slagoffers uit te kom. Dit gaan nie net oor ryk boere nie. Daar is ook kleiner boere en minderbevoorregte boere. Hulle het hulp nodig. Om met daardie behoeftes te help, is die tweede boek begin.

7.       ’n Hele paar bekendes het deelgeneem aan die boek, wat is jou ervaring met die mede skrywers van My Gebed vir ’n Boer.

Die bekendes was ongelooflik wonderlik. Net onlangs het Jak de Priester vir my ’n video gestuur waar hy gesels oor die boek, asook vriendin Anneline Kriel-Bacon. Sy is weer die ambassadeur van die nuwe boek.  

Bekendes soos Amor Vittone was uit haar vel oor die projek en Ruben (die bekende sjef) moes opnames herskeduleer om deel te kon neem. Solly Philander was besig om te bestuur toe ek hom geskakel het. Hy was so opgewonde omdat ek hom telefonies bedank – ek het gewonder of daar iets fout is? Ék is die een wat opgewonde moet wees!

8.       In jou mening, was dit suksesvol? Deel met ons ’n staaltjie wat bydra tot die boek se sukses.

a.       Ja, die eerste projek was suksesvol en die fondse was goed aangewend. Dit was nie duisende rande nie, maar dit het ’n paar gaatjies toegestop. Ek het regtig mooi briewe ontvang van bekendes, boere en boervroue wat so dankbaar is vir hierdie projek. Die belangrikheid van die hierdie projek was ook dat die moord op ons plaasboere, asook werkers, weereens blootstelling gekry het – nie net in SA nie, maar ook oorsee. Wat vir my só treffend was, was die vriendskap wat gesmee was gedurende hierdie boek. Bekendes het mekaar ondersteun en so baie het net ingespring en gehelp.

b.       Eendag, toe ’n klein seuntjie by ’n kettingwinkel aan my arm kom trek, was ek heel verbaas dat hy my erken het (sy ma het my erken en hom kortliks vertel van die projek). Hy het skaam na my gekyk. “Oom, dankie dat oom vir my pa bid ...”

Ek moes hard sluk aan die knop in my keel. Ek was werklik stomgeslaan. Sy ma het trots glimlag. Ek het na sy onskuldige gesiggie gestaar. “Nee, dankie vir wat jý doen om ook saam te bid.”

9.       Vertel ons in kort wie jy is en waar jy vandaan kom.

Ek is gebore en getoë op Uitenhage waar ek my weer bevind na vele omwentelings in my lewe. My pa is oorlede toe ek twaalf was en ek is geseënd om nog my moeder na aan my te hê. Sy is my asem en my meeste liefde, my hartklop en my grootste ondersteuner. Dit staan buite alle twyfel dat ek ma-se-kind is – ’n groot dromer wat alles in die lewe wil gee en tevrede is met álles wat ek het. Ek dank my Skepper so veel ek kan, elke dag van my lewe.

Nico, baie dankie vir die saam gesels ek het dit baie insiggewende gevind.

Vir meer inligting om saam te skryf aan MY GEBED VIR 'N BOER TWEE kan die inligting verkry word by https://nskrywershuis.co.za/gebedeboek/

 

 

Vrydag 06 Desember 2019

Spore van Genade boekbekendstelling is in Februarie 2020. Bespreek jou kaartjie nou.


Boeke is tans in S.A uitverkoop. Druk weer in volgende week. Julle kan solank jou boek bestel en betaal ten R245, posgeld uitgesluit.
Vir Namibia is daar nog net 7 boeke oor. Ek gaan kyk om hier by drukkers in Windhoek vir ons 'n paar te druk want koerier koste vanaf S.A is te duur. Namib mense kan dan ook solank bestel. Betaling kan volg as drukkers bevestig is.
Boeke is egter beskikbaar by CNA, Bargain books en Exclusive in S.A en Namibia. Kan net aanvra by die winkels dat hul boek bestel as dit nie op die rak is nie. Dan is dit ook op Kindle en Amazon beskikbaar.
Dankie vir almal se aankope, dit word opreg waardeer. 8 mense kon al gehelp geword het met die fondse wat ons in gekry het met die boek verkope.

Besoek gerus die Facebook blad en kyk ook uit vir die boekbekendstelling 8 Februarie 2020.

Mooi dag van Spore van Genade span.
❤Hope❤

Besoek ook my Gogetfunding projek. 

Dinsdag 27 Augustus 2019

Spore van genade deur 45 Woordkunstenaar



'n Liefdaddigheidsprojek 

Tolbosse het mos 'n manier om skraapmerke te los as hy jou vang. Ons paaie word gekenmerk aan die brandnetelrowe van die lewe. Maak dit saak waar ons hulle gekry het? Nee, solank ons opstaan. Jy het dit in jouself om te genees en te gee en te vertel. Jy het dit om die silwerrand om iemand anders se donker wolk te wees.

Spore van Genade is die inisiatief van die skrywer, Alta van Zyl, wat die pad van verslawing, mishandeling, armoede en vele meer eerstehands ervaar het. Haar aanskouing van die vernietiging wat dit aanrig het haar genoop om in 2005 die Hope Anointed Ministries bediening te stig wat die verspreiding van die bundel nou moontlik maak.
Ses en veertig skrywers en digters het saamgespan om geboorte aan hierdie projek te skenk. Dit  was soms ‘n opdraende pad maar met gebed en volharding in geloof, kan ons met  trots aankondig dat hierdie juweel van 306 bladsye die lig gesien het. Die fondse wat  verdien word uit  hier pragbundel sal aangewend word om nood te verlig onder ons volk wat gebuk gaan onder armoede, werkloosheid, weeskinders, verslawing, boemelaars,  mishandeling en verwaarloosde bejaardes. Die skrywes in hierdie bundel handel ook oor genoemde aspekte.
Die nood daar buite is hoog! As ons saamstaan kan ons ‘n verskil maak.
Liewe leser, baie dankie vir u ondersteuning in die aankope van die bundel. Mag die skrywes in hierdie saamgestelde bundel u hart aangryp en u seën.

Mag jou lag weerklink
trane nie jou oë laat blink
Laat jou drome vlerke kry
laat liefde in jou hart gedy

Spreuke 3 : 27
Moenie weier om te doen wat  goed is, as dit in jou hand is om dit te doen nie


Boekinligting: 
Spore van Genade
Kopieregte: Hope Anointed Ministries: Alta van Zyl (Hope)
Self-Publiseerder: Hope Anointed Ministries
Sagteband ISBN: 978-0-6399309-8-5
Gepubliseer: Augustus 2019
Projekkoördineerder: Lynelle Clark
Fotograaf: Theuns de Bruin
Ontwerp van Boekomslag: Odette Clark
Illustrasies: Elmari van Zyl (LiefieKinD)
Illustrasie: Antonette Bisset
Proefleser: Driekie Grobler
Proefleser: Anzé Bezuidenhout
Bladuitleg: Lynelle Clark
Bladsye 302

‘n Liefdadigheidsprojek.
Opgedra aan Rudolf Frank Victor

Soos elke klippie uniek is, so is ons as mens.

Luister eerder
Gee eerder
Help eerder
Bid eerder
Waardeer eerder meer!

‘n Verskil begin by jou. In jouself.
Een vuurhoutjie steek ‘n hele veld aan die brand.

Wees lig elke dag!
Want Liefde Wen.

Danielle Lotter (Dogter)

Verkoopprys R245 Posgeld uitgesluit
Verkrygbaar by elke deelnemende skrywer en digter


Oorsig

Wat is asemloos? Asemloos was ek eendag op 'n lang dag. 'n Dag sonder dat ek die son sien opkom het, 'n dag sonder hoop, sonder tyd, sonder 'n geluid. Mense sê hulle tyd is duur. Wat is my tyd wat ek op die plek moes verduur?
Die son kom op en sak maar ek weet nie eers of dit dag of nag is nie. Die verskil tussen water en asyn, sweet en roosmaryn ken ek nie eers meer nie. Ek sit hier op die wal van die Vaalrivier.  Kaalvoet man sonder 'n van of naam... So weet dié mens min!
Ek, die man op die maan.  ‘n Man met my eie taal. In ink geteken my verhaal. Die mense lag! Daar staan die boemelaar ou maar ek stap, stap my voete rou. 'n Laaste dag dalk, ‘n laaste nag. In my hart 'n blondekop dogter en 'n donkerkop vrou wat my nog laat wag voor ek vertrek na die Hemelseprag!
Die lewe ken my stap, Vader het my pad vir my uitgekap. Gedra was ek deur gebede! As die mens maar weet! Die verskil tussen water en grond. Vis en vleis. Is soos ek, die gewonde boemelaar man. Ek op my “boks” en jy op jou "king size" bed....
Wat is die verskil? Hoekom is jy skaam vir my?
45 Woordkunstenaars, 1 Bundel

 

Biografie Alta van Zyl


Alta van Zyl is in Klerksdorp, Suid-Afrika gebore en het grootgeword in Randlespark. Op die ouderdom van 16 het sy swanger geraak met haar dogter. Later jare is Alta getroud en het ook ‘n stiefseun ryker geword. Vandag is sy die trotse ouma van 3 kleinkinders. In 2016 is sy geskei.
Sy is ‘n regte “Warrior Women”. Om te bly hoop, al is daar niks om voor te hoop nie, is haar leefwyse. Haar eerlikheid en sagtheid is welbekend onder haar hartsmense. Sy is altyd gereed met ‘n vriendelike groet en opbouende woord. Sy tree op soos sy is.
Na ‘n moeilike lewe het sy, op die ouderdom van 31, haar lewensverhaal begin skryf. Ander boeke het ook daarna gevolg. Haar uithouvermoë en aanhou probeer maak van haar ‘n ster wat helder skyn. Sy was betrokke in haar bediening wat vir ‘n tyd lank toe was, maar nou weer oopgestel is. Of sy ‘n boek skryf of nie, sy is besig met die bediening en die bemarking van haar boeke. Sy beskou elke mens se sukses, in wat hy/sy ookal bereik, as sukses. Die een is nie méér belangrik as die ander nie. Wanneer jy doelwitte gestel het en dit bereik het, was jy suksesvol.
Alta glo in groei, dat ‘n mens kennis moet opbou in verskeie areas en dat ‘n mens nooit genoeg intellektueel en emosioneel kan groei nie. Sy sal elke dag leersaam wil bly, want … “’n Mens is nooit te oud om te leer nie”. Emosionele volwassenheid is iets wat plaasvind met verandering van gedagtes, daarom is sy nie bang vir veranderings in haarself en haar denkwyses nie. Die swaarkry (geestelik, emosioneel en liggaamlik) van die mens lê haar na aan die hart en as sy ‘n verskil kan maak, is dit vir haar ‘n groot bonus, floreer sy en is sy in haar element. Die boemelaar op die straat wat steeds lewe en glimlag wanneer daar ‘n geldstukkie in sy hand gestop word, inspireer hierdie vrou. Dit laat Alta besef hoeveel sy het om voor dankbaar te wees en dit inspireer haar tot ‘n groter omgee-hart wat oorloop van liefde, sonder enige veroordeling, want niemand van ons stap in die boemelaar se skoene nie.
Lees mens dié merkwaardige vrou se verhaal, verstaan jy ook wat so inspirerend uit haar verhaal is, want sy is deur ongelooflike diep waters en vuur, nie een maal nie, maar talle kere in haar lewe. Al wou sy het sy nooit gaan lê nie, maar elke keer sterker anderkant uitgekom. Vandag is sy die vuur! ‘n “Free spirit.” Wat jy sien is wat jy kry. Sy dra geen maskers nie. Lank gelede reeds is dit verbrand en voorgee is nie in haar woordeskat en leefwyse nie. Alta is dieselfde mens agter geslote en geopende deure!
Om jouself te vind en lief te hê is vir Alta van Zyl die definisie van ware geluk. Die sleutel tot geluk vind ‘n mens net binne jouself. Jy kan niemand gelukkig maak en ook self gelukkig wees, alvorens jy nie ware geluk binne jouself ontdek, ken en leef nie.
Haar advies aan jong aspirerende skrywers is om jou boeke self te probeer publiseer. Glo in jouself, al neem dit jou jare. Hou aan glo in jou boek en skryfvermoëns. Die eerste paragraaf is al die sleutel na sukses.
Ten laaste glo sy: Dra jou kroon, want jy is vrou.

Adri Theron, Alta van Zyl, Alviera Owerwagen, Andre Viktor, Anjelika van den Berg, Anna Malan, Anria Breed, Antonette Bissett, Anso Conradie Sutton, Anzé Bezuidenhout, Bernard Fielies, Bernedine Koch, Charlene Moche. Danielle Lotter, Delana Goosen, Driekie Grobler, Eliztha Jacobs, Francois Meyer, Ingrid Wepener, Jacky de Klerk, Johan Heyns, Koster Cronje, Elmari van Zyl, Linda du Plessis, Liza Daniells, Louis Krüger, Louisa van Vliet, Marie Stroh, Margaret Bennett, Marietjie Espach, Mariaan van Zyl, Marike Erasmus, Nadine Strydom, Pieter Henning,
Salome Opperman, Samantha Wepener, Santi Kruger, Saretha Benade, Stienie Boshoff, Sybie Kleynhans, Tinus Nortje.





Gedagtes van sommige skrywers
Isak de Lange

Aanvanklik het ek net gehoor van hierdie projek en ‘n ondersteuningsrol vertolk. Met die lees en raad gee het ek van meet af my vereenselwig met die deelnemers se ervarings. Toe ek dus die geleentheid gekry het, het ek my hart oopgebreek en my seer gedeel. Dinge wat ek onder die sand begrawe gehad het. My storie oor siekte tot die dood. My stryd van oorlewing, mislukte verhoudings, selfdood gedagtes, ens.. Toe ‘n bydrae oor die seerkry en vernedering van my kinderjare. Dinge wat daar was en wat my die mens gemaak het wat ek vandag is. ‘n Sterk gelowiges wat uit genade gered is. “Spore van Genade”, want sonder God se genade was ek verlore.

Lynelle Clark

Aanvanklike het ek net as ‘n deelnemende skrywer saam met die projek begin. ‘n Paar dae later was ek pens en pooitjies deel van die projek en moes ek skielik beheer van vyf en veertig mense se skrywes vat. My rekenaar was gebombardeer met gedigte, kort verhale en prosa stukkies en hoendervleis permanent op my vel te bespeur van weë die inhoud. Jy kan nie anders as om meegesleur te raak met die woorde nie. Die pyn, hartseer, en verlange het ‘n allesoorheersende drang gelaat om die proses klaar te maak. Die onderwerpe sluit in armoede, verslawing, bejaardes, kinders- en vroue mishandeling in en sluit af in triomf. Dit sal skok en jou laat ween en hopelik laat dink om deel te word van die oplossing. Hierdie is ‘n moet bundel op jou boekrak. Een wat jy met trots aan vriende en familie kan voorstel. Alta is ‘n besondere vrou en ons twee het baie nou saamgewerk. Daarom kan ek met absolute oortuiging hierdie boek en projek aanbeveel. Sy is nie net ‘n prater nie maar ‘n doener. Haar lewens verhaal die kern van dit als.

Mariaan
Getuienis en die rede vir die boek. Dit is net een geval.
Anthony het in Witbank se onderdorp grootgeword. Hy was op laerskool toe dwelmhandelaars hom in hulle kloue gekry het. Ek en sy familie het vergeefs vir hom hulp gesoek. Selfs die hof kon nie help om hom te dwing om vir rehab te gaan nie. Almal skryf 'n dwelmverslaafde af en glo dat hulle nie gehelp wil word nie. Op 14 was hy geheel en al verslaaf aan heroien. Hy het by se ma gebly en een aand verdwyn. Later het hy opgedaag, blou om sy mond en voor sy ma se voete neergesak waar hy gesterf het weens n oordosis op die ouderdom van 18. Hy was 'n pragtige jongman. Rehab sentrums is onmenslik duur en Anthony se ma het reeds gesukkel om kop bo water te hou. Vandag bied sy ma slaapplek in haar klein woonstelletjie vir dwelmverslaafde straatkinders. Dis al wat sy kan doen. Niemand is bereid om hierdie kinders te help nie.

Voorlopige bestellings kan bestel word by Lynelle Clark letterpas@gmail.com
R245 posgeld uitgesluit 
 



Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...