Donderdag 02 November 2023

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.


Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer. 

Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke voor die bestemde tyd. Weens die vroeë geboorte, lê ek vir weke in ’n broeikas en skraap kragte bymekaar om huis toe te kan gaan na sy ma se oorvloedige melk. My ouers noem my Fanie en my tweelingbroer Manie. Ons jeugjare was redelik sorgvry. Daar was ’n groot agterplaas in Kemptonpark om in te speel, en op straat is daar fiets gery en vlieërs die lug ingestuur. In ons pa se studeerkamer was ’n massiewe boekrak met onder meer  boeke van Heinz Konsalik en Langenhoven.

Ná skool en weermag het ek ’n BSc-graad verwerf. ’n Loopbaan van amper 20 jaar in die rekenaarbedryf het gevolg, en toe het ek oorgeskakel na die gedrukte media om ’n taalversorger te word. 

Ek het reeds drie romans geskryf (Kontrei, Werfsonde en Hierdie huis), en twee digbundels (Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels, en Erf en elders). Die romans kan hier en daar nog in boekwinkels raakgeloop word. Die twee digbundels kan op die uitgewer Naledi se webwerf bestel word (gratis aflewering oral in Suid-Afrika!): www.naledi.co.za

 

Ek woon reeds 33 jaar lank in Yeoville, Johannesburg.


 

 

1.   Wat maak jou trots om 'n skrywer/digter te wees?

    Ek sou nie sê ek is juis trots daarop nie, net so min as wat die son trots is dat hy in die ooste opkom. Dis maar bloot iets wat onafwendbaar deel van my is. My mond gesels en my vingers skryf.

2.   Wat of wie het jou geïnspireer om 'n skrywer/digter te word?

     Ek het begin agterkom ek het ’n groter aanvoeling vir woorde as vir rekenaarprogramme. Ook het ek die poësie van onder andere Breyten Breytenbach en Johan van Wyk ontdek, en vir Koos Kombuis bevriend. In die 80’s en 90’s skryf ek en Koos honderde briewe aan mekaar, outydse briewe met ’n seël op die koevert. Later vra Koos my om by te dra tot sy little magazine Ons Klyntji. Omdat daar reeds ’n krieketspeler met die naam Fanie de Villiers was, het Koos voorgestel ek kry vir my ’n skryfnaam. Oor ek destyds spinasie en rissies in my agterplasie gekweek het en ook kort van postuur is, spring die naam Kleinboer toe uit my brein uit.

3.   Wanneer het dit vir jou ‘n doel geword om gepubliseer te word?

    In die laat 90’s het ek besef ek het genoeg materiaal op my rekenaar opgebou wat tot ’n roman verwerk kon word.

4.   Het jou omgewing of opvoeding 'n groot rol in jou skryfwerk gespeel, en het jy dit tot jou voordeel gebruik?

     My ouers was beide onderwysers en het ons aangemoedig om baie te lees. Veral tydens skoolvakansies het ek en my tweelingbroer vreeslik baie gelees. Ons ma het gesê: “Julle hardloop ’n voetpaadjie biblioteek toe en terug.”
Later, toe ek ’n Tuksstudent was en nog by my ouers in Monumentpark, Pretoria, gewoon het, is ons sewejarige basterbrakkie, Fonnie, een Sondagmiddag deur ’n kar doodgetrap toe sy saam met my na die kafee geloop het. Haar laaste piepie was nog warm op haar maag terwyl ek haar huilend huis toe gedra het. Ons het haar in die erf begrawe. Dit was hartverskeurend, en ’n traumatiese episode wat bygedra dat ek ’n dagboek begin hou het.

5.   Titels is vir sommige skrywers ‘n nagmerrie, hoe kom jy op met ‘n titel vir  die manuskrip en is dit in die begin van die proses of nadat jy klaar geskryf het?

    Dis vir my ’n nagmerrie en kom na my eers nadat ek klaar geskryf het. Die titel van my eerste boek, Kontrei, is deur Koos Kombuis voorgestel, maar die res het ek self opgemaak.

6.   Stel asseblief jou digkuns genre bekend en hoekom jy verkies om in daardie genre te skryf?

    Ek skryf in die vorm van ’n parlando, oftewel praatvers. Dis beïnvloed deur my vroeëre hou van ’n dagboek, briefskrywery, en my romans.

7.   Wat was jou mees lonende ervaring met jou skryfproses?

    My roman Kontrei is in 2004 met die Jan Rabie-Rapportprys bekroon. Dit het gepaard gegaan met handige prysgeld, en dis ook my boek waarvan die meeste verkoop is, sowat 2 500 eksemplare.

8.   Het jy 'n negatiewe ervaring in jou skryfloopbaan gehad? Indien wel, verduidelik asseblief hoe dit vermy kon word?

    Tussen my eerste en tweede boeke se publikasie het nege jaar verloop. Dis te lank. Hoe dit vermy kon word? Ek kon seker minder in kroeë rondgelê het, alhoewel ek daar tog ook ’n paar idees vir toekomstige skryfwerk opgetel het.

9.   Watter positiewe raad sal jy aan ander skrywers/digters kan gee?

    Lees baie, sodat jy bekend kan wees met wat reeds in Afrikaans verskyn het. Moenie net digters uit vorige tydvakke lees nie, maar ondersoek ook meer moderne skrywers se werk. En wanneer jy skryf, vermy soetsappigheid en die oormatige opstapeling van “geleerde” woorde.

10.    Wie is jou gunsteling skrywer of digter?

Breyten Breytenbach.

Lys asseblief al jou webwerfskakels:

Facebook is die enigste sosiale medium waar ek betrokke is. Ek is daar onder my naam Fanie de Villiers. My twee digbundels kan by www.naledi.co.za bestel word. Van my bundel wat in Julie 2023 verskyn het, Erf en elders, het daar reeds ’n paar resensies verskyn. Google “Kleinboer, Erf en elders” om die resensies op te spoor.

My gepubliseerde boeke:

Kontrei (2003). Deesdae moeilik bekombaar, maar wel soms in tweedehandse boekwinkels, en op webwerwe soos Amazon.

Werfsonde (2012). Soms nog in ’n boekwinkel te sien – gryp hom as jy kan! En in sommige biblioteke.

Hierdie huis (2017). Soms nog in ’n boekwinkel te sien, en in sommige biblioteke.

Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels (2020). Nog in sommige winkels beskikbaar, en ook aanlyn vanaf Naledi Uitgewer (hulle aflewering is gratis). Skakel na hulle webwerf: naledi.co.za

Erf en elders (2023). Beskikbaar in winkels soos Exclusive Books, en ook aanlyn vanaf Naledi Uitgewer (hulle aflewering is gratis). Skakel na hulle webwerf: naledi.co.za.

Persoonlike vrae:

1.   Wat is jou gunsteling kleur?

Hemelsblou.

2.   Verkies jy 'n soet of sout eet dingetjie?

Ek neig meer na sout, maar ná elke Saterdag se braai deel ek ’n stuk sjokolade met my gesin.

3.   Watter tyd van die dag verkies jy om te skryf?

Oggend. En verkieslik voor dagbreek, met koffie.

4.   Gunsteling musiek of liedjie?

Die liedjie “City of Tiny Lites” van Frank Zappa.

5.   Hoe hanteer jy skrywersblok?

Ek gaan deur my chaotiese ou notas en probeer iets daaruit distilleer.

6.   Wat is volgende op jou To Do-lys?

Ek en my vrou berei voor om binnekort Mauritius toe te gaan. Sy was nog nooit oorsee of in ’n vliegtuig nie! Ek sal haar hand styf vashou op die aanloopbaan voor ons opstyg.

7.   Waarheen gaan jy graag met vakansie?

Die see. Maar ek kom te selde daar, skaars een keer elke drie jaar.

 


  

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...