Maandag 02 Augustus 2021

Die stigma van SELF-PUBLIKASIE


 

Ek steek my kop in ’n byenes, maar as ék dit nie doen nie, wie sal? Ons moet die waarheid in die gesig staar, erken ons het gefouteer – alleenlik dán kan mens ’n oplossing vind. Nico Schamrel.

Daar is heelwat lesers wat teen self-publikasie gekant is, want die noodsaaklike inligting en leiding word nie aldag vir die self-publiserende skrywer of digter beskikbaar gestel nie. Die sonde lê hier: Meeste skrywers en/of digters volg nie die korrekte roete van professionele proeflees en taalversorging nie. Die hoofrede – dit kos geld en skrywers dink hulle kan dit self doen. ’n Speltoetser is nie ’n teksredigeerder nie! Baie drukkerye gebruik selfaangestelde proeflesers wat geen taalkennis het nie, spelfoute word (dalk) gewysig, maar die redigering gaan verlore. Die eindproduk bereik dus nie volle potensiaal nie. Goeie redigeerders kyk in-diepte na die manuskrip en begelei die skrywer tot verhaalontwikkeling en -verbetering. Hierdie swak lig waarin self-publikasie gesien word, is deur skrywers/digters sélf geskep. Ons kan niemand anders daarvoor blameer nie. Self-publiseerders wil die goedkoop en maklike pad kies, maar dink nie aan die gevolge nie. Swak boeke word deur skrywers en kleiner uitgewers gepubliseer – gevolglik het ’n stigma ontstaan dat selfgepubliseerde boeke nie goeie kwaliteit is nie. Hierdie stigma is ook deur die kleiner uitgewer aangewakker deurdat hulle alles voor die voet aanvaar. Dit gaan immers oor besigheid en soos die Engelse sê: Business is business. Deels is dit ook deur drukkers en uitgewers aangewakker wat die selfpubliseerder onder die wanindruk plaas dat selfpublikasie goedkoop en maklik is. Skrywers/digters is met heuning om die mond gelok met sinvolle beloftes, maar die kwaliteit ontbreek. Skrywers is so ingenome om hulle publikasie te sien dat hulle verby die gebrek aan kwaliteit kyk. Hulle is tevrede met mediokere/tweederangse omslae en so-so bemarking. Solank hulle kan sê hulle het ’n boek gepubliseer, is die Kaap Hollands. Deur tevrede te wees met tweederangse diens, skep ons hierdie onnodige stigma wat aan selfpublikasie kleef. Ons voer hierdie wanindruk deur alles te aanvaar en doen soveel skade aan die skrywers/digters wat kwaliteit lewer. ’n Mens kan net die stigma-kiem smoor as almal saamstaan. Persoonlik het ek baie respek vir skrywers wat die moeite doen om hulle werk professioneel te laat proeflees. Dit wys op ’n trotsheid – nie net vir hulle eie werk nie, maar ook vir hulle taal.

ONS SIT MET ’N DILEMMA

Hoe kan ons hierdie stigma smoor?

1.As skrywers kan ons ’n reusebydrae lewer deur van professionele teksversorgers gebruik te maak en sodoende werk van minderwaardige gehalte vermy. Teksredigering is wel ’n tydrowende proses, maar die eindresultate sal jou trots maak op jou werk en ’n welverdiende positiewe indruk gee oor jou as skrywer. Dit kan egter ook een van die duurste aspekte wees, en juis daarom vermy baie selfpubliserende skrywers hierdie proses en dra sodoende by tot die ongewenste stigma van selfpublikasie.

2.Hou op dink dat selfpublikasie maklik is en dat dit goedkoop móét wees. Niks in die lewe is goedkoop nie en dit wat goedkoop is, ís goedkoop. Jy kry waarvoor jy betaal. Spaar eerder of maak ’n reëling wat jou en die diensverskaffer se sak sal pas. Weet jy hoe goed voel jy wanneer jou manuskrip topgehalte is? Daardie trotse gevoel kan niemand van jou ontneem nie.

3.Kies ’n beter uitgewer.

4. Doen navraag oor wie die proeflesers is en oor watter kwalifikasies hulle beskik.

5. Maak dit gewoonte om jou Professioneel Geredigeerde Manuskrip te merk as: PGM (wanneer jy jou boek bemark). Indien jy dit doen, sal die woord vinnig versprei, maar moenie die leser/koper verlei met valse inligting nie. Dit sal jou duur te staan kom en jy sal ’n slegte naam onder die eerlike skrywers/teksredigeerders kry.

6. Koop net boeke wat professioneel geredigeer is. Vra voor jy aankope doen – dit is jóú reg, jóú geld. Goedkoop selfpubliseer is aan die einde van die dag duur selfpubliseer en jou naam kan groot skade ly.Indien ’n uitgewers dus aandring op/of professionele teksredigering voorstel, wees dan verseker dat daardie uitgewer in jou belang optree – solank daardie diens professioneel is! 

Daar is nie ’n kortpad nie. Die kortpad neem jou na ’n ondergang. As jy raad nodig het, klop gerus aan by jou SKRYWERSHUIS: e-posadres: info@nshuis.co.za.

Ns.Skrywershuis

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...