Donderdag 24 Februarie 2022

Projek My Gebed vir 'n Boer, Boek Twee deur Ns. Skrywershuis.



In onderhoud met Nico Schamrel.

Nico, baie welkom en dankie dat jy ingestem het tot ’n onderhoud met my.

1.       As afskop vraag en omdat dit Internasionale Moedertaaldag is, wat beteken Afrikaans vir jou?

Afrikaans is my moedertaal, skryftaal en voertaal – die fondamente waarop ek gevorm is. Dit is my taal waarmee ek myself kan identifiseer. ’n Persoon sonder sy eie taal het nie meer ’n identiteit nie en om daardie rede is ek ’n kampvegter en ondersteuning vir die behoud van Afrikaans. Dit is ons elkeen se reg in ’n demokratiese land om sy taal te kan praat, daarin opgevoed en geskool te word. Afrikaans is vir my die kern van my bestaan.

2.       Jy is ’n kranige sosiale netwerk gebruiker. Wat beteken hierdie platforms vir jou? Vergas ons met ’n staaltjie van jou ondervindings.

a.       Platforms soos Facebook en Twitter is ’n maklike kommunikasieinstrument waarop mens nie net sosiaal kan kommunikeer nie, maar ook kennis kan oordra en nuwe idees kan voorstel. Sosiale media is ’n bron van inligting, mits jy dit produktief en vir die regte redes gebruik.

 

b.       My staaltjie is van ’n ander aard. Baie jare terug het ek ’n fiktiewe karakter geskep – Antie Fancie van der Merwe – burgemeester van ’n fiktiewe dorp met die naam van Holbrandfontein. Dit was vet pret! Antie Fancie het oor die 2000 bewonderaars gehad en sy het byna elke dag ’n storie vertel oor haar dorp. Die mense was gaande oor haar, maar ek moes haar vaarwel groet toe ek meer ernstig begin skryf het. Nietemin, Antie Fancie was vir baie eensame mense geselskap en het ’n lag in leke dag gesit – selfs ’n vrou uit haar depressie gehelp.

Ek glo lag is die beste medisyne wat ons Skepper vir ons gegee het – ons doen dit net te min.

3.       Jy het met Ns. Skrywershuis in 2021 begin. Wat het daartoe gelei en wat is jou ondervinding sover daarmee?

a.       Ek het net gevoel dat daar te veel skrywers is wat nie die nodige diens ontvang as wat hulle verdien nie. Te veel swak werk word gepubliseer omdat geld ’n rol speel. Die kostes om te publiseer was belaglik hoog en daar is talentvolle skrywers wat dit nie kan bekostig nie. Bemarking word veral agterweë gelaat met uitgewers, want sodra hulle die betaling ontvang, vergeet hulle van die skrywer.

Die proeflees by sommige van hierdie uitgewers is skokkend en onaanvaarbaar. Oor dit wil ek my liewers nie uitlaat nie. Ek het ongelooflik baie klagtes ontvang van ongelukkige skrywers en ontvang dit steeds gereeld – hulpkrete nadat hulle baie geld betaal het vir publikasies en swak teksversorging – selfs vertalings van boeke.

Ns. Skrywershuis is gestig om talentvolle skrywers te help, sonder om hulle duisende rande uit die sak te jaag, maar ook om die skrywer se werk doeltreffend te bemark met stylvolle advertensies en kwaliteit werk.

Ek werk nou saam met PENdit.za wat die proeflees hanteer. My ondervinding is dat skrywers goeie diens verwag, maar hulle wil ook waarde vir hul geld geniet. Hulle waardeer daardie ekstra wat mens doen. Dit is nie ’n geldmaak bedryf nie, maar ’n bedryf wat ek verskriklik geniet. Dit is só lekker om ’n tevrede en gelukkige skrywer by jou aanlyn winkel te plaas – daardie vreugde en tevredenheid is meer werd as rykdom.

4.       Hoe belangrik is boeke in jou lewe?

Boeke is soos kos – ek kan nie daar sonder nie! Boeke is soos poeding – ek kan ook nie dáár sonder nie. Daarom lyk ek soos ’n paaseier. Ek woon alleen op ’n gasteplaas. Ek sien die stad min en boeke word jou lewensmaat. Daar is nie ’n beter kameraad in die lewe as ’n boek nie (behalwe poeding).

5.       Waar kom die idee van My gebed vir ’n Boer vandaan?

Dit was in die begin van ons eerste grendeltyd – toe ons almal toegesluit was sonder sigarette, drank en Kentucky, met kaste vol toiletpapier.

Ek het net besef dat ons boere gebed nodig het. Die geweld in ons land ruk hande uit. Die boer voorsien ons van die kos op ons tafel – hulle is God se geskapenes om Sy werk op aarde te doen.

Ek het ook toe besef dat ons nie saam kan bid soos, bv. ’n biddag vir die boer nie (weens grendeltyd). Toe vra ek myself: waarom bid ons nie almal saam in ’n boek nie? So het die boek toe ontstaan.

6.       Jy is ook besig met die opvolg van die boek. Hoekom ’n opvolg?

Die behoefte vir trauma-berading onder slagoffers is geweldig groot. Slagoffers het professionele hulp nodig. Daar is baie kostes daaraan verbonde en daar moet soms lang afstande afgelê word om by slagoffers uit te kom. Dit gaan nie net oor ryk boere nie. Daar is ook kleiner boere en minderbevoorregte boere. Hulle het hulp nodig. Om met daardie behoeftes te help, is die tweede boek begin.

7.       ’n Hele paar bekendes het deelgeneem aan die boek, wat is jou ervaring met die mede skrywers van My Gebed vir ’n Boer.

Die bekendes was ongelooflik wonderlik. Net onlangs het Jak de Priester vir my ’n video gestuur waar hy gesels oor die boek, asook vriendin Anneline Kriel-Bacon. Sy is weer die ambassadeur van die nuwe boek.  

Bekendes soos Amor Vittone was uit haar vel oor die projek en Ruben (die bekende sjef) moes opnames herskeduleer om deel te kon neem. Solly Philander was besig om te bestuur toe ek hom geskakel het. Hy was so opgewonde omdat ek hom telefonies bedank – ek het gewonder of daar iets fout is? Ék is die een wat opgewonde moet wees!

8.       In jou mening, was dit suksesvol? Deel met ons ’n staaltjie wat bydra tot die boek se sukses.

a.       Ja, die eerste projek was suksesvol en die fondse was goed aangewend. Dit was nie duisende rande nie, maar dit het ’n paar gaatjies toegestop. Ek het regtig mooi briewe ontvang van bekendes, boere en boervroue wat so dankbaar is vir hierdie projek. Die belangrikheid van die hierdie projek was ook dat die moord op ons plaasboere, asook werkers, weereens blootstelling gekry het – nie net in SA nie, maar ook oorsee. Wat vir my só treffend was, was die vriendskap wat gesmee was gedurende hierdie boek. Bekendes het mekaar ondersteun en so baie het net ingespring en gehelp.

b.       Eendag, toe ’n klein seuntjie by ’n kettingwinkel aan my arm kom trek, was ek heel verbaas dat hy my erken het (sy ma het my erken en hom kortliks vertel van die projek). Hy het skaam na my gekyk. “Oom, dankie dat oom vir my pa bid ...”

Ek moes hard sluk aan die knop in my keel. Ek was werklik stomgeslaan. Sy ma het trots glimlag. Ek het na sy onskuldige gesiggie gestaar. “Nee, dankie vir wat jý doen om ook saam te bid.”

9.       Vertel ons in kort wie jy is en waar jy vandaan kom.

Ek is gebore en getoë op Uitenhage waar ek my weer bevind na vele omwentelings in my lewe. My pa is oorlede toe ek twaalf was en ek is geseënd om nog my moeder na aan my te hê. Sy is my asem en my meeste liefde, my hartklop en my grootste ondersteuner. Dit staan buite alle twyfel dat ek ma-se-kind is – ’n groot dromer wat alles in die lewe wil gee en tevrede is met álles wat ek het. Ek dank my Skepper so veel ek kan, elke dag van my lewe.

Nico, baie dankie vir die saam gesels ek het dit baie insiggewende gevind.

Vir meer inligting om saam te skryf aan MY GEBED VIR 'N BOER TWEE kan die inligting verkry word by https://nskrywershuis.co.za/gebedeboek/

 

 

Woensdag 23 Februarie 2022

Kruisbestuiwing deur Afrikaanse Digkuns



’n Klimaat van Afrikaanse Kruisbestuiwing.

Gister het ons Internasionale Moedertaaldag gevier en die sosiale platform gons met gedigte en kortstories rondom hierdie heuglike dag. Daarom is dit belangrik dat ons ook nuwe bewegings ondersteun. Bewegings waarin Afrikaans kan groei en floreer.

Khoinonia het as ‘n Whatsapp-groepie ontstaan wat poog om opkomende digters en skrywers te help om relevant te skryf en ek sien baie uit na die vrug van hierdie beweging.

Khoinonia se doel is om die Afrikaanse digkuns te bevorder en ‘n klimaat van kruisbestuiwing te skep sodat ons van mekaar af kan leer.

“Ons wil Afrikaans bevorder in al sy fasette en ‘dialekte’,” sê Hendry Kortje.

Dit is ‘n nuwe Afrikaanse beweging in die mooie Grabouw. Hulle het op 19 Februarie 2022 afgeskop met hul eerste kuier deur die voorlesing van gedigte onder mekaar te bevorder. Die voorlesings het geskied onder begeleiding van musiek.

Sodoende skep Khoinonia nou spasie vir ander kunstenaars om gesamentlik op te tree en ’n unieke kultuur te skep.

“Dit is ‘n klein stappie na die oorkoepelende visie om kunstenaars in Grabouw te verening om ook saam op te tree. Kunstenaars soos: fotograwe, tekenaars (sketse), musikante, rappers, digters, skrywers en mense wat ander kunste beoefen is welkom.” Vertel Hendry.

Kom en raak deel van ‘n Afrikaanse beweging en wees trots op jou taal.

Terugvoer na afloop van die byeenkoms was baie goed. Die Restaurant was gelaai met afwagting en die plekkie het gou vol geraak.

“Die 8 digters het'ie mense gevange gehou met hul voorlesings en spontane "oe" en "aa" was aan'ie orde van'ie dag.” Vertel Hendry met trots.

Liefdesgedigte het'ie aand vinnig verkort en die einde het beslis te vinnig gekom.

Die digters was: Hendry Kortje, Roelien George, Megan Coetzee, Danville Willemse, Celeste Johnson

Cameron van Wyk, William Alie en Jessica Lambert. Elkeen begaafd in hul eie reg.

Lynelle Clark

 

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...