Saterdag 29 Junie 2019

Luister jy na jou spieëlvrou? deur Lynelle Clark


Anders as die meeste van ons is die spieëlvrou baie geduldig. Haar beeld ‘n konstante herinnering van wie jy is, wie jy geword het en selfs jou tekortkominge word onderstreep deur haar. So in die stilligheid is haar teenwoordigheid ‘n vingerwysing en vermy ons haar eerder as die spreekwoordelike wit olifant in die vertrek.
Vir baie jare het ek my spieëlvrou vermy. Sy was daar, onopmerklik, geduldig en stil. Altyd opgesluit in die vergulde of houtrame van my spieëls. Ek het haar geignoreer, haar geen erkenning gegee nie. Vir jare haar vermy soos die plaag. Want om na haar te kyk is om tot in jou siel te kyk. Daar waar dinge anders lyk as jou huidige lewe. Jou sielsoë die veroordeling, wat die hoekom vrae loslaat, en die een wat meer soek.
Sy wek in jou ‘n gewaarwording van die ware self vanuit die spieëlbeeld. Sy kom nie met kwistige woorde of ‘n heuningkwas en paai jou nie. Nee, sy is die waarheid. Sy verteenwoordig die jy in ‘n weerkaatsende formaat. Haar weerkaatsing is nie wensdenkery nie. Dit is eerder die realiteit verdoesel in die spanningsvolle eise van jou lewe.
Stil en sluimerend sal sy so nou en dan verskyn en indien jy haar nie raaksien nie, retireer sy in haar spieëlwêreld en wag. Die dag wat sy uiteindelik jou aandag het verander jou lewe. Handomkeer verander dit vir die goeie. Haar waarheid soos ‘n wakker-word klap wat jou tussen die oë tref.
Ek weet, myne het. Dit was een oggend, tydens die normale was-roetine voor die dag begin het toe sy my vra, “Wie is jy nou eintlik?” Ek het toe geweet ek kan haar nie langer vermy nie. Die eie ek so ver weg gebêre tussen al die moets en moenies dat sy nie meer geskitter het in haar eie reg nie.
As vrou word jy maklik in ‘n hoekie geplaas en dink jy dit is reg en eintlik baie Christelik van jou maar die een wat die meeste skade lei, is jy. Die spieëlvrou wys dit uit. Dit is ‘n harde werklikheid maar sy dra dit tog sagkuns oor. Daar is geen eise of oordeel van haar kant af nie. Soos ‘n goeie feë-moeder wys sy jou die tekortkominge uit. Soms met een vraag, of dalk ‘n beeld wat na jou terugstaar. Maar jy weet onvermydelik dat sy die een is wat nou praat. Heel moontlik omdat sy na 30 jaar besluit het genoeg is genoeg. As sy nie nou tussenbeide tree nie sal jy sterf.
Omdat sy net die beste vir jou op haar hart het wil sy jou sien skitter. Om te verdof in die niet in beteken sy verdwyn ook. In dit is sy eintlik selfsugtig. Sy soek haar plekkie in die son en gun dit vir jou. Sy wil hê julle twee moet saam die eindstreep behaal. Daardie plek waar jy skitter, blink en gepoets uitgestal word as ‘n kosbare edelsteen.
Ons onderskat haar waarde as spieëlvrou. Sy is die beeld van die ware jy. Dit beteken nie jy spring die proses van skitter vry nie. Allermins. Maar jy stap dit nie alleen nie. As mens is jy van daardie oomblik wat jy haar erkenning gee bewus van haar.
Elke tree wat jy stap is sy daar, altyd teenwoordig. Sy bly jou aanspoor. Sy vertrou jou om die regte ding te doen. Om jou beste te doen. Sy word dan jou eie private rasieleier en bly getrou aan jou sy. Sy verdwyn nie, sy bly op haar plek. Elke keer wat jy die spieël besoek is sy daar.
Die spieëlvrou se deursettingsvermoë is iets om te admireer. Net sy weet wanneer jy jou volle potensiaal bereik het. Tot dan bly sy getrou in haar aanmoediging.
So min is eintlik bekend van haar. Haar naam onbekend, en haar afkoms onbelangrik. 
Ons elkeen het ‘n spieëlvrou wat geduldig wag om ons te ontwaak soos ‘n Sneeuwitjie van ouds. Dit is net wanneer ons uit ons slaap geruk word dat ons werklik kan groei in ons potensiaal. Ons lewe gevul met die goeie, want sien wanneer ons skitter gee ons vanuit daardie plek van oorwinning.
Indien jy nie oorwinning gesmaak het nie of die pad ken nie, bly jy bitter en stagneer. Dit ontneem jou van ‘n toekoms. Bitterheid maak jul albei lam, druk al die lewe uit julle uit. Maar sy is veerkragtig en spring dadelik in plek indien jy haar toelaat om jou uit jou kassie te laat kom. Maar die besluit berus by jou. Om haar te erken as jou gewete is die begin van jou lewe.
Indien nie, wag sy getrou op haar pos so in die rame opgehang oral in jou huis.
Kopiereg Lynelle Clark 2019

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...