Wys tans plasings met die etiket Suid Afrikaanse skrywer. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Suid Afrikaanse skrywer. Wys alle plasings

Sondag 13 November 2022

Die Genooides deur Lynelle Clark


“Santie, sal jy vir ons ‘n mooi uitnodiging skryf, asseblief?” Die matriekdogter kyk op van haar werk en knik instemmend.

“Watse bewoording wil Ma gebruik?”

“Die normale ding. Jy word hartlik uitgenooi om volgende Sondag te kom aansit vir ‘n familie-ete, so uit Ouma se kombuis - of so iets.”

“Gaan ons nou werklik aan met die ete, Wilma?”

“Natuurlik, Bertus. Die kinders is lus vir Ouma se kos. Jy weet almal het saamgestem dit is ‘n goeie idee.”

“Maar hoekom hier?” vra Bertus en kyk skuinsweg op van die skootrekenaar.

“Omdat ons huis die grootste is en almal kan akkomodeer.”

“Gaan Ma souskluitjies maak?” vra Albi of Albertus volgens sy identiteisdokument, met ‘n sjokoladebroodjie halfklaar in die hand.

“Natuurlik, my kind.”

“En pampoenkoekies,” sê-vra hy grootoog.

“Ja, en pampoenkoekies, boontjies … ,”

“Aggenee Ma, net nie dit nie. Ma weet ek hou nie van groente nie,” onderbreek hy sy ma.

Wilma kyk op van die resepteboeke wat oor die tafel gestrooi is en frons liggies.

“Maar jy eet dan pampoenkoekies?”

“Ja, want dit is soet en lekker.”

“Te veel soetgoed is nie goed vir jou nie, ou seun,” val Bertus die sestienjarige in die rede.

“Ek hou nie van boontjies nie.”

“Wel, ek gaan dit maak soos Ouma dit sou gemaak het. Kompleet - met ‘n klont botter en spek daarin.”

“Wie betaal vir al die kos?”

“Almal dra by. Katrien bring hoenderpastei. Karli maak bobotie met geelrys.”

“En rosyntjies?” vra Santie met opgewondenheid. Onmiddellik keep daar ‘n diep lyn tussen haar oë terwyl Wilma haar kop genoeglik skud. Wilma weet al wat gaan volg.

“Goeie genade, Ma. Wil julle hê ons moet ons dood eet?” vra sy verergd en lig haar kop vir ‘n wyle op van die werksboek.

“Dié kossoorte is besig om uit te sterf. Kitskos is nou die norm. Die lewe bestaan uit meer as net pizza en hamburgers. Ons wil hê julle kinders moet dit onthou. Daarom het ons besluit om dit te maak.”

“Ek dink eerder julle wil julle dood vreet.”

“Bertus! Jou taal asseblief.”

“Toemaar Ma, ons is erger gewoond,” mompel Albi tussenin.

“Moenie met ‘n mondvol kos praat nie. En jy en Wouter gedra julle Sondag. Daar word geen speletjies gespeel nie. Dit is ‘n familiedag.”

“So dit beteken ek moet opgeskeep sit met wat-se-naam van Karli,” sê Bertus en skud sy kop.

“Pieter is ook hier. Jy maak verniet of jy nie met Charles oor die weg kom nie.”

“Wat weet die man in elk geval van Afrikaanse kos?” vra hy vies, staan op en stap reguit na die yskas toe.

“Kultuur is aansteeklik en boerekos het mense nog altyd bymekaar gebring,” antwoord Wilma. Sy skuif die resep vir melktert eenkant toe en gryp ‘n ander boek en begin weer deur dit te blaai. Om die dood toe kan sy net nie Ma Ann se resep kry nie en geen ander sal werk nie.

“Ek dink nie die ding met Charles gaan werk nie.”

“Dit is nie vir ons om te besluit nie, Bertus. Dit is Karli se besluit.”

“Dit beteken nie ek moet die mannetjie aanvaar aan my etenstafel nie.”

“As hulle die knoop deur hak het ons nie ‘n keuse nie.” Bertus kyk gepynigend na Wilma, draai die bierbottel oop en vul sy glas vir die derde keer die aand.

“Ek dink in elk geval jy moet begin kyk na jou bier inname. Kyk waar hang daai maag.”

“Los my maag uit.” Hy trek die boepie in, maar net vir ‘n oomblik voor dit weer al bultend oor die belt hang.

“Jis, het Ma gesien hoe lyk Charles se maagspiere?”

‘n Dodelike kyk van Bertus laat Wilma haar antwoord sluk … maar ja, sy het gesien. Almal het dit gesien. Die betowerende prentjie het almal laat kyk en die vrouens behoorlik laat drink. Lank gelede het Bertus se maag ook so gelyk, maar dit was baie lank gelede; en sy verberg haar glimlag agter haar wynglas.

***

“Is jy seker jy het als onthou?” vra Bertus die Sondagoggend toe hy die laaste inkopiesak op die tafel neersit.

“Ja, ek is seker.”

“Dit ruik lekker, Wilma,” sê hy oor haar skouer toe sy die gaar skaapboud op die marmerblad neersit. Die stomende geur begroet haar neus en sy trek dit behaaglik in. Dit ruik nes Ma s’n, dink sy genoeglik.

“Dankie, Bertus. Dit is opgestop met stukkies spek en uie ook,” antwoord sy - die trots onverbloemd in haar stem.

“Nou praat jy! Kan ek proe?” Voor sy nog kan antwoord vat hy die skerp mes vas.

“Nee! Dit is vir later, nie nou nie,” betig sy.

“Net een proeseltjie, toe man.”

“Nee. Dit bly nooit by net een proeseltjie nie,” keer sy en sit die deksel terug op die kasserol.

“Jy is ‘n sadis,” grom hy en gee haar ‘n piksoen.

“Ek is seker jy sal kan uithou tot middagete. Nou nog net die souskluitjies, dan is ek ook klaar. Santie, kom laai die skottelgoedwasser vir die eerste lot, asseblief.”

“Ma hoef nie so te skree nie, ek is hier.”

“Moenie vir jou so parmantig hou nie, Santie. Werk net saam. Waar is Albi?” vra Wilma en kyk oor haar skouer na die TV kamer. Die TV is tot haar verbasing af en sy laat haar blik oor die res van die groot vertrek gaan.

“Hy is buite besig om die oprit te vee. Gisteraand se wind het weer die plek behoorlik bemors,” beantwoord Bertus haar vraag.

“Daar is nie nou tyd daarvoor nie. Die kind moet kom help om die tafel te dek.”

“Ek sal dit nou doen, Ma,” bied Santie aan.

“Die tafel moet geskuif word en is te swaar vir jou alleen.”

“Waarmee kan ek help?” vra Bertus.

“Ek is so lus vir ‘n koppie tee.”

Hy kyk Wilma vieserig aan, draai om en gaan sit in sy geliefkoosde stoel. Die volgende oomblik hoor hulle ‘n kardeur toeklap en Albi kom ingehardloop.

“Hy is hier, Ma. Hierdie keer met die swart Porsche.”

“Seker gesteel,” mompel Bertus.

“Wie Albi?” vra Wilma. Sy kyk op van die mengbak en gluur Bertus aan.

“Charles. Vrek, Ma moet sy arms sien.”

“Gedra vir jou, Albi,” grom Bertus. “Is die oprit skoon?”

“Ja, Pa.” Albi gaps ‘n gebakte skyfie aartappel; en voor Wilma nog kan keer is dit in sy mond. Die kraakgeluid ‘n goeie teken dat die aartappels krakerig is.

“Ouch … !” sê hy en Wilma se smalende glimlag spreek boekdele.

“Môre, môre,” groet Karli joviaal en plaas ‘n groot kasserol op die eiland neer. Sy stap oor en gee Wilma ‘n soen en drukkie.

“Hallo, Sus.”

“Charles is hier.” Sy wys na agtertoe waar die gebore Brit kop en skouers bo Bertus uittroon.

“Wilma, dankie vir die uitnodiging. Ek sien baie uit na die unieke ete.” Hy steek ‘n groot hand uit na haar. Sy Afrikaans rol van sy lippe asof dit die mees natuurlikste ding is en Wilma glimlag.

“Hallo, Charles. Daar is niks uniek hieraan nie. Dit is maar normale kos vir ons.”

“Dit klink so eksoties. Souskluitjies, pampoenkoekies, pannekoek en hoenderpastei,” noem hy dit stelselmatig op - elke woord duidelik en perfek uitgespreek.

“Ek sal nou nie boerekos eksoties noem nie, maar ek is bly jy is hier.” Wilma kyk na Bertus wat met rollende oë die gesprek volg en sy glimlag. Immers is die man in háár huis en as daar nou een ding is waarop Ma Ann gesteld was, was dit gasvryheid.  

“Mense, maar dit ruik lekker hier binne,” groet Pieter gul en Karlien gee elkeen van haar susters ‘n stywe druk.

“Hallo julle. Kom in en maak julle tuis. Waar is my peetkind?” vra Wilma.

Klein Magda is die laatlam in die familie en word deur almal bederf. Toe Karlien en Pieter hulle verwittig het van hulle peetouerskap, was hulle aangenaam verras en hulle geniet die kleinding terdeë.

“Sy slaap. Pieter het haar sommer op die sitkamerbank neergelê,” antwoord Karlien terwyl sy elke bak se deksel lig en daarin kyk. Net voor sy die kastrol wil oopmaak keer Wilma haar blitsig.

“Asseblief, moenie oopmaak nie! Die keer moet daai souskluitjies reg uit kom of ek gee dit op vir ‘n bad job.”

“Souskluitjies. Ek lief souskluitjies,” roep Pieter uit. Hy haal twee botteltjies uit hulle ysboks en oorhandig een aan Karlien.

“Hou asseblief duime vas dit kom perfek uit hierdie keer.”

“Ja, laas het Ma ons met kluite gestraf. Daar was niks fluffy daaraan nie,” laat hoor Albi en Wouter glimlag skeefweg.

Wilma gluur hom aan, maar glimlag tog. “Help vir Santie met die tafel, julle twee,” gebied sy gemaak streng en die twee tieners draai om na Santie wat alreeds die wit tafeldoek oopgooi.

“Wanneer kom Pa en sy nuwe vrou?”

“Hulle behoort nou enige tyd hier te wees,” antwoord Wilma angstig. Sy kyk na haar horlosie en dan na die stomende kastrol.

“Ek is seker dit gaan perfek uitkom,” praat Charles en sy knik. Sy is nie so optimisties soos hy nie.

“Is daar nog iets wat gedoen moet word?” vra Karli.

“Nee, als is onder beheer. Jy kan miskien net ‘n ogie hou oor die tafeldek. Ek wil hê ons moet eet sodra Pa-hulle kom anders word die kos koud.”

“Reg so.” Karli hak by Charles in en alle oë volg hulle waar hulle vriendelik met die jonger klomp begin skerts. Dan kyk hulle vir mekaar. Die Britse biljoenêr se onderwêreldse konneksies spel net moeilikheid. Sy ouma, ‘n boerenooi van Cullinan, is die rede vir sy liefde vir die taal.

Oupa Theuns sou Charles by die deur uitgeboender het bloot net omdat hy ‘n Engelsman is. Sal Karli veilig wees, of moet hulle haar keuse eerbiedig? Net tyd sal leer.

Op daardie oomblik slaan ‘n kardeur toe en Bertus stap voordeur toe.

“Kom in, Pa … Elize. Welkom,” groet hy. Wilma stap nader en druk haar pa styf vas.

“Hallo Pa … Elize,” groet sy en staan eenkant toe dat hulle kan in kom.

“Ek het soet patats gebring. Jou pa sê julle is baie lief daarvoor.”

“Dankie, Elize. Ja, ons is.”

“Jis, Tannie. Baie dankie,” roep Albi uit en kom staan ook nader toe Wilma die deksel so effens lig.

“O donderdag!” gil Wilma. Wit water borrel oor die rand en sy trek dit haastig oor na ‘n koue plaat wat ‘n sissende spoor agterlaat.

“Wat nou?” vra Bertus.

“Ek het van die souskluitjies vergeet,” roep sy verbouereerd uit. Die hele stoof is bemors. ‘n Onaangename reuk slurp die welriekende geure in tot ‘n onherkenbare reuk. Bertus gooi die vensters oop. Pieter pluk die agterdeur oop.

“Ek is seker dit sal reg wees,” laat hoor Charles naby haar. Al die bemoedigende woorde kolk om Wilma, maar sy hoor niks en haal die deksel huiwerig af.  

“Ek hoop so.”

“Laat ek help daarmee. Waar kan ek dit afgooi.”

“Nee, ek het die water nodig vir die sous,” keer sy Charles wat regstaan met sy bultende arms om die kastrol op te lig. Hy tree terug en Wilma neem ‘n opskeplepel. Sy diep in die kolkende massa terwyl sy ‘n skietgebedjie opstuur - haar hart in haar keel.

“Hier is ‘n bordjie, Sus,” bied Karlien aan. Dankbaar vat sy dit en sit een perfekte bolletjie daarin. Versigtig steek sy deur dit en dit val oop – mooi uitgerys en geurig.

“Dit lyk perfek, Sus,” sê Karlien en gee haar ‘n drukkie.

Wilma slaak ‘n sug van verligting en werk vinnig om die kluitjies na ‘n ander bak oor te plaas. Dan sprinkel sy dit mildelik met kaneelsuiker en voeg klontjies botter oor die lae. Laaste volg die sous en sy kyk op. Alle oë is op haar gerig, Karli se minsame glimlag die laaste wat sy sien voor sy die kasserol toemaak.

“Daar … ons is klaar. Kan almal kom aansit?” vra sy met ‘n moeë stem.

“Albi, Santi. Is die tafel klaar gedek?”

“Ja, Tannie,” antwoord Wouter.

“Waar is die twee?”

“Hier, Ma. Sjoe, moet al die vensters oop wees?” vra Albi en gryp die eerste vensterknip en slaan die venster toe. Bertus maak die res toe, sy glurende blik op Albi wat eenkant toe staan.

“Dit lyk baie lekker, my kind. Nes jou ma se kos,” sê Pa Jan en gee haar ‘n drukkie.

“Dankie, Pappie. Vandag verlang ek baie na Ma.”

“Ek ook,” beaam die ander dogters. Elize skuifel eenkant toe en Charles gaan staan by haar.

“Ek is Charles.”

“Aangename kennis,” groet sy en kyk na haar pa; en dan na Wilma voor sy die aangebode hand neem.

“Kom sit almal. Pa, sit op die kop en Elize, jy kan aan sy regterkant sit. Sus, Pieter, julle kan in die middel sit. Jul kinders sit oorkant Oom Pieter-hulle. Karli, Charles, julle kan hier sit,” wys Wilma aan en elkeen gaan sit terwyl sy en Santie die kosbakke op die tafel sit.

“Dit lyk nou sommer baie lekker, Ma.”

“Ja Tannie, dit lyk soos ‘n fees.”

“Mammie!” gil die kinderstemmetjie vanuit die sitkamer.

“Ek sal haar kry, tannie Karlien.”

“Dankie Santie.”

“My ma het gesê dat die Afrikaanse kultuur gevind word in die sintuie van ons menswees. Vandag kan ek dit ruik en sien uit om dit te proe ook,” val Charles weg en almal se oë draai na hom voordat Pa Jan hom antwoord.

“Dit is nou wyse woorde daardie, jong man.” Hy gee sy bord aan vir Elize. “Lekker warm,” voeg hy by en glimlag vir Wilma. Warm borde is vir Pa Jan ‘n baie belangrike element van enige goeie ete. Gelukkig het sy dit net betyds onthou.

“Sal Pa die seën vra, asseblief?” vra Bertus en all koppe sak. Selfs klein Magda sit stil op haar pa se skoot, vinger in die pruilmondjie.

Pa Jan knik en almal vat hande. Charles, wat langs Bertus beland het, bied ook sy hand aan en Bertus kyk na Wilma wat sy hand hard druk. Hy sit sy hand in Charles s’n en Pa bid.

Wilma staar na die groepie langs die tafel - dit is háár familie. Dan beland haar blik op Charles wat met geboë hoof na Pa luister. Daarenteen, staar Elize strak na haar bord. Soos altyd is sy eenkant, maar op haar plek. In die twee jaar wat hulle al getroud is, is sy nogsteeds ‘n vreemdeling en miskien is dit tyd om dit te verander. As hulle Charles kan aanvaar, kan hulle haar ook aanvaar.

Wilma skiet ‘n gebedjie op en wanneer Pa amen sê kyk sy na haar stiefma en sê kliphard:

“Ma Elize, die patats lyk lekker. Ek kan nie wag om daarvan te eet nie.”

Die vrou lig haar blik, verbasing in die dieptes. Vir die eerste keer merk Wilma op dat hulle bruin is net soos hare; en sy glimlag breed vir haar en dan vir haar pa. Hy gee haar ‘n waarderende kopknik. Dan verskuif sy haar blik na die res van haar familie toe.

Dit is waar wat Charles se ma gesê het, dink sy. Kultuur bring ons saam, ongeag die verwantskap.

Kopiereg Lynelle Clark

Vrydag 29 April 2022

Kort grepe uit my Lewe #7


Wat vooraf gebeur het:

Deel 1 en 2

Deel 3 en 4

Deel 5 en 6


Deel 7

Nabetragting

Elke vrou is soos die van ‘n Michelangelo beeld. Elke kurwe vasgevang in meesterlike kleurharmonie wat haar ten toon stel as ‘n sagte liefdevolle mens.

Elke keer wat sy vergelyk word met ander se siening van ‘n Michelangelo word ‘n stukkie van haar weg gebeitel. Later bly net klompe of krake oor.

Na dertig jaar van verdra en ingee was daar niks oor nie. Daardie een woord was ‘n dawerende kraak wat die begin van die einde aangekondig het. Veertien jaar na daardie vernietighende hou was dit oor.

Maak nie saak hoe oop kop jy probeer wees nie, pornografie breek alle mooi af. Dit verwoes nie net die huwelik nie maar ook die vrou.

Al hoe meer vrouens wend hulle na hulpmiddels in die hoop om weer die krake te vul. Die sug na “wie is ek” ‘n uitroep vir hulp.

Drank en promiskuïteit het nie vir my gewerk nie.

Die enigste plek waar my stukke weer aanmekaar gesit kon word is by God.

Toe ek terug draai na Hom toe, het Hy my krake ingevul met Sy genesende krag, en word ek gepoets in Sy geregtigheid en heerlikheid. In Sy oë is ek mooi en dit is vir my genoeg.

©Lynelle Clark

 

Sondag 24 April 2022

Kort Grepe uit my Lewe #5 en 6


Wat vooraf gebeur het:

Deel 1 en 2

Deel 3 en 4

Deel 5

“Julle sal reg kom vir ‘n rukkie? Ek wil net gou iets doen.”

“Ek is lus vir roomys.” Skimp my seun.

“Jy weet daar is nie.” Ek gee hom ‘n vuil kyk en hy laat sak sy koppie oor die wiskunde boek.

By die rekenaar stop ek. Ek weet nog nie hoe die elektroniese ding werk nie maar goed word weggesteek en ek wil weet wat.

Die toring lyk intimiderend maar ek druk die knop versigtig. Die skerm flikker aan en ek gaan sit.  

Ek maak soos wat ek Henry sien doen het en kliek op een simbool. ‘n Klomp dokumentasie maak oop. Verbouereerd gly ek die muis rond maar niks gebeur nie.

Onderaan die skerm sien ek ‘n simbool wat baie soos ‘n disk lyk en kliek op dit. ‘n Ander venster maak oop en ek staar geskok daarna. Blonde hare verberg ‘n groot gedeelte van haar gesig. Haar rooi mond in ekstase terwyl ‘n gilletjie van genot oor haar lippe borrel.

‘n Kardeur slaan toe en ek kyk na die deur. Dan druk ek die knop weer en die skerm gaan dood.

“Lynelle waar is jy?” hoor ek sy stem en ek staan woedend op.  Vandag soek ek antwoorde. Basta die werk.


 Deel 6

“Ek het goeie nuus.” Begin hy. Ek verstyf in sy arms en stoot hom weg.

“Ek vlieg oor twee weke Frankryk toe vir akkreditasie. Hannes het gebel.” Henry gaan voort sonder om agter te kom dat my oë vuur spoeg. Die galbitterheid gereed om hom tussen die oë te tref.

“Hy weet van ‘n belegger wat belangstel om in te koop. Die Here het voorsien, Lyn.” Hy plaas die dokumentasie langs die rekenaar neer, draai om en ontmoet my blik en frons.

“Ek …” begin hy maar ek stap uit. Nie in staat om twee woorde bymekaar te voeg nie.

Ons het al hieroor gesels. Het selfs vir huweliksberading gegaan. Duidelik was dit als verniet en ek … ek voel soos ‘n dwaas.  

“Lynelle …” sluit hy minute later by my en die kinders in die klaskamer aan. Ek gaan aan om Isabel se werk na te sien.

“Het jy gehoor wat ek gesê het?”

“Ja.”

“En?”

“Baie geluk.” Is al wat ek kan uitwurg.

Later toe als stil word en ek kamer toe stap sit hy daar. Duidelik jammer vir homself.

“Is jy nie bly oor wat die Here doen nie?”

“Is ek vir jou mooi?” kom my weer vraag. Stom staar hy na my en raak dan stil.

“Nee.”

©LynelleClark

Vrydag 22 April 2022

Kort Grepe uit my Lewe #3 en 4

Wat vooraf gebeur het: Deel 1 en 2


Deel 3

“Mamma, foon!”

“Ek kom.” Die kragopwekker gee ‘n ruk. Die petrol is klaar. Ek sluit die ysterhek en stoot dan die houtdeur op die snerpende koue toe en stap vinnig deur na die klaskamer.

“Wie is dit?”

“Weet nie mamma.” Antwoord my dogter en gaan voort met haar studies.  

“Lynelle wat praat.” Dit is ‘n onbekende nommer en ek frons. Teen die tyd is ons lugtig vir vreemde nommers wat gewoonlik net skuldeisers is. Niemand anders bel nie.

“Lynelle, dit is Tania. Is julle by die huis?”

“Ja, ons is.”

“Ons wil net die yskas kom haal. Ek weet ek het gesê jy kan dit gebruik totdat julle regkom maar ons het weer daaroor gedink en Piet wil dit kom haal. Ek hoop jy verstaan.”

Wat anders moet ek doen as my kop knik in stom verbasing. Die krag is in elk geval af en die yskas leeg. Die kragopwekker kan hom ook nie met genoegsame krag voer nie. Die boksie melk en bakkie margarien kan maar buite staan.

Die vorige week tydens bybelstudie het Tania die yskas aangebied nadat hulle gehoor het van die balju se besoek. Nou wil hulle dit terug hê.

Het God ‘n fout gemaak?

Het ons verkeerd geluister?


Deel 4

“Wat maak jy?” vra ek Henry ure later. Die huis is doodstil. Dit was ‘n lang dag van baie introspeksie en sielswroeginge.

Die mense is hier weg sonder om ons in die oë te kyk. Die yskas vasgemaak agter op die bakkie. Nie lank terug nie het ons saam met hulle deur ‘n krisis gebid. 

“Net besig.” Met sy rug gekeer na my is die rekenaar skerm verskuil.

“Met?” vra ek en stap nader.

“Sommer net iets,” en verander die beeld vinnig. Maar wat ek sien verstom my, dit kan nie wees nie. Ons het al hieroor gepraat.

“Iets gehoor van die offer?”

“Moet die bestuurder en direkteur by LG ontmoet môre.”

“Hoe gaan jy daar kom?”

“Phillip sal my vat.” Ek ontklee, trek my warm nagklere aan en klim tussen die koue lakens in en lê doodstil. Ons sal môreoggend weer water kook vir bad. Nou moet ek staatmaak op my liggaamshitte.

Henry het nog nie beweeg van die lessenaar nie. Die skerm so gedraai dat ek nie kan sien waarmee hy besig is nie.

“Gaan jy nie kom slaap nie?” die woorde bitter in my mond.

“Sal nou. Wil net klaar maak.” Ek draai op my sy en krul in ‘n bondeltjie. Die ‘nou’ gaan nog lank vat.

©LynelleClark

Woensdag 20 April 2022

Kort Grepe uit my Lewe #1 en 2

 

Ek het dit begin skryf tydens 'n mini-kompetisie op 'n skrywersblad. 
Die enigste voorwaarde was dit moet slegs 200 woorde bevat. 
Op daardie stadium het ek alreeds met die gedagte gespeel om my eie verhaal te skryf om oor my eie vrese en skugterheid te kom. Ek het net nie geweet hoe moes ek te werk gaan nie maar die uitdaging het my aangespoor om te begin. Nou vind ek die skrywe bevrydend. 
Waarheen dit gaan lei weet ek nog nie ... maar dit is 'n ander dag se besluit. 

 Hier volg die gebeure tussen 2000 en 2002 in kort grepe.

Skuilname is gebruik waar nodig. 



Deel 1 

“Kan jy die krag aansit? Ek sien dit is af.” Die kind gluur my aan. Venyn merkbaar in die hovaardige houding. Die gordyn sak en ek stap verslae weg. Hoekom Here?
“Pay and I will switch it on!” skree die oudste kind uit die sitkamervenster en die onmiskenbare gegiggel volg my terug na my huis. My voetval dof ploffend op die gras.

“Hoekom is die krag af ma?” vra my oudste.

“Hulle dink dit is snaaks.” Moedeloos ontkoppel ek die strykyster uit die muur en sit dit weg. Vir nou is ek klaar gestryk. Sal môre weer probeer.

“Is die tannie nie daar nie?” Ek skud my kop en verberg my skaamte terwyl ek omdraai en die plank wegsit. Ek sal wat wou gee vir koffie maar water sal moet doen.

“Het pa al iets gehoor van die werk?” vra sy weer. Weer skud ek my kop. Die swaarkry dik en bitter in my keel.

“Wat eet ons vanaand?” vra my elfjarige seun. Ek maak die kasdeur oop. Een blikkie sop staan eenkant in die leë kas.

‘n Kar wat stop voor die voordeur bring my uit my beswyming. Opgevolg deur ‘n vinnige voetval en dan die dawerende klop. “Balju! Maak oop.”

Deel 2

“Lyn, jammer om te pla. Ek wou net die vir jou kom gee.” Val buurvrou weg die oomblik toe ek die voordeur oopmaak en oorhandig drie twintig rand note aan my.

“Ek was besig om vir my kinders lekkergoed te koop toe dink ek aan jou drie. Hulle sal seker ook ietsie lekker wil geniet. Hier is ietsie klein vir elkeen. Hoe gaan dit? Enige nuus oor werk?”

“Hallo Wilma, baie dankie.” Sê ek en stoot die deur groter oop en sluit die ysterhek oop.

“Nee, Henry het nog niks gehoor nie.”

“Die lewe is swaar, en ons kan ook nie almal help nie. Maar sterkte.” Haar medelye klink hol, niksseggend.

“Wil jy inkom?” ‘n Outomatiese vraag en toe dit uit is, is ek dadelik spyt. Die ongemak is duidelik op haar gesig te bespeur, en in my stem te hoor en ek trek die deur op die kaal vertrek toe. 

“Weet jy, die kinders is alleen by die huis. Miskien ‘n volgende keer. Weet ons dink aan julle.” Maak sy verskoning, draai om en begin om weg te stap.

“Baie dankie Wilma. Totsiens.” Groet ek en staar die fyn vrou agterna. My gedagtes in ‘n warboel maar dankbaar vir die klein gebaar.  

Dankie Here. 

©LynelleClark

Vervolg: 

Deel 1 en 2

Deel 3 en 4

Deel 5 en 6

Deel 7

Vrydag 15 Januarie 2021

Die Donker deur Riaan Palmer.

 


Beste lesers.

 

So is daar ‘n paar van julle wat my vra waar is ek en hoekom het ek niks te sê nie. Nou dat ek ‘n boek geskryf het, dink ek, ek is klaar? 

 

Hoe sê jy vir mense? In ‘n samelewing waar mense gereeld op hulle Facebook post “Ek is hier vir jou as jy wil praat.” Maar kan hulle regtig verstaan? Jy het al telkemale gevind dat ander mense nie belangstel in jou probleme nie. So, jy bly maar eerder stil.

So, hierdie post is nie om jou te laat lag nie. As jy gekom het om te lag, moet jy maar eerder nie verder lees nie. Nie vandag nie. Probeer more weer.

Ek skryf dit nie vir simpatie of “toemaar dit gaan beter word nie”. Hierdie post is vir myself. En dit is vir elkeen wat dit nodig het. En dit is vir elkeen wat regtig hulle geliefdes wil verstaan en help. Ek het “Die Donker” lank terug geskryf, maar dit is nog steeds relevant. Want wéér en wéér kom daar mense op ons pad wat die kaarte wegruk, wegloop en jou net daar los – opgebruik.

Partykeer is dit nie mense nie, maar Die Swart hond wat stil-stil gegroei het tot in ‘n onhanteerbare wilde dier.

 

Onthou dat elkeen wat jou pad kruis is besig om 'n stryd te voer waarvan jy niks weet nie. Wees altyd versigtig hoe jy ander mense behandel. Jou aksies kan iemand se dag beter maak of verwoes. 'n Lewe red of 'n lewe neem.

* * *

𝗗𝗶𝗲 𝗗𝗼𝗻𝗸𝗲𝗿

Jy bou ‘n huisie van kaarte. Elke kaart ‘n hoop. ‘n Droom. ‘n Wens. ‘n Aspirasie. ‘n Verlange. ‘n Begeerte.

Jy werk hard. Jy glo. Hierdie gaan ‘n pragtige huisie wees. Dit is jou hele lewe. Jou hele menswees.

Skielik kom daar ‘n warrelwind – dalk net ‘n ligte briesie en jou hele huisie tuimel in duie. Jou harde werk, hoop, drome, trots: verwoes. Jy sak inmekaar van die terugslag, net soos die huisie tuimel jy – plat op die grond. Moedeloos. Maar jy haal diep asem en jy begin weer bou. Jy blaas die kooltjie van hoop weer aan. Stadig maar seker kry jy opgestaan. Jy pak weer jou kaarte – drome, wense, familie, liefde, jou hart – en stadigaan groei die huisie weer. Uiteindelik staan jy weer regop, trots, by jou skepping. Jy glimlag breed en wys vir ander mense jou huisie – jou hele menswees. Jou siel. Jou vriende en familie bewonder dit. Behandel dit teer en met respek.

‘n Vreemdeling kom verbygestap en bekyk jou huisie van kaarte.

“Nee.” Sê die vreemdeling sonder verduideliking. Gevoelloos. Sonder empatie trek die vreemdeling een van die kaarte uit. Dit is ‘n kaart wat die fondasie van jou huisie vorm. Die huisie stort weer ineen. Die vreemdeling stap tevrede weg. Hulle verwoestende werk is gedoen. Onaangeraak deur die verwoesting, teleurstelling en hartseer wat hulle in hulle pad los. Dalk is dit nie eers ‘n vreemdeling nie. Dalk is dit iemand wat jy gedog het jy kan vertrou. Iemand wat help bou het aan die huisie.

Oorweldig deur die terugslag gaan lê jy plat op die grond. Hopeloos. Gebreek. Om jou lê die kaarte gestrooi. Jou handewerk, wat nou ‘n hoop rommel is, word nat van jou trane.

Jy kan nie meer nie. 

Jy wil nie meer nie.

Die Donker kom sit langs jou. Die Donker vat met sy hand aan jou arm.

Laat my in.” Sê Die Donker.

Die Donker sit sy arm om jou.

“Ek sal vir jou sorg.”

Jy weet dis leuens. Die Donker sorg vir niemand en niks. Maar jy is te moeg, te seer om terug te baklei. Jy voel Die Donker heeltemal om jou. In jou.

 

‘n Vreemdeling kom verbygestap en bekyk jou huisie van kaarte.

“Nee.” Sê die vreemdeling sonder verduideliking. Gevoelloos. Sonder empatie trek die vreemdeling een van die kaarte uit. Dit is ‘n kaart wat die fondasie van jou huisie vorm. Die huisie stort weer ineen. Die vreemdeling stap tevrede weg. Hulle verwoestende werk is gedoen. Onaangeraak deur die verwoesting, teleurstelling en hartseer wat hulle in hulle pad los. Dalk is dit nie eers ‘n vreemdeling nie. Dalk is dit iemand wat jy gedog het jy kan vertrou. Iemand wat help bou het aan die huisie.

Oorweldig deur die terugslag gaan lê jy plat op die grond. Hopeloos. Gebreek. Om jou lê die kaarte gestrooi. Jou handewerk, wat nou ‘n hoop rommel is, word nat van jou trane.

Jy kan nie meer nie.

Jy wil nie meer nie.

Die Donker kom sit langs jou. Die Donker vat met sy hand aan jou arm.

“Laat my in.” Sê Die Donker.

Die Donker sit sy arm om jou.

“Ek sal vir jou sorg.”

Jy weet dis leuens. Die Donker sorg vir niemand en niks. Maar jy is te moeg, te seer om terug te baklei. Jy voel Die Donker heeltemal om jou. In jou.

Mense loop verby jou, daar waar jy sonder hoop lê.

Vriende. Familie. Hulle sien nie dat jy plat op die aarde lê nie. Hulle sien nie hoe Die Donker oor jou kruip, deur jou vloei, jou verder wegvat nie.

Die mense vra jou vriendelik “Hoe gaan dit?”

Jy lig jou kop op en glimlag breed. “Goed dankie!” Dit is makliker om te glimlag as om te probeer verduidelik hoe jy voel. Hulle wil in elk geval nie die waarheid hoor nie, want hulle weet nie wat om daarmee te doen nie. Jy wil eintlik jou hand uitsteek en uitroep “Help my!”

Maar Die Donker maak jou stil. “Ek is joune. En jy is myne. Dis net ons. Niemand anders nie.” En dit word nog bietjie donkerder. 

 

Jy weet jy moet hier uit. Maar daar is nie meer krag nie. Nie meer hoop nie. Nie meer drome nie.

Jy het genoeg gehad. Wil nie. Kan nie. Sal nie.

Hoeveel keer moet jy die huisie weer probeer bou? Die kaarte van hoop en drome en geluk en liefde is so gebuig, verinneweer, dat dit nooit weer ‘n sterk fondasie sal wees nie.

Soos jy lê en wag, vir Die Donker om sy werk te doen, sien jy ánder mense om jou wat groter, mooier huisies gehad het. Hulle huisies het ook in duie gestort en nou lê hulle met gewonde siele op die grond. By elke gebreekte mens sit daar Die Donker.

Een vrou het haar kind verloor. Haar Donker is Hartseer. Sy kan geen lig verby haar Donker sien nie, dit oorweldig haar totaal en al. Haar Donker is dood stil. Hy hoef niks te sê nie.

‘n Ander man het alles verloor. Sy Donker is Drank. “Nog net een keer. Hierdie slukkie sal anders wees. Dis die laaste keer.” Sê sy Donker vir hom.

Jy weet Die Donker lieg.

Jy sien al die ander mense om jou wat ook deur Die Donker gevat is. Jy verstaan hulle. Hulle verstaan jou. Jy weet jy kan niks vir hulle doen nie. Hulle weet hulle kan niks vir jou doen nie. Party se Donker is baie donkerder as joune. Maar hulle Donker is húlle Donker. Jou Donker is jóú Donker.

 

𝐷𝑖𝑒 𝐷𝑜𝑛𝑘𝑒𝑟 𝑖𝑠 𝑤𝑟𝑒𝑒𝑑. 𝐺𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒𝑙𝑜𝑜𝑠.

𝐷𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑘𝑜𝑜𝑟𝑠 𝑛𝑖𝑒, 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑜𝑛𝑑𝑒, 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑏𝑙𝑜𝑒𝑑,

𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑡𝑜𝑒𝑡𝑠𝑒 𝑜𝑚 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑡𝑒 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑖𝑒𝑡𝑠 𝑖𝑠 𝑓𝑜𝑢𝑡 𝑛𝑖𝑒.

𝑁𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑎𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑒𝑟𝑜𝑠𝑖𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑒𝑙𝑓, 𝑠𝑜 𝑣𝑒𝑟𝑟𝑎𝑑𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑘𝑎𝑛𝑘𝑒𝑟.

𝐸𝑛 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑘𝑎𝑛𝑘𝑒𝑟, 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑛 𝑤𝑒𝑠𝑒 '𝑛 𝑒𝑒𝑛𝑠𝑎𝑚𝑒 𝑒𝑟𝑣𝑎𝑟𝑖𝑛𝑔;

'𝑛 𝑘𝑎𝑚𝑒𝑟 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑙 𝑚𝑒𝑡 𝑛𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑛𝑎𝑎𝑚 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟.

Jy sien ‘n man gaan staan stil langs ‘n gevallene. “Staan op man!” Sê hy vir die gevallene. “Dis nie so erg nie. Moenie so sussie wees nie. Ruk jou reg.” Die gevallene probeer opbeur, maar Die Donker is te groot. Te swaar. Jy wil uitroep “Los hom uit! Wat weet jy van Die Donker af?”. Maar jy’t nie ‘n stem nie.

Langs jou kom kniel iemand. ‘n Vreemdeling. Sy glimlag vir jou en gee vir jou ‘n splinternuwe kaart. Sy draai woordeloos om en loop.

Jy draai die kaart om en om in jou vingers. Dis maar ‘n vaal, onbenullige kaart, maar in jou oë is dit ‘n besondere mooi kaart.

Die Donker haal sy knieg van jou bors af.

Die kaart sal ‘n sterk fondasie maak.

Die Donker gee ‘n tree agteruit.

“Jy is spesiaal. Jy is belangrik vir ons.” Staan die woorde op die kaart.

“Jy is niemand. Jy is niks.” Probeer Die Donker vasklou.

Nog. Net. Een. Keer.

Jy sit die blink nuwe kaart regop en balanseer een van jou ou, geskeurde vuil kaarte teen dit. HOOP – kan jy net-net die woord uitmaak. Die twee kaarte teen mekaar staan net-net regop. Die begin van ‘n kaartehuisie.

Moenie huil as die son nie meer skyn nie. Jy gaan nie die sterre deur jou trane kan sien nie.

𝘕𝘰𝘨. 𝘕𝘦𝘵. 𝘌𝘦𝘯. 𝘒𝘦𝘦𝘳.

* * *

Opgedra aan:

Ek dra hierdie op aan almal wat sukkel met depressie, seerkry, swaarkry. Almal wat Die Donker ken. Ek het nie woorde van wysheid wat jou gaan laat beter voel nie.

Net dit: Nog. Net. Een. Keer.

Nog net een tree.

Nog net een dag.

As jy verlore is in die woud, neem dit jou soms 'n rukkie om te besef dat jy verlore is. Vir ‘n rukkie probeer jy jouself oortuig dat jy net so bietjie van die paadjie afgestap het en dat jy enige oomblik weer die voetpad sal kry. Dan word dit nag en weer en weer, en jy weet nog steeds nie waar jy is nie. Dan is dit tyd om te erken dat jy so ver van die pad afgedwaal het, dat jy nie eers meer weet watter rigting die son opkom nie. Maar soek die lig. Dis wanneer dit die donkerste is, wat jy lig die maklikste kan raaksien. En gaan daarnatoe. Dit voel of jy nie krag het nie. Maar jy hét. Soek die lig. Laat die lig toe.

* * *

Meer belangriker dra ek die op aan die mense wat NIE nou op hulle knieë staan met Die Donker langs hulle nie: 𝘋𝘦𝘦𝘭 ‘𝘬𝘢𝘢𝘳𝘵𝘦’ 𝘶𝘪𝘵. Oral waar jy gaan. Jy het géén idee hoe groot verskil die mees onbenulligste kompliment aan iemand se lewe/dag kan maak nie. As jy wegstap by iemand, wat los jy daar? Verwoesting? Of hoop? Lewe jy jou lewe so dat, as jy vertrek, die mense wat agter bly is, of jammer is dat jy moet gaan? Dit is so eenvoudig. Daar is mense om ons wat lewens verwoes, en daar is mense om ons wat lewens red. Jou keuse.

 © Riaan Palmer 2021

 Kontak Riaan op sy Facebook blad 


 

Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...