Wys tans plasings met die etiket bemoediging. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket bemoediging. Wys alle plasings

Vrydag 15 Januarie 2021

Die Donker deur Riaan Palmer.

 


Beste lesers.

 

So is daar ‘n paar van julle wat my vra waar is ek en hoekom het ek niks te sê nie. Nou dat ek ‘n boek geskryf het, dink ek, ek is klaar? 

 

Hoe sê jy vir mense? In ‘n samelewing waar mense gereeld op hulle Facebook post “Ek is hier vir jou as jy wil praat.” Maar kan hulle regtig verstaan? Jy het al telkemale gevind dat ander mense nie belangstel in jou probleme nie. So, jy bly maar eerder stil.

So, hierdie post is nie om jou te laat lag nie. As jy gekom het om te lag, moet jy maar eerder nie verder lees nie. Nie vandag nie. Probeer more weer.

Ek skryf dit nie vir simpatie of “toemaar dit gaan beter word nie”. Hierdie post is vir myself. En dit is vir elkeen wat dit nodig het. En dit is vir elkeen wat regtig hulle geliefdes wil verstaan en help. Ek het “Die Donker” lank terug geskryf, maar dit is nog steeds relevant. Want wéér en wéér kom daar mense op ons pad wat die kaarte wegruk, wegloop en jou net daar los – opgebruik.

Partykeer is dit nie mense nie, maar Die Swart hond wat stil-stil gegroei het tot in ‘n onhanteerbare wilde dier.

 

Onthou dat elkeen wat jou pad kruis is besig om 'n stryd te voer waarvan jy niks weet nie. Wees altyd versigtig hoe jy ander mense behandel. Jou aksies kan iemand se dag beter maak of verwoes. 'n Lewe red of 'n lewe neem.

* * *

𝗗𝗶𝗲 𝗗𝗼𝗻𝗸𝗲𝗿

Jy bou ‘n huisie van kaarte. Elke kaart ‘n hoop. ‘n Droom. ‘n Wens. ‘n Aspirasie. ‘n Verlange. ‘n Begeerte.

Jy werk hard. Jy glo. Hierdie gaan ‘n pragtige huisie wees. Dit is jou hele lewe. Jou hele menswees.

Skielik kom daar ‘n warrelwind – dalk net ‘n ligte briesie en jou hele huisie tuimel in duie. Jou harde werk, hoop, drome, trots: verwoes. Jy sak inmekaar van die terugslag, net soos die huisie tuimel jy – plat op die grond. Moedeloos. Maar jy haal diep asem en jy begin weer bou. Jy blaas die kooltjie van hoop weer aan. Stadig maar seker kry jy opgestaan. Jy pak weer jou kaarte – drome, wense, familie, liefde, jou hart – en stadigaan groei die huisie weer. Uiteindelik staan jy weer regop, trots, by jou skepping. Jy glimlag breed en wys vir ander mense jou huisie – jou hele menswees. Jou siel. Jou vriende en familie bewonder dit. Behandel dit teer en met respek.

‘n Vreemdeling kom verbygestap en bekyk jou huisie van kaarte.

“Nee.” Sê die vreemdeling sonder verduideliking. Gevoelloos. Sonder empatie trek die vreemdeling een van die kaarte uit. Dit is ‘n kaart wat die fondasie van jou huisie vorm. Die huisie stort weer ineen. Die vreemdeling stap tevrede weg. Hulle verwoestende werk is gedoen. Onaangeraak deur die verwoesting, teleurstelling en hartseer wat hulle in hulle pad los. Dalk is dit nie eers ‘n vreemdeling nie. Dalk is dit iemand wat jy gedog het jy kan vertrou. Iemand wat help bou het aan die huisie.

Oorweldig deur die terugslag gaan lê jy plat op die grond. Hopeloos. Gebreek. Om jou lê die kaarte gestrooi. Jou handewerk, wat nou ‘n hoop rommel is, word nat van jou trane.

Jy kan nie meer nie. 

Jy wil nie meer nie.

Die Donker kom sit langs jou. Die Donker vat met sy hand aan jou arm.

Laat my in.” Sê Die Donker.

Die Donker sit sy arm om jou.

“Ek sal vir jou sorg.”

Jy weet dis leuens. Die Donker sorg vir niemand en niks. Maar jy is te moeg, te seer om terug te baklei. Jy voel Die Donker heeltemal om jou. In jou.

 

‘n Vreemdeling kom verbygestap en bekyk jou huisie van kaarte.

“Nee.” Sê die vreemdeling sonder verduideliking. Gevoelloos. Sonder empatie trek die vreemdeling een van die kaarte uit. Dit is ‘n kaart wat die fondasie van jou huisie vorm. Die huisie stort weer ineen. Die vreemdeling stap tevrede weg. Hulle verwoestende werk is gedoen. Onaangeraak deur die verwoesting, teleurstelling en hartseer wat hulle in hulle pad los. Dalk is dit nie eers ‘n vreemdeling nie. Dalk is dit iemand wat jy gedog het jy kan vertrou. Iemand wat help bou het aan die huisie.

Oorweldig deur die terugslag gaan lê jy plat op die grond. Hopeloos. Gebreek. Om jou lê die kaarte gestrooi. Jou handewerk, wat nou ‘n hoop rommel is, word nat van jou trane.

Jy kan nie meer nie.

Jy wil nie meer nie.

Die Donker kom sit langs jou. Die Donker vat met sy hand aan jou arm.

“Laat my in.” Sê Die Donker.

Die Donker sit sy arm om jou.

“Ek sal vir jou sorg.”

Jy weet dis leuens. Die Donker sorg vir niemand en niks. Maar jy is te moeg, te seer om terug te baklei. Jy voel Die Donker heeltemal om jou. In jou.

Mense loop verby jou, daar waar jy sonder hoop lê.

Vriende. Familie. Hulle sien nie dat jy plat op die aarde lê nie. Hulle sien nie hoe Die Donker oor jou kruip, deur jou vloei, jou verder wegvat nie.

Die mense vra jou vriendelik “Hoe gaan dit?”

Jy lig jou kop op en glimlag breed. “Goed dankie!” Dit is makliker om te glimlag as om te probeer verduidelik hoe jy voel. Hulle wil in elk geval nie die waarheid hoor nie, want hulle weet nie wat om daarmee te doen nie. Jy wil eintlik jou hand uitsteek en uitroep “Help my!”

Maar Die Donker maak jou stil. “Ek is joune. En jy is myne. Dis net ons. Niemand anders nie.” En dit word nog bietjie donkerder. 

 

Jy weet jy moet hier uit. Maar daar is nie meer krag nie. Nie meer hoop nie. Nie meer drome nie.

Jy het genoeg gehad. Wil nie. Kan nie. Sal nie.

Hoeveel keer moet jy die huisie weer probeer bou? Die kaarte van hoop en drome en geluk en liefde is so gebuig, verinneweer, dat dit nooit weer ‘n sterk fondasie sal wees nie.

Soos jy lê en wag, vir Die Donker om sy werk te doen, sien jy ánder mense om jou wat groter, mooier huisies gehad het. Hulle huisies het ook in duie gestort en nou lê hulle met gewonde siele op die grond. By elke gebreekte mens sit daar Die Donker.

Een vrou het haar kind verloor. Haar Donker is Hartseer. Sy kan geen lig verby haar Donker sien nie, dit oorweldig haar totaal en al. Haar Donker is dood stil. Hy hoef niks te sê nie.

‘n Ander man het alles verloor. Sy Donker is Drank. “Nog net een keer. Hierdie slukkie sal anders wees. Dis die laaste keer.” Sê sy Donker vir hom.

Jy weet Die Donker lieg.

Jy sien al die ander mense om jou wat ook deur Die Donker gevat is. Jy verstaan hulle. Hulle verstaan jou. Jy weet jy kan niks vir hulle doen nie. Hulle weet hulle kan niks vir jou doen nie. Party se Donker is baie donkerder as joune. Maar hulle Donker is húlle Donker. Jou Donker is jóú Donker.

 

𝐷𝑖𝑒 𝐷𝑜𝑛𝑘𝑒𝑟 𝑖𝑠 𝑤𝑟𝑒𝑒𝑑. 𝐺𝑒𝑛𝑎𝑑𝑒𝑙𝑜𝑜𝑠.

𝐷𝑎𝑎𝑟 𝑖𝑠 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑘𝑜𝑜𝑟𝑠 𝑛𝑖𝑒, 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑤𝑜𝑛𝑑𝑒, 𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑏𝑙𝑜𝑒𝑑,

𝑔𝑒𝑒𝑛 𝑡𝑜𝑒𝑡𝑠𝑒 𝑜𝑚 𝑚𝑒𝑛𝑠𝑒 𝑡𝑒 𝑙𝑎𝑎𝑡 𝑤𝑒𝑒𝑡 𝑖𝑒𝑡𝑠 𝑖𝑠 𝑓𝑜𝑢𝑡 𝑛𝑖𝑒.

𝑁𝑒𝑡 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑡𝑎𝑑𝑖𝑔𝑒 𝑒𝑟𝑜𝑠𝑖𝑒 𝑣𝑎𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝑠𝑒𝑙𝑓, 𝑠𝑜 𝑣𝑒𝑟𝑟𝑎𝑑𝑒𝑟𝑙𝑖𝑘 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑘𝑎𝑛𝑘𝑒𝑟.

𝐸𝑛 𝑠𝑜𝑜𝑠 𝑘𝑎𝑛𝑘𝑒𝑟, 𝑖𝑠 𝑑𝑖𝑡 𝑖𝑛 𝑤𝑒𝑠𝑒 '𝑛 𝑒𝑒𝑛𝑠𝑎𝑚𝑒 𝑒𝑟𝑣𝑎𝑟𝑖𝑛𝑔;

'𝑛 𝑘𝑎𝑚𝑒𝑟 𝑖𝑛 𝑑𝑖𝑒 𝐻𝑒𝑙 𝑚𝑒𝑡 𝑛𝑒𝑡 𝑗𝑜𝑢 𝑛𝑎𝑎𝑚 𝑜𝑝 𝑑𝑖𝑒 𝑑𝑒𝑢𝑟.

Jy sien ‘n man gaan staan stil langs ‘n gevallene. “Staan op man!” Sê hy vir die gevallene. “Dis nie so erg nie. Moenie so sussie wees nie. Ruk jou reg.” Die gevallene probeer opbeur, maar Die Donker is te groot. Te swaar. Jy wil uitroep “Los hom uit! Wat weet jy van Die Donker af?”. Maar jy’t nie ‘n stem nie.

Langs jou kom kniel iemand. ‘n Vreemdeling. Sy glimlag vir jou en gee vir jou ‘n splinternuwe kaart. Sy draai woordeloos om en loop.

Jy draai die kaart om en om in jou vingers. Dis maar ‘n vaal, onbenullige kaart, maar in jou oë is dit ‘n besondere mooi kaart.

Die Donker haal sy knieg van jou bors af.

Die kaart sal ‘n sterk fondasie maak.

Die Donker gee ‘n tree agteruit.

“Jy is spesiaal. Jy is belangrik vir ons.” Staan die woorde op die kaart.

“Jy is niemand. Jy is niks.” Probeer Die Donker vasklou.

Nog. Net. Een. Keer.

Jy sit die blink nuwe kaart regop en balanseer een van jou ou, geskeurde vuil kaarte teen dit. HOOP – kan jy net-net die woord uitmaak. Die twee kaarte teen mekaar staan net-net regop. Die begin van ‘n kaartehuisie.

Moenie huil as die son nie meer skyn nie. Jy gaan nie die sterre deur jou trane kan sien nie.

𝘕𝘰𝘨. 𝘕𝘦𝘵. 𝘌𝘦𝘯. 𝘒𝘦𝘦𝘳.

* * *

Opgedra aan:

Ek dra hierdie op aan almal wat sukkel met depressie, seerkry, swaarkry. Almal wat Die Donker ken. Ek het nie woorde van wysheid wat jou gaan laat beter voel nie.

Net dit: Nog. Net. Een. Keer.

Nog net een tree.

Nog net een dag.

As jy verlore is in die woud, neem dit jou soms 'n rukkie om te besef dat jy verlore is. Vir ‘n rukkie probeer jy jouself oortuig dat jy net so bietjie van die paadjie afgestap het en dat jy enige oomblik weer die voetpad sal kry. Dan word dit nag en weer en weer, en jy weet nog steeds nie waar jy is nie. Dan is dit tyd om te erken dat jy so ver van die pad afgedwaal het, dat jy nie eers meer weet watter rigting die son opkom nie. Maar soek die lig. Dis wanneer dit die donkerste is, wat jy lig die maklikste kan raaksien. En gaan daarnatoe. Dit voel of jy nie krag het nie. Maar jy hét. Soek die lig. Laat die lig toe.

* * *

Meer belangriker dra ek die op aan die mense wat NIE nou op hulle knieë staan met Die Donker langs hulle nie: 𝘋𝘦𝘦𝘭𝘬𝘢𝘢𝘳𝘵𝘦𝘶𝘪𝘵. Oral waar jy gaan. Jy het géén idee hoe groot verskil die mees onbenulligste kompliment aan iemand se lewe/dag kan maak nie. As jy wegstap by iemand, wat los jy daar? Verwoesting? Of hoop? Lewe jy jou lewe so dat, as jy vertrek, die mense wat agter bly is, of jammer is dat jy moet gaan? Dit is so eenvoudig. Daar is mense om ons wat lewens verwoes, en daar is mense om ons wat lewens red. Jou keuse.

 © Riaan Palmer 2021

 Kontak Riaan op sy Facebook blad 


 

Saterdag 29 Junie 2019

Luister jy na jou spieëlvrou? deur Lynelle Clark


Anders as die meeste van ons is die spieëlvrou baie geduldig. Haar beeld ‘n konstante herinnering van wie jy is, wie jy geword het en selfs jou tekortkominge word onderstreep deur haar. So in die stilligheid is haar teenwoordigheid ‘n vingerwysing en vermy ons haar eerder as die spreekwoordelike wit olifant in die vertrek.
Vir baie jare het ek my spieëlvrou vermy. Sy was daar, onopmerklik, geduldig en stil. Altyd opgesluit in die vergulde of houtrame van my spieëls. Ek het haar geignoreer, haar geen erkenning gegee nie. Vir jare haar vermy soos die plaag. Want om na haar te kyk is om tot in jou siel te kyk. Daar waar dinge anders lyk as jou huidige lewe. Jou sielsoë die veroordeling, wat die hoekom vrae loslaat, en die een wat meer soek.
Sy wek in jou ‘n gewaarwording van die ware self vanuit die spieëlbeeld. Sy kom nie met kwistige woorde of ‘n heuningkwas en paai jou nie. Nee, sy is die waarheid. Sy verteenwoordig die jy in ‘n weerkaatsende formaat. Haar weerkaatsing is nie wensdenkery nie. Dit is eerder die realiteit verdoesel in die spanningsvolle eise van jou lewe.
Stil en sluimerend sal sy so nou en dan verskyn en indien jy haar nie raaksien nie, retireer sy in haar spieëlwêreld en wag. Die dag wat sy uiteindelik jou aandag het verander jou lewe. Handomkeer verander dit vir die goeie. Haar waarheid soos ‘n wakker-word klap wat jou tussen die oë tref.
Ek weet, myne het. Dit was een oggend, tydens die normale was-roetine voor die dag begin het toe sy my vra, “Wie is jy nou eintlik?” Ek het toe geweet ek kan haar nie langer vermy nie. Die eie ek so ver weg gebêre tussen al die moets en moenies dat sy nie meer geskitter het in haar eie reg nie.
As vrou word jy maklik in ‘n hoekie geplaas en dink jy dit is reg en eintlik baie Christelik van jou maar die een wat die meeste skade lei, is jy. Die spieëlvrou wys dit uit. Dit is ‘n harde werklikheid maar sy dra dit tog sagkuns oor. Daar is geen eise of oordeel van haar kant af nie. Soos ‘n goeie feë-moeder wys sy jou die tekortkominge uit. Soms met een vraag, of dalk ‘n beeld wat na jou terugstaar. Maar jy weet onvermydelik dat sy die een is wat nou praat. Heel moontlik omdat sy na 30 jaar besluit het genoeg is genoeg. As sy nie nou tussenbeide tree nie sal jy sterf.
Omdat sy net die beste vir jou op haar hart het wil sy jou sien skitter. Om te verdof in die niet in beteken sy verdwyn ook. In dit is sy eintlik selfsugtig. Sy soek haar plekkie in die son en gun dit vir jou. Sy wil hê julle twee moet saam die eindstreep behaal. Daardie plek waar jy skitter, blink en gepoets uitgestal word as ‘n kosbare edelsteen.
Ons onderskat haar waarde as spieëlvrou. Sy is die beeld van die ware jy. Dit beteken nie jy spring die proses van skitter vry nie. Allermins. Maar jy stap dit nie alleen nie. As mens is jy van daardie oomblik wat jy haar erkenning gee bewus van haar.
Elke tree wat jy stap is sy daar, altyd teenwoordig. Sy bly jou aanspoor. Sy vertrou jou om die regte ding te doen. Om jou beste te doen. Sy word dan jou eie private rasieleier en bly getrou aan jou sy. Sy verdwyn nie, sy bly op haar plek. Elke keer wat jy die spieël besoek is sy daar.
Die spieëlvrou se deursettingsvermoë is iets om te admireer. Net sy weet wanneer jy jou volle potensiaal bereik het. Tot dan bly sy getrou in haar aanmoediging.
So min is eintlik bekend van haar. Haar naam onbekend, en haar afkoms onbelangrik. 
Ons elkeen het ‘n spieëlvrou wat geduldig wag om ons te ontwaak soos ‘n Sneeuwitjie van ouds. Dit is net wanneer ons uit ons slaap geruk word dat ons werklik kan groei in ons potensiaal. Ons lewe gevul met die goeie, want sien wanneer ons skitter gee ons vanuit daardie plek van oorwinning.
Indien jy nie oorwinning gesmaak het nie of die pad ken nie, bly jy bitter en stagneer. Dit ontneem jou van ‘n toekoms. Bitterheid maak jul albei lam, druk al die lewe uit julle uit. Maar sy is veerkragtig en spring dadelik in plek indien jy haar toelaat om jou uit jou kassie te laat kom. Maar die besluit berus by jou. Om haar te erken as jou gewete is die begin van jou lewe.
Indien nie, wag sy getrou op haar pos so in die rame opgehang oral in jou huis.
Kopiereg Lynelle Clark 2019

Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...