Vrydag 26 Augustus 2022

Geblik of gebottel? Deur Riki Malan

Hierdie storie het my so geïnspireer dat ek dit graag wou deel. 

Riki Malan het die rubriek as 'n opdrag ingehandig tydens die pas afgelope Kompetisie 10 van Skryf jou Storie en Diggroep vir Beginners en Begaafdes. Sy het die algehele sesde plek ingepalm tydens die kompetisie en met haar toestemming deel ek dit graag met die lesers. 

Riki is sonder fiemies en skryf soos sy praat. Sy is opreg en mensliewend en sê 'n ding sonder vertoon. 

Sluit gerus aan by die groepe ... wie weet jy kan dalk ook een van die wenners wees. 



Is daar 'n plek waar ou vergete drome woon? Dalk op 'n eiland waar hul saamtrek en met nostalgie gesels oor wat kon wees, oor sukses en akkolades wat net lang stiltes geword het. Stories wat mekaar met vreugde vul, maar ook hartseer laat oor wat nooit sal wees nie? Die blink van die drome begin taan en die blou-pers vlekke verklik die verloop van tyd.

Geblik of gebottel ... drome het nie 'n vervaldatum nie. Vir elke jaar wat vir my gevoeg word, voel dit asof tyd my nukkerig en aspris van agteraf inhardloop. Ek wil my hande opsteek en aan tyd se wysers hang om die tik-tak te rem, al is dit net vir 'n wyle.

Hier in die tweede rondte van my tweede beurt, wil ek my lewe dubbel ervaar en dorstig indrink voor ek weer vergeet. My drome van lank, lank gelede afstof en blink opvryf met Brasso en 'n sagte lap. 

My eerste droom glimlag haasbek vir my - 'n "Teenage-pop"-koek vir my drie-en- sestigste verjaarsdag - versier met wit en pienk skuimpies, gepak oor 'n tjoklitkoek in die vorm van 'n hoepelrok. As kind was dit vir my die mooiste koek ooit. Dalk is dit nostalgie, maar hierdie jaar is dit myne.

My tweede droom het letterlik in my lewe ingejaag - 'n 1968 Ford Mustang. As tienjarige val ek gat oor kop oor kroon vir die fliek "Bullitt," waarin Steve McQueen die hoofrol vertolk. Ek en Steve het sonder remme saam deur San Francisco se strate gejaag en my hart het vinniger geklop as wat daai Mustang se perde kon gallop.

Hierdie droom bottel ek vir eers, nie net oor finansies nie, maar veral oor die prentjies in my kop. Daar is 'n liedjie wat sê: "your hip bone is connected to your thigh bone" en dit is nie waar nie. Sou ek nou só laag moet buk om in die Mustang te klim, sal dit beslis die dag wees waarop ek uitvind dat my heupbeen aan my enkelbeen, wensbeen, holspier en lagspiere gekoenêk is. Dus, bottel toe met jou.

My derde droom wys dadelik potensiaal en ek voel laf en wil besig raak, want daar is geen rede om nie 'n regte, outydse "garage party" te hou nie! As tiener was hierdie my "sweet sixteen" droom. Sewe-en-veertig jaar later gaan ek self sorg dat die "crinkle paper" geknip en dan skuins van hoek tot hoek oor die plafon gespan word. Die platespeler in die hoek staan gereed om "Springbok Hits" te speel; en die tafel teen die muur gaan gelaai word braaivleis, broodrolletjies en gesnyde tamaties. Die Oros in die emmer wat met twee blikke vrugte in stroop gemeng sal word, moet dien as drinkgoed en sommer ook poeding. Die parytjie gaan afskop af met CCR se "Hey tonight" en afsluit met almal wat uit volle bors saam Cliff Richards " Forty Days" sing. Hierdie droom gaan voor 2023 'n groen regmerkie kry. Hoera!

Terwyl ek onder my Bidboom sit en 'n duik in die kondensmelkblikkie suig, wonder ek wat laat mens jou drome langs die pad verloor of sommer net oorboord gooi. Het jou droom 'n vuuroffer geword om ander warm te hou? 

Die afgelope week het ek met 'n paar vriende gesels oor drome wat was, oor nou en en waar dit heengaan.

"Riki, wanneer realiteit by jou voordeur instap vlieg meeste van jou drome by die agterdeur uit. Trou, werk, kinders, rekeninge, verpligtinge en SOS (same old shit) kruis daagliks jou pad." 

En jou droom?" vra ek. "Is daar iets op die horison wat blink?"

"Net 'n Gadget wat die seer van die verlede uit my brein kan skoonvee en die onnodige bagasie wat mens daagliks saamsleep kan laat verdwyn, ou Rix. Dit is nou my enigste droom." My hart lê skeef vir haar.

Volgende bel ek my bendemaatjie. "Myne bendemaatjie, drome loop dood in doodloopstrate. Daar waar jy die agterste potjie op die stukkende stoofplaat is en elke dag aan die agterspeen moet suig." Haar stem breek terwyl my hart breek.

Deur al die jare wat ek haar ken, bak sy vir 'n inkomste. Elke keer as Koos sy werk verloor as gevolg sy Pethidine-verslawing, moes sy bedags uitspring om te werk, net om saans te kom bak terwyl sy  bid vir bestellings. Hoeveel keer moes sy die handelose leisels optel? Trek na familie, na vriende, na amper op straat? Te veel keer.

Na Koos se dood werk sy hard, word mens en begin lag en huppel. Sy verloor gewig, raak verlief en gooi haar nuwe liggewig hartjie in hande waar dit nie hoort nie, spaargeld en al.

"Nou is ek weer terug waar ek was net na Koos se dood. Elke dag kyk ek in my seun se oë vir onderdak en een bord kos per dag. Agtien ure 'n dag werk ek, Rix. Bak, maak huis skoon, was en stryk, kook en doen skottelgoed, maar dis nooit genoeg of goed genoeg nie," snik my bendemaatjie. 

Hoe vra ek nou hierdie rou vrou met die breekstem of sy nog drome het?

"In al die jare, tussen my gebede en drome, het die Here nooit my kinders honger bed toe laat gaan nie. So, ek moet glo aan my drome. As ek dit nie doen nie, wie sal dan? Ek droom oor 'n huis van my eie waar ek heeldag kan bak ... oor karre wat reg rondom die blok parkeer om hul bestellings te kom afhaal."

"O ja, en iemand wat my kan lief hê. Ek wil in sy oë kyk en sien dat hy dink ek is mooi en nie net goed genoeg nie, maar die beste. Ek wil nie meer naai en nooit swieties kry nie, ek wil swietieswaardig en blomwaardig wees - sonder sooibrand en trane oor 'n bord kos en 'n dak oor my kop. Net dìt, Rix, net dit."

Fokkers, dis wie. Dit is fokkers wat jou drome uitmekaar skeur en dit met hul vuil voete vertrap en vermorsel. "Kyk nou só, skielik kan DÍT skilder, skets, skryf, dig, klei gooi en bak. As-se-fokken-blief, pure wensdenkery!" Pimpel en pers geknyp swem jou drome dan maar vir Dooie-drome-eiland.

Hier op my dak met 'n fiela en tee weet ek dat wens en droom nie dieselfde is nie. Ek wens gereeld my buurvrou moet 'n kramp in haar poephol kry, maar glo my, ek wil nié daaroor droom nie! Jy sien, dit is die ding van wens. Daar waar hy op sy gat sit, sal hy bly sit tot hy in sy laaste gat ingly en onder die kluite beland. Fluit-fluit fêkoff.

My voortrek droom van die afgelope tien jaar het amper net 'n wens gebly, totdat dit skielik drie maande gelede vlerke gekry het. Ek en Vlam-my-Lam het Oos-Rand toe gery en besigheid loop doen.

Sewe erwe langs mekaar met sewe woonstelle, sewe groot eenmankamers en 'n groot ronde dubbelverdieping-huis op elke erf. Die grondvloer van die ronde-huis dien as winter kombuis met 'n kaggelvuur en rakke vol boeke en 'n lang eet- en     kuiertafel. Lag, gesels en liefde sal ons kombuistaal wees terwyl "Die Waarheid"-radiostasie 24/7 uitgesaai sal word. Die boonste verdieping is die somerkombuis, met baie koelte; en 'n ligte bries wat van die see se kant af inwaai.

Hoe gelukkig vir ons dat my en Vlam-my-Lam se drome aan "paralelle spesies" behoort. 'n Groot werkswinkel en opleidingsentrum om dít waarvoor hy gekwalifiseerd is te kan uitleef. Om oud en jonk 'n kans te gee om te "qualify" as die room van elektrisiëns in hierdie land - sonder matriek, want daai papiere is blank domino's.

Sy oë blink terwyl sy hande en die honde saam gesels. "Rixter, ek kan nie wag nie, my ou. My hol brand spierwit soos 'n goeie tweedehandse kar. Ek is reg om weg te spring." 

"Ek sien jou, Vlam Malan."

Dit is my droom is vir jóú. Jy, wie jou menswaardigheid verloor het deur onwaardige mense; jy, wat weggooi is deur jou kinders. Siele wie se oë kraak en breek terwyl hul droomloos smeek om aalmoese, want die werklikheid van honger is seer.

Eensaamheid is 'n bliksem. Hierdie veilige hawe is joune, kosteloos. Die prys is liefde, daagliks betaalbaar met lag en bietjie simpel lawwigheid.

Binne twee jaar gaan ek die rooi tapyt vir jou uitrol. Hier waar jy weer jouself kan vind terwyl jy leer om jouself weer te koester en lief te hê.  'n Plek waar die holtes van jou voete perfek gaan pas. Jou eie plek, teen jou eie pas, op jou eie tyd.

Welkom by God se Spens waar jou drome, gebottel of geblik, weer begin asemhaal. Die Brasso en sagte lappie is onder die wasbak. Help jouself.

Drome is gebede wat deur die Here self beantwoord word. Mooi drome vir jou.

Julle moet my nou asseblief eers verskoon. Ek wil gou gaan kyk of ek Ansie voor in die ry by Liewe Jesus kan indruk vir haar dak en bord kos, sonder sooibrand en trane. Ek weet jý sal verstaan.

Kopiereg Riki Malan 31 Julie 2022

 

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...