Sunday, December 30, 2018

Nuwejaars Boodskap vir 2019

Die tyd van die jaar sien jy dit oral. Plasings op sosiale netwerke is opbeurend en opbouend. Dit als, om jou as mens, te versterk vir die nuwe jaar. Om met nuwe ywer weer die teug op te vat en die jaar met energie aan te pak.
Nou, ek weet nie van julle nie maar vir my is dit aan die eenkant wel bemoedigend maar aan die anderkant intimiderend. Dit het seker met my ouderdom te make maar 2019 is net nog ‘n jaar wat 365 dae insluit. Met al die bemoediging sal daardie hoeveelheid dae my niks baat as ek nie iets daadwerkliks doen daaraan nie. Die keuse lê altyd by my. Hoe ek die nuwe dae aanpak, sal bepaal wat die uiteinde van die volgende 12 maande sal wees.
Vir meeste van ons, sal 31 Desember eindig en 1 Januarie begin op die selfde noot. Dieselfde probleme; nuwe uitdagings wat eintlik maar dieselfde worstelinge is. Vir ‘n enkelouer is daar Skoolverpligtinge met groter eise van deelname en betalings. Behoeftes wat nimmereindigende voel met geen silwer randjie aan die einde nie.
Vir die enkellopende persoon is die versugting na ‘n maat dalk die grootste bron van ergenis en frustrasie. Maar dit is slegs wanneer jy uit kom, nuwe dinge aanpak wat dit jou op die pad van jou maat sal bring. Jy sien, dit is jou gesindheid wat ‘n persoon sal aantrek.
Vir die meeste van ons kan dit in ‘n depressiewe toestand plaas en dan gaan al die mooi, goed bedoelende woorde verby jou omdat jy alreeds wonder hoe jy dit gaan bymekaar bring. Jou het of nie ‘n groot genoeg salaris nie, of dalk nie eers ‘n werk nie. Dan is die vrae nog groter, nog meer intens.  Jy sien, tensy jy nie nou rustig raak en jou fokus innerlike swaai nie sal jy selfs die antwoorde mis. Ek weet, ek praat van ondervinding. Soms raak ‘n mens se probleme so groot dat jy net dit raak sien. Dan is jy moeg nog voor die jaar begin het met geen idee hoe om voort te gaan nie.
Persoonlik is ek in ‘n vurk in die pad. Moet ek voort gaan met die eiendom, moet ek ander werk soek, wat gaan gebeur volgende jaar? Waar sal ons bly, die grootste kopseer. Dit is maar net ‘n paar van my vrae. Soms wil die lewe my wurg en word ek bang; dan moet ek myself dwing om stil te word. Rustig te raak en te fokus.
Dit is net wanneer ons-ons oë oopmaak en verby die onmiddelike kyk wat antwoorde kom. Probleme maak ons nie net sterker nie maar kan ook soos ‘n gewig aan ons ooglede kom sit. Weereens hang dit van ons af of dit ons fokus gaan bly.
Alhoewel die nuwe jaar maar net nog ‘n jaar is, gee dit ons tog die geleentheid om nuut te dink. Om toe te laat dat die motiveringsboodskappe so vrylik beskikbaar, ons visie oplig en van binne raak en verander. Ons verandering kom dan baie vining. Plotseling.
Dan word die 12 maande nie net ‘n lang uitgerekte marteling nie maar ‘n openbaring van nuwe ondervindinge. Elke struikelblok verander in ‘n uitdaging en begin jy as mens te groei. Dit is hierdie verandering wat veroorsaak dat jy skitter.
Begin van vroeg af met nuwe, volhoubare doelstellings wat jou as mens gaan bevoordeel. Hou op om goed op jou lys te sit wat jy weet nie gaan realiseer nie. Jy potjie jouself in die proses. Begin met maklike goed. Ek het byvoorbeeld begin met ‘n nuusbrief – jy gaan seker vra, nou Lynelle hoe gaan dit jou situasie verander – ek weet nie. maar dit plaas my fokus op iets produktiefs soos om myself en my boeke te bemark. Dit kan ‘n bron van inkomste word. Om te top oor die probleme maak dit nie minder nie. Raak gefokus op die klein dingetjies en wanneer jy die nodige disipline aangeleer het voeg nog iets by. Moenie wag tot die jaar verby is voor jy nuwe doelstellings maak nie. Doen dit op die daad. Dit laat jou as mens beter voel oor jouself.Hou rekord van jou oorwinnings. Hierdie inskrywings is jou dryfveer. Dit motiveer jou meer as enige ander goeie raad. En jy kan ook sien hoe ver jy gekom het wanneer jy oor 3 of 6 maande terug kyk.
Wanneer jy besig is, verander jou gesindheid en uitkyk. Saam met dit trek jy nuwe dinge aan na jou toe. Jy word ‘n magneet vir die positiewe dinge.
PlotselingDit is my wens vir elkeen van julle. Dat daar ‘n skielike ingryping sal wees in elke faset van jou lewe. dat jy in verbasing sal toekyk hoe jou lewe sal omkeer en daadwerklike oplossings sal kom. Dit het voorheen gewerk, dit moet weer werk. Dit is die wet van attraksie - of law of attraction. Of jy nou daaraan glo of nie – dit werk. Wat jy saai, maai jy. Hoe meer jy saai in jou menswees hoe meer kom die goeie op. En, indien die vuilgoed opkom sal dit met tyd ook verbrand word want dit kan nie in goed bewerkte land groei nie.
Maar dit begin by jou. Jy is die skepper van jou eie lewe. Kyk die lewe in die oë en vat inisiatief.
Verander jou denke en jou late en vertrou dat dinge gaan verander. Dit moet verander.
Onthou, jy is hier vir ‘n rede. Jy het ‘n doel.
Daarom, skitter net waar jy is diamant.
‘n Voorspoedige Nuwejaar aan elke enkelpersoon.
Mag 2019 eendag in die argiewe staan as die jaar wat ‘n groot verskil in jou lewe gemaak het. Laat dit tel. Moenie dit omwens nie maar leef asof dit jou laaste jaar is. Wees positief en bou aan die goeie.
Onthou, jy is spesiaal. 


Friday, December 21, 2018

Storietyd - Die geskenk deur Lynelle Clark

“Ek het al so baie dieselfde gebed gebid. Oor en oor dieselfde woorde maar niks gebeur nie, hoekom? Is ek dan so sleg dat God nie die een ding vir my kan doen nie?”
“Jy moenie so daarna kyk nie, Mart. Natuurlik wil God vir jou help, jy verdien dit.”
“Dit beantwoord nie my vraag nie, hier sit ek, nogsteeds werkloos net omdat ek nie ‘n kar het nie. Ek bid, vertrou en glo maar nogsteeds gebeur niks nie. Hoe moet ek positief bly met die konstante negatiewe terugslae. Hoe meer ek probeer hoe minder gebeur dinge. Vanoggend het die persoon weer benadruk, as ek nie vervoer het nie kan hulle nie vir my die werk gee nie. Waar moet ek die geld vandaan kry vir ‘n kar as niemand my ‘n kans wil gee nie?” Mart se stem breek van ingehoude snikke, moeg gesukkel voel sy rusteloos en vasgevang in haar omstandighede. Bang vir môre. Dit als hoor Elmarie in haar vriendin se stem. Sy self is al voos gebid. Maak nie saak wat sy doen nie Mart wil of kan nie verby haar probleme kyk nie, nou is klein Bekka ook siekerig wat haar onvermoë nog verder uitbuit. Sy kan haar ook nie rerig blameer nie maar wat sê sy vir haar om haar op te beur? Hoe praat jy iemand hoop in as dit lyk of daar geen hoop is nie? Hierdie land is besig om sy eie mense in die steek te laat.
“Kom ons gaan fliek, Maria sal na Bekka kyk. Ek stick jou.”
“Jammer, maar ek kan nie. Watse tipe ma is ek wat gaan prente kyk terwyl haar tienjarige koorsig is?”
“Ek is seker dit is nie so erg nie. Sy was gister heeldag in die son, sy moet dit net rustig vat vandag.” Probeer Elmarie haar moed in praat. “Kom, dit sal ons albei goed doen om bietjie uit te kom.”
++++
“Jou Oom het gebel, net toe julle weg was.” Verwittig Maria vir Mart die oomblik wat hulle terug stap in die huis. Die fliek was ‘n regte tranedal wat hul energie getap het en beide vrouens wil net ontspan.
“Watter Oom?”
“Hy het nie sy naam gelos nie net sy nommer. Dis daar by die tafel?”
“Waar is Bekka?”
“Sy slaap, ek gaan nou.” Se Maria stroef.
“Dankie Maria.” En Elmarie staan nader met Maria se geld in haar hande. Mart kyk rond op die kombuiskas en sien die nota met ‘n nommer op geskribbel. Sy ken nie die nommer nie en ken geen oom wat haar sal wil bel nie en sit die nota terug op die blad. Sy wil eers seker maak Bekka is rustig en dan sal sy bel.  
“Hoe voel Bekka?”
“Nog koorsig, sy het opgebring net toe ek by die kamer instap en ek moes eers skoon maak. Ek het vir haar iets gegee en sy slaap nou.”
“Julle kan oorslaap vanaand.” Elmarie hou ‘n beker koffie na haar vriendin uit wat sy met ‘n waarderende knik vat. “Dankie, miskien moet ons so maak. Ek sien nie vanaand kans vir daardie klein woonstellejie nie. Partydae voel dit ek gaan versmoor daar binne.”
“Ek blameer jou nie, ons motorhuis is groter as daardie plek.” Beaam Elmarie met ‘n glimlag maar Mart vermy haar oë. In stilte geniet hulle die drinkgoed, woorde min. “Jy moet onthou om te bel.” Herinner sy Mart ‘n paar minute later.
“Sal môre oggend, ek is nou net lam en nie lus vir familiedramas nie.”
++++
“Jy beter bel jong.” Herinner Elmarie haar vriendin weereens. Deur die nag was daar min geslaap. Bekka het gesorg dat hulle omtrent geen ooglid toegemaak het nie en hulle moes vroegdag dokter toe gaan. Een of ander maagvirus het haar beetgekry en teen laat middag was sy uiteindelik rustig genoeg om te kon insluimer. Elmarie het vir hul elkeen ‘n glasie wyn ingeskink terwyl hulle elkeen deur ‘n tydskrif blaai. Na ‘n lang gesukkel het Elmarie Mart oortuig om ‘n paar goedjies te gaan pak en by haar te bly vir die naweek. Mart was moeg en teer en Elmarie kon nie anders as om haar vriendin weer opnuut jammer te kry nie. Met ‘n stil gebed het sy haar vriendin weer opgedra aan die Een wat iets kon doen. 
“Ek het al vergeet daarvan,” sê Mart en spring op. Terug in haar stoel hou sy die nota in haar hand, ‘n ligte frons tussen haar oë.
“Jy kan my foon gebruik om gou te bel.” En oorhandig die foon aan haar.
“Dankie.” en met die maak sy die oproep.
Skalks hou Elmarie haar dop terwyl sy met die oom praat. Dit is ‘n oom aan haar pa se kant lei sy af en luister hoe Mart stil raak en dan aan haar arm tik. Glinsterende oë is op haar gerig, ‘n opgewondenheid verander haar hele gelaat, ‘n verdwaalde traan wiggle al teen haar wang af en sy wonder wat aan gaan. Mart stap uit die patio en stop langs die swembad haar hele houding opgewonde soos sy vrae vra. Ongeduldig wag sy dat haar vriendin moet aflui en in kom. Die oomblik wat sy op die patio verskyn dans haar oë jubelend. Elmarie besef opnuut hoe meer sy is werklik is.
“Raai wat?” en nog voor Elmarie haar kan antwoord beantwoord sy haar eie vraag “Ek het ‘n kar gekry.” En sy vat haar hande saam terwyl trane verder rol, trane van vreugde en verligting.
Verstom staar Elmarie haar aan, “Wat bedoel jy?”
“Oom Gert het van my storie gehoor en wil vir my ‘n kar koop.”
“Hoe, wat…” en beide vrouens begin te lag, hardop. Swaarmoedigheid word vervang met verligting soos die twee na my kyk.
“Ek kan dit nie glo nie. Jy moet my knyp!” Roep Mart uit. Haar lag lig en borrelend. "Besef jy ek kan nou vir Meneer van Deventer bel en laat weet ek het vervoer. Besef jy wat dit beteken? Ek. Het. Werk.” En sy lag uitbundig. Spring op en hardloop binne die huis in, seker om vir Bekka van hul geskenk te vertel.
Elmarie lag en gaan dan op haar knieë… “Dankie Here. Dankie Here. Weereens het U bewys dat ons U kan vertrou.”

Kopiereg Lynelle Clark 2018 

Wednesday, December 19, 2018

Boek bekendstelling - ELMARIé PRETORIUS (BEUKES) DIE EENSAME PAD MET BEUKES-SINDROOM

ELMARIé PRETORIUS (BEUKES)
DIE EENSAME PAD MET BEUKES-SINDROOM – MY VERHAAL

SYNOPSYS
*Die radioloog het erg uitgevra terwyl ek so half onderstebo hang, hy het bly vra en ‘oe’ en ‘aa’. Later vra hy weer of ek in ʼn ongeluk was? Ek kon nie meer simpel vrae antwoord nie en antwoord hom net: “Die enigste ongeluk was toe die sperm die eiersel tref! Maak groot asseblief net gou klaar!”*

Hierdie aanhaling uit Elmarié se verhaal vertel van baie frustrasie oor eindelose ondersoeke, onkunde van ander en onophoudelike pyn en ongemak haar lewe deur.
Hierin vertel sy van haar pad met Beukes-sindroom en hoop dat haar verhaal sal help met bewusmaking van die sindroom en ook ander met dieselfde probleme, sal kan help.


BIOGRAFIE
Elmarié Pretorius (néé Beukes) was die jongste van twee susters (wie beide Beukes-sindroom het), gebore in Pretoria.

In Pretoria het Elmarié as ‘au pair’ gewerk vir ʼn familie met drie skoolkinders.
Sy het graag gedigte geskryf en ook bydraes vir die dagstukboek ’Leef jou Waarde’, wat in 2018 gepubliseer is.

Elmarié was ʼn groot diereliefhebber en was betrokke by o.a. die red en versorging van wilde katte en het met skenkerwol ‘bersies’ gebrei wat sy vir ‘dierehawes’  gegee het.

Elmarié was die stigter van die ‘Beukes Ondersteuningsgroep’ op FaceBook waar Beukeslyers en hul families en vriende mekaar kan ondersteun.

Elmarie is in Mei 2018, drie maande voor haar 60ste verjaarsdag, skielik oorlede. Dit was haar wens dat hierdie boek die lig moes sien, met die hoop dat dit iets vir iemand sal kan beteken.

Verkrygbaar by Groep 7

UITTREKSEL
Beukes-sindroom is ʼn oorerflike kraakbeensiekte wat in BEUKES-families voorkom. Daar is tans geen kuur nie en die simptome word basies net behandel.
Daar word ook na verwys as ‘DISPLASTIESE HEUPE’ – die femurkop is plat bo in plaas van rond en die kraakbeen word stelselmatig vernietig. Die heupkop skaaf direk teen die bekkenbeen, wat erge pyn veroorsaak.
Beukes-lyers het gewoonlik erge pyn in al die gewrigte, hoewel erger in die groot gewrigte wat insluit; heupe, knieë en skouers.

Lyers ondervind gewoonlik ook lae beendigtheid, stres-frakture en rugprobleme. Rugpyn is gewoonlik as gevolg van Skoliose (verwronge ruggraat), Sheurman se Siekte (‘ingeduikte’ lae rug en boggelrige skouers en nek) Kifose (vooroor-geboë nek soos ‘n boggel) of ʼn verkleinde bekken.

Steeds in hierdie 21ste eeu waarin ons leef dra heelwat dokters geen kennis van hierdie sindroom se bestaan nie. Ek het navorsing begin doen en met mense, wat enige verband het met BEUKES’e iewers deur hul pyn en verwronge liggame, gevra of hulle kon terugdink of daar iemand met die van ‘BEUKES’ in hul familie betrokke was. Die sindroom word geneties oorgedra en was tevore lief om ‘oorkruis’ te werk. Dus sou die pa dit oordra na sy dogter en die ma dit oordra na haar seun. Latere navorsing het egter bewys dat dit nie noodwendig die geval is nie en dat elke kind van ʼn BEUKES-lyer ʼn 50/50 kans het om die siekte te erf. Die sindroom is ook lief om ʼn generasie of twee te ’spring’ en kom dan skielik byvoorbeeld in die derde generasie weer na vore. Juis hieroor is die sindroom nie so bekend nie, aangesien ʼn lyer byvoorbeeld by ʼn dokter sal kla oor rugpyn of heupe wat pyn, maar die ‘oorspronklike’ lyers is reeds dood en daarom is inligting vir altyd daarmee heen.

Toe my seun wou gaan vir genetika-toetse (hy en sy vrou wou graag kinders hê) het hy ook uitgekom by die navorsing in Amerika wat hierop gedoen word. Of dit dalk intussen verander het weet ek nie, maar daardie tyd is uitgevind dat die foutiewe geen wel geïdentifiseer is waar dit in die DNA-string lê, maar dat dit nog nie 'uitgeskep' kon word nie.


Kom ons bid en vertrou dat die Mediese Wetenskap spoedig foutiewe gene letterlik sal kan uitskep en vervang met ʼn ander in die DNA-ketting.

Diamant Divas Musiek program op Elan Global Radio


Goeie dag en welkom by Diamant Divas se program hier op Elan Global Radio. Vandag is net ‘n ontspanningsprogam gevul met musiek van luisteraars se keuses.
Die jaar is so te se op ‘n einde. ‘n Jaar wat gevul was met uitdagings, teleurstellings, keuses en vreugdes. Elkeen het sy merk gelaat maar die goeie nuus is ons is nog hier, nog ‘n jaar gespaar en ons kan die feesgety ingaan saam met familie en vriende in die wete dat dit goed gaan met ons siel.
Maar, voor ons kom by die musiek, wil ek net die stukkie voorlees ter aansluiting van Laasweek se program wat gehandel het oor depressie. Ek lees dit met die skrywers, Benescke Jansen van Rensburg se toestemming.
Moeg het die soldate terug by die kamp aangekom uit die oorlog. Die konflik in die gevegsone was intens. ’n Klomp soldate is ernstig gewond. “Luitenant,” het een van die troepe benoud gevra. “Ek vra toestemming om terug te keer na die gevegsone. My vriend is nie hier nie. Ek dink hy is gewond.” Die luitenant het geskok na die troep gekyk. Almal het geweet dat indien hy die versoek toestaan die troep sy eie lewe in gevaar sou stel. Hy het dus dadelik geweier. Die kanse was in elk geval goed dat die man se vriend reeds gesterf het.

In die hitte van die oomblik het die soldaat die bevel van die luitenant verontagsaam en terug na die gevegsone gehardloop. Oomblikke later was hy op pad terug met sy vriend se dooie liggaam in sy arms. In die proses is hy ook ernstig gewond.

Die offisier was woedend. “Ek het jou mos gesê jou vriend is dood. Nou is jy ook ernstig gewond!”  Toe die luitenant sien hoe ernstig die soldaat verwond is, het hy met deernis gevra: “Was dit darem die moeite werd om jou lewe te waag om jou vriend se liggaam uit te bring?” Die sterwende man het geglimlag: “Verseker, luitenant! Toe ek by my vriend kom het hy nog gelewe. Toe sê hy vir my: ‘Ek was seker jy sou kom!’”

God het aan ons die gawe van vriendskap gegee – met mense, maar ook met Hom. Die wete dat daar iemand is wat jou sal bystaan en jou help om jou las in moeilike tye te dra. In Johannes 15:13 sê Jesus: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.” InPrediker 4:9 lees ons: “Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp.” En in Spreuke 18:24 staan geskryf: “Daar is party vriende wat net praat maar wat niks help nie, maar 'n vriend kan vir jou meer lief wees as 'n broer.”

Watter tipe vriend of vriendin is jy vir ander mense? Iemand op wie ander kan staatmaak en steun? Of is jy net met mense vriende solank hulle iets vir jou kan beteken in die lewe? En hoe lyk jou vriendskap met God? Besef jy dat Hy ons in essensie geskep het om ’n vriendskapverhouding met Hom te bou?

My gebed is dat ons die vriende en vriendinne sal word vir ander wat ons graag in ons lewens begeer. Ook dat ons nie net ’n verhouding met God sal bou nie, maar ook ’n ware vriendskap! Hy het immers sy Seun gegee sodat ons nie verlore sal gaan nie, maar sodat ons weer met Hom versoen kan word! Mag ons dít nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ons ’n vriendskap met U kan bou. Help my asseblief om te verstaan wat dit beteken. Lei my ook om ander te ondersteun en lief te hê soos wat U dit bestem het. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

In hierdie seisoen is dit so belangrik om nie ‘n broer of suster agter te laat nie. Dit is belangrik om mekaar in te trek en lief te he, net soos ons is. Moenie toelaat dat jou onvermoe om nie te verstaan nie ‘n wig plaas tussen jou en jou geliefdes nie. Saam kan ons die reuse van die wêreld aandurf en mekaar ondersteun.

Ons skop af met God keep my head above the water deur Avril Lavigne wat aangevra is deur Stienie Boshoff en baie gepas by die gebed van Benescke Janse van Rensburg. Daarna sal nog liedere volg, wat opgebreek sal word met advertensies.

Versoeke van Louis, Deon, Henlie, Lorna, Isak, Driekie, en Corrie en is ‘n lekker mengsel van geestelike, klassieke en ligte klanke.


Luister gerus saam en geniet die volgende paar minute.


ELAN GLOBAL RADIO
Die Stasie Vir Passievolle Mense
https://www.elanglobalradio.com
Lynelle Engelbrecht Clark: DIAMANT DIVAS. 
Die program vir die enkellopend waarin ons saam gesels oor al die slagysters, vrae, vrese en vreugdes van die enkel lopende.
WOENSDAG 19 DESEMBER 2018 at 10h00 SA Time
GESELS MET ONS:
Web: https://www.elanglobalradio.com/
Faceboek: Elan Global Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580
Gaan kuier en leer meer van ons, blogg saam en luister saam:
https://www.elanglobalradio.com/

Wednesday, December 12, 2018

Vandag se program oor Depressie gedurende die feesseisoen.

Aangesien dit nou kerstyd is en mense bietjie rustiger verkeer stuur gerus jul versoeke in sodat ek dit volgende week kan speel. Dit is ‘n tyd van blydskap en guns waarin ons mekaar kan bemoedig, seen en sommer net dank betoon vir die jaar wat verby is. Veral met die hitte wat nou bo toon voer kan ons defnitief doen met ‘n goeie lafenis van goeie musiek en opgewekte geselskap. Ek sal op my blad ‘n plasing doen waar julle die liedjies in die kommentaar van die plasing los.
Vandag se program is so bietjie morbied maar tog nodig, veral in hierdie seisoen waarin ons tans is. Ek glo daar is heelwat enkellopende mense wat kan doen met onderskraging en meelewing te midde van die gejaagdheid. Om alleen te wees is alreeds moeilik maar in Desember is dit nog erger, die rede vir die program.
Die laaste paar weke was ‘n besige tyd vir my, tussen pak en werk was daar min tyd vir enige iets anders. In my stil tye was my gedagtes geokkupeer met vrae van waarheen nou. Agv van buite invloede het ons lewe skielik ‘n nuwe wending in geneem. Wanneer sulke aanslae kom dan gebeur dit gewoonlik in ‘n paar gebiede op dieselfde tyd en dit vat ‘n skoon kop om bo te bly. Ons was geweldig aangeval deur finansieële eise op ons waarvan die bakkie deel was. En natuurlik die vraag waarheen nou het ook ‘n groot rol gespeel.
Soms beland jy op ‘n plek gesit dat jy net nie weet wat is die volgende stap vorentoe nie. Die een oomblik was ons dinge uitgewerk en toe, skielik, verander dit en ons lewe word een vraagteken. Dit was toe moeilik om weer te fokus op die daaglikse take. Spesifiek vir my, wat alreeds deur ‘n soortgelyke gebeurtenis gegaan het en my voete moes vind. Maar die ondersteuning gedurende hierdie tyd was defnitief die grootste faktor wat my staande gehou het.
Ek glo die laaste 18 maande was ‘n genesende tydperk vir my, waar my persoon herstel het en waar my kop weer met meer helderheid kon dink, indien dit nie gebeur het nie sou die gebeurtenis my plat geslaan het. Vader het my gees, siel en liggaamlik kom herstel deur my weer vastigheid te gee, ‘n Ring aan my vinger wat my weer kom klee het en die emosies van skuld, skaamte en minderwaardigheid weggevat sodat ek weer die wêreld in die oë kon kyk.
Ek moes my kop weer reg kry. Gedurende hierdie tyd laat weet ‘n goeie vriendin, “julle word erg aangeval, begin om julleself toe te maak deur die wapenrusting aan te trek en nagmaal daagliks te gebruik.” Van daar af doen ons presies dit. ‘n Ander vriendin van my, sê, Lynelle verander jou woorde na “Believe in the more.”
Om in te tap in God se plan is nie maklik nie, veral wanneer niks sin maak nie maar jy luister en doen. Juis omdat dit in my gees ook aanklank vind. Ja, my hart klop in my keel, angs dreig om my vrede te steel maar ek sit dit ter syde. Ek weier dat dit my fokuspunt sal wees. Dit is ‘n wilsbesluit om op te kyk. Dit is ‘n wilsbesluit om te weet dat God in beheer is. My ore en oë oop vir die Heilige Gees se beweging in my en vir deurbraak wat ons desperaat nodig het.
Dit bring my by die week se onderwerp. Elke mens, vroeër of later sukkel met dit. Die grade verskil soms maar dit maak dit nie minder belangrik nie. Elke persoon hanteer dit anders. In elke persoon verskyn dit op verskillende maniere. ‘n Angel van doodsheid wat jou beroof van jou vrede, vreugde en guns. Depressie. Selfs in ons verligte tyd, is dit nogsteeds ‘n negatiewe ding wat ons nie maklik wil erken nie, maar dit is ‘n realiteit. Spesifiek vir die enkellopende persoon is dit ‘n werklikheid in die feestyd.
My eerste jaar alleen was ‘n mengsel van gevoelens. Alhoewel my onmiddelike behoeftes uitgesorteer was, was die soeke na werk ‘n groot kopkrap. My ewe wig was versteur in ‘n groot mate en daar was tye wat die gemoedere baie vol was. Maar daar was ook tye wat ek dit werklik geniet het, my voete weer gevind het.  Danksy vriende het ek ‘n paar rand in my sak gehad en op die 1 ste Januarie het ek myself uitgevat vir ete. Dit het my gemoed heelwat gelig en ek het regtig goed gevoel.
My tweede jaar het baie op en af oomblikke gehad. Ek het myself die meeste van die tyd alleen bevind, in die proses dinge gedoen wat nie noodwending gesond vir my was nie. My gemoed het met tye erg geval, en trane ‘n permanente bondgenoot. Ek het ‘n kar ontvang en werk twee weke later. Tussendeur moes ek aan my verhouding met my kinders werk, begin September is my Moeder oorlede en ons wou as familie net bymekaar wees. Die dae tussen in was ek, my pa en broer alleen en het elkeen in sy eie hoek gebly, ek met ‘n boek of skryf werk asook die nuwe verantwoordelikhede van werk. Solank as wat my gedagtes besig was, was ek goed. Dit was daardie stil oomblikke wat mens eerder vermy wat my die meeste gevang het. Die alleenheid by tye amper versmorend. Daar was tye wat trane net geloop het, nagte wat jy gevoel het die lig is net te ver, onbereikbaar en dat jy nooit uit die donker put gaan kom nie. Jy word moeg wakker, weerloos en van balans af. Selfs die tye wat ek uit gegaan het, het ek alleen gevoel. Ek moes my eie grense opstel, weer my kop reg kry en alle negatiewe gevoelens deurwerk. Wat my soms op die mees onmoontlikse tye oorval het.
As enkellopende voel jy dit meer so tydens die Kersfees seisoen. Mense om jou praat van weggaan, jy sit en luister na hulle planne vir die feesseisoen. Jy voel uitgedruk, nie deel van die voorbereidings nie. Depressie wil jou insluk en aftrek in ‘n donker gat en indien jy nie waaksaam is nie oorval die donker kombers jou en oorheers jou ten volle. Vir sommige raak dit so erg dat dit eindig in self – dood.

Vernaamlik op Facebook sien ‘n mens dit. Mense wat uitroep vir hulp in soms skokkende plasings. Party mense val hulle aan, ander het simpatie. Dan kry jy die wat skrifte aanhaal en vertel watse sonde dit is. Maar dit kos net een persoon om verby als te kyk en werklik in daardie persoon se hart te kyk en kontak te maak. Daardie kontak veroorsaak dat ‘n lewe gered word. Gister se sere lê soms swaar op mense maar wanneer jy kan glo dat jy nog ‘n toekoms het is daar nog hoop vir môre. Maar dit kos ‘n uitreiking, ‘n sagte woord en gewillige oor.
So baie hoor ek deesdae dat mense sê hulle wil nie betrokke raak nie en dan, agterna, wanneer die daad gedoen is, dan het hulle baie wyshede om kwyt te raak. Dan is daardie wysheid onvanpas en te laat. Wanneer ‘n persoon uitroep moet ‘n mens onmiddelik betrokke raak. Deur woord en daad red ons ‘n persoon. Nie net deur praat nie.
As vrou, as vriendin moet ons mekaar bystaan sonder enige veroordeling. Daar is soveel pyn en hartseer daar buite, die meeste verberg dit agter ‘n glimlag en grappies maar ons weet min van die innerlike woelinge van mekaar. Juis in die tyd is dit belangrik om waaksaam te wees. Daar waar jy is, is jy God se arm om ‘n verskil te maak.
Enkellopende vrouens en mans kry swaar, meer as wat mense besef. In die besigste tyd van die jaar word hulle maklik op sy geskuif en vergeet. Hulle voel dan in die pad, selfs onsigbaar en dan word depressie ‘n realiteit en als wat moeilik is in intensiteit toeneem. Dan word die put bodemloos en net ‘n baie lang tou kan hulle daaruit kry. 
Ek lees graag die gedig voor van Douwlina du Plessis, sy het die gedig geskryf toe sy deur haar eie stryd gegaan het en dit pas net mooi vir my in by die program van vandag.
Vrou 
Die vrou in my is dood
iewers tussen kanker 
en verwerping
en egskeiding
en verbittering
het sy gaan lê.
Opgekrul in haarself
fetaal, fataal, gefaal, gedood 
en grys, soos indringerplante
het deur die donker gloed
verspinnerak
my ontbloed
gerandfiguur
uitgespoel
in ‘n woestyn
self geskep
vir ‘n sekslose
dooie-oog
vrou.

Wragtig tog steeds
Vrou.


Mense wat aan depressie ly, ervaar ’n groot verskeidenheid fisieke kwale, wisselend van slaaploosheid tot intense slaapsug. Dr. Ahmer Aziz, ’n dokter by AKEA Life in Engeland, vertel meer van hierdie fisieke manifestasies en hoe om dit te voorkom.

1. Moegheid

Intense moegheid is iets wat baie dikwels onder mense met depressie voorkom. “Jy ervaar ’n algemene gebrek aan energie of dryfkrag en selfs die kleinste takies maak jou doodmoeg,” sê dr. Aziz. Volgens hom kan dit wees omdat jy deur ’n konstante “onverklaarbare gevoel van hartseer, wanhoop of hopeloosheid” gedreineer word.
Hy voeg by dat hierdie moegheid kan vererger wanneer iemand ’n dapper front voorhou en wegsteek hoe hy of sy regtig voel.

2. Slaapsteuring

Die konstante moegheid wat jy ervaar, kan dikwels aan versteurde slaap gekoppel word. “Jy sukkel om aan die slaap te raak, en kry dikwels min of glad nie geslaap nie,” se die dokter. “Wanneer jy wel slaap, kan jy vind dat jy soggens sonder rede baie vroeg wakker word.”
Algemene redes hiervoor is gedagtes wat in jou kop rondmaal of omdat jy nie kan afskakel nie.

3. Foute

“Ons is meestal skerp en gefokus en oor die algemeen op en wakker,” sê dr. Aziz. Maar mense wat aan depressie ly, verduidelik hy, beleef dikwels dae wanneer hulle nie “by is” nie en meer foute maak. Die dokter skryf dit toe aan “swak konsentrasie of besluiteloosheid” as gevolg van die toestand.

4. ’n Swak dieet

Depressie gaan soms gepaard met ’n begeerte om te ooreet of om kos as troosmiddel te gebruik in ’n poging om beter te voel. Dr. Aziz waarsku egter dat dit tot gewigstoename kan lei, wat weer tot verdere gevoelens van minderwaardigheid en ’n swak selfbeeld kan bydra.
“Aan die ander kant kan jy vind dat jy onbewustelik te min eet en gewig verloor,” sê die dokter. Hy maan dat dit belangrik is om genoeg te eet om jou energie te gee wanneer jy depressief is.

5. ’n Laer libido

As jou libido sedert die aanvang van jou depressie skerp afgeneem het, hou dit waarskynlik verband met jou selfvertroue en selfbeeld. “Jy kan vind dat jou selfvertroue min is en dat jy ’n verlaagde selfbeeld en libido het,” sê dr. Aziz.
“Selfbeeld gaan oor die manier waarop jy oor jouself dink. Jy voel dalk ongemaklik oor hoe jy lyk en voel,” sê hy.

6. Psigomotoriese vertraging

“Ander mense wys jou dalk daarop dat jy stadiger beweeg,” sê dr. Aziz. Dit staan bekend as psigomotoriese vertraging en is ’n algemene fisieke simptoom van depressie. “Dit kan ook jou spraak beïnvloed, met die gevolg dat jy stadiger praat,” sê die dokter.

7. Skete en pyne

Om aan skete te ly wat geen verklaarbare oorsaak het nie, is sorgwekkend genoeg iets wat baie depressiewe mense beleef. Dit is egter belangrik om enige ander moontlikhede te ondersoek voordat jy aanvaar dat dit inderdaad as gevolg van depressie is.

8. Rusteloosheid en onrustigheid

Die teenpool van psigomotoriese vertraging is ’n gevoel van konstante rusteloosheid. Mense kla dikwels dat hulle nie kan ontspan nie en angstig voel wanneer hulle onbenullige probleme moet hanteer, verduidelik dr. Aziz.

9. Spysverteringsprobleme

’n Omgekrapte maag is ’n algemene newe-effek van depressie. “Jy ly dalk aan onverklaarbare naarheid, diarree of selfs hardlywigheid,” sê die dokter. Dit kan toegeskryf word aan die verhouding tussen die brein en die ingewande wat gedurende depressiewe of angstige episodes besonder prominent is.
Indien jy enige van die bogenoemde probleme ervaar, is dit belangrik dat jy jou huisdokter gaan sien. 

In vandag se samelewing sien en hoor ons dikwels hartverskeurende hoofopskrifte oor hoe alleenheid bejaardes raak. Veral enkellopende bejaardes en ek het dit goed gedink om daaraan ook ‘n tydjie af te staan.
Dit verlaag hul lewensgehalte beduidend en in sommige gevalle het dit hoër vlakke van angs en depressie in hierdie ouderdomsgroep tot gevolg.
“Alleenheid word met depressie, slaapprobleme, verswakte kognitiewe gesondheid, verhoogde vaskulêre weerstand, hoë bloeddruk, sielkundige stres en geestesgesondheidsprobleme vereenselwig,” verduidelik Age UK op hul webwerf. Maar dis nie net alleenheid wat pensioenarisse se welstand in gevaar stel nie – verswakte fisieke gesondheid, verlies en geldelike druk kan alles dieselfde uitwerking hê.
Wat kan ons doen om angs en angsgebaseerde depressie in ouer mense te help beveg? Want ons moenie vergeet dat hierdie toestande nie net jongmense met eksamens en middeljariges met beroepe, skuld en gesinsprobleme raak nie. Ons bejaardes, wat wel wyser en meer ervare is, kan ook geestesgesondheidsprobleme hê. 
Ons het met Nicky Lidbetter, uitvoerende hoof van Anxiety UK, gepraat en haar gevra wat ons kan doen as ons vrees dat ’n bejaarde geliefde aan angs of angsgebaseerde depressie ly. Sy het ons eerstens verseker dat daar maniere is waarop jy kan help as ’n bejaarde vriend(in) of familielid angs of angsgebaseerde depressie ervaar.

1. Handhaaf hul lewenstyl

Moedig ouer mense aan om gesond te eet en ligte oefening by hul daaglikse roetine in te sluit omdat dit ’n groot uitwerking op hul welstand kan hê. Dit kan moeilik wees as hulle skielik alleen woon of nie naby onmiddellike familie woon nie.
Die handhawing van ’n gesonde roetine is nie net goed vir hul fisieke en geestesgesondheid nie, maar laat hulle ook voel dat hulle nog in beheer is en sal hulle meer selfvertroue gee. Daar is ’n paar inkopie- en kosafleweringsdienste vir bejaardes wat sal verseker dat hul dieet voldoende is. Dis die moeite werd om navorsing te doen oor wat in jou omgewing beskikbaar is.

2. Doen dit saam

Om ’n gesonde leefstyl te handhaaf is op enige ouderdom voordelig. Doen hierdie dinge dus saam, soos om te gaan stap, saam inkopies te doen of kos te maak (en los genoeg kos in die vrieskas vir wanneer jy nié daar is nie). Dit sal ’n ouer persoon se gemoed opbeur en laat voel hy of sy kry ondersteuning.

3. Laat hulle weet jy is daar

“Iets anders wat regtig belangrik is wanneer jy ouer mense ondersteun wat angs, stres of angsgebaseerde depressie ervaar, is eenvoudig om hulle te laat weet dat jy daar is vir hulle as hulle ooit iemand nodig het,” verduidelik Nicky, selfs al bel jy hulle net elke dag of een keer ’n week.
“Doen moeite om te vra hoe dit gaan en moedig hulle aan om oop te maak oor hoe hulle voel. Dis regtig belangrik dat hulle weet hulle hoef nie alleen deur dinge te gaan nie. Verhoudings met ander mense is ’n belangrike komponent van volgehoue goeie geestesgesondheid.”

4. Moedig hulle aan om nuwe dinge te probeer

Dit kan regtig waardevol wees om ouer mense aan te moedig om nuwe dinge te probeer. Dit skep nie net goeie geleenthede om nuwe mense te ontmoet, vaardighede te ontwikkel en nuwe ervarings te hê nie, maar dien ook as afleiding om gevoelens van angs te besweer. Baie studies het ook getoon dat ’n aktiewe brein ’n gesonder brein is.
Doen ’n bietjie navorsing oor watter boekklubs, etensklubs, organisasies of groepe  in jou omgewing aktief is en moedig hulle aan om daarby aan te sluit. Jy kan selfs vir morele ondersteuning die eerste keer saamgaan.

5. Speel saam met hulle speletjies

In ’n studie van Januarie 2017 wat in JAMA Neurology gepubliseer is, het navorsers van die Mayo-kliniek bevind dat deelnemers wat minstens een of twee keer per week aan “geestelik stimulerende” aktiwiteite – soos om speletjies te speel – deelneem, beduidend minder geneig is om matige kognitiewe verswakking (mild cognitive impairment of MCI) te ontwikkel.
Om aan sulke aktiwiteite deel te neem sal nie net hul verstand skerp hou nie, maar ook geselskap en pret verskaf en hul selfvertroue ’n hupstoot gee.

6. Help hulle om die regte ondersteuning te kry

“Vandag is daar ’n verskeidenheid waardevolle ondersteuningsopsies vir hulle beskikbaar,” sê Nicky. “Een ding wat jy kan doen om te help is om die ondersteuning te kry wat reg vir hulle is. Van ons ouer mense kan byvoorbeeld nie die huis verlaat om terapiesessies by te woon nie. In sulke gevalle kan terapie via ’n webkamera of telefonies aangebied word.”
Jy kan ook kognitiewe gedragsterapie, aandagtigheidskursusse en meditasietegnieke oorweeg. Jou algemene praktisyn is ’n goeie beginpunt wanneer jy mediese raad nodig het.

7. Maak seker jy het die inligting

Dikwels is die eerste stap wanneer jy iemand anders help om self hul situasie te probeer verstaan. Dit sal jou meer deernisvol, geduldig en bekwaam maak om voorstelle te doen. Het jy byvoorbeeld geweet dat angs ’n fisieke en geestelike uitwerking op iemand het?


Lees meer daaroor wanneer jy iemand wil help of kry hulp. Soms het mense net ‘n gewillige oor nodig om te luister maar ander kere is dit nodig om ‘n gekwalifiseerd persoon se hulp in te roep.  

Ek het vir Corrie Badenhorst gevra om vir ons ietsie van haar worstelinge met depressie te deel… 

Skitter net waar julle is Diamante... xxx



Die Stasie Vir Passievolle Mense


Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580

SKAKEL IN: 

SIMPLE RADIO App.
http://www.liveonlineradio.net/south-…/elan-global-radio.htm

Friday, November 23, 2018

'n Moderne Rooikappie storie

“Jy weet dit is onveilig om daarlangs te loop snags, Sproete.”
“Ek kan nie anders nie, ouma moet hierdie mesdisyne kry, so gou moontlik.”
“Dan vat ek jou, dit is veiliger.”
“Nee, asseblief nie. Ek ken jou ryvermoë. Net om daaraan te dink gee my die horries.” En sy ril liggies.
“Wat bedoel jy dit gee jou horries. My bestuursvermoe is baie goed, skuus tog.”
“Sê dit vir die kat wat jy nou die dag amper dood gery het.”
“Jy kan dit onmoontlik teen my hou. Die kat het voor my ingehardloop.”
Met rollende oë trek Rita die rooi jassie stywer om haar skouers en mik vir die deur. Die mandjie met kosbare medisye vir ouma, gehaak aan haar arm.
“Ek waag eerder my lewe op my eie as saam met jou.”
“Ek glo dit nie. Jy is sommer simpel.” Kom Lisa se skril stem. Die enigste keer wat sy ‘n dier raak ry was die dag toe Sproete saam met haar gery het. Seker 5 maande gelede, van daar af weier sy volstrek om in haar kar te klim. Dit is om van mal te word.  
“Wel, glo dit. Want ek ry nie saam met jou nie. Finish en klaar.”
Met dit slaan sy die deur met ‘n harde slag agter haar toe en stap met die tuinpaadjie langs. By die hek moet sy behoorlik op haar tone staan om die knip by te kom. Hoekom haar Pa dit destyds to hoog moes sit weet die Vader alleen. En sy strek weer. Na twee probeerslae kry sy dit oop en slaan die tuinhek agter haar toe. Die dawerende klank verbreek die nagstilte en ‘n geniepsige wind kom maak kennis, sommer in haar nek. Vervlaks, sy het haar serp in die huis gelos en trek die mantel nog stywer om haar. Skielik is die pad voor die huis stil. Te stil.
Miskien moes sy eerder dat Lisa haar gevat het maar sy sien net nie kans om weer saam met haar bestie te ry nie. Die vrou is kapabel en ry weer iets raak. Met ‘n laaste kyk na Lisa se huis klou sy die mandjie vas en loop die twee blokke na haar ouma se huis toe. Die wind speel geniepsig teen haar gesig. Die Augustuswind het behoorlik kom nes skop hier in die stad en sing verbete om elke hoek. Met haar kappie styf gedruk kyk sy stip op die grond en stap vining al langs die verligte sypaadjie. Die verwaarloosde paadjie is besaai met los klippe en sement wat die tog ‘n verder bemoeilik.
Elke tree vat haar al hoe verder van enige bekendheid en sy sluk. Sy was nog nooit rerig bang vir die donker nie maar vanaand is daar ‘n onheilspellende gevoel in die donker verskuil. Miskien is dit net haar verbeelding maar dit voel rerig of iets vir haar kyk. Sy stop vir ‘n wyle en kyk verbouereerd om. Daar is niks nie, of liewer sy kan niks sien nie en sluk benoud. Haar mond droog.
Dan kyk sy om haar heen en sien die stegie net ‘n paar tree van haar af. Miskien moet sy kortpad vat, die stegie kom reg langs ouma se huisie uit. Met versigtigheid stap sy nader en kyk in die donker gang af. Geen lig filter deur die vensters net bokant haar kop nie. Als lyk verlate, selfs die gedruis van karre in die omgewing is vreemd stil.
Gaan sy dit waag?
Skalks, kyk sy om en besluit dit is stil genoeg vir haar om dit te waag. Sy het al baie deur die stegie geloop; ken dit soos die palm van haar hand. So hoekom sal vanaand dan nou anders wees?
“Waarheen gaan jy prinses?” stop ‘n growwe stem haar, skaars drie tree verder. Onder deur die kappie kan sy ‘n paar voete uitken.
 “Ek vra, waarheen gaan jy, prinses?” kom die stem weer. Hierdie keer nader en ‘n koue rilling hardloop teen haar ruggraat af. Die stem klink glad nie bekend nie.
“Prinses, het jou ma jou nie maniere geleer nie?”
Toe Rita opkyk staan die man reg voor haar. Bangerig kyk vas in ‘n paar spierwit tande weerkaats. Verder is die man verberg onder ‘n dik swart jas.
“Gaan jy nie antwoord nie?”
“Wat wil jy hê?” vra sy met ‘n fyn stemmetjie.
“Geselskap. Die vraag is waarheen gaan jy?”
“Na my ouma toe. Sy bly nie ver van hier af nie.”
“Wat is in die mandjie?” vra hy en leun nader. Met die ander hand lig hy die deksel van die mandjie op maar sy klap dit weg.
“Los uit. Dit is vir my ouma.”
“Ek dink nie jou ouma het dit meer nodig nie.”
“Hoekom nie?”
“Is dit die tannie wat by daardie kleinhuisie bly met die blou deur?”
“Ja, hoe weet jy van haar?” vra Rita benoud.
“Ek was nou net daar, sy het baie siek gelyk.”
“Ja sy is. Dit is hoekom ek nou na haar toe gaan.”
“Wel, ek dink jy is te laat.”
“Hoekom?”
“Want sy is nie meer daar nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Net wat ek sê prinses, sy is nie meer daar nie.” Allerhande gedagtes flits deur haar. Haar ouma is juis so weerloos. Sy moet by haar uitkom. Verbouereerd probeer sy die man systap maar hy druk haar vas met harige hande en flits ‘n paar tande vir haar.
“Rita word wakker,” hoor sy ‘n stem so deur die stoeiery. Sy klap maar dit is asof sy vasgepen word en sy gil.
“Rita, dit is ek. Word wakker.” Verboueerd skrik sy wakker en staar op in Lisa se groot bruin oë.
“Wat gaan aan?” Vra sy bewerig.
“Jy het alweer gedroom Rita.”
“Ouma, ek moet by ouma kom.” Roep sy uit.
“Maar onthou jy dan nie Rita, ouma is nou veilig en sonder pyn.”
Met ‘n snik val sy teen die matras terug en besef sy sal vir altyd laat wees vir ouma. Daarvoor sal die wolfagtige man in haar drome sorg.

Kopiereg Lynelle Clark 2018

Help an author/verleen hulp aan 'n skrywer

With only twelve days to go please consider donating towards my fundraiser. Your contribution will enable me to accomplish my dream. Om Am...