Foto geleen |
DAAR IS IETS WAT KENMERKEND is van die bosveldstilte
wat jy nie ervaar op ander plekke nie. As gereelde kampers beleef ons dit
dikwels.
Dit is ‘n stilte wat jy voel tot in jou
beendere en jou heel laat. Van die noorde tot die suide van die land is die
bosveldstilte eiesoortig. Die stilte se spore in jou gemoed altyd treffend
wanneer jy terug verlang na die besondersheid en sodra jy weer daar kom voel jy
tuis. Op jou gemak en gerus; reg soos koffie kapitaal vroeg in die oggend.
Dit is baie meer tasbaar in die aandskemering
en nag. Die getinte hemelruim in goud gehul wat jou Asemloos laat. Deur die dag
is dit die sonbesies, swerms vlieë en derglike insekte plus die dag tot dag
take wat jou besig hou maar laat middag tot skemer begin jy rustig raak, selfs
die muskiet iets wat jy vinnig wegklap terwyl die natuur se magnetisme ‘n
daadwerklike invloed het wat jou outomaties lei na buite. Na die ooptes en jy jou
longe vol trek van die vars lug.
Voor die bostv kan jy die stilte hoor in die
soelheid van die aandskemering. Die geritsel van die natuur in wonder soos dit
haarself gereed maak vir die donkerte. Die volmaan wat stadig maar seker die
hemelruim klim kompleet asof hy opgetrek word aan ‘n katrol. Verskans tussen
blare en takke klim hy die hemelruim op ‘n defnitiewe koers. Die natuur se
kleur verandering laat ‘n heimweë agter verskans in skaduwees wat dan
in jou beendere kom sit. Dit dwing jou om te ontspan sodat jy ingestel kan word
op die mees basiese dinge. Niks is dan meer belangrik as daardie oomblik vasgelê in tyd nie. ‘n Tyd van gesels, vriende maak, suie aan ‘n glassie
rooiwyn omring met die nagtelike geluide terwyl die vuur sy dans dans.
Die vuur praat sy eie taal soos dit suis en
kners. Die ligte bries laat vuurvliegie-tonge rond dans, net so bo die
gloeiwurmhout. Snoesig in sy vuurkombers. Net om so nou en dan te knetter in
luide klanke gevul met hitte en energie. Dit boei jou. Vernuwe jou. Jou praat
en lag kom dan natuurlik, jou luister beter ingestel. Daardie oomblikke van
saamwees skep ‘n nuwe energie in jou eie wese maar maak jou kalm meer oplettend.
Dan is daar die wind wat behoorlik baljaar
tussen die droeëblare. Diè jaar is die bome
en veld dor van dors nog so laat in Oktober. Gestroop van groenigheid is hulle nog
verskuil in hul bruin wintersgewaad. Skakerings van groen ‘n kleur wat jy kry
rondom die watergat of spreier, vir die wat nog gelukkig is om ‘n boorgat te hê.
Tussen dit als bly die stilte praat. Sy stem
stil met ‘n defnitiewe suising wat so nou en dan versteur word deur die
geritsel van die wind of die klap van die vuur. So asof hulle in ‘n vergadering
is. Met ordelike tussenposses en individuele spreekbeurte.
Dit is dan wat jy as mens net kan luister na
die stil klanke. Die harmonie van natuur, stilte en vuur asook die wind in ‘n
eenheid vasgevang wat jou wese vul met geure en verlange. ‘n Verlange na dinge
wat jy nie behoorlik weet nie. Na die onmeetlike soos die uitspansel bo jou
uitstrek, die flikkerende sterre ‘n herinnering van ‘n Hoër hand. Wat jou opnuut weer klein laat voel. Jou aandag vasgevang in die
wonder wat om jou afspeel.
Ja, die stilte is ‘n defnitiewe gebeurtenis wat
jou versadig laat. ‘n Versadiging van innerlike vrede dat dit môre sal goed gaan, dat vandag verby is. ‘n Gewaarwording so groot soos
die uitspansel self.
Kopiereg voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking