Hierdie storie het my so geïnspireer dat ek dit graag wou deel.
Riki Malan het die rubriek as 'n opdrag ingehandig tydens die pas afgelope Kompetisie 10 van Skryf jou Storie en Diggroep vir Beginners en Begaafdes. Sy het die algehele sesde plek ingepalm tydens die kompetisie en met haar toestemming deel ek dit graag met die lesers.
Riki is sonder fiemies en skryf soos sy praat. Sy is opreg en mensliewend en sê 'n ding sonder vertoon.
Sluit gerus aan by die groepe ... wie weet jy kan dalk ook een van die wenners wees.
Is daar 'n plek waar ou vergete drome woon? Dalk op 'n eiland waar hul
saamtrek en met nostalgie gesels oor wat kon wees, oor sukses en akkolades wat
net lang stiltes geword het. Stories wat mekaar met vreugde vul, maar ook
hartseer laat oor wat nooit sal wees nie? Die blink van die drome begin taan en
die blou-pers vlekke verklik die verloop van tyd.
Geblik of gebottel ... drome het nie 'n vervaldatum nie. Vir elke jaar wat
vir my gevoeg word, voel dit asof tyd my nukkerig en aspris van agteraf
inhardloop. Ek wil my hande opsteek en aan tyd se wysers hang om die tik-tak te
rem, al is dit net vir 'n wyle.
Hier in die tweede rondte van my tweede beurt, wil ek my lewe dubbel ervaar
en dorstig indrink voor ek weer vergeet. My drome van lank, lank gelede afstof
en blink opvryf met Brasso en 'n sagte lap.
My eerste droom glimlag haasbek vir my - 'n "Teenage-pop"-koek
vir my drie-en- sestigste verjaarsdag - versier met wit en pienk skuimpies,
gepak oor 'n tjoklitkoek in die vorm van 'n hoepelrok. As kind was dit vir my
die mooiste koek ooit. Dalk is dit nostalgie, maar hierdie jaar is dit myne.
My tweede droom het letterlik in my lewe ingejaag - 'n 1968 Ford Mustang.
As tienjarige val ek gat oor kop oor kroon vir die fliek "Bullitt,"
waarin Steve McQueen die hoofrol vertolk. Ek en Steve het sonder remme saam deur
San Francisco se strate gejaag en my hart het vinniger geklop as wat daai
Mustang se perde kon gallop.
Hierdie droom bottel ek vir eers, nie net oor finansies nie, maar veral oor
die prentjies in my kop. Daar is 'n liedjie wat sê: "your hip bone is
connected to your thigh bone" en dit is nie waar nie. Sou ek nou só laag
moet buk om in die Mustang te klim, sal dit beslis die dag wees waarop ek
uitvind dat my heupbeen aan my enkelbeen, wensbeen, holspier en lagspiere
gekoenêk is. Dus, bottel toe met jou.
My derde droom wys dadelik potensiaal en ek voel laf en wil besig raak,
want daar is geen rede om nie 'n regte, outydse "garage party" te hou
nie! As tiener was hierdie my "sweet sixteen" droom. Sewe-en-veertig
jaar later gaan ek self sorg dat die "crinkle paper" geknip en dan
skuins van hoek tot hoek oor die plafon gespan word. Die platespeler in die
hoek staan gereed om "Springbok Hits" te speel; en die tafel teen die
muur gaan gelaai word braaivleis, broodrolletjies en gesnyde tamaties. Die Oros
in die emmer wat met twee blikke vrugte in stroop gemeng sal word, moet dien as
drinkgoed en sommer ook poeding. Die parytjie gaan afskop af met CCR se
"Hey tonight" en afsluit met almal wat uit volle bors saam Cliff
Richards " Forty Days" sing. Hierdie droom gaan voor 2023 'n groen
regmerkie kry. Hoera!
Terwyl ek onder my Bidboom sit en 'n duik in die kondensmelkblikkie suig,
wonder ek wat laat mens jou drome langs die pad verloor of sommer net oorboord
gooi. Het jou droom 'n vuuroffer geword om ander warm te hou?
Die afgelope week het ek met 'n paar vriende gesels oor drome wat was, oor
nou en en waar dit heengaan.
"Riki, wanneer realiteit by jou voordeur instap vlieg meeste van jou
drome by die agterdeur uit. Trou, werk, kinders, rekeninge, verpligtinge en SOS
(same old shit) kruis daagliks jou pad."
En jou droom?" vra ek. "Is daar iets op die horison wat
blink?"
"Net 'n Gadget wat die seer van die verlede uit my brein kan skoonvee
en die onnodige bagasie wat mens daagliks saamsleep kan laat verdwyn, ou Rix.
Dit is nou my enigste droom." My hart lê skeef vir haar.
Volgende bel ek my bendemaatjie. "Myne bendemaatjie, drome loop dood
in doodloopstrate. Daar waar jy die agterste potjie op die stukkende stoofplaat
is en elke dag aan die agterspeen moet suig." Haar stem breek terwyl my
hart breek.
Deur al die jare wat ek haar ken, bak sy vir 'n inkomste. Elke keer as Koos
sy werk verloor as gevolg sy Pethidine-verslawing, moes sy bedags uitspring om
te werk, net om saans te kom bak terwyl sy bid vir bestellings. Hoeveel
keer moes sy die handelose leisels optel? Trek na familie, na vriende, na amper
op straat? Te veel keer.
Na Koos se dood werk sy hard, word mens en begin lag en huppel. Sy verloor
gewig, raak verlief en gooi haar nuwe liggewig hartjie in hande waar dit nie
hoort nie, spaargeld en al.
"Nou is ek weer terug waar ek was net na Koos se dood. Elke dag kyk ek
in my seun se oë vir onderdak en een bord kos per dag. Agtien ure 'n dag werk
ek, Rix. Bak, maak huis skoon, was en stryk, kook en doen skottelgoed, maar dis
nooit genoeg of goed genoeg nie," snik my bendemaatjie.
Hoe vra ek nou hierdie rou vrou met die breekstem of sy nog drome het?
"In al die jare, tussen my gebede en drome, het die Here nooit my
kinders honger bed toe laat gaan nie. So, ek moet glo aan my drome. As ek dit
nie doen nie, wie sal dan? Ek droom oor 'n huis van my eie waar ek heeldag kan
bak ... oor karre wat reg rondom die blok parkeer om hul bestellings te kom
afhaal."
"O ja, en iemand wat my kan lief hê. Ek wil in sy oë kyk en sien dat
hy dink ek is mooi en nie net goed genoeg nie, maar die beste. Ek wil nie meer
naai en nooit swieties kry nie, ek wil swietieswaardig en blomwaardig wees - sonder
sooibrand en trane oor 'n bord kos en 'n dak oor my kop. Net dìt, Rix, net
dit."
Fokkers, dis wie. Dit is fokkers wat jou drome uitmekaar skeur en dit met
hul vuil voete vertrap en vermorsel. "Kyk nou só, skielik kan DÍT skilder,
skets, skryf, dig, klei gooi en bak. As-se-fokken-blief, pure
wensdenkery!" Pimpel en pers geknyp swem jou drome dan maar vir
Dooie-drome-eiland.
Hier op my dak met 'n fiela en tee weet ek dat wens en droom nie dieselfde
is nie. Ek wens gereeld my buurvrou moet 'n kramp in haar poephol kry, maar glo
my, ek wil nié daaroor droom nie! Jy sien, dit is die ding van wens. Daar waar
hy op sy gat sit, sal hy bly sit tot hy in sy laaste gat ingly en onder die
kluite beland. Fluit-fluit fêkoff.
My voortrek droom van die afgelope tien jaar het amper net 'n wens gebly,
totdat dit skielik drie maande gelede vlerke gekry het. Ek en Vlam-my-Lam het
Oos-Rand toe gery en besigheid loop doen.
Sewe erwe langs mekaar met sewe woonstelle, sewe groot eenmankamers en 'n
groot ronde dubbelverdieping-huis op elke erf. Die grondvloer van die ronde-huis
dien as winter kombuis met 'n kaggelvuur en rakke vol boeke en 'n lang eet- en kuiertafel. Lag, gesels en liefde sal ons
kombuistaal wees terwyl "Die Waarheid"-radiostasie 24/7
uitgesaai sal word. Die boonste verdieping is die somerkombuis, met baie
koelte; en 'n ligte bries wat van die see se kant af inwaai.
Hoe gelukkig vir ons dat my en Vlam-my-Lam se drome aan "paralelle
spesies" behoort. 'n Groot werkswinkel en opleidingsentrum om dít waarvoor
hy gekwalifiseerd is te kan uitleef. Om oud en jonk 'n kans te gee om te
"qualify" as die room van elektrisiëns in hierdie land - sonder
matriek, want daai papiere is blank domino's.
Sy oë blink terwyl sy hande en die honde saam gesels. "Rixter, ek kan
nie wag nie, my ou. My hol brand spierwit soos 'n goeie tweedehandse kar. Ek is
reg om weg te spring."
"Ek sien jou, Vlam Malan."
Dit is my droom is vir jóú. Jy, wie jou menswaardigheid verloor het deur
onwaardige mense; jy, wat weggooi is deur jou kinders. Siele wie se oë kraak en
breek terwyl hul droomloos smeek om aalmoese, want die werklikheid van honger
is seer.
Eensaamheid is 'n bliksem. Hierdie veilige hawe is joune, kosteloos. Die
prys is liefde, daagliks betaalbaar met lag en bietjie simpel lawwigheid.
Binne twee jaar gaan ek die rooi tapyt vir jou uitrol. Hier waar jy weer
jouself kan vind terwyl jy leer om jouself weer te koester en lief te hê.
'n Plek waar die holtes van jou voete perfek gaan pas. Jou eie plek, teen jou
eie pas, op jou eie tyd.
Welkom by God se Spens waar jou drome, gebottel of geblik, weer begin
asemhaal. Die Brasso en sagte lappie is onder die wasbak. Help jouself.
Drome is gebede wat deur die Here self beantwoord word. Mooi drome vir jou.
Julle moet my nou asseblief eers verskoon. Ek wil gou gaan kyk of ek Ansie
voor in die ry by Liewe Jesus kan indruk vir haar dak en bord kos, sonder
sooibrand en trane. Ek weet jý sal verstaan.
Kopiereg Riki Malan 31 Julie 2022