Wys tans plasings met die etiket Afrikaans. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Afrikaans. Wys alle plasings

Sondag 18 September 2022

Grepe uit my Lewe: Hoofstuk 3

 
Hoofstuk 3

Skoonmaak

Deel 1

Skoonmaak is nie 'n aangename aktiwiteit nie. Dit los jou gewoonlik sweeterig terwyl die reuk van stof aan elke deel van jou menswees kleef. Tog is die gevoel van verligting en tevredenheid soos 'n vars briesie wat deur elke ledemaat trek en jou aanspoor om nog verder te gaan, dieper te delf totdat elke hoekie skoon is.

Vir bykans 'n jaar maak ek skoon. Ek verlaat FB groepe wat niks bydra tot my groei nie en waar ek glad nie betrokke is nie. Die 5000 FB vriende waarin ek eens geroem het het nou verminder na omtrent 3000 en nogsteeds vind ek nie-aktiewe blaaie so die nommer kan nog verder verminder.

My aanvaar rate is nou minder en ek is okei met dit. Die druk van 'n knoppie is eintlik baie maklik. Ek voel nie meer verplig om elkeen tegemoet te kom nie. Ek is nie meer geneë om mense in my kring te aanvaar bloot net omdat ons spore laat nie. As die Heilige Gees wys nee dan is dit so.

Kindle is nou talle boeke ligter. Fotos van weleer wat niks bydra tot my sielevreugde nie is ook verwyder. Tot die meer tasbare laaie en bokse wat die kamer en stoor volstaan. Laaie gevul met aandenkings — sommige met verkeerde herinneringe, ou besigheidskaartjies en joernale wat nou niks meer beteken nie. Dit is als deel van die verlede.

Toe Vader begin wys het dat dit tyd is vir skoonmaak het ek opgesien teen dit want ek het geweet dat trane deel gaan wees van hierdie opdrag. Soms moes ek stop en eers die gevoelens verwerk voor dit verwyder kon word. Soms was daar geen dink nodig nie, dit was net 'n kwessie van druk 'n knoppie en dit is weg. My gemoed ligter en die rekenaar skoner.

Veral die laaste twee weke het ek meer doelbewus te werk gegaan om seker te maak dat elke hoekie skoon is. My fokus nou ingezoom met groter presiesheid.

Nou ervaar ek net die vars bries wat deur elke grein van my wese gaan en my vul met 'n nuwe doel. Ek het nog 'n ent om te gaan, veral die menige bokse wat nog geseël staan en wag om oopgemaak te word maar met elke dagboek wat in die snippermandjie beland word die vrag al ligter. Die wroeginge makliker om te oorkom en die las minder.

Om skoon te maak vat tyd maar dit is die moeite werd. Party dae is die rug seer, die skouers in kloppende protes en die knieë lam maar dit is die moeite werd. Hoekom ons so vasklou aan goed verstaan ek nie maar wanneer dit weg is dan laat dit jou met soveel vrede.

Die week tydens die skryf konferensie het ek tot dieper insig gekom en die ywer om skoon te maak het nou selfs intenser geword. Dinge wat ek oorgeslaan het is nou makliker om te laat gaan. Trane word afgevee en die kop word skoon. Sommer so 'n lekker gevoel wat deur my are bruis en my ligter laat.

Wat ookal Vader besig is om te doen in my lewe, ek val net in. Dit is tyd vir nuwe dinge.

©LynelleClark2022

Vrydag 26 Augustus 2022

Geblik of gebottel? Deur Riki Malan

Hierdie storie het my so geïnspireer dat ek dit graag wou deel. 

Riki Malan het die rubriek as 'n opdrag ingehandig tydens die pas afgelope Kompetisie 10 van Skryf jou Storie en Diggroep vir Beginners en Begaafdes. Sy het die algehele sesde plek ingepalm tydens die kompetisie en met haar toestemming deel ek dit graag met die lesers. 

Riki is sonder fiemies en skryf soos sy praat. Sy is opreg en mensliewend en sê 'n ding sonder vertoon. 

Sluit gerus aan by die groepe ... wie weet jy kan dalk ook een van die wenners wees. 



Is daar 'n plek waar ou vergete drome woon? Dalk op 'n eiland waar hul saamtrek en met nostalgie gesels oor wat kon wees, oor sukses en akkolades wat net lang stiltes geword het. Stories wat mekaar met vreugde vul, maar ook hartseer laat oor wat nooit sal wees nie? Die blink van die drome begin taan en die blou-pers vlekke verklik die verloop van tyd.

Geblik of gebottel ... drome het nie 'n vervaldatum nie. Vir elke jaar wat vir my gevoeg word, voel dit asof tyd my nukkerig en aspris van agteraf inhardloop. Ek wil my hande opsteek en aan tyd se wysers hang om die tik-tak te rem, al is dit net vir 'n wyle.

Hier in die tweede rondte van my tweede beurt, wil ek my lewe dubbel ervaar en dorstig indrink voor ek weer vergeet. My drome van lank, lank gelede afstof en blink opvryf met Brasso en 'n sagte lap. 

My eerste droom glimlag haasbek vir my - 'n "Teenage-pop"-koek vir my drie-en- sestigste verjaarsdag - versier met wit en pienk skuimpies, gepak oor 'n tjoklitkoek in die vorm van 'n hoepelrok. As kind was dit vir my die mooiste koek ooit. Dalk is dit nostalgie, maar hierdie jaar is dit myne.

My tweede droom het letterlik in my lewe ingejaag - 'n 1968 Ford Mustang. As tienjarige val ek gat oor kop oor kroon vir die fliek "Bullitt," waarin Steve McQueen die hoofrol vertolk. Ek en Steve het sonder remme saam deur San Francisco se strate gejaag en my hart het vinniger geklop as wat daai Mustang se perde kon gallop.

Hierdie droom bottel ek vir eers, nie net oor finansies nie, maar veral oor die prentjies in my kop. Daar is 'n liedjie wat sê: "your hip bone is connected to your thigh bone" en dit is nie waar nie. Sou ek nou só laag moet buk om in die Mustang te klim, sal dit beslis die dag wees waarop ek uitvind dat my heupbeen aan my enkelbeen, wensbeen, holspier en lagspiere gekoenêk is. Dus, bottel toe met jou.

My derde droom wys dadelik potensiaal en ek voel laf en wil besig raak, want daar is geen rede om nie 'n regte, outydse "garage party" te hou nie! As tiener was hierdie my "sweet sixteen" droom. Sewe-en-veertig jaar later gaan ek self sorg dat die "crinkle paper" geknip en dan skuins van hoek tot hoek oor die plafon gespan word. Die platespeler in die hoek staan gereed om "Springbok Hits" te speel; en die tafel teen die muur gaan gelaai word braaivleis, broodrolletjies en gesnyde tamaties. Die Oros in die emmer wat met twee blikke vrugte in stroop gemeng sal word, moet dien as drinkgoed en sommer ook poeding. Die parytjie gaan afskop af met CCR se "Hey tonight" en afsluit met almal wat uit volle bors saam Cliff Richards " Forty Days" sing. Hierdie droom gaan voor 2023 'n groen regmerkie kry. Hoera!

Terwyl ek onder my Bidboom sit en 'n duik in die kondensmelkblikkie suig, wonder ek wat laat mens jou drome langs die pad verloor of sommer net oorboord gooi. Het jou droom 'n vuuroffer geword om ander warm te hou? 

Die afgelope week het ek met 'n paar vriende gesels oor drome wat was, oor nou en en waar dit heengaan.

"Riki, wanneer realiteit by jou voordeur instap vlieg meeste van jou drome by die agterdeur uit. Trou, werk, kinders, rekeninge, verpligtinge en SOS (same old shit) kruis daagliks jou pad." 

En jou droom?" vra ek. "Is daar iets op die horison wat blink?"

"Net 'n Gadget wat die seer van die verlede uit my brein kan skoonvee en die onnodige bagasie wat mens daagliks saamsleep kan laat verdwyn, ou Rix. Dit is nou my enigste droom." My hart lê skeef vir haar.

Volgende bel ek my bendemaatjie. "Myne bendemaatjie, drome loop dood in doodloopstrate. Daar waar jy die agterste potjie op die stukkende stoofplaat is en elke dag aan die agterspeen moet suig." Haar stem breek terwyl my hart breek.

Deur al die jare wat ek haar ken, bak sy vir 'n inkomste. Elke keer as Koos sy werk verloor as gevolg sy Pethidine-verslawing, moes sy bedags uitspring om te werk, net om saans te kom bak terwyl sy  bid vir bestellings. Hoeveel keer moes sy die handelose leisels optel? Trek na familie, na vriende, na amper op straat? Te veel keer.

Na Koos se dood werk sy hard, word mens en begin lag en huppel. Sy verloor gewig, raak verlief en gooi haar nuwe liggewig hartjie in hande waar dit nie hoort nie, spaargeld en al.

"Nou is ek weer terug waar ek was net na Koos se dood. Elke dag kyk ek in my seun se oë vir onderdak en een bord kos per dag. Agtien ure 'n dag werk ek, Rix. Bak, maak huis skoon, was en stryk, kook en doen skottelgoed, maar dis nooit genoeg of goed genoeg nie," snik my bendemaatjie. 

Hoe vra ek nou hierdie rou vrou met die breekstem of sy nog drome het?

"In al die jare, tussen my gebede en drome, het die Here nooit my kinders honger bed toe laat gaan nie. So, ek moet glo aan my drome. As ek dit nie doen nie, wie sal dan? Ek droom oor 'n huis van my eie waar ek heeldag kan bak ... oor karre wat reg rondom die blok parkeer om hul bestellings te kom afhaal."

"O ja, en iemand wat my kan lief hê. Ek wil in sy oë kyk en sien dat hy dink ek is mooi en nie net goed genoeg nie, maar die beste. Ek wil nie meer naai en nooit swieties kry nie, ek wil swietieswaardig en blomwaardig wees - sonder sooibrand en trane oor 'n bord kos en 'n dak oor my kop. Net dìt, Rix, net dit."

Fokkers, dis wie. Dit is fokkers wat jou drome uitmekaar skeur en dit met hul vuil voete vertrap en vermorsel. "Kyk nou só, skielik kan DÍT skilder, skets, skryf, dig, klei gooi en bak. As-se-fokken-blief, pure wensdenkery!" Pimpel en pers geknyp swem jou drome dan maar vir Dooie-drome-eiland.

Hier op my dak met 'n fiela en tee weet ek dat wens en droom nie dieselfde is nie. Ek wens gereeld my buurvrou moet 'n kramp in haar poephol kry, maar glo my, ek wil nié daaroor droom nie! Jy sien, dit is die ding van wens. Daar waar hy op sy gat sit, sal hy bly sit tot hy in sy laaste gat ingly en onder die kluite beland. Fluit-fluit fêkoff.

My voortrek droom van die afgelope tien jaar het amper net 'n wens gebly, totdat dit skielik drie maande gelede vlerke gekry het. Ek en Vlam-my-Lam het Oos-Rand toe gery en besigheid loop doen.

Sewe erwe langs mekaar met sewe woonstelle, sewe groot eenmankamers en 'n groot ronde dubbelverdieping-huis op elke erf. Die grondvloer van die ronde-huis dien as winter kombuis met 'n kaggelvuur en rakke vol boeke en 'n lang eet- en     kuiertafel. Lag, gesels en liefde sal ons kombuistaal wees terwyl "Die Waarheid"-radiostasie 24/7 uitgesaai sal word. Die boonste verdieping is die somerkombuis, met baie koelte; en 'n ligte bries wat van die see se kant af inwaai.

Hoe gelukkig vir ons dat my en Vlam-my-Lam se drome aan "paralelle spesies" behoort. 'n Groot werkswinkel en opleidingsentrum om dít waarvoor hy gekwalifiseerd is te kan uitleef. Om oud en jonk 'n kans te gee om te "qualify" as die room van elektrisiëns in hierdie land - sonder matriek, want daai papiere is blank domino's.

Sy oë blink terwyl sy hande en die honde saam gesels. "Rixter, ek kan nie wag nie, my ou. My hol brand spierwit soos 'n goeie tweedehandse kar. Ek is reg om weg te spring." 

"Ek sien jou, Vlam Malan."

Dit is my droom is vir jóú. Jy, wie jou menswaardigheid verloor het deur onwaardige mense; jy, wat weggooi is deur jou kinders. Siele wie se oë kraak en breek terwyl hul droomloos smeek om aalmoese, want die werklikheid van honger is seer.

Eensaamheid is 'n bliksem. Hierdie veilige hawe is joune, kosteloos. Die prys is liefde, daagliks betaalbaar met lag en bietjie simpel lawwigheid.

Binne twee jaar gaan ek die rooi tapyt vir jou uitrol. Hier waar jy weer jouself kan vind terwyl jy leer om jouself weer te koester en lief te hê.  'n Plek waar die holtes van jou voete perfek gaan pas. Jou eie plek, teen jou eie pas, op jou eie tyd.

Welkom by God se Spens waar jou drome, gebottel of geblik, weer begin asemhaal. Die Brasso en sagte lappie is onder die wasbak. Help jouself.

Drome is gebede wat deur die Here self beantwoord word. Mooi drome vir jou.

Julle moet my nou asseblief eers verskoon. Ek wil gou gaan kyk of ek Ansie voor in die ry by Liewe Jesus kan indruk vir haar dak en bord kos, sonder sooibrand en trane. Ek weet jý sal verstaan.

Kopiereg Riki Malan 31 Julie 2022

 

Maandag 11 Julie 2022

Grepe uit my Lewe: Die volgende deel van my kamer.

 


Die Skoppenskamer

 

Daar was verskeie vertrekke in my lewe, maar geeneen het ‘n blywende herinnering soos dié vertrek in my lewe gelaat nie. Van hier af noem ek die vertrek my Koningin van Skoppenskamer. Die 3.5x6 kamer klink te klinies en tegnies. Die vertrek is meer as dit. Hier het ek gedroom van wêreldreise, ander tale geleer, weggeraak in die bladsye van boeke, musiek geluister, en huiswerk gedoen.

In my dertig jaarlange afwesigheid was my lewe ‘n skoppelmaai-rit van plesierigheid, rillers, onverstaanbaarhede en insiggewende oomblikke wat spore in my lewe en gemoed gelaat het.

Buite dié vier mure het ek kinders gebaar, hulle groot gemaak en vir hulle ‘n huis geskep. Ek het hulle gehelp in hul transformeringsjare en ‘n anker gebly totdat hulle die huis verlaat het. Hierdie huis was omvou met drome, deurgebidte wonderwerke, volop liefde en vriendskap.

Hier het ek ook tot bekering gekom en God leer ken op opgewonde wyses wat my laat glo het in die wonder van ‘n Hemelse Vader. Hier het ek my kinders in die hande van die Here geplaas ongeag hul lewenskeuses en bly steeds by hulle staan. Maar hier het ek ook seergekry, en als verloor, insluitende my selfrespek. Daardie seer het my op die ou einde teruggedryf na die Skoppenskamer sodat ek weer myself kon ontdek.

Toe ek terugstap het dit gevoel of ek nooit weg was nie. Die donker-pienk gordyne en bypassende duvet was nog daar. Nou het dit meer soos cherise gelyk en ek het daarvan gehou. Die enkelbed was vervang met ‘n dubbelbed en my sussie was natuurlik nie daar nie. ‘n Hele kamer vir myself. Lekker.

Hier moes ek weer my voete vind ... moes ek weer leer om te oorleef op my eie - my menswaardigheid geskend met komplekse sere, wroegings en bitterheid. Die Here was nie meer in die prentjie nie. Die seer was te seer en ek was bang ... ongelooflik bang. Die vrees was soos ‘n halsnoer om my kop wat my ledemate verstar het op die deurdrumpels van winkels, en my kop stil. Dit het my drie jaar gevat om deur dit als te werk, te aanvaar en aan te beweeg.

Weer het ek die Skoppenskamer verlaat en by Isak ingetrek en vir agtien maande het ek die kamer verruil vir ‘n dubbelverdiepingmeenthuis. Toe die lewe my weer ‘n uitklophou gee, moes ons terug na die kamer. Ek het die skuif teëgestribbel, maar daar was geen ander uitkoms nie tensy ek in die straat wou gaan bly.

Ek haal my hoed af vir mense wat daardie roete volg. In my worstelingstyd het ek besef hoe papbroek ek eintlik is. Die straat se roep as uitkoms was ‘n foltering wat ek vir baie jare moes wegsteek, die kreet soms te hard en te helder terwyl vrees my wou doodwurg.

Toe ek weer ontvanklik word vir die stem van die Here, het Vader deur ‘n profetiese persoon laat weet daardie vrees is ongegrond — dat daar nou vir my ‘n nuwe bladsy is. Toe eers het ek ontspan.

My Skoppenskamer is nou ‘n veilige hawe waar ek leer, groei en standvastig word.

 @Lynelle Calrk 2022

 

Woensdag 25 Mei 2022

Afrikaanse Kultuur


Afrikaanse kultuur word gevind in die sintuie van ons menswees.

Dit word geproe in warm souskluitjies.

Dit word geruik in vars omgeploegde grond.

Dit word gehoor in ’n Hoëveldse donderweer. Dit is fel maar vol lewe.

Dit word gesien in die trots wat daar vloei in elke Afrikaner hart en gevoel in die deeg waaruit die heerlikste gebak uit voorkom.  Dit is die hartklop van ons bestaan.

Dit is ’n kosbare kleinnood wat oorgedra word van geslag tot geslag. Sonder huiwering word dit gepraat en geleef sonder om omverskoning te vra. Dit is ’n alles oorheersende liefde vir als eie aan ons.

Soos Charmain Olivier dit stel: “Om op 'n Sondag middag skaapboud, rys, gebakte aartappels en soet patatas te eet.”  Ons kultuur is in die detail; gedek op ’n tafel waar familie saam kom en ’n glasie klink sommer net vir die lekker daarvan.

Kultuur kom voor in ons skrywes, ons geloof, musiek, kleredrag, en eetgewoontes. Dit is die uitvloeisel van wie ons is, wat ons doen en waarheen ons op pad is.

Na ’n onlangse besoek aan die Voortrekker monument merk Lorraine du Plessis die volgende op: 

... Soos ek tyd verwyl besef ek dat die Afrikaanse kultuur nie altyd uit Afrikaanse wit mense bestaan nie.”

Dit is toepaslik maar gun die wat die taal lief het ruimte om te groei. Ons hart saamgevat in ’n taal. Dit kan nie in ’n vorm gegiet word nie, maar eerder is dit ’n gevoel van behoort wat hier ter sprake is.

’n Behoort wat met trots dit uitbasuin. “Ek is Afrikaner.” Ongeag waar ons onsself bevind in die wêreld, die trots maak ons uniek.

Die Afrikaanse kultuur is ’n lewende organisme wat wil groei mits ons dit lewendig hou deur aan te hou om te sing, te skryf en te ontwikkel.  


Sondag 24 April 2022

Kort Grepe uit my Lewe #5 en 6


Wat vooraf gebeur het:

Deel 1 en 2

Deel 3 en 4

Deel 5

“Julle sal reg kom vir ‘n rukkie? Ek wil net gou iets doen.”

“Ek is lus vir roomys.” Skimp my seun.

“Jy weet daar is nie.” Ek gee hom ‘n vuil kyk en hy laat sak sy koppie oor die wiskunde boek.

By die rekenaar stop ek. Ek weet nog nie hoe die elektroniese ding werk nie maar goed word weggesteek en ek wil weet wat.

Die toring lyk intimiderend maar ek druk die knop versigtig. Die skerm flikker aan en ek gaan sit.  

Ek maak soos wat ek Henry sien doen het en kliek op een simbool. ‘n Klomp dokumentasie maak oop. Verbouereerd gly ek die muis rond maar niks gebeur nie.

Onderaan die skerm sien ek ‘n simbool wat baie soos ‘n disk lyk en kliek op dit. ‘n Ander venster maak oop en ek staar geskok daarna. Blonde hare verberg ‘n groot gedeelte van haar gesig. Haar rooi mond in ekstase terwyl ‘n gilletjie van genot oor haar lippe borrel.

‘n Kardeur slaan toe en ek kyk na die deur. Dan druk ek die knop weer en die skerm gaan dood.

“Lynelle waar is jy?” hoor ek sy stem en ek staan woedend op.  Vandag soek ek antwoorde. Basta die werk.


 Deel 6

“Ek het goeie nuus.” Begin hy. Ek verstyf in sy arms en stoot hom weg.

“Ek vlieg oor twee weke Frankryk toe vir akkreditasie. Hannes het gebel.” Henry gaan voort sonder om agter te kom dat my oë vuur spoeg. Die galbitterheid gereed om hom tussen die oë te tref.

“Hy weet van ‘n belegger wat belangstel om in te koop. Die Here het voorsien, Lyn.” Hy plaas die dokumentasie langs die rekenaar neer, draai om en ontmoet my blik en frons.

“Ek …” begin hy maar ek stap uit. Nie in staat om twee woorde bymekaar te voeg nie.

Ons het al hieroor gesels. Het selfs vir huweliksberading gegaan. Duidelik was dit als verniet en ek … ek voel soos ‘n dwaas.  

“Lynelle …” sluit hy minute later by my en die kinders in die klaskamer aan. Ek gaan aan om Isabel se werk na te sien.

“Het jy gehoor wat ek gesê het?”

“Ja.”

“En?”

“Baie geluk.” Is al wat ek kan uitwurg.

Later toe als stil word en ek kamer toe stap sit hy daar. Duidelik jammer vir homself.

“Is jy nie bly oor wat die Here doen nie?”

“Is ek vir jou mooi?” kom my weer vraag. Stom staar hy na my en raak dan stil.

“Nee.”

©LynelleClark

Vrydag 22 April 2022

Kort Grepe uit my Lewe #3 en 4

Wat vooraf gebeur het: Deel 1 en 2


Deel 3

“Mamma, foon!”

“Ek kom.” Die kragopwekker gee ‘n ruk. Die petrol is klaar. Ek sluit die ysterhek en stoot dan die houtdeur op die snerpende koue toe en stap vinnig deur na die klaskamer.

“Wie is dit?”

“Weet nie mamma.” Antwoord my dogter en gaan voort met haar studies.  

“Lynelle wat praat.” Dit is ‘n onbekende nommer en ek frons. Teen die tyd is ons lugtig vir vreemde nommers wat gewoonlik net skuldeisers is. Niemand anders bel nie.

“Lynelle, dit is Tania. Is julle by die huis?”

“Ja, ons is.”

“Ons wil net die yskas kom haal. Ek weet ek het gesê jy kan dit gebruik totdat julle regkom maar ons het weer daaroor gedink en Piet wil dit kom haal. Ek hoop jy verstaan.”

Wat anders moet ek doen as my kop knik in stom verbasing. Die krag is in elk geval af en die yskas leeg. Die kragopwekker kan hom ook nie met genoegsame krag voer nie. Die boksie melk en bakkie margarien kan maar buite staan.

Die vorige week tydens bybelstudie het Tania die yskas aangebied nadat hulle gehoor het van die balju se besoek. Nou wil hulle dit terug hê.

Het God ‘n fout gemaak?

Het ons verkeerd geluister?


Deel 4

“Wat maak jy?” vra ek Henry ure later. Die huis is doodstil. Dit was ‘n lang dag van baie introspeksie en sielswroeginge.

Die mense is hier weg sonder om ons in die oë te kyk. Die yskas vasgemaak agter op die bakkie. Nie lank terug nie het ons saam met hulle deur ‘n krisis gebid. 

“Net besig.” Met sy rug gekeer na my is die rekenaar skerm verskuil.

“Met?” vra ek en stap nader.

“Sommer net iets,” en verander die beeld vinnig. Maar wat ek sien verstom my, dit kan nie wees nie. Ons het al hieroor gepraat.

“Iets gehoor van die offer?”

“Moet die bestuurder en direkteur by LG ontmoet môre.”

“Hoe gaan jy daar kom?”

“Phillip sal my vat.” Ek ontklee, trek my warm nagklere aan en klim tussen die koue lakens in en lê doodstil. Ons sal môreoggend weer water kook vir bad. Nou moet ek staatmaak op my liggaamshitte.

Henry het nog nie beweeg van die lessenaar nie. Die skerm so gedraai dat ek nie kan sien waarmee hy besig is nie.

“Gaan jy nie kom slaap nie?” die woorde bitter in my mond.

“Sal nou. Wil net klaar maak.” Ek draai op my sy en krul in ‘n bondeltjie. Die ‘nou’ gaan nog lank vat.

©LynelleClark

Woensdag 20 April 2022

Kort Grepe uit my Lewe #1 en 2

 

Ek het dit begin skryf tydens 'n mini-kompetisie op 'n skrywersblad. 
Die enigste voorwaarde was dit moet slegs 200 woorde bevat. 
Op daardie stadium het ek alreeds met die gedagte gespeel om my eie verhaal te skryf om oor my eie vrese en skugterheid te kom. Ek het net nie geweet hoe moes ek te werk gaan nie maar die uitdaging het my aangespoor om te begin. Nou vind ek die skrywe bevrydend. 
Waarheen dit gaan lei weet ek nog nie ... maar dit is 'n ander dag se besluit. 

 Hier volg die gebeure tussen 2000 en 2002 in kort grepe.

Skuilname is gebruik waar nodig. 



Deel 1 

“Kan jy die krag aansit? Ek sien dit is af.” Die kind gluur my aan. Venyn merkbaar in die hovaardige houding. Die gordyn sak en ek stap verslae weg. Hoekom Here?
“Pay and I will switch it on!” skree die oudste kind uit die sitkamervenster en die onmiskenbare gegiggel volg my terug na my huis. My voetval dof ploffend op die gras.

“Hoekom is die krag af ma?” vra my oudste.

“Hulle dink dit is snaaks.” Moedeloos ontkoppel ek die strykyster uit die muur en sit dit weg. Vir nou is ek klaar gestryk. Sal môre weer probeer.

“Is die tannie nie daar nie?” Ek skud my kop en verberg my skaamte terwyl ek omdraai en die plank wegsit. Ek sal wat wou gee vir koffie maar water sal moet doen.

“Het pa al iets gehoor van die werk?” vra sy weer. Weer skud ek my kop. Die swaarkry dik en bitter in my keel.

“Wat eet ons vanaand?” vra my elfjarige seun. Ek maak die kasdeur oop. Een blikkie sop staan eenkant in die leë kas.

‘n Kar wat stop voor die voordeur bring my uit my beswyming. Opgevolg deur ‘n vinnige voetval en dan die dawerende klop. “Balju! Maak oop.”

Deel 2

“Lyn, jammer om te pla. Ek wou net die vir jou kom gee.” Val buurvrou weg die oomblik toe ek die voordeur oopmaak en oorhandig drie twintig rand note aan my.

“Ek was besig om vir my kinders lekkergoed te koop toe dink ek aan jou drie. Hulle sal seker ook ietsie lekker wil geniet. Hier is ietsie klein vir elkeen. Hoe gaan dit? Enige nuus oor werk?”

“Hallo Wilma, baie dankie.” Sê ek en stoot die deur groter oop en sluit die ysterhek oop.

“Nee, Henry het nog niks gehoor nie.”

“Die lewe is swaar, en ons kan ook nie almal help nie. Maar sterkte.” Haar medelye klink hol, niksseggend.

“Wil jy inkom?” ‘n Outomatiese vraag en toe dit uit is, is ek dadelik spyt. Die ongemak is duidelik op haar gesig te bespeur, en in my stem te hoor en ek trek die deur op die kaal vertrek toe. 

“Weet jy, die kinders is alleen by die huis. Miskien ‘n volgende keer. Weet ons dink aan julle.” Maak sy verskoning, draai om en begin om weg te stap.

“Baie dankie Wilma. Totsiens.” Groet ek en staar die fyn vrou agterna. My gedagtes in ‘n warboel maar dankbaar vir die klein gebaar.  

Dankie Here. 

©LynelleClark

Vervolg: 

Deel 1 en 2

Deel 3 en 4

Deel 5 en 6

Deel 7

Sondag 05 Desember 2021

Tyd vir Aksie. Tyd vir Saamstaan.

 


TYD VIR AKSIE. TYD VIR SAAMSTAAN.

Liewe vriende. Ek kan 'n borgskap kry van 'n Nederlandse kultuurorganisasie vir die Afrikaanse stories wat ek al die afgelope maande voorlees. Soos sommige van julle al weet doen ek potgooie vir Afrikaans.com en programme vir Kaapstad Radio. In die programme lees ek veral kortverhale voor en gesels ek met nuwe, bekende en minder bekende skrywers. Ek doen hierdie werk saam met Nico Schamrel van Ns Uitgewers. In die nabye toekoms word hierdie verhale ook op nog drie lokale radiostasies uitgesaai. Daarnaas maak ek saam met Nico Schamrel Verhale in Leesbeeld vir Net-Afrikaans. Ons is ook in gesprek met Nederlandse taalorganisasies om ons Afrikaanse woordkuns ' n plekkie op (belanghebbende)Nederlandse platforms/forums geplaas te kry.



Om hierdie werk voort te sit het ons nou borgskappe nodig. Beide ek en Nico doen hierdie werk doodgewoon omdat ons lief is vir Afrikaans en omdat ons ons skrywers, veral minder bekende skrywers, graag in die skynwerpers wil plaas.



HOE KAN JY ONS ONDERSTEUN? Dit is maklik. Ons uitdaging is om die Nederlandse kultuurfonds te oortuig dat ons inderdaad 'n gehoor het vir ons werk. DAAROM WIL ONS JULLE VRA OM BY ONS ALLES AFRIKAANS YOUTUBE kanaal aan te sluit. Ons het minstens 1000 (eenduisend) lede nodig om die aanvraag 'n slaagkans te gee. DIT KOS JOU NIKS. Ons plaas weekliks nuwe stories op die kanaal. Sluit aan. Nooi (AL) jou vriende om aan te sluit. Help ons om ' n duisend lede te werf! Dit kan gedoen word as ons mekaar dit gun. Baie dankie vir elkeen se steun.

Woensdag 11 November 2020

Boek bekendstelling: Juweel van die Oosgrens.

 

Paxi R60 / Aramex R99 / Postnet R99


Titel - Juweel van die Oosgrens

Skrywer – Lynelle Clark

Genre – Geskiedkundige roman

Bladsye 244

Gedrukte Boek: 978-0-620-90279-3

Kindle: 978-0-620-90280-9

 

Verkrygbaar by Amazon / Smashwords en direk by skrywer lynelle@kreativcollectiv.com. 

Synopsis

Die mengsel van tale het ʼn groot rol gespeel in die skepping van die taal wat ons vandag ken. Afrikaans is gevorm in die warm kombuise en wye vlaktes van ons mooi land en het vir vele interessante oomblikke gesorg.

1815 is gekenmerk deur aanpassings, afstande en onluste. In die midde hiervan het Celeste Reyneke geleef. Op haar agtiende verjaarsdag verander haar lewe dramaties en eindig op in ‘n gerieflikheidshuwelik. Twee jaar later moet sy die wêreld weer alleen in die gesig staar en beland op die Oosgrens. Die tweejaar-lange huwelik was alles behalwe maanskyn en rose en eindig traumaties. Ontnugterd volg sy die pad die binneland in.

Celeste het grootgeword in die Kaap van Storms met ʼn oop gemoed en lus vir die lewe. Sy kon lees en skryf en het ʼn ‘beroep’ gehad. Vir haar het dit natuurlik gekom om die tyd en reëls te verander soos wat die geleentheid hom voorgedoen het. Haar unieke talente kom dadelik op die voorgrond en gou besef mense sy is ʼn aanwins vir die gemeenskap. Maar sy het ook die koppe laat draai. Met die tekort aan vroue en haar natuurlike skoonheid trek sy die aandag.

Barend Olivier, die toonbeeld van manlikheid en dapperheid, is op soek na ʼn vrou wat sal aanpas by sy lewe aan die Oosgrens. Tydens ʼn tweeweke-lange patrollie leer die twee mekaar ken. Maar die pad is lank, warm en rof en ʼn man kan net so lank van ʼn aantreklike vrou af wegbly voor die fisiese begeertes oorneem. Sal hulle betyds ʼn prediker kan vind?

Die belangrikste vraag is: Sal Celeste hom toelaat om haar lief te hê?

Ek nooi jou om saam met my op hierdie reis te gaan en nie net die spanning van hierdie tydperk te ervaar nie, maar ook die romanse te vind in die grasvlaktes van ons mooi land.

https://www.kreativcollectiv.com/product/juweel-van-die-oosgrens/




Woensdag 06 November 2019

My droom is net 'n boek ver...


Boeke is noodsaaklik vir ons alledaagse lewe.
Vir boekwurms is dit belangrik om 'n fisiese boek in hul hande te hou in plaas daarvan om dit op 'n elektroniese toestel te lees. Ek weet as boekbeoordelaar skrywers verplig is om in die verskillende formate wat op my skootrekenaar beskikbaar is, die boeke te lees. Dit is makliker en vinniger, maar dit is nie dieselfde nie. 'n Boek is outentiek. Dit pas perfek in jou lewe; jy kan oral sit en die gevoel en reuk daarvan geniet terwyl jy die bladsy om blaai.
Sedert 2012, toe my eerste boek, A Pirate's Wife gepubliseer is, het ek hierdie droom gehad om my eie boek in my hande te hou, maar dit het nooit gerealiseer nie. Maak nie saak hoe hard ek probeer het om 'n permanente pos te kry nie of probeer spaar het nie, dit het 'n droom gebly.
Toe, in Augustus van hierdie jaar (2019), het ek die geleentheid gekry om my boeke deur 'n bekende verspreider in my land, Suid-Afrika, te versprei. En hulle het nie net die deure vir my oopgemaak nie, maar ook vir elke kliënt wat ek ingebring het die geleentheid gegee. Omdat ek nie werk kon kry nie het ek my eie besigheid begin. Maar soos wat julle weet dit vat tyd om werklik ‘n salaris daaruit te verdien en bly ek op my agtervoete. Ek was opgewonde en angstig terselfdertyd toe ek in geloof die kontrak onderteken het en aangekondig het dat dit die jaar sal gebeur.
Sedertdien kon ek 'n paar boeke van elk druk, maar soos met alles in die lewe het jy hoeveelhede nodig om regtig geld daaruit te verdien. Aangesien dit my enigste bron van inkomste is, gaan ek voort om die bal aan die rol te kry. My kliënte is reeds in die netwerk terwyl ek op die kantlyn sit en wens ek kan my boeke druk. Dit is waar my soeke na fondsinsameling inkom.
Ek het in Oktober 2019 met die fondsinsameling begin, maar aangesien dit nie die vereiste bedrag bereik het nie, het ek besluit om dit sonder 'n sperdatum te verleng totdat die teiken bereik is, insluitend die verspreidingskoste van my nuwe boek.
Dit is 'n leerkurwe vir my. Om uit jou boks te klim en anders te dink is 'n heel nuwe uitdaging en ervaring, veral as jy nie daarvan hou om oor jouself te praat nie.

Lynelle's Books
A Pirate's Wife - Historical Fiction - Free in Kindle
Bella's Choice
 - Contemporary Romance - $1.99 in Kindle
Blood Mines
 - Futuristic Thriller - $1.99 Kindle
GedagteKringe
 - Afrikaanse Bundel - Free in Kindle 



Deur op die Gogetfunding-skakel teklik, sal u direk na die webwerf geneem word.
Ek het meer foto's en skakels daar geplaas vir u gemak.
U kan kies via PayPal of Visa.
Dit is maklik en veilig.




Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...