Vrydag 27 Mei 2022

Ons keuse as geskenk vir Vadersdag

 JOU AANLYN WINKEL - 'n boek vir Vadersdag


My gebed vir 'n boer - Ns. Liefdadigheidsprojek
'n Blom uit Pole - Louis Rautenbach Snr
Belofte van beskerming - Deon Hoffman
Blood Mines - Lynelle Clark
Dances with the devil - Don Coetzee
Genade oorvloedig - Berry Jacobs
Gids vir die gelowige - Carl von Maltitz
Mosambiek avontuur - Bets Koen
Redrum revenge - Judy De Bruin
Rooi papawers - Nico Schamrel
Van plaaskind tot plaasboer - Abie Pietersen
Vryspreek - Eugene Pienaar



Donderdag 26 Mei 2022

Kort Grepe uit my Lewe #8


Hoofstuk twee uit Grepe uit my lewe. 

Deel 1

Ek was elf toe ek die eerste keer dié vertrek betree het - ‘n 3.5x6 kamer met ‘n groot venster aan die onderpunt van die vertrek en ‘n nou venster, die lengte van die symuur; ‘n ingeboude tweedeurkas en deur. Die koudste vertrek in die huis.

My pa het pas die huis in Prince Georgelaan gekoop. Dit was ‘n groot huis - baie groter as die een in Olgastraat, met genoeg kamers vir my en my suster en my broer wat nog in wording was.

My jongste suster sou eers twee jaar later verskyn.

Die vertrek het ‘n groot muurskildery gehad van die Koningin van Spades. Ek het daar en dan besluit dit is my kamer. My ouers was nie beïndruk nie en dit was summier verberg met pienk plakpapier. Die hele kamer was gehul in pienk; van siamees-dekens oor die enkelbeddens tot blommetjie-pienk gordyne - met skakerings van pienk in die strooikussings en vloermatjies vasgevang, tot groot konsternasie van myself. As ek reg kan onthou was die kamermat ook pienk. So ‘n dowwe vuilpienk wat later nie meer mooi was nie ongeag die kere wat dit onder die matwasser deurgeloop het.

My sussie was op die Barbie-stadium en was mal daaroor. Vandag nog is sy lief vir die kleur en dit pas haar. ‘n Regte Barbie in lewende lywe met geen haar uit sy plek.

Ek haat die kleur. Tot vandag toe hou ek niks van pienk nie en my twee dogters het nie dieselfde marteling deurgegaan nie. Ek het botweg geweier dat pienk ooit iewers in my huis sou wees.

Kan jy my smalende glimlag sien … 

Teen standerd agt, toe ek my eerste naweek werk se geld verdien het, nogal by ‘n haarsalon, het ek plakkate aangeskaf en die oorverdowende kleur verberg aan my kant van die kamer. Lieb Bester, Farah Fawcett, Abba, perde en boekaanhalings in skakerings van bont, swart, blou en wit net om die monotoon te breek. As ek reg onthou was daar selfs een van Bruce Springsteen. Die ander helfte was besaai met Barbie en Ken en pienk. Die tweestryd tussen ons twee was toe alreeds merkbaar.

Later, toe ek uit die huis is, is die plakpapier verwyder en die muurskildery uitgewis met verfrollers. Die dag toe ek dit sien was ek befoeterd, maar ‘n mens is mos groot en jy kom daaroor. ‘Life goes on’ en alles wat daarmee gepaard gaan - die 3.5x6 vertrek nie meer deel van my wêreld nie.

Toe hulle twee uit die huis is, is die kamer weer geverf. Roomkleur in plaas van wit het nou die mure versier en donker-pienk gordyne het die vensters behang. Bloedrooi blomprag spatsels het die roomkleurige kussings besprinkel en gaste kon die vertrek na hartelus gebruik.

Ek het my eie huis gehad, min wetend dat ek dertig jaar later na die vertrek sou terugkeer.

©Lynelle Clark 2022

Woensdag 25 Mei 2022

Afrikaanse Kultuur


Afrikaanse kultuur word gevind in die sintuie van ons menswees.

Dit word geproe in warm souskluitjies.

Dit word geruik in vars omgeploegde grond.

Dit word gehoor in ’n Hoëveldse donderweer. Dit is fel maar vol lewe.

Dit word gesien in die trots wat daar vloei in elke Afrikaner hart en gevoel in die deeg waaruit die heerlikste gebak uit voorkom.  Dit is die hartklop van ons bestaan.

Dit is ’n kosbare kleinnood wat oorgedra word van geslag tot geslag. Sonder huiwering word dit gepraat en geleef sonder om omverskoning te vra. Dit is ’n alles oorheersende liefde vir als eie aan ons.

Soos Charmain Olivier dit stel: “Om op 'n Sondag middag skaapboud, rys, gebakte aartappels en soet patatas te eet.”  Ons kultuur is in die detail; gedek op ’n tafel waar familie saam kom en ’n glasie klink sommer net vir die lekker daarvan.

Kultuur kom voor in ons skrywes, ons geloof, musiek, kleredrag, en eetgewoontes. Dit is die uitvloeisel van wie ons is, wat ons doen en waarheen ons op pad is.

Na ’n onlangse besoek aan die Voortrekker monument merk Lorraine du Plessis die volgende op: 

... Soos ek tyd verwyl besef ek dat die Afrikaanse kultuur nie altyd uit Afrikaanse wit mense bestaan nie.”

Dit is toepaslik maar gun die wat die taal lief het ruimte om te groei. Ons hart saamgevat in ’n taal. Dit kan nie in ’n vorm gegiet word nie, maar eerder is dit ’n gevoel van behoort wat hier ter sprake is.

’n Behoort wat met trots dit uitbasuin. “Ek is Afrikaner.” Ongeag waar ons onsself bevind in die wêreld, die trots maak ons uniek.

Die Afrikaanse kultuur is ’n lewende organisme wat wil groei mits ons dit lewendig hou deur aan te hou om te sing, te skryf en te ontwikkel.  


In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...