Wys tans plasings met die etiket deel 1. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket deel 1. Wys alle plasings

Woensdag 20 April 2022

Kort Grepe uit my Lewe #1 en 2

 

Ek het dit begin skryf tydens 'n mini-kompetisie op 'n skrywersblad. 
Die enigste voorwaarde was dit moet slegs 200 woorde bevat. 
Op daardie stadium het ek alreeds met die gedagte gespeel om my eie verhaal te skryf om oor my eie vrese en skugterheid te kom. Ek het net nie geweet hoe moes ek te werk gaan nie maar die uitdaging het my aangespoor om te begin. Nou vind ek die skrywe bevrydend. 
Waarheen dit gaan lei weet ek nog nie ... maar dit is 'n ander dag se besluit. 

 Hier volg die gebeure tussen 2000 en 2002 in kort grepe.

Skuilname is gebruik waar nodig. 



Deel 1 

“Kan jy die krag aansit? Ek sien dit is af.” Die kind gluur my aan. Venyn merkbaar in die hovaardige houding. Die gordyn sak en ek stap verslae weg. Hoekom Here?
“Pay and I will switch it on!” skree die oudste kind uit die sitkamervenster en die onmiskenbare gegiggel volg my terug na my huis. My voetval dof ploffend op die gras.

“Hoekom is die krag af ma?” vra my oudste.

“Hulle dink dit is snaaks.” Moedeloos ontkoppel ek die strykyster uit die muur en sit dit weg. Vir nou is ek klaar gestryk. Sal môre weer probeer.

“Is die tannie nie daar nie?” Ek skud my kop en verberg my skaamte terwyl ek omdraai en die plank wegsit. Ek sal wat wou gee vir koffie maar water sal moet doen.

“Het pa al iets gehoor van die werk?” vra sy weer. Weer skud ek my kop. Die swaarkry dik en bitter in my keel.

“Wat eet ons vanaand?” vra my elfjarige seun. Ek maak die kasdeur oop. Een blikkie sop staan eenkant in die leë kas.

‘n Kar wat stop voor die voordeur bring my uit my beswyming. Opgevolg deur ‘n vinnige voetval en dan die dawerende klop. “Balju! Maak oop.”

Deel 2

“Lyn, jammer om te pla. Ek wou net die vir jou kom gee.” Val buurvrou weg die oomblik toe ek die voordeur oopmaak en oorhandig drie twintig rand note aan my.

“Ek was besig om vir my kinders lekkergoed te koop toe dink ek aan jou drie. Hulle sal seker ook ietsie lekker wil geniet. Hier is ietsie klein vir elkeen. Hoe gaan dit? Enige nuus oor werk?”

“Hallo Wilma, baie dankie.” Sê ek en stoot die deur groter oop en sluit die ysterhek oop.

“Nee, Henry het nog niks gehoor nie.”

“Die lewe is swaar, en ons kan ook nie almal help nie. Maar sterkte.” Haar medelye klink hol, niksseggend.

“Wil jy inkom?” ‘n Outomatiese vraag en toe dit uit is, is ek dadelik spyt. Die ongemak is duidelik op haar gesig te bespeur, en in my stem te hoor en ek trek die deur op die kaal vertrek toe. 

“Weet jy, die kinders is alleen by die huis. Miskien ‘n volgende keer. Weet ons dink aan julle.” Maak sy verskoning, draai om en begin om weg te stap.

“Baie dankie Wilma. Totsiens.” Groet ek en staar die fyn vrou agterna. My gedagtes in ‘n warboel maar dankbaar vir die klein gebaar.  

Dankie Here. 

©LynelleClark

Vervolg: 

Deel 1 en 2

Deel 3 en 4

Deel 5 en 6

Deel 7

Saterdag 20 Julie 2019

Huismoles: Smittie en die verdagte polisieman - Deel 1 - Lynelle Clark

Deel 1

“Wat maak jy?” Rietjie se stem klink amper eentonig oor die foon, ver af en Smittie skuif weer aan die foontjie aan haar hoor.
“Ek is besig met my logbook, maar my woorde is op. Ek het geen idee wat om by hierdie afdeling te skryf nie,” verklap Smittie ongeduldig. Al hoe meer kry sy druk van haar kantoor bestuurder om die logbook klaar te kry. Haar tyd loop uit, sy weet maar, ai dit is tydrowend. Hoekom moet hulle so baie goed so noukeurig weet? Dit is om van te huil.
“Gaan ons more ope-uur toe?” vra Rietjie
“Ja, dit sal hierdie eentonigheid breek,” stem Smittie in. Die laaste twee dae se stilte wou haar al teen die mure uitdryf. Die foon was abnormaal stil en afsprake was yl gesaai.
“Dan sien ek jou môre.” Die gesprek word afgesluit met wedersydse grappies wat net hulle sal verstaan. Lang ure in mekaar se geselskap is besig om te ontaard in ‘n eie unieke werksverhouding.
“Lekker slaap, ou maat.” Sluit Smittie af en plaas die slimfoon op die tafel. Die skootrekenaar se skerm blink grootoog na haar, die woorde op die skerm het sy nou al soveel keer gelees dat sy eintlik al moeg is daarvoor. ‘Presentation skills….’ Vies sit sy die rekenaar af en gaan klim in die bed.  Peet lê al hoeka en snork, salig onbewus van haar stryd om die verdekselse werk klaar te kry. Vandag was net ‘n moeilike dag. Na die soveelste klient wat nie opgedaag het vir hul afspraak nie het sy tam huistoe gery. Die aand het verby gesloer met die normale aktiwiteite van kos maak, kombuis skoon maak, gesels met Peet en toe inskuif voor die rekenaar om iets produktiefs af te handel maar sonder sukses. Sy sug, draai op haar sy en luister na Peet se snorkery, nou harder as voorheen en sy sug weer.
-----
“Hoe ver het jy gekom met die logbook?” vra Rietjie die oomblik toe hulle oppad is na hul eerste ope-ure huis in Edenvale. 
“Jong, dis moeilik om te sê, maar stadig soos ‘n slak sal seker die beste beskrywing wees van hierdie situasie.” Smittie lê op die toeter toe ‘n taxi skielik voor haar inswaai en haar afsny. Met skreeuende bande kom sy al stertswaaiende tot stilstand. Die bakkie se gewig stoot hulle al hoe nader aan die voertuig en Rietjie gee ‘n klein gilletjie.  “Die swerkater!” Gil Smittie uit en skop die remme amper deur die vloer.  Die bakkie kom met ‘n geskreeu tot stilstand, net voor sy op die agtersitplek van die taxi beland. Groot bruin oë staar na haar deur die agterruit vanuit die taxi, en woorde word duidelik met mekaar gedeel terwyl een ‘n swart vinger na haar toe wys. Sy skud haar kop, woedend vir die onbedagsame bestuurder.
“Ek wonder hoe sal dit voel om net eendag sonder taxi’s op die pad te wees? Dink net hoe lekker sal ons kan ry sonder die alewige bakleiery,” haak sy af, verergd en druk ‘n middelvinger in die lug toe sy verby die taxi swaai. Dié ry ewe onskuldig weg, min gepla oor haar tirade.
“Ons siele sal defnitief reguit hemel toe gaan.” beaam Rietjie. “Die goed is moedswillig en wil hê ons moet in hulle vas ry. Hoop seker vir geld.”
“Ek het nie ‘n saak met wat hulle dink nie, by my kry hulle nie ‘n sent nie. Hulle is ‘n nuisance op die pad, ek sê jou.”
“Ek stem.”
Na etlike draaie stop hulle eintlik voor die kompleks waar agente alreeds uit hul karre peul. Vinnig is hulle deel van die groepie wat deur die sekuriteitshekke loop en die ope ure bordjies volg na ‘n huis in die hoek van die kompleks.
Die kompleks is geleë in ‘n posh area in Edenvale, die huis is gelys vir R1 910 000, wat nie te vergesog is vir die area nie.
“Is mos jou beurt vir fotos?” Sê Smittie ingedagte en Rietjie knik haar kop. Haar slimfoon alreeds uit om die eerste foto van die huis te neem.
“Ek gaan rond kyk.”
“Onthou die vorm!” Roep Rietjie agterna en Smittie knik instemmend. Die huis is ruim van binne, met ‘n groot leefarea. Die groot wit marmer teëls glim in die oggend-winterson en weerkaats deur die kombuis wat uitvloei na agter toe. Dit loop dan uit op ‘n Patio, verskuil agter glas-skuifdeure. Die langwerpige vertrek met pragtige wit afgewerkte kaste, beslaan die hele gedeelte van die een muur, die swart teëls ‘n mooi teenstelling. Swart marmer tops glimmer in die oggendson, maar is andersins leeg. Die leefarea se meubels is karig. Eintlik weersprekend van die area en plek. Smittie frons. Mense in die tipe van plekke doen baie moeite met hul binneversiering. Dit is al ‘n gewoonte om met die oog te steel en later iets soortgelyks in haar huis aan te bring of soos ‘n ervare binneversierder raad te gee aan haar kinders of vriendinne. Dit is die een ding wat sy die meeste geniet van huis verkope.
Maar die plek skree desperaatheid en armoede. Dit strook nie. Nuuskierig stap sy van vertrek tot vertrek. Afgeleefde meubels kan in elke vertrek gevind word. Die matte in die kamers is uiters vuil. Oral spreek dieselfde gebrek direk met haar en sy kan nie help om te wonder wat die storie is met hierdie huis nie. Deel van hul werk is om mense te help, mense wat in rowwe tye val, en sy het al baie hartseer goed gesien maar hier is iets duister in die lug. Daar is ook ‘n onaangename reuk in die lug. Dit wil bekend ruik maar bly haar ontbreek. Selfs die ander agente loop stil deur die huis, neem vinnig fotos en verdwyn. Die normale kwinkslae en geselsies afwesig.
Die agent wat die plek gelys het staan eenkant, by die eetkamertafel. Pamflette wat die inligting van die huis bevat, en haar besigheidskaartjies in netjiese hopies. Net soos die huis, straal sy ook desperaatheid uit. Senuweeagtig duidelik soos wat sy rond trippel en agter toe kyk, en Smittie stap nader. Nie seker hoe om die situasie te hanteer nie maar nuuskierigheid dwing haar vorentoe. Rietjie kyk haar ook stil aan en verdwyn die gang af na die kamers se kant toe, met ‘n waai van die hand.
“More vrou, hoe gaan dit?” vra sy Annelien. Hulle ken mekaar meer van sien tydens ope-ure en was nog altyd vriendelik teenoor mekaar.
“Goed.” Annelien se normale joviale temperament gedemp en sy ontwyk haar oë.
“Dit is ‘n pragtige huis.” Probeer sy weer.
“Dankie.” Kort en saaklik. ‘n Agent is altyd in ‘n verkope stemming, reg met die nodige inligting. Vir haar om net een-woord antwoorde te gee is onrusbarend en Smittie kan nie help as om nader te staan nie.
“Wat is die storie met die huis?” vra sy stil, die spasie tussen hulle twee het aansienlik gekrimp want Smittie wil weet wat aangaan. Buig of bars. Senuweeagtig kyk Annelien rond en lek dan haar lippe asof haar mond droog is.
“Kan ons later gesels?” vra sy en, sonder om te wag vir ‘n antwoord, stap sy weg. Toe Smittie omkyk gewaar sy ‘n man in die voordeur opening. Die leerbaadjie omraam breë skouers, die wolhemp het duidelik beter dae geken. Maar wat haar die meeste opval is sy gesig; die spreek boekdele. Hy lyk kwaad, ‘n broeiende kyk wat jou tweemaal laat dink om hom te nader. En hy kyk haar aan asof hy haar wil deurboor met sy kykers.
Net toe stap Rietjie nader: “Het jy die vorm gekry?” maar Smittie se aandag is by die onbekende man. Net so vinnig as wat hy verskyn het, verdwyn hy, en Smittie kon sweer dat selfs die huis gesug het. Maar dit kan net haar verbeelding wees. En dan, so uit die niet kom dit tot haar. Die huis ruik na dood.
‘n Siek reuk warrel deur die huis en sy ril onwillekeurig. Hier is iets groots fout.
Kopiereg voorbehou

Saterdag 02 Julie 2016

'n Waagstuk van die liefde deur Lynelle Clark: Deel 1 in die nuwe kortverhaal

Deel een van 'n Waagstuk van liefde: 'n Kortverkaal geskryf deur Lynelle Clark


Wie nie waag nie sal nie weet of hulle ‘n goue geleentheid deur hul vingers laat glip het nie.
Dit is ‘n reel in ‘n boek wat my nou weer byval soos ek starend na sy foto kyk. Net so is dit ook met die liefde. Tweede kanse kom nie maklik op ons ouderdom nie – vernaamlik nie by sake van die hart nie; wanneer jy dit wel doen dan verwag jy liefde terug. Tyd is net te kort om dit te mors op ongeantwoorde liefde. Dit is die ou saai maai konsep wat ons almal so goed ken: ‘n Bybelse beginsel.
Jy wonder seker waarheen gaan ek met dit alles en of dié gedagtegang ‘n punt het. Miskien het dit miskien nie, ons sal maar saam hierdeur moet worstel om by die antwoord te kom. Al wat ek weet is dat ek lief is vir die man. Ek waag ‘n kans, hoe klein ookal, ‘n draadjie van hoop tot aan die bitter einde.
Dit is my normale gedagtegang die afgelope tyd: ek praat myself moed in wanneer die geduld min raak en die verlange alles oorheersend word. ‘n Tyd van afsondering waar ek niemand in laat in die kamers van my hart nie. My gedagtes altyd by hom, gevul met hom. Afwagtend. Hopend.
“Trieng trieng!…” my gedagteloop word onderbreuk deur die klanke van my Android. ‘n Irreterrende deuntjie wat ek dreig om te verander maar net nooit doen nie. Vies kyk ek na die caller ID maar dit dui ‘n “Unknown” nommer en sonder om twee keer te dink trek ek ‘n streep daardeur asof ek dit wil uitwis.
Waar was ek…o ja.
Ek het vergeet hoe seer ongeantwoorde liefde kan maak. Ek het vergeet van al die fases waardeur ‘n mens gaan wanneer jy met ‘n stukkende hart sukkel. As ‘n volwasse person is dit nie so maklik soos toe ons jonk was nie; tweede geleenthede nie iets waarop jy hoop nie. Nie op sake van die hart nie. En ek wil glo dat ek nie net ‘n stastistieke nommer is nie maar ‘n vrou van vlees en wie se hart tog die antwoorde sal kry waarna dit smag voor my uurglas leeg loop.
“Trieng trieng…!” ai, wie kan dit wees? Ek staar na die foon: die bron van my irretasie. Die aanhoudende gelui van die deuntjie—die emosielose klanke doen niks vir my beswaardheid nie, inteendeel dit vul my negatiewe gemoed nog verder sodat ek vies oor die ding vee en met ‘n sug antwoord: “Louise wat praat.”
Stilte begroet my aan die ander kant en ek kyk na die skerm; al wat ek sien is “Unknown” op my foon en ek is sommer vies vir myself.
“Hoe kan ek help?” se ek met ‘n defnitiewe ondertoon van ingehoue ergenis in my stem.
“Louise.” Kom die stem…’n bekende stem wat ek vier maande laas van gehoor het en my hart bokspring en mis ‘n slag.
“Dirk?”
“Is dit regtig jy?” verbasende opgewondenheid vul my stem – my hele wese.
“Dit is ek ja.” En hy gee ‘n skalse laggie en onmiddelik is die ondeunde groen oë voor my asof hy hier voor my staan.
Ek lag: nee, giggel vir ‘n wyle totdat werklikheid my oorspoel en ek gee ‘n skugter hoesie.
“Hoe kan ek jou help, Dirk?”
Hy gee weer ‘n skalkse laggie as hy antwoord: “Hoekom so formeel Louise?”
“Ek is nie formeel nie,” Antwoord ek hardkoppig: “net versigtig.”
Weer vul die geliefde laggie my oor en ek kan nie anders as om te glimlag nie. Hoe lank het ek nie gewag vir hierdie oproep nie? Elke dag gewens dat ek net nog eenmaal sy stem kan hoor. Nou is hy so naby dat ek sy teenwoordigheid kan voel. Weer bokspring my hart en vieserig skuif ek die foon na my ander oor. Het ek myself nie belowe as hy ooit weer sou bel dat ek hom sy fortuin sou vertel nie; in geen onduidelike terme nie. En hier giggel ek soos ‘n skoolkind al blosend omdat haar kys gebel het. Jy moet jou kop laat lees: dog ek by myself in die paar sekondes van stiltes.
“Ek verstaan maar alte goed en jy dink dit is seker snaaks dat ek nou bel na maande se stilswye. Maar ek wil met jou gesels en verduidelik as jy my ‘n kans sal gee.” Daar is ‘n versigtigheid in sy stem, fyn maar tog tasbaar deur die golwe en ek vat ‘n diep teug voor ek antwoord.
“Jy het verdwyn uit my lewe uit vir vier lange maande. My blatant geignoreer sonder enige verduideliking ten spyte van al die kere wat ek probeer het om kontak te maak.” Kon ek nie help om uit te byt nie. Katterig ek weet maar ek het deur hel gegaan die laaste paar maande, vir hom. Maar ek wil weet wat is die redes. Ek wil verstaan hoekom hy my net so gelos het sonder verduideliking: hy skuld my dit immers. Of ek hom sal terug vat is ‘n ander storie (wie bluff ek, natuurlik sal ek) maar ek moet nou nie te ver voor uit dink en begin lugkastele bou nie, betugtig ek myself.
Kan ek jou kom sien?”
“Wanneer?”
“Nou?” Dirk is altyd so seker van himself maar nou gewaar ek die spanning in hom en besef ek dat dit vir hom ook moeilik moes wees.
‘n Vlietende gedagte wat my hart laat spring van vreugde—miskien sal dit goed wees om dit sommer gou agter die rug te kry en ek knik my kop. Die stilte rek en ek besef hy kan my nie sien nie en met ‘n knop in my keel stem ek in hardop en hy sluit af met: “Sien jou nou nou.” En ‘n stilte volg die spanning.
‘n Swanger stilte.
Ek ken hom goed genoeg om te weet hy neem nie ligtelike besluite nie en dit moes hom ‘n tyd gevat het om dit wel te doen. Hy sou alles mooi oordink het; vir ‘n ruk lank met die gedagte gespeel het totdat hy vrede het en dan die daad by die woord voeg. So onthou ek hom.
My refleksie weerkaats terug na my vanuit die kamer spieël en ek sluk. Ek weet sommer ek gaan nie genoeg tyd he om ten minste te bad nie maar ek kan darem net iets beter aan trek en my hare kam. My hand gly oor my heupe en vir ‘n oomblik maak ek my oë toe: herleef ek sy hande op my lyf. Dit was altyd eisend, uitdagend en verloklik en ek kon nie help om te droom oor die oomblik van aanraking nie—sy aanraking het my altyd weggevoer na onbeskryflike plekke—weer maak ek my oë oop en ek gewaar ‘n blos op my gelaat. ‘n Sagte glimlag begroet my en vir ‘n oomblik staar ek na my beeld. Ek lyk sag, verlief, soos ‘n bruid—stralend, en ek lag—‘n Uitbundige klank wat met oorgawe deur my ingewande bars en my hele wese vul met iets kosbaars.
“Ruk jouself reg Louise.” En ek stap weg van die beeld van wat kan wees. My maag ‘n maalkolk van lewe wat ek probeer ignoreer.

“Hierdie keer vat jy dit rustig. Hierdie keer laat jy hom toe om die jag werk te doen.” 
Kopiereg voorbehou.

@Lynelle Clark 2016

Volg die link vir Deel 2 van 'n Waagstuk van Liefde
Deel 3

Kom kuier gerus en vind uit wat gebeur tussen Louise en Dirk.
Jul terugvoer sal waardeer word. 

Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...