Ek het dit begin skryf tydens 'n mini-kompetisie op 'n skrywersblad.
Die enigste voorwaarde was dit moet slegs 200 woorde bevat.
Hier volg die gebeure tussen 2000 en 2002 in kort grepe.
Skuilname is gebruik waar nodig.
Deel 1
“Kan jy die krag aansit? Ek sien dit
is af.” Die kind gluur my aan. Venyn merkbaar in die hovaardige houding. Die
gordyn sak en ek stap verslae weg. Hoekom Here?
“Pay and I will switch it on!” skree
die oudste kind uit die sitkamervenster en die onmiskenbare gegiggel volg my
terug na my huis. My voetval dof ploffend op die gras.
“Hoekom is die krag af ma?” vra my
oudste.
“Hulle dink dit is snaaks.” Moedeloos
ontkoppel ek die strykyster uit die muur en sit dit weg. Vir nou is ek klaar
gestryk. Sal môre weer probeer.
“Is die tannie nie daar nie?” Ek skud
my kop en verberg my skaamte terwyl ek omdraai en die plank wegsit. Ek sal wat
wou gee vir koffie maar water sal moet doen.
“Het pa al iets gehoor van die werk?”
vra sy weer. Weer skud ek my kop. Die swaarkry dik en bitter in my keel.
“Wat eet ons vanaand?” vra my
elfjarige seun. Ek maak die kasdeur oop. Een blikkie sop staan eenkant in die
leë kas.
‘n Kar wat stop voor die voordeur
bring my uit my beswyming. Opgevolg deur ‘n vinnige voetval en dan die
dawerende klop. “Balju! Maak oop.”
Deel 2
“Lyn, jammer om te pla. Ek wou net die vir jou kom gee.” Val
buurvrou weg die oomblik toe ek die voordeur oopmaak en oorhandig drie twintig
rand note aan my.
“Ek was besig om vir my kinders lekkergoed te koop toe dink
ek aan jou drie. Hulle sal seker ook ietsie lekker wil geniet. Hier is ietsie
klein vir elkeen. Hoe gaan dit? Enige nuus oor werk?”
“Hallo Wilma, baie dankie.” Sê ek en stoot die deur groter
oop en sluit die ysterhek oop.
“Nee, Henry het nog niks gehoor nie.”
“Die lewe is swaar, en ons kan ook nie almal help nie. Maar
sterkte.” Haar medelye klink hol, niksseggend.
“Wil jy inkom?” ‘n Outomatiese vraag en toe dit uit is, is
ek dadelik spyt. Die ongemak is duidelik op haar gesig te bespeur, en in my
stem te hoor en ek trek die deur op die kaal vertrek toe.
“Weet jy, die kinders is alleen by die huis. Miskien ‘n
volgende keer. Weet ons dink aan julle.” Maak sy verskoning, draai om en begin
om weg te stap.
“Baie dankie Wilma. Totsiens.” Groet ek en staar die fyn
vrou agterna. My gedagtes in ‘n warboel maar dankbaar vir die klein gebaar.
Dankie Here.
©LynelleClark
Vervolg:
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking