Sondag 24 April 2022

Kort Grepe uit my Lewe #5 en 6


Wat vooraf gebeur het:

Deel 1 en 2

Deel 3 en 4

Deel 5

“Julle sal reg kom vir ‘n rukkie? Ek wil net gou iets doen.”

“Ek is lus vir roomys.” Skimp my seun.

“Jy weet daar is nie.” Ek gee hom ‘n vuil kyk en hy laat sak sy koppie oor die wiskunde boek.

By die rekenaar stop ek. Ek weet nog nie hoe die elektroniese ding werk nie maar goed word weggesteek en ek wil weet wat.

Die toring lyk intimiderend maar ek druk die knop versigtig. Die skerm flikker aan en ek gaan sit.  

Ek maak soos wat ek Henry sien doen het en kliek op een simbool. ‘n Klomp dokumentasie maak oop. Verbouereerd gly ek die muis rond maar niks gebeur nie.

Onderaan die skerm sien ek ‘n simbool wat baie soos ‘n disk lyk en kliek op dit. ‘n Ander venster maak oop en ek staar geskok daarna. Blonde hare verberg ‘n groot gedeelte van haar gesig. Haar rooi mond in ekstase terwyl ‘n gilletjie van genot oor haar lippe borrel.

‘n Kardeur slaan toe en ek kyk na die deur. Dan druk ek die knop weer en die skerm gaan dood.

“Lynelle waar is jy?” hoor ek sy stem en ek staan woedend op.  Vandag soek ek antwoorde. Basta die werk.


 Deel 6

“Ek het goeie nuus.” Begin hy. Ek verstyf in sy arms en stoot hom weg.

“Ek vlieg oor twee weke Frankryk toe vir akkreditasie. Hannes het gebel.” Henry gaan voort sonder om agter te kom dat my oë vuur spoeg. Die galbitterheid gereed om hom tussen die oë te tref.

“Hy weet van ‘n belegger wat belangstel om in te koop. Die Here het voorsien, Lyn.” Hy plaas die dokumentasie langs die rekenaar neer, draai om en ontmoet my blik en frons.

“Ek …” begin hy maar ek stap uit. Nie in staat om twee woorde bymekaar te voeg nie.

Ons het al hieroor gesels. Het selfs vir huweliksberading gegaan. Duidelik was dit als verniet en ek … ek voel soos ‘n dwaas.  

“Lynelle …” sluit hy minute later by my en die kinders in die klaskamer aan. Ek gaan aan om Isabel se werk na te sien.

“Het jy gehoor wat ek gesê het?”

“Ja.”

“En?”

“Baie geluk.” Is al wat ek kan uitwurg.

Later toe als stil word en ek kamer toe stap sit hy daar. Duidelik jammer vir homself.

“Is jy nie bly oor wat die Here doen nie?”

“Is ek vir jou mooi?” kom my weer vraag. Stom staar hy na my en raak dan stil.

“Nee.”

©LynelleClark

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...