Wys tans plasings met die etiket Grepe uit my lewe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Grepe uit my lewe. Wys alle plasings

Maandag 07 November 2022

Grepe uit My Lewe: Hoofstuk 3: Deel 2

 

Dit vang my altyd onkant; die verwagting, teenoor die realiteit. ‘n Mens sal dink dat wat ek verwag en wat werklik gebeur my nie meer onkant kan vang nie. Maar dit doen. Die verwagting het getaan en die werklikheid staar my in die gesig en dit sny diep. Soms wens ek dinge wil vinniger gebeur en nie so uitgerek word nie. Of hoekom moet ek alweer hiermee sukkel?

Skoonmaak bring mee dat jy met goed moet deel en dit vat tyd. Daardie dinge wat in jou verlede weggekruip het, kom nou na vore en staar jou in die gesig. Soos bondels stof lê dit oral in die hoeke van jou siel. Die walgende reuk van dood sweef op en kriewel jou neus en jy nies totdat die trane vloei. Allergex gaan nie hier voor help nie. “Elbow grease” wel, plus om myself te vergewe, en om ander te vergewe met kamers vol genade. Dit is ‘n moeisame proses en daar is dae wat ek net nie lus is daarvoor nie.

Na vier maande van geweldige pyn, is my arm nou meer beweeglik en word dit makliker om bokse rond te skuif. Ek het nuwe respek gekry vir mense met sportbeserings of ander liggaamlike gebreke.  Die liewe vader weet dit is vrek seer. Dit maak nie saak hoeveel keer jy probeer iets doen nie jou liggaam werk nie saam nie. Skielik mis jy die vryheid van beweging en kyk jy verlangend na mense wat dit wel kan doen. Dan klop selfbejammering aan jou deur en jy moet deur dit druk om nie verswelg te word in die selfbejammering-partytjie nie. Kompleet met ballonne, rooi koeldrank en streamers.

Wanneer jy uiteindelik wel daarby uitkom bring elke nuwe skuif ‘n nuwe vlaag van stof mee en weer word jy gedwing om met die nuwe gevoelens te deel. Dit het party dae gevoel soos ‘n maalkolk waarvan ek net nie kan losbreek nie.

Dit is waar wat Salomo in al sy wysheid geskryf het: “Dit is daardie klein jakkalsies wat die wingerd verwoes.” Dit sluip baie subtiel rond en wag totdat dit iets sien wat kwesbaar is en dan fokus dit daarop. Soos ‘n dief in die nag sluip dit al hoe nader en wanneer jy dit die minste verwag val dit aan. Dit gaan gewoonlik vir die nek maar sal aan enige iets byt om jou te verswak tot waar jy heeltemal ingee en gaan plat lê. In my geval was dit my skouer. En die kommentare van familielede. Ken my familie my dan nie? Is gewoonlik my weervraag. Hoekom sou hulle so dink van my? Voel almal so?

Ek weet nie van julle nie maar wanneer ek beskuldig word van iets so absurd slaan dit al die lug uit my seile uit en laat my lam. Dan gaan delf ek diep rond in my geheuekabinet en inspekteer en evalueer elke aantuiging. Is dit waar? Ens.

Maar ons het altyd ‘n keuse. ‘n Keuse om terug te baklei of terug te staan en toe te laat dat die Here ons lei. Immers belowe Hy om my te beskerm en selfs te verdedig. Hy ken my hart. Hy weet waarmee ek sukkel en waar my swak plekke is. Daarom, wanneer ek swak is, is Hy sterk. Dit is dan wanneer die emosies en gebeurtenisse waarmee ek lank terug gesukkel het opnuut weer verrys uit die as.

Daar is baie bitter herinneringe waarvan die rowe nog nie afgeval het nie, in my lewe. Dan is die mooi minder mooi en die glimlagte geforseerd. Ek is een van daardie mense wie se emosies openlik op my gesig wys. Die besef dat jy nooit met daardie gevoelens gedeel het nie en die rede hoekom jy nogsteeds optree soos toe, ‘n helderheid wat jou eintlik laat klein voel.

Skoonmaak is beslis nie maklik nie. Die deurbrake is ver uit mekaar uit maar wanneer dit klaar is en die stof weggegooi is dan haal jy vrylik asem.

Dit is waarheen ek mik. My doel om eendag heeltemal vry te kan wees van hierdie juk.

Miskien eendag kan ons ‘n allergiese pil drink teen dit. Maar tot dan moet ons met hierdie dinge deel op die ou manier. Dit maak ons immers sterker en maak ons pad duideliker.

En God is getrou. Hy sal ons nooit los nie.

©LynelleClark

Sondag 18 September 2022

Grepe uit my Lewe: Hoofstuk 3

 
Hoofstuk 3

Skoonmaak

Deel 1

Skoonmaak is nie 'n aangename aktiwiteit nie. Dit los jou gewoonlik sweeterig terwyl die reuk van stof aan elke deel van jou menswees kleef. Tog is die gevoel van verligting en tevredenheid soos 'n vars briesie wat deur elke ledemaat trek en jou aanspoor om nog verder te gaan, dieper te delf totdat elke hoekie skoon is.

Vir bykans 'n jaar maak ek skoon. Ek verlaat FB groepe wat niks bydra tot my groei nie en waar ek glad nie betrokke is nie. Die 5000 FB vriende waarin ek eens geroem het het nou verminder na omtrent 3000 en nogsteeds vind ek nie-aktiewe blaaie so die nommer kan nog verder verminder.

My aanvaar rate is nou minder en ek is okei met dit. Die druk van 'n knoppie is eintlik baie maklik. Ek voel nie meer verplig om elkeen tegemoet te kom nie. Ek is nie meer geneë om mense in my kring te aanvaar bloot net omdat ons spore laat nie. As die Heilige Gees wys nee dan is dit so.

Kindle is nou talle boeke ligter. Fotos van weleer wat niks bydra tot my sielevreugde nie is ook verwyder. Tot die meer tasbare laaie en bokse wat die kamer en stoor volstaan. Laaie gevul met aandenkings — sommige met verkeerde herinneringe, ou besigheidskaartjies en joernale wat nou niks meer beteken nie. Dit is als deel van die verlede.

Toe Vader begin wys het dat dit tyd is vir skoonmaak het ek opgesien teen dit want ek het geweet dat trane deel gaan wees van hierdie opdrag. Soms moes ek stop en eers die gevoelens verwerk voor dit verwyder kon word. Soms was daar geen dink nodig nie, dit was net 'n kwessie van druk 'n knoppie en dit is weg. My gemoed ligter en die rekenaar skoner.

Veral die laaste twee weke het ek meer doelbewus te werk gegaan om seker te maak dat elke hoekie skoon is. My fokus nou ingezoom met groter presiesheid.

Nou ervaar ek net die vars bries wat deur elke grein van my wese gaan en my vul met 'n nuwe doel. Ek het nog 'n ent om te gaan, veral die menige bokse wat nog geseël staan en wag om oopgemaak te word maar met elke dagboek wat in die snippermandjie beland word die vrag al ligter. Die wroeginge makliker om te oorkom en die las minder.

Om skoon te maak vat tyd maar dit is die moeite werd. Party dae is die rug seer, die skouers in kloppende protes en die knieë lam maar dit is die moeite werd. Hoekom ons so vasklou aan goed verstaan ek nie maar wanneer dit weg is dan laat dit jou met soveel vrede.

Die week tydens die skryf konferensie het ek tot dieper insig gekom en die ywer om skoon te maak het nou selfs intenser geword. Dinge wat ek oorgeslaan het is nou makliker om te laat gaan. Trane word afgevee en die kop word skoon. Sommer so 'n lekker gevoel wat deur my are bruis en my ligter laat.

Wat ookal Vader besig is om te doen in my lewe, ek val net in. Dit is tyd vir nuwe dinge.

©LynelleClark2022

Maandag 11 Julie 2022

Grepe uit my Lewe: Die volgende deel van my kamer.

 


Die Skoppenskamer

 

Daar was verskeie vertrekke in my lewe, maar geeneen het ‘n blywende herinnering soos dié vertrek in my lewe gelaat nie. Van hier af noem ek die vertrek my Koningin van Skoppenskamer. Die 3.5x6 kamer klink te klinies en tegnies. Die vertrek is meer as dit. Hier het ek gedroom van wêreldreise, ander tale geleer, weggeraak in die bladsye van boeke, musiek geluister, en huiswerk gedoen.

In my dertig jaarlange afwesigheid was my lewe ‘n skoppelmaai-rit van plesierigheid, rillers, onverstaanbaarhede en insiggewende oomblikke wat spore in my lewe en gemoed gelaat het.

Buite dié vier mure het ek kinders gebaar, hulle groot gemaak en vir hulle ‘n huis geskep. Ek het hulle gehelp in hul transformeringsjare en ‘n anker gebly totdat hulle die huis verlaat het. Hierdie huis was omvou met drome, deurgebidte wonderwerke, volop liefde en vriendskap.

Hier het ek ook tot bekering gekom en God leer ken op opgewonde wyses wat my laat glo het in die wonder van ‘n Hemelse Vader. Hier het ek my kinders in die hande van die Here geplaas ongeag hul lewenskeuses en bly steeds by hulle staan. Maar hier het ek ook seergekry, en als verloor, insluitende my selfrespek. Daardie seer het my op die ou einde teruggedryf na die Skoppenskamer sodat ek weer myself kon ontdek.

Toe ek terugstap het dit gevoel of ek nooit weg was nie. Die donker-pienk gordyne en bypassende duvet was nog daar. Nou het dit meer soos cherise gelyk en ek het daarvan gehou. Die enkelbed was vervang met ‘n dubbelbed en my sussie was natuurlik nie daar nie. ‘n Hele kamer vir myself. Lekker.

Hier moes ek weer my voete vind ... moes ek weer leer om te oorleef op my eie - my menswaardigheid geskend met komplekse sere, wroegings en bitterheid. Die Here was nie meer in die prentjie nie. Die seer was te seer en ek was bang ... ongelooflik bang. Die vrees was soos ‘n halsnoer om my kop wat my ledemate verstar het op die deurdrumpels van winkels, en my kop stil. Dit het my drie jaar gevat om deur dit als te werk, te aanvaar en aan te beweeg.

Weer het ek die Skoppenskamer verlaat en by Isak ingetrek en vir agtien maande het ek die kamer verruil vir ‘n dubbelverdiepingmeenthuis. Toe die lewe my weer ‘n uitklophou gee, moes ons terug na die kamer. Ek het die skuif teëgestribbel, maar daar was geen ander uitkoms nie tensy ek in die straat wou gaan bly.

Ek haal my hoed af vir mense wat daardie roete volg. In my worstelingstyd het ek besef hoe papbroek ek eintlik is. Die straat se roep as uitkoms was ‘n foltering wat ek vir baie jare moes wegsteek, die kreet soms te hard en te helder terwyl vrees my wou doodwurg.

Toe ek weer ontvanklik word vir die stem van die Here, het Vader deur ‘n profetiese persoon laat weet daardie vrees is ongegrond — dat daar nou vir my ‘n nuwe bladsy is. Toe eers het ek ontspan.

My Skoppenskamer is nou ‘n veilige hawe waar ek leer, groei en standvastig word.

 @Lynelle Calrk 2022

 

Donderdag 26 Mei 2022

Kort Grepe uit my Lewe #8


Hoofstuk twee uit Grepe uit my lewe. 

Deel 1

Ek was elf toe ek die eerste keer dié vertrek betree het - ‘n 3.5x6 kamer met ‘n groot venster aan die onderpunt van die vertrek en ‘n nou venster, die lengte van die symuur; ‘n ingeboude tweedeurkas en deur. Die koudste vertrek in die huis.

My pa het pas die huis in Prince Georgelaan gekoop. Dit was ‘n groot huis - baie groter as die een in Olgastraat, met genoeg kamers vir my en my suster en my broer wat nog in wording was.

My jongste suster sou eers twee jaar later verskyn.

Die vertrek het ‘n groot muurskildery gehad van die Koningin van Spades. Ek het daar en dan besluit dit is my kamer. My ouers was nie beïndruk nie en dit was summier verberg met pienk plakpapier. Die hele kamer was gehul in pienk; van siamees-dekens oor die enkelbeddens tot blommetjie-pienk gordyne - met skakerings van pienk in die strooikussings en vloermatjies vasgevang, tot groot konsternasie van myself. As ek reg kan onthou was die kamermat ook pienk. So ‘n dowwe vuilpienk wat later nie meer mooi was nie ongeag die kere wat dit onder die matwasser deurgeloop het.

My sussie was op die Barbie-stadium en was mal daaroor. Vandag nog is sy lief vir die kleur en dit pas haar. ‘n Regte Barbie in lewende lywe met geen haar uit sy plek.

Ek haat die kleur. Tot vandag toe hou ek niks van pienk nie en my twee dogters het nie dieselfde marteling deurgegaan nie. Ek het botweg geweier dat pienk ooit iewers in my huis sou wees.

Kan jy my smalende glimlag sien … 

Teen standerd agt, toe ek my eerste naweek werk se geld verdien het, nogal by ‘n haarsalon, het ek plakkate aangeskaf en die oorverdowende kleur verberg aan my kant van die kamer. Lieb Bester, Farah Fawcett, Abba, perde en boekaanhalings in skakerings van bont, swart, blou en wit net om die monotoon te breek. As ek reg onthou was daar selfs een van Bruce Springsteen. Die ander helfte was besaai met Barbie en Ken en pienk. Die tweestryd tussen ons twee was toe alreeds merkbaar.

Later, toe ek uit die huis is, is die plakpapier verwyder en die muurskildery uitgewis met verfrollers. Die dag toe ek dit sien was ek befoeterd, maar ‘n mens is mos groot en jy kom daaroor. ‘Life goes on’ en alles wat daarmee gepaard gaan - die 3.5x6 vertrek nie meer deel van my wêreld nie.

Toe hulle twee uit die huis is, is die kamer weer geverf. Roomkleur in plaas van wit het nou die mure versier en donker-pienk gordyne het die vensters behang. Bloedrooi blomprag spatsels het die roomkleurige kussings besprinkel en gaste kon die vertrek na hartelus gebruik.

Ek het my eie huis gehad, min wetend dat ek dertig jaar later na die vertrek sou terugkeer.

©Lynelle Clark 2022

Vrydag 29 April 2022

Kort grepe uit my Lewe #7


Wat vooraf gebeur het:

Deel 1 en 2

Deel 3 en 4

Deel 5 en 6


Deel 7

Nabetragting

Elke vrou is soos die van ‘n Michelangelo beeld. Elke kurwe vasgevang in meesterlike kleurharmonie wat haar ten toon stel as ‘n sagte liefdevolle mens.

Elke keer wat sy vergelyk word met ander se siening van ‘n Michelangelo word ‘n stukkie van haar weg gebeitel. Later bly net klompe of krake oor.

Na dertig jaar van verdra en ingee was daar niks oor nie. Daardie een woord was ‘n dawerende kraak wat die begin van die einde aangekondig het. Veertien jaar na daardie vernietighende hou was dit oor.

Maak nie saak hoe oop kop jy probeer wees nie, pornografie breek alle mooi af. Dit verwoes nie net die huwelik nie maar ook die vrou.

Al hoe meer vrouens wend hulle na hulpmiddels in die hoop om weer die krake te vul. Die sug na “wie is ek” ‘n uitroep vir hulp.

Drank en promiskuïteit het nie vir my gewerk nie.

Die enigste plek waar my stukke weer aanmekaar gesit kon word is by God.

Toe ek terug draai na Hom toe, het Hy my krake ingevul met Sy genesende krag, en word ek gepoets in Sy geregtigheid en heerlikheid. In Sy oë is ek mooi en dit is vir my genoeg.

©Lynelle Clark

 

Sondag 24 April 2022

Kort Grepe uit my Lewe #5 en 6


Wat vooraf gebeur het:

Deel 1 en 2

Deel 3 en 4

Deel 5

“Julle sal reg kom vir ‘n rukkie? Ek wil net gou iets doen.”

“Ek is lus vir roomys.” Skimp my seun.

“Jy weet daar is nie.” Ek gee hom ‘n vuil kyk en hy laat sak sy koppie oor die wiskunde boek.

By die rekenaar stop ek. Ek weet nog nie hoe die elektroniese ding werk nie maar goed word weggesteek en ek wil weet wat.

Die toring lyk intimiderend maar ek druk die knop versigtig. Die skerm flikker aan en ek gaan sit.  

Ek maak soos wat ek Henry sien doen het en kliek op een simbool. ‘n Klomp dokumentasie maak oop. Verbouereerd gly ek die muis rond maar niks gebeur nie.

Onderaan die skerm sien ek ‘n simbool wat baie soos ‘n disk lyk en kliek op dit. ‘n Ander venster maak oop en ek staar geskok daarna. Blonde hare verberg ‘n groot gedeelte van haar gesig. Haar rooi mond in ekstase terwyl ‘n gilletjie van genot oor haar lippe borrel.

‘n Kardeur slaan toe en ek kyk na die deur. Dan druk ek die knop weer en die skerm gaan dood.

“Lynelle waar is jy?” hoor ek sy stem en ek staan woedend op.  Vandag soek ek antwoorde. Basta die werk.


 Deel 6

“Ek het goeie nuus.” Begin hy. Ek verstyf in sy arms en stoot hom weg.

“Ek vlieg oor twee weke Frankryk toe vir akkreditasie. Hannes het gebel.” Henry gaan voort sonder om agter te kom dat my oë vuur spoeg. Die galbitterheid gereed om hom tussen die oë te tref.

“Hy weet van ‘n belegger wat belangstel om in te koop. Die Here het voorsien, Lyn.” Hy plaas die dokumentasie langs die rekenaar neer, draai om en ontmoet my blik en frons.

“Ek …” begin hy maar ek stap uit. Nie in staat om twee woorde bymekaar te voeg nie.

Ons het al hieroor gesels. Het selfs vir huweliksberading gegaan. Duidelik was dit als verniet en ek … ek voel soos ‘n dwaas.  

“Lynelle …” sluit hy minute later by my en die kinders in die klaskamer aan. Ek gaan aan om Isabel se werk na te sien.

“Het jy gehoor wat ek gesê het?”

“Ja.”

“En?”

“Baie geluk.” Is al wat ek kan uitwurg.

Later toe als stil word en ek kamer toe stap sit hy daar. Duidelik jammer vir homself.

“Is jy nie bly oor wat die Here doen nie?”

“Is ek vir jou mooi?” kom my weer vraag. Stom staar hy na my en raak dan stil.

“Nee.”

©LynelleClark

Vrydag 22 April 2022

Kort Grepe uit my Lewe #3 en 4

Wat vooraf gebeur het: Deel 1 en 2


Deel 3

“Mamma, foon!”

“Ek kom.” Die kragopwekker gee ‘n ruk. Die petrol is klaar. Ek sluit die ysterhek en stoot dan die houtdeur op die snerpende koue toe en stap vinnig deur na die klaskamer.

“Wie is dit?”

“Weet nie mamma.” Antwoord my dogter en gaan voort met haar studies.  

“Lynelle wat praat.” Dit is ‘n onbekende nommer en ek frons. Teen die tyd is ons lugtig vir vreemde nommers wat gewoonlik net skuldeisers is. Niemand anders bel nie.

“Lynelle, dit is Tania. Is julle by die huis?”

“Ja, ons is.”

“Ons wil net die yskas kom haal. Ek weet ek het gesê jy kan dit gebruik totdat julle regkom maar ons het weer daaroor gedink en Piet wil dit kom haal. Ek hoop jy verstaan.”

Wat anders moet ek doen as my kop knik in stom verbasing. Die krag is in elk geval af en die yskas leeg. Die kragopwekker kan hom ook nie met genoegsame krag voer nie. Die boksie melk en bakkie margarien kan maar buite staan.

Die vorige week tydens bybelstudie het Tania die yskas aangebied nadat hulle gehoor het van die balju se besoek. Nou wil hulle dit terug hê.

Het God ‘n fout gemaak?

Het ons verkeerd geluister?


Deel 4

“Wat maak jy?” vra ek Henry ure later. Die huis is doodstil. Dit was ‘n lang dag van baie introspeksie en sielswroeginge.

Die mense is hier weg sonder om ons in die oë te kyk. Die yskas vasgemaak agter op die bakkie. Nie lank terug nie het ons saam met hulle deur ‘n krisis gebid. 

“Net besig.” Met sy rug gekeer na my is die rekenaar skerm verskuil.

“Met?” vra ek en stap nader.

“Sommer net iets,” en verander die beeld vinnig. Maar wat ek sien verstom my, dit kan nie wees nie. Ons het al hieroor gepraat.

“Iets gehoor van die offer?”

“Moet die bestuurder en direkteur by LG ontmoet môre.”

“Hoe gaan jy daar kom?”

“Phillip sal my vat.” Ek ontklee, trek my warm nagklere aan en klim tussen die koue lakens in en lê doodstil. Ons sal môreoggend weer water kook vir bad. Nou moet ek staatmaak op my liggaamshitte.

Henry het nog nie beweeg van die lessenaar nie. Die skerm so gedraai dat ek nie kan sien waarmee hy besig is nie.

“Gaan jy nie kom slaap nie?” die woorde bitter in my mond.

“Sal nou. Wil net klaar maak.” Ek draai op my sy en krul in ‘n bondeltjie. Die ‘nou’ gaan nog lank vat.

©LynelleClark

Woensdag 20 April 2022

Kort Grepe uit my Lewe #1 en 2

 

Ek het dit begin skryf tydens 'n mini-kompetisie op 'n skrywersblad. 
Die enigste voorwaarde was dit moet slegs 200 woorde bevat. 
Op daardie stadium het ek alreeds met die gedagte gespeel om my eie verhaal te skryf om oor my eie vrese en skugterheid te kom. Ek het net nie geweet hoe moes ek te werk gaan nie maar die uitdaging het my aangespoor om te begin. Nou vind ek die skrywe bevrydend. 
Waarheen dit gaan lei weet ek nog nie ... maar dit is 'n ander dag se besluit. 

 Hier volg die gebeure tussen 2000 en 2002 in kort grepe.

Skuilname is gebruik waar nodig. 



Deel 1 

“Kan jy die krag aansit? Ek sien dit is af.” Die kind gluur my aan. Venyn merkbaar in die hovaardige houding. Die gordyn sak en ek stap verslae weg. Hoekom Here?
“Pay and I will switch it on!” skree die oudste kind uit die sitkamervenster en die onmiskenbare gegiggel volg my terug na my huis. My voetval dof ploffend op die gras.

“Hoekom is die krag af ma?” vra my oudste.

“Hulle dink dit is snaaks.” Moedeloos ontkoppel ek die strykyster uit die muur en sit dit weg. Vir nou is ek klaar gestryk. Sal môre weer probeer.

“Is die tannie nie daar nie?” Ek skud my kop en verberg my skaamte terwyl ek omdraai en die plank wegsit. Ek sal wat wou gee vir koffie maar water sal moet doen.

“Het pa al iets gehoor van die werk?” vra sy weer. Weer skud ek my kop. Die swaarkry dik en bitter in my keel.

“Wat eet ons vanaand?” vra my elfjarige seun. Ek maak die kasdeur oop. Een blikkie sop staan eenkant in die leë kas.

‘n Kar wat stop voor die voordeur bring my uit my beswyming. Opgevolg deur ‘n vinnige voetval en dan die dawerende klop. “Balju! Maak oop.”

Deel 2

“Lyn, jammer om te pla. Ek wou net die vir jou kom gee.” Val buurvrou weg die oomblik toe ek die voordeur oopmaak en oorhandig drie twintig rand note aan my.

“Ek was besig om vir my kinders lekkergoed te koop toe dink ek aan jou drie. Hulle sal seker ook ietsie lekker wil geniet. Hier is ietsie klein vir elkeen. Hoe gaan dit? Enige nuus oor werk?”

“Hallo Wilma, baie dankie.” Sê ek en stoot die deur groter oop en sluit die ysterhek oop.

“Nee, Henry het nog niks gehoor nie.”

“Die lewe is swaar, en ons kan ook nie almal help nie. Maar sterkte.” Haar medelye klink hol, niksseggend.

“Wil jy inkom?” ‘n Outomatiese vraag en toe dit uit is, is ek dadelik spyt. Die ongemak is duidelik op haar gesig te bespeur, en in my stem te hoor en ek trek die deur op die kaal vertrek toe. 

“Weet jy, die kinders is alleen by die huis. Miskien ‘n volgende keer. Weet ons dink aan julle.” Maak sy verskoning, draai om en begin om weg te stap.

“Baie dankie Wilma. Totsiens.” Groet ek en staar die fyn vrou agterna. My gedagtes in ‘n warboel maar dankbaar vir die klein gebaar.  

Dankie Here. 

©LynelleClark

Vervolg: 

Deel 1 en 2

Deel 3 en 4

Deel 5 en 6

Deel 7

Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...