Saterdag 20 Julie 2019

Huismoles: Smittie en die verdagte polisieman - Deel 1 - Lynelle Clark

Deel 1

“Wat maak jy?” Rietjie se stem klink amper eentonig oor die foon, ver af en Smittie skuif weer aan die foontjie aan haar hoor.
“Ek is besig met my logbook, maar my woorde is op. Ek het geen idee wat om by hierdie afdeling te skryf nie,” verklap Smittie ongeduldig. Al hoe meer kry sy druk van haar kantoor bestuurder om die logbook klaar te kry. Haar tyd loop uit, sy weet maar, ai dit is tydrowend. Hoekom moet hulle so baie goed so noukeurig weet? Dit is om van te huil.
“Gaan ons more ope-uur toe?” vra Rietjie
“Ja, dit sal hierdie eentonigheid breek,” stem Smittie in. Die laaste twee dae se stilte wou haar al teen die mure uitdryf. Die foon was abnormaal stil en afsprake was yl gesaai.
“Dan sien ek jou môre.” Die gesprek word afgesluit met wedersydse grappies wat net hulle sal verstaan. Lang ure in mekaar se geselskap is besig om te ontaard in ‘n eie unieke werksverhouding.
“Lekker slaap, ou maat.” Sluit Smittie af en plaas die slimfoon op die tafel. Die skootrekenaar se skerm blink grootoog na haar, die woorde op die skerm het sy nou al soveel keer gelees dat sy eintlik al moeg is daarvoor. ‘Presentation skills….’ Vies sit sy die rekenaar af en gaan klim in die bed.  Peet lê al hoeka en snork, salig onbewus van haar stryd om die verdekselse werk klaar te kry. Vandag was net ‘n moeilike dag. Na die soveelste klient wat nie opgedaag het vir hul afspraak nie het sy tam huistoe gery. Die aand het verby gesloer met die normale aktiwiteite van kos maak, kombuis skoon maak, gesels met Peet en toe inskuif voor die rekenaar om iets produktiefs af te handel maar sonder sukses. Sy sug, draai op haar sy en luister na Peet se snorkery, nou harder as voorheen en sy sug weer.
-----
“Hoe ver het jy gekom met die logbook?” vra Rietjie die oomblik toe hulle oppad is na hul eerste ope-ure huis in Edenvale. 
“Jong, dis moeilik om te sê, maar stadig soos ‘n slak sal seker die beste beskrywing wees van hierdie situasie.” Smittie lê op die toeter toe ‘n taxi skielik voor haar inswaai en haar afsny. Met skreeuende bande kom sy al stertswaaiende tot stilstand. Die bakkie se gewig stoot hulle al hoe nader aan die voertuig en Rietjie gee ‘n klein gilletjie.  “Die swerkater!” Gil Smittie uit en skop die remme amper deur die vloer.  Die bakkie kom met ‘n geskreeu tot stilstand, net voor sy op die agtersitplek van die taxi beland. Groot bruin oë staar na haar deur die agterruit vanuit die taxi, en woorde word duidelik met mekaar gedeel terwyl een ‘n swart vinger na haar toe wys. Sy skud haar kop, woedend vir die onbedagsame bestuurder.
“Ek wonder hoe sal dit voel om net eendag sonder taxi’s op die pad te wees? Dink net hoe lekker sal ons kan ry sonder die alewige bakleiery,” haak sy af, verergd en druk ‘n middelvinger in die lug toe sy verby die taxi swaai. Dié ry ewe onskuldig weg, min gepla oor haar tirade.
“Ons siele sal defnitief reguit hemel toe gaan.” beaam Rietjie. “Die goed is moedswillig en wil hê ons moet in hulle vas ry. Hoop seker vir geld.”
“Ek het nie ‘n saak met wat hulle dink nie, by my kry hulle nie ‘n sent nie. Hulle is ‘n nuisance op die pad, ek sê jou.”
“Ek stem.”
Na etlike draaie stop hulle eintlik voor die kompleks waar agente alreeds uit hul karre peul. Vinnig is hulle deel van die groepie wat deur die sekuriteitshekke loop en die ope ure bordjies volg na ‘n huis in die hoek van die kompleks.
Die kompleks is geleë in ‘n posh area in Edenvale, die huis is gelys vir R1 910 000, wat nie te vergesog is vir die area nie.
“Is mos jou beurt vir fotos?” Sê Smittie ingedagte en Rietjie knik haar kop. Haar slimfoon alreeds uit om die eerste foto van die huis te neem.
“Ek gaan rond kyk.”
“Onthou die vorm!” Roep Rietjie agterna en Smittie knik instemmend. Die huis is ruim van binne, met ‘n groot leefarea. Die groot wit marmer teëls glim in die oggend-winterson en weerkaats deur die kombuis wat uitvloei na agter toe. Dit loop dan uit op ‘n Patio, verskuil agter glas-skuifdeure. Die langwerpige vertrek met pragtige wit afgewerkte kaste, beslaan die hele gedeelte van die een muur, die swart teëls ‘n mooi teenstelling. Swart marmer tops glimmer in die oggendson, maar is andersins leeg. Die leefarea se meubels is karig. Eintlik weersprekend van die area en plek. Smittie frons. Mense in die tipe van plekke doen baie moeite met hul binneversiering. Dit is al ‘n gewoonte om met die oog te steel en later iets soortgelyks in haar huis aan te bring of soos ‘n ervare binneversierder raad te gee aan haar kinders of vriendinne. Dit is die een ding wat sy die meeste geniet van huis verkope.
Maar die plek skree desperaatheid en armoede. Dit strook nie. Nuuskierig stap sy van vertrek tot vertrek. Afgeleefde meubels kan in elke vertrek gevind word. Die matte in die kamers is uiters vuil. Oral spreek dieselfde gebrek direk met haar en sy kan nie help om te wonder wat die storie is met hierdie huis nie. Deel van hul werk is om mense te help, mense wat in rowwe tye val, en sy het al baie hartseer goed gesien maar hier is iets duister in die lug. Daar is ook ‘n onaangename reuk in die lug. Dit wil bekend ruik maar bly haar ontbreek. Selfs die ander agente loop stil deur die huis, neem vinnig fotos en verdwyn. Die normale kwinkslae en geselsies afwesig.
Die agent wat die plek gelys het staan eenkant, by die eetkamertafel. Pamflette wat die inligting van die huis bevat, en haar besigheidskaartjies in netjiese hopies. Net soos die huis, straal sy ook desperaatheid uit. Senuweeagtig duidelik soos wat sy rond trippel en agter toe kyk, en Smittie stap nader. Nie seker hoe om die situasie te hanteer nie maar nuuskierigheid dwing haar vorentoe. Rietjie kyk haar ook stil aan en verdwyn die gang af na die kamers se kant toe, met ‘n waai van die hand.
“More vrou, hoe gaan dit?” vra sy Annelien. Hulle ken mekaar meer van sien tydens ope-ure en was nog altyd vriendelik teenoor mekaar.
“Goed.” Annelien se normale joviale temperament gedemp en sy ontwyk haar oë.
“Dit is ‘n pragtige huis.” Probeer sy weer.
“Dankie.” Kort en saaklik. ‘n Agent is altyd in ‘n verkope stemming, reg met die nodige inligting. Vir haar om net een-woord antwoorde te gee is onrusbarend en Smittie kan nie help as om nader te staan nie.
“Wat is die storie met die huis?” vra sy stil, die spasie tussen hulle twee het aansienlik gekrimp want Smittie wil weet wat aangaan. Buig of bars. Senuweeagtig kyk Annelien rond en lek dan haar lippe asof haar mond droog is.
“Kan ons later gesels?” vra sy en, sonder om te wag vir ‘n antwoord, stap sy weg. Toe Smittie omkyk gewaar sy ‘n man in die voordeur opening. Die leerbaadjie omraam breë skouers, die wolhemp het duidelik beter dae geken. Maar wat haar die meeste opval is sy gesig; die spreek boekdele. Hy lyk kwaad, ‘n broeiende kyk wat jou tweemaal laat dink om hom te nader. En hy kyk haar aan asof hy haar wil deurboor met sy kykers.
Net toe stap Rietjie nader: “Het jy die vorm gekry?” maar Smittie se aandag is by die onbekende man. Net so vinnig as wat hy verskyn het, verdwyn hy, en Smittie kon sweer dat selfs die huis gesug het. Maar dit kan net haar verbeelding wees. En dan, so uit die niet kom dit tot haar. Die huis ruik na dood.
‘n Siek reuk warrel deur die huis en sy ril onwillekeurig. Hier is iets groots fout.
Kopiereg voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...