Donderdag 26 Mei 2022

Kort Grepe uit my Lewe #8


Hoofstuk twee uit Grepe uit my lewe. 

Deel 1

Ek was elf toe ek die eerste keer dié vertrek betree het - ‘n 3.5x6 kamer met ‘n groot venster aan die onderpunt van die vertrek en ‘n nou venster, die lengte van die symuur; ‘n ingeboude tweedeurkas en deur. Die koudste vertrek in die huis.

My pa het pas die huis in Prince Georgelaan gekoop. Dit was ‘n groot huis - baie groter as die een in Olgastraat, met genoeg kamers vir my en my suster en my broer wat nog in wording was.

My jongste suster sou eers twee jaar later verskyn.

Die vertrek het ‘n groot muurskildery gehad van die Koningin van Spades. Ek het daar en dan besluit dit is my kamer. My ouers was nie beïndruk nie en dit was summier verberg met pienk plakpapier. Die hele kamer was gehul in pienk; van siamees-dekens oor die enkelbeddens tot blommetjie-pienk gordyne - met skakerings van pienk in die strooikussings en vloermatjies vasgevang, tot groot konsternasie van myself. As ek reg kan onthou was die kamermat ook pienk. So ‘n dowwe vuilpienk wat later nie meer mooi was nie ongeag die kere wat dit onder die matwasser deurgeloop het.

My sussie was op die Barbie-stadium en was mal daaroor. Vandag nog is sy lief vir die kleur en dit pas haar. ‘n Regte Barbie in lewende lywe met geen haar uit sy plek.

Ek haat die kleur. Tot vandag toe hou ek niks van pienk nie en my twee dogters het nie dieselfde marteling deurgegaan nie. Ek het botweg geweier dat pienk ooit iewers in my huis sou wees.

Kan jy my smalende glimlag sien … 

Teen standerd agt, toe ek my eerste naweek werk se geld verdien het, nogal by ‘n haarsalon, het ek plakkate aangeskaf en die oorverdowende kleur verberg aan my kant van die kamer. Lieb Bester, Farah Fawcett, Abba, perde en boekaanhalings in skakerings van bont, swart, blou en wit net om die monotoon te breek. As ek reg onthou was daar selfs een van Bruce Springsteen. Die ander helfte was besaai met Barbie en Ken en pienk. Die tweestryd tussen ons twee was toe alreeds merkbaar.

Later, toe ek uit die huis is, is die plakpapier verwyder en die muurskildery uitgewis met verfrollers. Die dag toe ek dit sien was ek befoeterd, maar ‘n mens is mos groot en jy kom daaroor. ‘Life goes on’ en alles wat daarmee gepaard gaan - die 3.5x6 vertrek nie meer deel van my wêreld nie.

Toe hulle twee uit die huis is, is die kamer weer geverf. Roomkleur in plaas van wit het nou die mure versier en donker-pienk gordyne het die vensters behang. Bloedrooi blomprag spatsels het die roomkleurige kussings besprinkel en gaste kon die vertrek na hartelus gebruik.

Ek het my eie huis gehad, min wetend dat ek dertig jaar later na die vertrek sou terugkeer.

©Lynelle Clark 2022

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...