Dit vang my altyd onkant; die verwagting,
teenoor die realiteit. ‘n Mens sal dink dat wat ek verwag en wat werklik gebeur
my nie meer onkant kan vang nie. Maar dit doen. Die verwagting het getaan en
die werklikheid staar my in die gesig en dit sny diep. Soms wens ek dinge wil
vinniger gebeur en nie so uitgerek word nie. Of hoekom moet ek alweer hiermee
sukkel?
Skoonmaak bring mee dat jy met goed moet
deel en dit vat tyd. Daardie dinge wat in jou verlede weggekruip het, kom nou
na vore en staar jou in die gesig. Soos bondels stof lê dit oral in die hoeke
van jou siel. Die walgende reuk van dood sweef op en kriewel jou neus en jy
nies totdat die trane vloei. Allergex gaan nie hier voor help nie. “Elbow
grease” wel, plus om myself te vergewe, en om ander te vergewe met kamers vol genade.
Dit is ‘n moeisame proses en daar is dae wat ek net nie lus is daarvoor nie.
Na vier maande van geweldige pyn, is my arm
nou meer beweeglik en word dit makliker om bokse rond te skuif. Ek het nuwe
respek gekry vir mense met sportbeserings of ander liggaamlike gebreke. Die liewe vader weet dit is vrek seer. Dit
maak nie saak hoeveel keer jy probeer iets doen nie jou liggaam werk nie saam
nie. Skielik mis jy die vryheid van beweging en kyk jy verlangend na mense wat
dit wel kan doen. Dan klop selfbejammering aan jou deur en jy moet deur dit
druk om nie verswelg te word in die selfbejammering-partytjie nie. Kompleet met
ballonne, rooi koeldrank en streamers.
Wanneer jy uiteindelik wel daarby uitkom bring
elke nuwe skuif ‘n nuwe vlaag van stof mee en weer word jy gedwing om met die
nuwe gevoelens te deel. Dit het party dae gevoel soos ‘n maalkolk waarvan ek
net nie kan losbreek nie.
Dit is waar wat Salomo in al sy wysheid
geskryf het: “Dit is daardie klein jakkalsies wat die wingerd verwoes.” Dit
sluip baie subtiel rond en wag totdat dit iets sien wat kwesbaar is en dan fokus
dit daarop. Soos ‘n dief in die nag sluip dit al hoe nader en wanneer jy dit
die minste verwag val dit aan. Dit gaan gewoonlik vir die nek maar sal aan
enige iets byt om jou te verswak tot waar jy heeltemal ingee en gaan plat lê. In
my geval was dit my skouer. En die kommentare van familielede. Ken my familie
my dan nie? Is gewoonlik my weervraag. Hoekom sou hulle so dink van my? Voel
almal so?
Ek weet nie van julle nie maar wanneer ek
beskuldig word van iets so absurd slaan dit al die lug uit my seile uit en laat
my lam. Dan gaan delf ek diep rond in my geheuekabinet en inspekteer en evalueer
elke aantuiging. Is dit waar? Ens.
Maar ons het altyd ‘n keuse. ‘n Keuse om
terug te baklei of terug te staan en toe te laat dat die Here ons lei. Immers
belowe Hy om my te beskerm en selfs te verdedig. Hy ken my hart. Hy weet waarmee
ek sukkel en waar my swak plekke is. Daarom, wanneer ek swak is, is Hy sterk. Dit
is dan wanneer die emosies en gebeurtenisse waarmee ek lank terug gesukkel het opnuut
weer verrys uit die as.
Daar is baie bitter herinneringe waarvan
die rowe nog nie afgeval het nie, in my lewe. Dan is die mooi minder mooi en
die glimlagte geforseerd. Ek is een van daardie mense wie se emosies openlik op
my gesig wys. Die besef dat jy nooit met daardie gevoelens gedeel het nie en
die rede hoekom jy nogsteeds optree soos toe, ‘n helderheid wat jou eintlik
laat klein voel.
Skoonmaak is beslis nie maklik nie. Die
deurbrake is ver uit mekaar uit maar wanneer dit klaar is en die stof weggegooi
is dan haal jy vrylik asem.
Dit is waarheen ek mik. My doel om eendag
heeltemal vry te kan wees van hierdie juk.
Miskien eendag kan ons ‘n allergiese pil
drink teen dit. Maar tot dan moet ons met hierdie dinge deel op die ou manier.
Dit maak ons immers sterker en maak ons pad duideliker.
En God is getrou. Hy sal ons nooit los nie.
©LynelleClark
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking