Die
Skoppenskamer
Daar was verskeie vertrekke in my lewe,
maar geeneen het ‘n blywende herinnering soos dié
vertrek in my lewe gelaat nie. Van hier af noem ek die vertrek my Koningin van Skoppenskamer. Die
3.5x6 kamer klink te klinies en tegnies. Die vertrek is meer as dit. Hier het
ek gedroom van wêreldreise, ander tale geleer, weggeraak in die bladsye van
boeke, musiek geluister, en huiswerk gedoen.
In my
dertig jaarlange afwesigheid was my lewe ‘n skoppelmaai-rit van plesierigheid,
rillers, onverstaanbaarhede en insiggewende oomblikke wat spore in my lewe en
gemoed gelaat het.
Buite dié vier mure het ek kinders gebaar, hulle groot
gemaak en vir hulle ‘n huis geskep. Ek het hulle gehelp in hul
transformeringsjare en ‘n anker gebly totdat hulle die huis verlaat het.
Hierdie huis was omvou met drome, deurgebidte wonderwerke, volop liefde en
vriendskap.
Hier het
ek ook tot bekering gekom en God leer ken op opgewonde wyses wat my laat glo
het in die wonder van ‘n Hemelse Vader. Hier het ek my kinders in die hande van
die Here geplaas ongeag hul lewenskeuses en bly steeds by hulle staan. Maar
hier het ek ook seergekry, en als verloor, insluitende my selfrespek. Daardie
seer het my op die ou einde teruggedryf na die Skoppenskamer sodat ek weer
myself kon ontdek.
Toe ek
terugstap het dit gevoel of ek nooit weg was nie. Die donker-pienk gordyne en
bypassende duvet was nog daar. Nou het dit meer soos cherise gelyk en ek het daarvan
gehou. Die enkelbed was vervang met ‘n dubbelbed en my sussie was natuurlik nie
daar nie. ‘n Hele kamer vir myself. Lekker.
Hier moes
ek weer my voete vind ... moes ek weer leer om te oorleef op my eie - my
menswaardigheid geskend met komplekse sere, wroegings en bitterheid. Die Here
was nie meer in die prentjie nie. Die seer was te seer en ek was bang ... ongelooflik
bang. Die vrees was soos ‘n halsnoer om my kop wat my ledemate verstar het op
die deurdrumpels van winkels, en my kop stil. Dit het my drie jaar gevat om
deur dit als te werk, te aanvaar en aan te beweeg.
Weer het
ek die Skoppenskamer verlaat en by Isak ingetrek en vir agtien maande het ek
die kamer verruil vir ‘n dubbelverdiepingmeenthuis. Toe die lewe my weer ‘n
uitklophou gee, moes ons terug na die kamer. Ek het die skuif teëgestribbel,
maar daar was geen ander uitkoms nie tensy ek in die straat wou gaan bly.
Ek haal
my hoed af vir mense wat daardie roete volg. In my worstelingstyd het ek besef
hoe papbroek ek eintlik is. Die straat se roep as uitkoms was ‘n foltering wat
ek vir baie jare moes wegsteek, die kreet soms te hard en te helder terwyl
vrees my wou doodwurg.
Toe ek
weer ontvanklik word vir die stem van die Here, het Vader deur ‘n profetiese
persoon laat weet daardie vrees is ongegrond — dat daar nou vir my ‘n nuwe
bladsy is. Toe eers het ek ontspan.
My Skoppenskamer
is nou ‘n veilige hawe waar ek leer, groei en standvastig word.
@Lynelle Calrk 2022
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking