Donderdag 01 Augustus 2019

Deel 3 Huismoles: Galbitterkoue deur Lynelle Clark

Die skok op Annelien Harmse se gesig vertel sy eie verhaal; sy was onverhoeds gevang. Haar aanvaller het haar verskeie kere met ‘n skerp voorwerp geslaan. Haar borskas verander in ‘n rooi speldekussing. 

Bloed lê wyd versprei om haar. Een skoen lê verwese eenkant, haar skouersak oop. Die inhoud in die bloed verdrink. ‘n Foto vang Smittie se oog, maar die beelde is onduidelik as gevolg van die hoeveelheid bloed. Sy staar vir ‘n paar oomblikke na als om haar en bring dan haar foon te voorskyn. 

Toe sy klaar die oproep gemaak het neem sy ‘n paar fotos van die toneel. Toe eers draai sy terug en kyk na Rietjie wat nogsteeds op die selfde plek staan. Versteen. Die kliënte is nêrens sigbaar nie. 

Ure later stap Smittie terug in haar huis. Doodmoeg, sy rol die serp van haar nek af en gooi die jassie op die bank. Die hele ondersoek het tot na 4 aangehou en sy en Rietjie is herhaaldelik ondervra deur elke speuder, seker in die Oos Rand. 

Sy is yskoud, haar voete pynvol. Die bootse nie van die gemaklikste vir so ‘n oefening nie. Haar keel voel soos skuurpapier. Peet wag haar in met ‘n glas OBS lafenis. Dankbaar vat sy dit by hom en sluk dit amper oorhaastig weg. Sy verstik in die brandgenot en Peet kom onmiddelik tot haar redding. Trane vloei soos wat sy sukkel om ordentlik asem te haal maar na etlike sekondes kan sy weer kosbare suurstof in neem. 

Die gebeure van die dag het haar uitgeput en futloos gelaat. “Wat het toe als gebeur daar?” Vra Peet en Smittie vertel hom breedvoerig alles wat sy gesien het. Dit was lank stil daarna en net toe sy wil omdraai om in die bad te kom stop Peet haar. Kommer en angs lê vlak in sy blou oë toe hy begin praat. 

“Ek hou nie hiervan nie. Jy en Rietjie kon ook aangerand gewees het. Hierdie werk is nie die moeite werd om julle self so in gevaar te stel nie. Ek wil hê jy moet mooi dink oor die werk. Ek sien nie kans om ‘n doodstyding-oproep te kry nie. Dit is nou al die hoeveelste agent wat vermoor is in die afgelope maande.” As afgetrede weermagslid is Peet gewoond aan die ergste maar dit is altyd ver van die huis af. Skielik is dit in hul huis, en hy voel hulpeloos om sy vrou te beskerm. Omgekrap, kleur Peet se wange onnatuurlik in rooi vlekke. Smittie kon sien hoe geskok hy was. Hy het geweldig groot geskrik nadat sy hom laat weet het en die nodigste inligting gegee het. Maar hoe kan sy net haar werk opgee? Sy is ‘n goeie agent, ‘n hardwerkende agent wat al te veel moes opgee om van die beroep ‘n sukses te maak. 

Maar daar is nie nou tyd om daaraan te dink nie. Annelien is dood. Smittie luister geduldig. Sy het, om die waarheid te sê, vergeet van die ander drie agente wie se liggame ook in huise gevind is. Vermoor en agtergelaat in leë huise so twee maande gelede. Die media het behoorlik gegons daaroor maar geen leidrade kon gevind word om die skuldige te vind nie. Vir die eerste keer wonder sy of die moorde nie almal verband hou met mekaar nie. Dit sou goed wees om by die ondersoekbeampte te hoor. 

“Asb Pop, belowe my julle sal versigtig wees. Ek sal dit nie oorleef as daar iets met jou gebeur nie.” Peet lyk verlore en Smittie stap in sy wagtende arms in, en omhels hom vuriglik. Na agtien jaar van getroude lewe is hulle nog net so verlief soos die dag toe hulle ontmoet het. 

“Ek belowe, my hart. Sodra ek dink dat dit te gevaarlik is sal ek ophou, ek belowe. Maar vir nou is als onder beheer. Dit is net ‘n kwessie van op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.” Sê sy saggies en gee hom ‘n sagte soen. 

Na ‘n futlose nag het Smittie in die vroeë oggendure weer voor haar skootrekenaar ingeskuif en ‘n paar e-posse aan voornemende kliënte gestuur. Toe al haar administrasie afgehandel is het haar gedagtes weer terug gekeer na Werner Benade en die raaiselagtige moorde. Met vinnige soektogte op die internet het sy die artikels gekry van die vermoorde agente en dit deeglik deur gelees. Van elkeen het sy notas gestoor op Evernote. Sy wou dit op haar foon ook he, net vir ingeval. Daar was beslis kenmerke wat ooreengestem het met Annelien se moord. Die raaiselagtige moorde het geen verdagtes gehad nie. Die polisie in ‘n dwaal oor die motiewe. Smittie het gewonder of die polisie dit as een saak hanteer. 

Teen die tyd wat sy klaar gebad en aangetrek het was sy angstig om die dag te begin. Haar eerste klient vir die dag, Mnr Basson, is die tipe koper waaroor enige agent droom. Sy bankbalans kwalifiseer hom vir die heftige prys van R42 Miljoen. Maar sy weet ook hy het nie daardie soort geld gekry deur sommer net weg te gee nie. Sy vae was ‘n goeie aanduiding daarvoor. Met haar gedagtes by die moord sake stap sy by die kantoor van Basson PTY Bpk in. Die aankope is baie kompleks en daar was heelwat inligting wat sy moes bymekaar maak vir hom rakende die blok woonstelle. Terwyl sy terugvoer gee aan Basson lui haar foon. Dit is ‘n onbekende nommer en sy besluit om dit vir nou te ignoreer en later terug te bel. Maar die aanhoudende lui trek haar aandag af en Basson sê dat sy moet antwoord. Hy self buig oor al die planne en figure wat sy op sy tafel geplaas het, foon teen die oor, en sy verlaat die kantoor haastig. 

“Lydia wat praat,” antwoord sy die keer met haar geboortenaam. Smittie is ‘n bynaam wat kom van haar koerant dae en dit klou soos kougom aan haar. Toe sy in die gang tot stilstand kom kon sy die ander persoon vir eers nie hoor nie. Sy stap tot waar daar beter opvangs is, en probeer weer. “Lydia hier.” Doodse stilte bereik haar ore, en vies kyk sy na die foon, dit is duidelik die persoon is nog aan die anderkant van die foon, en toe gaan dit dood. Verergd draai sy om toe die foon weer lui. Die keer antwoord sy by die tweede lui en Benade se stem kom duidelik oor. 

“Dit lyk my jy luister nie as ek praat nie,” sy stem hard en dreigend. Stom geslaan is Smittie vir ‘n oomblik stil. “Jy hou jou verniet onskuldig. Dit sal wys wees om jou neus uit sake te hou wat niks met jou te doen het nie. Verkoop huise, en laat die grootmense die saak hanteer. Is dit duidelik. Jy mag jouself net aan die anderkant van ‘n mes se punt kry.” 

"Dreig jy my?"

“Vat dit soos jy wil, Mev Smit, maar bepaal jou by jou eie dinge. Kapish.” En die foon se doodsheid weerkaats deur haar hele lyf. Sy slaan in koue uit terwyl sweet op haar voorkop pêrel. Die hele gesprek ‘n raaisel. 

Na afloop van die vergadering, en ‘n gelukkige klient, stap Smittie by die naaste drinkplek in. Die koper sal terugkom na haar toe binne twee dae. Sover lyk dit baie gunstig. Dit is al na twee en iets sterker as koffie of tee sal die ding doen. Sy sal later terugvoer gee aan die eienaar, Mnr Steyn en haar baas, Lodewyk Pienaar. 

Smittie se senuwees is aan flarde. Haar gedagtes bly terug gaan na die foongesprek. Oortuig dat Basson haar gewaarsku het, maar hoekom? Afgesien dat sy elke keer op die verkeerde plek beland is sy tog net ‘n agent wat haar werk doen. Een van vele wat die plek bemark, hoekom sal hy haar uitsonder? Sy is tog nie betrokke nie. Sy het skaars vir Annelien Harmse geken. So, waarom sal hy voel sy is ‘n bedreiging? Met die vrae geniet sy ‘n glasie rooiwyn en, nadat sy betaal het, keer sy terug na haar veilige hawe in Dowerglen. Voor hul huis stuur sy gou ‘n e-pos aan haar baas, in antwoord op sy vraag. Hy wou weet hoe dit gegaan het. Tegnies gesproke moes hy saam met haar gewees het maar ‘n ander afspraak het veroorsaak dat sy Basson allen moes sien. 

Met dit afgehandel vat sy haar sak en klim uit. Die koue lug kruip behoorlik onder haar baadjie in en sy knyp dit verbete toe. Die oomblik toe Smittie instap besef sy daar is groot fout. Alles in haar voorkamer is omgekrap, elke laai se inhoud lê op die vloer. Hoe dieper sy inbeweeg in haar huis sien sy dat elke vertrek in dieselfde wanorde is. 

By haar studeerkamer stop sy en die eerste ding wat sy opmerk is haar skoon tafel. Die skootrekenaar is nie meer op sy plek nie en die res van haar leers is gestrooi oor die mat. Peet kom ingestrompel en hou sy kop vas. Bloed stroom teen sy gesig af. ‘n Stuk bloudraad hang van sy linker pols af, ‘n hewige pers snit die getuienis van sy pas afgelope ordeal. Met skrik wat bruis deur haar help sy haar man tot by die naaste stoel, terwyl Peet haar vertel hoe twee mans hom oorrompel het en die huis deursoek het. Hulle is daar weg met heelwat goed. 

“Die snaakste was dat hulle bly vra het na jou, Smittie.” Eindig hy sy relaas en Smittie skrik. Dan dink sy weer aan die foon gesprek van daardie oggend en sy word yskoud. 

“Hoe laat was dit?” Vra sy bewerig. “Jy was seker so ‘n halfuur weg toe die gemors hier instap asof die plek aan hulle behoort.” Antwoord Peet en vryf aan die knop op sy knop. 

“Was die polisie al hier?” Vra sy gedemp. “Ek het gebel maar hulle het gesê hulle het ‘n backlog en ons sal moet wag en moet aan niks raak nie.” 

“Moet ek jou dokter toe vat?” Vra sy bekommerd en kniel voor hom neer. 

“Nee wat, is net ‘n skrapie.” Antwoord hy en sy kyk hom stip aan, deursoekend maar hy vermy haar deurdringende oë. Dat sy ego meer skade gekry het is gewis. Vir ‘n gewese soldaat sou die hele situasie baie vernederend gewees het. Vir die res van die middag kloek sy om hom, maak vir hom ‘n sterk koppie koffie met ‘n skeut brandewyn daarin, en gee hom twee pyntablette. 

Teen sewe uur is hy in die bed sonder enige kos. Die wond teen die kop het uiteindelik ophou bloei en die draad het sy met groot versigtigheid afgeknip met ‘n draadtang. Daarna het sy die polse versorg na die beste van haar vermoë. ‘n Dokter is of was sy nog nooit nie maar sy het genoeg ervaring van kinder seerplekke. Die polisie skitter nogsteeds in hul afwesigheid. Elke keer wat sy bel kry sy die selfde antwoord. Wees geduldig. Maar haar geduld was op en haar senuwees vlenters. Sy het lankal tot die slotsom gekom dat dit iets te maak het met Benade se oproep en dat hy haar skootrekenaar het. Die rede vir sy oproep. Sy ys om te dink wat hy aan haar rekenaar kan doen, al haar werk wat daarop gestoor is sal heel moontlik teen die tyd uitgewis wees. 

Om haar aandag af te hou daarvan het sy die kinders gebel en die woord het vinnig versprei. Peet se dogter, Elmarie, uit sy vorige huwelik, was histeries. Verskeie mense het al gebel om na Peet te verneem en teen nege uur besluit Smittie om self ook klaar te maak vir bed en in te kruip agter Peet se rug in. Maar slaap was haar nie beskore nie en ‘n uur later vat sy ‘n boek en verdiep haar in die wroeginge van die heldin. Na ‘n paar minute se verdieping en wik-en-weeg besluit sy om vir haar Milo te gaan maak en was dadelik weer terug in die bed. Peet was heeltemal uit. 

Toe sy uiteindelik die boek neersit was dit alreeds aan die verkeerde kant van vier uur. Sy strek haarself uit, gaan sit haar leë beker in die wasbak en wil net weer gang afstap toe sy ‘n geskuifel by die voorhuis hoor. Die volgende oomblik sluit ‘n hand om haar mond en sy verstar op die plek. 

“Wees stil as jy weet wat goed is vir jou.” Sis Benade hier in haar oor. Sy knik haar kop en word dan ru na die naaste bank gevat waar hy haar vinnig vas maak met elektriese koord wat hy met geweld uit die muur los geruk het. Dan word ‘n eetkamer stoel nader gesleep en Benade kom sit voor haar. ‘n Flitslig word direk in haar oë geskyn. Sy probeer haar kop draai maar dit is verniet. Die lig volg elke beweging en ‘n kloppende hoofpyn maak homself tuis tussen haar oë. 

“Ek moet jou toegee Smittie, jou fotos is baie mooi en duidelik geneem. En jou navorsing het nogal baie insiggewende feite bevat wat my eintlik in ‘n swak lig sit.” Soos wat hy praat kan sy die gekrap in die ander vertrekke hoor dus is hy nie alleen nie, en sy wonder of Peet al wakker geword het van die kabaal in die huis. 

Sy ruk aan die koorde maar dit is verniet, sy is vas en vir nou in Benade se mag. Die een ding wat wel uitstaan is dat Benade agter die inbraak sit van vroeër, nou verstaan sy die dreigende oproep maar hoekom sal hy nou weer hier wees? 

Sy luister aandagtig na sy relaas nie seker waarop dit alles af stuur nie. 

“Julle agente is vervuil op hierdie aarde. Jy kan jouself nie draai nie, dan is julle daar. Erger as joernaliste opsoek na ‘n storie.” Sis hy voort. “Maar jy verras my – agent en speurder in een. Het jy gedink jy gaan my uitoorlê?” Hy trek sy stoel nog nader en sy knie skuif teen hare. Die drankasem van vroeër is nou meer pertinent. Alhoewel sy nie sy gesigsuitdrukking kan sien nie weet sy hy lyk gevaarlik en bestudeer haar noukeurig. “Nou wonder ek wat steek jy nog weg, en met wie jy al gepraat het.” 

“Ek het met niemand gepraat nie, ook is al my inligting op my verdwyne skootrekenaar – die een wat nou in jou kloue is.” Weer probeer sy haar kop draai, weg van die lig af. Haar kop ‘n tabloe van pyn. Maar die lig volg haar instinktief en al wat sy kan doen is om haar oë styf toe te knyp, maar selfs dit help nie. “Ja nee, slim verby.” Praat hy weer, “Maar ek glo jou nie. Met wie het jy die inligting gedeel, miskien jou kollega?” Smittie skud haar kop heftig. 

“Nee, sy weet van niks nie.” Dan dawer haar kop van die hou wat hy haar gee. 

“Jy is nie in ‘n posisie om inligting van my te weerhou nie en ek sal jou aanraai om saam te werk of jou lewe as aspirant speurder is kortgeknip, kapish.” 

Met die hoor sy ‘n geskuifel en nog ‘n stoel word nader getrek. Duidelik hoor sy Peet se stem reg langs haar. Met dit verdwyn haar laaste hoop dat sy hier kon uitkom. 

“Wat soek jy van ons?” Vra Peet gedemp en sonder om weg te skuif antwoord Benade stilweg. 

“Antwoorde van jou nuuskierige vrou af. Sy is seker ‘n pyn met haar alwetendheid. Hoe hou jy dit?” Maar sonder om op Peet te wag gaan hy voort, “Met wie het sy gepraat oor hierdie saak?” 

“Watter saak?” Vra Peet ewe onskuldig. Dan hoor Smittie hoe Peet geslaan word en hy hygend vorentoe tuimel. 

“Stop dit!” Roep Smittie uit. 

“Ek het met niemand gepraat nie! Hoekom sou ek? Ek weet niks nie!” Gil sy. Peet leun teen haar, sy hitte soos balsam vir haar maar dan word hy regop geruk. 

“Jou rekenaar wys die teenoorgestelde. Jy weet meer as wat jy wil sê,” die volgende oomblik druk hy sy gesig reg voor haar in. Sy vrot asem saam met haar kloppende hoofpyn veroorsaak draaie in haar maag. Smittie sluk tevergeefs maar weet dit is te laat want die volgende oomblik stroom dit oor haar en tref hom ook. Benade skreeu soos ‘n maer vark en spring weg van haar af. Asof sy melaats is. Die suur reuk en nat nagklere laat haar inmekaar krimp en sy word weer naar. Galbitterheid loop teen haar ken af. 

“Fokken bitch!” Gil hy en met die kom Peet orent en storm op hom af. Sy groot lyf blok haar vir ‘n oomblik en saam tuimel die twee oor die koffietafel. Glas en hout splinter en breek en dan hoor Smittie voetstappe. Die flitslig nou al rollende op die teëlvloer. Dit veroorsaak ‘n spookagtige lig teen die mure. Maar niemand sien dit raak nie. 

‘n Lawaai bars los om haar soos wat hulle baklei, en dan klink ‘n geloei duidelik op. Die volgende oomblik staar Smittie en Peet in mekaar se gesig. Bloed stroom weer teen Peet se gesig af maar hulle is alleen.

Kopiereg voorbehou 


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...