Dinsdag 20 Augustus 2019

Diamant DIVAS Toksiese verhoudings is stille sluipers van die nag


Wie ookal daar deur vasgevang is sukkel om van die giftige klampe weg te kom en sukkel jare daarna nog met die letsels daarvan.
Daar was ‘n stadium wat ek nie kon verstaan hoekom vrouens, vernaamlik, nie net kan weg stap nie. Nou, jare later kan ek verstaan waarom ‘n vrou bly en die gif vat vir wat dit is.
Better the devil you know than the devil you don’t know, reg.
Alhoewel ek nooit fisies aanrading beleef het nie was daar emosionele merke waarmee ek moes deel. Die innerlike stryd ‘n defnitiewe kenmerk van my opstaan. Toe het ek nie besef hoe sekere handelinge my gebuig of beinvloed het nie, maar agterna moes ek leer om dit te konfronteer en hanteer. Van tyd tot tyd kom die gedagtemerke nog op, vernaam wanneer ek voel ek gefaal het in ‘n spesifieke werkstuk of projek of ‘n aanval ervaar het teen my persoon. Dit is dan wat ek baie ferm moet optree en nie toe laat dat dit gis binne nie. Want gis dit, raak dit septies. 
Foto geneem deur Theuns de Bruin
Grafiese Kunstenaar Odette Clark
 
As projekkoördineerder vir ‘n liefdadigheidsprojek, wat begin is deur Alta van Zyl besef ek weereens die erns van toksiese verhoudings. Die projek handel oor mishandeling, wat vrouens, kinders, mans en bejaardes insluit. Ingesluit is ook stories van armoede en verslawing. Dit sluit 45 skrywers en digters se werke in en word deur my saamgestel. Indien mense sou belangstel, tree gerus met my in verbinding, voorlopige bestellings word aanvaar. Die gelde is om mense in hierdie situasies te kan help om weer op te staan.
Elke gedig of kort verhaal bevat die seer van mense wat deur sulke toksiese verhoudings gegaan het. Die boek is eintlik ‘n Ode van Genade juis omdat dit so diep sny. Daarom is die bundel se naam ook Spore van genade. Dit bevat die wroeginge en sere van mense wat alreeds opgestaan het. Mense wat dit oorleef het om vandag hul storie aan ons te kan oor vertel deur die geskrewe woord. Dit is nie ‘n maklike boek nie, dit is by tye swaar, vol hartseer en pyn. Verwerping vasgevang tussen die lyne van uitbeeldende sinne. Maar die spore van genade is sigbaar. ‘n Tasbare lyn soos wat jy deur die boek beweeg.
Die rede vir my program vandag is om enkellopende vrouens bewus te maak van die gevare van so ‘n verhouding. Vir die oningeligtes moet ons eers kyk wat is ‘n toksiese verhouding om dit werklik te verstaan. Om in ‘n verhouding te beland van so ‘n natuur is om jou eie dood te soek; emosioneel of liggaamlik. Bly eerder weg. Niks sal kom daarvan nie, en die enigste mens wat die prys sal betaal is jy.
Indien jy jouself in so ‘n verhouding bevind kry asseblief hulp.
Die woord toksies stel dit baie goed. Die gif deurlopend en kankeragtig wat als verniel op sy meedoënlose vernietigende pad. Die ontvanger word totaal afgebreek. Sy menswees beroof tot daar later niks oor is nie. Dit is ‘n stelselmatige afbreek proses wat jou later laat glo jy verdien dit. Jy kwyn weg later en het geen gesonde verhouding nie, en herken dit ook nie.
Al wat jy ken is die septiese gif toegedraai in haat en verwerping wat na jou geprojekteer word. Op sy beurt lei dit na verslawing, molestasies, verarming en die dood. ‘n Siklus wat baie jare kan aanhou of momenteel tot stilstand kom met katastrofiese gevolge. Kyk maar die nuus in jou dorp of die nasionale koerante en tydskrifte. Agterna het mense baie te sê daaroor maar wanneer die mense in die midde daarvan is kyk bure, familie en vriende weg. ‘n Hartseer tendens verskuil agter, “Ek wil nie betrokke raak nie.”
Die dief kom in die begin voor as ‘n persoon wat baie belangstel. Soos ‘n wolf in skaapsklere is hy/sy se ware natuur weggesteek en bluf jou deur leuens, omkoopgeskenke en dies meer. Die persoon hou die perfekte prentjie voor. Een van geduld, liefde en verstaan. Julle kliek net om een of ander rede baie goed en jy glo vas jy het jou sielemaat gekry.
Maar daar is ‘n verskil in liefde betoon en liefde vat met alternatiewe motiewe. Liefde betoon gebeur op ‘n natuurlike manier, sonder enige druk van die persoon af. Hy aanvaar jou vir wie jy is sonder onnodige eise. Daar is geen manupilasie betrokke nie. Ook geen tit-vir-tat houding nie. Dit is ‘n natuurlike verhouding wat sommer net maklik inmekaar val terwyl die verhouding stelselmatig groei.  Die aantrekkingskrag is onmisbaar en jul pad loop saam in verdraagsaamheid en geduld.
Die alternatiewe liefde is manipulerend en veeleisend. Dit maak nie saak wat jy doen nie jy is altyd verkeerd. Jy loop gedurigdeur op eiers. Nie seker watter voet om voor te sit nie. Die persoon soek ook al jou aandag en verdra nie om jou te deel met iemand anders nie, selfs jou familie. Hy vind altyd ‘n fout iewers. Hy is die meeste van die tyd kwaad of omgekrap en jy word met elke kyk deurboor. Daar is tye wat hy jou selfs sal vloek en agterna omverskoning vra vir sy wangedrag. Die tendens sal die begin wees wat net sal eskaleer.
Nog ‘n toksiese verhouding is die van ‘n verslaafde of alkoholis. In hul woedebuie is jy die een wat dit ontgeld, hetsy met die vuis of met die tong. Hy breek jou naderhand so af dat jy bang is vir elke ding wat oor jou pad kom. Dit is dan wat jy vasgevang is in sy mag en nie daar uit kan kom nie. Nie net breek dit jou af nie maar verarm jou na liggaam en siel. Deur verskonings te soek vir sy wangedrag maak jou die slagoffer (victim).
Maar die grootste en mees vernietigende verhouding is die van molestasie en mishandeling. Dit is dan wat jy en jou kinders daaronder lei. Vernaam die kinders, want as jy ook jou rug op hulle draai, wie het hulle dan vir beskerming? Jy is hul enigste verweer wat in die bres kan tree en optree.
Luister, wanneer jou kind na jou toe kom en jou vertel dat so en so met hul gelol het, hoekom sal sy/hy lieg daaroor? ‘n Kind is baie kwesbaar en onskuldig; wanneer jy jou rug op hulle draai tree verwerping in en ‘n lelike siklus begin. Jy moet daardie besluit maak om weg te stap voor dit in die dood kan eindig. Dan kom spyt te laat. Jou kind is jou verantwoordelikheid, vlees van jou vlees. Dit is jou plig om na hulle om te sien, te beskerm en hul belange eerste te stel. Indien die man nie kan inval by jou lewe nie, stap weg. Voor dit te ver gaan. Kry hulp indien nodig.
Jou lewe mag moeilik wees. Jy mag dalk oorweeg om by ‘n man betrokke te raak vir finansiele redes. Ek verstaan dit. ‘n Mens is desperaat in sulke tye. Vernaam wanneer jy verantwoordelik is vir jou kinders. Dan juis moet jy dit ter harte te neem om meer versigtig te wees, meer paraat en ingestel op hul behoeftes.
Soveel vrouens trek by ‘n man in twee dae nadat hulle ontmoet het. Dan, weke en maande later is sy so vasgevang in hierdie vernietigende web waaruit sy nie kan los kom nie.


Rienie Erasmus Combrink het die volgende plasing op Facebook gedoen en ek plaas dit met toestemming.
'n Giftige verhouding is soos 'n ledemaat met gangreen: As jy die ledemaat nie amputeer nie, kan die infeksie versprei en jou doodmaak. Jou persoonlike groei - en in sommige gevalle jou genesing - kan slegs bespoedig word wanneer jy verhoudings met die regte mense aanknoop.
Miskien het jy al die storie gehoor van die skerpioen wat die padda gevra het om hom oor die rivier te neem, omdat hy nie kon swem nie. 'Ek is bang jy gaan my steek,' het die padda geantwoord. Die skerpioen het gerusstellend geglimlag en gesê, 'Ek sal natuurlik nie. As ek jou steek sal ons altwee verdrink!' Die padda het toe ingestem, en die skerpioen het op die padda se rug geklim. Halfpad oor die rivier steek die skerpioen toe die padda! Soos hulle begin sink het die padda gekla, 'Jy het belowe dat jy my nie sal steek nie! Hoekom het jy dit gedoen?' Die skerpioen het geantwoord, 'Ek kan dit nie help nie. Dis in my aard!'
Totdat God die ander persoon se aard verander, het hulle die mag om jou te affekteer en te infekteer. Byvoorbeeld, wanneer jy oor iets passievol is, maar ander nie, is dit soos om die tango met iemand te probeer dans wat net weet hoe om te wals. Jy het die verkeerde dansmaat gekies!
Moenie betrokke raak by iemand wat nie jou waardes en Godgegewe doelwitte deel nie. Sommige kwessies kan deur berading, gebed, onderrig en leierskap reggemaak word. Jy kan egter nie iemand leer om om te gee nie; as hulle nie omgee nie, sal hulle jou omgewing besoedel, jou produktiwiteit doodmaak en jou ritme deur hulle aanhoudende gekla breek. Dit is hoekom dit belangrik is om te bid en vir God te vra, 'Moet hierdie persoon in my lewe wees?

Andrew Thomas het in 2016 ‘n artikel, op die Solidariteit webwerf hieroor geskryf en het 5 karakters neergepen wat jy moet los, soos in dadelik.
Die hater - dit is die meedoënlose klaagkous, die persoon wat sonder ophou die negatiewe in alles raaksien. Die hater kla oor die wêreld, blameer ander mense vir haar gebrek aan sukses, en kritiseer die dapperes wat probeer om iets met waarde te bereik.
Negatiwiteit is aansteeklik, en die gevaar van so ʼn persoon is dat sy sal verwag dat jy haar in haar ellende moet geselskap hou. Met verloop van tyd kan sy jou ook maak glo dis reg om ook ʼn hater te wees.
Suksesvolle mense bring nie tyd saam met haters deur nie maar met ander suksesvolle, positiewe mense. Doen jouself ʼn guns deur die hater uit jou lewe te verwyder.
Die afgunstige een - ʼn Afgunstige vriend of kollega sal nie jou oorwinnings vier of jou drome ondersteun nie. Sy begeer die lewe waarna jy strewe, grotendeels omdat sy nie glo in haar eie vermoë om dieselfde sukses te behaal nie.
Omring jou met mense wat opreg gelukkig kan wees oor jou mikrosuksesse en wat jou langtermynambisies steun.
Die skigtige een - Hierdie persoonlikheidstipe onttrek gereeld aan verpligtinge en verwag van jou om by haar immer veranderende skedule (en giere) aan te pas. Jou tyd is waardevol maar die skigtige een erken nie daardie begrip nie.
As ʼn vriend of genoot nie jou planne in ag kan neem, jou tegemoet kan kom en betyds kan wees nie, gebruik dan daardie voorvalle om jou grense te stel en af te dwing. As jy leer om na jouself te kyk en jou tyd te respekteer, sal dit jou ook in ander areas van jou lewe en werk help.
Die skuldgevoelige - Die probleem met skuld is dít: jy kan nie droom as iemand jou laat skuldig voel omdat jy iets beter wil hê nie. Jy kan nie waarde bekom as jy geleer het om skuldig te voel omdat jy vra om na waarde betaal te word nie.
As jy soos ek is, probeer jy nog steeds ontslae raak van die skuld wat jy in jou kinderjare of ander ervarings in die verlede aangeleer het. Ek het dit by tye moeilik gevind om op myself te fokus omdat ek te besig was om die skuld te aanvaar wat ander mense op my gelaai het.
Doen jou bes om mense wat jou laat skuldig voel, te identifiseer en jou van hulle te distansieer. Hierdie een is moeilik want dis dikwels familielede wat hierdie soort gedrag aan die dag lê.
Dis maklik vir my om te sê jy moet jou van ʼn ouer of broer of suster distansieer ─ maar dit maak dit nie minder waar nie. Ek moes dit self doen en ek kan vir jou sê dit is moontlik om jou familie in jou lewe te behou maar jou terselfdertyd los te maak van hul skuldgevoelens.
Die ewige bevreesde - Daar is mense wat eenvoudig te bang is om te waag. Hulle bekyk die lewe deur ʼn lens van vrees en het nie die basiese geloof dat dinge ten beste sal uitwerk nie.
Dit is presies die teenoorgestelde soort energie as wat jy as ʼn entrepreneur nodig het, veral as jy pas begin het.
Soos die personeelonwikkelingslegende Bob Proctor gesê het: “As jy dit in jou kop sien, sal jy dit in jou hand vashou.” Vermy bang mense met beperkende beskouings en reik liewer uit na jou visioene van sukses.
Verhoudings dra krag skryf Trienie Mahne in ‘n artikel op Litnet 21 / 11 / 2013
... krag om goed te doen of krag om kwaad te doen.
Sommige verhoudinge bestaan uit mense met toksiese gedrag. Hierdie mense kan die lewe wat God vir ons geskep het, vernietig. Maar hoe moet ek teenoor hierdie mense optree. Want my gedrag teenoor toksiese mense moet die vermoë dra om positiewe insette te lewer en die toksiese mens se begeerte na verandering, aan te spreek.
Maak seker dat toksiese mense en hul gedrag nie ‘n ‘houvas’ op jou kry nie. Dis veiliger om nie saam kritiese mense te eet wat voorgee dat hulle gelowiges is terwyl hulle optrede dit weerspreek nie. Die oorkoepelende boodskap van die Skrif is dit: Jou liefde moet innig wees – en wees versigtig.
Spreuke 13:20 stel dit so: “Wie met wyse omgaan, kry self wysheid; wie hom met dwase ophou, word self sleg.” Ek wil selfs verder gaan en dit op hierdie forum so stel: “Wees versigtig watter artikels jy lees, sommige het die krag tot opbouing en wysheid; wie egter dinge geniet en lees wat slegte woorde bevat, word self sleg.”
Ekself kan kies of die water wat ek drink suiwerheid bevat om my siel en liggaam te genees, en of dit die slik dra wat in toksiese modderwater aangetref word.
As dit by toksiese kontakte kom, moet ek weet hoe om dit te hanteer. Ek trek die grens en maak die einde daaraan. Om hulle te oorheers en dwing tot verandering, sal nie werk nie. Die beste verdediging teen die kwaad van toksiteit is om soos Dawid te wees en ‘n duidelike stel waardes te hê wat jy teenoor almal uitleef.
Daar is dan net een van drie dinge wat kan gebeur:
1. Die mense wat goed is vir jou sal jou waardes respekteer, en jy sal goeie verhoudings met hulle geniet.
2. Aangesien jy ‘n liefdevolle standpunt teen toksiteit inneem, sal jy moontlik die kwaad teenwerk en positief beïnvloed om hulle gedrag te verander, en dan sal jy goeie verhoudings met hulle geniet.
3. Sommige toksiese mense sal in ontkenning bly en selfs van die lig wat jy uitstraal, wegbeweeg. Verhoudings met daardie mense beëindig self.
Ekself stap swaar weg van verhoudings. Maar as iemand jou teleurstel of seermaak, moet ons met die probleem afreken. Jesus hou vir ons die model voor hoe om hierdie verhoudingsprobleme te hanteer: “As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. Selfs as hy sewe maal op ‘n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou terugkom en sê” “Ek is jammer”, moet jy hom vergewe” (Luk 17:3-4)
Niemand van ons is perfek nie. Ekself struikel daagliks, maar deur reg op te tree en jou gesindheid Jesus-vlerke te gee, verlos jy eintlik net jouself.
Trienie Mahne


My droom vir Diamant Divas. Dit is my hartsbegeerte om Diva huis te begin. Hoe meer ek met vrouens te doen kry wat hul eie stryd stry hoe groter groei die begeerte. Ek sien ‘n plek waar heen ‘n vrou kan gaan om genesing te ontvang. Mense wat bereid is om haar aan die hand te vat en weer haar te help skitter. Met ‘n inwonende pastorale sielkundige tot hul beskikking of selfs ‘n lewensgids. Daar moet bekostigbare regshulp tot hul beskikking wees, asook finansiele bystand om die vrouens toe te rus vir die werkersmark. Hulp vir hul kinders indien hulle het; skole ens. Dit moet ook ‘n veilige hawe wees en daar moet defnitief ‘n sekuriteitswag diens doen. Sy moet leer van selfverdediging, die binnewerke van ‘n kar, basiese elektriese vaardighede en dan moet daar vir haar gehelp word met werk. Miskien selfs blyplek, soos deposito en eerste maand huur, vervoer ens. Die behoefte lys is geweldig lank maar wanneer ons kan begin om vrouens weer hul menswaardigheid terug te gee het ons al ‘n groot behoefte vervul. Die bekommernis van waarheen en hoe nou verminder en hulle ontvang weer hoop vir die toekoms. Hierdie tye is vir ‘n vrou baie onseker en omdat ek self daar was verstaan ek die vrese en frustrasies van hierdie tydperk, die te korte en die vrae. Diva huis moet daardie beskerming bied en die wegspringblok wees en meer.
Om saam te vat:
Toksiese verhoudings is glad nie goed vir jou nie. Dit breek jou af en om jouself dan weer op te bou vat baie tyd waarin jy swak gewoontes moet afleer juis om te kon cope in hierdie tyd. Gun jouself die tyd om goed oor ‘n saak te dink. Moenie sommer net boots-en-all in klim sonder om die saak eers goed te bekyk nie. Wees paraat, vernaam as jy afhanklike kinders het. Hul welstand hang van jou af, as jy verkeerd besluit betaal hulle die prys daarvoor. Jou taak is om gebalanseerde kinders groot te maak en in die wêreld te stuur. Jy wil hulle die beste moontlike geleenthede gee en indien hulle met seer sukkel is hulle klaar agter en moet juis soveel harder werk om bo uit te kom. Net soos jy as diamant moet skitter moet jou kinders ook daardie geleentheid kry, en hulle kan dit net kry wanneer jy die regte besluite neem.
Lorinda Maritz het op FB die volgende plasing gedoen
As jy nie met liefde en respek behandel word nie, kyk dan na jou pryskaartjie. Miskien het jy jouself afgemerk. Dit is JY wat mense vertel wat jy werd is deur die dinge wat jy aanvaar. Klim af van die uitverkoping rak en klim in die glaskas waar hulle die waardevolle artikels hou!Kortom: waardeer jouself meer! As jy dit nie doen nie, sal niemand anders nie! ~ Onbekend



Die Stasie Vir Passievolle Mense
Lynelle Clark: Diamant Divas Potgooie / Diamant Divas F groep
https://www.elanglobalradio.com/diamant-divas
Die program vir die enkellopende waarin ons saam gesels oor al die slagysters, vrae, vrese en vreugdes van die enkel lopende.
WOENSDAG at 10h00 SA Time
GESELS MET ONS:
Faceboek: Elan Global Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580
Gaan kuier en leer meer van ons, blogg saam en luister saam:
SKAKEL IN:
SIMPLE RADIO App.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...