“Wat maak jy?” vra
Melandi met ‘n defnitiewe toon van frustrasie. Vandat Pieter dit in sy kop
gekry het om terug in tyd te gaan sien sy hom bitter min. Hy is alewig besig
met iets in die werkswinkel. Wanneer sy vra dan sê hy net: ‘Jy sal sien.’
“Amper klaar dan kom
ek.” Hy is so verdiep in sy werk en kyk nie eers op waar sy in die deur staan
nie. Twee jaar gelede het hulle die huis gekoop in die platteland juis om weg
te kom van die alledaagse dinge wat hul tyd in beslag geneem het. Die ink was
nog nie eers behoorlik droog op die kontrak nie toe rig Pieter die ou stoor in
as werkswinkel. Van daar af sien sy hom per geleentheid en leef hulle eintlik
in twee wêrelde. Sy probeer verstaan en ondersteun waar nodig maar dit raak
darem nou baie erg. En sy is lus om uit te kom, iets te doen voordat die vier
mure haar gaan verswelg.
“Ek gaan sommer kos by
die Griek bestel. Waarvoor is jy lus?” maar sy kon net sowel met die masjiene gepraat
het, diè wys meer reaksie as haar man.
“Vyf minute dan is ek daar,”
Melandi sug, om ‘n gesprek met Pieter te voer is net so goed sy praat met
haarself. Met ‘n laaste blik na die rekenaar gedoente en flitsende rooi ligte
draai sy om en verdwyn die huis in. Die stoel met leerbande vertel sy eie
storie, sy het al gevra maar kry net ‘n afwesige kyk.
Die staanhorlosie slaan
hoeka al 7 uur in die eetkamer. Dit gaan weer ‘n aand van alleen wees, boek
lees of miskien moet sy bietjie aan daardie storie werk wat sy begin het vir
die skrywers groep. Sy het in elk geval niks anders om te doen nie.
“Micos, I am
wonderful, thanks for asking. How is the family?”
“Wonderful to hear,
greetings to Mamma Rosa. I like to place an order for two please.”
“Yes the usual, thanks
Micos.”
“Yes, takeaways, can
you deliver?”
Glas in die hand
verdwyn sy verby die muurhorlosie na haar eie werkshoekie wat deel uit maak van
die groot plaaskombuis. Die vertrek was die rede dat hulle die huis gekoop het
in die platteland. Met ‘n paar veranderinge in die huis het die plek ‘n veilige
hawe geword alhoewel sy dit deesdae eintlik maar alleen gebruik.
By haar tafel wys die
digitale horlosie dit is alreeds 7:30 en sy sug. Die ‘nou-daar’ iets van die
verlede en sy hoor hom mompel van uit die werkswinkel. Die hele plek is so opgestel
dat hulle by mekaar kan wees maar terselfdertyd hul eie plek het. In die begin
was dit wonderlik om so by mekaar te wees, maar soos tyd aangestap het, het sy
die werkswinkel vermy. Dan hoor sy Pieter swets iets allerverskrikliks en draf
na die plek langsaan.
“Wat gaan aan?”
“Ek kom nou, gee my
net ‘n paar oomblikke.” Kom die bars antwoord. Teensinnig draai sy om en
beantwoord dan die interkom en druk die knoppie vir die afleweringsman. Die geure
kielie haar hongerpyne en sy sit die pakkie op die groot ou kombuistafel neer.
“Kom jy? Die kos gaan
koud word.”
“Moet tog nie so
karring nie, ek kom nou.”
Met ‘n glas rooiwyn
gaan sit Melandi by die gedekte tafel. Pieter se plek leeg en sy skep van die
heerlike bredie waarvoor Micos so gewild, in.
Die mikrogolfoond se
digitale horlosie wys dit is alreeds 8:16 en haar man is nog steeds besig. Ten einde
laaste maak sy die kombuis aan die kant sit sy bord kos in die mikrogolfoond en
stap doelgerig na die deur wat die werkswinkel en kombuis skei.
“Ek gaan maar inkruip
en ‘n fliek kyk,” praat sy met die rug wat nou gebukkend oor die masjien staan.
Die rooi ligte het nou verander na groen en flikker soos Kersliggies vir haar. Geen
antwoord kom vanuit die baas van die masjien nie en sy sug verwese.
Die ding met tyd is alles
oorheersend vir haar man. Hulle maak al horlosies bymekaar vandat hulle getroud
is; dit is nou al 32 jaar. Haar huis is gevul met die ritmiese klanke van
horlosies se konstante tik-tok. Baie dae hoor sy dit nie eers meer nie. Vriende
en familie het al gekla en gesê dit is darem te erg, en sy het hom altyd
ondersteun maar Pieter vat sy stokperdjie darem nou te ver. Vandat hy ‘n
artikel gelees het in die Reader’s Digest is hy oortuig dat hy terug wil gaan
in tyd. Om wat daar te maak het sy al menigmaal gevra; sy antwoord was net
altyd dieselfde. Dit sal interessant wees. Maar sy dink daar skuil iets anders
daar agter. Die hele beheptheid het begin ‘n jaar na hul enigste kind, Heinie
dood is. Hulle was net 12 jaar met hom gegun, twaalf wonderlike jare gevul met
lag en speel en lekker vakansies. Vandat hy weg is het die huis stil geword en
die vakansies al hoe minder. Lag is nou net iets wat sy hoor op TV of tydens
vriende- en familiekuiers.
Pieter is oortuig hy
kan tyd terug rol en so weer vir Heinie sien. Sy verstaan sy verlange na sy
enigste kind is by tye onuithoudbaar, sy mis hom immers ook, maar om te glo dat
hy hom weer sal sien is rerig net ‘n bietjie dik vir ‘n daalder. Hoekom Pieter
so aandring daarop verstaan sy nie. In die begin was sy bedkassie en die kombuistafel
besaai met notaboeke, gevul met diagramme en wiskundige berekeninge. Sy het dit
so aanvaar en hom ondersteun. Wanneer mense kom kuier het praat hy oor terug rollende
tyd asof dit die natuurlikste ding onder die son is. Uit beleefdheid het die
mense geluister maar agterna het hulle gedink hy het sy varkies verloor. Sy het
probeer verduidelik maar naderhand opgehou.
In die bed trek sy
haar skootrekenaar nader, die nuutgevulde glas wyn op die bedkassie en begin ‘n
paar gedagtes neer te tik op die geopende Word dokument. Die horlosie in die
regterhoek van die skootrekenaar wys dit is amper 10:30, toe die kamer ‘n kwaai
ruk gee. Fronsend staan sy op, trek haar pantoffels en kamerjas aan en draf die
gang af verby die Oupa klok wat sy tyd uit beier in ‘n diep stem; ‘n erfstuk
van haar oupa aan moederskant. Verby die musikale horlosie wat hulle nog in België gekoop het, die laaste
vakansie saam met Heinie. Heinie was so beïindruk met die vakmanskap dat Pieter dit
onmiddelik gekoop het. Hul bankbalans was goed in die moeilikheid daarna maar
Pieter was oortuig hulle moet Heinie ondersteun. Die groot hoender horlosie wys
dit is net na half elf toe sy deur die kombuis sweef met vinnige passies, haar
hart in beklemming toe sy die mistigheid onder die deur van die toe werkswinkel
sien.
“Wat op aarde gaan aan
Pieter?” roep sy benoud uit terwyl sy die deur oop maak. Die leë vertrek lyk spookagtige in
die nag stilte en verdwaas skakel sy die hoofligte aan. Melanie knip haar oë ‘n paar maal en stap dan
teen die drie trappe af en staan op die, nou verlate sement vloer. Daar waar
haar man gestaan en peuter het aan die masjien ure gelede lê nou net ‘n elektriese draad
gehul in warrelende mis. Die skerp lig waarmee hy gewerk het, omgeval en skyn
nou vir die rakke.
“Pieter!” roep sy
benoud “Waar is jy?”
Dan val ‘n voorwerp op
haar skouer en land op die vloer. Dit weergalm deur die leë vertrek en sy tel dit
vinnig op. Met ‘n verdwaasde uitdrukking staar sy na die klein horlosie in haar
palm. Sy onthou die horlosie. Dit was ‘n verjaarsdag geskenk van sy ouers toe
hy sestien geword het. Die datum wys 16 September 1996 teen die wit agtergrond,
drie dae voordat hul seun weg is op 19 September 1996. Verstom gaan sit sy plat
op die yskoue vloer.
“Pieter?” en kyk weer om
haar, ‘n geritsel laat haar opkyk en ‘n papiertjie kom al warrelend af na haar
en vang dit sonder moeite. Die woorde laat ‘n benoudheid in haar opvlam en sy
lag terwyl trane teen haar wang afrol.
“Heinie stuur groete,
ek is nou-nou terug.”
©Lynelle Clark2019
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking