Wys tans plasings met die etiket Onderhoud. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Onderhoud. Wys alle plasings

Donderdag 02 November 2023

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.


Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer. 

Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke voor die bestemde tyd. Weens die vroeë geboorte, lê ek vir weke in ’n broeikas en skraap kragte bymekaar om huis toe te kan gaan na sy ma se oorvloedige melk. My ouers noem my Fanie en my tweelingbroer Manie. Ons jeugjare was redelik sorgvry. Daar was ’n groot agterplaas in Kemptonpark om in te speel, en op straat is daar fiets gery en vlieërs die lug ingestuur. In ons pa se studeerkamer was ’n massiewe boekrak met onder meer  boeke van Heinz Konsalik en Langenhoven.

Ná skool en weermag het ek ’n BSc-graad verwerf. ’n Loopbaan van amper 20 jaar in die rekenaarbedryf het gevolg, en toe het ek oorgeskakel na die gedrukte media om ’n taalversorger te word. 

Ek het reeds drie romans geskryf (Kontrei, Werfsonde en Hierdie huis), en twee digbundels (Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels, en Erf en elders). Die romans kan hier en daar nog in boekwinkels raakgeloop word. Die twee digbundels kan op die uitgewer Naledi se webwerf bestel word (gratis aflewering oral in Suid-Afrika!): www.naledi.co.za

 

Ek woon reeds 33 jaar lank in Yeoville, Johannesburg.


 

 

1.   Wat maak jou trots om 'n skrywer/digter te wees?

    Ek sou nie sê ek is juis trots daarop nie, net so min as wat die son trots is dat hy in die ooste opkom. Dis maar bloot iets wat onafwendbaar deel van my is. My mond gesels en my vingers skryf.

2.   Wat of wie het jou geïnspireer om 'n skrywer/digter te word?

     Ek het begin agterkom ek het ’n groter aanvoeling vir woorde as vir rekenaarprogramme. Ook het ek die poësie van onder andere Breyten Breytenbach en Johan van Wyk ontdek, en vir Koos Kombuis bevriend. In die 80’s en 90’s skryf ek en Koos honderde briewe aan mekaar, outydse briewe met ’n seël op die koevert. Later vra Koos my om by te dra tot sy little magazine Ons Klyntji. Omdat daar reeds ’n krieketspeler met die naam Fanie de Villiers was, het Koos voorgestel ek kry vir my ’n skryfnaam. Oor ek destyds spinasie en rissies in my agterplasie gekweek het en ook kort van postuur is, spring die naam Kleinboer toe uit my brein uit.

3.   Wanneer het dit vir jou ‘n doel geword om gepubliseer te word?

    In die laat 90’s het ek besef ek het genoeg materiaal op my rekenaar opgebou wat tot ’n roman verwerk kon word.

4.   Het jou omgewing of opvoeding 'n groot rol in jou skryfwerk gespeel, en het jy dit tot jou voordeel gebruik?

     My ouers was beide onderwysers en het ons aangemoedig om baie te lees. Veral tydens skoolvakansies het ek en my tweelingbroer vreeslik baie gelees. Ons ma het gesê: “Julle hardloop ’n voetpaadjie biblioteek toe en terug.”
Later, toe ek ’n Tuksstudent was en nog by my ouers in Monumentpark, Pretoria, gewoon het, is ons sewejarige basterbrakkie, Fonnie, een Sondagmiddag deur ’n kar doodgetrap toe sy saam met my na die kafee geloop het. Haar laaste piepie was nog warm op haar maag terwyl ek haar huilend huis toe gedra het. Ons het haar in die erf begrawe. Dit was hartverskeurend, en ’n traumatiese episode wat bygedra dat ek ’n dagboek begin hou het.

5.   Titels is vir sommige skrywers ‘n nagmerrie, hoe kom jy op met ‘n titel vir  die manuskrip en is dit in die begin van die proses of nadat jy klaar geskryf het?

    Dis vir my ’n nagmerrie en kom na my eers nadat ek klaar geskryf het. Die titel van my eerste boek, Kontrei, is deur Koos Kombuis voorgestel, maar die res het ek self opgemaak.

6.   Stel asseblief jou digkuns genre bekend en hoekom jy verkies om in daardie genre te skryf?

    Ek skryf in die vorm van ’n parlando, oftewel praatvers. Dis beïnvloed deur my vroeëre hou van ’n dagboek, briefskrywery, en my romans.

7.   Wat was jou mees lonende ervaring met jou skryfproses?

    My roman Kontrei is in 2004 met die Jan Rabie-Rapportprys bekroon. Dit het gepaard gegaan met handige prysgeld, en dis ook my boek waarvan die meeste verkoop is, sowat 2 500 eksemplare.

8.   Het jy 'n negatiewe ervaring in jou skryfloopbaan gehad? Indien wel, verduidelik asseblief hoe dit vermy kon word?

    Tussen my eerste en tweede boeke se publikasie het nege jaar verloop. Dis te lank. Hoe dit vermy kon word? Ek kon seker minder in kroeë rondgelê het, alhoewel ek daar tog ook ’n paar idees vir toekomstige skryfwerk opgetel het.

9.   Watter positiewe raad sal jy aan ander skrywers/digters kan gee?

    Lees baie, sodat jy bekend kan wees met wat reeds in Afrikaans verskyn het. Moenie net digters uit vorige tydvakke lees nie, maar ondersoek ook meer moderne skrywers se werk. En wanneer jy skryf, vermy soetsappigheid en die oormatige opstapeling van “geleerde” woorde.

10.    Wie is jou gunsteling skrywer of digter?

Breyten Breytenbach.

Lys asseblief al jou webwerfskakels:

Facebook is die enigste sosiale medium waar ek betrokke is. Ek is daar onder my naam Fanie de Villiers. My twee digbundels kan by www.naledi.co.za bestel word. Van my bundel wat in Julie 2023 verskyn het, Erf en elders, het daar reeds ’n paar resensies verskyn. Google “Kleinboer, Erf en elders” om die resensies op te spoor.

My gepubliseerde boeke:

Kontrei (2003). Deesdae moeilik bekombaar, maar wel soms in tweedehandse boekwinkels, en op webwerwe soos Amazon.

Werfsonde (2012). Soms nog in ’n boekwinkel te sien – gryp hom as jy kan! En in sommige biblioteke.

Hierdie huis (2017). Soms nog in ’n boekwinkel te sien, en in sommige biblioteke.

Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels (2020). Nog in sommige winkels beskikbaar, en ook aanlyn vanaf Naledi Uitgewer (hulle aflewering is gratis). Skakel na hulle webwerf: naledi.co.za

Erf en elders (2023). Beskikbaar in winkels soos Exclusive Books, en ook aanlyn vanaf Naledi Uitgewer (hulle aflewering is gratis). Skakel na hulle webwerf: naledi.co.za.

Persoonlike vrae:

1.   Wat is jou gunsteling kleur?

Hemelsblou.

2.   Verkies jy 'n soet of sout eet dingetjie?

Ek neig meer na sout, maar ná elke Saterdag se braai deel ek ’n stuk sjokolade met my gesin.

3.   Watter tyd van die dag verkies jy om te skryf?

Oggend. En verkieslik voor dagbreek, met koffie.

4.   Gunsteling musiek of liedjie?

Die liedjie “City of Tiny Lites” van Frank Zappa.

5.   Hoe hanteer jy skrywersblok?

Ek gaan deur my chaotiese ou notas en probeer iets daaruit distilleer.

6.   Wat is volgende op jou To Do-lys?

Ek en my vrou berei voor om binnekort Mauritius toe te gaan. Sy was nog nooit oorsee of in ’n vliegtuig nie! Ek sal haar hand styf vashou op die aanloopbaan voor ons opstyg.

7.   Waarheen gaan jy graag met vakansie?

Die see. Maar ek kom te selde daar, skaars een keer elke drie jaar.

 


  

Woensdag 12 Junie 2019

Diamant Divas - Vandag gesels ons met Alta van Zyl, Deel 1

Skakel gerus in en luister na hierdie merkwaardige vrou wat die ware betekenis van "skitter net waar jy is" verstaan. 
Raak betrokke en verlig so die las van ander. 

HOPE ANOINTED MINISTRIES...!!!
Wat doen ons?
1. Ons voorsien en help die behoeftiges.
2. Verslaafdes! 
3. Wat mishandel word.
4. Enige trauma.
5. Bejaardes.
6. Kinders.

Ons gee HOOP waar WANHOOP heers.
Dit is my eie bediening en bestaan al meer as tien jaar. Die bediening het al baie mense met erge verslawing gehelp en ook baie mense wat behoeftig is. Die visie en missie van die bediening is om mense weer hul trots terug te gee! Ons gee nie net goed en deel met 'n Vrye hand uit nie - NEE, ons help mense om hul waardigheid terug te vind en weer in die samelewing waaruit hul ontrek, ook wanneer hul genesing en vrymaking gevind het 'n verskil te gaan maak.
DAAR IS VIR MY NIKS MOOIER AS DIE MENSE SE DOWWE OË WEER SOOS DIAMANTE SKITTER NIE!!!
Wie befonds ons?
1. NIEMAND NIE!!
Alle fondse kom uit my eie finansies of soms as iemand iets skenk (sonder dat ons vra).
My finansies?
1. Kom alleenlik uit my boek verkope of as iemand in my lewe weer saai en gee.
NOU... in ons eie dorp is daar ongelooflike groot behoeftes, soveel so dat mens nie by almal kan uitkom of kan help nie. Daarom doen ek 'n beroep op elkeen om twee keer te kyk na die persoon op straat en te help as jy kan want 90% van hulle is daar a.g.v omstandighede buite hul beheer...!!!
JY mag vir my sê...
1. Nee, dit is 'n keuse. Ek sê: Daaroor kan ons lank debateer!
Al my boeke word ook gepubliseer deur my bediening: Hope Anointed Ministries en ook al die boeke wat ek vir ander skrywers publiseer!
Ek het nou besluit dat ek 'n digbundel wil maak en nooi alle skrywers uit om deel te neem aan die skryf van die digbundel wat dan net sal verkoop word vir fondse vir my en ander bedienings om die mense in nood te help.
My hart is dat ons fondse daarmee kan kry om mense te help wat vasgevang is in verslawing!!! Dit is ongelooflike baie geld om hul te help en ons mense sterf op straat a.g.v dwelms!
Ook om ons bejaardes te help want hul pensioen is BITTER, BITTER MIN!!!!
Dan baie belangrik die kinders! Kinders is die toekoms en daar is baie wat verskriklik erg swaarkry!
Indien jy as skrywer graag gedigte wil skryf vir die digbundel kan jy my gerus kontak. Elke digter wat skryf moet ook help om die digbundel (waarop aangebring sal word dat dit vir liefdadigheid is), help bemark en verkoop.
Elke sent sal bewys gelewer van word hoe dit gebruik is vir liefdadigheid.
Baie dankie. Kan my gerus ook kontak as julle betrokke wil raak met my bediening of enige iets sou wou skenk.
💕 Hope 💕.v



Alta se boeke is beskikbaar op Facebook. 
Kontak haar op haar blad

Koop jou boek nou. Dit is 'n baie unieke geskenk vir iemand spesiaal. 
Die boeke is nie maar net 'n boek nie... Dit gaan jou neem op 'n wonderlike reis! 

Kontak nommer 083 294 0171. 



ELAN GLOBAL RADIO
Die Stasie Vir Passievolle Mense
https://www.elanglobalradio.com/
Skakel gerus in op ELAN GLOBAL RADIO, vir musiek en eredienste. Ons het 'n vol program vir elke luisteraar.
Die Stasie Vir Passievolle Mense
GESELS MET ONS:
Faceboek: Elan Global Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
Pinterest: https://za.pinterest.com/elan_global_radio/
WhatsApp: 066 305 3580
Gaan kuier en leer meer van ons, blogg saam en luister saam:
https://www.elanglobalradio.com/
SKAKEL IN:
SIMPLE RADIO App.
http://14123.live.streamtheworld.com/SAM04AAC125_SC
http://listen.samcloud.com/w/90758/EGR/?play=y#history
http://www.liveonlineradio.net/south-…/elan-global-radio.htm
http://radio.garden/live/centurion/elanglobal-radio/






Vrydag 24 November 2017

Naaswenner van die Eiebundel kompetisie: Melinda du Plessis: Metamorfose.

Baie geluk met die vrystelling van jou nuwe boek, Metamorfose

Baie mense weet nie altyd hoeveel tyd in ‘n boekvrystelling gaan nie en ek is seker jy kan boeke skryf net oor die proses. Jy is ook nou betrokke by SA Skrywers en was naas wenner van die SA Skrywers eie bundel kompetisie. Baie dankie dat jy tyd gemaak het vir hierdie onderhoud en ‘n kykie in jou lewe. Baie geluk met hierdie vrystelling. 




1. Hoe het die idee van die bundel ontstaan? 
Dit was totaal onbepland en onverwags. Ek was besig om aan die digbundel vir die eie bundel kompetisie te skryf toe ek n klompie 'writing prompts' na Afrikaans vertaal het. Die een vertaling was ''n uitgedopte hart'. Die prentjie wat ek gekry het was van hierdie meisie wat deur n galery gestap het waar elke kunswerk uitbeeld hoe hierdie kunstenares bespot en seergemaak is in die dorp omdat sy kreupel was en so meer. Almal het gedink sy is n boemelaar. Toe ek die gedig begin skryf het die storie duideliker en duideliker geword en ek het besluit dit sal eerder een van die kortverhale in die eie bundel kompetisie wees. Ek het vir albei kompetisies ingeskryf. Een storie word toe twee en die word toe vyftien stories wat strek oor tien jaar in die meisie se lewe. Soos ek sê, totaal onbepland.
2. Ek hou van die titel van die boek wat het jou laat dink daaraan?
My naam vir die boek was Die legkaart van Anna se lewe... maar toe dit by die drukproses kom het hulle gesê die titel moet verkieslik nie langer as vier woorde wees nie... Ek en vriende het gewonder en met seker twintig titels gesit. Een van my bejaarde Voete Bederf kliënte het gevra waaroor die boek gaan en sy het met Metamorfose vorendag gekom. Dit beskryf die boek uitstekend in een woord.
3. Mense besef nie altyd hoeveel tyd of selfs van jou eie ondervinding gaan in so ‘n boek nie. Is daar ‘n spesifieke staaltjie wat jy ons kan vertel wat die boek lewendig gemaak het?
Jong, hierdie hele jaar is 'n staaltjie wat skryf aan betref. Ek het maar êrens in die begin van die jaar my eerste kortverhaal geskryf vir 'n uitdaging op SA Skrywers en toe geskok in trane gesit toe ek dit wen... die eerste storie in Metamorfose was my tweede kortverhaal. Daar was geen beplanning nie, ek het net geskryf wat ek voor my gesien gebeur het, en simpel maar waar my oë uitgehuil en geskater van die lag saam met die karakters. Met die laaste storie was ek 'n hele dag tranerig voor ek dit geskryf kon kry. 
4. Hoe lank het die skryfproses gevat?
'n Maand in die nagte tussen 22h00 en 2h00 en oor naweke soos ek tyd gehad het.
5. Jy was die naaswenner van die SA Skrywers bundel kompetisie, hoe het dit jou laat voel toe jy die aankondiging hoor?
Ek was die naaswenner ja... dit voel steeds onwerklik al sit ek met die boek in my hand met my naam daarop. Ek was uit die oggend en toe ek by my foon kom sien ek my vriendin het my al n paar maal gesoek, sy het toe op die facebook blad gesien dat ek een van die wenners was. Ek het in trane uitgebars dat die water spat. Ek het so 'n dankbare hart, het nooit gedink God gaan my my droom so vinnig gee nie.
6. Het jy jou familie en vriende se volle ondersteuning of weet hulle niks?
My suster is my grootste ondersteuner, sy is glad nie n leser nie maar het elke storie getrou gelees soos hul gevorm het en pittige terugvoer gegee. Ek dink die res van my familie kan saam met my nie glo dat dit werklik gebeur nie. My vriende is engele om my.
7. Waar het skryf vir jou begin?
Hierdie jaar, 2017. Ek het vroeg in die jaar vir die Here gevra wat my groot uitdaging vir die jaar is... vandat ek 40 is het ek besluit om groot goed - vir my - aan te pak wat ek nog altyd gedink het ek nooit sal kan doen nie. 2014 was Kilimanjaro, 2016 die 800km Camino in Spanje. 
My aksiewoord hierdie jaar was skryf. In mý kop was dit om te dig... vanaf 2008 het ek n paar gedigte geskryf. Ek het dus by n digslypskool aangesluit en myself daarin ontwikkel. Twee van my gedigte is toe opgeneem in Hartswoorde, SA Digters se eerste digbundel wat in Julie bekendgestel is. Intussen het ek my eerste kortverhaal geskryf en die uitdaging daarmee gewen. Ek lees toe raak dat daar n groot kompetisie gehou gaan word op beide die dig en skryf blaaie. Ek kom toe in as een van die twintig mense op beide. Totaal mal ek weet... maar ek het besluit om deur te druk. Ek word moeg as ek terug dink daaraan. Ek het Julie geneem om my digbundel te skryf - ek het net 24 van die 76 reeds gehad; en Augustus om Metamorfose se vyftien stories te skryf.
8. Wat is die mooiste terugvoer wat jy al ontvang het?
My Sus, Ritha Lubbe,  se terugvoer, sy is eerlik en reguit en pittig. Dit beteken baie dat sy dit lees al hou sy niks van lees nie... ook dat sy saam lag en huil. Maar natuurlik is dit lekker om van mense wat ek nie ken nie te hoor dat hul my stories geniet en daarmee kan identifiseer. Een dame het gesê sy het agt ure geneem om te herstel na sy Metamorfose gelees het en nou wil sy dit weer lees.
9. Daar is tye wat ‘n mens twyfel oor jou eie skryf vermoë, daar is ook tye wat kritiek jou teen die aarde kan gooi en jy dink nee wat ek sien nie kans hiervoor nie. Watter raad het jou tweemaal laat dink oor jou skryfloopbaan? 
Griet, ek het nog nie n loopbaan nie. Al raad wat ek kan gee is om eerlik uit jou hart te skryf, wees eg sodat jou leser kan identifiseer. Fantasie is een ding en het sy plek, maar die boeke wat al jare op my rak staan en wat ek weer en weer lees is die wat my hart diepgeraak het, waaruit ek iets geleer het, wat my laat dink het.
10. Wat is jou raad vir aspirant skrywers?
Sjoe, dis n moeilike vraag want daar is baie antwoorde vir ons - ja ek is steeds een - op daardie vraag. My antwoord: Gaan sit by jou Skepper se voete en vra Hom wat Hy wil hê jy moet skryf, wie is jy as skrywer, wat wil jy sê? Wees getrou aan wie jy is. Sit jou boude op die stoel en begin haha!!! Dit was die absoluut moeilikste vir my!
11. Wat sal jy nog als wil skryf en wat is in die pyplyn?
As ek eerlik moet wees kan ek jou nie antwoord nie, my lewe is baie besig en ek weet nie wat God met hierdie skryfding wil doen nie. Ek los dit by Hom om my vry te maak om die tyd te hê om Sy stories in my uit te skryf. Ek het by die sewe maande SA Skrywers slypskool aangesluit en ons moet n 55000 woorde roman skryf in daardie tyd. Gedagtes begin woel in my rondom die storie. Ons, ek inkluis, sal moet wag en kyk wat gebeur. 
My digbundel, Woordsketse, behoort volgende week gedruk te wees - alhoewel ek nie met hom gewen het nie, het ek besluit om hom tog te laat druk. Dis n groot stuk van my ek-wees en die pad wat ek tot hier gestap het, wat op papier in n paar woorde vasgevang is.
12. Wat staan jou die meeste aan in skryf?


Om die karakters te leer ken, hul emosies te ervaar en saam met hulle te lag en huil.
13. Wie is jou gunsteling skrywer en hoekom?
     
Sjoe, ek lees wyd, maar meestal fiksie. Ek het nie net een gunsteling skrywer nie. Ek lief Wilna Adriaanse,  Annelie Botes, Dee Henderson, Sophia Kapp, Jodi Picoult, Karen Kingsbury, Nicolas Sparks, Lee Child, Irma Joubert, Frank Peretti, Marzanne Le Roux Van Der Boon... hulle karakters word familie, praat met my hart, leer my van die lewe.
14. Waar het jy geleer oor skryf?
In boeke, deur te lees lees lees


Persoonlike vragies:

15.  Het jy enige ander belangstelling behalwe skryf?
       Lees, stap, reis, mense se stories fassineer my
16. Is jy ‘n soettand?
      Beslis daarom sal ek nooit dun wees nie hahaha.

17. Gunsteling gereg?

      Mieliepap met tamatiesmoor en braaivleis
18. Reis jy graag en waarheen?
Ek lief reis en was bevoorreg om al redelik baie te kon sien. Ek hou van Europa en Afrika... enige plek waar daar genoeg natuur ook is om weg te breek, bv. die parke in Londen was my gunsteling deel van die stad. Ek geniet dit om net te sit en luister en kyk na ander se lewens wat om my vloei.


19. Hoe kan mense jou kontak vir hul eie kopie van jou boek? melindaduplessis18@gmail.com is die gerieflikste.
Baie dankie vir die geleentheid!

Metamorfose – Resensie


Dit was met groot opgewondenheid en afwagting waarmee ek die eerste kopie van Metamorfose ontvang het om te lees. Van die voorblad tot die laaste sin was ek vasgevang en kon die boek nie neersit totdat ek dit deurgelees het nie.
Metamorfose handel oor die lewe van die hoofkarakter, Anna, wat op 27-jarige ouderdom weer terugkeer na haar grootword dorp. Sy is swanger en sonder werk of woonplek. Hier moet sy vir haar en haar ongebore kind ‘n holte vir haar voet vind en ‘n lewe begin met weinig wat in haar guns tel. Boonop word sy konstant met haar verlede gekonfronteer en raak dit elke keer ‘n rou senuwee aan sodat sy amper haar en haar baba se lewe verloor. Maar Anna oorleef en laat haar nie onderkry deur die moeilikste omstandighede nie en is allermins ‘n slagoffer, al kon sy maklik daardie roete neem en haarself bejammer. In die proses ontdek sy wie sy eintlik is, letterlik en figuurlik. Wie haar biologiese ma is en nog vele meer wat verswyg was vir haar al die jare. Al is dit baie diep emosionele en traumatiese onthullings wip sy elke keer weer terug – sterker as tevore en stukkie vir stukkie word sy ‘n heel mens. En tussen dit alles deur behou sy nog die humor, wat dwarsdeur die boek loop soos ‘n goue draad. Soos wat sy heel raak begin sy ook ander se lewens verryk. Boonop is elke nuwe hoofstuk propvol nuwe verrassings. Die karakters se ontwikkeling en ontluiking vind deurgaans plaas en daar is letterlik nie een vervelige oomblik nie. 

Metamorfose is fiksie, maar geensins vlak nie, inteendeel dit spreek van eg medemenslike lewenservaring. Dit is beslis ‘n moet-lees-boek vir die komende vakansie asook ‘n goeie geskenk. Jy sal nie spyt wees nie!



Donderdag 07 September 2017

Onderhoud met Ilze Beukes: Skryfster van Ondersoek my hart


Onderhoud met Ilze

1.      Iets oor julle self: Waar het die passie vir skryf begin, en wat was jou eerste probeerslag?
Dit was ‘n droom sedert my hoërskooldae. Ek het ‘n gediggie vir ‘n waspoeier kompetisie ingestuur in graad 10 en ‘n prys gewen.

2.     Wie het jou geinspireer om te skryf? 
     My Afrikaanse onnie het gedink ek skryf goeie opstelle, dit het ‘n droom in  my wakker gemaak en ek wou hom graag glo.

3.   In die algemeen, hou jy daarvan om oor jou werk te praat? Indien nie, hoekom nie?
Praat graag daaroor, dis my passie. As ek eers begin, hou ek moeilik op.

4.   Enige boek in die vooruitsig en waaroor sal dit gaan?
Nog ‘n geheimpie, al wat ek kan sê is kyk uit vir ‘n nuwe liefdesverhaal voorlopig in Maart 2018.

5.    Hoe werk die skryf proses vir jou?
Ek soek eers prentjies van karakters wat inpas in my storie-idee. Ek bedink deeglik wie en wat elke karakter is en skryf dan ‘n geraamte van die storie. Ek doen navorsing oor die plek waar die storie gaan plaasvind ens. en wanneer ek genoeg inligting bymekaar gemaak het, spring ek weg.

6.    Waar het jy jou opleiding ontvang?
Ek het ‘n kinderboek skryfkursus en taalkursus deur Janie Oosthuisen geloop in 2011. In 2013 het ek ‘n ATKV skryfskool vir liefdesverhale by NWU bygewoon.

7.    Watter gedeelte van die skryfproses is vir jou die moeilikste?
Die middel van die storie. Dit is wanneer ek gewoonlik in die storie begin twyfel. Sodra ek daar verby is, gaan dit makliker.

8.    Kan jy aan opbouende kommentaar dink wat jou rerig bemoedig het vandat jy begin skryf het?
Daar was baie, maar na my eerste taak by Janie was haar woorde. “Jy gaan nog iets oulik regkry.”

9.    Skryf is ‘n baie persoonlike saak, hoeveel van jou eie ondervindinge word in die stories geweef?
In elke storie skryf ek iets van myself in. Ek dink nie enige skrywer kan anders nie.

10.   Wat is die beste/ of slegste deel van ‘n skrywer?
Ek raak so meegevoer wanneer ek besig is om te skryf, dan begin die skuldgevoel teenoor my gesin insluip.

11.   Enige advies vir aspirerende skrywers?
Glo in jou talent en moet nooit moed opgee nie.

12.   Wat is jou gunsteling genre om te lees en te skryf?
Liefdesverhale, maar ek het ook ‘n hartseer kant wat soms oorborrel in kortverhale.

13.   Gunsteling skrywer of boek?
Vaselientjie

14.   Het jy ‘n loopbaan gehad voor jy as skrywer ontwikkel het?
Ek werk steeds bedags by ‘n plaaslike laerskool. Die plan is om oor twee jaar see toe te trek en net te skryf.

15.   Wat het veroorsaak dat jy wel begin skryf het?
My twee oudste dogters was klaar gestudeer en skielik het ek meer tyd gehad. Toe het dit als begin.

16.   Enige stokperdjies behalwe skryf?
Lees. Krale-werk

17.   Is jy ‘n avonturier en hoe waaghalsig is jy?
Glad nie.

18.   Het jy jou familie se ondersteuning en wat dink hulle daarvan?
My familie ondersteun my ten volle. My man spog gereeld daaroor dat dit sy van is wat op die boeke gedruk is.



 Madelie Botma het sedert haar kinderjare ’n vrees vir hospitale. Toe dokter Ian Duvenhage by haar klas inbars om sy broerskind, Handré, te ondersoek, is dié juffrou dus lelik omgekrap. Dit blyk Handré bly by sy oom omdat daar probleme met sy ma se swangerskap is, en Madelie bied teësinnig hulp aan. Sal die aantreklike Ian haar help om haar vrese te oorwin? Daar’s immers ’n kankerpasiëntjie, Sanet, wat Madelie se bystand nodig het. Of sal die aantygings van Ian se ou liefde Madelie afskrik?
Te koop by 



Toe suster Wida Storm hoor dat dokter Eugene Maritz iemand benodig om sy bejaarde ma tuis te versorg, gryp sy die geleentheid aan. Sy wil lankal haar eie tuisverplegingpraktyk begin en dié werk sal haar die nodige ondervinding gee. 

Maar Wida kom gou agter dat als in dié familie nie pluis is nie toe sy saam met tannie Olga in Eugene se huis intrek om haar te versorg. Watse hartseer lê in Eugene se verlede? Waarom is daar ’n stremming op sy verhouding met sy ma? Hoekom skerm tannie Olga vir haar ander seun terwyl Eugene niks met sy broer te doen wil hê nie? 

Met die eerste oogopslag is Eugene stroef en afsydig, maar Wida besef toenemend dat dit ’n front is wat die aantreklike en gevoelvolle dokter voorhou – ’n verskansing teen die verraad en verlies wat hy beleef het. Sy is besig om haar hart onkeerbaar op hom te verloor, maar sal sy ooit die mure wat hy om hom gebou het, kan afbreek? Sal Eugene ooit weer ’n vrou in sy hart toelaat?

Te Koop By

Bio inligting:  
Ek bly in Kroonstad in die Vrystaat,is getroud en  het twee getroude dogters, een seun wat nog swot. Ek is ook 'n ouma vir vier woelwaters. Bedags werk ek by 'n plaaslike laerskool en saans verdwaal ek in 'n wêreld van storieskryf. 

Lesers kan met haar kontak maak op 

Kyk uit vir my resensie van Ondersoek my hart. 

Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...