Wys tans plasings met die etiket Melinda du Plessis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Melinda du Plessis. Wys alle plasings

Dinsdag 28 Augustus 2018

'n Kykie in Vrouwees. Gedigte deur bekroonde digters.


Augustus is amper op ‘n einde en ek het dit wys gedink om my program aan die vrou te wei. Heel moontlik het julle self al baie oor besondere vroue gelees en geluister in hierdie maand en voel hopelik geinspireerd deur dit wat julle gelees het. Vrouens is dinamies in eie reg en ons hoef vir niemand terug te staan nie. Nie net is ons moeders nie maar is ons ook versierders wat die lewe elkeen op haar eie wyse mooi maak. Die vrou is geskape met soveel potentiaal. 




Sy is uniek in elke opsig, kosbaar en waardevol. 
Die kroon van die skepping.
Sy is gevul met krag maar bly nogsteeds teer.
Sy is sterk maar kwesbaar.
Sy bring nuwe lewe in die wêreld en maak dit dan groot, met haar hele hart en siel.
Sy stuit vir niks nie, behalwe miskien vir ‘n spinnekop. Sy kan vanuit ‘n paar bestandele ‘n gereg maak geskik vir ‘n koning. Ongekompliseerd, vra sy vir liefde en gee dit in elk geval al ontvang sy niks. Lank nadat almal moeg is gaan sy nog aan. Wanneer sy in ‘n saak glo dan veg sy soos ‘n tier daarvoor.  Meëdoenloos en opreg.
Een van my skrywers vriendinne, Melinda du Plessis, het hierdie mooi gedig geskryf en ek lees dit met toestemming voor.


‘Jy Is’, Want ‘Ek Is’
Staan op, word verlig, want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op! (Jes. 60:1)
Dogter jy is gemaak om vervuld te wees…
Vervuld te wees met my: met my Gees, my genade, my vreugde,
My verdraagsaamheid, my vrede,
My getrouheid, my vriendelikheid,
My selfbeheersing, my welwillendheid,
My liefde.
Jy is gevorm om suksesvol te wees…
Suksesvol in my oë: wandelende op my pad
Tevrede in die wete dat jy my doel vir jou dag,
jou lewe gehoorsaam uitgevoer het
Los van die wêreldse gejaag na niks met ewigheidswaarde
Jy is uitgebeitel om vry te wees…
Vry in My Bloedoffer: groeiend in die kennis dat jou waarde lê in My Seun se bloed
Geen menslike tekortkoming wat jou potensiaal kan binne hou nie
Geen beperking vir ʼn prinses in My Koninkryk nie
Jy is geskilder om uniek mooi te wees…
Uniek mooi in My Skepping:
ʼn kunswerk sonder weerga in die besondersheid
waarmee Ek jou liggaam, siel en gees aanmekaar geweef het
My lig wat van binne na buite skyn en alles transformeer
Jy is beplan om giggelend gelukkig te wees…
Gelukkig in My: omdat jy My hart vir jou ken,
Omdat jou oë meer en meer oopgaan om My te sien in die oomblikke van eenvoud en prag in jou dag,
Omdat jy seker is van jou toekoms in My arms
Jy is uitgeknip om perfek in te pas…
in te pas in My plan:
gegrondves in die wete dat jy gevorm en toegerus is vir vandag vir jóú invloedsirkel, met jóú unieke voorkoms styl, talente en gawes vol selfvertroue in wie jy is in My
Jy is geskape om sonder moeite “JY” te wees… en dit is genoeg en sal altyd wees
Jy het bestaansreg
‘Jy is’, want ‘Ek is’
Kopiereg Melinda du Plessis


Vrouens is soveel, dat ons nie een vrou in ‘n boksie kan sit nie. Dit maak ons meer as uniek. Ons koppe werk anders maar op die ou einde, as iemand moeite doen sal hulle die mooi in die chaos sien.
Maandagoggend kyk ek na ‘n video clip van Lynette Beer, haar energie straal uit haar uit terwyl sy my opbou met ‘n kort boodskap. Vrouens is dinamies omdat ons dinge ervaar met ons hart en siel. Ons word baie keer deur ons emosies gelei, soms is ons reg en ander kere kry ons seer. Soos ‘n radar is ons ingestel op seer en leiding en kan ons maklik met sulke dinge oploop gaan tot ons eie ondergang. Dink byvoorbeeld aan die fliek van Sandra Bullock. Daarin speel sy ‘n vrou, wat gegrond is op ‘n ware verhaal, wat ‘n jongman op straat sien en hom inneem in haar huis. Sy baklei vir hom, gee hom kos, blyplek en op die ou einde bou sy in sy lewe in, net soos wat sy vir een van haar eie kinders sou doen en word hy deur die gemeenskap aanvaar as haar seun. Hierdie jongman floreer onder haar aandag, tel selfs probleme op maar saam kom hulle by ‘n punt uit waar hulle besef hoe nodig hulle mekaar het. Indien sy nie die eerste stap geneem het nie was daardie jongman heel moontlik dood en een van die kommerwekkende stastistieke. 

Vroue is onmisbaar in die samelewing. 
Kyk na Jenna Clifford met haar unieke juwele-skeppings, Lynette Beer, Karen Zoid, sy bly die grense skuif en bly nogsteeds eg vrou, Mimi Coertse – wie sal haar stem ooit vergeet. Anna Neethling Pohl het ‘n slag gehad met woorde, Ena Murray – ek kon weg raak in haar stories vir ure. 
Daleen Matthee se Kringe in die bos, Donnalee Roberts – ‘n sprankelende jongdame met die mooiste gawe, Andriette Norman wat ons dieper in die oseane vat. Juanita du Plessis met haar unieke treffers wat SA laat saam sing. Helen Zille - ystervrou, Helen Suzman - kampvegter, Anneline Kriel – nogsteeds net so mooi, 
Caster Semenya – wat die atletiek wêreld aan die gons het, Winnie Mandela, Natalie du Toit – selfs met haar gebrek het sy die hoogste sport bereik. En so hou die lys aan. Elkeen leiers op hul eie gebiede.

Ek hou maar by die Suid Afrikaanse vroue want die lys is selfs nog langer vir internationale vroue wat ‘n groot impak gemaak het of nogsteeds doen. Vroue wat uitgestaan het in politiek, wetenskap, mediese velde, bankwese ens. Of ons nou saamstem met hulle of nie bly hulle merkwaardig. Vroue soos lady Diana, Margaret Thatcher, Hillary Clinton, Ophra Winfrey, Charlize Theron. Julle kry die idee.

In 1953 het Katherine Johnson ’n geweldige groot rol gespeel by NASA. Sy was deel van die span wat die eerste man op die maan laat land het deur haar wiskundige kennis. Sy word geken as die vroulike computer. Kyk gerus na die fliek Hidden Figures, wat op haar lewe gegrond is.  In 2015 het sy die Presidential Medal of Freedom ontvang vir haar bydra.
Hier is nog ‘n gedig van een van my skrywers vriendinne, Anze Bezuidenhout. Ek wil net aan elke dame en man wat reageer het baie dankie se vir die voorreg om julle werke hier te mag voorlees. Mag ons meer van jul werke lees die jare wat kom.
Die gedigte sal ook op vandag se plasing beskikbaar wees.


Vrou, uit Sy hand G E H E I L I G
in jou sagvat 
van vrouwees is jy
gemaak uit die goudstof 
van ‘n Hemelblom
met teerheid direk
van God se kroon
as jou omgee
in heuningdou-druppels
oor jou wange kartel
gevuld met emosie
wat knope laat op jou tong
jou oog se kyk verdof
uit die skyn van jou binnelig
straal brose sterkte, ‘n ribbebeen
volmaak gevorm uit Sy hand
en met al jou Eva sondes
is jy steeds vrou
G E H E I L I G
Kopiereg Anze Bezuidenhout  


Hoe vroue hulself sien op verskillende ouderdomme
·     Agtjarige: Sy dink sy is ’n sprokiesprinses soos Aspoestertjie of Sneeuwitjie.
·       Vyftienjarige: Sy dink steeds sy is Aspoestertjie of Sneeuwitjie of ’n Rasieleier, maar as dit dáárdie tyd van die maand is, sien sy net puisies, vet en lelik.
·     Twintiger: Sy dink sy is te maer of te vet of te kort of te lank of haar hare te krullerig of te reguit, maar sy gaan in elk geval uit.
·    Dertiger: Sy dink sy is te maer of te vet of te kort of te lank of haar hare te krullerig of te reguit, maar sy gaan in elk geval uit, want sy het nie tyd om dit reg te maak nie.
·       Veertiger: Sy dink steeds sy is te maer of te vet of te kort of te lank of haar hare te krullerig of te reguit, maar sy gaan in elk geval uit want ten minste is sy skoon.
·       Vyftiger: Sy dink: “Ek is” en gaan waar sy wil.
·      Sestiger: Sy kyk na haarself en herinner haarself dat mense wat nie eers hulleself in die spieël kan sien nie deesdae die wêreld oorwin.
·     Sewentiger: Sy kyk na haarself en sien wysheid, lag, vermoëns, goeie herinneringe en geniet die lewe.
·   Tagtiger: Sy kyk nie meer nie, sit net ’n rooi hoed op en gaan neem deel aan die wêreld.
·       Negentiger: Sy kan nie meer sien nie, maar gee ook nie om nie! Die lewe is ’n fees!

Uit die artikel Wees bly jy is vrou geneem van 27 Aug 2018 
se Voelgoed webwerf. 
 

Die persepsie van Vrouwees is om 'n dame (lady) te wees en selfs in hierdie dae en tye is dit nogsteeds so. Miskien met ‘n bietjie meer geduld of ‘n wegkyk maar die norm is nog steeds dieselfde.
Van kleins af is dit in ons geprent om mooi te lyk, reg te loop, nie ons naels te kou nie. Om op die regte manier te kommunikeer en altyd vier en regop te wees. Ons is geleer om die kookkuns te bemeester, in sommige gevalle is ons vrouens geleer om die perfekte skepping te maak deur die perfekte steke te ken. Presiesie was ‘n moet nie ‘n keuse nie. Wel, in my ma se tyd was dit so en tot en met haar heengaan kon sy deur ‘n ring getrek word. Wanneer my ma gaan klere koop het, het dit ‘n dag gevat, tot ons kinders se ergenis. Elke item was bekyk en bestudeer tot in die fynste detail. Die soom moes reguit wees, elke naat perfek afgewerk. ‘n Rok, bloes of romp moes perfek sit anders was dit verkeerd. Jy het nie met haar daaroor gestry nie. Glad nie.  Skoene moes pas by die uitrusting. Die hoed en sykouse ook.

‘n Vrou moes in alle opsigte altyd netjies lyk. Dit is in ons ingeprent van kleins af, elke haar op sy plek. Fyn skoene met ragfyn sykouse was die norm. Deesdae faal die jongerdames in hierdie beskrywing. Hul postuur is verkeerd, sit lelik, praat soos hulle wil en ons aanvaar dit so maar maak dit haar dan minder vrou? Hulle kleredrag lyk soms erg, glad nie lady-like nie. Vrouens nou se dae trek net verkeerd aan en ek glo dit dra ook baie by tot hul gemoedstemming. Ons lewe in so ‘n gejaagde wêreld waar ons in honderde rigtings getrek word dat tyd vir ons self min is. Daarom lyk die meeste dan onversorgd. Dan praat ek nie eers van die jongergeslag wat als laat uitsteek nie. Hier is ek soos my ma. Jou onderklere is privaat en nie vir die wêreld om te sien nie. Punt.

Is die uiterlike nogsteeds so belangrik? Wanneer ek na flieks van Hollywood kyk is dit tog die geval. Hollywood is ‘n baie goeie maatstaf van wat in die wêreld aangaan en hoe hulle vroue projekteer werk in op elke vrou se denke: positief en negatief.
Hoe sien julle vrouwees?
Ek lees graag hierdie gedig voor van Driekie Grobler wat ek voorlees met toestemming van haar.


WANT EK IS VROU
moet my nie probeer verstaan nie
of my doen en late bevraagteken nie
gun my om op my eie wentelbaan te bly
en wees maar net lief vir my
moet my nie keer of weerhou nie
of wys dat jy my nie vertrou nie
gun my die vryheid om te gedy
en wees maar net lief vir my
moet my nie soos jy laat dink nie
of dwing om te gaan waar ek nie wil wees nie
‘n sagte hand sal keer dat my ratwerk gly
so wees maar net lief vir my
moet my nie vals beskuldig nie
of verwag dat ek jou siening moet huldig nie
laat my denke en waagmoed vry
en wees maar net lief vir my
want ek is vrou
fynbesnaard en ingewikkeld bedraad
om my vir ewig te laat bly
wees maar net lief vir my
©Driekie Grobler



Ek het die volgende punte tydens my soektog gekry en ek haal aan.
Wat is die kwaliteite van vrouwees?
1.    ‘n Vrou skinder nie.
Daar is niks so lelik soos ‘n vrou wat van haar man of vriendinne agter hul rug praat nie veral wanneer hulle jou in hul vertroue neem. Om te skinder se niks van die ander persoon nie maar dit se baie van jou. Wanneer iemand nuus aan jou oordra, dan stap jy weg, dit sit jou bo die res.
2.    Jy moet glo dat jy ‘n dame is
‘n Vrou kompeteer nie met ander vroue nie, sy gee die pas aan. Dit laat haar uitstaan bo die res. Jou self-respek gee jou die opperhand in elke situasie.
3.    Vrouens het maniere. Dit klink seker baie oud-modies maar tog
Belangrik. Sonder maniere kom jy nêrens in die wêreld nie. Asseblief en dankie is nogsteeds goue woorde om te gebruik op ‘n daaglikse basis. Wanneer ‘n man vir jou ‘n deur oophou, se dankie. Dit kos niks nie.
4.    Jou woord is jou eer.
Wanneer jy se jy gaan iets doen, doen dit. As jy ‘n belofte maak hou daarby. ‘n Dame is betroubaar.
5.    Jy kommunikeer met mense.
Jy gooi nie ‘n tantrum nie. Dit is absoluut horibaal wanneer ‘n vrou dit doen. Jy maak jou punt duidelik sonder om te skree. Hou jou emosies in beheer.
6.    Staan regop, met selfvertroue.
Krom skouers se jy glo nie in jouself nie so hoekom moet iemand anders dit doen? Alles wat jy doen, doen jy goed. As jy nie kan nie, dan se jy so. Om oor iets te lieg is ook onrespekvol, teenoor daardie persoon en jouself.
7.    Wees opreg.
Wees opreg oor wie jy is, selfvertroue en ‘n opregte geaardheid is die beste wat jy kan wees. Jy is nie ‘n robot nie. as jy hartseer is wys dit sonder om jouself te buite te gaan.
8.    Wanneer jy aantrek, trek aan vir jouself.
Voel goed oor jou uiterlike, jou klere en postuur. Trek klere aan wat jou vlei en straal selfvertroue uit. Jou klere is jou stempel en se meer as wat jy in woorde kan se.
9.    ‘n Vrou het empatie vir haar medemens. Sy verstaan waardeer mense gaan en gee regtig om vir haar medemens.
10.  ‘n Vrou is altyd skoon. Vars asem. Haar hare blink. Sy ruik lekker, nie na sweet nie. Dit hoef nie noodwendig duur parfuum te wees nie maar normale badseep en ‘n goeie reukverwyderaar doen ook die ding. Skoon hare en naels, hakke wat glad is. dit alles dra by tot die geheel beeld van vrouwees.
11.   Jou gesondheid is ook belangrik. Wees trots op jou liggaam. Probeer om gereeld te oefen. Indien moontlik, moenie rook nie, anders soek alternatiewe om die rook te kan teenwerk.
12. Vloekwoorde is ook ‘n ‘dead giveaway’ dat jy nie altyd in beheer is nie. Die meeste van ons is skuldig hieraan, ek ingesluit. Maar dit is eintlik onbeleefd. Veral wanneer jy by ‘n werksfunksie is en by jou baas en kliënte staan, dan is vloekwoorde onvanpas.  So kies jou vloekwoorde versigtig asook die geleenthede waar jy teenwoordig is. Dit se baie van jou.
13.  ‘n Vrou kom nooit met leë hande nie. Weereens ‘n oudmodiese konsep maar tog van pas. As mense jou nooi vir ete, al se hulle moet niks saambring nie, vat iets saam. Dit se net jy het respek vir daardie persoon en wys jou waardering.

Ek lees graag nog ‘n gedig voor, die keer een vanuit die pen van Riana le Roux.


 Geboorte van 'n vrou
fyn aanmekaar geweef
uit 'n ribbebeen
kunstig gesmeek
'n prag-edelsteen
prinses van die skepping
aan God al die eer
aan Adam se sy
mekaar te begeer

vrou is ek, jou eie Eva
saam moet ons oor aarde heers
hand-aan-hand, die paadjie stap
in liefde, toekoms onbevrees

sag van vlees
my hart 'n kom
waar emosies sterk
en liefde blom
vrou is ek, jou sielsgenoot
ons spoor val saam
tot in die dood
Kopiereg: Riana le Roux




Hoekom kompeteer ons teen mekaar of is ons jaloers op ons susters?
Het julle al opgemerk hoe mans kommunikeer?
Hulle sal mekaar nooi vir ‘n bier en vir ure gesels oor die mees onbenulligste dinge en bande word gevorm. In ander kringe sal een ‘n pyp opsteek en word die pyp van man na man gestuur, rokers en nie-rokers vat ‘n beurt en ‘n band is gevorm. Daar sal grappies gemaak word, draad gesteek stap dan weg as bondgenote. So eenvoudig, gun wonder hulle dink ons vrouens is vol nonsens nie.  As ‘n man depressief is koop sy maat vir hom ‘n dop, luister en klop dan die vriend op die skouer met ‘n praat later. Die lewe druk en hulle trek selfs swaar maar daar is altyd geld vir ‘n bier.  Mans is net makliker om te vrede te stel.
Jaloesie of kompetisie met mekaar dui daarop dat jy eintlik minderwaardig voel. Dat jou selfbeeld so laag is dat jy dink jy skiet te kort teenoor ander vroue.
Hoekom is jy onseker?
As jy ‘n huisvrou is hoef jy nie terug te staan vir ‘n beroespvrou nie. Ons elkeen leef volgens die keuses wat ons maak. Vir elke vrou werk dinge anders uit. Nie een se pad is met rose besaai nie. Die beroespvrou sukkel weer met haar eie tekortkominge maar dit maak haar nie minder vrou nie.
Ek was self vir 19 jaar ‘n huisvrou. Grimering is net ‘n naweek gedoente omdat jy besig is, alleen is die meeste van die tyd en dan voel jy soos ‘n vaalmuisie teenoor ander vrouens. Hoekom sal jy dan nou jouself mooi maak? Is wat die meeste huisvrouens dink. Maar ander vrouens beny weer jou vryheid en om by jou kinders te kan wees. 
Plaas dat ons wegkyk van die fisiese dinge en dieper kyk, verby al die tipes en beelde wat ons in ons kop het en eerder mekaar waardeer vir wie ons is. Ons status in die lewe is nie wat ons besonders maak nie. Maar hoe ons oorkom en optree is wat tel. ‘n Huisvrou het die tyd om meer te doen, soos oefen of stap. Sy kan lees, nie net romanse nie. Sy kan in mense se lewe deponeer wat ‘n beroespvrou nie kan doen nie. Sy is betrokke in die samelewing. ‘n Beroepsvrou is weer betrokke by die bestuur van dinge omdat sy daagliks met dit werk. Sy het nie tyd om koek te bak of koekverkopings doen nie maar sy kan organiseer sodat als glad verloop.
As ons ook die spreekwoordelike pyp opsteek en vir mekaar aangee hoe sal ons verhoudings dan lyk? Ek wil my verstout deur te dink dat ons dan minder nydig sal wees. Mekaar meer sal ondersteun en mekaar meer sal vertrou. In die fliek, Hidden figures gaan die fliek nie net oor Katherine nie, daar is twee ander vrouens wat saam met haar gewerk het. Deur saam te staan kon hulle die siening van mans verander en hulle volle potensiaal bereik.  Jy sien, dit is net deur hande vat en samewerking wat ons bo kan uitkom. Alleen sal ons dit seker kan doen, maar dit sal langer vat en moeiliker wees. Wanneer ons saam staan maak ons die las ligter vir mekaar.
Afguns is ‘n lelike ding en wanneer dit uitkom wys dit net die lelike kant. Daar is niks mooi daaraan nie. In teen deel dit is dan wanneer ons mekaar afbreek en afkraak, om wat te bereik? Met alles wat mooi is aan ons kan ons lelik wees en dit is gewoonlik gemik teen ons mede susters. Hoekom?
Ons is jaloers oor mekaar se huise, voorkoms, mans, hoe ons kos maak, of iets bereik soos ‘n boek vrystel, of hoe ons-ons kinders groot maak. Ek weet ek het baie daarmee gesukkel. My kinders was toe baie klein en ons was deel van ‘n huiskerk. Elke keer wat die kinders baklei het was my kinders die escape goats, veral my seun, op daardie stadium net 2 jaar oud. As iets gebreek het was dit sy skuld. Dan het die aandag na my toegeskuif. Ek was nie lief genoeg vir my man nie of ek het nie my kinders genoeg gedisiplineer nie of ek is nie lief vir hulle nie. Ek kon net nie die aanvalle verstaan nie. In ‘n klein gemeenskap was dit belangrik om saam te staan maar op die ou einde het dit ons juis opgebreek. Dit was asof ek geweeg was en te lig bevind was. Ek het agterna geweldige selfbeeld-probleme gehad en geglo ek is ‘n swak ma, vrou en gelowige. Ek was gedurigdeur onder die vergrootglas en het daardie tye nooit geweet waar ek inpas nie.  Daardie soort jaloesie het my as mens gebreek en het ek geleer om terug te trek en op my eie aangewese te wees.
Ons is nie in wedywering met mekaar nie, daar is geen rede dat ons nydig met mekaar hoef te wees nie. Ons het genoeg druk op ons sonder die wedywering of die twyfel dat ‘n vriendin ons in die rug gaan steek. Maar dit is presies wat gebeur.  Ons kan saam staan, Magda het my weer laat glo dat ek mense kan vertrou. Dat ek nie hoef te twyfel in ander vrouens se motiewe nie. Nou stap ek my eie pad, help waar ek kan met die wete dat ek met geen vrou kompeteer nie.  
Ons vrouwees hangaf van hoe ons die wêreld beskou. Hoe ons groot geword het en ons geloof. Wanneer ons respek het vir mekaar en mekaar help dan bou ons brûe na ander wêrelde toe en vorm ons ‘n eenheid wat niks in die lewe kan skei nie.
So skitter ons elkeen in ons eie reg maar ook korporatief. ‘n Glans wat niemand kan verdof nie.

Tot ‘n volgende keer, mooi loop xxxx

   
Lees en luister genot


Kom kuier gerus 








Vrydag 24 November 2017

Naaswenner van die Eiebundel kompetisie: Melinda du Plessis: Metamorfose.

Baie geluk met die vrystelling van jou nuwe boek, Metamorfose

Baie mense weet nie altyd hoeveel tyd in ‘n boekvrystelling gaan nie en ek is seker jy kan boeke skryf net oor die proses. Jy is ook nou betrokke by SA Skrywers en was naas wenner van die SA Skrywers eie bundel kompetisie. Baie dankie dat jy tyd gemaak het vir hierdie onderhoud en ‘n kykie in jou lewe. Baie geluk met hierdie vrystelling. 




1. Hoe het die idee van die bundel ontstaan? 
Dit was totaal onbepland en onverwags. Ek was besig om aan die digbundel vir die eie bundel kompetisie te skryf toe ek n klompie 'writing prompts' na Afrikaans vertaal het. Die een vertaling was ''n uitgedopte hart'. Die prentjie wat ek gekry het was van hierdie meisie wat deur n galery gestap het waar elke kunswerk uitbeeld hoe hierdie kunstenares bespot en seergemaak is in die dorp omdat sy kreupel was en so meer. Almal het gedink sy is n boemelaar. Toe ek die gedig begin skryf het die storie duideliker en duideliker geword en ek het besluit dit sal eerder een van die kortverhale in die eie bundel kompetisie wees. Ek het vir albei kompetisies ingeskryf. Een storie word toe twee en die word toe vyftien stories wat strek oor tien jaar in die meisie se lewe. Soos ek sê, totaal onbepland.
2. Ek hou van die titel van die boek wat het jou laat dink daaraan?
My naam vir die boek was Die legkaart van Anna se lewe... maar toe dit by die drukproses kom het hulle gesê die titel moet verkieslik nie langer as vier woorde wees nie... Ek en vriende het gewonder en met seker twintig titels gesit. Een van my bejaarde Voete Bederf kliënte het gevra waaroor die boek gaan en sy het met Metamorfose vorendag gekom. Dit beskryf die boek uitstekend in een woord.
3. Mense besef nie altyd hoeveel tyd of selfs van jou eie ondervinding gaan in so ‘n boek nie. Is daar ‘n spesifieke staaltjie wat jy ons kan vertel wat die boek lewendig gemaak het?
Jong, hierdie hele jaar is 'n staaltjie wat skryf aan betref. Ek het maar êrens in die begin van die jaar my eerste kortverhaal geskryf vir 'n uitdaging op SA Skrywers en toe geskok in trane gesit toe ek dit wen... die eerste storie in Metamorfose was my tweede kortverhaal. Daar was geen beplanning nie, ek het net geskryf wat ek voor my gesien gebeur het, en simpel maar waar my oë uitgehuil en geskater van die lag saam met die karakters. Met die laaste storie was ek 'n hele dag tranerig voor ek dit geskryf kon kry. 
4. Hoe lank het die skryfproses gevat?
'n Maand in die nagte tussen 22h00 en 2h00 en oor naweke soos ek tyd gehad het.
5. Jy was die naaswenner van die SA Skrywers bundel kompetisie, hoe het dit jou laat voel toe jy die aankondiging hoor?
Ek was die naaswenner ja... dit voel steeds onwerklik al sit ek met die boek in my hand met my naam daarop. Ek was uit die oggend en toe ek by my foon kom sien ek my vriendin het my al n paar maal gesoek, sy het toe op die facebook blad gesien dat ek een van die wenners was. Ek het in trane uitgebars dat die water spat. Ek het so 'n dankbare hart, het nooit gedink God gaan my my droom so vinnig gee nie.
6. Het jy jou familie en vriende se volle ondersteuning of weet hulle niks?
My suster is my grootste ondersteuner, sy is glad nie n leser nie maar het elke storie getrou gelees soos hul gevorm het en pittige terugvoer gegee. Ek dink die res van my familie kan saam met my nie glo dat dit werklik gebeur nie. My vriende is engele om my.
7. Waar het skryf vir jou begin?
Hierdie jaar, 2017. Ek het vroeg in die jaar vir die Here gevra wat my groot uitdaging vir die jaar is... vandat ek 40 is het ek besluit om groot goed - vir my - aan te pak wat ek nog altyd gedink het ek nooit sal kan doen nie. 2014 was Kilimanjaro, 2016 die 800km Camino in Spanje. 
My aksiewoord hierdie jaar was skryf. In mý kop was dit om te dig... vanaf 2008 het ek n paar gedigte geskryf. Ek het dus by n digslypskool aangesluit en myself daarin ontwikkel. Twee van my gedigte is toe opgeneem in Hartswoorde, SA Digters se eerste digbundel wat in Julie bekendgestel is. Intussen het ek my eerste kortverhaal geskryf en die uitdaging daarmee gewen. Ek lees toe raak dat daar n groot kompetisie gehou gaan word op beide die dig en skryf blaaie. Ek kom toe in as een van die twintig mense op beide. Totaal mal ek weet... maar ek het besluit om deur te druk. Ek word moeg as ek terug dink daaraan. Ek het Julie geneem om my digbundel te skryf - ek het net 24 van die 76 reeds gehad; en Augustus om Metamorfose se vyftien stories te skryf.
8. Wat is die mooiste terugvoer wat jy al ontvang het?
My Sus, Ritha Lubbe,  se terugvoer, sy is eerlik en reguit en pittig. Dit beteken baie dat sy dit lees al hou sy niks van lees nie... ook dat sy saam lag en huil. Maar natuurlik is dit lekker om van mense wat ek nie ken nie te hoor dat hul my stories geniet en daarmee kan identifiseer. Een dame het gesê sy het agt ure geneem om te herstel na sy Metamorfose gelees het en nou wil sy dit weer lees.
9. Daar is tye wat ‘n mens twyfel oor jou eie skryf vermoë, daar is ook tye wat kritiek jou teen die aarde kan gooi en jy dink nee wat ek sien nie kans hiervoor nie. Watter raad het jou tweemaal laat dink oor jou skryfloopbaan? 
Griet, ek het nog nie n loopbaan nie. Al raad wat ek kan gee is om eerlik uit jou hart te skryf, wees eg sodat jou leser kan identifiseer. Fantasie is een ding en het sy plek, maar die boeke wat al jare op my rak staan en wat ek weer en weer lees is die wat my hart diepgeraak het, waaruit ek iets geleer het, wat my laat dink het.
10. Wat is jou raad vir aspirant skrywers?
Sjoe, dis n moeilike vraag want daar is baie antwoorde vir ons - ja ek is steeds een - op daardie vraag. My antwoord: Gaan sit by jou Skepper se voete en vra Hom wat Hy wil hê jy moet skryf, wie is jy as skrywer, wat wil jy sê? Wees getrou aan wie jy is. Sit jou boude op die stoel en begin haha!!! Dit was die absoluut moeilikste vir my!
11. Wat sal jy nog als wil skryf en wat is in die pyplyn?
As ek eerlik moet wees kan ek jou nie antwoord nie, my lewe is baie besig en ek weet nie wat God met hierdie skryfding wil doen nie. Ek los dit by Hom om my vry te maak om die tyd te hê om Sy stories in my uit te skryf. Ek het by die sewe maande SA Skrywers slypskool aangesluit en ons moet n 55000 woorde roman skryf in daardie tyd. Gedagtes begin woel in my rondom die storie. Ons, ek inkluis, sal moet wag en kyk wat gebeur. 
My digbundel, Woordsketse, behoort volgende week gedruk te wees - alhoewel ek nie met hom gewen het nie, het ek besluit om hom tog te laat druk. Dis n groot stuk van my ek-wees en die pad wat ek tot hier gestap het, wat op papier in n paar woorde vasgevang is.
12. Wat staan jou die meeste aan in skryf?


Om die karakters te leer ken, hul emosies te ervaar en saam met hulle te lag en huil.
13. Wie is jou gunsteling skrywer en hoekom?
     
Sjoe, ek lees wyd, maar meestal fiksie. Ek het nie net een gunsteling skrywer nie. Ek lief Wilna Adriaanse,  Annelie Botes, Dee Henderson, Sophia Kapp, Jodi Picoult, Karen Kingsbury, Nicolas Sparks, Lee Child, Irma Joubert, Frank Peretti, Marzanne Le Roux Van Der Boon... hulle karakters word familie, praat met my hart, leer my van die lewe.
14. Waar het jy geleer oor skryf?
In boeke, deur te lees lees lees


Persoonlike vragies:

15.  Het jy enige ander belangstelling behalwe skryf?
       Lees, stap, reis, mense se stories fassineer my
16. Is jy ‘n soettand?
      Beslis daarom sal ek nooit dun wees nie hahaha.

17. Gunsteling gereg?

      Mieliepap met tamatiesmoor en braaivleis
18. Reis jy graag en waarheen?
Ek lief reis en was bevoorreg om al redelik baie te kon sien. Ek hou van Europa en Afrika... enige plek waar daar genoeg natuur ook is om weg te breek, bv. die parke in Londen was my gunsteling deel van die stad. Ek geniet dit om net te sit en luister en kyk na ander se lewens wat om my vloei.


19. Hoe kan mense jou kontak vir hul eie kopie van jou boek? melindaduplessis18@gmail.com is die gerieflikste.
Baie dankie vir die geleentheid!

Metamorfose – Resensie


Dit was met groot opgewondenheid en afwagting waarmee ek die eerste kopie van Metamorfose ontvang het om te lees. Van die voorblad tot die laaste sin was ek vasgevang en kon die boek nie neersit totdat ek dit deurgelees het nie.
Metamorfose handel oor die lewe van die hoofkarakter, Anna, wat op 27-jarige ouderdom weer terugkeer na haar grootword dorp. Sy is swanger en sonder werk of woonplek. Hier moet sy vir haar en haar ongebore kind ‘n holte vir haar voet vind en ‘n lewe begin met weinig wat in haar guns tel. Boonop word sy konstant met haar verlede gekonfronteer en raak dit elke keer ‘n rou senuwee aan sodat sy amper haar en haar baba se lewe verloor. Maar Anna oorleef en laat haar nie onderkry deur die moeilikste omstandighede nie en is allermins ‘n slagoffer, al kon sy maklik daardie roete neem en haarself bejammer. In die proses ontdek sy wie sy eintlik is, letterlik en figuurlik. Wie haar biologiese ma is en nog vele meer wat verswyg was vir haar al die jare. Al is dit baie diep emosionele en traumatiese onthullings wip sy elke keer weer terug – sterker as tevore en stukkie vir stukkie word sy ‘n heel mens. En tussen dit alles deur behou sy nog die humor, wat dwarsdeur die boek loop soos ‘n goue draad. Soos wat sy heel raak begin sy ook ander se lewens verryk. Boonop is elke nuwe hoofstuk propvol nuwe verrassings. Die karakters se ontwikkeling en ontluiking vind deurgaans plaas en daar is letterlik nie een vervelige oomblik nie. 

Metamorfose is fiksie, maar geensins vlak nie, inteendeel dit spreek van eg medemenslike lewenservaring. Dit is beslis ‘n moet-lees-boek vir die komende vakansie asook ‘n goeie geskenk. Jy sal nie spyt wees nie!



Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...