Wys tans plasings met die etiket Liefdesverhale. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Liefdesverhale. Wys alle plasings

Saterdag 18 November 2017

Onderhoud met Antoinette Venter. Die wenner van SA Skrywers se Bundel Kompetisie. Soos die Dobbelesteen Val.



Baie geluk met die vrystelling van jou nuwe boek, Soos die dobbelsteen val. Baie mense weet nie altyd hoeveel tyd in so ‘n boekvrystelling gaan nie en ek is seker jy kan boeke skryf net oor dit. Jy is ook nou betrokke by SA Skrywers en soos ek jou leer ken het is jy altyd gereed om te help. Daarom is ek dankbaar dat jy tyd gemaak het vir hierdie onderhoud. Baie dankie en baie geluk met hierdie vrystelling.
1.       Hoe het die idee van die bundel ontstaan? Skryf was nog altyd een van my passies en die lekkerste stokperdjie wat daar kan wees. Ek het voorheen meer kortverhale geskryf om voor te lê aan tydskrifte, maar toe ek sien dat SA-Skrywers ‘n kompetisie om jou eie bundel te publiseer aanbied het, het ek dadelik gedink ek moet dalk probeer. Ek het toe die stories vir die kompetisie geskryf en so is die bundel maar ‘gebore.’
2.       Ek hou van die titel van die boek wat het jou laat dink daaraan?
Die meeste van die stories is in die bundel handel maar oor hoe die “noodlot” gewonde mense getref het en wat hulle gedoen het, of nie om daarby aan te pas. (Hoe hulle gemaak het met die dobbelsteen se val – hetsy goed of sleg.) Die titel het eers aan die einde van die bundel sy “verskyning” aan my gemaak en toe moes ek maar vining ‘n oorbrugging storie skryf wat die verhale aan mekaar kan bind.
3.       Mense besef nie altyd hoeveel tyd of selfs van jou eie ondervinding gaan in so ‘n boek nie. Is daar ‘n spesifieke staaltjie wat jy ons kan vertel wat die boek lewendig gemaak het?
Ja, daar gaan nogal baie tyd in enige skryfwerk en dit is nogal moeilik om te skryf wanneer ‘n mens voltyds werk, maar die bevrediging wat die skryfwerk bied is ‘n groot belonging. In “Van brulpaddas en toiletpapier” een van die stories in die bundel, skryf ek van ‘n kroegdame wat voel sy word nie hoog genoeg geag nie, as gevolg van haar beroep en hoe sy bewys dat daar meer tussen haar ore sit as wat haar werkgewer haar wil toegee. Ek was vir ‘n groot deel van my lewe ‘n kroegdame so ek kon nogal redelik met my karakter identifiseer.
4.       Hoe lank het die skryfproses gevat?
Die bundel moes in drie-maande klaar geskryf kom, maar ek moet bieg, van die stories in die bundel is al heelwat vroeër geskryf en ek het hulle net gaan afstof en benut.
5.       Jy was die wenner van die SA Skrywers bundel kompetisie, hoe het dit jou laat voel toe jy die aankondiging hoor?
Ek het dit glad nie verwag nie en ek moes die plasing waar hulle die wenners aangekondig het, ‘n paar keer oorlees om seker te maak ek lees nie verkeerd nie 😊
6.       Het jy jou familie en vriende se volle ondersteuning of weet hulle niks?
Hulle ondersteun my regtig baie goed, maar soms moet ek letterlik met hulle baklei om my die tyd te gun om te skryf. Ek dink nie hulle besef altyd dat die skryfgogga ‘n baie opdringerige gedierte is, wat daarop aandring om gevoer te word nie.
7.       Waar het skryf vir jou begin?
Ek dink dit het al letterlik in kleutertyd begin. Voordat ek kon lees het my ouma en my ma baie stories vir my voorgelees en selfs hulle eie stories opgemaak en vertel. Nadat ek leer lees het, het ek ons kleindorpie se miniatuur bibliotekie se kinderafdeling in ‘n japtrap klaar gelees en toe moes my ouers maar bontspring om elke maand vir my ‘n boek of twee in die ‘stad’ te koop. My liefde vir skryf is ‘n direkte uitvloeisel uit my liefde vir lees. Ek het my eerste storie geskryf om koshuis-studietyd te verwyl. My Afrikaanse onderwyser het die storie raakgelees en in ons skoolkoerantjie geplaas.
8.       Wat is die mooiste terugvoer wat jy al ontvang het?
My ouma se woorde. “Ouma is trots op jou.”
9.       Daar is tye wat ‘n mens twyfel oor jou eie skryf vermoë, daar is ook tye wat kritiek jou teen die aarde kan gooi en jy dink nee wat ek sien nie kans hiervoor nie. Watter raad het jou tweemaal laat dink oor jou skryfloopbaan?
Wel, my swartste oomblik was die terugvoer wat ek jare gelede op een van my stories gekry het. Ek dink dit was vir ‘n ATKV kompetisie en die gewraakte woorde was: “Swak! Nie eens ‘n skoolopstel werd nie!”
Ek het werklik gehoop die aarde sluk my in, MAAR daar was ander kommentare ook op die einste skryfstuk en hulle was werklik positiewe kommentaar. Ek het vir ‘n rukkie my wonde gelek en toe besluit dat ek my beslis nie so maklik gaan laat onderkry nie. Ek dink een van my beste en slegste eienskappe is die feit dat ek bitter koppig is, en as ek besluit het ek wil iets doen sal ek aanhou en aanhou totdat ek dit regkry.
10.   Wat is jou raad vir aspirant skrywers?
Glo asseblief in jouself en moet nooit opgee nie. Indien jy dit kan bekostig, oorweeg om ‘n goeie skryfkursus te doen, want al het jy baie talent, is daar heelwat tegniese punte wat mens moet baasraak. (Natuurlik is daar mense wat baie goed sonder ‘n kursus kan klaarkom, maar ek het een nodig gehad om die meer tegniese punte te leer.”
11.   Wat sal jy nog als wil skryf en wat is in die pyplyn?
Ek beplan tans aan ‘n Romanza en daarna wil ek ‘n roman probeer aanpak.
12.   Wat staan jou die meeste aan in skryf?
Dit is ontspannend en lekker om ‘n karakter wat in jou kop bly te laat lewe kry.
13.   Wie is jou gunsteling skrywer en hoekom?
Chanette Paul omdat haar stories so boeiend is.
14.   Waar het jy geleer oor skryf?
Ek het by Janie van Skryfgeheime ‘n kursus geneem en ek het regtig baie baat daarby gevind. Verder het ek maar oraloor wenke en raad opgetel en dit my eie gemaak. Blaaie soos SA Skrywers is ook ‘n goeie leerskool.

Persoonlike vragies
15.   Het jy enige ander belangstelling behalwe skryf?
Ek is ‘n Rekenmeester van beroep so ek geniet syfers. Verder geniet ek dit baie om tyd saam met my familie en diere te spandeer.
16.   Is jy ‘n soettand?
Ongelukkig ja. (Ek was nie een voordat ek getroud is nie, maar my man het ‘n slegte invloed op my gehad 😊
17.   Gunsteling gereg?
Dit wissel van tyd tot tyd. Huidiglik is Sushi voor op die lys.
18.   Reis jy graag en waarheen?
Eintlik hou ek meer daarvan om by die huis te bly, maar indien ek reis verkies ek dit om na klein afgeleë plekkies te gaan.

19.   Hoe kan mense jou kontak?
Hulle kan my e-pos op: aventer43@gmail.com of hulle kan my inbox op Facebook.
20.   Facebook
https://www.facebook.com/antoinette.venter.336


Synopsis.
Soos die dobbelsteen val is ‘n kortverhaalbundel met sestien stories in.
Dit handel oor die lief en leed van gewone mense en wat hulle gedoen het met die dobbelsteen wat soms geval het soos wat hy moet – en soms nie.
In ‘Om ‘n skoenlapper te steel.’ ontmoet ons ‘n man wat omtrent enige iets sal doen vir sy sterwende dogtertjie. In ‘Haar verlore seun’ lees ons van ‘n ma wat se hart gebreek is wanneer haar enigste seun verdwyn. Daar is ook meer positiewe verhale. In ‘Van brulpaddas en toiletpapier’ hoor ons hoe ‘n rol toiletpapier die koers van jou lewe kan verander. Verder is daar ook liefdesverhale vir die romantiese siele onder ons.


Bio
Antoinette Venter woon in die 'lifelike' Jeffreysbaai omgewing saam met haar man, ouma, skoonma, vier honed en twee katte.  Haar liefde vir lees kom reeds van jongs af aan.
Vorige publikasies sluit in:
·         Verskeie tydskrifverhale
·         ‘Soos die blou roos blom’ bonus-kortverhaal in een van die Romanzaliefde e-boeke van Lapa
·         ‘Offerliefde’ in die Hartlam bundel (Tafelberg)
·         Verskeie publikasies in saamgestelde bundels deur kleiner uitgewerye.



BESTEL GERUS HAAR BOEK DIREK BY ANTOINETTE EN 
ONDERSTEUN ONS SKRYWERS.


Donderdag 14 September 2017

5 Ster Resensie: Ondersoek my hart deur Ilze Beukes


 


Madelie Botma het sedert haar kinderjare ’n vrees vir hospitale. Toe dokter Ian Duvenhage by haar klas inbars om sy broerskind, Handré, te ondersoek, is dié juffrou dus lelik omgekrap. Dit blyk Handré bly by sy oom omdat daar probleme met sy ma se swangerskap is, en Madelie bied teësinnig hulp aan. Sal die aantreklike Ian haar help om haar vrese te oorwin? Daar’s immers ’n kankerpasiëntjie, Sanet, wat Madelie se bystand nodig het. Of sal die aantygings van Ian se ou liefde Madelie afskrik?

Te koop by 
NB Uitgewers / Goodreads / Takealot






5 Ster Resensie: 
Ek het die boek ontvang tydens ‘n promosie op Facebook, direk van die skryfster af. Tot op daardie dag was sy vir my ‘n vreemdeling en ek het gewonder of ek die storie sal geniet; en soos jy kan sien aan die 5 sterre, het ek.Die skryfster se vloeiende skryfstyl en interresante storie maak van die boek ‘n fees om te lees en ek kan dit aan almal aanbeveel wat hou van ‘n goeie liefdesverhaal wat die hartsnare roer.‘n Belangrike onderwerp word bespreek in die verhaal wat jou weereens die swaarkry van die pasient en familie, en hoe dit almal affekteer, laat besef. Madelie moet haar eie vrese verwerk rakende die siekte, ‘n jong student se eie wroeginge en aanvaarding van haar siekte en ‘n aantreklike dokter wat haar voete onder haar uitslaan. Die storie word met deernis geskryf en jou kan jouself inleef in die hoofkarakter se seer, vrese en hartseer soos wat die boek ontwikkel het.
Die karakters, Madelie en Ian se rolle is baie goed ontwikkel met regte probleme om van die storie ‘n sukses te maak. Madelie is ‘n sterk vrou met ‘n wonderlike ondersteunings groep om haar wat haar dra in tye van haar eie wroeginge. Ian, as jong opkomende dokter word ook goed uitgebeeld, defnitief ‘n ridder op ‘n wit perd tipe wat weet wat hy wil he en nie bang is om te doen wat reg is nie.Selfs die skurk in die boek is goed uitgebeeld, en alhoewel sy ‘n mens goed opvryf kom haar karakter geloofwaardig voor en in geheel gesien dra sy by tot die groei van Madelie en Ian se karakters.
‘n Goeie storie wat jou wegvoer na hul wêreld en jou blootstel aan mense se lief en leed op ‘n tasbare wyse.
Baie dankie vir die boek, Ilze. Ek verwag groot dinge van jou.   





Bio inligting:  
Ek bly in Kroonstad in die Vrystaat,is getroud en  het twee getroude dogters, een seun wat nog swot. Ek is ook 'n ouma vir vier woelwaters. Bedags werk ek by 'n plaaslike laerskool en saans verdwaal ek in 'n wêreld van storieskryf. 

Lesers kan met haar kontak maak op 





Donderdag 07 September 2017

Onderhoud met Ilze Beukes: Skryfster van Ondersoek my hart


Onderhoud met Ilze

1.      Iets oor julle self: Waar het die passie vir skryf begin, en wat was jou eerste probeerslag?
Dit was ‘n droom sedert my hoërskooldae. Ek het ‘n gediggie vir ‘n waspoeier kompetisie ingestuur in graad 10 en ‘n prys gewen.

2.     Wie het jou geinspireer om te skryf? 
     My Afrikaanse onnie het gedink ek skryf goeie opstelle, dit het ‘n droom in  my wakker gemaak en ek wou hom graag glo.

3.   In die algemeen, hou jy daarvan om oor jou werk te praat? Indien nie, hoekom nie?
Praat graag daaroor, dis my passie. As ek eers begin, hou ek moeilik op.

4.   Enige boek in die vooruitsig en waaroor sal dit gaan?
Nog ‘n geheimpie, al wat ek kan sê is kyk uit vir ‘n nuwe liefdesverhaal voorlopig in Maart 2018.

5.    Hoe werk die skryf proses vir jou?
Ek soek eers prentjies van karakters wat inpas in my storie-idee. Ek bedink deeglik wie en wat elke karakter is en skryf dan ‘n geraamte van die storie. Ek doen navorsing oor die plek waar die storie gaan plaasvind ens. en wanneer ek genoeg inligting bymekaar gemaak het, spring ek weg.

6.    Waar het jy jou opleiding ontvang?
Ek het ‘n kinderboek skryfkursus en taalkursus deur Janie Oosthuisen geloop in 2011. In 2013 het ek ‘n ATKV skryfskool vir liefdesverhale by NWU bygewoon.

7.    Watter gedeelte van die skryfproses is vir jou die moeilikste?
Die middel van die storie. Dit is wanneer ek gewoonlik in die storie begin twyfel. Sodra ek daar verby is, gaan dit makliker.

8.    Kan jy aan opbouende kommentaar dink wat jou rerig bemoedig het vandat jy begin skryf het?
Daar was baie, maar na my eerste taak by Janie was haar woorde. “Jy gaan nog iets oulik regkry.”

9.    Skryf is ‘n baie persoonlike saak, hoeveel van jou eie ondervindinge word in die stories geweef?
In elke storie skryf ek iets van myself in. Ek dink nie enige skrywer kan anders nie.

10.   Wat is die beste/ of slegste deel van ‘n skrywer?
Ek raak so meegevoer wanneer ek besig is om te skryf, dan begin die skuldgevoel teenoor my gesin insluip.

11.   Enige advies vir aspirerende skrywers?
Glo in jou talent en moet nooit moed opgee nie.

12.   Wat is jou gunsteling genre om te lees en te skryf?
Liefdesverhale, maar ek het ook ‘n hartseer kant wat soms oorborrel in kortverhale.

13.   Gunsteling skrywer of boek?
Vaselientjie

14.   Het jy ‘n loopbaan gehad voor jy as skrywer ontwikkel het?
Ek werk steeds bedags by ‘n plaaslike laerskool. Die plan is om oor twee jaar see toe te trek en net te skryf.

15.   Wat het veroorsaak dat jy wel begin skryf het?
My twee oudste dogters was klaar gestudeer en skielik het ek meer tyd gehad. Toe het dit als begin.

16.   Enige stokperdjies behalwe skryf?
Lees. Krale-werk

17.   Is jy ‘n avonturier en hoe waaghalsig is jy?
Glad nie.

18.   Het jy jou familie se ondersteuning en wat dink hulle daarvan?
My familie ondersteun my ten volle. My man spog gereeld daaroor dat dit sy van is wat op die boeke gedruk is.



 Madelie Botma het sedert haar kinderjare ’n vrees vir hospitale. Toe dokter Ian Duvenhage by haar klas inbars om sy broerskind, Handré, te ondersoek, is dié juffrou dus lelik omgekrap. Dit blyk Handré bly by sy oom omdat daar probleme met sy ma se swangerskap is, en Madelie bied teësinnig hulp aan. Sal die aantreklike Ian haar help om haar vrese te oorwin? Daar’s immers ’n kankerpasiëntjie, Sanet, wat Madelie se bystand nodig het. Of sal die aantygings van Ian se ou liefde Madelie afskrik?
Te koop by 



Toe suster Wida Storm hoor dat dokter Eugene Maritz iemand benodig om sy bejaarde ma tuis te versorg, gryp sy die geleentheid aan. Sy wil lankal haar eie tuisverplegingpraktyk begin en dié werk sal haar die nodige ondervinding gee. 

Maar Wida kom gou agter dat als in dié familie nie pluis is nie toe sy saam met tannie Olga in Eugene se huis intrek om haar te versorg. Watse hartseer lê in Eugene se verlede? Waarom is daar ’n stremming op sy verhouding met sy ma? Hoekom skerm tannie Olga vir haar ander seun terwyl Eugene niks met sy broer te doen wil hê nie? 

Met die eerste oogopslag is Eugene stroef en afsydig, maar Wida besef toenemend dat dit ’n front is wat die aantreklike en gevoelvolle dokter voorhou – ’n verskansing teen die verraad en verlies wat hy beleef het. Sy is besig om haar hart onkeerbaar op hom te verloor, maar sal sy ooit die mure wat hy om hom gebou het, kan afbreek? Sal Eugene ooit weer ’n vrou in sy hart toelaat?

Te Koop By

Bio inligting:  
Ek bly in Kroonstad in die Vrystaat,is getroud en  het twee getroude dogters, een seun wat nog swot. Ek is ook 'n ouma vir vier woelwaters. Bedags werk ek by 'n plaaslike laerskool en saans verdwaal ek in 'n wêreld van storieskryf. 

Lesers kan met haar kontak maak op 

Kyk uit vir my resensie van Ondersoek my hart. 

Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...