“Ma, Pa… ek
het fantastiese nuus!” Nellie het deur die tuin gehardloop tot waar haar ouers
onder die koelte boom gesit het.
“Waaroor is
die bohaai?”
“Pappa, ek
is in!” het sy gegil van vreugde.
“In by
wat?” Haar pa se kenmerkende frons afgeëts tussen
donker groen oë. Oë sprekend van
haar eie groen poele.
“Die
onderhoud. Ek moet môreoggend elfuur daar wees.”
“Ek dink
dit is sommer lawwigheid. Jy sal in elk geval nie die geleentheid kry nie.”
“Hi Frans,
hoe kan jy so sê? Nellie is goed en verdien ‘n
kans.”
“In watter
land bly jy Mattie?” met rollende oë draai haar ma na haar toe, “Bevestig
my kind, mamma sal jou vat.”
“Dankie, Mamma.”
Sy kon altyd reken op haar ma se ondersteuning, iets waaroor sy baie dankbaar
was.
“Dit is
simpel om eers te wil probeer. Sy is te wit in die eerste plek.” Snou hy toe
maar dit klink meer soos ‘n grom. Hoekom geld uitgee op ‘n meisiekind se
geleerdheid, sy gaan in elk geval trou en dan was dit geld mors; is sy
gedagtegang. Hy het dit menigmaal al voorheen gesê. Die politieke toestand het
hom ook bitter gelaat. Hy wou nie meer die goed raak sien nie.
“Gaan maak
eerder tee pop.” Het hy haar verjaag en weer sy aandag op die oopgevoude koerant
op sy skoot gespits. Doeltreffend het hy hulle uitgesluit. Nellie onthou die
absolute radeloosheid wat sy ervaar het. Stilweg het sy omgedraai, mamma se
bemoedigende glimlag het maar min gehelp.
“Ek wens jy
wil net eenmaal belangstelling in Nellie toon, Frans.” Nellie kon nog die
woorde onthou. Die papiergordyn die enigste antwoord oor haar toekoms.
“Sy het
hard gewerk. Haar punte lyk goed. Sy sal ‘n uitstekende joernalis wees.”
“Stop met
die argumente vrou.” Weer het sy die koerantpapier hoor skud voor sy verdwyn het
in die kombuis in.
Vir lank
het sy net daar gestaan en uitstaar. Haar ma in diep gesprek met die koerant.
‘n Gefrustreerde traan het teen Nellie se wang af gerol en sy het dit verergd
af gevee. By haar studeertafel het sy ‘n pen en eksamenblad uit gehaal en begin
skryf. Haar duidelike skrif was ‘n teenstelling met haar gemoed maar sy het als
neergeskryf wat in haar hart op gekom het. Opgehoopte emosies van jare se
verwerping het net gevloei daardie dag.
Nellie was
besig om kaste reg te pak toe sy weer op die oorgetrekte boks afkom met haar
kinder drome daarin. Die deksel se blink papier nou dof van ouderdom. Daardie
selfde gevoelens woed weer in haar. Die hele gesprek en daaropvolgende afspraak
was net ‘n droom wat ook weggepak was. Die universiteitbrief netjies toegevou
saam met die brief. Haar pa het sy sin gekry en sy het nooit gegaan nie.
Haar ouers
is albei oorlede, kort na mekaar. Die lewe het aanbeweeg en die leemtes het verskuil
gebly. Die jong Nellie se drome en ideale het saam met die boks verdof. Hier
sit sy nou. Haar lewe opgeoffer vir haar man, kinders en huis. Die laaste
dertig jaar was vervuld op sy eie manier. Nou is die laaste kind ook uit die
huis uit. Wat nou? Waar laat dit haar?
“Nellie,
waar is jy?” swaar voetstappe kom die gang af en sy vee haastig die lastige
trane af en plaas dan met bewende vingers die brief weer terug.
“Hier is ek
Walter.” En haar man van die laaste vyf en twintig jaar stap hul kamer binne.
Hulle het ontmoet in die jaar wat sy negentien geword het. Toe sy swanger raak
met hul oudste seun het sy haar drome weggepak sodat sy die regte ding kon
doen. Sy het hom drie seuns gegee. Sy drome het hy uitgeleef deur hulle groei en
sy loopbaan as boekhouer en sy het stilweg toegesien dat alles glad verloop by
die huis. Die verlange na ‘n beroep weggebêre soos so baie ander dinge in haar
lewe.
“Wat maak
jy?”
“Pak sommer
die kaste reg,” en sy sit die boks ongeërg terug op sy plek; op die heel
boonste rak, in die verste hoek.
“Ek ken nie
daardie boks nie, waar kom dit vandaan?” en hy gaan sit op die hoek van die
bed, vraende oë opgehef na haar.
“Sommer
niks, ek moet dit eintlik weggooi.” En sy maak die deur beslis toe.
“Wys my
toe.”
“Kom ons
gaan kombuis toe, ek het sommer snack witches gemaak vir middagete.”
“Nellie,
stop. Wat gaan aan?”
“Niks nie
Walter, kom nou, die broodjies gaan pap word.”
“Ons kan
dit weer warm maak. Wat se boks is dit en wat is daar in?” sy stem baie beslis.
‘n Stem wat hy gewoonlik vir die seuns gebruik. Stry gaan nie help nie.
Met ‘n sug
maak sy weer die kas oop en trek die boks nader wat sy dan afhaal en vir hom
gee. “Dit is sommer net kindergoed van my jonger dae,” probeer sy dit afmaak.
“Ek wil
sien. Jy het dit nog nooit vir my gewys nie,” en hy neem die boks by haar.
“Daar is
niks interessant in nie. Boring eintlik,” skerm sy.
Stil haal
hy al die kaartjies en briewe uit en vou dan die brief oop wat sy geskryf het. Met
ingehoude asem hou sy hom dop. Die universiteitsbrief lees hy eerste en kyk dan
na haar voor hy weer na die eksamenblaaie kyk. Toe sy hande eintlik op sy knieë
sak kyk hy direk na haar. Sy oë gevul met ‘n onbekende lig wat sy
nog nie voorheen gesien het nie. Nellie kon sweer daar is vogtigheid in maar sy
moet haar verbeel want Walter is die sterk soort. Trane word net nooit gesien
in die dieptes nie.
“Nou maak
baie dinge sin,” en vryf hy sy oë maar voor Nellie kan vra watse
dinge kom die volgende vraag. “Hoekom het jy nooit gepraat nie? Voel jy
nogsteeds so?”
“Dit is
lank terug. Jy weet hoe dit gaan. Die lewe gaan aan.” Wat meer kan sy sê om dit te verduidelik? As sy eerlik moet wees dan voel sy nog netso.
Onvervuld, nou meer as ooit is sy nuuskierig oor haar lewe en wat sou gebeur
het as sy deurgedruk het. Maar tyd het nou uitgehardloop. As, verbrande hout wat nie meer kan brand
nie.
“Nel… daar
is nog tyd. Jy kan weer probeer.” Sy gee ‘n sieniese laggie. “Nee my man, ek is
te oud. Niemand sal my meer ‘n kans gee nie,” sy vat die boks by hom en plaas
die verlede weer terug agter die vier mure van die kas. Vir ‘n lang oomblik is
daar doodse stilte in die kamer. Sy kan Walter se priemende oë op haar voel terwyl sy die boks weer terugsit en die kasdeur toemaak.
Dan verlaat sy die kamer om sodoende sy oë te vermy. Haar
huis is nou haar lewe. Haar drome verweef by haar seuns sin.
“Nellie,
vrou…”en voor hy die sin voltooi gee sy vir hom die halfklaar tamatiesousbottel
aan. In stilte eet hulle verder. Toe Walter opstaan steun hy effens. ‘n Steun
wat meer geklink het soos ‘n sug maar sy los dit daar. Toe hy deur die
agterdeur verdwyn met die karsleutels in die hand weet sy hy gaan ry. Dit was
nog altyd so. Sy kom en gaan het sy lank gelede aanvaar so sonder
verduideliking. Veel later stap hy in en soengroet haar waar sy sit en TV kyk. Die
bekende sepie se laaste deuntjie sypel deur die vertrek.
“Môreoggend
moet ons kollege toe gaan en gaan uitvind van joernalistieke klasse wat jy kan
loop.”
“Ek sien
nie meer kans nie. Wie sal dan ‘n ouvrou ‘n kans gee om te werk?” haar oë stip op die TV terwyl haar hart bons.
“Ek ken die
redakteur van die plaaslike koerant, Tinus Beeckman. Ek het met hom gaan gesels
vanmiddag. Hy wil jou ‘n kans gee Nellie.” Hy kom sit reg voor haar sommer op
die koffietafel. Iets wat sy verpes maar op daardie oomblik staar sy hom aan.
Haar ore moet stukkend wees, daarvan is sy seker.
“Hy wil van
jou werk sien. Hier is sy e-pos adres, jy kan dit direk aan hom stuur.”
“Hmmm…”en
Nellie sluk, haar woorde opgedroog.
“Ek het
lanklaas geskryf,” kry sy dit eintlik uit, haar hals aan die brand.
“Dan sal ek
aanbeveel dat jy die TV afsit en begin skryf.” En met dit kom ‘n reghoekige
boks te voorskyn, een wat sy nie vroeër gesien het nie. Sy weet genoeg om te
weet wat dit is maar het nog nooit een van haar eie gehad nie.
“Op jou
nuwe loopbaan.” Kom die verleë woorde en Walter plaas die skootrekenaar op haar
skoot. Die skerm flikker aan; sy blinkoog ‘n uitnodiging wat haar vorentoe laat
stu en aan die muis raak. Vlugtig speel sy oor die sleutelbord en gaan dan
reguit na die dokument.
Haar siel
op daardie oomblik vry en lig en sy glimlag breed.
“Daar is my
vrou.”
Kopiereg voorbehou
As jy hou van my stories oorweeg 'n donasie,
dit sal my instaat stel om voort te gaan.