Baie geluk met die vrystelling
van jou nuwe boek, Soos die dobbelsteen val. Baie
mense weet nie altyd hoeveel tyd in so ‘n boekvrystelling gaan nie en ek is
seker jy kan boeke skryf net oor dit. Jy is ook nou betrokke by SA Skrywers en
soos ek jou leer ken het is jy altyd gereed om te help. Daarom is ek dankbaar
dat jy tyd gemaak het vir hierdie onderhoud. Baie dankie en baie geluk met
hierdie vrystelling.
1.
Hoe het die idee van die bundel ontstaan? Skryf was nog altyd een van my passies en die lekkerste
stokperdjie wat daar kan wees. Ek het voorheen meer kortverhale geskryf om voor
te lê aan tydskrifte, maar toe ek sien dat SA-Skrywers ‘n kompetisie om jou eie
bundel te publiseer aanbied het, het ek dadelik gedink ek moet dalk probeer. Ek
het toe die stories vir die kompetisie geskryf en so is die bundel maar
‘gebore.’
2.
Ek hou van die titel van die boek wat het jou
laat dink daaraan?
Die meeste van die stories is in die bundel
handel maar oor hoe die “noodlot” gewonde mense getref het en wat hulle gedoen
het, of nie om daarby aan te pas. (Hoe hulle gemaak het met die dobbelsteen se
val – hetsy goed of sleg.) Die titel het eers aan die einde van die bundel sy
“verskyning” aan my gemaak en toe moes ek maar vining ‘n oorbrugging storie
skryf wat die verhale aan mekaar kan bind.
3.
Mense besef nie altyd hoeveel tyd of selfs van
jou eie ondervinding gaan in so ‘n boek nie. Is daar ‘n spesifieke staaltjie
wat jy ons kan vertel wat die boek lewendig gemaak het?
Ja, daar gaan nogal baie tyd in enige skryfwerk en
dit is nogal moeilik om te skryf wanneer ‘n mens voltyds werk, maar die
bevrediging wat die skryfwerk bied is ‘n groot belonging. In “Van brulpaddas en
toiletpapier” een van die stories in die bundel, skryf ek van ‘n kroegdame wat
voel sy word nie hoog genoeg geag nie, as gevolg van haar beroep en hoe sy
bewys dat daar meer tussen haar ore sit as wat haar werkgewer haar wil toegee.
Ek was vir ‘n groot deel van my lewe ‘n kroegdame so ek kon nogal redelik met
my karakter identifiseer.
4.
Hoe lank het die skryfproses gevat?
Die bundel moes in drie-maande klaar geskryf kom,
maar ek moet bieg, van die stories in die bundel is al heelwat vroeër geskryf
en ek het hulle net gaan afstof en benut.
5.
Jy was die wenner van die SA Skrywers bundel
kompetisie, hoe het dit jou laat voel toe jy die aankondiging hoor?
Ek het dit glad nie verwag nie en ek moes die
plasing waar hulle die wenners aangekondig het, ‘n paar keer oorlees om seker
te maak ek lees nie verkeerd nie 😊
6.
Het jy jou familie en vriende se volle
ondersteuning of weet hulle niks?
Hulle ondersteun my regtig baie goed, maar soms
moet ek letterlik met hulle baklei om my die tyd te gun om te skryf. Ek dink
nie hulle besef altyd dat die skryfgogga ‘n baie opdringerige gedierte is, wat
daarop aandring om gevoer te word nie.
7.
Waar het skryf vir jou begin?
Ek dink dit het al letterlik in kleutertyd begin.
Voordat ek kon lees het my ouma en my ma baie stories vir my voorgelees en
selfs hulle eie stories opgemaak en vertel. Nadat ek leer lees het, het ek ons
kleindorpie se miniatuur bibliotekie se kinderafdeling in ‘n japtrap klaar
gelees en toe moes my ouers maar bontspring om elke maand vir my ‘n boek of
twee in die ‘stad’ te koop. My liefde vir skryf is ‘n direkte uitvloeisel uit
my liefde vir lees. Ek het my eerste storie geskryf om koshuis-studietyd te
verwyl. My Afrikaanse onderwyser het die storie raakgelees en in ons
skoolkoerantjie geplaas.
8.
Wat is die mooiste terugvoer wat jy al ontvang
het?
My ouma se woorde. “Ouma is trots op jou.”
9.
Daar is tye wat ‘n mens twyfel oor jou eie skryf
vermoë, daar is ook tye wat kritiek jou teen die aarde kan gooi en jy dink nee
wat ek sien nie kans hiervoor nie. Watter raad het jou tweemaal laat dink oor
jou skryfloopbaan?
Wel, my swartste oomblik was die terugvoer wat ek
jare gelede op een van my stories gekry het. Ek dink dit was vir ‘n ATKV
kompetisie en die gewraakte woorde was: “Swak! Nie eens ‘n skoolopstel werd
nie!”
Ek het werklik gehoop die aarde sluk my in, MAAR
daar was ander kommentare ook op die einste skryfstuk en hulle was werklik
positiewe kommentaar. Ek het vir ‘n rukkie my wonde gelek en toe besluit dat ek
my beslis nie so maklik gaan laat onderkry nie. Ek dink een van my beste en
slegste eienskappe is die feit dat ek bitter koppig is, en as ek besluit het ek
wil iets doen sal ek aanhou en aanhou totdat ek dit regkry.
10.
Wat is jou raad vir aspirant skrywers?
Glo asseblief in jouself en moet nooit opgee nie.
Indien jy dit kan bekostig, oorweeg om ‘n goeie skryfkursus te doen, want al
het jy baie talent, is daar heelwat tegniese punte wat mens moet baasraak.
(Natuurlik is daar mense wat baie goed sonder ‘n kursus kan klaarkom, maar ek
het een nodig gehad om die meer tegniese punte te leer.”
11.
Wat sal jy nog als wil skryf en wat is in die
pyplyn?
Ek beplan tans aan ‘n Romanza en daarna wil ek ‘n
roman probeer aanpak.
12.
Wat staan jou die meeste aan in skryf?
Dit is ontspannend en lekker om ‘n karakter wat
in jou kop bly te laat lewe kry.
13.
Wie is jou gunsteling skrywer en hoekom?
Chanette Paul omdat haar stories so boeiend is.
14.
Waar het jy geleer oor skryf?
Ek het by Janie van Skryfgeheime ‘n kursus geneem
en ek het regtig baie baat daarby gevind. Verder het ek maar oraloor wenke en
raad opgetel en dit my eie gemaak. Blaaie soos SA Skrywers is ook ‘n goeie
leerskool.
Persoonlike vragies
15.
Het jy enige ander belangstelling behalwe skryf?
Ek is ‘n Rekenmeester van beroep so ek geniet
syfers. Verder geniet ek dit baie om tyd saam met my familie en diere te
spandeer.
16.
Is jy ‘n soettand?
Ongelukkig ja. (Ek was nie een voordat ek getroud
is nie, maar my man het ‘n slegte invloed op my gehad 😊
17.
Gunsteling gereg?
Dit wissel van tyd tot tyd. Huidiglik is Sushi
voor op die lys.
18.
Reis jy graag en waarheen?
Eintlik hou ek meer daarvan om by die huis te
bly, maar indien ek reis verkies ek dit om na klein afgeleë plekkies te gaan.
19.
Hoe kan mense jou kontak?
20.
Facebook
https://www.facebook.com/antoinette.venter.336
Synopsis.
Soos die dobbelsteen val is ‘n
kortverhaalbundel met sestien stories in.
Dit handel oor die lief en leed
van gewone mense en wat hulle gedoen het met die dobbelsteen wat soms geval het
soos wat hy moet – en soms nie.
In ‘Om ‘n skoenlapper te steel.’
ontmoet ons ‘n man wat omtrent enige iets sal doen vir sy sterwende dogtertjie.
In ‘Haar verlore seun’ lees ons van ‘n ma wat se hart gebreek is wanneer haar
enigste seun verdwyn. Daar is ook meer positiewe verhale. In ‘Van brulpaddas en
toiletpapier’ hoor ons hoe ‘n rol toiletpapier die koers van jou lewe kan
verander. Verder is daar ook liefdesverhale vir die romantiese siele onder ons.
Bio
Antoinette Venter woon in die 'lifelike' Jeffreysbaai omgewing saam met haar man, ouma, skoonma, vier honed en
twee katte. Haar liefde vir lees kom
reeds van jongs af aan.
Vorige publikasies sluit in:
·
Verskeie tydskrifverhale
·
‘Soos die blou roos blom’ bonus-kortverhaal in
een van die Romanzaliefde e-boeke van Lapa
·
‘Offerliefde’ in die Hartlam bundel (Tafelberg)
·
Verskeie publikasies in saamgestelde bundels
deur kleiner uitgewerye.
BESTEL GERUS HAAR BOEK DIREK BY ANTOINETTE EN
ONDERSTEUN ONS SKRYWERS.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking