Donderdag 25 Julie 2019

Huismoles: Deel 2 - Die huis in Terrace straat deur Lynelle Clark

Deel 2

“Hi jy, het jy die vorm gekry?” hoor sy Rietjie, en sy draai haar kop, diep denkend, nie seker wat om te dink van die snaakse gebeure nie, en antwoord. “Ja,” en swaai die vel papier voor haar kollega se neus. “Goed, ek vul net gou die vormpie in. Wat dink jy?”
“Iets broei hier?” antwoord Smittie.
“Ek bedoel van die prys, dink jy die prys is reg? Ek dink dit is te veel.”
“Jip, dink ook so. Wat van R1 750 000, die huis het aandag nodig,” gee Smittie haar opinie.
“Klink reg vir my, het jy daai badkamer gesien. Dit is skrikwekkend en stink.”
“Verseker so. Wonder wat gaan aan met Annelien.”
“Ek hoor sy het geskei onlangs. Was maar ‘n lelike storie,” Lig Rietjie haar in en Smittie knik weereens haar kop. Wie is die man, wonder sy? En hoekom was dit so ooglopend dat Annelien vir hom bang was?
Dit is net twee van die talle vrae wat in haar kop maal.
“Kom, ons moet ry, daar is nog 4 ander plekke wat ons moet sien voor 12:00.”
“Reg, weg is ons,” beaam Smittie, ingedagte verlaat albei die huis. Die tuin is duidelik droog en onversorgd. Oral in die tuin is daar tekens van verwaarlosing. In die hoek van die tuin, onder ‘n groot boom wat lang skadus gooi, staan ‘n hondehok. Eintlik heel uit sy plek. Maar daar is geen teken van ‘n hond nie. Gewoonlik word honde toegesluit tydens ope ure maar oral is die hekke wat na agter lei oop. Iets is hier aan die gang, maar wat? Wonder Smittie weer maar volg Rietjie uit by die gemotoriseerde hek.
Skielik kriewel dit iets vreeslik in haar nek. Dit voel kompleet of haar nekhare rys. Toe sy terug kyk staan Annelien by die boonste venster van die eerste vloer en uitstaar, wasbleek. Smittie wou net haar hand lig in ‘n groet toe kom die vreemde man te voorskyn en ruk haar aan die nek weg. Vir ‘n oomblik ontmoet hul oë en die man se skerp kykers boor in hare in en net so skielik verdwyn hy agter die toegetrekte gordyn in.
Die dag gaan vinnig verby en toe Smittie weer by die huis stop was dit alreeds half sewe. Die dag was bedrywig maar oppad terug van haar laaste afspraak kom die gebeure van die huis in Glen Estate weer na vore. Wie was die man? Dit was baie duidelik dat Annelien bang was vir die man. Hoekom?
Die foon lui en flink antwoord sy sonder om na die skerm te kyk.
“Mev Smit,” kom die barse stem oor die foon en haar hare rys onmiddelik. Rillings slaan oor haar arms uit en sy probeer om so beleefd as moontlik te antwoord, wetende wie aan die anderkant van die foon is. “Dit is Smittie wat praat,” Sy is al so gewoond om haar bynaam te gee dat dit ‘n outomatiese reaksie is maar skielik is sy spyt dat sy dit wel gedoen het.
“Ek verkies Mev. Smit.” Kom die bars stem weer.
“Hoe kan ek help?” en Smittie bly ‘n oomblik stil nie seker wat om die man te noem nie.
“Die van is Benade, Werner Benade. Ek gaan sommer dadelik tot die punt kom Mevrou. Jou nuuskierigheid gaan jou duur te staan kom.” Verstom staar sy na die slimfoon, nie seker of sy reg gehoor het nie.
“Jy hou jou neus uit my sake uit. Jy is nie welkom by die huis nie. Verstaan.” En nog voor sy kon antwoord is die lyn dood.
“Nou wil jy nou meer,” mompel sy, stom geslaan.
“Het jy gepraat, pop?” vra Peet en kyk momenteel op van af die program wat hy kyk.
“Is net ‘n snaakse oproep, een wat ek glad nie verstaan nie.”
“Ek sien.” En net so is sy aandag weer op die TV stel gevestig. Sy kan hom nie blameer nie, haar werk is van so aard dat sy min rerig oor dit kan praat.
Net toe lui haar foon weer, dit is Rietjie.
“Hoe gaan dit?” kom haar stem oor die golwe.
“Goed, gaan gou kos maak. Jy?”
“Ons is op die pad. Luister, ek het ‘n groot guns om te vra. Sal jy die Terrace listing kan oplaai asb? Frik se ma is ernstig siek en ons is oppad Mezina toe. Ek het al die fotos vir jou gee-pos.”
“Jammer om te hoor, julle moet veilig ry. Ja natuurlik, maak so. Ek laai dit op as span Loerie op.”
“Is reg. Ek sal terug wees teen Donderdag en het klaar met Madie gesels.”
“Goed, ek sal die vort hou. Groete vir Frik. Hoop sy word gou gesond.” En die lyn gaan dood. Op pad kombuis toe bly die dag se gebeure af speel in haar kop.
“Wie het gebel?” vra Peet, reeds besig om groente te rasper vir die pot sop.
Rietjie vertel hom van Rietjie se skoonma terwyl hul die aandete voorberei. Net na nege is hul klaar en die kombuis aan die kant toe sy voor haar skootrekenaar inskuif. 
Die program op haar skerm staar blinkoog terug na haar. Afwagtend vir die inligting wat sy besig is om in te voer. Sy het 4 eiendomme om te lys voor môre. Haar dag is vol more en sy sal nie tyd kry nie. Môre aand gaan hulle by die kinders kuier, iets waarna sy baie uitsien. Maar na die telefoon gesprek is sy meer geïnteresseerd in die eerste eiendom wat hulle gaan besoek het.
Smittie bring ‘n nuwe blad op die skerm en tik Benade se van in die soek blokkie. Maar daar kom niks van belang op nie. Dan gaan sy op die groep en vind die gelyste huis. Die inligting wat sy soek staar haar in die gesig. Die eienaar is Johannes Christoffel Mouton. Nie Benade nie. So wie is Benade dan? Volgens die inligting is Annelien se van Harmse. Hoe pas die twee by mekaar? Wat gaan aan by die huis?Weer soek sy die soekenjin op en tik die keer die adres in. Die heel eerste berig het ‘n foto by. ‘n Ambulans is voor die huis geparkeer. Polisie band is op die voorgrond, voor die huis gespan, en ‘n paar nuuskieriges staan daaragter. Duidelik geskok, staar hulle na die gebeure. Die berig is twee maande gelede geskryf. Haastig lees sy die inhoud daarvan. Dit lyk soos ‘n inbraak wat verkeerd gegaan het. Geld en wapens was hoofsaaklik gesteel, asook ‘n waardevolle halsnoer. Die waarde daarvan der duisende werd. Mev Mouton was haastig na die hospitaal geneem met steekwonde en was in ‘n bedenklike toestand. Die eienaar, Chris Mouton, is noodlottig gewond. Met die plasing van die berig was geen inligting beskikbaar nie. Dan vergroot sy die foto en gaan dit sorgvuldig deur en verstar. Daar, aan die linkerkant van die foto is Benade, geklee in uniform, hy is een van die polisiemanne wat langs die ambulans staan. Sy sal hom enige plek herken. Weer lees sy die artikel. Maak ‘n nota van die belangrikste feite en soek nog verder. ‘n Tweede berig, geplaas ‘n paar dae later, verklaar dat Mev Mouton onverklaarbaar verdwyn het uit die hospitaal, drie dae later. Geen inligting is beskikbaar nie. Net onder die berig, in ‘n ander kolom is daar ‘n klein beriggie met Mnr Mouton se begrafnisreëlings wat presies ‘n week na sy dood was, sommer hier naby, uit die NG Kerk.
Sy kliek nog voort opsoek na enige inligting en dan op die soekenjin se tweede bladsy is daar ‘n opskrif wat haar oog vang. Toe sy dit oopmaak rek haar oë van verbasing. ‘n Foto van Benade in ‘n somber kyk staar terug na haar. Met angs lees Smittie die berig verder. Hy is onder verdenking van die moord op Mouton en is op vrye voet. Daar is ‘n lasbrief uit vir sy inhegtenisname. ‘n Kontak nommer word gegee, indien die publiek enige inligting kan verskaf. Die laaste sin laat haar hart sommer krimp. Hy is baie gevaarlik en moet nie genader word nie. Op vrye voet.

En tog is hy weer by die moordtoneel, helder oordag. Met baie getuienisse. Is hy dan so arrogant om te dink dat niemand hom sal herken nie? As polisieman sal hy tog weet om weg te bly. En hoekom waarsku hy haar om weg te bly? Het sy dalk iets gesien sonder dat sy besef het wat dit is? Maar die ergste van alles is, hy ken haar nommer. Sal hy dan ook weet waar sy bly?

Daardie nag lê sy en rondrol in haar bed. Peet salig onbewus van haar kwellinge. Niks maak sin by die huis in Terrace straat nie maar dat daar groot fout is, is gewis. Maar die belangrikste vraag van almal was: Waar is Marieta Mouton? Die foto waarop sy afgekom het van die verdwyne vrou het ‘n sprankelende persoon gewys. Afgeneem tydens ‘n ontspanne oomblik. Haar glimlag gemaklik en haar potblou oe sprankelende. Sy en haar man het geen kinders gehad nie. Hulle was alreeds tien jaar getroud. Albei het ‘n besigheid gehad waarmee dit goed gegaan het. Sy was ‘n oogarts en haar man ‘n chiropraktisyn. En nou is sy weg. Haar beeld ‘n konstante vraag in haar gemoed.

Uit frustrasie staan sy later op, maak koffie en gaan sit weer voor haar rekenaar. In die briefhouer wat sy spesifiek vir die huis geskep het, gaan sy deur die fotos. Omdat dit te groot is begin sy om van dit kleiner te maak. Stelselmatig werk sy deur dit en stop dan by een foto. ‘n Foto van die badkamer. Oor die badrand hang ‘n vuil lap. Hoekom het Riekie dit nie verwyder nie, wonder sy? Die lap maak die foto eintlik onbruikbaar. Maar dan zoom sy in op die lap. Sy kan sweer dit is bloed. Die donkerrooi vlekke lyk heeltemal te verdag. Smittie sit die foto in ‘n ander leer en merk dit ‘Verdag’. Dan gaan sy verder en volg die klompie fotos. Riekie se fotos is soos altyd, puik. Dan stop sy weer.

Die keer by die hoofslaapkamerfoto. Die afgeleefde duvet is gevlek. Haar nuuskierigheid nou goed geprikkel, fokus sy weer in. Die vlek, is te klein maar sy sal haar kop op ‘n blok sit dat dit bloed is. “Wat gaan aan Annelien?” vra sy saggies. “Waarin het jy gestap met hierdie huis?” Ingedagte maak sy klaar en sit haar rekenaar af. Dan staan sy op en gaan maak koffie.

Versigtig stap sy af met die gang en stap hul slaapkamer binne. Peet het duidelik net wakker geword. “Als reg pop?” vra hy slaperig, en sy sit sy beker langs hom op die bedkassie neer.
“Ja, net moeg,” antwoord sy en verdwyn in die badkamer in.

“Sover is dit ‘n dol oggend, die foon hou nie op met lui nie. ‘n Koper wil een van my listings sien, en die huis in Terrace weg het ook baie aandag gekry. My eerste afspraak daar is net na 12:00, sodra ons klaar is met die ope uur. Gee jy om?”
“Nee glad nie. Maak klaar ek sit solank die ketel aan,” verskoon Smittie haar kollega wat nog met nat hare rond trippel. Haar Labrador lê rustig, kop op sy gekruisde bene en bekyk hul met groot oë aan, net binnekant die eetkamer.  Die houtvloer glimmend in die oggendson. “Dankie. Ek sal gou maak. Ons het eers gisteraand laat terug gekom.” En sy verdwyn die gang af. 

Die haardroër word aangeskakel en Smittie maak haarself tuis in die moderne kombuis. Haar gedagtes by die huis in Terrace en die onbeantwoorde vrae. Teen die gelyste prys behoort hulle heelwat belangstellendes te kry. Dit is ‘n gesogte area in Edenvale. Hopelik sal een van hulle genoeg belangstel om ‘n offer in te sit. Hulle kan albei doen met ‘n verkope. Geld is maar skraps deesdae.

Teen die tyd wat hulle in die pad val het hulle twee koppies koffie weggeslaan en is reg vir die dag. Dit is Rietjie se beurt om te ry en, amper roekeloos, besoek hulle elke huis in vinnige tussenposes. Tyd is  altyd ‘n faktor. “Hoe gaan dit met die tannie?” vra Smittie so tussen die ryery deur. 
“My skoonma het ‘n ligte beroerte gehad, sy is verlam aan die eenkant van haar gesig. Die trek sommer lelik skeef.” 
"Jammer om te hoor.”
“Die dokter is darem optimistiese.”
“Dit is goed, hoop sy sterk gou aan.”

Om 7 huise in een uur te besoek wil gedoen wees en presies 2-minute voor twaalf stop hulle voor die huis in Terrace weg. Twee karre staan geparkeer in die straat. Die kliënte besig om uit te klim uit die BMW. Die ander kar, ‘n Range Rover het geen insittendes nie. Waar sal die mense wees? Wonder Smittie terwyl sy Rietjie volg. 

Die man en vrou, ‘n Indiër egpaar, groet beleefd en saam stap hulle na die huis. Die tuin se droë toestand ‘n skrille kontras teen die wit mure. Selfs so diep in die winter is tuine geneig om groenigheid en lewe te wys, maar die een was heeltemal gestroop daarvan. 

Rietjie klop en die deur swaai vanself oop. Smittie kon nie help om rond te kyk nie. Die eerie gevoel van die vorige besoek is weer daar, nou net meer intens. En wie het die deur oopgemaak? 

“Rietjie, wag ek sal eerste instap,” sê Smittie. Om een of ander rede wil sy Rietjie beskerm van wat ookal agter die deur is. 
“Ek is mos klaar hier.” antwoord Rietjie, amper verergd. Sy swaai die swaar deur nog verder oop en gee twee tree in die huis in. Dan verbreek die stilte soos wat sy gil; ‘n bloedstollende gil wat deur die winterlug klief. 

Smittie druk die kliënte vinnig weg sodat sy eerste kan instap. Die oomblik wat sy langs Rietjie staan merk sy twee dinge onmiddelik op. Baie bloed en ‘n persoon, uitgestrek op die koue teëls. Die reuk van dood nou ‘n onmisbare klank wat hul laat snak na asem. 

Versigtig stap Smittie nader en sak af na die lewelose liggaam. Nikssiende oë staar van uit ‘n wasbleek gesig na haar. Annelien.

Kopiereg voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...