Woensdag 03 Julie 2019

Diamant Divas - Tyd genees



Die winter is behoorlik hier en ‘n mens is geneig om stadiger te werk… seker oor die dik klere wat ‘n mens aan het. Die wind huil behoorlik hier om die huis wat die koue behoorlik onderstreep. So trek daardie warm koffie nader en dan kuier ons heerlik saam. Vandag se program is nie baie lank nie, eintlik net ‘n gedagte wat ek wil deel met julle. Verder gaan ons luister na musiek sodat julle die res van die dag net bietjie kan onspan so in die besig wees.
Die gedagte gaan oor pyn, hartseer, siekte en onverwagse situasies wat skielik opduik dat jy heeltemal omvergegooi word in jou dag tot dag beplanning. Ek het dit nou weer in die week beleef. Daardie skielike ‘curve ball’ en dan moet jy herbeplan, herrangskik net om by als te kom.
‘n Maat word skielik weggevat. Die een oomblik het julle nog saam beplan en gesels, dan net so is hy/sy weg. Die lewe is met die ewige vervang in ‘n oomblik. Of siekte eis sy pond vleis. In mekaar getrek krom is jy kwesbaar en skielik is jy afhanklik van jou mede mens. Of, Skielik erf jy ‘n projek en jou beplanning is heeltemal onderstebo gegooi soos met my die week.
Elkeen se moeilikheidsgraad is verskillend van die ander en meer intense. Elkeen word op ‘n ander manier verwerk maar dit bly traumaties. Vernaam dood en siekte kan ‘n mens as te ware ontspoor. Jou eie gesondheid kan daar onder lei en voor jy jou oë uitvee is jy ook by die dokter.
Hierdie tipes van onverwagte verandering kan ‘n mens ruk tot in die siel. Hoe verwerk ons dit dan?
As enkellopende voel jy die meeste van die tyd ongebalanseerd maar wanneer daar ‘n skielike hekkie kom wat jy moet oorkom word die pad nog styler. Die bult word ‘n berg en jy voel hulpeloos en verskriklik alleen.
In die tussen tyd gaan die lewe aan. Die horlosiewyser staan nie stil nie. Sekonde vir sekonde skuif dit voort. Stadig maar seker op ‘n slakkepas en wanneer jy jou oë weer uitvee dan is ‘n dag, ‘n week of ‘n jaar verby.  Tyd ‘n kosbare kleinnood wat nie weer teruggedraai of gekoop kan word nie. Wanneer dit verby is, is dit verby, die uurglas klaar omgedraai om die volgende siklus af te meet. Tyd wag vir niemand nie.
Soms het ons hierdie tye nodig net om weer asem te kan haal. Te reflekteer en verlore slaap in te haal. Maar soms word dit uitgerek en jy staan stil, stagneer eintlik. En jy is presies op dieselfde plek waar jy was ‘n maand terug. Dit is nie goed nie. Om dan weer aan die gang te kom is ‘n tydsame proses voor jy weer ten volle gespoor is vir die lewe.
Die lewe bly beweeg, die getye bly kom en gaan. Die son kom op en gaan onder en die maan beweeg om die aarde. Jy is omring van konstante beweging al staan jy stil.
Hoe jy dit verwerk hang van jou af.
Baie voel agterna skuldig oor hierdie vermorste tyd. Of hulle voel hulle het uitgemis op soveel mooi dinge wat met hul kinders of kleinkinders gebeur het. Maar dit is onnodig om so te voel. Jy was tog op ‘n plek waar jy pyn en die gevolge daarvan moes hanteer. Niemand gaan dit teen jou hou nie. So hoekom wil jy jouself skuldig hou.
Wat tel is die hier en nou. Gebruik dit ten volle. Maak elke sekonde tel. Skryf daardie boek of gedig wat nog altyd so brandend in jou was. Vat daardie vakansie en gaan kuier by vriende oor die groot waters. Ontmoet nuwe mense. Leef. Dit is die grootste beloning wat jy jouself kan gee. Geniet elke oomblik van jou lewe van hier af.
Selfs in daardie tye van stilstand het jy geleer. Jy het geleer om ‘n seer te verwerk sodat jy weer kan aan beweeg. Jy het sterker geword, innerlike krag ontwikkel wat jy voorheen nie gehad het nie. Ons winter is soms huilend soos die wind, koud en vreeslik alleen maar die lente kom weer. Wanneer daardie eerste bloeisel uitkom weet jy dit is nou jou tyd om te blom. Om vrug te dra en te skitter. Dit is tog die belofte van die winter, lente kom weer. Dit is net ‘n seisoen, dan breek die mooi deur. Onverwags, helder en vol lewe.
Tyd is kosbaar, maar tyd is ook die grootste teenvoeter teen pyn. Om weer jou ewewig terug te kry en weer mens te word. Tyd genees alles. Ons wil dit nie altyd glo nie maar dit is waar. Tyd genees baie beter as ‘n pleister of ‘n pil. Tyd se genesende kuur lê juis in die tyd wat verbygaan. Tyd versag die pyn en seer. Dit temper die verlies en jy geniet weer die lewe.
Gun jouself die tyd, maar bowenal gun jouself die tyd om weer terug te kom. En sien hoe jy as mens ontwikkel het. Vind vreugde daarin en geniet dit wat tyd jou gee.
Tot ‘n volgende keer vriende, wees geduldig met jouself.
Mooi loop.




ELAN GLOBAL RADIO
Die Stasie Vir Passievolle Mense
Tyd genees die seer en lekker luister musiek is die onderwerp van môre se gesprek.
LYNELLE CLARK: DIAMANT DIVAS. 
Die program vir die enkellopend waarin ons saam gesels oor al die slagysters, vrae, vrese en vreugdes van die enkel lopende.
WOENSDAG 3 JULIE 2019 om 10h00 SA Tyd.
GESELS MET ONS:
Web: https://www.elanglobalradio.com/
Faceboek: Elan Global Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
Pinterest: https://za.pinterest.com/elan_global_radio/
WhatsApp: 066 305 3580
Gaan kuier en leer meer van ons, blogg saam en luister saam:
https://www.elanglobalradio.com/
SKAKEL IN: 
SIMPLE RADIO App.
http://14123.live.streamtheworld.com/SAM04AAC125_SC
http://listen.samcloud.com/w/90758/EGR/?play=y#history
http://www.liveonlineradio.net/south-africa/elan-global-radio.htm
http://radio.garden/live/centurion/elanglobal-radio/


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...