Net
soms sou ek ook wou weet wat is ware geluk, dink
Netta terwyl sy na die bedrywighede om haar kyk. Leonie was nog altyd ‘n
raakvat mens, haar huis en kinders getuig daarvan. Sy weet net hoe om als reg
te doen. Anders as sy – haar lewe is presies die teenoorgestelde. Op die oog af lyk haar vriendin gelukkig,
tevrede en met ‘n man wat onvoorwaardelik lief is vir haar; hoe dan anders. Sy
sug beswaard, eintlik meer verwese as sy eerlik moet wees.
“Wat gaan aan met jou?” verbreek Leonie die
stilte
“Niks nie.”
“Dit lyk nie soos niks nie. Daardie sug
praat boekdele.”
“Hou op karring, asseblief.” Skerm sy. Hoe
verwoord sy haar binneste aan haar?
“Ek karring nie, stel net belang.”
“Wel stop daarmee.” Met dit storm sy uit die
kombuis en loop na haar kar toe op ‘n drafstappie. Haar trane te vlak vir haar eie
gemoedsrus. Die wêreld is nat maar sy
steur haar min daaraan. Vandag sien sy niks raak nie. Hoeveel kan een mens nog hanteer? Wonder sy moeg.
“Aggenee man, ‘n papwiel. Ek is nie lus
hiervoor nie!” roep sy in frustrasie uit en huil onbedaarlik terwyl sy afsak
teen die kar tot in ‘n modderpoel. Te laat merk sy die nat spul op en besef
daar is geen manier wat sy so in die kar kan klim nie en sug moedeloos.
“Wat op aarde gaan hier aan?” met een kyk
som Leonie die situasie op en kan nie help om uit te bars van die lag. Die
koddige prentjie van haar papnat vriendin is net te snaaks.
“Verlekker jou in my lot.” Snou Netta haar
toe maar dan kyk sy ook na haar situasie en glimlag, sy moet saamstem, dit is
vrek snaaks. Die volgende oomblik sif nog water van bo neer en gou was hulle
albei deurdrenk. Trane loop nou vrylik oor Netta se gesig in gelid met die
druppels en alhoewel sy probeer glimlag mislei dit Leonie nie. Sy weet haar
vriendin se gemoed is vol en sy druk haar styf vas.
Leonie weet die jaar was swaar en nog lank
nie verby. Hoe kon Frank dit aan haar doen? Haar net so los met geen geld om
vir haarself of sy seun te sorg nie. Haar soeke na werk lewer ook niks op nie
en die uitsettingsbevel het gister opgedaag. Waarheen sal sy gaan? Wat gaan van
haar word?
Sy, wat Leonie is, het self nie genoeg plek
vir haar eie gesin nie. Haar 4 kinders vat elke denkbare spasie in die huis op.
Hulle sukkel ook met Etienne se kleiner salaris vandat die maatskappy moes sny
op elke plek. Elke sent word 4 keer omgedraai.
Elke moontlike deur het in Netta se gesig
toegeklap en sy kan haar eintlik nie verkwalik nie. Dit was ‘n geleentheid om stoom
af te blaas.
Albei haar ouers is lankal oorlede en sy
was die enigste kind. Daar was geen heenkome vir haar en klein Nate nie.
ꝏꝏꝏ
Later, na ‘n warm bad en skoon klere vanuit
Leonie se kas het Netta by haar huis in gestap. Neels was so goed om die
karwiel om te ruil terwyl hulle binne was. Leonie het haar dadelik in ‘n warm
bad met die heerlikste borrels gesit waar sy vir ‘n paar minute net weer vrou
kon word. Leonie is ‘n gelukkige vrou. Hoekom kon Frank nie ook so goed vir
haar gesorg het nie?
“Mamma?” roep Nate haar terug uit haar
morbiede gedagtes.
“Ja Nate?”
“Mamma, Jack het my genooi na sy
verjaarsdag partytjie môre, kan ek
gaan, asseblief, ma?” Haar skouers sak. Nog ‘n uitgawe. Sy is al so moeg om nee
te sê. Negejarige groen ogies staar haar
opgewonde aan en sy sluk verbouereerd. “Ek weet nie Nate. Mamma kan nie nou ‘n
geskenk koop nie.”
“Mamma hoef nie te worry nie, ek sal een
van my onoopgemaakte karretjies vir hom gee. Ek het nie so baie karretjies
nodig nie.”
“Ai my kind,” en trane stroom opnuut weer
oor haar wange.
“Here, dankie vir ‘n kind wat verstaan.” Prewel
sy saggies as sy deur die donkerkop vryf; haar hart stukkend. Hulle het so lank
vir hom gewag. Tien jaar van hul getroude lewe was op hul knieë deurgebring.
Haar beker van geluk het oor geloop toe sy uiteindelik swanger geword het. Toe,
agt jaar later vertel Frank hy het iemand anders gevind. Dié kind, het sy uit gevind is al 12. Hy het haar twaalf jaar lank
verkul terwyl sy alles in haar vermoë gedoen het om vir hom ‘n kind te gee.
Selfs toe sy dit gegee het was dit nie goed genoeg nie. Bitter draai sy weg.
Kosmaak tyd lê soos ‘n berg voor haar.
ꝏꝏꝏ
“Hello Tannie,” groet Jack beleefd. Die swartkop
bons opgewonde rond die oomblik toe hy Nate gewaar. Sy groet maar is al klaar vergete
toe Nate die geskenk oorhandig.
“Jis Nate, dit is mooi. Ma!” gil hy en
hardloop weg om haar die nuwe speelding te wys. Netta onthou die trok. Frans
het dit die vorige jaar vir Nate gegee. Toe die ander kind ook instap was die
geskenk terstond terug gesit in die boks en nooit weer aan geraak nie. Nou gee
hy dit vir Jack. Haar kind het duidelik oor die verraad gekom. Wens sy kon ook.
Toe Frans ‘n opmerking daaroor gemaak het,
het sy hom net geignoreer. Die man het geen gevoel vir Nate nie en geen geskenk
sou hom omkoop nie.
“Verskoon tog dame, is dit die Pieterse
huishouding?” vra ‘n stem agter haar en sy draai om net om op te staar na die
lang man. Met een oogopslag neem sy als van hom in. Van die leê trouring vinger tot die grys in die donker hare. Sy groen oë helder en vol lewenslus. Hy kug weer en dit ruk haar terug. “Ja,
dit is die regte huis.”
“Dankie. Jy het nie dalk so ‘n kort vrou
gesien wat…” met die hoor Netta ‘n gil agter haar en Fransien storm op die man
af. “Boeta! Jy het dit gemaak!” en sy omhels hom vuriglik. Hy lag hartlik vir
haar manewales en sit haar dan veilig op die grond neer. “Ek sien jy het Netta
ontmoet.”
“Nie rerig nie, sus. Ek wou net seker maak
ek is by die regte huis. Julle het omtrent verbou van ek laas hier was.”
“Peet het omtrent gewerskaf om als reg te
kry maar kom, dan wys ek jou die plek.” Sy storm die huis binne en hy tou agter
haar aan. Netta verstom haar aan die gemaklike verhouding tussen broer en suster.
Dit was iets wat sy altyd gemis het. Sy het haarself belowe dat haar kinders
die vreugde van ‘n boetie of sussie sou ken, en kyk nou. Nate was besig om kop onderste
bo in ‘n boom te swaai en sy draai benoud weg.
“Netta, hier is ons!” hoor sy haar naam en
sy sluit aan by nog ouers. Jare hul senior drink sy die aangebode drankie
terwyl sy die gesprek volg. Sy moes heeltemal weggeraak het in haar eie
gedagtes toe sy ‘n tik aan haar skouer voel. Toe sy opkyk, kyk sy in helder
groen oë vas.
“Ek glo nie ons het al ontmoet nie.” begin
hy en sy knik.
“Ek is Teuns van Niekerk, en met wie het ek
die voorreg om te gesels?”
Sy glimlag half verleë, “Jeanette Barnard.
Maar my vriende noem my Netta.”
“Bly te kenne, Jeanette. Kan ek jou maar
Netta noem?”
“Ja seker Teuns.”
“Hoe lank ken jy al my sus?”
“Seker so vyf jaar, die twee seuns ken
mekaar van Graad R af en is dik pelle.”
“Dit is goed vir seuns om vriende te hê.”
“Ja dit is.” ‘n Gemaklike stilte val tussen
hulle terwyl hulle luister na die gesprek om hulle. Toe Netta weer op haar
horlosie kyk is dit al vyfuur, tyd om te gaan. Sy roep Nate nader en vra dat hy
sy goed moet kry.
“Ag nee Netta, bly asseblief,” se Fransien,
“Hier is so baie kos, bly gerus.”
“Asseblief, Ma,” soebat Nate ook, “ons
speel nou baie lekker. Het ma die tent gesien wat Jack se oom vir hom gegee
het?” en sonder om te wag vir ‘n antwoord is hy vort waar seuns om die blou
tent vergader.
Die res van die aand loop lekker gesellig.
Teen die tyd wat kos opgedien word was die kinders duidelik moeg gespeel. Sonder
seremonie word hulle eerste kos gegee en een na die ander raak hulle aan die
slaap terwyl die ouers nog heerlik kuier.
“Kom ek help jou met jou seun,” bied Teuns
aan en tel Nate op sonder om te wag vir toestemming. By die kar lê hy hom op die agtersitplek neer en kom dan regop. “Daarsy. Dit was
heerlik om jou te ontmoet Netta. Ek hoop ons kan weer so ‘n geleentheid kry
binnekort.”
“Dankie Teuns.” En sonder om verder te
gesels klim sy in die kar en ry weg.
“Daardie vrou sukkel iets vreesliks,”
vertel sy suster hom waar hy die kar agterna staar.
“Hoe so?” vra hy ingedagte.
“Haar man het haar net so gelos met geen onderhoud.
Sy kry ook nie werk nie. Ek verstaan sy moet die einde van die maand uit haar
blyplek uit.”
Stilwyend staar hy na die rooi liggies en
kyk dan na sy suster, “Kan jy my haar nommer gee? Ek kan dalk moontlik help.”
“Dit sal fantasties wees, sy het rerig hulp
nodig.”
ꝏꝏꝏ
“My broer wil weet of ek jou nommer vir hom
kan gee?” kom die WhatsApp boodskap deur net toe Netta by die huis in stap. Hoekom wil hy my nommer hê? Wonder sy. Die aand was lekker maar daar is niks wat sy aan enigiemand
kan bied nie. Haar oë val oor die karig
gemeubileerd huisie wat sy al twee jaar bewoon. Frans het in die begin gesorg
dat sy aan niks tekort skiet nie maar soos wat tyd verloop het, het die geld minder
geword en later heeltemal gestop. Genadiglik het sy genoegsaam gespaar maar die
spaargeldjies is ook al amper op. Sy weet nie meer nie.
“Hoekom?” vra sy amper agressief.
“Hy sal self aan jou verduidelik.” kom die
onmiddelike antwoord.
“Ek is nie lus vir nonsens nie.” antwoord
sy moeg.
“Ek belowe jou my boeta is opreg in sy
navraag. Hy wil graag help.”
“Hoe?”
“Praat asseblief self met hom. Is dit reg,
kan ek maar gee?”
“Is reg, ek soek net nie enige probleme
nie.”
“Jy sal nie spyt wees nie. Ek dink hy wil
jou ‘n tweede kans gun.”
“Tweede kans se gat man, ek het al so baie
stories gehoor en dan kos dit my net. Ek het nie geld om te mors nie.” wip sy
haar onmiddelik en haar vingers sukkel om die klein knoppies korrek te druk. Haar
spelling lyk beroerd maar wie gee om oor spelling wanneer die wêreld om jou in
mekaar tuimel.
“Hy wil werklik net help. Indien hy droog
maak laat weet jy my en ek sort hom vir jou uit.” en sy plaas ‘n klomp laggende
gesiggies by die gesprek. Netta hoop dit is waar want van vryerige mans wil sy niks
weet nie.
Sy het net in die bed gekruip toe haar selfoon
ping. Lusteloos vat sy die ding en kyk by die kennisgewings. ‘n Onbekende
nommer verskyn op die skerm met ‘n boodskap by.
Sy maak die WhatsApp toepassing oop en klik
op die nommer.
“Hello Netta,
Teuns hier. Jammer om jou so laat te hinder,
jy is heel moontlik klaar in droomland.
Ek sal sommer dadelik met die deur in die
huis val.
Ek het ‘n gastehuis in die noorde van
Pretoria. My bestuurderes het gister geloop sonder om vooraf kennis te gee. Ek
sit met ‘n huis vol gaste en niemand wat kyk dat als vlot verloop nie.
Jy sal ideaal wees vir die pos. Ek kan jou
‘n salaris van R15 000 ‘n maand aanbied. Dit sluit ook ‘n kar in vir werk.
Daar is ‘n groot woonstel agter die gastehuis waar jy en jou seun kan bly. Die
pos is onmiddelik beskikbaar.
Laat weet hoe jy voel daaroor en bel my
asb.
Groete, Teuns.”
3 fotos volg en dan ‘n skakel. Versigtig bestudeer
Netta die inligting op die webwerf en lees die boodskap weer. Die geleentheid
klink wonderlik. Maar Nate vorder goed in sy skool, sal die verandering hom nie
skade doen nie? Sy slaap min soos duisende vrae deur haar maal maar toe die son
sy strale oor die huisie gooi bel sy haar jarelange vriendin.
ꝏꝏꝏ
Sy en Teuns spreek af om daardie middag by
die gastehuis te ontmoet. Nate is in ekstase oor die skuif. Selfs toe sy vir
hom vertel dat hy Jack nooit weer gaan sien nie huppel hy rond van blydskap en
sy glimlag weereens vir die kind van haar.
“Ek sal jou graag die kans wil gee en jy
sal my uit ‘n groot verknorsing help. Sien jy kans?” vra hy huiwerig. Nate hol
rond klaar tuis by die plek. Die woonstel wat vir haar gewys is tweekeer haar
huisie se groote. Klaar gemeubileerd met keurige stukke wat haar onmiddelik
welkom laat voel het. Die indrukwekende gastehuis kyk uit oor die rante. Die
horison strek vêr en wyd en die
dekstoele nooi elke gas om uit te ontspan met ‘n glasie wyn in die hand. Die
spannetjie lyk ook almal opgewasse vir hul taak en sy kan nie help as om beindruk
te wees met die gesogte plek se diens nie. Die vol bespreekte gastehuis het
haar volle aandag en stilweg beweeg sy deur die mense om alles te observeer.
“Wat dink jy Nate?” vra sy haar seun waar
hy rustig op ‘n swaai sit. Die hele speelarea is baie netjies uit een gelê en
Nate het die hele middag saam met van die gaste se kinders baljaar op die
klimrame.
“Ek dink hierdie plek is reg vir ons.” Sê hy nadenkend en sy glimlag. Toe Teuns op die stoep verskyn vroetel
sy deur Nate se hare vir oulaas en stap dan met breë skouers haar nuwe baas
tegemoet.
“Ek sien kans. Dankie vir die geleentheid.”
Sê sy met sekerheid en hy glimlag,
gelukkig.
“In daardie geval moet ons jou onmiddelik
help met jou trek. Welkom by Ithuba Lodge.”
‘n Vonkeling in sy kykers maak haar opeens
opgewonde vir die lewe.
Kopiereg@LynelleClark2018