Saterdag 29 September 2018

Ithuba: 'n Tweede kanse Deur Lynelle Clark



Net soms sou ek ook wou weet wat is ware geluk, dink Netta terwyl sy na die bedrywighede om haar kyk. Leonie was nog altyd ‘n raakvat mens, haar huis en kinders getuig daarvan. Sy weet net hoe om als reg te doen. Anders as sy – haar lewe is presies die teenoorgestelde.  Op die oog af lyk haar vriendin gelukkig, tevrede en met ‘n man wat onvoorwaardelik lief is vir haar; hoe dan anders. Sy sug beswaard, eintlik meer verwese as sy eerlik moet wees.
“Wat gaan aan met jou?” verbreek Leonie die stilte
“Niks nie.”
“Dit lyk nie soos niks nie. Daardie sug praat boekdele.”
“Hou op karring, asseblief.” Skerm sy. Hoe verwoord sy haar binneste aan haar?
“Ek karring nie, stel net belang.”
“Wel stop daarmee.” Met dit storm sy uit die kombuis en loop na haar kar toe op ‘n drafstappie. Haar trane te vlak vir haar eie gemoedsrus.  Die wêreld is nat maar sy steur haar min daaraan. Vandag sien sy niks raak nie. Hoeveel kan een mens nog hanteer? Wonder sy moeg. 
“Aggenee man, ‘n papwiel. Ek is nie lus hiervoor nie!” roep sy in frustrasie uit en huil onbedaarlik terwyl sy afsak teen die kar tot in ‘n modderpoel. Te laat merk sy die nat spul op en besef daar is geen manier wat sy so in die kar kan klim nie en sug moedeloos.
“Wat op aarde gaan hier aan?” met een kyk som Leonie die situasie op en kan nie help om uit te bars van die lag. Die koddige prentjie van haar papnat vriendin is net te snaaks.
“Verlekker jou in my lot.” Snou Netta haar toe maar dan kyk sy ook na haar situasie en glimlag, sy moet saamstem, dit is vrek snaaks. Die volgende oomblik sif nog water van bo neer en gou was hulle albei deurdrenk. Trane loop nou vrylik oor Netta se gesig in gelid met die druppels en alhoewel sy probeer glimlag mislei dit Leonie nie. Sy weet haar vriendin se gemoed is vol en sy druk haar styf vas.
Leonie weet die jaar was swaar en nog lank nie verby. Hoe kon Frank dit aan haar doen? Haar net so los met geen geld om vir haarself of sy seun te sorg nie. Haar soeke na werk lewer ook niks op nie en die uitsettingsbevel het gister opgedaag. Waarheen sal sy gaan? Wat gaan van haar word?
Sy, wat Leonie is, het self nie genoeg plek vir haar eie gesin nie. Haar 4 kinders vat elke denkbare spasie in die huis op. Hulle sukkel ook met Etienne se kleiner salaris vandat die maatskappy moes sny op elke plek. Elke sent word 4 keer omgedraai.
Elke moontlike deur het in Netta se gesig toegeklap en sy kan haar eintlik nie verkwalik nie. Dit was ‘n geleentheid om stoom af te blaas.    
Albei haar ouers is lankal oorlede en sy was die enigste kind. Daar was geen heenkome vir haar en klein Nate nie.
ꝏꝏꝏ
Later, na ‘n warm bad en skoon klere vanuit Leonie se kas het Netta by haar huis in gestap. Neels was so goed om die karwiel om te ruil terwyl hulle binne was. Leonie het haar dadelik in ‘n warm bad met die heerlikste borrels gesit waar sy vir ‘n paar minute net weer vrou kon word. Leonie is ‘n gelukkige vrou. Hoekom kon Frank nie ook so goed vir haar gesorg het nie?
“Mamma?” roep Nate haar terug uit haar morbiede gedagtes.
“Ja Nate?”
“Mamma, Jack het my genooi na sy verjaarsdag partytjie môre, kan ek gaan, asseblief, ma?” Haar skouers sak. Nog ‘n uitgawe. Sy is al so moeg om nee te sê. Negejarige groen ogies staar haar opgewonde aan en sy sluk verbouereerd. “Ek weet nie Nate. Mamma kan nie nou ‘n geskenk koop nie.”
“Mamma hoef nie te worry nie, ek sal een van my onoopgemaakte karretjies vir hom gee. Ek het nie so baie karretjies nodig nie.”
“Ai my kind,” en trane stroom opnuut weer oor haar wange.
“Here, dankie vir ‘n kind wat verstaan.” Prewel sy saggies as sy deur die donkerkop vryf; haar hart stukkend. Hulle het so lank vir hom gewag. Tien jaar van hul getroude lewe was op hul knieë deurgebring. Haar beker van geluk het oor geloop toe sy uiteindelik swanger geword het. Toe, agt jaar later vertel Frank hy het iemand anders gevind. Dié kind, het sy uit gevind is al 12. Hy het haar twaalf jaar lank verkul terwyl sy alles in haar vermoë gedoen het om vir hom ‘n kind te gee. Selfs toe sy dit gegee het was dit nie goed genoeg nie. Bitter draai sy weg.
Kosmaak tyd lê soos ‘n berg voor haar.
ꝏꝏꝏ
“Hello Tannie,” groet Jack beleefd. Die swartkop bons opgewonde rond die oomblik toe hy Nate gewaar. Sy groet maar is al klaar vergete toe Nate die geskenk oorhandig.
“Jis Nate, dit is mooi. Ma!” gil hy en hardloop weg om haar die nuwe speelding te wys. Netta onthou die trok. Frans het dit die vorige jaar vir Nate gegee. Toe die ander kind ook instap was die geskenk terstond terug gesit in die boks en nooit weer aan geraak nie. Nou gee hy dit vir Jack. Haar kind het duidelik oor die verraad gekom. Wens sy kon ook.
Toe Frans ‘n opmerking daaroor gemaak het, het sy hom net geignoreer. Die man het geen gevoel vir Nate nie en geen geskenk sou hom omkoop nie.
“Verskoon tog dame, is dit die Pieterse huishouding?” vra ‘n stem agter haar en sy draai om net om op te staar na die lang man. Met een oogopslag neem sy als van hom in. Van die leê trouring vinger tot die grys in die donker hare. Sy groen oë helder en vol lewenslus. Hy kug weer en dit ruk haar terug. “Ja, dit is die regte huis.”
“Dankie. Jy het nie dalk so ‘n kort vrou gesien wat…” met die hoor Netta ‘n gil agter haar en Fransien storm op die man af. “Boeta! Jy het dit gemaak!” en sy omhels hom vuriglik. Hy lag hartlik vir haar manewales en sit haar dan veilig op die grond neer. “Ek sien jy het Netta ontmoet.”
“Nie rerig nie, sus. Ek wou net seker maak ek is by die regte huis. Julle het omtrent verbou van ek laas hier was.”
“Peet het omtrent gewerskaf om als reg te kry maar kom, dan wys ek jou die plek.” Sy storm die huis binne en hy tou agter haar aan. Netta verstom haar aan die gemaklike verhouding tussen broer en suster. Dit was iets wat sy altyd gemis het. Sy het haarself belowe dat haar kinders die vreugde van ‘n boetie of sussie sou ken, en kyk nou. Nate was besig om kop onderste bo in ‘n boom te swaai en sy draai benoud weg.
“Netta, hier is ons!” hoor sy haar naam en sy sluit aan by nog ouers. Jare hul senior drink sy die aangebode drankie terwyl sy die gesprek volg. Sy moes heeltemal weggeraak het in haar eie gedagtes toe sy ‘n tik aan haar skouer voel. Toe sy opkyk, kyk sy in helder groen oë vas.
“Ek glo nie ons het al ontmoet nie.” begin hy en sy knik.
“Ek is Teuns van Niekerk, en met wie het ek die voorreg om te gesels?”
Sy glimlag half verleë, “Jeanette Barnard. Maar my vriende noem my Netta.”
“Bly te kenne, Jeanette. Kan ek jou maar Netta noem?”
“Ja seker Teuns.”
“Hoe lank ken jy al my sus?”
“Seker so vyf jaar, die twee seuns ken mekaar van Graad R af en is dik pelle.”
“Dit is goed vir seuns om vriende te hê.”
“Ja dit is.” ‘n Gemaklike stilte val tussen hulle terwyl hulle luister na die gesprek om hulle. Toe Netta weer op haar horlosie kyk is dit al vyfuur, tyd om te gaan. Sy roep Nate nader en vra dat hy sy goed moet kry.
“Ag nee Netta, bly asseblief,” se Fransien, “Hier is so baie kos, bly gerus.”
“Asseblief, Ma,” soebat Nate ook, “ons speel nou baie lekker. Het ma die tent gesien wat Jack se oom vir hom gegee het?” en sonder om te wag vir ‘n antwoord is hy vort waar seuns om die blou tent vergader.
Die res van die aand loop lekker gesellig. Teen die tyd wat kos opgedien word was die kinders duidelik moeg gespeel. Sonder seremonie word hulle eerste kos gegee en een na die ander raak hulle aan die slaap terwyl die ouers nog heerlik kuier.
“Kom ek help jou met jou seun,” bied Teuns aan en tel Nate op sonder om te wag vir toestemming. By die kar lê hy hom op die agtersitplek neer en kom dan regop. “Daarsy. Dit was heerlik om jou te ontmoet Netta. Ek hoop ons kan weer so ‘n geleentheid kry binnekort.”
“Dankie Teuns.” En sonder om verder te gesels klim sy in die kar en ry weg.
“Daardie vrou sukkel iets vreesliks,” vertel sy suster hom waar hy die kar agterna staar.
“Hoe so?” vra hy ingedagte.
“Haar man het haar net so gelos met geen onderhoud. Sy kry ook nie werk nie. Ek verstaan sy moet die einde van die maand uit haar blyplek uit.”
Stilwyend staar hy na die rooi liggies en kyk dan na sy suster, “Kan jy my haar nommer gee? Ek kan dalk moontlik help.”
“Dit sal fantasties wees, sy het rerig hulp nodig.”
ꝏꝏꝏ
“My broer wil weet of ek jou nommer vir hom kan gee?” kom die WhatsApp boodskap deur net toe Netta by die huis in stap. Hoekom wil hy my nommer hê? Wonder sy. Die aand was lekker maar daar is niks wat sy aan enigiemand kan bied nie. Haar oë val oor die karig gemeubileerd huisie wat sy al twee jaar bewoon. Frans het in die begin gesorg dat sy aan niks tekort skiet nie maar soos wat tyd verloop het, het die geld minder geword en later heeltemal gestop. Genadiglik het sy genoegsaam gespaar maar die spaargeldjies is ook al amper op. Sy weet nie meer nie.
“Hoekom?” vra sy amper agressief.
“Hy sal self aan jou verduidelik.” kom die onmiddelike antwoord.
“Ek is nie lus vir nonsens nie.” antwoord sy moeg.
“Ek belowe jou my boeta is opreg in sy navraag. Hy wil graag help.”
“Hoe?”
“Praat asseblief self met hom. Is dit reg, kan ek maar gee?”
“Is reg, ek soek net nie enige probleme nie.”
“Jy sal nie spyt wees nie. Ek dink hy wil jou ‘n tweede kans gun.”
“Tweede kans se gat man, ek het al so baie stories gehoor en dan kos dit my net. Ek het nie geld om te mors nie.” wip sy haar onmiddelik en haar vingers sukkel om die klein knoppies korrek te druk. Haar spelling lyk beroerd maar wie gee om oor spelling wanneer die wêreld om jou in mekaar tuimel.
“Hy wil werklik net help. Indien hy droog maak laat weet jy my en ek sort hom vir jou uit.” en sy plaas ‘n klomp laggende gesiggies by die gesprek. Netta hoop dit is waar want van vryerige mans wil sy niks weet nie.
Sy het net in die bed gekruip toe haar selfoon ping. Lusteloos vat sy die ding en kyk by die kennisgewings. ‘n Onbekende nommer verskyn op die skerm met ‘n boodskap by.
Sy maak die WhatsApp toepassing oop en klik op die nommer.
“Hello Netta,
Teuns hier. Jammer om jou so laat te hinder, jy is heel moontlik klaar in droomland.
Ek sal sommer dadelik met die deur in die huis val.
Ek het ‘n gastehuis in die noorde van Pretoria. My bestuurderes het gister geloop sonder om vooraf kennis te gee. Ek sit met ‘n huis vol gaste en niemand wat kyk dat als vlot verloop nie.
Jy sal ideaal wees vir die pos. Ek kan jou ‘n salaris van R15 000 ‘n maand aanbied. Dit sluit ook ‘n kar in vir werk. Daar is ‘n groot woonstel agter die gastehuis waar jy en jou seun kan bly. Die pos is onmiddelik beskikbaar.
Laat weet hoe jy voel daaroor en bel my asb.
Groete, Teuns.”
3 fotos volg en dan ‘n skakel. Versigtig bestudeer Netta die inligting op die webwerf en lees die boodskap weer. Die geleentheid klink wonderlik. Maar Nate vorder goed in sy skool, sal die verandering hom nie skade doen nie? Sy slaap min soos duisende vrae deur haar maal maar toe die son sy strale oor die huisie gooi bel sy haar jarelange vriendin.
ꝏꝏꝏ
Sy en Teuns spreek af om daardie middag by die gastehuis te ontmoet. Nate is in ekstase oor die skuif. Selfs toe sy vir hom vertel dat hy Jack nooit weer gaan sien nie huppel hy rond van blydskap en sy glimlag weereens vir die kind van haar.
“Ek sal jou graag die kans wil gee en jy sal my uit ‘n groot verknorsing help. Sien jy kans?” vra hy huiwerig. Nate hol rond klaar tuis by die plek. Die woonstel wat vir haar gewys is tweekeer haar huisie se groote. Klaar gemeubileerd met keurige stukke wat haar onmiddelik welkom laat voel het. Die indrukwekende gastehuis kyk uit oor die rante. Die horison strek vêr en wyd en die dekstoele nooi elke gas om uit te ontspan met ‘n glasie wyn in die hand. Die spannetjie lyk ook almal opgewasse vir hul taak en sy kan nie help as om beindruk te wees met die gesogte plek se diens nie. Die vol bespreekte gastehuis het haar volle aandag en stilweg beweeg sy deur die mense om alles te observeer.
“Wat dink jy Nate?” vra sy haar seun waar hy rustig op ‘n swaai sit. Die hele speelarea is baie netjies uit een gelê en Nate het die hele middag saam met van die gaste se kinders baljaar op die klimrame.
“Ek dink hierdie plek is reg vir ons.” Sê hy nadenkend en sy glimlag. Toe Teuns op die stoep verskyn vroetel sy deur Nate se hare vir oulaas en stap dan met breë skouers haar nuwe baas tegemoet.
“Ek sien kans. Dankie vir die geleentheid.” Sê sy met sekerheid en hy glimlag, gelukkig.
“In daardie geval moet ons jou onmiddelik help met jou trek. Welkom by Ithuba Lodge.”
‘n Vonkeling in sy kykers maak haar opeens opgewonde vir die lewe.


 Kopiereg@LynelleClark2018    

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...