Wys tans plasings met die etiket Douwlina du Plessis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Douwlina du Plessis. Wys alle plasings

Woensdag 12 Desember 2018

Vandag se program oor Depressie gedurende die feesseisoen.

Aangesien dit nou kerstyd is en mense bietjie rustiger verkeer stuur gerus jul versoeke in sodat ek dit volgende week kan speel. Dit is ‘n tyd van blydskap en guns waarin ons mekaar kan bemoedig, seen en sommer net dank betoon vir die jaar wat verby is. Veral met die hitte wat nou bo toon voer kan ons defnitief doen met ‘n goeie lafenis van goeie musiek en opgewekte geselskap. Ek sal op my blad ‘n plasing doen waar julle die liedjies in die kommentaar van die plasing los.
Vandag se program is so bietjie morbied maar tog nodig, veral in hierdie seisoen waarin ons tans is. Ek glo daar is heelwat enkellopende mense wat kan doen met onderskraging en meelewing te midde van die gejaagdheid. Om alleen te wees is alreeds moeilik maar in Desember is dit nog erger, die rede vir die program.
Die laaste paar weke was ‘n besige tyd vir my, tussen pak en werk was daar min tyd vir enige iets anders. In my stil tye was my gedagtes geokkupeer met vrae van waarheen nou. Agv van buite invloede het ons lewe skielik ‘n nuwe wending in geneem. Wanneer sulke aanslae kom dan gebeur dit gewoonlik in ‘n paar gebiede op dieselfde tyd en dit vat ‘n skoon kop om bo te bly. Ons was geweldig aangeval deur finansieële eise op ons waarvan die bakkie deel was. En natuurlik die vraag waarheen nou het ook ‘n groot rol gespeel.
Soms beland jy op ‘n plek gesit dat jy net nie weet wat is die volgende stap vorentoe nie. Die een oomblik was ons dinge uitgewerk en toe, skielik, verander dit en ons lewe word een vraagteken. Dit was toe moeilik om weer te fokus op die daaglikse take. Spesifiek vir my, wat alreeds deur ‘n soortgelyke gebeurtenis gegaan het en my voete moes vind. Maar die ondersteuning gedurende hierdie tyd was defnitief die grootste faktor wat my staande gehou het.
Ek glo die laaste 18 maande was ‘n genesende tydperk vir my, waar my persoon herstel het en waar my kop weer met meer helderheid kon dink, indien dit nie gebeur het nie sou die gebeurtenis my plat geslaan het. Vader het my gees, siel en liggaamlik kom herstel deur my weer vastigheid te gee, ‘n Ring aan my vinger wat my weer kom klee het en die emosies van skuld, skaamte en minderwaardigheid weggevat sodat ek weer die wêreld in die oë kon kyk.
Ek moes my kop weer reg kry. Gedurende hierdie tyd laat weet ‘n goeie vriendin, “julle word erg aangeval, begin om julleself toe te maak deur die wapenrusting aan te trek en nagmaal daagliks te gebruik.” Van daar af doen ons presies dit. ‘n Ander vriendin van my, sê, Lynelle verander jou woorde na “Believe in the more.”
Om in te tap in God se plan is nie maklik nie, veral wanneer niks sin maak nie maar jy luister en doen. Juis omdat dit in my gees ook aanklank vind. Ja, my hart klop in my keel, angs dreig om my vrede te steel maar ek sit dit ter syde. Ek weier dat dit my fokuspunt sal wees. Dit is ‘n wilsbesluit om op te kyk. Dit is ‘n wilsbesluit om te weet dat God in beheer is. My ore en oë oop vir die Heilige Gees se beweging in my en vir deurbraak wat ons desperaat nodig het.
Dit bring my by die week se onderwerp. Elke mens, vroeër of later sukkel met dit. Die grade verskil soms maar dit maak dit nie minder belangrik nie. Elke persoon hanteer dit anders. In elke persoon verskyn dit op verskillende maniere. ‘n Angel van doodsheid wat jou beroof van jou vrede, vreugde en guns. Depressie. Selfs in ons verligte tyd, is dit nogsteeds ‘n negatiewe ding wat ons nie maklik wil erken nie, maar dit is ‘n realiteit. Spesifiek vir die enkellopende persoon is dit ‘n werklikheid in die feestyd.
My eerste jaar alleen was ‘n mengsel van gevoelens. Alhoewel my onmiddelike behoeftes uitgesorteer was, was die soeke na werk ‘n groot kopkrap. My ewe wig was versteur in ‘n groot mate en daar was tye wat die gemoedere baie vol was. Maar daar was ook tye wat ek dit werklik geniet het, my voete weer gevind het.  Danksy vriende het ek ‘n paar rand in my sak gehad en op die 1 ste Januarie het ek myself uitgevat vir ete. Dit het my gemoed heelwat gelig en ek het regtig goed gevoel.
My tweede jaar het baie op en af oomblikke gehad. Ek het myself die meeste van die tyd alleen bevind, in die proses dinge gedoen wat nie noodwending gesond vir my was nie. My gemoed het met tye erg geval, en trane ‘n permanente bondgenoot. Ek het ‘n kar ontvang en werk twee weke later. Tussendeur moes ek aan my verhouding met my kinders werk, begin September is my Moeder oorlede en ons wou as familie net bymekaar wees. Die dae tussen in was ek, my pa en broer alleen en het elkeen in sy eie hoek gebly, ek met ‘n boek of skryf werk asook die nuwe verantwoordelikhede van werk. Solank as wat my gedagtes besig was, was ek goed. Dit was daardie stil oomblikke wat mens eerder vermy wat my die meeste gevang het. Die alleenheid by tye amper versmorend. Daar was tye wat trane net geloop het, nagte wat jy gevoel het die lig is net te ver, onbereikbaar en dat jy nooit uit die donker put gaan kom nie. Jy word moeg wakker, weerloos en van balans af. Selfs die tye wat ek uit gegaan het, het ek alleen gevoel. Ek moes my eie grense opstel, weer my kop reg kry en alle negatiewe gevoelens deurwerk. Wat my soms op die mees onmoontlikse tye oorval het.
As enkellopende voel jy dit meer so tydens die Kersfees seisoen. Mense om jou praat van weggaan, jy sit en luister na hulle planne vir die feesseisoen. Jy voel uitgedruk, nie deel van die voorbereidings nie. Depressie wil jou insluk en aftrek in ‘n donker gat en indien jy nie waaksaam is nie oorval die donker kombers jou en oorheers jou ten volle. Vir sommige raak dit so erg dat dit eindig in self – dood.

Vernaamlik op Facebook sien ‘n mens dit. Mense wat uitroep vir hulp in soms skokkende plasings. Party mense val hulle aan, ander het simpatie. Dan kry jy die wat skrifte aanhaal en vertel watse sonde dit is. Maar dit kos net een persoon om verby als te kyk en werklik in daardie persoon se hart te kyk en kontak te maak. Daardie kontak veroorsaak dat ‘n lewe gered word. Gister se sere lê soms swaar op mense maar wanneer jy kan glo dat jy nog ‘n toekoms het is daar nog hoop vir môre. Maar dit kos ‘n uitreiking, ‘n sagte woord en gewillige oor.
So baie hoor ek deesdae dat mense sê hulle wil nie betrokke raak nie en dan, agterna, wanneer die daad gedoen is, dan het hulle baie wyshede om kwyt te raak. Dan is daardie wysheid onvanpas en te laat. Wanneer ‘n persoon uitroep moet ‘n mens onmiddelik betrokke raak. Deur woord en daad red ons ‘n persoon. Nie net deur praat nie.
As vrou, as vriendin moet ons mekaar bystaan sonder enige veroordeling. Daar is soveel pyn en hartseer daar buite, die meeste verberg dit agter ‘n glimlag en grappies maar ons weet min van die innerlike woelinge van mekaar. Juis in die tyd is dit belangrik om waaksaam te wees. Daar waar jy is, is jy God se arm om ‘n verskil te maak.
Enkellopende vrouens en mans kry swaar, meer as wat mense besef. In die besigste tyd van die jaar word hulle maklik op sy geskuif en vergeet. Hulle voel dan in die pad, selfs onsigbaar en dan word depressie ‘n realiteit en als wat moeilik is in intensiteit toeneem. Dan word die put bodemloos en net ‘n baie lang tou kan hulle daaruit kry. 
Ek lees graag die gedig voor van Douwlina du Plessis, sy het die gedig geskryf toe sy deur haar eie stryd gegaan het en dit pas net mooi vir my in by die program van vandag.
Vrou 
Die vrou in my is dood
iewers tussen kanker 
en verwerping
en egskeiding
en verbittering
het sy gaan lê.
Opgekrul in haarself
fetaal, fataal, gefaal, gedood 
en grys, soos indringerplante
het deur die donker gloed
verspinnerak
my ontbloed
gerandfiguur
uitgespoel
in ‘n woestyn
self geskep
vir ‘n sekslose
dooie-oog
vrou.

Wragtig tog steeds
Vrou.


Mense wat aan depressie ly, ervaar ’n groot verskeidenheid fisieke kwale, wisselend van slaaploosheid tot intense slaapsug. Dr. Ahmer Aziz, ’n dokter by AKEA Life in Engeland, vertel meer van hierdie fisieke manifestasies en hoe om dit te voorkom.

1. Moegheid

Intense moegheid is iets wat baie dikwels onder mense met depressie voorkom. “Jy ervaar ’n algemene gebrek aan energie of dryfkrag en selfs die kleinste takies maak jou doodmoeg,” sê dr. Aziz. Volgens hom kan dit wees omdat jy deur ’n konstante “onverklaarbare gevoel van hartseer, wanhoop of hopeloosheid” gedreineer word.
Hy voeg by dat hierdie moegheid kan vererger wanneer iemand ’n dapper front voorhou en wegsteek hoe hy of sy regtig voel.

2. Slaapsteuring

Die konstante moegheid wat jy ervaar, kan dikwels aan versteurde slaap gekoppel word. “Jy sukkel om aan die slaap te raak, en kry dikwels min of glad nie geslaap nie,” se die dokter. “Wanneer jy wel slaap, kan jy vind dat jy soggens sonder rede baie vroeg wakker word.”
Algemene redes hiervoor is gedagtes wat in jou kop rondmaal of omdat jy nie kan afskakel nie.

3. Foute

“Ons is meestal skerp en gefokus en oor die algemeen op en wakker,” sê dr. Aziz. Maar mense wat aan depressie ly, verduidelik hy, beleef dikwels dae wanneer hulle nie “by is” nie en meer foute maak. Die dokter skryf dit toe aan “swak konsentrasie of besluiteloosheid” as gevolg van die toestand.

4. ’n Swak dieet

Depressie gaan soms gepaard met ’n begeerte om te ooreet of om kos as troosmiddel te gebruik in ’n poging om beter te voel. Dr. Aziz waarsku egter dat dit tot gewigstoename kan lei, wat weer tot verdere gevoelens van minderwaardigheid en ’n swak selfbeeld kan bydra.
“Aan die ander kant kan jy vind dat jy onbewustelik te min eet en gewig verloor,” sê die dokter. Hy maan dat dit belangrik is om genoeg te eet om jou energie te gee wanneer jy depressief is.

5. ’n Laer libido

As jou libido sedert die aanvang van jou depressie skerp afgeneem het, hou dit waarskynlik verband met jou selfvertroue en selfbeeld. “Jy kan vind dat jou selfvertroue min is en dat jy ’n verlaagde selfbeeld en libido het,” sê dr. Aziz.
“Selfbeeld gaan oor die manier waarop jy oor jouself dink. Jy voel dalk ongemaklik oor hoe jy lyk en voel,” sê hy.

6. Psigomotoriese vertraging

“Ander mense wys jou dalk daarop dat jy stadiger beweeg,” sê dr. Aziz. Dit staan bekend as psigomotoriese vertraging en is ’n algemene fisieke simptoom van depressie. “Dit kan ook jou spraak beïnvloed, met die gevolg dat jy stadiger praat,” sê die dokter.

7. Skete en pyne

Om aan skete te ly wat geen verklaarbare oorsaak het nie, is sorgwekkend genoeg iets wat baie depressiewe mense beleef. Dit is egter belangrik om enige ander moontlikhede te ondersoek voordat jy aanvaar dat dit inderdaad as gevolg van depressie is.

8. Rusteloosheid en onrustigheid

Die teenpool van psigomotoriese vertraging is ’n gevoel van konstante rusteloosheid. Mense kla dikwels dat hulle nie kan ontspan nie en angstig voel wanneer hulle onbenullige probleme moet hanteer, verduidelik dr. Aziz.

9. Spysverteringsprobleme

’n Omgekrapte maag is ’n algemene newe-effek van depressie. “Jy ly dalk aan onverklaarbare naarheid, diarree of selfs hardlywigheid,” sê die dokter. Dit kan toegeskryf word aan die verhouding tussen die brein en die ingewande wat gedurende depressiewe of angstige episodes besonder prominent is.
Indien jy enige van die bogenoemde probleme ervaar, is dit belangrik dat jy jou huisdokter gaan sien. 

In vandag se samelewing sien en hoor ons dikwels hartverskeurende hoofopskrifte oor hoe alleenheid bejaardes raak. Veral enkellopende bejaardes en ek het dit goed gedink om daaraan ook ‘n tydjie af te staan.
Dit verlaag hul lewensgehalte beduidend en in sommige gevalle het dit hoër vlakke van angs en depressie in hierdie ouderdomsgroep tot gevolg.
“Alleenheid word met depressie, slaapprobleme, verswakte kognitiewe gesondheid, verhoogde vaskulêre weerstand, hoë bloeddruk, sielkundige stres en geestesgesondheidsprobleme vereenselwig,” verduidelik Age UK op hul webwerf. Maar dis nie net alleenheid wat pensioenarisse se welstand in gevaar stel nie – verswakte fisieke gesondheid, verlies en geldelike druk kan alles dieselfde uitwerking hê.
Wat kan ons doen om angs en angsgebaseerde depressie in ouer mense te help beveg? Want ons moenie vergeet dat hierdie toestande nie net jongmense met eksamens en middeljariges met beroepe, skuld en gesinsprobleme raak nie. Ons bejaardes, wat wel wyser en meer ervare is, kan ook geestesgesondheidsprobleme hê. 
Ons het met Nicky Lidbetter, uitvoerende hoof van Anxiety UK, gepraat en haar gevra wat ons kan doen as ons vrees dat ’n bejaarde geliefde aan angs of angsgebaseerde depressie ly. Sy het ons eerstens verseker dat daar maniere is waarop jy kan help as ’n bejaarde vriend(in) of familielid angs of angsgebaseerde depressie ervaar.

1. Handhaaf hul lewenstyl

Moedig ouer mense aan om gesond te eet en ligte oefening by hul daaglikse roetine in te sluit omdat dit ’n groot uitwerking op hul welstand kan hê. Dit kan moeilik wees as hulle skielik alleen woon of nie naby onmiddellike familie woon nie.
Die handhawing van ’n gesonde roetine is nie net goed vir hul fisieke en geestesgesondheid nie, maar laat hulle ook voel dat hulle nog in beheer is en sal hulle meer selfvertroue gee. Daar is ’n paar inkopie- en kosafleweringsdienste vir bejaardes wat sal verseker dat hul dieet voldoende is. Dis die moeite werd om navorsing te doen oor wat in jou omgewing beskikbaar is.

2. Doen dit saam

Om ’n gesonde leefstyl te handhaaf is op enige ouderdom voordelig. Doen hierdie dinge dus saam, soos om te gaan stap, saam inkopies te doen of kos te maak (en los genoeg kos in die vrieskas vir wanneer jy nié daar is nie). Dit sal ’n ouer persoon se gemoed opbeur en laat voel hy of sy kry ondersteuning.

3. Laat hulle weet jy is daar

“Iets anders wat regtig belangrik is wanneer jy ouer mense ondersteun wat angs, stres of angsgebaseerde depressie ervaar, is eenvoudig om hulle te laat weet dat jy daar is vir hulle as hulle ooit iemand nodig het,” verduidelik Nicky, selfs al bel jy hulle net elke dag of een keer ’n week.
“Doen moeite om te vra hoe dit gaan en moedig hulle aan om oop te maak oor hoe hulle voel. Dis regtig belangrik dat hulle weet hulle hoef nie alleen deur dinge te gaan nie. Verhoudings met ander mense is ’n belangrike komponent van volgehoue goeie geestesgesondheid.”

4. Moedig hulle aan om nuwe dinge te probeer

Dit kan regtig waardevol wees om ouer mense aan te moedig om nuwe dinge te probeer. Dit skep nie net goeie geleenthede om nuwe mense te ontmoet, vaardighede te ontwikkel en nuwe ervarings te hê nie, maar dien ook as afleiding om gevoelens van angs te besweer. Baie studies het ook getoon dat ’n aktiewe brein ’n gesonder brein is.
Doen ’n bietjie navorsing oor watter boekklubs, etensklubs, organisasies of groepe  in jou omgewing aktief is en moedig hulle aan om daarby aan te sluit. Jy kan selfs vir morele ondersteuning die eerste keer saamgaan.

5. Speel saam met hulle speletjies

In ’n studie van Januarie 2017 wat in JAMA Neurology gepubliseer is, het navorsers van die Mayo-kliniek bevind dat deelnemers wat minstens een of twee keer per week aan “geestelik stimulerende” aktiwiteite – soos om speletjies te speel – deelneem, beduidend minder geneig is om matige kognitiewe verswakking (mild cognitive impairment of MCI) te ontwikkel.
Om aan sulke aktiwiteite deel te neem sal nie net hul verstand skerp hou nie, maar ook geselskap en pret verskaf en hul selfvertroue ’n hupstoot gee.

6. Help hulle om die regte ondersteuning te kry

“Vandag is daar ’n verskeidenheid waardevolle ondersteuningsopsies vir hulle beskikbaar,” sê Nicky. “Een ding wat jy kan doen om te help is om die ondersteuning te kry wat reg vir hulle is. Van ons ouer mense kan byvoorbeeld nie die huis verlaat om terapiesessies by te woon nie. In sulke gevalle kan terapie via ’n webkamera of telefonies aangebied word.”
Jy kan ook kognitiewe gedragsterapie, aandagtigheidskursusse en meditasietegnieke oorweeg. Jou algemene praktisyn is ’n goeie beginpunt wanneer jy mediese raad nodig het.

7. Maak seker jy het die inligting

Dikwels is die eerste stap wanneer jy iemand anders help om self hul situasie te probeer verstaan. Dit sal jou meer deernisvol, geduldig en bekwaam maak om voorstelle te doen. Het jy byvoorbeeld geweet dat angs ’n fisieke en geestelike uitwerking op iemand het?


Lees meer daaroor wanneer jy iemand wil help of kry hulp. Soms het mense net ‘n gewillige oor nodig om te luister maar ander kere is dit nodig om ‘n gekwalifiseerd persoon se hulp in te roep.  

Ek het vir Corrie Badenhorst gevra om vir ons ietsie van haar worstelinge met depressie te deel… 

Skitter net waar julle is Diamante... xxx



Die Stasie Vir Passievolle Mense


Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580

SKAKEL IN: 

SIMPLE RADIO App.
http://www.liveonlineradio.net/south-…/elan-global-radio.htm

Dinsdag 25 September 2018

Program 16 - Wraak en weerwraak.

Vandag se program handel oor iets wat baie na aan my hart is. Iets wat ek vir baie lank gesukkel het om te verwerk, eintlik maar nog so doen in my stilligheid. Persoonlik dink ek dit is seker een van ergste verraad waardeur jy kan gaan. Nie almal sal saam stem nie maar dit is hoe ek toe gevoel het en nog steeds voel. Ek het al soveel keer die nadraai van dit ervaar, as derde en eerste party. Die absolute skok en verlatenheid toe dit met my gebeur het, het my baie kwesbaar gelaat; dit het die wind heeltemal uit my seile gelaat. Dit roof jou van jou menswaardigheid en jy verloor alle vertroue in die mens.  Dit is ‘n onderwerp wat almal raak, nie net enkellopende vroue nie.

Katterigheid, geniepsigheid, vermakerigheid, wrok, haatlik, nydig en kwaadwillig – in Afrikaans het ons heelwat woorde wat die woord “spite” vertaal. Dit is ‘n boosheid wat mense seer en stukkend agter laat maak nie saak watter woord jy gebruik nie. Die een wat dit uitdeel dink hy wen maar dit verklap meer van jou karakter aan die omstanders na aan jou as wat jy bereid is om te erken. In jou oë is jy die een wat te nagekom is daarom het jy die reg om te doen wat jy doen. So redeneer jy en oortuig ander van jou bevindings.
Hieroor word boeke geskryf, rolprente gemaak, en gedigte neergepen wat later in liedere omgesit word. Gaan kyk maar na die verskeidenheid boeke net in jou biblioteek of die flieks beskikbaar by die handelaar. Ons sien dit soos in ‘n video daagliks afspeel om ons. Kyk maar na die tipe van videos wat jou vriende op FB rond stuur. Sommige van die goed is nie eers snaaks nie maar tog verlekker mense hulle daarin. Dit kom so natuurlik en ons aanvaar dit so. Want daardie persoon het ook regte. Wat waar is, maar ten koste van iemand anders?
Die effek van hierdie tipe van optrede se voetspore kan lank nadat geskille uitgesorteer is, of nadat jy weg gestap het bloot vir jou eie sielerus, gesien word. Daar is net nie ‘n keer teen hierdie soort wangedrag nie. Meer so, tussen man en vrou wat eens op ‘n tyd lief was vir mekaar. Wat ‘n toekoms gebou het en saam kinders gehad het. Dan, skielik, wanneer dinge verander besluit jy om daardie persoon “terug te betaal” om watter rede ookal. Dan kom die lelik uit. Die man/ vrou wat jy eens geken het is nou ‘n vreemdeling en jy wonder hoe jy ooit so blind kon gewees het. Daar is net geen keer wanneer een persoon hom/haar regverdig deur ‘n ander te benadeel nie. Die naels kom uit en jy ry daardie persoon tot in die afgrond in. Miskien weerhou jy die kinders van hom/haar. In jou kop dink jy, jy beskerm die kinders deur hul weg te hou van hul ouer. Ek het nuus vir jou wat sulke speletjies speel… jou kinders is nie ‘n wrokstok wat jy kan gebruik om jou sin te kry nie. Dit is die laagste vorm van wraak wat jy kan toe pas. En heeltemal ongevraagd en onverantwoordelik. ‘n Kind het nodig om albei ouers te sien, ‘n verhouding te bou sonder dat jy dit bemoeilik. Dit wat jy vandag doen kan jare later jou kom byt en dan sal spyt te laat wees.
Ek wil tog dit net benadruk dat ek nie hier van ‘n ouer praat wat ‘n kind mishandel het nie. Dit is ‘n aangeleentheid wat baie delikaat behandel moet word juis omdat die kind se sorg voorrang moet geniet. Hier is dit belangrik dat die kind se belange eerste gestel sal word, bo jou eie seer en griewe.
Hoe ver is te ver?
Wanneer is genoeg, genoeg?
Scenario 1: ‘n Vrou besluit om weg te stap van haar huwelik om een of ander rede. Die man besluit sy verdien niks nie. En sal haar eerder op die straat sien beland as om aan haar te gee wat haar toe kom. Vergete is die tyd en ondersteuning wat sy aan hom besorg het. Vergete die kinders wat sy gebaar het en ‘n verlede wat hulle gedeel het. In jou kop verdien sy nie geluk nie, ongeag of jy haar gelukkig gemaak het of nie.
Scenario 2: ‘n Man het ‘n buite-egtelike verhouding vir ‘n aantal jare gehad, het miskien ‘n kind by die vrou en jy besluit jy sal hom toegang tot julle kinders verbied. In jou oë is hy laer as wurm-bollie en verdien nie om sy kinders te sien nie. Jy is mevrou onskuldig, wat geen aanleiding gegee het tot sy soeke nie. Wel, so dink jy in jou kop. En in die proses vervreem jy die kinders van hul pa. Of dit was dalk net ‘n eenmalige gebeurtenis en skielik is hy slegter as sleg.  
Scenario 3: ‘n Egpaar besluit om na jare saam die huwelik tot niet te verklaar. Albei is saam in hierdie besluitneming. Die oorwegende rede is dat liefde dood is en julle niks meer in gemeen het nie. So waarom die gelukkige paartjie voorgee. Wie gaan baat daarby? Dan, skielik is die vrou / man die een wat wolf skree en die man of vrou van als beroof. Die persoon sukkel om kop bo water te hou maar jy eis als. Jy loop met die idee rond dat die wêreld jou iets skuld en blameer almal. Deur dan hom finansieël seer te maak dink jy, jy het gewen.
Drie verskillende scenarios maar die einde baie dieselfde. Een party stap weg met als, die ander met niks. Een moet al die skuld dra en lewenslank gestraf word. Waar stop ons met die “spite” en is regverdig teenoor mekaar in ons optrede en verdeling van die bates? Julle het tog immers saam besittings bymekaar gemaak. Wat maak dit saak as sy die lamp kry en jy die stoel? Dit is aardse goed wat niks gaan verander aan jul situasie nie. Wat veroorsaak dat die een dan dink hy/sy het meer regte as die ander een? Die ergste van als is die samelewing kies kant, gewoonlik aan die een wat als ontvang. Terwyl die een wat niks kry nie die vark in die verhaal is en weer van vooraf moet begin.
Omdat ek self verstaan wat dit is om met lee hande gelos te word moes ek vinnig leer om aan te pas. Ek moes leer om vir myself op te staan, vir myself te baklei en self my eie dinge te doen. Wat goed was, want dit het my “street smart” gemaak. Dit was harde tye, tye van oorlewing en het ek nie altyd geweet hoe om aan te gaan sommige dae nie. My hele uitkyk oor die lewe het verander en vandag verstaan ek dinge beter en is minder judgmental op mense.  Die pad het my sagter gemaak, meer toeganklik en meer warm as koud. Selfs al sukkel ek nog om mense te vertrou.
Die besef dat die uit einde van die vraag eintlik maklik is om te beantwoord, as ons net lank genoeg stil sit om te dink. Die son skyn oor ons almal: goed en sleg. Wanneer dit reën kry ons almal die selfde hoeveelheid. God gee nie vir die goeie mense meer reën as vir die slegte mense nie. Die son skyn ook nie minder op die goeie as die slegte nie. Nee, ons kry presies dieselfde ongeag hoe goed of sleg ons is. As Vader dan in Sy Alwysheid so kan optree, juis omdat hy elke mens intiem ken; hoekom kan ons nie ook so optree nie?
Ons is immers tog na sy Beeld geskape met dieselfde skeppingsvermoë as wat hy het. Hy het ons toegerus om te heers op die aarde, nie oor mense nie. Maar tog dink mense hulle kan heers oor ander mense. Dit is dan wat hulle dit sover vat dat jy nie weet hoe gaan hierdie persoon ooit weer opstaan nie. Dink aan die rolprent Les Misrables. Die verhaal begin waar ‘n pa ‘n brood steel vir sy honger kinders. Hy word gevang en lewenslank in die tronk gegooi. Vir jare doen hy hardearbeid tot op ‘n dag wat hy die geleentheid kry om te ontsnap. Die kaptein doen als in sy vermoë om die man te vernietig want in sy oë is hy ‘n krimineel en verdien geen versagting nie. Bitterheid dryf hom om hierdie man te jag. Die vlugteling het ‘n ander identiteit aangeneem en vir ‘n tyd lank verdwyn. Toe hy weer op die toneel verskyn kon jy nie glo hy is die selfde mens nie. Nou was hy ‘n welgestelde man op soek na sy kind. Die kind was nou ‘n jong vrou en spoedig kruis pa en dogter se paaie met die kaptein wat snuf in die neus gekry het en hom weer begin jag het.  Die uiteinde van die storie is dat die kaptein se haat hom vernietig het.

Bitterheid is ‘n gif.  

Die bitterheid van seerkry en benadeling is ‘n worstelstryd wat ons kop beheer, ons keuses beinvloed en ons optredes bepaal. Ons elkeen moet self besluit om ‘n ommekeer te maak, om die mense wat jy dink jou te nagekom het vry te laat. Bitterheid is ‘n euwel wat jou vaskeer in sy kloue. Sy tentakels diep ingeslaan in jou hele wese. Vir sommiges word dit so erg dat hulle ineenkrimp van pyn. Die angel van bitterheid laat jou eintlik swak en jy het geen verweer die dag wat jy dit werklik gaan nodig kry nie. Soos in die geval van die kaptein nie.
Gaan jy werklik jouself so oop stel bloot net om iemand ‘n punt te bewys? Of sal daar ‘n dag kom wat jou hart sal versag en jy sal weet dit is nou genoeg. Die prys is betaal.
Ek wil spesifiek hier stop en met die Vrouens gesels juis omdat hulle baie skuldig is aan toe-eiening. Wanneer ‘n man instem tot sekere eise tydens die skeisaak, aanvaar dit. Jy kan ook nie meer geld uit ‘n klip tap wat nie daar is nie. Om hom bloots te ry gaan hom nie terug bring of die huwelik herstel nie. Nee, dit gaan jou bitter agter laat, vervreemd en alleen los.  Om onnodige eise te stel breek hom as man af, laat hom voel hy is nutteloos en los hom sonder hoop. Ek verstaan dat vrees ‘n groot aansporing is om so op te tree maar deur hom te vernietig gaan jou niks baat nie. Indien jy nie vergewe nie vat jy dit saam in ’n nuwe verhouding in en het dit net negatiewe uitwerking op daardie verhouding.
Dieselfde is waar as die rolle omgeruil is. Deur ‘n vrou in armoede agter te laat vir jou eie plesier is nie net onregverdig teenoor haar nie maar ook teenoor die kinders, indien hulle nog afhanklik is van jou. Niks op hierdie aarde kan regverdig om haar sonder heenkome te laat met geen manier om haarself te versorg nie. Ons almal is so gesteld op ons regte dat ons, ons regte ten koste van ‘n ander wil laat afdwing. Vir watter doel?

Vergifnis
Kwaadwilligheid is iets wat ons daadwerklik moet aanspreek. Dit is ‘n aksie wat nie hoort tussen ons nie. Deur mekaar af te breek bereik ons nie een of ander vergoeding nie. Dit openbaar juis dan wie ons rerig is. Vergifnis is kardinaal tussen mense. Deur te vergewe en toe te laat dat die son oor almal skyn moet ons mekaar kan vryspreek.
Ja maar Lynelle, jy weet nie wat hy/sy aan my gedoen het nie? Jy is reg, ek weet nie. Maar ek kan sê wat hierdie spiteful houding aan jou gaan doen. Dit gaan jou vernietig. Nie vir hom of haar nie. Vir jou. Ons struikelblokke hou net vir ‘n tyd, dit weet ons alreeds. Jy gee indirek die ander persoon die gereedskap om te triomfeer te midde van sy omstandighede. En dan? Waar laat dit jou dan? Bitter. Is dit regtig ‘n plek waar jy wil wees of het jy ook die reg om nuut te begin? Jou knieë af te stof en geluk te vind. Jy sal dit nie kan doen as jy aanhou om nydig te wees nie. Jy bereik niks daardeur nie.
Ek wil graag die gedig van Douwlina du Plessis voorlees. Die gedig is eintlik geskryf toe sy uit gevind het dat sy borskanker gehad het maar dit is tog ook vir my gepas met hierdie onderwerp. Katterigheid, geniepsigheid, vermakerigheid, wrok, haatlik, nydig en kwaadwilligheid is ook ‘n kanker. ‘n Kanker wat jou ontneem van jou vrouwees, jou geluk steel en jou dof agter laat. Jy kan nie jou geluk op ‘n ander se ongeluk bou nie. Jy kan ook nie verwag om in ‘n nuwe verhouding gaan as jy nog iets teen jou eks hou nie. Hierdie stap is vir jou, ‘n selfsugtige stap wat jou sal bevry en genees.
Onthou – die goed waaroor jy baklei is aardse goed. Dit kan vervang word. Baklei oor die dinge wat saak maak. Kry jou kop weer skoon, lê die wraakgedagtes neer en skitter in die gesig van jou vyande. Indien hy dan iets gedoen het sal God jou vergeld.
Vrou 

Die vrou in my is dood

iewers tussen kanker 
en verwerping
en egskeiding
en verbittering
het sy gaan lê.
Opgekrul in haarself
fetaal, fataal, gefaal, gedood 
en grys, soos indringerplante
het deur die donker gloed
verspinnerak

my ontbloed

gerandfiguur

uitgespoel
in ‘n woestyn

self geskep
vir ‘n sekslose
dooie-oog vrou.
Wragtig tog steeds
Vrou.




Jou keuses bepaal wie jy word. Uitgeteer soos wat Douwlina skryf of skitterend soos ‘n diamant.  Ons elkeen wil die beste van die lewe hê. Nie een van ons verdien minder of meer nie. Ons het elkeen dieselfde mate ontvang maar dit hang van ons af hoe ons dit gaan aanwend.
Deel vroegtydig met hierdie gevoelens. Moenie dat dit deel van jou word nie. Skud dit af en wees die vrou wat jy weet jy is. Selfs vir jou as man. Maak jou skouers vier en reguit. Kyk die wêreld in die oë en wees die man waarop jou kinders sal trots wees.

Aan God kom die wraak toe, nie aan jou nie. Hy versterk en gee krag aan elkeen wat hom vra. En hy sal jou ook verdedig en voorsien in al jou behoeftes.  Net soos wat Hy vir my en vele ander gedoen het. Moenie toelaat dat bitterheid jou oorheers nie. Daardie soort vergelding sal jou vernietig. Hou eerder vas aan die hoop van môre.

ELAN GLOBAL RADIO

Die Stasie Vir Passievolle Mense


Facebook: Elan Global Radio Kuier en Klets https://is.gd/s1PX8T
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580

Gaan kuier en leer meer van ons, blog saam en luister saam:


SKAKEL IN: 

SIMPLE RADIO App.
http://www.liveonlineradio.net/south-…/elan-global-radio.htm


Wou jy nog altyd ‘n radioprogram doen?
Is toer jou passie?
Internasionaal en Nasionaal is jou kennis belangrik.
Dan wil ons jou uitnooi om deel van die span te word. Kontak Bea gerus by WhatsApp: 066 305 3580

Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...