Dinsdag 25 September 2018

Program 16 - Wraak en weerwraak.

Vandag se program handel oor iets wat baie na aan my hart is. Iets wat ek vir baie lank gesukkel het om te verwerk, eintlik maar nog so doen in my stilligheid. Persoonlik dink ek dit is seker een van ergste verraad waardeur jy kan gaan. Nie almal sal saam stem nie maar dit is hoe ek toe gevoel het en nog steeds voel. Ek het al soveel keer die nadraai van dit ervaar, as derde en eerste party. Die absolute skok en verlatenheid toe dit met my gebeur het, het my baie kwesbaar gelaat; dit het die wind heeltemal uit my seile gelaat. Dit roof jou van jou menswaardigheid en jy verloor alle vertroue in die mens.  Dit is ‘n onderwerp wat almal raak, nie net enkellopende vroue nie.

Katterigheid, geniepsigheid, vermakerigheid, wrok, haatlik, nydig en kwaadwillig – in Afrikaans het ons heelwat woorde wat die woord “spite” vertaal. Dit is ‘n boosheid wat mense seer en stukkend agter laat maak nie saak watter woord jy gebruik nie. Die een wat dit uitdeel dink hy wen maar dit verklap meer van jou karakter aan die omstanders na aan jou as wat jy bereid is om te erken. In jou oë is jy die een wat te nagekom is daarom het jy die reg om te doen wat jy doen. So redeneer jy en oortuig ander van jou bevindings.
Hieroor word boeke geskryf, rolprente gemaak, en gedigte neergepen wat later in liedere omgesit word. Gaan kyk maar na die verskeidenheid boeke net in jou biblioteek of die flieks beskikbaar by die handelaar. Ons sien dit soos in ‘n video daagliks afspeel om ons. Kyk maar na die tipe van videos wat jou vriende op FB rond stuur. Sommige van die goed is nie eers snaaks nie maar tog verlekker mense hulle daarin. Dit kom so natuurlik en ons aanvaar dit so. Want daardie persoon het ook regte. Wat waar is, maar ten koste van iemand anders?
Die effek van hierdie tipe van optrede se voetspore kan lank nadat geskille uitgesorteer is, of nadat jy weg gestap het bloot vir jou eie sielerus, gesien word. Daar is net nie ‘n keer teen hierdie soort wangedrag nie. Meer so, tussen man en vrou wat eens op ‘n tyd lief was vir mekaar. Wat ‘n toekoms gebou het en saam kinders gehad het. Dan, skielik, wanneer dinge verander besluit jy om daardie persoon “terug te betaal” om watter rede ookal. Dan kom die lelik uit. Die man/ vrou wat jy eens geken het is nou ‘n vreemdeling en jy wonder hoe jy ooit so blind kon gewees het. Daar is net geen keer wanneer een persoon hom/haar regverdig deur ‘n ander te benadeel nie. Die naels kom uit en jy ry daardie persoon tot in die afgrond in. Miskien weerhou jy die kinders van hom/haar. In jou kop dink jy, jy beskerm die kinders deur hul weg te hou van hul ouer. Ek het nuus vir jou wat sulke speletjies speel… jou kinders is nie ‘n wrokstok wat jy kan gebruik om jou sin te kry nie. Dit is die laagste vorm van wraak wat jy kan toe pas. En heeltemal ongevraagd en onverantwoordelik. ‘n Kind het nodig om albei ouers te sien, ‘n verhouding te bou sonder dat jy dit bemoeilik. Dit wat jy vandag doen kan jare later jou kom byt en dan sal spyt te laat wees.
Ek wil tog dit net benadruk dat ek nie hier van ‘n ouer praat wat ‘n kind mishandel het nie. Dit is ‘n aangeleentheid wat baie delikaat behandel moet word juis omdat die kind se sorg voorrang moet geniet. Hier is dit belangrik dat die kind se belange eerste gestel sal word, bo jou eie seer en griewe.
Hoe ver is te ver?
Wanneer is genoeg, genoeg?
Scenario 1: ‘n Vrou besluit om weg te stap van haar huwelik om een of ander rede. Die man besluit sy verdien niks nie. En sal haar eerder op die straat sien beland as om aan haar te gee wat haar toe kom. Vergete is die tyd en ondersteuning wat sy aan hom besorg het. Vergete die kinders wat sy gebaar het en ‘n verlede wat hulle gedeel het. In jou kop verdien sy nie geluk nie, ongeag of jy haar gelukkig gemaak het of nie.
Scenario 2: ‘n Man het ‘n buite-egtelike verhouding vir ‘n aantal jare gehad, het miskien ‘n kind by die vrou en jy besluit jy sal hom toegang tot julle kinders verbied. In jou oë is hy laer as wurm-bollie en verdien nie om sy kinders te sien nie. Jy is mevrou onskuldig, wat geen aanleiding gegee het tot sy soeke nie. Wel, so dink jy in jou kop. En in die proses vervreem jy die kinders van hul pa. Of dit was dalk net ‘n eenmalige gebeurtenis en skielik is hy slegter as sleg.  
Scenario 3: ‘n Egpaar besluit om na jare saam die huwelik tot niet te verklaar. Albei is saam in hierdie besluitneming. Die oorwegende rede is dat liefde dood is en julle niks meer in gemeen het nie. So waarom die gelukkige paartjie voorgee. Wie gaan baat daarby? Dan, skielik is die vrou / man die een wat wolf skree en die man of vrou van als beroof. Die persoon sukkel om kop bo water te hou maar jy eis als. Jy loop met die idee rond dat die wêreld jou iets skuld en blameer almal. Deur dan hom finansieël seer te maak dink jy, jy het gewen.
Drie verskillende scenarios maar die einde baie dieselfde. Een party stap weg met als, die ander met niks. Een moet al die skuld dra en lewenslank gestraf word. Waar stop ons met die “spite” en is regverdig teenoor mekaar in ons optrede en verdeling van die bates? Julle het tog immers saam besittings bymekaar gemaak. Wat maak dit saak as sy die lamp kry en jy die stoel? Dit is aardse goed wat niks gaan verander aan jul situasie nie. Wat veroorsaak dat die een dan dink hy/sy het meer regte as die ander een? Die ergste van als is die samelewing kies kant, gewoonlik aan die een wat als ontvang. Terwyl die een wat niks kry nie die vark in die verhaal is en weer van vooraf moet begin.
Omdat ek self verstaan wat dit is om met lee hande gelos te word moes ek vinnig leer om aan te pas. Ek moes leer om vir myself op te staan, vir myself te baklei en self my eie dinge te doen. Wat goed was, want dit het my “street smart” gemaak. Dit was harde tye, tye van oorlewing en het ek nie altyd geweet hoe om aan te gaan sommige dae nie. My hele uitkyk oor die lewe het verander en vandag verstaan ek dinge beter en is minder judgmental op mense.  Die pad het my sagter gemaak, meer toeganklik en meer warm as koud. Selfs al sukkel ek nog om mense te vertrou.
Die besef dat die uit einde van die vraag eintlik maklik is om te beantwoord, as ons net lank genoeg stil sit om te dink. Die son skyn oor ons almal: goed en sleg. Wanneer dit reën kry ons almal die selfde hoeveelheid. God gee nie vir die goeie mense meer reën as vir die slegte mense nie. Die son skyn ook nie minder op die goeie as die slegte nie. Nee, ons kry presies dieselfde ongeag hoe goed of sleg ons is. As Vader dan in Sy Alwysheid so kan optree, juis omdat hy elke mens intiem ken; hoekom kan ons nie ook so optree nie?
Ons is immers tog na sy Beeld geskape met dieselfde skeppingsvermoë as wat hy het. Hy het ons toegerus om te heers op die aarde, nie oor mense nie. Maar tog dink mense hulle kan heers oor ander mense. Dit is dan wat hulle dit sover vat dat jy nie weet hoe gaan hierdie persoon ooit weer opstaan nie. Dink aan die rolprent Les Misrables. Die verhaal begin waar ‘n pa ‘n brood steel vir sy honger kinders. Hy word gevang en lewenslank in die tronk gegooi. Vir jare doen hy hardearbeid tot op ‘n dag wat hy die geleentheid kry om te ontsnap. Die kaptein doen als in sy vermoë om die man te vernietig want in sy oë is hy ‘n krimineel en verdien geen versagting nie. Bitterheid dryf hom om hierdie man te jag. Die vlugteling het ‘n ander identiteit aangeneem en vir ‘n tyd lank verdwyn. Toe hy weer op die toneel verskyn kon jy nie glo hy is die selfde mens nie. Nou was hy ‘n welgestelde man op soek na sy kind. Die kind was nou ‘n jong vrou en spoedig kruis pa en dogter se paaie met die kaptein wat snuf in die neus gekry het en hom weer begin jag het.  Die uiteinde van die storie is dat die kaptein se haat hom vernietig het.

Bitterheid is ‘n gif.  

Die bitterheid van seerkry en benadeling is ‘n worstelstryd wat ons kop beheer, ons keuses beinvloed en ons optredes bepaal. Ons elkeen moet self besluit om ‘n ommekeer te maak, om die mense wat jy dink jou te nagekom het vry te laat. Bitterheid is ‘n euwel wat jou vaskeer in sy kloue. Sy tentakels diep ingeslaan in jou hele wese. Vir sommiges word dit so erg dat hulle ineenkrimp van pyn. Die angel van bitterheid laat jou eintlik swak en jy het geen verweer die dag wat jy dit werklik gaan nodig kry nie. Soos in die geval van die kaptein nie.
Gaan jy werklik jouself so oop stel bloot net om iemand ‘n punt te bewys? Of sal daar ‘n dag kom wat jou hart sal versag en jy sal weet dit is nou genoeg. Die prys is betaal.
Ek wil spesifiek hier stop en met die Vrouens gesels juis omdat hulle baie skuldig is aan toe-eiening. Wanneer ‘n man instem tot sekere eise tydens die skeisaak, aanvaar dit. Jy kan ook nie meer geld uit ‘n klip tap wat nie daar is nie. Om hom bloots te ry gaan hom nie terug bring of die huwelik herstel nie. Nee, dit gaan jou bitter agter laat, vervreemd en alleen los.  Om onnodige eise te stel breek hom as man af, laat hom voel hy is nutteloos en los hom sonder hoop. Ek verstaan dat vrees ‘n groot aansporing is om so op te tree maar deur hom te vernietig gaan jou niks baat nie. Indien jy nie vergewe nie vat jy dit saam in ’n nuwe verhouding in en het dit net negatiewe uitwerking op daardie verhouding.
Dieselfde is waar as die rolle omgeruil is. Deur ‘n vrou in armoede agter te laat vir jou eie plesier is nie net onregverdig teenoor haar nie maar ook teenoor die kinders, indien hulle nog afhanklik is van jou. Niks op hierdie aarde kan regverdig om haar sonder heenkome te laat met geen manier om haarself te versorg nie. Ons almal is so gesteld op ons regte dat ons, ons regte ten koste van ‘n ander wil laat afdwing. Vir watter doel?

Vergifnis
Kwaadwilligheid is iets wat ons daadwerklik moet aanspreek. Dit is ‘n aksie wat nie hoort tussen ons nie. Deur mekaar af te breek bereik ons nie een of ander vergoeding nie. Dit openbaar juis dan wie ons rerig is. Vergifnis is kardinaal tussen mense. Deur te vergewe en toe te laat dat die son oor almal skyn moet ons mekaar kan vryspreek.
Ja maar Lynelle, jy weet nie wat hy/sy aan my gedoen het nie? Jy is reg, ek weet nie. Maar ek kan sê wat hierdie spiteful houding aan jou gaan doen. Dit gaan jou vernietig. Nie vir hom of haar nie. Vir jou. Ons struikelblokke hou net vir ‘n tyd, dit weet ons alreeds. Jy gee indirek die ander persoon die gereedskap om te triomfeer te midde van sy omstandighede. En dan? Waar laat dit jou dan? Bitter. Is dit regtig ‘n plek waar jy wil wees of het jy ook die reg om nuut te begin? Jou knieë af te stof en geluk te vind. Jy sal dit nie kan doen as jy aanhou om nydig te wees nie. Jy bereik niks daardeur nie.
Ek wil graag die gedig van Douwlina du Plessis voorlees. Die gedig is eintlik geskryf toe sy uit gevind het dat sy borskanker gehad het maar dit is tog ook vir my gepas met hierdie onderwerp. Katterigheid, geniepsigheid, vermakerigheid, wrok, haatlik, nydig en kwaadwilligheid is ook ‘n kanker. ‘n Kanker wat jou ontneem van jou vrouwees, jou geluk steel en jou dof agter laat. Jy kan nie jou geluk op ‘n ander se ongeluk bou nie. Jy kan ook nie verwag om in ‘n nuwe verhouding gaan as jy nog iets teen jou eks hou nie. Hierdie stap is vir jou, ‘n selfsugtige stap wat jou sal bevry en genees.
Onthou – die goed waaroor jy baklei is aardse goed. Dit kan vervang word. Baklei oor die dinge wat saak maak. Kry jou kop weer skoon, lê die wraakgedagtes neer en skitter in die gesig van jou vyande. Indien hy dan iets gedoen het sal God jou vergeld.
Vrou 

Die vrou in my is dood

iewers tussen kanker 
en verwerping
en egskeiding
en verbittering
het sy gaan lê.
Opgekrul in haarself
fetaal, fataal, gefaal, gedood 
en grys, soos indringerplante
het deur die donker gloed
verspinnerak

my ontbloed

gerandfiguur

uitgespoel
in ‘n woestyn

self geskep
vir ‘n sekslose
dooie-oog vrou.
Wragtig tog steeds
Vrou.




Jou keuses bepaal wie jy word. Uitgeteer soos wat Douwlina skryf of skitterend soos ‘n diamant.  Ons elkeen wil die beste van die lewe hê. Nie een van ons verdien minder of meer nie. Ons het elkeen dieselfde mate ontvang maar dit hang van ons af hoe ons dit gaan aanwend.
Deel vroegtydig met hierdie gevoelens. Moenie dat dit deel van jou word nie. Skud dit af en wees die vrou wat jy weet jy is. Selfs vir jou as man. Maak jou skouers vier en reguit. Kyk die wêreld in die oë en wees die man waarop jou kinders sal trots wees.

Aan God kom die wraak toe, nie aan jou nie. Hy versterk en gee krag aan elkeen wat hom vra. En hy sal jou ook verdedig en voorsien in al jou behoeftes.  Net soos wat Hy vir my en vele ander gedoen het. Moenie toelaat dat bitterheid jou oorheers nie. Daardie soort vergelding sal jou vernietig. Hou eerder vas aan die hoop van môre.

ELAN GLOBAL RADIO

Die Stasie Vir Passievolle Mense


Facebook: Elan Global Radio Kuier en Klets https://is.gd/s1PX8T
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580

Gaan kuier en leer meer van ons, blog saam en luister saam:


SKAKEL IN: 

SIMPLE RADIO App.
http://www.liveonlineradio.net/south-…/elan-global-radio.htm


Wou jy nog altyd ‘n radioprogram doen?
Is toer jou passie?
Internasionaal en Nasionaal is jou kennis belangrik.
Dan wil ons jou uitnooi om deel van die span te word. Kontak Bea gerus by WhatsApp: 066 305 3580

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...