Wys tans plasings met die etiket Elsabe de Beer. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Elsabe de Beer. Wys alle plasings

Maandag 11 Desember 2017

Boekbekendstelling: SA Skrywers - Kontreistories - 29 Verhale deur verskillend skrywers #Afrikaans


Sinopsis:
Op elke kontrei dorpie is die een of ander bewaarde geheim, staaltjie te vertelle of sommer net ʼn storie wat elke nuweling op die dorp móét hoor. In SA Skrywers se Kontreibundel word jy weggevoer na die lewe van klein Hansie en jy ervaar ʼn begrafnis op Loopspruit. Hierdie bundel se stories beloof om jou volgende keer twee keer te laat dink voordat jy sê: dit is net ʼn scrapyard of dis net ʼn stukkende windpomp.
Durf die reis aan saam met elk van die skrywers en word deel van die lewe in SA Skrywers Kontreibundel se unieke wêreld.
Bestellings kan geplaas word by enige van die skrywers teen R130.00, posgeld uitgesluit.
Sal eersdaag op Groep 7 se Webwerf beskikbaar wees

Skrywers:​
1. Moles voor die Keffie - Babsie Jacobs
2. Wys my ‘n bittersoet wals – Maritza du Preez
3. Hansie se verrassing - Elsabe de Beer
4. Die einde of die begin? - Ilze Beukes
5. Broederlike weddenskap - Lia Killian
6. Soetwals op Bitterfontein- Rosalee Meyer
7. Begrafnis op Sukkelfontein - Ria Fourie
8. Diamante is rooi - Werner Wehmeyr
9. Vrome vriendskap - Hannes Snyman
10. Aronskelk – Ben le Roux
11. Ver pad na verligting - Driekie Grobler
12. Stukkende Windpomp - Lia Killian
13. Salt and Pepper 'n Liefdestorie. Lynelle Clark
14. Scrapyard storie - Antoinette Lourens
15. Baasspeurder Jorsie - Rosalee Meyer
16. Die Spruit, die Lyk, die Boepens.-Hansie Lategan
17. Drie Remora Suigvisse en ń dominee - Antoinette Venter
18. Liefde is ń lang woord – Maritza du Preez
19. Basjan se geheim - Rosalee Meyer
20. Wals op Bitterfontein - Johan Jansen
21. Roomys agter op ń bakkie - Johan Jansen
22. Drukking van die siel - Tarina Jordaan
23. Bekerveld Scrapyard - Pieter van Loggerenberg
24. Skandvlek - Riana le Roux
25. Droogte op die plaas. – Jeannetta Swanepoel.
26. Die huis op Kleinhoop – Marika Giani.
27. DIE HEK – Simon Riekert.
28. Die man met die Swart Skoene – Frans an Aardt.
29. Die Scrapyard op Calvinia - Piet Saayman

Ontmoet die skrywers:

Ria Fourie
Ek is 59 jaar oud, ma van vele en ouma van nog meer. Getroud en woonagtig in Pretoria. Werk my hele lewe nog en was vir een jaar by die huis maar ek het weer begin werk na ek besef het ek kan nog nie die elke dag huis bly ding doen nie. In daardie jaar het ek betrokke geraak by Rainbow Gospel Radio. Vreemd genoeg het ek in Driekie Grobler se voetspore gevolg want sy het voor my gedigte op RGR uitgesaai. Ek het so by SA digters betrokke geraak. Ek skryf al baie jare nie meer gedigte nie. Ek het besef dat my gedigte net vloei as ek gelukkig is. Ek het my hand begin waag aan stories skryf en alhoewel ek nog baie ver van ’n ware skryfster is, is dit vir my lekker om net stories neer te pen. My droom is om ’n skryfskool te kan doen en dan hoop ek om ’n boek te skryf voor ek nie meer kan nie. Ek het een sus en ons twee is baie geheg aanmekaar. Ek het in 2014/15 borskanker gekry maar is tans in remissie. Daarby is ek dol oor katte, maar het die afgelope sewentien jaar nie daai voorreg gehad om een te hê nie. Ek help tussendeur my man om Chinese kontrakwerkers te vervoer en ek besef dat hieruit ook nog ’n storie kan kom, alhoewel dit baie van my tyd vat en my fisies dreineer. Verder werk ek by ’n wonderlike oudioloog en ons twee het baie pret saam. Ek is baie lief vir die Here, al verstaan ek Hom glad nie. Daarom moet ek elke dag die besluit maak om Hom onvoorwaardelik te glo. Partydae is dit makliker as ander dae.

Hannes Snyman 
As oud Transvaler was dit ʼn moeilike besluit om die ooptes van die Karoo aan te durf, maar op die einde het hierdie pragtige Karoodorp, Orania, nesgeskrop in die holte van my hart. Met kinders wat reeds hulle eie dinge begin doen het, is daar nou minsame tye wat ek en vroulief die sterreprag, wat jy net in die Karoo in soveel glorie kan aanskou, kan indrink terwyl ʼn soel windjie die versengende somer hitte afkoel en ʼn Hemelse atmosfeer skep.Dit is ook hier waar ek die pen vir die eerste keer doelgerig opgetel, en besluit het om my hart aan andere oor te dra.
Antoinette Lourens
Ek moes 'n baie suksesvolle loopbaan vaarwel roep toe my man in 2014 met pensioen gaan en aankondig ons verhuis see toe. Na 32 jaar ononderbroke diens in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Ekself was te jonk vir pensioen en het nie kans gesien om 160 km per dag te pendel tussen Aston Baai en Port Elizabeth waar hul wel 'n pos sou hê vir 'n luitenant-kolonel nie. Boeke was nog altyd 'n groot passie vir my, en omdat ek baie mentor rolle vertolk het in die polisie het ek besluit om 'n boek aan te pak, gedurende 2015, waarin ek van my kennis kan oordra aan die jeug. Die boek is nog nie voltooi nie. (Die mikpunt tans is 2018). Lynelle Clark, het my genooi, iewers gedurende 2017, om deel te neem aan SA Skrywers se uitdagings, en ek skryf dus die afgelope jaar ook in Afrikaans. Ek praat baie en daarom dink ek is kommunikasie die medium waarin ek myself kan uitleef. My geloof, die see, en natuur lewe, is my kreatiewe bronne. Ek is nog 'n groentjie en skryf is tans 'n lekker stokperdjie, en tydverdryf.

Piet Saayman
Ek is 'n oud Vaaldriehoeker en het in 2009, na my aftrede Pretoria toe verhuis. My liefde vir lees en skryf het al op laerskool begin.
In 2008 begin ek ' n boek skryf wat deur die keurders van 'n drukkery verwerp word. Ek het gou besef mens het leiding nodig en het Janie Oosthuizen se skrywerskursus gevolg.
Na 2 kortverhale in Vrouekeur was ek reg vir die ding. Ek het kortverhale geskryf vir die vale en dit op my rekenaar gebere.
Nadat ek by SASkrywers en Malherbe uitgewers se FB aangesluit het, is die deure vir my oopgemaak en is dit die perfekte platform vir ons aspirant skrywers. Ek skryf omdat ek dit geniet en is opgewonde oor my 1ste kinderboek wat pas verskyn het. Ek is tans besig met nog 2 boeke. 

Lynelle Clark
As 'late-bloomer' het Lynelle ernstig begin skryf in 2010 toe sy baie tyd op hande gehad het. In 2012 het haar eerste boek, A Pirate's Wife, die lig gesien. In 2014 het Bella's Choice verskyn. Albei die boeke is op Amazon beskikbaar. Haar tog het haar op verskillende paaie gelei en so het sy baie aspekte van die skryfkuns geleer. Haar derde boek, Blood Mines, sal vroeg volgende jaar vrysgestel word. Sy hou van diversiteit in haar skrywery en is altyd opsoek na 'n nuwe uitdaging en een van haar stories is so pas vir 'n Aardklop uitdaging in aanmerking geneem. Afgesien daarvan het sy ook 3 Blogs wat haar aandag en tyd verg waar sy nie net haar eie werke bemark nie maar ook mede-skrywers sin. Sy het 'n passie om nuwe skrywers te identifiseer en te help om ook hul skryf drome waar te maak en is voltyds betrokke by SA Skrywers en Digters. 
    
Antoinette Venter
Antoinette woon in die lieflike Jeffreysbaai omgewing saam met haar man, ouma, skoonma, vier honde en twee katte. Haar liefde vir lees kom reeds van jongs af aan. Verskeie tydskrifverhale het gevolg. 'Soos die blou roos blom’ bonus-kortverhaal in een van die Romanzaliefde e-boeke van Lapa Uitgewers en ‘Offerliefde’ in die Hartlam bundel (Tafelberg) Daar is ook verskeie publikasies in saamgestelde bundels deur kleiner uitgewers.

Ilze Beukes Ek bly in Kroonstad in die Vrystaat, is getroud en  het twee getroude dogters, en een seun wat nog swot. Ek is ook 'n ouma vir vier woelwaters. Bedags werk ek by 'n plaaslike laerskool en saans verdwaal ek in 'n wêreld van storieskryf. 




Jeannetta Swanepoel 
Ek woon in 'n klein dorpie in die Noord-Kaap, Ritchie. 'n Plekkie wat ryk is aan geskiedenis, soos Die slag van Magersfontein en Die slag van Modderrivier, uit die dae van die Anglo-Boereoorlog, wat enkele kilometers van ons geleë is. Ek is 'n sjef, kulkunstenaar en Dj, maar my groot liefde lê natuurlik in die kunste. Ek skilder en skryf, nie omdat ek dit gekies het nie, maar eerder omdat die karakters en die verfkwaste my gekies het. Ek is ʼn stil en diep mens wat my woorde en gedagtes met ander mense deel d.m.v. my skryfwerk. Daar is ʼn wêreld van fiksie en karakters binne my wat eenvoudig met lesers móét gedeel word.
Rosalee Meyer
Woorde is vir my so nodig soos my volgende asemteug. Woorde is my vreugde, my skuiling. Die goue draad wat my lewe omraam. My woorde vloei voort uit Genade en Seën. Mag ek deur my woorde ook die voorreg hê om 'n seën vir ander te wees. Mag my woorde my lesers meevoer op 'n betowerende reis. 'n Groot dankie aan SA Skrywers vir die voorreg en die geleentheid. Bowenal 'n dankie aan my Hemelse Vader wat my vir nou hiermee seën. Ek is diep dankbaar dat ek nou 'n flertsie van my droom bewaarheid mag sien.

Lia Kilian 
Lia is gebore in Witbank (1968) en groot geword in Vanderbijlpark. Haar lewensbane het haar deur ons land gevat en haar die voorreg gegee om elke provinsie te leer ken en lief te kry. Sy het reeds as jong meisie begin skryf, maar eers in 2005 haar eerste publikasie gedoen. Sy het reeds al tien publikasies onder haar regte naam en 4 onder haar alias. Sy stel 'n Dig en foto bundel bekend in Desember asook haar eerste kortverhaal bundel. Februarie 2018 verskyn daar twee van haar kortverhale in 'n kortverhaalbundel asook twee gedigte in 'n digbundel wat deur SA Skrywers en Digters uitgegee word. Nog 'n kortverhaal bundel en Digbundel kom in Maart 2018 uit asook 'n roman wat die eerste een is van 'n reeks. Sy doen ook vertaal werk en sketse vir kinderverhale.


Marika Swart Giani 
Ek is n mamma van 4 en bly in Springs. Ek het van Laerskool dae af gedigte geskryf en dit was 1 van my grootste drome om 'n skrywer te word. Ek hou daarvan om liefdesverhale te skryf want die liefde is vir my baie spesiaal asook enige storie met 'n gelukkige einde. Ek is 'n 'sucker' vir gelukkige eindes.

Hansie Lategaan 
Ek is jare lank in die IT bedryf, maar het altyd vir my plesier en die asblik gekryf tot ek SA Skrywers ontdek het.  Ek woon en werk in Centurion waar ek bedags my brood verdien, maar saans my verbeelding op loop laat gaan en iets skryf.  Skryf is vir my ‘n absolute plesier en ek skryf wanneer ek wil en nooit omdat ek moet nie.  Dit is vir my waaroor dit gaan.  Ek doen dit omdat ek daarvoor lief is. 


Pieter van Loggerenberg
Groot Marico is Bosman wêreld soos hulle sê dit is in die hartjie van die Wes Transvaal en is baie ryk aan die nostalgie van die outyd en dis waar ek woon op 'n plaas al vir 24 jaar. As kind was ek lief vir stories nog voor ek hulle self kon lees of skryf en op skool het dig kuns my verbeelding aan gegryp, maar nooit sou ek kon dink eendag sal ek self 'n skrywer en digter word nie. Ek is 'n stil eenkant mens wat hou van moordsake oplos en navorsing doen op ou sake. Ek is 'n romantikus en is nou maar net eenmaal verlief op verlief wees en happy endings, sou ek 'n liefdesverhaal skryf. Ek is ook 'n goeie potloot skilder as ek die dag lus is vir teken en ek hou van kos maak ek is mal oor musiek wat iets in my binneste aan wakker en is lief vir die natuur. Ek is op my gelukkigste met 'n goeie boek as die wolke toe trek en dit beginne reën of as die mis oor die berge trek en die plaas spookagtig beginne lyk en als net stil om my raak.

Driekie Grobler
Ek is 'n skrywer/digter/motiveringspreker/omroeper/proefleser/redigeerder. Woon in Pretoria en my passie in die lewe is om ander te help en Afrikaans te bevorder. Ek is betrokke by verskeie organisasies soos o.a. die GHA (Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans) en is ook ‘n Ambassadeur by Afrikaans.com. Het al verskeie boeke gepubliseer en heelwat toekennings vir skryf-/en digkuns ontvang. My doel is om ‘n verskil te maak en waarde toe te voeg hoe en waar ek kan.

Tarina Jordaan
Tarina Jordaan is 'n onafhanklike navorser en skrywer. Alhoewel haar skryfwerk tot onlangs toegespits was op akademiese publikasies rondom sin van plek (genius loci) en plekgehegtheid, put sy deesdae meer pret uit die skryf van kortverhale vir die Vrouekeur. Haar nuutste projekte sluit in twee Afrikaanse spanningsromans. Sy woon tans in Antwerpen, België

Elsabe de Beer 

Ek was my lewe lank ‘n onderwyseres, het onlangs skryfkursusse by Skryfgeheime en SA Vryskutskrywers gedoen, en daarna het die gogga my gebyt. Ek het nou al twee kortverhaalbundels gepubliseer, en hoop om nog baie meer te publiseer!







Simon Riekert
Ek is 'n verplante Laevelder uit die Sabie-vallei en woon die afgelope drie dekades in Pretoria. Danksy gelukkige kinderjare, goeie onderwysers en geduldige ouers het my liefde vir lees en skryf nooit opgehou nie. My inspirasie het van vroeg tyd af gekom van ooms wat grootoog kon vertel langs die kampvuur, ons huisdokter wat poësie geskryf het en 'n tante wat saam met die spookstories in die distrik gespook het. Nou reis ek en my vrou die land vol met bergfietse wat ons geleentheid bied om by die plekke uit te kom waar interessante mense met goeie stories leef. Ek hou van sport, musiek, mense, fotografie en fyn kuns. Ek skryf stories en poësie oor die lewe, mense se dinge en die dinge van die lewe. Tussendeur pleeg ek regsadvies in 'n vennootskapspraktyk en geniet my lewe as geakkrediteerde rugbyjoernalis. Of al my stories waar is, bly 'n goedbewaarde geheim. Nie eens 'n goeie stukkie biltong breek die stilswye nie. Maar 'n mens weet nooit...
Frans van Aardt 
Ek is lief vir die natuur. Kom goed met mense oor die weg, maar baie gelukkig alleen in die veld. Baie lief vir lees van jongs af. Die skrywery het vir my genesing gebring na 'n baie traumatiese tydperk Ek is mal oor ingelegde druiwe, verkieslik die rooies. My tipe boeke wat ek skryf word grootliks daardeur bepaal.
1 Glasie = spanning
2 Glasies = riller
3 Glasies = romanse
4 Glasies = wetenskap fiksie
Nou ja, hierbo het julle gesien dat ek ook van grappies hou!

Johan Jansen
Vandat ek kan onthou, het ek ñ groot verbeelding gehad en altyd stories opgemaak. Skryf was nog altyd my passie en my vriendin het my geraai om te skryf. Op die oomblik is ek besig om ñ verhoogstuk vir Aardklop te verwerk vir die wenner (Lynelle Clark) wat aan ñ SA Skrywer kompetisie deelgeneem het.




Werner Wehmeyr
Ek bly tans in ʼn dorp oorkant Edinburgh in Skotland. En daar is ʼn groot stuk see tussen my en die hoofstad. Ek is gebore in Pretoria en dit is waar my liefde maar nog lê al het die kaap my tweede blyplek geword omdat my pa nou daar bly. Ek het nooit besef skryf sou ʼn groot deel word van my lewe nie maar in 2010 het ek gedigte begin skryf wat ek op die webblad Woes geplaas het. Dit was vir my ʼn ongelooflike ervaring want vir die eerste keer het ek besef dat ek hier ʼn talent het want ek nooit geweet het bestaan nie.
Ek was ʼn analis programmeerder gewees tot die tegnologie so verander het dat ek ook my beroep moes aanpas en werk tans as ʼn boekhouer in Edinburgh. Ek is ʼn baie diep mens wat op ʼn ander vlak oor dinge dink en redeneer. Ek het nou onlangs begin om selfs kortverhale te skryf en doen tans ʼn skryf kursus.
Ek is meer bekend as ʼn romantikus via my gedigte en stories maar ek probeer om so wyd moontlik te skryf. Ek het reeds ʼn gedeelte bundel uitgebring met stories en gedigte maar binnekort kom my eerste solo digbundel uit wat ek as prys gewen het. 

Babsie Jacobs
Gebore op Jacobsdal, skool gegaan op Hoopstad, grootmens geword op Douglas en nou besig om oud te word op Harrismith – dis Babsie Jacobs. Ek ‘n enkelouer met kluisenaarneigings en as dit nie vir die stemme in my kop was nie, sou my lewe baie vervelig gewees het!
In 2007 was ek 'n finalis in NB Uitgewers en Leserskring se liefdesverhaalwedstryd vir nuwe skrywers. My inskrywing, Volbloedvrou vir 'n Vaalseun, is gepubliseer onder die skuilnaam Kobie Smit en dit bly nog steeds vir my ‘n wonderwerk! Dit was ook ‘n groot verrassing toe dit in September 2017 opgeneem is in NB Uitgewers se Melodie Omnibus 2.
Na tien jaar het die skryfgogga my weer gebyt en my eerste kortverhaal het onlangs in Die Huisgenoot verskyn.  
Wanneer ek nie werk om die pot aan die kook te hou nie, reis ek die wêreld vol, red renosters, vang misdadigers en verlei sexy mans. Alles in my verbeelding, natuurlik.






Vrydag 25 Augustus 2017

Resensie van SA Stories se Nostalgie bundel en 'n Onderhoud met Elsabe de Beer. 25 Kortverhale 25 Aspirant Skrywers


Beskikbaar op Amazon in eBook

en Hardekopie direk by die skrywers of myself 

lynelleclark@gmail.com

Resensie: 5 Sterre
Ek was bevoorreg om by die boek-bekendstelling, te Haphuis op 1 Julie 2017 te wees en het daar my eie getekende boek gekoop. Ek kon ook met van die skrywers hande vat en saam die kreatiewe eindproduk van hul werk geniet. Op die dag het sommige van hulle hul stories met ons mondelings gedeel wat dit net soveel meer spesiaal gemaak het.
Die goed saamgestelde bundel was heel gepas genoem Nostalgie waarin 25 aspirant skrywers hul gedagtes vêr laat wegvoer het om ons ietsie van hul lewe en hart te openbaar. Dit is kosbare kleinnode wat ons meesleur na vergane dae toe ouma’s en oupa’s geleef het en dinge rustiger was.
Sommige verhale laat ‘n mens vêr dink in ‘n mens se eie lewe en die nostalgie van kosbare waarhede wat ‘n mens gevorm het.
Dit is SA Skrywers se eerste boekvrystelling en ek vind dit verfrissend en baie toepaslik vir vandag. As lid van die Bakkiesblad groep vind ek hul onderwerpe interessant en verrykkend en spoor hulle jou aan om rerig die beste werk te lewer. Vir my wat net gewoond is om in Engels te skryf is dit ‘n welkome plek om ook my skryfstyl in my eie taal te ontwikkel.Waarlik ‘n goeie bundel wat ek kan aanbeveel vir jou boekrak kolleksie.
 
Onderhoud met Elsabe de Beer
1.       Hoe is SA Stories gebore/ Waar het die idee vandaan gekom?
Elsabe: Ek het gesoek op Facebook waar ‘n mens kan wenke kry oor hoe om te skryf, agtergekom daar is baie digblaaie, maar nie veel om skrywers en veral beginner skrywers te help nie. Daar was toe ‘n Facebook blad wat nie ‘n admin gehad het nie. Ek het dit dadelik geneem en die naam verander na SA Stories, aangesien ek en Ilette Strydom van groep 7 al besig was met onderhandelinge om SA Stories te stig. Ek het dadelik vir Riana genader, want met haar talent en werkvernuf het ek kans gesien om dit aan te pak!  Dit was 5 Januarie 2017. Die res is geskiedenis, ons trek nou al by 1 000 lede!

2.       Hoekom nou juis bundels?
Is dit nie maar enige skrywer en veral beginnerskrywer se droom om eendag sy eie of ‘n bundel waarin sy storie opgeneem is, vas te hou nie?

3.       Hoe gereeld sien julle mekaar en word idees gedeel?
Ons het mekaar nog net twee maal persoonlik ontmoet, maar ons beplan stukke aanmekaar oor Facebook messenger en ons telefone! Ons bel mekaar gereeld!

4.       Deel ‘n onnutsige/ stoute gebeurtenis vandat julle met SA Stories begin het.
Sjoe, ja ons het maar aan die begin baie blapse gehad met mense wat onvanpaste plasings gedoen het. Ons moes bontstaan om skade te herstel.

5.       Wat wil julle graag bereik lang-termyn met die boeke?
Ons wil graag alle beginnerskrywers asook gepubliseerde skrywers help om te kan publiseer by ons drukkers, Groep 7. Ons droom is om eendag ‘n eie uitgewerbesigheid te vestig waar ons skrywers help met proeflees, taalkundige versorging en publikasie.

6.       Iets oor julle self: Waar het die passie vir skryf begin, en wat was jou eerste probeerslag?
Ek het al op skool begin skryf en dig, selfs agter in my Wiskunde boek, stories was nog altyd my lewe!

7.       Wie het julle geinspireer om te skryf?
Ek dink dit was my Letterkunde onderwyser op skool, hy het my baie lief gemaak vir prosa en poësie.

8.       In die algemeen, hou julle daarvan om oor julle werk te praat? Indien nie, hoekom nie?
Eintlik is dit al waaroor ek deesdae praat, ek dink dit is vir my man al ‘n groot frustrasie, hy deel beslis nie my passie nie.

9.       Enige boek in die vooruitsig en waaroor sal dit gaan?
My volgende droom is om ‘n roman te skryf, of oor ‘n vrou wie se man haar gelos het, of oor ‘n kind vir wie ek jare gelede skoolgehou het, arm, verwaarloos, maar tog homself opgewerk het.

10.   Hoe werk die skryf proses vir jou?
Ek kry eerstens die idee in my kop, maak ‘n paar aantekeninge, bou daarom die storieplan. Sodra ek begin skryf, neig my karakters om hulle eie wil te hê en die storie te dwing in ‘n rigting wat ek nie beplan het nie. Hulle maak my moeg!

11.   Waar het jy jou opleiding ontvang?
Ek het by Janie Oostuysen van Skryfgeheime drie kursusse gedoen, en by Leoni Benghiat van SA Vryskutskrywers drie kursusse, laastens die proeflees kusrus by Leoni Benghiat. Iets wat ek baie geniet, seker maar omdat ek ‘n onderwyseres was.

12.   Watter gedeelte van die skryfproses is vir jou die moeilikste?
Die afronding en lees, lees totdat jy tevrede is.

13.   Kan jy aan opbouende kommentaar dink wat jou rerig bemoedig het vandat jy begin skryf het?
Ja, ek het baie opmerkings van mense gekry wat gesê het hulle het my stories baie geniet.

14.   Skryf is ‘n baie persoonlike saak, hoeveel van jou eie ondervindinge word in die stories geweef?
Ek skryf baie oor dinge wat ek self beleef het, of oor iets wat iemand vir my vertel het.

15.   Wat is die beste/ of slegste deel van ‘n skrywer?
Skryf is ‘n alleen-pad. Ek mis soms inter-aksie met mense.

16.   Enige advies vir aspirerende skrywers?
Doen vir seker eers ‘n skryfkursus, en glo in jouself!
17.   Wat is jou gunsteling genre om te lees en te skryf?
Doodgewone lewenservaringe.

18.   Gunsteling skrywer of boek?
Annelie Botes. Al haar boeke. Ek sal graag soos sy wil skryf!

19.   Het jy ‘n loopbaan gehad voor jy as skrywer ontwikkel het?
Ja, ek was ‘n onderwyseres.

20.   Wat het veroorsaak dat jy wel begin skryf het?
Ek het ‘n dringende gevoel gehad dat ek iets het om te vertel!

21.   Enige stokperdjies behalwe skryf?
Ek skilder graag, borduur en skryf natuurlik!

22.   Is jy ‘n avonturier en hoe waaghalsig is jy?
Nee, die mees avontuurlik wat ek is, is om een maal per jaar Wildtuin toe te gaan. Kamp is nie regtig vir my nie.

23.   Het jy jou familie se ondersteuning en wat dink hulle daarvan?
My kinders vertel my dat hulle trots is op my, my man laat my tot ‘n mate toe om aan te gaan met my skrywery soos ek wil, maar soms raak hy moeilik!!! Dan moet ek ophou en TLC gee!!!




Woensdag 02 Augustus 2017

Boekbekendstelling: SA Hartswoorde en SA Stories




Boeke is verkrygbaar by my lynelleclark@gmail.com teen R120 posgeld ingesluit. 
U kan ook aansluit by die groep op Facebook om so jou eie skryfwerk te bevorder en te publiseer. 

Ek deel graag fotos van die amptelike boekbekendstelling op Saterdag, 29 Julie te Haphuis, Capital Park.






Verskeie sprekers, wie se werk in die boeke gepubliseer is, het vir ons voor gelees wat by gedra het tot die suksesvolle dag. Dit was 'n belewenis om elkeen te ontmoet en mekaar se werke te kon geniet.








Wie se beeld is in jou kop; Goliat of Dawid?

  1 SAM 17: 12Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. 13Die oudste ...