Voor die
program in alle erns begin wil ek eers weet hoe was jul Paasnaweek? Myne was
rustig, die besef van ‘n Opgestane Verlosser weer lewendig in my gees. Wanneer
ons besig is met die alledaagse lewe en sy verpligtinge vergeet ons die
waarheid en druk die bekommernisse ons af. Ons vergeet dat ons alreeds 2000
jaar gelede ons oorwinning ontvang het. Ek hoop werklik dat hierdie tyd van
refleksie ‘n tyd van skoonmaak was, ‘n tyd van versterking en nuutgevonde hoop.
Ek het weereens
in die week besef ek het nog baie om te leer oor verhoudings. Net sodra ek dink
ek verstaan dit kom die volgende curveball en dan moet ek dit weer herdink. My
aanslag verander.
Voel julle
ook so soms?
Daar is tye
wat ek werklik waar gestroop is van enige slim woorde. Dit is so maklik om te
praat, maar die doen is ‘n heeltemal ander baadjie om te leef. Ek is eerlik my
verhouding met verloofde is nie altyd die beste nie. Daar is tye wat daar
absoluut geen kommunikasie tussen ons is nie. Albei van ons kom uit ‘n verlede
met baie bagasie. Bagasie wat nie noodwendig mooi is nie. Maar dit is daar en
soms, wanneer die lid oopgemaak word is dit soos ‘n Pandora boks wat net die
lelik uitbring. Nydigheid, jaloesie, selfsugtigheid, onverstaanbaarheid en
ongeduld.
Dan word
dit lelik en praat ons nie met mekaar nie. Omdat ons tans in my ouerhuis bly
vererger dit ook die spanning en kan ons nie openlik praat nie. Dit moet altyd
in die kamer gebeur, agter ‘n toe deur. Die plek wat bedoel is vir rustigheid
en rus word dan ‘n oorlog’s veld met landmyne wat jy liefs vermy.
Om weer
terug in my ouerhuis te wees was moeilik. Wanneer jy vir 30 jaar gewoond was
aan jou eie ding doen moet jy nou op eiers loop. Op my eie was dit
verdraagsaam. Nou dat my verloofde saam is dit heeltemal ‘n ander saak. Nou is
dit nie my of ons reëls wat geld nie maar die ouerhuis se reëls wat in ag geneem moet word. Ek
was in die huis woonagtig langer as sy paar maande, ek was geleer deur baie
pakslae en veroordelende woorde oor wat sal geduld word en wat nie. Daardie lering
bly onwillekeurig in jou en jy keer om ‘n rusie te vermy, maar dan word dit
gesien dat jy foutvinderig is.
Elke ding
daarna is nog ‘n toevoeging tot verkeerde interpertasies wat die ander heel
moontlik nie bedoel het nie.
Is ek dalk
verkeerd in my siening?
Wanneer ‘n
paartjie deur ‘n spanningsvolle tyd gaan dan kos dit meer geduld en
verdraagsaamheid van beide partye af. In hierdie tyd skaaf ons mekaar soos
yster wat yster skaaf. Dit is pynlik soms, selfs vermoëend. Daar is tye wat jy
geen idee het waar jy staan nie. Dit alles kan druk op ‘n verhouding plaas.
Indien daar geen kommunikasie is nie dan is dit nog moeiliker.
Elkeen
kruip weg agter daardie masker van afstand. Om jouself te beskerm. Ek en my
verloofde kom uit huwelike wat langer as 25 jaar was. So jy is in ‘n plek waar
jy onbewustelik jou vrese en bekommernisse sien afspeel soos in ‘n dejavu. Jy
wil nie dit weer ervaar nie daarom beskerm jy jouself. Hetsy deur stilswye of
woede. Jy wil nie die vorige maat inbring in die geveg nie maar jou gedagtes
skiet onwillekeurig daar na toe en jy maak vergelykings. Jy keer jouself om
niks te noem nie want dit maak kan die situasie net vererger deur dit te doen
en dan het jy ‘n volskaalse oorlog op hande.
Nie net is
ek in ‘n nuwe verhouding nie maar probeer ek werklik weer myself te vind te
midde van al die onderstrominge. Dit sluit ook my verhouding met God in. Voorheen
het dit maklik gekom maar nou, met jare se seer as verwysing is dit moeiliker.
Ek vind my by tye eenkant staan, evalueer om dan ‘n besluit te neem. Weg is die
kinderlike onskuld om Vader blindelings te volg. Nou weet jy dat elke aksie,
elke woord en elke gedagte bydra tot jou groei. Jy weet dat dit alles
consequences het. Jy vertrou min en maak nog minder oop. Ou vrese kom na vore
maak nie saak hoeveel keer jy probeer om te onspan en anders daarna te kyk nie.
Dit gebeur net.
Kom ons kyk
na die basiese onderwerpe in ‘n verhouding. Die eerste een is
Vertroue
Ek stel ‘n groot
waarde op vertroue vir enige mens wat my pad kruis. Of dit nou ‘n voornemende
klient is, vriendin of familielid is. Des te meer vir my lewensmaat. Ek sal
niks doen om syne te verloor nie en so verwag ek ook dieselfde.
Ek het
byvoorbeeld nie ‘n probleem dat hy met iemand gesels nie. Ek is nie jaloers nie
omdat ek verstaan, of probeer verstaan dat daar verskillende Vriendskappe is,
selfs tussen mans en vrouens. Nie all mans wil met my in ‘n liefdesverhouding
wees nie, net so wil nie elke vrou wat met hom gesels met hom in ‘n verhouding
wees nie. Dit is vriendskaplik.
Maar
wanneer die persoon begin persoonlik raak dan is dit nie meer vriendskaplik
nie. Dit is wanneer daardie balans versteur word dat daar probleme is. Wanneer
jy die heeltyd moet verduidelik hoekom jy met iemand gesels stap eerder weg.
Omdat boeke
‘n groot gedeelte van my tyd beslaan praat ek boeke, niks anders nie. Dit is my
passie, en my inkomste. Wanneer dit oorskry word verander ek die onderwerp of
stap weg. Dit is net veiliger. Net so verwag ek van my lewensmaat.
Enige ander
reaksie is ongesond vir enige verhouding. Wanneer daar in jou maat se verlede probleme
was met dit kan hy sy vrese op jou projekteer. Daarom moet jy dit op ‘n
verskillende manier benader.
Vertroue is
‘n noodsaaklike pilaar in jou verhouding. Daar sonder het jy probleme.
Eerlikheid
Die volgende
pilaar is eerlikheid. Dit en vertroue loop hand aan hand. Vanuit ‘n nuwe
verhouding oogpunt is dit ‘n delikate onderwerp. Want wanneer praat jy jou hart
uit, en wanneer nie? Jou vorige maat het alles van jou geweet, die nuwe een
nie. Daar is dinge wat jy al mee gedeel het so om dit op te bring is soos ‘n
hond wat terug keer na sy eie braaksel. Dit sal niks aan die nuwe verhouding
verander nie, in teen deel dit kan juis die wig wees wat dit verbreek.
My siening
is alles rakende my nuwe verhouding is ek eerlik oor. Ek steek ook niks weg
nie. Maar dinge wat in die vorige verhouding gebeur het, is net dit. Verlede
tyd. Sommige mense, wanneer hulle die dinge weet wil dit probeer uitsorteer of
dink jy sukkel nog met dit, of in die hitte van die oomblik bring dit op.
Eerlikheid
is die vermoë om oop te maak, te gee en te ontvang. Dit veroorsaak elke ander
area om reg te funksioneer. Eerlikheid en vertroue loop hand aan hand.
Soms is dit
moeilik, soms dink jy ‘n wit leuen sal beter wees, maar op die u einde is
eerlikheid en openlikheid baie belangrik vir jou verhouding. Leuens vererger
jou vertroue en jou integriteit. Dit plaas onnodige druk op jou verhouding.
Wees eerlik
van die begin af. Dit maak dit net makliker.
Respek
Respek is
net so belangrik in jou verhouding. Dit is een van die lintels in jou huis as
te ware. Daar sonder kan geen verhouding staande bly nie. Respek word
weerspieël in jou houding teenoor jou maat. Dit kos net een daad of woord om
dit te verander dan is die res van die verhouding gekelder. Indien julle nie
respek het nie verkrummel dit.
Respek is
om mekaar raak te sien, verby die foute te kyk en die hart raak te sien.
Wanneer daardie beeld geskend is, is dit verby.
Kommunikasie
As vertroue
en eerlikheid die pilare is en respek die lintel, dan is kommunikasie die deur.
Dit sluit die hart oop en laat die ander persoon binne. Dit skep ‘n gemeensame
band van openheid en aanvaarding. ‘n Gereedskap om mekaar beter te ken. Om jou
drome en ideale te deel. Om ‘n maat te wees deur mekaar op te lig en aan te
spoor. Dit maak alles die moeite werd. Kommunikasie is baie belangrik in jou
verhouding. Dit hou al die bakstene bymekaar.
Lojaliteit
Lojaliteit
is verseker die hoeksteen van jul huis. Indien julle nie lojaal is nie dan
verloor jy respek, kommunikasie neem af. Leuens begin te heers in jou huis en
dit is een groot rommel.
Wanneer jy
byvoorbeeld skinder agter jou nuwe man se rug is jy nie net disrespekvol nie
maar ook dislojaal. Indien jy nie saam met jou maat kan stem nie is jy ook
dislojaal. Dit is hoekom man en vrou nooit teen mekaar kan getuig in ‘n verhoor
nie. Hulle sal bias wees juis om mekaar te beskerm. Lojaliteit is commitment in
sy hoogste vorm.
Geluk
Hoeveel
paartjies ken jy wat werklik gelukkig is? Geluk is dieper as veldiepte. Ek was
by tye baie ongelukkig, in my vorige huwelik, in die verhouding wat ek gehad
het, selfs in hierdie verhouding was ek diep ongelukkig. Ek moes werklik al
baie hard werk daaraan om gelukkig te wees. Iemand het my eendag die vraag ook
gevra toe ek gevra het vir wysheid oor iets. Geluk straal jou gedagtes uit.
Indien jy ongelukkig is sien mense dit. Dit is as te ware die venster van jou
hart. Geluk is nie mensgemaak nie. Geluk is ‘n stille wete dat jy op die regte
plek is, een is met jou omgewing en content is. Dit skyn deur jou en gee jou
daardie glans om te skitter. Daar sonder is jy faal.
Kompromie
Of jy nou
30 jaar getroud is, of net ‘n maand uitgaan. Kompromie is iets wat vroeër of
later gaan moet gebeur. Indien die een maat net gee en die ander net ontvang
dan is dit ongebalanseerd. Soms moet jy kan gee, soms moet jy kan ontvang. Dit
is ‘n baie fyn lyn wat slegs kan gebeur omdat daar kommunikasie is. Sonder
kommunikasie weet jy nie wat aangaan in daardie persoon se kop nie en sal jy die
verkeerde dinge doen of sê. In ‘n die kortstondige verhouding van 6 maande het ek al die ry werk
gedoen. Hy het altyd ‘n rede gehad hoekom hy nie na my toe kon kom nie. Daar
was tye wat ek dit nie kon bekostig nie maar omdat dit vir my belangrik was het
ek gery. Dit het my werklik nie gepla nie. Maar dit het tog ‘n saadjie geplant
dat ek die een is wat net moet gee sonder om iets te verwag. Dit laat ‘n bitter
pil smaak in jou mond.
Veilgheid of sekuriteit
‘n Ander
vername boublok is sekuriteit. Voel jy veilig by die man? Het hy jou veiligheid
in sy gedagtes. Isak het al ‘n paar maal gesê as ek so alleen moes ry, as iemand
jou van die pad probeer ry of mense omring jou moenie omgee oor die bakkie nie,
ry net. Dit wys vir my dat my lewe belangriker is as sy bakkie. Indien julle
hom ken sal julle weet sy bakkie, Amatrok, is ‘n groot deel van wie hy is. Die
twee is onafskeidbaar eintlik. So, vir hom om dit te sê, beteken vir my baie.
Onafhanklikheid
In ‘n nuwe
verhouding is dit maklik om jou eie identiteit te wil behou, ten koste van jou
verhouding. Onafhanklikheid is vir my baie belangrik. Ek is en bly my eie mens.
Om weer in ‘n hokkie gesit te word net om in te pas is onaanvaarbaar en die
rede vir baie rusies. Maar ek glo ook onafhanklikheid kan nog steeds gebeur mits
daar gesamentlike kompromië is. Baie paartjies kry dit reg. Maar dit kos geduld en kommunikasie om
dit te bewerkstellig. Dit gaan nie vanself gebeur nie.
Vennootskap
Die laaste
boublok in ‘n verhouding is vennootskap. Dit is die afspreek om saam met mekaar
te loop, daar te wees vir mekaar en mekaar se beste belang voor op te stel. Net
soos ‘n verbond is ‘n vennootskap die gom wat alles bymekaar voeg. Dit gee jou
die rede om te bly en bymekaar te staan deur dik en dun. Of dit nou op papier
neergepen is en net in woord bestaan, dit is ‘n die verbintenis wat julle saam
voeg. Indien julle nie in eenheid beweeg nie kan dit tot ‘n vinnige einde loop.
Nuwe
verhoudings kan werk as meer as net een van hierdie komponente teenwoordig is.
Dit maak elke verhouding spesiaal en uniek. Dit vrywaar ons nie dat daar nie
probleme sal wees nie maar maak dit tog makliker.
Daarom is
dit belangrik om ‘n nuwe verhouding op ‘n vars fondasie te bou. Jy kan dit nie
doen indien jy met ou bagasie rondloop nie. Deur mekaar nie ruimte te gee nie
kan daar geen verhouding wees nie. Deur nie met die verlede te deel nie kan jy
net groter skade aanrig.
‘n Nuwe
verhouding moet aangepak word met baie meer verdraagsaamheid en geduld. Jy het
ook kennis nodig om dit te kan doen. Julle is twee mense wat saam kom om saam
te loop. Maar jul verwysings raamwerk is verskillend. Julle is nou ouer, het
nou kinders, het verantwoordelikhede. Daarom kan so baie dinge verkeerd loop
indien julle nie nougeset die boublokke bou nie.
Nie een van
ons word jonger nie. Of wil weer begin nie. Dit is moeilik om alleen te wees,
dit is nog moeiliker om saam te wees. Slegs deur dit te gaan met meer insig en
wysheid kan ons daarvan ‘n sukses maak.
Mag elkeen
van julle wat julle in ‘n nuwe verhouding bevind werklik vrede en geluk ervaar.
Mag julle ‘n oop kommunikasie lyn hê en mekaar waardeer. Mag die bagasie van die verlede verby ry en nooit
by jul voordeur afgelaai word nie. Maar bowenal mag julle die nuwe pad met
wysheid wandel in die wete dat jul verhouding sterk staan juis omdat julle
geleer het van die vorige.
Wees
geduldig met mekaar, wees lief vir mekaar. Wees getrou aan mekaar. Dit is die
grootste geskenk wat julle aan mekaar kan gee.
Die ander vrou
As geskeide vrou leer jy vinnig wat beteken die term: Die
ander vrou. Dit is nie iets waarvoor jy beplan nie maar is onvermydelik wanneer
jy weer betrokke raak met ‘n man. Julle kan hoe diep in mekaar se oë kyk en op elke vlak mekaar aanvul
maar sy is die een wat hom die beste geken het en nogsteeds ‘n rol speel. Soms
dink ek dit is juis nodig dat die twee bymekaar uit moet kom en gesels wat
positiewe resultate kan lewer. Selfs hartseer kan voorkom. Maar dan kan dit ook
‘n fiasko wees en julle twee is soos olie en vuur en die vonke spat. So, skrap
die gedagte. Want dit werk nie. Ek weet.
Die ander vrou is skielik iemand, met ‘n naam. Alhoewel jy
haar nog nooit ontmoet het nie, is sy ‘n permanente deel van jou lewe. As
nuweling word jy vergelyk, beoordeel en bespreek deur vriende en familie.
Ongeag hoe hard jy probeer jy kan haar nie ignoreer nie. Deels omdat sy
gedurigdeur opkom in gesprekke veral as julle in dieselfde kringe beweeg of
indien daar kinders betrokke is.
Met sosiale media is dit selfs makliker om van die ander
vrou te wete te kom en op haar te volg aka spioeneer. Wie het dit nie al gedoen
nie? Ons gebruik verskeie redes om onsself te regverdig maar feit bly ons wil
meer weet oor die vrou wat die man in jou lewe gedeel het of deel. Dit hang af
aan watter kant jy staan.
Ek onthou in my eerste huwelik het ons verhouding ook maar
pas begin en het ons saam na ‘n kerkkamp gegaan. Die Sondagoggend moes hy gou
‘n draai loop en sê ek moet
solank gaan sit. By ons sitplek het sy Bybel op die vloer gelê waar ek dit op
getel het. Daar, voor my voete val toe ‘n foto uit van sy vorige meisie. ‘n
Duisend vrae het deur my gegaan in ‘n bestek van sekondes. Agterna het hy my
verseker dat die verhouding verby is. Ek het hom geglo. Ons is getroud. Met verloop
van tyd het sy elke keer, op die mees onverwagse oomblikke, na vore gekom. Jy
sien, sy familie kon haar nie vergeet nie, en het by tye ook kontak met haar
gehad. Elke keer het hy my verseker dat sy iets van die verlede is. Maar sy het
bly opduik wat wel sy stremming geplaas het. Toe ons huwelik op die rotse loop
was sy skielik weer terug. Sommer netso, na 30 jaar van geen kommunikasie. (Ek
wil ook nou nie enige wyshede hoor nie… Los dit daar.)
Toe jy vir die eerste keer getroud is was die ander vrou die
skoonma en ‘n baie mooi verhouding ontstaan tussen julle twee. Vir my het dit
tien jaar gevat om ‘n goeie verhouding op te bou met haar. Ons het beslis ons
verskille gehad aan die begin maar selfs dit het minder geword en het ons
mekaar aanvaar. Vir ander is die verhouding pynigende en vind dit so ondraaglik
dat hulle sal wegstap bloot net vir die vrede. Luister net na al die skoonma
grappe wat sirkuleer en jy sal weet wat ek bedoel. Eintlik is dit baie ernstig
en kan ‘n huwelik maak of breek.
Ek het al verskeie boeke gelees, films gekyk en na vrouens
geluister waar die ander vrou eintlik ‘n groot rol speel, besluite en hantering
van die nuutgevonde verhouding. Dit is natuurlik nie iets wat ons sal erken nie
maar dit gebeur onbewustelik. Soos ek, wat onlangs my haarstyl verander het toe
ek agter gekom het ek en die ander vrou se styl is dieselfde. Jip, het haar
opgespoor op die sosiale netwerk. Eintlik so onnodig maar dit werk tog
sielkundig op jou in. Moenie lag nie… ek is ook net mens.
Ek glo altyd dat ‘n saak twee kante het, elkeen se weergawe
kan verskil van die ander. Ek hou daarvan om eerder ‘n ingeligte besluit te
neem as om toe oë in iets te
stap. Het mos gesê ons elkeen regverdig die spioenasie ding op die Internet.
Met my vorige verhouding het die man my alles van homself vertel, sy eie
tekortkominge erken en my oortuig dat hy gereed was vir ‘n nuwe blaadjie. Hy
het my selfs gevra of ek hom sal help en soos ‘n dapper vrou het ek die stryd betree.
Maar daar was verskeie kere wat ek gewonder het wat maak hy, met wie praat hy,
en waar is hy? Die saadjie van twyfel was geplant, vernaam hoe meer ek te wete
gekom het. Dan het ek gaan ondersoek instel oor die ander vrouens en probeer om
alles op te lees wat ek kon. Met hom was dit eintlik maklik want Google het
heelwat inligting oor hom gehad.
Wanneer jy na haar
kyk dan wonder jy hoeveel van hierdie man se kwessies moes sy verdra bloot vir
die vrede in die huis. Hoekom het sy koud geword? Hoekom het sy weggestap? Wat
het haar gedryf om te vra vir ‘n egskeiding? Honderde vrae wat jou laat peins
oor die wysheid van die verhouding. Moet jy die kans waag?
Ons wil so maklik glo dat ons lewensmaat die regte ou is vir
ons. Jy is bereid om sy foute te oorsien, saam met hom te groei en ruimte te
maak vir mekaar maar die ander vrou is altyd in die agtergrond.
“Ek wil eerder by jou bly maar nou moet ek haar gaan help.”
Moes ek ‘n paar keer hoor in ‘n vorige verhouding. Dan staan jy terug, oortuig
hom dat dit reg is om haar te help. Por hom aan om te gaan. Jy wil tog nie as
die feeks bekend staan nie. Nie dat sy bewus was van my nie – dit het ek ook
geweet.
Die ander vrou in my gewese man se lewe het my vinnig laat
verstaan dat ek my plek moet ken. So lyk my daar is tog vrouens wat nie ‘n
probleem het om te baklei nie. Daar is niks fout daarmee nie en miskien is ek
maar net te sag… Hoe ook al sy, elke houding het ‘n reaksie en ek wou net
wegkom van als af. So dit het my nie gepla nie.
Op een stadium was ek beskou as die perfekte vrou maar die
eise van die egskeiding asook die toenemende finansiële druk gevul met
onsekerhede het die verhouding laat skipbreuk ly.
In sommige verhoudings veroorsaak die kinders dat hulle nog
moet kommunikeer. Sy kan die kinders gebruik om hom te manupileer om haar sin
te kry en as pa is hy in twee geskeur. Jy, as die ander vrou staan dan eerder
terug, omdat jy glo dat dit die beste is. Of is dit net ek wat so opgetree het?
In baie gevalle is daardie vrou ‘n spookagtige figuur in jou
huishouding. In my verhouding met my verloofde is ek baie dankbaar byvoorbeeld
dat niks van die ander vrou saam gekom het nie. Ek weet nie of ek gemaklik sou
gewees het om haar geliefde bak uit te haal en iets daarin voor te berei nie.
Of om haar tafeldoek te gebruik om vir my kinders te dek nie. Dit is klein
goedjies – en sommige sal sê
dit is aardse goed – maar aan dit kleef tog ‘n nostalgiese gewaarwording wat jy
nie kan ontken nie. Ongeag hoe hard jy probeer om dit te vermy. Ek dink baie
keer aan die goed wat ek agtergelaat het, en hoe sy voel daaroor. Kan sy dit
regtig met vrymoedigheid gebruik? Of bly sy ook maar stil, verdra dit en stap
aan?
Die ander vrou is onlosmaaklik deel van jou lewe. Dit is
iets waarmee elke vrou saam leef en na die beste van haar vermoë moet verwerk.
Ons vrouens is mos goed daarmee. Om te verdra en aan te stap sonder om ‘n groot
bohaai daarvan te maak. Jy steek dit net diep weg want jy wil tog nie hê mense moet dink jy is jaloers of
gun haar nie iets nie. Jy leer om nie te reageer op die subtiele maniere van
domineer of manupileer nie. Jy wil eerder glo jy is beter as dit. In die proses
leer jy jouself vind en bou jy ‘n nuwe lewe saam met jou nuwe liefde as om te
top oor haar.
Ek glo dit is ‘n onderwerp waaroor baie gepraat sal word.
Maar is juis ook een van die onderwerpe wat min gepraat word. Ons is net nie
altyd bereid om eerlik met onsself te wees nie.
Die ander vrou is hier om te bly – met of sonder jou
toestemming. ‘n Wese, nes jy wat net die beste vir jou maat wil hê en sal baklei vir haar eie
plekkie in die son. Hoe elkeen dit hanteer hang van ons af.
Kopiereg@lynelleclark2018
Die boek kan direk by my bestel word teen R200, posgeld uitgesluit. lynellecdl64@gmail.com |
ELAN GLOBAL RADIO
Die Stasie Vir
Passievolle Mense
Die program vir die enkellopende waarin
ons saam gesels oor al die slagysters, vrae, vrese en vreugdes van die enkel
lopende.
WOENSDAG at 10h00 SA Time
GESELS MET ONS:
Faceboek: Elan Global
Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global
Radio
Instagram:
elan_global_radio
Whatsapp: 066 305 3580
Gaan kuier en leer
meer van ons, blog saam en luister saam:
SKAKEL IN:
SIMPLE RADIO App.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking