Woensdag 27 Maart 2019

Diamant Divas - Die laaste aflewering in die kursus oor Vroulike restorasie.


DIE MAG VAN INVLOED

Invloed is magtiger as outoriteit, omdat invloed ‘n hartsaak is.  Die gawe van invloed is die onsigbare mag wat vroue miskyk – die vermoë om die hart van ‘n man te affekteer sodat hy sy gedagte kan verander.

Spreuke 27:19 Soos in die water aangesig teenoor aangesig is, so is die hart van die mens teenoor die mens.

Ons moet gewillig wees om op liefdevolle wyse die regte dinge in die hart te plant, die gees sonder druk te voed, en dan terug te staan en te kyk hoedat die regte besluite voortkom uit daardie persoon.  Ongelukkig het blykbaar al die verkeerde mense die mag van hierdie geheime wapen van invloed gegryp, en die gawe is misbruik.  Invloed behoort nooit sy grense te oorskry en homself te manifesteer in die vorm van manipulasie nie.

Manipulasie is verwant aan toordery (witchcraft), en God sal dit nooit seën nie, aangesien manipulasie ‘n poging is om te beheer deur sielspogings oor iets of iemand oor wie jy nie outoriteit het nie.  Manipulasie slaan in die hart van die mens deur intimidasie of verleiding, en sal dus onderwerpe forseer of afdwing volgens jou begeerte en teen hulle wil.

Rebellie en heksery sluit ook in (Gal. 5:20):

• Losbandigheid • Afgodery • Haat • Onenigheid • Jaloesie • Woedebuie • Selfsugtige ambisie • Verdeeldhede • Faksies • Afguns • Dronkenskap • Orgies • Ens.

Hierdie is alles die werke van die vlees.

Toordery (witchcraft) word vergelyk met rebellie omdat dit iemand forseer om te buig onder ‘n ander persoon se wil en nie God s’n nie.  Wanneer jy omstandighede reël en situasies manipuleer om jou sin te kry, is dit ‘n duidelike aanduiding dat jou begeerte nie van God is nie, of dat dit nog nie die tyd is dat jou begeerte vervul moet word nie.  Om voor God uit te beweeg, skep altyd probleme wat eers later gesien sal word.


Koningin Jesebel is die vergestalting van manipulasie – mense het seergekry, gesterf en die oordeel van God het oor haar huis gekom.

Gewoonlik het die vrou met ‘n manipulerende gees geen respek vir die persoon wie sy besluit het om te “help” nie.  In haar gedagtes moet sy nou net nog ‘n gemors opruim wat hierdie idioot veroorsaak het.  Maar heimlik hou sy daarvan om hierdie persoon te sien kruip.  Sy sal selfs sover gaan as om saad van minagting (disrespek) in die harte van ander rondom die persoon, te plant ten einde haar posisie as beheerder te verseker.  Sy sal die reputasie van haar man vernietig ten einde die pad vir haarself oop te maak.  Dit is in hierdie atmosfeer waarin sy haarself dan kan oprig as die “redder”.  Sy hou daarvan om die indruk te skep dat sy die situasie gered het.  Dit bou gevoelens van afhanklikheid.  Niemand sal waag om haar te vervang nie, selfs al kan hulle haar nie verdra nie, omdat sy hulle oortuig het dat hulle haar nodig het om te kan funksioneer.


  


Sy plant haar saad van verdeeldheid goed, benat dit met beloftes van beloning of dreigemente van vergelding (wat ookal die beste werk) en sit terug om die finale resultaat in te wag.  Wanneer die ontploffing plaasvind, stof sy haar hande af, keer ‘n gaap weg en beweeg voort ….. volgende!

Die vrou met ‘n manipulerende gees slaag goed daarin om die uiterlike karaktereienskappe van vroulikheid te bemeester, sowel as ‘n baie oortuigende vertoning van godsdienstigheid.  Sy omring haarself met vals profete, diegene wat sê wat sy graag wil hoor.  Sy is altyd in beheer, het ‘n uitgesoekte groep ‘boesemvriende’ rondom haar wat slegs gerieflik is solank hulle haar wense gehoorsaam.  Sy is gemaklik met gebed, vas of enige ander uitwendige godsdienstige vertonings.  Sy haat hierdie dinge in hul suiwerste vorm.  Sy haat die ware profete van God.  Sy wil hulle stilmaak.

Manipulasie regverdig dat jy jouself gelukkig maak ten koste van ander en het tot gevolg:  haat, onenigheid, verdeeldhede, faksies, woedebuie, ens.  Manipulasie intimideer en verdeel om te kan oorwin.  Alhoewel dit kan werk vir ‘n seisoen, sal die uiteindelike gevolg nie aangenaam wees nie.

Spr. 28:10 Wie die opregtes laat verdwaal op ‘n verkeerde weg, sal self in sy eie kuil val; maar die regskapenes sal die goeie beërwe.

‘n Ander voorbeeld van manipulasie is Delila met Simson.  Haar spesialiteit was verleiding – die gebruik van haar oë, lippe, hande, haar liggaam en haar parfuum.  Dit was geheel en al ‘n vroue-ding.  Sy het Simson bedwelm met haar vroulikheid, en stadig die lewe uit hom gedruk deur die geheim van sy krag uit hom te trek.

VOORBEELDE VAN WARE VROULIKHEID

1. Ester 2. Abigail 3. Pilatus se vrou

Spr. 31: 10-12 Wie sal ‘n deugsame vrou vind?  Want haar waarde is vêr bo korale.  Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie.  Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.

Om saam te vat. Manupilasie is ‘n wapen wat baie vrouens gebruik tot hul voordeel. Maar in Vader se oë is dit gelykstaande aan toordery.
Laat toe dat die Heilige Gees jou leer om op die regte manier jou boodskap oor te dra. Maak dit ‘n gebedsaak. Indien jy skuldig daaraan was in jou gewese huwelik bely dit want anders sal dit weer kop uit steek in enige nuwe verhouding.

WANNEER JY OOR SY KOP BEWEEG

Soms kan ons eie onsekerhede veroorsaak dat ons dinge van mans vereis wat nie vir hulle menslik moontlik is om te kan gee nie.

Wanneer die man in ons lewens klaarblyklik nie vir ons help om vrug te dra nie – hetsy in swangerskap, finansiële bystand of bloot net geluk – hoekom voel ons steeds so leeg en onvervuld, selfs na die huwelik?

Daar is ‘n plek in ons harte wat slegs deur God gevul kan word.  Dit is vir ons belangrik om die openbaring te verstaan dat vrugbaarheid van die Here kom en nie van die mens nie.  God se opdrag aan Adam en Eva in die Tuin was om vrugbaar te wees en te vermeerder.  Die individuele roeping was om vrug te dra; die gemeenskaplike roeping was om te vermeerder.  God sou hulle ontmoet in die proses en byvoeg by dit wat hulle produseer.

Vrugbaarheid is waar ons ware tevredenheid lê, en God self maak dit moontlik.

Lev. 26:9 En Ek sal My na julle wend en julle vrugbaar maak en julle vermenigvuldig; en my verbond sal Ek met julle bevestig.

Ons kan niemand behalwe onsself blameer wanneer ons lewens onvrugbaar is nie.  God het aan ons die opdrag gegee om vrugbaar te wees.  Hy het ons toegerus om vrugbaar te wees, of ons getroud of ongetroud is.

Geen mens behoort jou vrugbaarheid te beïnvloed nie, behalwe as hulle daartoe bydra of jou aanspoor tot goeie werke.  Indien hulle jou aftrek en veroorsaak dat jou vrugte verwelk of bitter word, behoort jy jou verbintenis met daardie persoon te heroorweeg.

WAT GEBEUR MET MANS IN ONS LEWENS WANNEER ONS DIE ONMOONTLIKE VAN HULLE VERWAG?

Neem jou man of die begeerte na ‘n man in jou lewe die plek van God in?  Maak jy aansprake waaraan hy niks kan doen nie?  Is daar ‘n gaping in jou wat die geluk van jou steel wat joune kon wees ongeag jou omstandighede?

Baie van ons verwag van die man om vrede, selfwaarde, waardering of selfs materiële dinge te produseer.  God is uiteindelik ons bron van al hierdie skatte.  Ons sal strewe, huil en onsself ontneem van geleenthede om ‘n vol lewe te lei wanneer ons hoop plaas in ‘n persoon om ons verwagtings te vervul.

WAT GEBEUR MET MANS IN ONS LEWENS WANNEER HULLE NIE DAARIN SLAAG OM TE WANDEL IN HUL GODGEGEWE POSISIE NIE?

“As ek dit nie doen nie, sal dit nooit gebeur nie!”

Totdat jy nie vir hom ‘n leemte skep wat hy kan vul nie, sal hy nooit styg tot daardie vlak nie.  Soms moet ‘n man eers mank word voordat hy sy plek in God vind (Jakob).  Hou jou verwagtings diplomaties; laat hom verstaan dat jy van hom verwag om die man te wees wat hy veronderstel is om te wees.  Demonstreer dit deur vir hom ‘n posisie vakant te los vir wat hy ookal moet doen.  Moet hom nie red van sy eie versuim nie.

DIE HARTE VAN DIE VADERS

Veral waar dit kom by ons kinders, is dit belangrik dat jy vir jou man ruimte laat om sy rol binne te stap.  Maak jou behoeftes aan hom bekend en staan dan terug.  ‘n Man smag na respek en waardering.

“Ek het nodig” is goeie woorde om te gebruik met mans, omdat daar in hul gees die Godgegewe dryfkrag geplant is om dinge reg te maak en orde te herstel.  Indien ‘n man voel dat jy alles onder beheer het, sal hy toelaat dat jy die bal vir jouself neem en daarmee hardloop.

Dus, staan terug en laat toe dat die man opstaan of val op sy eie.  Dit is daar waar die spiere van karakter ontwikkel word.

Ons hou nie daarvan om die worsteling dop te hou nie.  Dit lyk te pynlik – maar moenie die proses stop nie.  God hou vir Adam verantwoordelik net soos wat Hy vir Adam verantwoordelik gehou het om sy volledige roeping as man te vervul.  Hy het aan mans sekere kragte gegee waaroor vroue nie beskik nie, en visa versa.

Wanneer ons mekaar se rolle verstaan en elkeen se funksies binne die verhouding maak dit als om ons net makliker. Elke saak het altyd twee kante, volwassenheid word juis sigbaar wanneer ons bereid is om na alle kante te kyk voor ‘n besluit geneem word.

VERSTAAN LOF

Hoe verloor twee mense hul rigting in ‘n verhouding?  Deur ‘n kommunikasiegaping.

Wat oorbrug die gaping tussen hulle?  Begrip.

Mans benodig waardering, eer, respek ….. aanbidding op ‘n manier.

Ons is na God se beeld geskape en dit is natuurlik dat ons almal na lof en bewondering sal soek.

Mans hanteer gewoonlik kritiek nie baie goed nie; hulle gee net eenvoudig pad totdat jy daaroor gekom het.  Indien dit te veel gebeur, sal hulle jou geheel en al probeer vermy en elders gaan soek na waardering.

Dink voor jy praat!  Die mag van hoe daardie man met jou in verhouding sal staan, lê in jou hande en in jou tong.

Prys maak mense vry en seën hulle.  Om prys te weerhou, is straf.  Dit is genoeg om die ander persoon af te trek in die diepste dieptes van onsekerheid, mismoedigheid en betekenisloosheid.  Om prys te weerhou, kan ‘n subtiele vorm van manipulasie wees.

Prys beteken vir jou net soveel as vir die ander persoon.  Dit is jou manier om jouself te herinner waarom jy geseënd is om hierdie persoon in jou lewe te mag hê.  Dit maak jou vry van verborge wonde uit die verlede of om in bitterheid in te gly.  Dit lig die begeerte in daardie persoon om die beste te wees wat hy vir jou kan wees.  Hy wil jou nie in die steek laat nie.

DIE OORSPRONG VAN AANBIDDING

Seks is ‘n tipe van aanbidding.  Adam en Eva was heilig en behaaglik vir God.  Hulle was naak en onbeskaamd.

Na die val het hulle gehardloop vir bedekking.  Die bedekking het skeiding in die hand gewerk, skeiding het geheime meegebring en geheime het oorgegaan in wantroue en blaam, wat weer wortel geskiet het tot isolasie.  Hiervandaan het isolasie wortel gegee aan gebiedsafbakening en dit het aanleiding gegee tot oorlog = oorlog tussen die geslagte.  Selfs nadat mans en vroue getroud is, het die oorlog voortgeduur.  Die onsigbare wapens van stryd sou slaan teen die binne-kern van elkeen se wese.

Seks is een natuurlike parallel na die geestelike daad van aanbidding.  Die geestelike daad van aanbidding het begin met die versoenings-proses – die pad van aanstoot moes eers skoongemaak word voordat ‘n Heilige God ontmoet kon word (reiniging van die liggaam, die stort van bloed, die binnegaan in die Allerheiligste met brandende kole en reukoffers om aan die Here te gee).  Ons bely ons sondes, het berou, draai daarvan weg om nooit weer terug te gaan nie.

Wanneer ‘n man ‘n vrou seergemaak of aanstoot gegee het, is sy eerste instink om liefde te maak, omdat dit vir hom moeilik is om sy berou effektief uit te spreek.  Dit is sy manier om te sê hy is jammer.

Op baie maniere reflekteer die vrou God se hart.  Alles aan haar liggaam is gevorm om die lewe te koester – haar borste gee melk, haar arms hou vas en troos en haar baarmoeder dra en gee die lewe aan lewende siele op hierdie aarde.

Maar, soos God, vind sy dit moeilik om te ontvang van die man wanneer daar aanstoot gegee is.  Haar liggaam is ‘n tipe van die Allerheiligste.  Die seermaak en aanstoot wat tussen ons staan, moet eers uit die weg geruim word.

MAAGDELIKHEID

Reiniging in die natuurlike begin met bad, en die voorbereiding van jou liggaam om behaaglik te wees vir jou maat.

Vroue bloei by die eerste seksuele ondervinding – dit is die deurgang deur die bloed in die natuurlike.  Maagdelikheid is ‘n tipe van die hoogste offer.  Die brandende kole en reukoffer word nou vervang deur die passie, waardering en prys wat julle op mekaar uitstort deur hierdie intieme gebeurtenis.

Jy gee in totaliteit; alles wat jy het, alles wat jy is, aan mekaar – gee volkome uit maar word terselfdertyd gevul.  Dit is aanbidding in sy suiwerste vorm.

Daar is ook verkeerde aanbidding – Aaron se seuns het gesterf toe hulle verkeerde vuur en reukoffers voor God gebring het.  Seks buite die huwelik bring dood na ons gees, sowel as na ons sin van behaaglikheid; ook fisiese dood (AIDS, aborsies, ens.)

1 Kor. 6:13, 18-20 Die voedsel is vir die maag, en die maag is vir die voedsel, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak.  En die liggaam is nie vir hoerery nie, maar vir die Here; en die Here vir die liggaam. Vlug vir die hoerery.  Enige sonde wat ‘n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam.  Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?  Want julle is duur gekoop.  Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort. 

ENKELVROUE

Enkelvroue moet leer hoe om God te aanbid – dit sal jou behoefte vervul om een te word met iemand anders.  Dit sal jou help in jou worsteling om ‘n pad te loop van reinheid.  Aanbidding sal jou help deur moeilike tye.  Indien jy nie jou aanbidding rig tot God nie, sal jy dit in ‘n ander rigting rig.  Dit is wat Satan wil hê.  Hy kom om aanbidding by enkellopendes te steel deur hulle te versoek om in sonde te val.

SATAN SE DOEL

Reeds vanaf die begin was Satan se hele plan om aanbidding te steel asook prys in enige vorm.  Hy het gekom om jou prys en aanbidding aan God te slag, steel en te verwoes, asook jou aanbidding in jou slaapkamer.

Dus sal hy jou ‘n hoofpyn gee, veroorsaak dat jou man onsensitief is, die kinders beinvloed om oproer te veroorsaak, die omstandighede van die dag gebruik om jou af te mat – wat dit ookal kos!  Hy wil poog om die bediening van aanbidding in jou huis stil te maak.  Seks is nie net ontwerp vir vermeerdering nie.  Dit is ontwerp vir die verligting van spanning, om jou siel te hersentreer na die Tuin, die wêreld en al sy probleme te laat vervaag en die eenheid tussen man en vrou terug te bring.

Dit is parallel met die daad van nagmaal – die eenwording van jul geesmens soos wat julle deelneem aan Christus in die simboliese ontvangs van die brood en die vrug van die wingerdstok, en Hom ten volle absorbeer.  Hierin ontvang ons genesing, en word weer heelgemaak en word deurdrenk met Sy lewe binne ons.

Spr. 5: 18, 19 Mag jou fontuin geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug – die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.

Hoogl. 4:10 Hoe skoon is u liefde, my suster-bruid, hoeveel beter is u liefde as wyn en die geur van u salf as al die speserye!

Hoogl. 7: 8-10   Ek het gedink:  Laat ek op die dadelpalm klim, laat ek sy trosse gryp; en laat u borste tog wees soos trosse van die wingerdstok, en die geur van u asem soos dié van appels, en u verhemelte soos die beste wyn wat vir my beminde saggies na binne gly, en oor die lippe vloei van die wat inslaap.  Ek is my beminde s’n, en sy begeerte is na my.  
Seks is aanbidding; dit is gemeenskap; dit is bediening; dit is ‘n huweliksplig deur God ingestel.  Deur dit te weerhou om jou maat te straf, is sonde.  Raak ontslae van die aanstoot.  Praat, kommunikeer, laat jou man van jou behoeftes weet.  Beinvloed hom om ‘n beter minnaar te word.  Moenie ‘n lesing gee nie!  Laat die leerproses pret wees.  Laat God julle inlig hoedat julle mekaar kan behaag.

PROBLEME MET INTIMITEIT

Verskeie dinge kan die oorsaak wees:

1. Verstandelike kondisionering:  In jou opgroeijare is daar van seks gepraat as “vuil” en jy het nooit geleer om dit te sien as ‘n fees volgens God se ontwerp nie.  Seks was ‘n diep, donker geheim, iets wat jy moes doen na jou troue, dus sal jy maar op jou tande byt en dit verdra wanneer die tyd aanbreek. 2. Seksuele mishandeling:  God kan jou hart en verstand genees en die skoonheid van Sy ontwerp vir seks ‘n realiteit vir jou maak. 3. Dit kan ook ‘n fisiese probleem wees:  Hormone, ens.

 SEëNINGE

“Wanneer lofprysinge opgaan, kom seëninge af.”
Soos ons aanbidding opstyg na God, maak Hy die vensters van die hemel oop en stort soveel seëninge uit dat ons nie genoeg plek het om dit te ontvang nie.


Dus, neem ‘n besluit om te aanbid, om God se ontwil, jou man se ontwil en jou eie ontwil.

Druk verby gevoelens.

Druk verby woede.

Vergewe en vergewe weer.

Druk verby moegheid.

Druk verby die sluier van jou eie vorige opvattings en tree die plek van seëning binne.

Reageer op jou man soos teenoor God, en God sal jou daar ontmoet en julle altwee seën.

Net soos reukoffers in die lug hang lank nadat dit klaar gebrand het, so sal jou aanbidding in die slaapkamer die res van jou huis vul en die lewens van jou kinders beinvloed terwyl hulle hul verlustig in die sekuriteit van die liefde wat hulle sien tussen jou en jou man.


DIE BELONING VAN DEUGSAAMHEID

Die Spreuke 31 vrou word genoem ‘n deugsame vrou.

“Deugsaamheid” beteken uitnemendheid (“excellence”). “Deug” beteken krag.

Jy as vrou hoef nooit respek af te dwing nie – wees net uitnemend.  Niemand kan argumenteer met uitnemendheid nie.  Uitnemendheid is ‘n krag omdat uitnemendheid respek afdwing.  ‘n Vrou van uitnemendheid is ‘n krag waarmee gereken moet word.

Die Spreuke 31 vrou het haar werk beplan volgens die begrip van haar doel.  Sy het die seisoene in haar lewe herken en dit omhels.


   
Hier is die geheim:  Sy het verstaan dat jy dit alles kan hê; jy kan dit net nie alles tegelyk hê nie.  Dit stel jou vry om te leef vir die oomblik en dit ten volle te geniet.

Seisoene

• Loopbaan bou. • Doeke- en melkformules. • Huweliks aanpassings. • Ens.

Pred. 3: 1, 11 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd. Alles het hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.

Iemand wat ‘n begrip het van bestemming en doel, bly gebalanseerd, wagtend op die sleutels wat haar sal lei na die volgende situasie.   Om jou lewe te lei volgens wat jy of diegene rondom jou dink hoe dit gedoen moet word, is om ‘n lewe van frustrasie te leef.  Maar as jy God opsoek om uit te vind wat Sy verwagtings van jou is van dag tot dag, sal jy vind dat jy jouself vrystel om jou te verheug in presies waar jy is.  Ervaar die mag van jou posisie.

God plant ons waar ons nodig is.  Soos ons reageer op Sy oproep en onsself aanwend tot dit wat Hy voor ons geplaas het, word ons ‘n “krag” om mee rekening te hou.

Wees dus vry om vroulik te wees.  Verheug jou daarin om alles te wees waarvoor jy geskape is as vrou.  Wees vrolik daarin.  Word opgewonde daaroor!  Vier jou uniekheid.  Omhels jou sagtheid.  Koester jou teerheid.  Verheug jou in jou warmte.  Geniet jou lag.  Ontdek die skoonheid van jou trane.  Dit maak nie saak watter grootte jy is nie, waardeer elke kurwe, elke rolletjie, elke bult, elke lyn.  Lig dan jou oë na die hemel en aanbid die Een Wie jou die liefste het!


Met daardie wyse raad is dit tyd om totsiens te. Dankie vir die saam luister en onthou, skitter net waar jy is diamant. 
Tot ‘n volgende keer. 

OM die kursus af te laai, besoek Kanaan Bediening hier


ELAN GLOBAL RADIO
Die Stasie Vir Passievolle Mense
Die program vir die enkellopend waarin ons saam gesels oor al die slagysters, vrae, vrese en vreugdes van die enkel lopende.
WOENSDAG at 10h00 SA Time
GESELS MET ONS:
Faceboek: Elan Global Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580
Gaan kuier en leer meer van ons, blogg saam en luister saam:


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...