Woensdag 13 Maart 2019

Diamant Divas - Terug na die begin deur Amanda Buys


Restorasie vir ons, as enkellopende vrouens, is baie belangrik en dit is die groot doel van hierdie program.
Soms moet ons ons lewe in öenskyn neem en kyk waar ons in pas in die groter prentjie, net om sin te maak van als om ons. ‘n Tyd terug het ek op die bybelstudie van Amanda Buys afgekom te Kanaan Bediening. Ek sal die link op my blog plaas sodat julle dit kan gaan aflaai vir eie studie. Dit is gratis en die kopiereg stel dit dat enige persoon dit mag gebruik maar sonder die oogpunt vir wins.
Omdat ekself ook nog baie vrae het, bestudeer ‘n mens mos maar die skrifte vir die antwoorde. So vir die volgende paar weke gaan ons hierby vashaak. Luister gerus en laat van julle hoor.

Terug na die begin deur Amanda Buys, Kanaan Bediening.

As gevolg van Eva se misleiding, het sekere dinge in die Tuin van Eden verander.  Vanaf daardie dag het sy die pyn van kindergeboorte ervaar, ‘n pyn wat sy vir God aangedoen het die oomblik toe sy haarself vanuit Sy beskermende “baarmoeder” gewring het om in beheer te kom van haar eie bestemming.
Niemand se posisie in die tuin het verander nie.  Die man was daarvoor verantwoordelik om die vrou te bedek en te lei reeds vanaf die begin.
Maar nou bevind enige vrou, getroud of enkel, haar gedurig in die posisie om die man te probeer buig na haar wil.  Sy sal strewe om totale vervulling van die man te kry, om algehele bevestiging van hom te kry, maar sy sal nooit hierdie vervulling bereik nie – omdat geen menslike wese haar vervulling kan wees nie.
Hierdie vloek het veroorsaak dat die hart van die vrou aan die man sê: “Ek wil hê dat jy gewillig moet wees om enigiets vir my te doen, insluitende om ongehoorsaam aan God te wees as dit my sal laat voel dat ek geliefd is, begeer word, waardig en vervuld is.” 
Die val het veroorsaak dat die Godgegewe begeerte in haar hart na haar man, verdraai word na ‘n behoefte aan hom vir al die verkeerde redes.  Die man kan nooit opleef na die gaping wat die val geskep het nie.  Die vrou se oordrewe behoefte na haar man het dus ‘n binding oor haar geword.  Haar begeerte na hom “heers” nou oor haar en kleur al haar besluite soos sy voortdurend daarna strewe om sy liefde te wen in die plek wat vir God Alleen beskore is.
Adam het sy rol as beskermer van Eva geabdikeer.  Hy het willens en wetens gekies om haar te volg in ongehoorsaamheid en nou ervaar hy hoe dit voel wanneer die voorwerp van sy liefde teen hom rebelleer.

Kan ons nie almal daarmee vereenselwig nie? My begeertes word naderhand so groot en neem so baie plek in dat ek eintlik deur manupilasie my sin kry. In die proses val die man in sy posisie as hoof, en dan val jy as vrou.

DIE KLEIN GROEN LEUENTJIE

“Wie het aan julle gesê dat julle naak is?”
Dit is waar dit alles begin het.
Wie het aan jou vertel dat jy jou moet skaam oor wie jy is, vrou?
Wie het aan jou vertel dat jou vroulikheid geen waarde het nie (“second class”)?
Wie het aan jou vertel dat, om jou vroulikheid te omhels, ‘n verlore saak is?
Wie het aan jou vertel dat dit ‘n man se wêreld is?
Hierdie woorde het nooit van God se lippe gekom nie.  Satan het hierdie een klein saadjie geplant en dit het gegroei tot ‘n groot boom wat ‘n groot oes van giftige vrugte dra.
En so het die vrou se suspisie begin – dat die man iets agter sy rug wegsteek wat hy nie vir haar wil gee nie.
Waarom wou God nie hê dat ons soos Hy moet wees en goed en kwaad ken nie?

GOD HET DIT NOOIT GESê NIE!
Dit was Sy bedoeling dat ons Sy seuns en dogters moet wees; dat ons soos Hy sal wees, omdat ons in perfekte verhouding met Hom sou stap en Hom sien soos Hy is (1 Joh. 3:2).  Wat het gebeur?  Hoe het ons ooit beweeg vanuit die tuin na die oorlogsfront?


DIE VROU SE ROL

Eva is aan Adam gegee om hom te help om fokus te behou; om hom ekstra bemoediging van tyd tot tyd te gee.  Hy het iemand nodig gehad om die gapings te vul, die slap drade op te tel en hom bymekaar te hou.  
Hy het ‘n helpmaat nodig gehad, ‘n vennoot – iemand wat spesiaal ontwerp is om hom op elke wyse te komplimenteer.  Hierdie persoon, genoem vrou, sou hom bystaan in sy taak om te onderwerp, orde te handhaaf, te werk en God se skepping te versorg en om vrugbaar te wees en te vermeerder.  Hierdie dinge sou hy nie kon doen sonder haar hulp nie.

“If man is the head, she is the crown.  Man was dust refined, but woman was double refined.”

SATAN SE PLAN

Satan het God se plan vir die man geken en hy moes dit ten alle koste aborteer.  Hy het uit ondervinding geweet dat rebellie die een ding was wat God nie in Sy teenwoordigheid toegelaat het nie.  Hy moes dus ‘n gaping veroorsaak in Adam en Eva se verhouding met God.
Hy het ook geweet dat hy nie die mag van die vrou moes onderskat nie.  Hy het geweet watter effek sy op die man het.  Dit is waarom die vrou sy teiken was.
In plaas daarvan om soos God te word wat goed en kwaad ken, was Adam en Eva nou beskaamd oor hul naaktheid.
Eva het iets anders ontdek:  Wanneer die man beskaamd was, het hy onseker geword.  En wanneer hy onseker is, het hy verdedigend geword en die skuld op haar gepak.  Sy het die vyand geword a.g.v. van sy skaamte en mislukking.  Mislukking was ‘n gewig wat Adam nie kon dra nie.  Dit het hom “ontman” in die teenwoordigheid van Eva.  Omdat hy hom onderwerp het aan die vrou se hand wat die vrug vasgehou het, moes hy nou worstel om haar respek en onderworpenheid te kry vir die res van sy dae.

SATAN SE OORWINNING

Alhoewel hy ook vervloek was, was hy tevrede dat die eerste fase van sy missie afgehandel was.  Hy het daarin geslaag om die man te verlei om sy Godgegewe outoriteit op die aarde te verpand.  
Hy het die verhouding tussen die man en God verbreek, en het gevegslyne getrek tussen man en vrou.  Nou sou hy altyd die vrou as ‘n oop deur hê om by die man te kom.  Hy sal haar invloed, sjarme, tong en haar liggaam gebruik om die man se uiterlike te penetreer.  En hy sou die man teen die vrou gebruik om haar te blameer en outoriteit af te dwing in plaas daarvan om onderwerping te inspireer.  Hy sou die man se verwarring gebruik om dít wat hy eintlik moet beskerm, te laat boet deur te slaan, te verkrag, sleg te sê, ens.
Ons staan almal as getuies van die skade wat gedoen is in die Tuin.  Ons het nou teruggeval op die idee dat “manne is van Mars en vroue van Venus” ten einde ons verskille te verduidelik.  Maar die waarheid is, dit maak nie saak hoe slim die cliché nie, ons is nie van verskillende planete nie!  Ons oorsprong is baie nader:  ons is deel van mekaar met sigbare en onsigbare verskille.  Ons is gemaak om te bevoordeel, en nie om te wedywer nie.  Die eerste stap daartoe, is om ons verskille te verstaan en ons te verheug daarin in plaas daarvan om te blameer en te beskuldig.
God het nie ‘n manswêreld geskape nie.  God se ontwerp vir die wêreld was dat man en vrou moet saamwerk in harmonie, terwyl hulle mekaar opbou en aanmoedig tot goeie werke – nl. ons Godgegewe take op die aarde – dat ander die vrugte in ons lewens sal sien en die eer aan God sal gee.
Ons vroue het dit gemis toe ons daarin gefaal het om ons eie unieke mag te herken.  Instede daarvan het ons gewikkel geraak in ‘n magstryd wat nooit bestaan het vanuit God se oogpunt nie.  Terwyl ons onsself die hele tyd verdedig, verloor ons grondgebied.
Dit is tyd om die bokshandskoene uit te trek en God toe te laat om Sy eerste opdrag aan ons deur te gee – man en vrou beide in mag a.g.v. hul status as komplimentêre maats.
Laat ons weer na Eva kyk.  Ons moet onthou dat die man hulp nodig het om waardevol en magtig te voel.  Manne vaar nie goed sonder vroue nie.  God het vir elkeen van ons spesifieke gawes gegee ten einde ons toe te rus om ‘n spesifieke man se helper te wees.  
Jou gawes mag verskil van dié van ‘n ander sussie, en dit is in orde, omdat sy geskape is om ‘n spesifieke man by te staan.  Dit is hoekom jy moet verstaan dat nie sommer enige man reg is vir jou nie, en andersom.

ONDERSOEK JOU GAWES

1. Invloed:  Eva het Adam beïnvloed om die vrug te eet.  “There are ways to influence a man to bite.” 2. Intuisie:  Die vermoë om geestelik sensitief te wees, om die fyndruk te kan lees in ‘n gegewe situasie. 3. Seksualiteit en reproduktiewe vermoëns:  Hy is soos klei in jou hande.  Ons “bargain” met ons liggame.
Beide die man en die vrou is geskape na die beeld van God – elkeen is uniek geskape om spesifieke dele van God se natuur te benadruk, met die man meer leunend na die verstand van God en die vrou meer leunend tot die hart van God.
 Terwyl dit in gedagte gehou word, moet ons begryp dat die man se hart gedurig soek na dieselfde ding waarna God se hart soek – aanbidding.  Die man se grootste begeerte is na eer; eer wat kom in die vorm van respek en onderwerping.
 God woon te midde van Sy lofprysinge, en dit is duidelik dat intimiteit gebore word uit die aanbiddingsondervinding. Alle skanse word laat sak in die aangesig van bewondering. Alle verdedigings word laat vaar wanneer ons blootgestel word aan die kenmerke van ons geliefdes, en hulle, op hul beurt, reageer deur nader aan ons te kom.  Soos ons lofprysinge opstyg na God, kom Hy af, kom nader en staan gereed om die begeertes van ons harte op ons uit te stort.
Dieselfde ding vind plaas in ons aardse verhoudings.  Soos ons die man laat goed voel oor homself, stort hy meer van homself op ons uit.  Ware intimiteit word gebore uit hierdie soort gemeenskap, en seksuele intimiteit is die hoogste vorm van wedersydse aanbidding.  Dit is die plek van algehele kwesbaarheid en openheid.  
Naak en onbeskaamd; sonder voorgee, word alles blootgestel en uitgeruil, en die twee kom daar uit met ‘n dieper kennis van mekaar, en deel ‘n band sterker as vantevore.  “Love inspires submission and submission inspires more love.  Submission begins with man – Christ loves the Church.”

 WAT IS VROULIKHEID?

Sag, teer, delikaat, sensitief, beskeie, ens.; dit is ook sinoniem met sagmoedigheid: “krag wat onder beheer is”.  Vroulikheid is krag toegedraai in ‘n fluweel handskoen.
Dit is ‘n innerlike kwaliteit wat vloei vanuit ‘n vrou wat haar roeping en haar waarde ken.  Vroulike vroue is sterk vroue, omdat hul invloed diep gevoel word.  Hierdie invloed reik onder die oppervlak omdat dit ingenooi word.  Dit word ingenooi omdat dit aantreklik en nie-bedreigend is.  Die vroulike vrou weet wie sy is en verheug haar daarin om vrou te wees.  Sy laat toe dat dit wie sy van nature is, al die werk vir haar doen.
 Ek hou daarvan om vrou te wees.  Ek hou van alles wat dit omvat.  Dat ek intelligent kan wees, intuitief, skerp in onderskeiding, waardig en sterk, sag en warm; vrygewig met my meegevoel, teer in aanraking; dat ek openlik kan huil; dat ek my gedagte ‘n miljoen keer mag verander, omdat dit ‘n “vroue-ding” is!  Dit is ‘n pragtige ding!

WAT VAN ADAM?

God het vir Adam in ‘n diep slaap geplaas ten einde die vrou te kon maak.  Hy het hom nie wakker gemaak totdat die vrou ‘n volwaardige en afgehandelde werk was nie.
 God wag op jou om ‘n afgehandelde voorwerp van eer te word – een wat in staat is om die instrument te wees wat die man se weë sal verander a.g.v. jou optrede.
 1 Pet. 3:1,2 Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.
Hemelse Vader, help ons om terug te gaan na die basiese ten einde te herontdek wat die skoonheid is van wie ons werklik is soos U ons geskape het.  Om ons waarde te herontdek in die lig van die feit dat in U oë daar nie manlik of vroulik, Griek of Jood is nie, omdat U ons almal geskape het vir U plesier.  U het ons gekoop met die prys van die Bloed van U Seun Jesus, en ons losgemaak om U s’n te wees – ons is mede erfgename met U in Hemelse plekke en ons wandel in heerskappy in hierdie teenwoordige lewe omdat U U liefde op ons uitgestort het.  Skenk ons die sekuriteit om te alle tye te onthou wie ons is en Wie s’n ons is.    Skenk ons die vrede om te weet dat ons regte in U verborge is en dat U die Algehele Beskermer en Verdediger van ons saak is.  Voltooi die werk wat U in ons begin het.  Maak ons waardige instrumente.  Voltooi ons volgens U ontwerp.  Help ons om te rus in die versekering dat soos ons onsself daaraan toegee om die vroue te wees wat U van ons verlang, sal U ons onderwerping eer deur ons te kroon met U Goddelike guns en sal U ons seën met oorvloedige vervulling en vreugde.  In Jesus se Naam, AMEN.
Voordat Hy die man in jou lewe wakker maak, gaan God Sy werk in jou voltooi.  Hy gaan nie die man wakkermaak om net ‘n halfgebakte koekie te ontdek nie!  Hy wil hê dat elke vrou gewortel en gegrondves is in die volle begrip van wie sy bedoel was om te wees voordat sy voor die oë geplaas word van haar eie Adam.  Sy het nodig om toegerus te word om daardie man te inspireer om die man te wees wat hy veronderstel is om te wees.  God weet dat ‘n voltooide vrou ‘n krag is waarmee gereken moet word.  Dit is hoekom daar vyandskap tussen die vrou en die slang is (Gen. 3:15).

Satan het geweet dat ‘n vasberade vrou in staat is om groot skade te doen aan die koninkryk van duisternis, veral as sy agterkom dat enige van haar geliefdes in gevaar verkeer.  Vroue is magtig.  Biddende vroue is die mees gevaarlike wapens op hierdie planeet in Satan se oë!
Dames, laat ons teruggaan na God se oorspronklike ontwerp – dan, en slegs dan, sal ons manne regop sit en aandag skenk en in lyn kom.  Dit hang van ons af, dames!  Terug-na-die-Tuin Beweging!

DIE GODDELIKE ORDE VAN VROUE

Dit is tyd om met oop gemoed te kyk na wat dit ons as vroue kos wanneer ons buite orde is.
 Dit kos ons die dekking en beskerming van ‘n vrymoedige en selfversekerde man.  Dit kos ons die sekuriteit van ons huise en die heelheid van ons kinders.  Dit kos ons die veiligheid van ons gemeenskappe.  Dit kos ons ons persoonlike vrede en vervulling.  Dit kos ons ons gesondheid.

DIE VLOEK 

Gen. 3:16-19 Aan die vrou het Hy gesê:  Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers.  En aan die mens het Hy gesê:  Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie – vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.  Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet.  In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem.  Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.
Wat veronderstel was om maklik te wees, sal nou moeilik wees.  Dit wat jou die meeste vreugde moet gee, sal jou ook die meeste pyn gee.  “Kinders baar” het soos die tyd verby gegaan het, al moeiliker geword.  Ons is in oorlog gewikkel met die media, die opvoedingsstelsel, ander kinders wat uit lyn is en invloede van buite wat dit moeilik maak om die verstande en geeste van ons kinders suiwer te hou.
Gen. 3:16 …en na jou man sal jou begeerte wees en hy sal oor jou heers.  As gevolg van die draaipunt van jou hart na jou man (en, by implikasie weg van God) vir waardering, vervulling en bevestiging, sal hy oor jou heers.  Dit is die geval met enigiets of enigiemand waarop vertrou word anders as God vir ons bewustheid van self.  Daardie voorwerp of persoon begin dan ons lewens reël.  Die liefde vir geld, mag, kos, materialisme – noem dit – sal oor jou heers indien jy toelaat dat dit eerste plek in jou lewe neem bo God.
 Dit was presies Eva se dilemma.  Dit is nie slegs die getroude vrou se probleem nie.  Dit affekteer enkel vroue ook.  Onthou:  dit is ‘n algehele vloek.  Alle vroue is daarby ingesluit.  Kyk bietjie hoedat vroue vandag beheer word deur die begeerte om ‘n man te kry, ‘n man te hê en ‘n man te behou.  Hoeveel vroue is tevrede met ongelukkige verhoudings, bloot omdat hulle tot die treurige slotsom gekom het dat om ‘n man te hê, beter is as geen man nie!
 Voor die val het God haar “mannin” benoem.  God is baie uitsoekerig met name.  Na die val, het Adam haar “Eva” benoem.  ‘n Naam is ‘n definisie van wie jy is.  Vandag nog smeek vroue om “benoem” te word deur ‘n man.

NB:  Jy hoef nie te wag dat ‘n man jou definieër vir wie jy is nie.  God het jou alreeds ‘n naam gegee!

Jes. 62:4,5 Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou land sal nie meer genoem word Wildernis nie.  Maar jy sal genoem word:  My welbehae, en jou land:  die getroude; want die Here het ‘n behae in jou, en jou land sal getroud wees.  Want soos ‘n jonkman ‘n jongedogter trou, so sal jou kinders jou trou; en soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees.
As gevolg van God, is ‘n vrou ‘n volledige vrou, of sy ‘n man het, of nie.  Die Here is ‘n man vir die manlose.  Hy is die Een Wie alles besit waaroor jy ooit kan hoop of droom – die rykste man in die wêreld!
Jes. 54:5 Want jou Maker is jou man; Here van die leërskare is Sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser.  Hy sal die God van die hele aarde genoem word.
As Jesus dan al die vloeke op Hom geneem het aan die kruis, wat is die probleem dan?  Ongelukkig, net omdat Hy die tjek geteken het, beteken nie dat elkeen dit gaan wissel het nie.  ‘n Tjek is net ‘n tjek totdat die ontvanger dit gewissel het. Meer as ooit, het ons vroue wat hulself moor in die werkplek, wat swoeg in die sweet van hul aangesig.  Dit was nie God se oorspronklike plan nie.  Ons liggame was nooit gemaak om blootgestel te word aan sulke intense mate van spanning nie.  Die “supervrou-sindroom” is besig om sy tol op ons te eis in groter en groterwordende golwe, daarom die stygings in vroulike gesondheidsprobleme. Let op waar baie van hierdie probleme voorkom – in die voortplantingsorgane wat ons kinders moet produseer, sowel as die borste wat ons kinders moet voed.
Teen die tyd dat ons klaar “manne” was op kantoor, vind ons dit moeilik om terug te skakel na vrouwees by die huis.  Wanneer ons onsself verloor as vroue en onsself begin forseer om spiere te ontwikkel waarvoor ons nie ontwerp is nie, ly ons interne en verhoudingsisteme daaronder.

LESBIANISME EN FEMINISME

“The feminist movement uses masculine tactics to achieve its agenda.”

Dit is belangrik om ingelig te wees in hierdie area, omdat ons vroue het wat in kerke sit dwarsoor hierdie land wat seer het en stadig doodgaan van binne omdat hulle niemand binne die kerk kan nader vir berading nie.  Hulle vrees veragting en afkeuring van ander Christene terwyl hulle worstel met hul verlangens na ander vroue.
Niemand is verby die hoop van genesing en bevryding nie. Maar jy moet die saad wat die vyand geplant het, kan herken ten einde te weet hoe om dit te ontwortel.
Die eerste feit wat baie mis, is dat lesbianisme gebore is uit ‘n verhoudingsleemte.  Dit is ingebore binne die verlange na liefde, wat buite beheer geraak het.
 Baie vroue het na die oplossing gegryp om mekaar op te soek vir troos, vriendskap en fisiese stimulasie, bloot omdat hulle moeg geword het om dit te probeer maak werk met mans.
Jy moet verstaan dat lesbianisme nie ‘n seksuele saak is nie, maar ‘n emosionele en geestelike een.
 Vroue verbind met mekaar op ‘n baie kragtige wyse a.g.v. hul moederlike vermoëns en instinkte (“nurturing skills”).  Mans verbind nie op hierdie vlak nie; daarom kom die motivering vir homoseksuele gedrag dikwels vanuit ‘n ander oord – dit is gebaseer op visuele stimulasie en sensualiteit.  ‘n Man is in staat om sy seksualiteit te skei van sy emosies, maar ‘n vrou se emosies en seksualiteit is nou aan mekaar verbonde.
Wanneer die mans in ‘n vrou se wêreld haar fisies mishandel of haar nie emosioneel vervul nie, bestaan die gevaar dat die gees van misleiding in haar lewe kan kom.  Daarby sal sy die emosionele vervulling wat sy van ander vroue in haar lewe ontvang verwar as ‘n bron van eros (seksuele) liefde.  Hierdie gevaar groei na realiteit indien die vrou nie bewus is van die feit dat geen man of vrou haar ooit heeltemal emosioneel kan vervul nie.  Slegs God kan dit doen.
Vroue wat onmiddellike bevrediging vir hul verlangens soek, kan ten prooi val van hierdie misleiding, en die gees van lesbianisme kan ‘n greep op hulle kry.  Hierdie is die vroue wat bloot net nie verder wil probeer nie.  Hulle is gevul met pyn en ongeloof en het teruggeval op ongoddelike leefwyses ten einde hulself te troos.

 LESSE UIT DIE LEWE VAN DEBORA

 Rigters 4:4.
 Sy het haar geestelike roeping verstaan.  Sy was ‘n profetes – dit was haar Godgegewe doel.  Dit was die totaliteit van wie sy was.  Daarom, wanneer sy gepraat het, was dit met outoriteit.
Dit het niks te doen gehad met manlik of vroulik nie.  Dit het te doen gehad met ‘n behoefte wat God gehad het om Sy hart en Sy planne aan Sy volk bekend te maak.  Dit was ‘n behoefte wat God geweet het Debora sou kon vervul.
 Debora het ook haar roeping in die natuurlike as vrou verstaan en as vrou vir haar man.  Die Bybel voeg baie duidelik die titel van “vrou van Lappidot” by haar lys van erkennings, wat beteken dat dit betekenisvol was vir God.
 Lappidot beteken “om te skyn”, wat daarvan spreek dat haar man self ‘n welbekende reputasie gehad het.  Tog was hy selfversekerd genoeg om Debora vry te stel om die groot leier te kon wees wat sy was.  Die manier waarop sy die situasie met Barak hanteer het, vertel ons iets van wat in haar huis aangegaan het en die manier waarop sy met haar man verkeer het.  Die teks dui duidelik daarop dat sy haarself as vrou onderwerp het aan haar man.  En sy was geseënd as gevolg daarvan.  Almal het geweet dat omdat haar huis in orde was, hulle haar kon respekteer en volg.
 Die volk sou haar nooit gewilliglik gevolg het as sy uit lyn was nie.  Sy was eerstens huweliksmaat voordat sy rigter was.  Sy was eerstens vrou voordat sy ‘n leier was.  Sy was eerstens onderworpe aan God en dan aan haar man.
 Sommige Christen-vroue is verward hieroor en wonder hoekom hulle mans niks te doen wil hê met God en die kerk nie.  Weet jy hoekom?
Eerstens, geen man sal ooit iets aanhang waarmee hy in kompetisie voel nie.  Indien jy die man in jou lewe laat voel dat hy moet kompeteer met Jesus of jou pastoor, behoort jy dit onmiddellik te bely.  Die teenwoordigheid van God in jou lewe behoort van jou ‘n beter vrou vir daardie man te maak.  Hou op om die pastoor beter te behandel as jou man.  Of jou man gered of ongered is, God hou jou steeds verantwoordelik en aanspreeklik om te dien, lief te hê en te onderwerp aan daardie man (mishandelende situasies uitgesluit).
 Tweedens, geen man gaan ‘n plek besoek waar hy voel al die vroue in beheer is nie.  Mans is van nature herstellers.  Indien daar niks vir hulle is om te herstel nie, beweeg hulle voort in hul soeke na onoorwinde gebiede.
Vir diegene van julle wat versmoord en verhinder voel in jou bediening a.g.v. jou maat, pasop.  God sal nooit jou bediening plaas voor jou sorg vir jou man nie.  Dit is onskriftuurlik.  Dit sal teen Sy Woord gaan, en Hy sal dit nie doen nie.  Moenie vergeet nie, dat deur jou man te dien, is jy ook gehoorsaam aan God.  Jou man word na God getrek deur jou optrede.  Jy is die enigste voorbeeld wat jou maat kry van hoe om te onderwerp aan God.  Die wyse waarop ons onderwerp aan sigbare leierskap, is ‘n goeie aanduiding van hoe ons sal toegee aan onsigbare outoriteit.
Derdens, het Debora haar posisionele roeping as diensmaagd van God verstaan.  Hierdie is die grootste wenk in hoe om jou vroulikheid in die kantoor te behou – of watter omgewing ookal jou laat voel dat jy in ‘n oorlog vir gelyke regte veg, of slegs vir menslike erkenning.  Debora het haar werk gedoen omdat God so gesê het.  Dit het nie gegaan oor die mans rondom haar nie.  Dit was ‘n Koninkryksroeping en nie haar persoonlike agenda nie.
Efes. 6: 7, 8 …en met moeilikheid die Here dien en nie mense nie, omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy ‘n slaaf is of ‘n vryman.
 Hou op om na die natuurlike man by jou werk te kyk.  Jou identiteit is versteek op ‘n plek veel hoër as die naamplaatjie op jou deur of jou firma se werksbeskrywing.  God het besluit dat jy op drie vlakke sal opereer:
1. In die gees. 2. As vrou. 3. As Sy diensmaagd.
 Jou doel behoort te wees om Sy roeping op jou lewe te vervul en nie wat jy kan kry uit wat jy doen nie.  Jy kan al jou energie daarop spandeer deur te probeer om na jou begeertes te gryp in menslike pogings en dan ‘n lewe van frustrasie leef – oorwerk en nie gewaardeer nie.  Soos wat jy vergeet van die lofprysing van mense, sal God jou ryklik beloon omdat jy ‘n dienskneg-hart ontwikkel het.
Liewe Hemelse Vader, vergewe my vir my misplaaste prioriteite.  Vergewe my dat ek my nie verheug het in die vrou wat U my geskape het nie.  Vergewe my dat ek die leuen van die wêreld geglo het dat ek minderwaardig is, ‘n stem om te ignoreer, ‘n leë kruik sonder eer.  Help my om die waarheid te omhels – dat ek wonderlik geskape is, dat ek ‘n wonderlike werk is, dat my vroulikheid ‘n skat is wat versteek is in hierdie aardse kleipot. Help my om my te verheug in die gawes wat U my gegee het, gawes van invloed en wysheid.  Bring na vore die gawes wat U in my geplaas het en maak my ‘n wyse rentmeester van alles wat U in my gees gedeponeer het.  Soos ek alle vooropgestelde idees en wêreldse etikette van my aftrek, beklee my met U verlossing, U outoriteit, U waardering van alles wat ek is in U.  Leer my om die vrou te wees wat U wil hê ek moet wees.  Lei my op die weg wat U graag wil, tot eer en verheerliking van U Naam.  In Jesus se Naam, AMEN.
Ek kan net praat vir myself. Wanneer ek terug kyk na my vorige lewe, was die smagting altyd daar net om raak gesien te word. Om ook te voel dat my gevoelens en begeertes belangrik is. My grootste rebellie was vanuit daardie standpunt. Die eie-ek het toe opgestaan, na nog ‘n teleurstellings en het ek gesê tot hier toe en nie verder nie. En ja, ek het my eks sy posisie ontneem deur manupilerend op te tree.

Ek het weggestap van ‘n huwelik omdat ek net nie meer die vervulling gekry het wat ek so desperaat gesoek het nie en in die proses het ons albei ons posisie verloor. Het ons ons koppe in skaamte laat sak en ons naaktheid gesien.
Nou, in retrospek, besef ‘n mens wat jou beheer het en dat jy die heeltyd op die verkeerde plek gesoek het.
Daarom is dit noodsaaklik om dinge nou reg te doen. Nie na selfvervulling te soek nie maar eerder na God en sy wil, dan kom die vervulling. Mag julle ook in jul lewe daardie vervulling ervaar en skitter net waar julle is.
Tot ‘n volgende keer

Mooi loop diamante.  

OM die kursus af te laai, besoek Kanaan Bediening hier


ELAN GLOBAL RADIO
Die Stasie Vir Passievolle Mense
https://www.elanglobalradio.com
Die program vir die enkellopend waarin ons saam gesels oor al die slagysters, vrae, vrese en vreugdes van die enkel lopende.
WOENSDAG at 10h00 SA Time
GESELS MET ONS:
Web: https://www.elanglobalradio.com/
Faceboek: Elan Global Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580
Gaan kuier en leer meer van ons, blogg saam en luister saam:
https://www.elanglobalradio.com/




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...