Vertroue is ‘n onderwerp wat al holrug gery
is. Maar tog ‘n onderwerp wat belangrik bly. In my voorbereiding vir die
volgende program het die onderwerp vir my uitgestaan. Eers het ek lank wakker gelê
in die vroeë ure van Dinsdag oggend en gewonder wat om te sê, woorde het bly maal. Op Facebook het ek die gedig raak geloop van
Drienie Joubert Kelly, en dadelik haar toestemming gevra; wat ek later sal
voorlees. Daarna, het Lorraine du Plessis se dagstukkie my aangeraak later die
dag. Lorraine is ‘n ou skoolvriendin en ons het mekaar weer raak geloop op
Facebook na baie jare. Vir die laaste 5 jaar, elke oggend, soos klokslag deel
sy ‘n dagstukkie met my. In daardie tyd was ek nog baie verbittered was en ek
wou niks van enige bybelversies wou weet nie, maar sy het getrou gebly.
Vertroue is by tye iets mooi maar kan ook
groot skade berokken. Vroeër of later val ons in die strik, soms onbewustelik
waar ons vertroue geskend is. Dit voel soms of ‘n mens net nie genoeg leer oor
hierdie onderwerp nie. Die enigste manier om onsself te vrywaar daarvan is om
op ‘n eiland te gaan bly. Maar omdat min van ons dit kan bekostig is ons tussen
mense, omring deur wantroue en leuens. Of dit nou ons vriende, mede werkers,
kerkgangers, mense wat jy op Facebook ontmoet, of op enige ander sosiale
platform is. Selfs familie val onder hierdie kategorie. Of hulle nou na aan jou
is, ver, of die hoogste sport bereik het - jy vertrou of vertrou nie daardie
persoon nie.
Om jouself af te skakel is dan nie eintlik
‘n oorweging nie. Juis omdat jy mense nodig het vir ondersteuning, kuiers en
die alledaagse omgang daarvan hetsy deur werk, kerk en op sosiale gebied. Mense
immers maak deure oop, help jou om vorentoe e beweeg.
Facebook maak dit ook nie maklik nie. Daar leef
soveel mense met dubbel standaarde wat nie rerig uitgevang word nie. Dit is ‘n
doolhof van inligting wat jou eintlik bitter min help. En omdat jy nie werklik
met mense kontak het nie, al dink jy jy het, vat dit langer om agter die kap
van die byl te kom.
Tussen skrywers word plagiate ook
uitgevang, eerder later as vroeër. Selfs toe ek in die eiendomsbedryf was, moes
jy lig loop. Elke klient of mede agent word met ‘n vergrootglas bekyk en op armlengte
gehou. Jy steek dit net goed agter ‘n professionele benadering weg. Laas week
is so ‘n persoon tussen ons skrywers uitgevang, maar reeds nadat hy al ‘n
geruime tyd gedigte gevat het en onder sy eie naam publiseer het. Dit het een
persoon gekos wat wakker genoeg was om dit agter te kom. Daardie persoon het
die fluitjie geblaas as te ware. Maar die skade is gedoen. Vertroue is geskaad.
Tussen enkellopendes vat dit nog langer.
Indien jy nie oop oë is en letterlik 24/7 op Facebook is nie gaan jy dit nie
sommer agterkom nie. Daar is net te veel inligting, te veel groepe wat in
geheimenis gehul is sodat ‘n persoon wat oneerlik wil wees daarmee kan weg kom,
vir baie lank. Selfs te veel profiele. Mense wat agter hondjies, hartjies of
Jesus prentjies wegkruip of fotos steel en voorgee asof dit hulle is. En wanneer
dit dan wel gebeur maak so ‘n persoon die blad toe en verdwyn. Net om weer
onder ‘n ander skuilnaam op te pop en voort te gaan met sy/haar speletjies. Want
hy is veilig. Sy identiteit nog steeds onbekend.
Maar hoe beskerm die normale enkellopende persoon
homself daar teen? Wanneer ons in ‘n verhouding is dan word ons as te ware
beskerm teen sulke mense. In ‘n verhouding kan ons mekaar waarsku, vir mekaar
bid en beskerm in gebed. Maar alleen is ons oop teikens. Dan is daar niemand
wat jou rug beskerm nie en veg jy die stryd alleen. Indien jy nie vriende het
nie dan is jy soos ‘n magneet vir die mense. En hulle sal alles doen om jou af
te breek en indien jy vrae vra laat lyk of jy verkeerd is.
Vertroue kortom is die geloof in iemand se eerlikheid
en opregtheid. Soos ‘n kind wat opkyk na ‘n ouer vir sy welstand, gesondheid,
aanvaarding, en beskerming so kyk ons op na ‘n persoon. ‘n Persoon wat ons
welstand en beskerming in ag neem. Wat ons aanvaar vir wie ons is. Maar wat ook
bereid is om vir ons presies te vertel wat aangaan en ons aanvaar daardie
persoon se woord, ongeag. Omdat ons hom vertrou.
Ek hou van die Suits tv reeks. Vertroue
word baie duidelik deur die storielyn omskryf en geleef. Jy verstaan dit op ‘n
visuele vlak. Die verhouding tussen en Harvey en Mike die anker van die hele reeks.
Van die begin af het die twee mekaar geskaaf, mekaar beskerm en toe gelaat om
mekaar te help ten koste van. Maar dit het hul verhouding sterk gemaak. Dit het
nie oornag gebeur nie maar deur die opbou van ‘n paar seisoene.
A. Maar wat is vertroue?
1. Vertroue is ‘n
gedragsoptrede wat ‘n ander persoon doen om jou te laat glo daardie persoon is
eerlik. Ons kan maar kyk na die pas afgelope stemmery en die uitslae. Die leier
se praat en aksies moet ooreenstem anders glo niemand hom nie. Om van enige
platform te se jy is teen korrupsie maar word kort-kort uitgevang maak jou ‘n
leuenaar. Met ander woorde jou aksies veroorsaak dat vertroue ingeboesem word.
2. Vertroue is ‘n waardesisteem
dat een persoon jou sal beskerm, ongeag. Hy / sy het of dra net jou beste
belange op die hart. Sy optrede bly altyd dieselfde. Soos ‘n Harvey met Mike. Indien
daar ‘n menings verskil is werk hulle dit uit.
3. Vertroue is ‘n abstrakte
bewustheid wat jou laat glo ‘n persoon is betroubaar. Dit is nie iets wat jy
aan iemand kan verduidelik nie want elkeen se gewaarwording is anders.
4. Vertroue wek ‘n
gevoel van selfversekering en veiligheid by jou. Jou uitkyk verander, jy waag
meer, doen meer want jy weet daar is iemand wat in jou glo. Die persoon kyk verby
die normale en sien jou potensiaal raak. Wanneer iemand omgee gee dit jou
vrymoedigheid om terug te baklei.
5. Vertroue is ‘n
innerlike gevoel wat al jou emosies saam vat in een woord. Dit verwoord jou
siening oor iemand en ander kry ‘n duidelike boodskap.
6. Vertroue is nie
‘n absolute wetenskap nie. En jy gaan nie noodwendig dieselfde persoon vertrou
vir elke area van jou lewe nie. Jou man of vriend mag dalk ‘n baie goeie raadgewer
wees maar sy kleur skemas is om dit reguit te sê,
aaklig. Of hy weet niks van modes af nie. Dan het jy ‘n ander vertroueling daarvoor.
B. Wat sê die
Bybel oor vertroue?
Prof Francois
Malan op die Bybel kennis webwerf beantwoord hy dit op die volgende manier:
“Sonder
onderlinge vertroue kan ons nie lewe nie – ek vertrou die kos wat ek eet is nie
vergiftig nie, anders sal ek nooit eet nie (maar dit kan gebeur); ek vertrou
die kar wat aankom gaan by die rooilig stop, anders kan ek nie ry nie (maar
soms gebeur dit wel). As mense my nie vertrou nie, sal ek nooit ’n werk kan kry
nie, en geen vriende kan hê nie. Maar die aanleiding tot die vraag gaan eintlik
oor wat die Bybel sê oor vertroue in mense, engele, ens.”
Die Bybel praat
baie oor God wat ons absoluut kan vertrou, nie om óns wil uit te voer nie, maar
om sy wil met ons deur te voer (wat soms met my wil kan ooreenstem, maar
dikwels nie, en dan het die Here iets beters vir my in gedagte).
1. Eers wat die Bybel sê dat
jy nie ’n mens kan vertrou nie:
Ps 62:13 sê: Ek
het by God hoor sê: dat net God mag het en ’n mens net op U, Here, kan vertrou,
en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste.
Spreuke 28:26
Wie op homself vertrou, is ’n dwaas. Wie hom deur wysheid laat lei, is veilig.
Miga 7:5 Moenie
’n maat vertrou nie, moenie op ’n vriend staatmaak nie, pasop wat jy sê vir die
vrou langs wie jy lê.
2. Dat die Here nie op engele
kan vertrou nie:
Job 4:18 Elifas
sê vir Job: In sy hemelse dienaars stel Hy geen vertroue nie. Voor Hom is selfs
sy engele vol gebreke.
Job 15:15 Elifas
sê vir Job: As God nie eers die hemelwesens vertrou nie en selfs die
hemel nie rein is voor sy oë nie, hoeveel minder ’n onrein en verdorwe mens wat
boosheid indrink soos water?
3. Maar deur die Here kan ons
vertroue hê in mense:
2 Tess 3:3-4 Die
Here is getrou. Hy sal julle versterk en julle van die Bose bewaar. Deur die
Here het ons vertroue in julle dat julle doen en sal doen wat ons julle
voorhou.
Eks 19:9 Toe het
die Here vir Moses gesê: Ek sal na jou toe kom in ’n donderwolk. Die volk sal
My kan hoor wanneer Ek met jou praat en dan sal hulle altyd vertroue in jou hê.
Ons vertroue is
eintlik op die Here wat in ons kom woon het met sy Heilige Gees om ons te lei
en te bewaar. Ons lewe is in sy hand, ook wanneer ons eet of op pad is of
tussen mense lewe en werk. Hy lei ons ook in die vertroue wat ons in mense kan
stel.
2 Kronieke 16:9
Die Here het sy oë oral op die aarde, sodat Hy dié kan help wat met hulle hele
hart op Hom vertrou.
4. En dan die baie tekse in
die Bybel oor vertroue in die Here:
Ps 84:13 bely:
Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou.
Ps 112:7: die
regverdige…is gerus, hy vertrou op die Here.
Ps 115:11 Julle
wat die Here dien, vertrou op die Here, Hy help en beskerm julle.
Spreuke 3:5
Vertrou volkome op die Here, en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken
Hom in alles wat jy doen, en Hy sal jou die regte pad laat loop.
Spreuke 16:20
wie op die Here vertrou, met hom gaan dit goed; een wat op die Here vertrou is
voorspoedig.
Jesaja 28:16 Ook
wanneer U straf, Here, vertrou ons op U.
Volgens die Bybel moet ons, en kan ons, op God
vertrou. Hier is ’n paar tekse daaroor:
Ps 4:6; 9:11; 25:2,3,21;
26:1; 27:14; 28:7; 31:15; 32:10; 33:20; 37:3,7,34; 38:16; 46:6,12;
43:5; 55:24; 56:4; 62:2; 71:5; 78:22; 91:2;
Spr 20:22; Jes
12:2; 25:9; Jer 14:22; Dan 3:28; 6:24;
Mat 27:43; Hand
27:45; 2 Kor 1:9; 3:4; Hebr 2:13.
Die Bybelskool.com webwerf verduidelik
vertroue uit Jesaja 30 en 31. Omdat dit nogal ‘n intensiewe stuk is sal ek die
skakel op die blad plaas vir eie studie.
“in
stil vertroue en gebed lê die essensie van ‘n gelukkige lewe opgesluit.”
C. Wat is die geheim
van vertroue?
Volgens Tommy Lessing
se WordPress webwerf is dit die volgende:
Wanneer daar nie ‘n verhouding is
nie, is daar ook nie afhanklikheid nie. Wanneer daar nie afhanklikheid is nie,
is daar nie vertroue nie.
Afhanklikheid van God in ons daaglikse lewe
bou ‘n sterk fondasie van vertroue. Dit maak weer die deur oop vir geloof
wanneer jy dit nodig het. Ons moet ons daaglikse wandel instel op ons
afhanklikheid van God. K.P. Yohannan noem vier dinge oor hoe jy jouself
kan meet of jy steeds afhanklik van die Here bly:
1. Wanneer ‘n probleem opduik in
jou lewe, soek jy eerste die raad van jou vriende en die mense om jou, of soek
jy eerste na God? Wanneer ons kies om
mense se raad bo die van God te stel, is dit baie moontlik dat jy in ‘n strik
gaan trap. Daar is wel wysheid in om manne wat gevul is met die Gees, te raadpleeg.
Ek praat nie hiervan nie. Ek praat daarvan dat jy eerder mense se raad eerste
sal soek as om eerste na God te gaan in gebed.
2. In tye van oorvloed, gee jy
net geld weg of uit soos wat jy goeddink? Deur
die tyd neem om te bid en op Hom te wag vir antwoorde eerder om self te besluit
oor jou geld, wys jy dat jy afhanklik is van Hom, selfs in die goeie tye.
3. Spandeer jy, as ouer, jou tyd
om jou kind se beste opvoeding en loopbaan te bepaal en na te jaag? Of
spandeer jy meer tyd in gebed dat jou kinders ‘n goddelike lewe sal lei tot eer
van God en voordeel van die samelewing?
4. Wanneer jy na werk soek, neem
jy outomaties die posisie met die beste salaris en voordele pakket, eerder as
wat jy die tyd neem om op God te wag en na Sy wil vir die situasie te soek? Deur
eerder op Hom te wag vir raad en leiding, wys ons ons afhanklikheid van Hom en
dit is vir Hom tot groot seën.
Vanuit al hierdie punte besef ons hoe
belangrik vertroue is en wanneer dit geskend word dit onmoontlik is om weer
terug te kry. So skryf Drienie Joubert Kelly in haar gedig:
AAN
DIE EINDE VAN ONS LIEFHÊ
waar
het ek vir jou verloor
langs die leiklipmuur sien ek nog jou spoor
was dit langs die riete by die ou sementdam
of rus jy jou gewete teen die koorsboom se stam
het
ek jou dalk vergeet daar onder by die wilgerboom
hang jy dalk versteek tussen vinknes verlate oor die stroom
hoor ek jou huigel as die jakkalse verlangend roep
of skuil jou donker skadu op die plaashuis se stoep
ek
het jou loop soek daar by die windpomp se draai
tot ver anderkant die rusplek van die witborskraai
aan die hakkiesdraad het ek jou woorde gevind
met skuld bevlek en in verwerping gebind
daar
in die stof het jy my liefhê met trane versmoor
hiér het ek jou met alles in brutaliteit verloor
met my omdraai en wegstap kon ek jou oë op my voel
die kyke van passie het in verraad verspoel
aan
die einde van ons liefhê het ń reënboog gehang
al wat gebly het was ń jammer en ń kus op my wang
die lemme in my rug los ek daar vir ń aandenking
ń brandmerk van onthou - liefde se skending
Kopiereg-
Drienie Joubert Kelly
Wanneer daardie vertroue gebreek word voel
dit letterlik soos lemme wat in jou rug gesteek is. Drienie het dit werklik
mooi saam gevat in haar gedig. Dit laat ‘n brandmerk van onthou wat altyd by
jou bly. Soos ‘n vrou wat verneuk word. Sy is altyd op haar hoede, maak nie
saak hoe goed die nuwe man lyk nie, sy gaan wonder, hom toets etc. Dit hang dan
van daardie man af om haar reg te benader. Indien nie gaan die verhouding stop
nog voor dit begin het. Dit is nie ‘n skakelaar wat sommer net afgesit kan word
nie.
Hierby wil ek ook ‘n punt los aan die manne
wat inluister. Wanneer ‘n vrou uit ‘n verbrokkelde verhouding wegstap het sy
tyd nodig om te genees. Om haar te dwing om aan te beweeg sodat jy jou sin by
haar kan kry is ‘n resep vir verloor. En jy is die een wat gaan verloor
alhoewel jy nie so dink nie. As jou bedoeling eg is, gee haar tyd. Wees haar
vriend. Moenie die onmoontlike verwag nie. Jou houding en omgee wek vertroue.
Vertroue kan ons siening van die lewe
beinvloed. Dit kan ons depressief, en negatief laat en ons ploeter voort in ‘n
donker wêreld, altyd soekend. Maar wanneer ek iemand vertrou gee dit my
daardie ekstra krag om voort te gaan. Om die wêreld te
oorwin.
Daar sonder is ons uitkyk baie leeg. Dit
vat tyd om vertroue te bou. Nie elke persoon wat jy ontmoet of toelaat in jou
lewe sal jou vertroue ontvang nie. Jy kan mense al jare ken en geen vertrouens
verhouding hê met die persoon nie. Jy kan iemand net ‘n dag ken en hom of haar
vertrou met jou lewe. Soms word jy in situasies gesit waar jy ‘n persoon moet
vertrou vir die volgende stap in jou lewe. Hoe ook al, dit is ‘n alleen pad vol
strikke. Daarom is dit belangrik om die regte ondersteuningsgroep te hê. Te praat en vrae te vra. Niemand kan jou gedagtes lees nie. Deur
vrae te vra bekwaam jy jouself. Deur op te lees veroorsaak dat jy waaksaam word
en ingeligte besluite kan neem. Moenie halsoorkop in ‘n ding in stap nie. Die
meeste van die tyd sal dit ‘n duur les wees.
As enkellopende persoon is hierdie
valstrikke selfs nog meer. So kom ons vra ‘n paar vrae.
1. Wat is jou
behoefte in ‘n maat of vriend?
2. Moet julle saam
die lewe kan geniet?
a) Is hy ‘n buitelug mens of
huismuis?
b) visvang, kamp of tv mens?
c) besoek graag market,
kunsgallerye, biblioteek, klein dorpies?
d) drink of rook hy?
3. Kan julle gesels,
selfs oor die dinge wat onsmaaklik is op ‘n volwasse manier?
4. Is julle uitkyk
dieselfde?
5. Hoe voel julle
oor die politieke toestand in die land?
a) Wil hy die land verlaat?
b) Sal jy dit saam met hom doen?
c) Watter land, voel julle eensgesind
daaroor?
6. Deel julle
stokperdjies?
7. Kan julle
mekaar vertrou, al is julle nie bymekaar 24/7 nie?
8. Is hy/sy
standvastig in hul sieninge? Of word hulle maklik beinvloed?
9. Kultuur,
geloof, ras, politiek - het jy ‘n siening daaroor?
10. Kinders is nog
‘n belangrike punt, hoe voel julle daaroor?
11. Indien daar
kinders is, hoe voel julle oor dissipline? Dit kan ‘n verhouding maak of breek.
12. My goed vs jou
goed? Hoe sal dit werk?
13. Hoe voel julle
oor besigheid, kan die persoon my ondersteun?
14. Godsdiens -
hoe belangrik is dit in die nuwe verhouding?
15. Hoe voel julle
oor die seksuele sy van die verhouding? Dit is belangrik om hieroor te praat i.p.v
om net in die bed te val.
Dit is baie vrae, maar noodsaaklik vir die
voort bestaan van jou bestaande verhouding of voor jy met een begin. Net jy alleen
weet die regte antwoorde vir elke vraag. Jy weet wat werk vir jou en wat nie. Hoekom
het jou vorige verhouding verbreek? Hoe kan jy dit verander? Of is dit in jou
vermoë om dit te verander? Is net ‘n paar punte om by te begin. Indien jy nie
jouself kan vertrou nie hoe verwag jy moet ander jou vertrou.
Wanneer jy die dinge uitgewerk het kan jy
vorentoe beweeg. Dit wek vertroue en samehorigheid by ander. Dit gee jou die
nodige sekerheid om voort te gaan of eerder te stop. Soms kan iemand die beste
en ‘regste’ woorde sê maar op die ou einde werk dit nogsteeds nie uit nie. Hoekom nie?
Omdat julle verskille groter is as die ooreenstemmings.
Julle doelwitte is verskillend, en i.p.v om dit reg te hanteer maak julle
mekaar seer en doen of sê onvanpaste dinge. Soos ons groei
verander ons sienings ook. Jy mag dalk nie nou goedsdienstig wees nie maar môre kom jy tot bekering. Om net een voorbeeld te noem. Jy mag dalk
nou werkloos wees en oor môre werk kry wat jou situasie verander. Dit alles
speel ‘n faktor.
Die grootste punt wat ek wil byvoeg is,
moenie beloftes maak sonder om deeglik daaroor te dink nie. Maak seker van jou
feite. Gee ag op jou self en jou eie situasie. Moenie dinge belowe wat jy nie
kan doen nie. Wees eerlik met ander en met jouself. Moenie ‘n ja-broer word
nie. Dit is hoe baie opeindig met die verkeerde maat of gehou word aan iets wat
jy nie in staat was om te doen nie. Want jy was eintlik dwaas in jou beloftemaking.
Iets anders wat ek hierby wil noem,
weereens vir die manne - jy kan nie een vrou vra om met jou te trou en dan nog
by ‘n ander vrou slaap nie. Jy is vals teenoor albei en sal uit gevind word.
Jou woord is nie jou eer nie en jy wonder hoekom is jy alleen.
Jou aksies en reaksies bepaal of mense jou
kan vertrou.
Om saam te vat. Wees ‘n betroubare persoon.
Wees waaksaam en versigtig maar moenie dat dit jou weerhou van ware
Vriendskappe nie. Soek antwoorde op die regte plekke en moenie blindelings
vertrou omdat die persoon die regte woorde gebruik nie. Toets die persoon. Net
soos wat jy God soms toets, gooi die vliesie uit en maak seker voordat jy seer
kry. Bewaar jou hart meer as enige iets in hierdie lewe. Jy kan hom nie heel
maak deur salf en ‘n pleister nie.
Jou vertroue is duur moenie dit uit deel
soos smarties nie.
Tot ‘n volgende keer liewe vriendinne,
skitter net waar julle is.
ELAN GLOBAL RADIO
Die Stasie Vir Passievolle Mense
Die
program vir die enkellopend waarin ons saam gesels oor al die slagysters, vrae,
vrese en vreugdes van die enkel lopende.
WOENSDAG
at 10h00 SA Time
GESELS MET ONS:
Faceboek: Elan Global Radio Kuier en Klets
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580
Gaan kuier en leer meer van ons, blogg saam
en luister saam:
SKAKEL IN:
SIMPLE RADIO App.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking