Dinsdag 06 November 2018

My stand in die samelewing. Waar pas ek in as enkelling?



Vandag se program handel oor My stand in die samelewing. Waar pas ek in?
Om dit te beantwoord moet ek eers die volgende vraag beantwoord; is daar nogsteeds ‘n stigma aan ‘n geskeide persoon?

Julle kan dalk verskil met my vraag maar onbewustelik dink ek daar is nogsteeds so iets. Die samelewing en ons geestelike oortuigings is getuienis daarvan. Daarom kry jy baie ongelukkige mense wat in ‘n huwelik bly lank nadat die huwelik verby is. Elkeen bly omdat hulle geldige redes het waarvan kinders gewoonlik die mees algemeenste rede is. Naas dit is daar finansieële oorwegings. Die man sal dalk dink hy gaan nie sy ‘hard earn’ skatte aan die vrou gee nie en bly liewer. Die vrou het nie ander heenkome nie, het geen geld van haar eie nie en bly. Of die ekonomie veroorsaak dat hulle bymekaar bly want sonder die ander inkomste gaan hulle dit nie maak nie. In die proses vernietig hulle mekaar emosioneel en die kinders dryf weg in hul eie wêreld in.  

Ek wil tog byvoeg dat indien julle kan werk aan jul huwelik, en selfs hulp inroep doen dit. ‘n Huwelik is tog ‘n werkbare instelling wat vir albei partye en hul kinders ‘n vaste grondslag gee om op te staan. Vandag, in ons gejaagde wêreld is dit nog meer van belang. Die wêreld val uit mekaar uit, kinders beleef meer probleme daarbuite en indien dinge nie goed is by die huis nie dan benadeel dit hulle nog verder. So, indien jul albei voel jul wil dit nog ‘n kans gee doen als in jul mag om dit te maak werk. Dit kos baie geduld en kompromie maar ek glo dit is die moeite werd vir sommige verhoudings. Ondersteuning is belangrik en om die regte mense om julle te kry is die belangrikste belegging wat jy kan doen vir jul pad.

Maar ek weet ook dat dit nie altyd so maklik is nie. Ongeag al die geduld en kompromieë werk dinge net nie uit nie. Dit is feite. Albei moet bereid wees om te werk aan die verhouding. Indien een nie wil nie gaan die ander party haarself moeg maak en onnodige letsels by kry.

Ons leef in ‘n verligte tyd waar die meeste dinge aanvaarbaar is maar ons wil almal glo wanneer ons voor die kansel gaan staan dit vir altyd sal wees. Wanneer dit nie gebeur nie dan laat dit ‘n wrang smaak in die mond. Dit laat jou skaam, verward en baie kere selfs vernederd voel. Dan praat ons nie eers van die mislukte-gevoel wat jy oor jou trek soos ‘n kombers nie. Die gevoel word versterk juis met die feit dat vriende jou ook verlaat en jy alleen staan. Hoeveel te meer as jy die skuldige party is. Dit vat ‘n lang tyd om rerig deur al die emosies te werk, kenners sê dit kan tussen 2 tot 4 jaar vat voor jy weer voel jy kan jou voete met sekerheid op die aarde sit. Die hele pad ruk jou van balans af en dit is belangrik dat jy geduldig met jouself sal wees.

In ‘n studie wat gedoen is noem hulle dat tot 46% voel dat hulle daagliks geoordeel word vir hul besluit of standpunt. Dit dra nog meer by die gevoel van hopeloosheid en verlorenheid wat enkellopendes ervaar.

Dan praat ons nie eers van die toutrekkery wat plaasvind agterna nie. Die feit dat een party dink hulle het meer regte is ook iets waarna gekyk moet word. Dit is min wat jy hoor partye kom goed anderkant uit. Die battles is bloedig en laat een persoon gewoonlik in ‘n wurggreep. Veral op finansieële gebied dink die een dat hulle meer verdien en dit tap die lewe uit die ander uit. Om dan kop te hou is net moontlik met die regte ondersteuning om jou.

Ek wil tog hierby voeg, indien jy jou mes in het vir jou gewese maat en jy hom/haar wil benadeel. Stop vir ‘n oomblik en dink aan die gevolge. Dit is nie net daardie persoon wat jy benadeel nie maar alles waarvoor hy/sy verantwoordelik is, insluitend jul kinders.

Maar kom ons kom terug na die oorsponklike vraag - My stand in die samelewing. Waar pas ek in?

Voorheen sou dit my nie gepla het nie maar die manier wat mense jou benader of selfs behandel verskil. Jy is nie meer mevrou so en so nie. Dit is verbasend hoe daardie titel ons ‘n plek gee van eienaarskap. Mense weet sommer dadelik met wie hulle te doen het wanneer mevrou instap. Dit dra gewig en status. En vir ons vrouens is dit ook ‘n plek van sekuriteit. Maar nou, wat nou, wanneer daardie titel net op papier is en jy in realiteit enkel is. Jy probeer als in jou vermoë om weg te kom van daardie titel maar dit volg jou soos ‘n skaduwee.

Die eerste ding wat jy doen is verwyder die ringe. Die ringe en titel loop hand aan hand. Die ringe is ‘n uiterlike teken dat jy aan iemand behoort. Die titel bekragtig dit. Die ringe-afhaal-seremonie, is iets wat stilweg gebeur. Sommer so in die stilte van jou kamer of badkamer. Daar is geen basuin of trompet wat die gebeurtenis aankondig nie. Nee, dit is ‘n stille gebeurtenis wat soos ‘n gewig, gestroop word van jou vinger en dan voel jy verlig, amper eufories.

Wanneer jy dan weer die buite wêreld betree voel jy anders oor als om jou. Die vryheid wat jy nou smaak is amper ongekend, veral as jy jonk en lank getroud was. Die wêreld lyk skielik baie groot. Dit is ook opmerklik hoe vining mense dit raaksien. Die leë vinger word skielik ‘n nuwe simbool en staan vir vryheid en weereens is mense of jaloers of bly vir jou. Wanneer mense jou nader is hulle nie seker hoe om jou aan te spreek nie. Ek help gewoonlik vining om enige verleentheid te voorkom.

Mense kyk nou anders na jou. Of miskien is dit jy wat nou anders na mense kyk, weet nie maar daar is tog ‘n defnitiewe skuif in persepsie. Dit is dan wat jy agterkom getroude vrouens dink nou tweemaal voor hulle jou nooi. Jy word nou met versigtigheid hanteer. Daar is min getroude paartjies wat gemaklik is met ‘n geskeide vrou of selfs weduwee as vriendin. Jy word gerieflik weggelaat met enige uitnodigings. En op ‘n punt kom jy agter dat jy net na familie byeenkomste genooi word en jy bevind jou meestal alleen. 

Indien jy nog kinders op skool het kan skoolbyeenkomste ook styf en formeel word en jy as enkellopende persoon moet bedag wees op hierdie veranderinge. Soms moet jy bereid wees om liewer terug te staan as jou wil af te dwing. Behou jou waardigheid as vrou te alle tye.

Jy sal baie kere wonder waar pas jy nou eintlik in. Die grense van voorheen het nou geskuif, jou benadering verander. Jy word nou amper speels, selfs flirterig in jou gesprekke. Jy kan nou meer openlik gesels oor sekere onderwerpe. Hier moet jy ook let wat jy sê. Want vat jy dit te ver kan jy heelwat probleme op die hals haal. Plaas ‘n wag voor jou mond is kardinaal. Kort voor lank kan jy meer probleme hê wat jy nie op gereken het nie. Mans veral, gaan dit letterlik opneem en jou selfs opvat daarop. Nee is dan nie ‘n antwoord wat hulle gemoedelik gaan aanvaar nie. Dit is dan wat jy ‘n oop teiken vir elke wolf daar buite word en jy voel baie kere weerloos. Dit is als okay om te sê ‘mense moet my aanvaar soos ek is’ maar daarin is soveel gevare opgesluit. In die eerste plek gaan jy nie daarvoor reg wees nie en gaan jy nie weet hoe om dit te hanteer nie. Onthou, jy is nou alleen. Jy het geen beskerming nie. So, wees versigtig.  

Ek het dit veral op Bakkiesblad gesien; veral by die enkelgroepe. Daar praat mense soos hulle wil en noem ‘n spade ‘n spade. Vulgere taal is aan die orde van die dag. Maar saam met dit gaan mense jou toets op jou reaksies van verskillende plasings. Hulle gaan kyk hoe ver is jy bereid om hierdie nuutgevonde vryheid te vat. Mans is dan lief om truth or dare speletjies te speel. Wees versigtig vir dit – want jy kan in ‘n lokval instap. Onthou hy weet wat hy wil he, en indien hy enigsins agterkom dat jy bereid is om jou inhibisies eenkant toe te skuif gaan hy jou probeer kry om oor te gaan na die daad.
Die gevare van sosiale media vir ‘n enkel vrou is legio. En ek praat nie van die Nigirier scammers nie. Hulle is teen die tyd maklik herkenbaar. Nee, daar is baie meer waarvoor jy bedag moet wees. Dit is belangrik dat jy weet van die wolwe, die wat net fun wil hê, en die wat teer op geskeide vrouens. Daar is getroude mans wat ‘n ietsie soek langs die kant sonder die verantwoordelikheid. En glo my, hulle gaan nie hul vrou los vir jou nie. Dan is daar die Toy-boys wat dink dit is cool om met ‘n ouer vrou gesien te word… ens.

Vir die normale gesinsman of vrou maak die goed nie sin nie, maar daar is ‘n wêreld binne in FB waarvan min mense bewus is. En agter geslotenheid van hierdie wêreld sal jy seerkry, oop oë. Dan kan jy nie jou wonde gaan bekla nie want jy het openlik daarin gestap. Jy is mos nou ‘n groot vrou wat jou eie besluite kan neem. Reg?

Waaksaamheid sal nou jou grootste vennoot wees. Versigtigheid en wysheid die sleutel tot hierdie groepe. Maak nie saak hoe versigtig jy is nie, jy gaan ‘n stel of twee aftrap. Wanneer jy die gevoel kry om weg te stap. Gee gehoor daaraan. Stap weg. Jy verloor niks nie. Maak nie saak hoe nice die man is nie.

Jou stand in die samelewing word bepaal deur hoe ernstig jy jou nuwe status hanteer. Jy is nou in beheer en gee die pas aan. Koelkop is nou die beste. Jy moet vir jouself bakens stel. Hierdie bakens word bepaal deur jou eie verwagtinge en, in ‘n groot sin finansies. Jy word heelwat aan bande gelê as jy nie geld of selfs ‘n kar het nie. Jou beweeglikheid hang dan af saam met wie jy uitgaan. Hierin kan veiligheid wees maar, indien jy die mense nie goed ken nie jou grootste gevaar. Groepsdruk kan dan ‘n wesenlike probleem word. Net jou eie oortuigings kan jou dan help.

Op hierdie onderwerp - Hoe ver is jy bereid om te gaan byvoorbeeld. Of wat soek jy in ‘n man. Defineer jou eie planne en hou daarby. Kry ‘n vriendin aan wie jy rekenskap gee, dit sal jou kop skoon hou en jy sal met groter sekerheid op die pad bly. So vining kan jo stand verander na iets wat jy glad nie op voorbereid was nie. Onthou, nie almal wat jy leer ken is jou vriend nie. Onthou, jy soek nou jou voete. Jy het planne. Jy weet waarheen jy oppad is, indien iets dit wil benadeel of sink dan is dit beter om dit te laat gaan.

Dit help nie jy gaan blindelings in ‘n nuwe ding in nie. Stel riglyne op. Sit merkers op jou nuwe pad. Doen nuwe dinge, maar probeer dit in ‘n groep te doen. Gaan uit maar wees versigtig waarheen jy gaan. Slegs deur te waag sal jy uitvind wat werk vir jou. Indien jy nie gemaklik is nie en liewer by die huis wil bly, doen dit. Solank jy net nie afgestomp word nie. Kry Stokperdjies wat jou nie net besig hou nie maar ook stimuleer. Facebook is nie ‘n stokperdjie nie.

Jou benadering tot die lewe bepaal jou pad vorentoe. Slimgeid gaan jou net in die moeilikheid bring. Kry ‘n vertroueling en vra vrae. Wees bereid om te leer. Dit help veel jy het hierdie nuwe vryheid en jy is nie bereid om te leer nie. Probeer om nie weer die foute van die verlede te herhaal nie, jy het nou ‘n geleentheid om oor te begin. Maak die beste van hierdie tyd.

Of jy dit nou wil hoor of nie, moenie net ‘n nuwe man soek om die leemte te vul of jou te help in jou geldelike verknorsings nie. Mans is nie die antwoord op als nie. Die meeste mans, in my ouderdoms klas gaan deur hul eie probleme en het net eenvoudig nie die geldelike vermoë om jou te ondersteun nie of hulle is so voos geslaan dat hulle nie kans sien vir ‘n ander vrou se probleme nie. Om sulke verwagtings te he sal jou net verder aflei van hierdie nuwe pad waarop jy is.

Dit is natuurlik oog goed om te kyk wat Vader sê van enkelskap juis omdat dit vir baie vrouens dan belangrik is. ‘n Vrou vind gewoonlik skuiling by die Opperwese en besef dat God haar beskermheer is. En natuurlik, dat hy haar nie verwerp nie. Baie van ons sukkel met die vraag wanneer ons voor god kom en wil sommer vroegtydig wegkruip maar ek wil jou verseker dat god jou nie verwerp nie. Nooit nie. Hieroor kan lank gedebatteer word en elkeen sal self by die Here moet gaan hoor wat is die beste pad vorentoe. Daar is geen reël of wet oor dit nie. Maar God weet wat hy vir jou beplan en wie jy nodig het op jou pad vorentoe. Indien hy wil he dat jy alleen moet bly sal hy dit ook uitwys.

Vraag: "Wat sê die Bybel oor ‘n Christen wat enkellopend is?"

Antwoord: Die vraag of ‘n Christen enkellopend mag bly en wat die Bybel sê oor gelowiges wat nooit trou nie, word dikwels misverstaan. Paulus sê vir ons in 1 Kor 7:7-8, “Eintlik wens ek dat alle mense kon wees soos ek is. Maar elkeen het van God sy besondere gawe ontvang, die een dit en die ander iets anders. Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek: Dit is vir hulle goed om ongetroud te bly soos ek.”
Let daarop dat hy sê dat sommige die gawe het om enkellopend te bly en sommige die gawe van die huwelik. Alhoewel dit lyk asof byna almal trou, is dit nie noodwendig God se wil vir almal nie. Paulus, byvoorbeeld het nie nodig gehad om oor die ekstra probleme en stres wat die huwelik en/of familie bring, te bekommer nie. Hy het sy hele lewe daaraan toegewy om die Woord van God te versprei. Hy sou nie so ‘n bruikbare boodskapper gewees het as hy getroud was nie.
Aan die ander kant doen sommige mense beter as ‘n span - hulle dien God as ‘n familie of as ‘n egpaar. Beide van hierdie groepe mense is ewe belangrik. Dit is nie sonde om enkel te bly nie, al is dit lewenslank. Die belangrikste ding in die lewe is nie om ‘n maat te vind of kinders te hê nie, maar om vir God te dien. Ons moet onsself opvoed in die Woord van God deur ons Bybel te lees en te bid. Indien ons God vra om Homself aan ons te openbaar, sal Hy dit doen (Matt 7:7) en as ons Hom vra om ons te gebruik om Sy goeie werk te voltooi, sal Hy dit ook doen, Rom 12:2, “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Om enkellopend te wees, moet nie as ‘n vloek beskou word nie of as ‘n indikasie dat daar “iets verkeerd” is met die enkel man of vrou nie. Alhoewel die meeste mense trou en die Bybel ook aandui dat dit God se wil is, is ‘n enkellopende Christen geensins ‘n “tweedeklas” Christen nie. 1 Kor 7 dui aan dat enkellopendheid ook ‘n hoër roeping is. Soos met alles in die lewe, moet ons God vir wysheid vra (Jak 1:5), ook rakende die huwelik. Deur God se plan te volg, óf dit huwelik óf enkellopend is, sal die resultaat produktiwiteit en vreugde wees, soos God dit vir ons begeer. 


Tot ‘n volgende keer
Skitter net waar jy is.




Die Stasie Vir Passievolle Mense


Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580

SKAKEL IN: 

SIMPLE RADIO App.
http://www.liveonlineradio.net/south-…/elan-global-radio.htm



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...