As kind droom ons van die ridder op die wit
perd, verlees ons aan Aspoestertjie en Sneeuwitjie en bou lugkastele rondom die
sprokiesverhale. Dogtertjies na-aap hulle (met die hulp van die mammas) en trek
aan soos hul gunsteling prinses. Pappas help ook met hierdie illusie en so glo
die kind dat dit ‘n werklikheid is en nie net ‘n feëverhaal nie. Deur hul hele jonglewe bly daardie beeld by hulle, lank
nadat die feërokkies met normale
drag vervang is. Dit is dan ‘n illusie in die gedagtes en hart alhoewel die
wêreld om hulle dit anders bewys. Hulle glo dat dit met hulle anders sal gaan
as met die res.
Stilweg vertroetel hulle hierdie gedagtes en het plakboeke vol
van droom troues, en die perfekte Prins Charming.
Dit is alles goed en wel maar
wanneer ‘n ouer nie die gedagte gang stop en met iets anders vul nie sal
daardie illusies bly. Solank as wat
mense op hierdie aarde sal wandel.
Wanneer ons die grootmens wêreld betree dan
wil ons “head over heels” val vir daardie een… jy weet die een wat jou voet
laat lig die oomblik wat julle lippe raak. Net soos met Aspoestertjie. Kyk maar
na “chick-flieks”. Op die groot skerm lyk dit werklik en sprokies figure word
vervang met rerige mense. Die illusie word nou lewendig en werklik. Dit voer
jou weg na ‘n bed van rose met die maan wat helder skyn in die agtergrond. Geen
wolkie of donderstorm om die beeld te vernietig nie. Jy sien dan al hoe jy voor die kansel staan,
met ‘n spierwit rok uit die blaaie van Vogue en die koets voor die deur wat
julle weg sal voer na die kasteel.
Daar is miljoene boeke op die rakke van
Biblioteke waar hierdie tema oor en oor beskryf word. Skrywers word skatryk uit
hierdie illusies en miljoene lees dit oor en oor. Maar as jy rerig die stories
van nader bekyk en nie met rooskleurige brille nie besef jy daar is meer
verskuil agter die blink koets, spierwit kasteel en spierwit rok. Soms dink ek
ons hou ons opnuut blind vir die dinge want dit is makliker om met die marshmallow-fluff
te deel as die lang pad, stof, dorings en opdraandes. Dan praat ons nie eers
van die vuil vloere, stief ouers en haatlike bure nie. Nee, ons fokus is op
daardie sprokie van perfeksionisme toe gehul in sjokolade en duisend-en-honderd-sprinkels.
Nie almal is gelukkig om ‘n liefde te vind
wat jou beroof van jou sinne nie. ‘n Liefde waar jy hals oor kop ‘n besluit
neem en daardie persoon blindelings volg. Die meeste van daardie blindelingse
liefde beland in ‘n maalkolk van emosies en gebeure wat jou of na die hemel
voer of na die hel. Ons menslike geskiedenis is deurspek van beide hierdie
soort waansinnigheid. Vir die res van die wêreld maak dit nie sin nie maar vir
die twee “waansinniges” maak dit perfekte sin en sal hulle mekaar volg tot aan
die uit hoeke van die aardbol.
Elke mens, man en vrou, jonk of oud hunker
daarna. Halsoorkop liefde wat jou sal bystaan, op lig en wegvoer. Sommiges is
gelukkig en vind dit; dit lyk asof alles net perfek loop in hul lewens net soos
in die feëverhaal. Maar hulle is in die minderheid en in
nabetraging vind jy uit dit was toe nie so perfek soos wat hulle jou laat glo
het nie. Hoeveel keer hoor ons nie van “perfekte paartjies” waar die man/vrou
vermoor is of selfmoord iemand se lewe geëis het nie. Die skuldige is dan in baie gevalle die maat. Dit is dan
wat jy besef maar hierdie soort liefde bestaan nie. Dit is dan wat baie mense
koud en ontnugterd weg stap. Die sprokie
het verander in ‘n verwronge na draai van jou gedagtes.
Waansinnige liefde is ‘n aanhoudende
uitvloeisel van jou gedagtes en begeertes. Die persoon besef nie eers dat die
spiraal van geluk afwaarts beweeg nie. Hulle besef nie die absolute
verslaenheid en moedeloosheid wat sinoniem is met enige verhouding nie. Wanneer
jy vir ‘n lang tyd in ‘n huwelik of vaste verhouding was val die skille
gewoonlik af maar nie by die “Waansinnige” nie.
Die skille bly en verwerp hulle die gevaar tekens. Môre sal die son mos weer skyn. Die maalkolk ‘n werklikheid sonder
enige einde.
Die Internet is gevul met liefdes gedigte
wat gekwoteer word op elke platform denkbaar wat hierdie liefde bemoedig en
aanwakker in elke mens. Dit kweek ‘n obsessiewe klimaat wat ons koorsagtig na
jaag alles om daardie verterende liefde te kan ervaar en hou ons weg van die
werklikhede waarmee ons moet deel. So word al hoe meer mense depressief,
ontnugter en bloot net negatief omdat dit nie kan bereik word nie. Hul uitkyk
totaal bederf en los dit hulle verward en skugter agter.
Die slotsom - tussen die voue van die lewe
is ware liefde bereikbaar. Miskien verskuil tussen al die sterre en glans maar
daar. Deel van ons. Dit is in ons bereik en bring genesing help ons in die opwaartse
pad sodat ons meer as net liefde kan ervaar. Dit is slegs by die boonste trap
van die lewe wat jy rerig die lewe kan bekyk en waansinnig lief kan hê met die wete dat liefde mekaar verdra, dat dit geduldig is, dat dit
nie sy eie belang soek nie. Dat dit als bedek en vergewe. En dat dit ons laat
sweef ongeag die emosies of roosgevulde brille.
Liefde
is ‘n werkwoord – waar ons meer moet doen as dink of droom. Net dan kan liefde
waarlik waansinnig wees met ‘n oop kop en geen illusies nie.
Kopiereg@LynelleClark 2018
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking