Dinsdag 30 Oktober 2018

'n Vrou se Sensualiteit deur Lynelle Clark

Kan julle glo dit is al program 21?
Ongelooflik hoe tyd vlieg. Tydens elke program het ons elke keer bietjie dieper in gedelf in hierdie spelonk van enkelingskap om die diamant voort te bring. Indien julle enigsins na my aard dan is die afgelope tyd ‘n oog oopmaker gewees. Dit was ‘n tyd van groei, knieë afstof en weer probeer.  Jou wêreld word tot in die fondasie geskud, elke gedeelte daarvan en jy wonder soms wanneer gaan dit ophou. Ons elkeen het ‘n storie te vertel. Elkeen hartseerder of gevul met meer trauma en teespoed. Maar die kern bly dieselfde. Die alleenpad is daar om jou te skuur en gereed te maak vir die glans om deur te skyn. Om werklik in oorwinning te staan en net miskien weer geluk te vind.
Daar is soveel fasette van enkelingskap dat dit onmoontlik is om als in een program te hanteer. Maar ons kom daar, stukkie vir stukkie.
Vandag praat ons oor die sensuele vrou.
Vrouwees kan nogal ‘n hittige gesprek om die kombuistafel word. Elke persoon sien dit anders.  Vernaam as die konsultante Jameson, Richellieu en Captain Morcan saam praat. Gou – gou is die onderwerp sommer onder die belt in en moet jy keer vir al wat jy werd is of net wegstap.
Vir party is vrouwees ‘n vrou wat in voeling is met haar innerlike. Mans admireer en begeer haar en baie vrouens wens dit was sy of is jaloers op haar. Sy kan gewoonlik deur ‘n ring getrek word. Elke haar op sy plek. Sy is vol selfvertroue en straal charisme uit. Mans brom om haar soos ‘n vlam en sy kan nie voor bly met uitnodigings nie. Dit is asof alles net in plek is en sy in beheer is van als om haar.
Dan is daar vrouens wat by die huis bly, vaal lyk in teenstelling en wat al vergeet het hoe om na hulself te kyk. Hulle is slonsig, het ongewaste hare, grimering is iets wat net met troues uitkom. Daarmee kyk ek nie op hulle neer nie. Ek was self een vir 19 jaar. Ek verstaan presies waar jy is. Dit sluit ook werkende vrouens in wat net die nodigste doen en nie kan verstaan hoekom hul oorgesien word vir ‘n bevordering nie. Hulle smelt saam met die muur, is skugter en belangeloos en word baie keer mis gekyk. Hul wêreld draai om hul kinders en huis. Geen sinvolle gesprek kan met hulle gevoer word nie, wat ‘n jammerte is. Hulle het min opinies van hul eie en staar met leë ogies na die wêreld om hulle. In my oë is dit hartseer. Want sy het soveel om te gee maar haar uiterlike veroorsaak dat sy nie ernstig opgeneem word nie.
Dan kry jy die wat so koketterig is, met hopeloos te veel grimering en te kort rokkies. Hulle lyk sommer ydel. En baie min vrouens het ooghare vir hulle en die manne swerm om haar.
Wie het die fliek, “What a woman wants” met Mel Gibson en Helen Hunt in die hoofrolle gesien? Daar is twee vroulike karakters wat uitstaan. Die gesofistikeerde vrou wat ‘n hoë pos beklee in die bemarkingsmaatskappy, gespeel deur Ms Hunt. Die ander vrou is ‘n “paper pusher” wat niemand raaksien nie. Sy is onopvallende en verdwyn eintlik. Op ‘n dag word Mel Gibson se karakter weggelok van die kantoor af en met bliksemstrale en reën kry hy skielik insig tot ‘n vrou se kop. (iets wat baie mans wens hulle ook kan reg kry.) Hy kan elke gedagte hoor met die gevolg dat hy verstom staan oor die vrouens se denke, wat haar gedagtes okkupeer en hoe veel sy eintlik omgee vir haar medemens, asook haarself in twyfel trek. Hy ontdek ‘n hele nuwe wêreld en skielik kan hy empatie hê met elke vrou, selfs die een wat sommer net verdwyn tussen die besige ure.
Helen Hunt se karakter lyk goed versorgd, is in voeling met die lewe om haar, weet wat sy wil hê en het ook doelwitte. Dit maak haar begeerlik in elke opsig.
Dit is by hierdie punt wat ek wil stilstaan en die volgende vraag vra. Hoe sensueel kan ‘n vrou wees sonder om goedkoop of koketterig te wees? Dit het ‘n baie fyn balans, in my opinie. Onthou julle toe sy vertel dat sy op die punt staan om haar eerste huis te koop, in die fliek? Met haar eie geld, waarvoor sy gewerk het? Sy het absoluut gestraal. En Mel Gibson se karakter was gefasineerd deur haar passie. Natuurlik het die versorgde hare, hoë hak skoene en lipstiffie ook ‘n rol gespeel.
Die sensuele sy van vrou wees.
Sonder om goedkoop te wees kan jy ook, met ‘n bietjie moeite mooi voel. Jy kan die lewe geniet, jouself verbeter en smag na meer. Selfs sy, wat lyk of als in plek is sukkel met basiese dinge soos, is ek goed genoeg of kan ek dit maak? Dit is hoe jy oorkom en jou voorkoms wat jou ‘n wenner maak ten spite van jou eie vrese en vrae. Nie die hoeveelheid grimering wat jy opplak nie, of die te kort rokkies wat jy aantrek nie. Nee dit is dieper as dit. Dit is in die manier wat jy jouself “verkoop” en jouself sien.
Jy het nie duur klere nodig om dit te bereik nie. Jy het ook nie ‘n groot salaris nodig nie. Maar jy het wel kennis nodig oor wat werk vir jou en wat nie. Waste kleure pas by jou die beste. En natuurlik wat jy insit. Stap jy gereeld, eet jy gesond, drink jy genoeg water. Alles faktore wat ‘n rol speel in jou welstand.
Leer jy graag, lees jy gereeld? Nie net tydskrifte nie. Waarmee verryk jy jou? Weet jy wat aangaan om jou? Gooi jy nog tantrums wanneer jy nie jou sin kry nie? Belê jy in goeie opbouende boeke en skaar jy jou met mense wat in jou bou?
Deur net ‘n bietjie rooisel aan jou lippe te sit en ‘n kam deur jou hare te trek maak jy ‘n doelbewuste besluit om moeite te doen met jouself. Dit stuur ‘n boodskap uit na die mense om jou dat jou kop reg aangeskroef is. Deur met ‘n regop rug en reguit skouers die wêreld tegemoet te stap vertel jy vir die om jou dat jy nie kaalhande aangepak moet word nie. Sit ‘n glimlag op jou gesig, al is jou hart stukkende binne, glimlag vir jouself. Wees lief vir jouself en bowe als het geduld met jouself.
Jy is mooi, skitterend, gevul met passie geniet vrou wees. Jy het soveel om te gee. Waardeer jou lyf: elke bult, vallei en alles tussen in. Jy is so gemaak om te wens dit was anders gaan niks verander nie. Geniet wie jy is. Moenie alewig kla oor jou tekortkominge nie. Onthou, niemand is perfek nie. Haal jou fokus af van dit en rig jou fokus op ander dinge.
Stokperdjies en lees verander nie net jou gemoedstemming nie maar verbreed jou kennis. Raak betrokke en reik uit is nog ‘n manier om te belê in jouself. Deur te gee ontvang jy. Ons pastoor het Sondag gesels oor ‘n fragrance of gratitude en Maria Magdalena se lewe aangehaal. Dink net daaraan, haar geur bereik nou nog mense, jare nadat sy Jesus se voete gewas het. Haar verlede was nie belangrik nie maar dit wat sy gegee het was wat haar bo ander gesit het en nou, jare later bewonder ons haar nogsteeds. So moet jy ook wees. Jou geur moet so verreikend wees dat dit mense om jou aanraak. Maar jy moet bereid wees om te gee, om in te sit. Om weer te glo in jouself.
 ‘n Sensuele vrou is nie goedkoop nie maar classy. Wanneer ‘n man haar nader is sy in beheer, koelkop en haar waardes is prioriteit. Sy gee die pas aan. Sy skaal dit nie af om by iemand in te pas nie. Sy dwing nie haar eie begeertes af op iemand nie maar werk na haar eie begeertes toe.  Sy bly in beheer van haarself. Wanneer jy jouself afskaal om “aanvaarbaar” te wees vir die ander persoon het jy verloor. Daardie persoon sal jou los want hy het sy respek vir jou verloor. Ses maande later is hy weg en jy sit met die selfverwyte. Dit is nie die moeite werd nie. Nooit nie.
Mans se koppe is anders as ons sin aanmekaar gesit. Hulle is visuele karakters wat als wil sien en wys. Dit is dan wat hy sal vra vir daardie foto en nie skaam sal wees om syne te wys nie. Ongeag die ouderdom. Hy werk jou op dat jy voel jy aan die brand kan slaan. Maar, selfs in die hitte van die oomblik, voor jy daardie gewaagde foto wil stuur, stop en dink eers. Is hy werklik dit werd dat jy afdaal tot daar? Moet jy jouself eers ontbloot voor hy jou sal aanvaar? Duisend maal nee. As jy daardie punt bereik het, het jy verloor. Deur sulke fotos aan iemand te stuur maak jy jou goedkoop. 
Wanneer ‘n mens alleen is en ‘n behoeftes het na geselskap dan sal jy dink, ag hoekom nie. Dit is onskadelik en jy het ‘n bietjie “fun” maar in retrospek, when all is done, jy bly agter met die gedagtes en verwyte. Niks kan dan jou eer herstel nie. Maak dit uit met jouself sommer vroeg op jou enkellopende pad. Lê die reëls neer en hou daarby. Buig of bars. Luister, jy sal uitgekryt word as kloosterkoek of jy dink verniet jy is so preuts, ek weet jy wil dit hê, maar daar is sekere dinge wat net nie die pot sous werd is nie. Hou voet by stuk en stuur daardie man hel toe dat hy sal uitsien na die trip. Vir mans gaan dit oor daardie een oomblik se satisfaksie. Die nadraai verstaan hulle nie en wil dit ook nie weet nie. Dit maak nie van jou ‘n sensuele vrou nie.
Jou waarde is ver bo korale. Jou vrouwees duurgekoop. Daarvan kan miljoene vroue deur die geskiedenis heen getuig. Jou vrouwees se waarde lê vasgevang in jou siening van jouself en wat God dink van jou. Daarby staan jy. Dit leef jy. Jou sensualiteit is nie goedkoop nie en jy deel dit nie met enige iemand nie. Jy dra dit soos ‘n kleed, met waardigheid.
Deur jou gedrag en optrede kyk jy die wêreld in die oë. Jy trek jou mooi aan, hakskoene ingesluit en jy swaai daai heupies net genoeg maar die man wat aan jou wil vat moet weet dat die pop nie mee gespeel sal word nie. Jy is meer as net die mooi bene, boudjies, borste of gesiggie. Jy het ‘n brein. Gebruik die grysmassa tot jou voordeel. Dink slim en wees slim. Maar moenie jouself afskeep omdat jy dink dit is die beste nie of omdat die samelewing dit van jou verwag nie. Sensualiteit is passie. ‘n Persoon met ‘n positiewe denke wat stuit vir niks. Sensualiteit loop jou vooruit en baan die weg vir nuwe avonture. Jy dink oopkop en is ook nie bang om vrae te vra nie. Jy sien elke gebeurtenis as ‘n avontuur. Dit skei sekere hormone af en jy voel net in beheer.
Onthou asseblief, grimering en mooi aantrek is nie sonde nie. Die Vader gaan jou nie met ‘n bliksemstraal slaan omdat jy bietjie rooisel dra nie. Die is net ‘n hulpmiddel om jou selfvertroue te bou. Ek glo daaraan dat my hare netjies moet wees voor ek dorp to gaan, of kuier mense ontvang. Is my hare kammery skielik sondig. Nee, allermins. Maar my hare en hoe ek lyk veroorsaak dat ek lekker kan kuier, gemaklik optree en met selfvertroue kan beweeg. Daar is baie tye wat ek nie ‘n greintjie grimering dra nie, dit hang af waar ek is of wat ek doen. So dit is nie my fokus nie. Maar dit help darem met die prentjie.
Ander dinge dra ook by tot die innerlike selfvertroue. Hoe meer jy in jouself belê, hoe meer kom die sprankelende mens na vore. Jy is liggaam, siel en gees. Wanneer al drie in balans is dan het jy ‘n wenresep. Met jou gees altyd onderleiding van die Heilige Gees. Hy sal jou vining uitwys wanneer dit tussen jou en jou verhouding met Vader laat staan. As Hy dit nie uitwys nie is dit nie sonde vir jou nie.
Die enigste keer wat mooimaakgoed sonde word is wanneer jy obsessief is oor dit. Dit reël jou dae en emosies en jy ry soos ‘n wipplank op en af daarop. Maar die basiese dinge, wat jou goed laat voel is goed, amper ‘n moet – ons het al voorheen daaroor gesels. Dit maak die lewe net aangenamer.
Verby is die dae dat ons omverskoning moet vra om goed te lyk maar saam met dit kom daar tog verantwoordelikheid. Jy, as vrou, dra die grootste verantwoordelikheid. Dit hang van jou af hoeveel jy in jouself glo. Jou waardigheid en passie is gelykstaande aan die kwaliteit tyd wat jy insit sonder om terug te staan. Jy is geregtig op geluk maar jou geluk hangaf van die keuses wat jy maak. Jy kan niemand blameer as dinge nie uitwerk nie. Net jouself. The buck stops with you. Jy is in bestuur en jou paaie en afdraaipaaie word deur jou keuses bepaal. Maak seker dat jy wys kies; ingeligte keuses maak.  Jou passie is jou dryfveer wat jou met elke tree vorentoe vat. Maar dit kan jou ook kniehalter en stop indien jy die verkeerde besluite neem. Moenie bang wees om raad te vra nie. Wees versigtig maar moet ook nie bang wees nie.
Jou onverskroke entoesiasme sal jou so ver vat as wat jy wil gaan. Maar doen dit met wysheid. Wees vrou, eg en braaf. Net dan kan jy werklik jou toekoms tegemoet gaan. Net soos ‘n Maria Magdalena van ouds. Sy was onverskrokke in haar optrede. Die oomblik toe sy Jesus se voete gewas het was haar verlede agter haar en net die geur van Jesus se liefde het haar omhul.
Skitter net waar jy is diamant, geniet jou nuutgevonde vryheid en kyk die wêreld in die oë.
Tot volgende keer.
Skitter net waar jy is.


ELAN GLOBAL RADIO
Die Stasie Vir Passievolle Mense
https://www.elanglobalradio.com
Facebook: Elan Global Radio Kuier en Klets https://is.gd/s1PX8T
Twitter: Elan Global Radio
Instagram: elan_global_radio
WhatsApp: 066 305 3580



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...