Monday, August 14, 2017

Nuwe boekbekendstelling: Stories van my mense deur Madre van Tonder Nou beskikbaar!


Voorwoord:

Gert Coetzee, Volksblad-redakteur, 2017:
Madré van Tonder het aanvanklik onder Volksblad se aandag gekom as ’n briefskrywer van Brandfort wie se briewe graag in die koerant se meningskolom geplaas is. In 2013 het sy ‘n eerste rubriek aangebied oor die storie en heimwee agter die draad-tuinstel wat haar pa nog gemaak het. Die rubriek het ‘n bietjie oorgelê en rypgeraak, en is toe in oorleg met Madré effe geskaaf en aangepas. Een ding lei na ‘n ander ding, en teen 2017 het bykans 80 stukke van die “rubriekskrywer van Brandfort” in Volksblad verskyn. Sy boor die are raak wat Volksblad se lesers verstaan. Brandfort, sy mense en hul dinge is (toevallig) die agtergrond vir haar sketse. Soms is hulle selfs die onderwerp van haar fyn (self)spot en hekelry, maar nie liefdeloos en kleindorps so nie. Dit kon net sowel ’n ander Vrystaatse of Suid-Afrikaanse dorp gewees het, so bekend is dit ­ - toustanery in die kasregister-ry op ’n Saterdagoggend, koekiebakkery, swak dienslewering, spoke, wit olifante, vroue en hul hare, en vele ander stories. Haar gebundelde rubrieke is ’n toevoeging tot die ryk skat Afrikaanse vertellings uit eie bodem.

VOORWOORD VAN DANA SNYMAN, SKRYWER 

Die eerste rubriek van Madré wat gelees het, het my laat huil, een oggend in my bakkie langs die pad net buite Koffiefontein.Min dinge op aarde is vir my lekkerder as om soggens in my bakkie te sit en koerant lees. Dis vir my ’n soort stiltetyd. Maak nie saak waar ek is nie, en ek is mos maar knaend aan die swerf, soggens gaan koop ek die koerant – én ’n toebroodjie of ’n pasteitjie – en gaan parkeer iewers eenkant, weg van almal.So sit ek toe die oggend met Die Volksblad in my bakkie buite Koffiefontein en lees hoe hierdie Madré van Tonder-vrou skryf oor hoe sy haar hondjie Obama na ’n veearts in Bloemfontein neem, en hoe sy ná die besoek vir ’n man ’n saamrygeleentheid gee – ’n man met sy hondjie, Buksie, by hom in ’n kartondoos, dood. Buksie moes uitgesit word.Ek is onbetaamlik lief vir honde en het al ’n klomp vertellings gelees oor honde wat uitgesit moet word, sonder om daardeur geroer te word. Maar hierdie vrou verstaan iets diepers van die ding tussen mense en honde, het ek vir myself gesȇ. Sy raak nie sentimenteel en ag-foeitog-rig nie. Sy sien die lewe vir die genadelose plek wat dit kan wees. Sy weet iets van eensaamheid.Nou, skaars ’n jaar later, was dit vir my ’n groot vreugde om die rubrieke in hierdie bundel te lees. Of, nee, “vreugde” is nie die regte word nie. Party van Madré se stories karring aan jou diepste emosies. Sy mors nie met woorde nie, daarom slaat party stories jou nog harder. Naby die einde van die storie, ‘Dae wanneer die son vir ons struikel’, roep sy in slegs vyf woorde  - “Dáár het die Opel geluier” - ’n beeld van verskrikking op wat ’n mens nie wil verlaat nie.Nie dat al die stories swaarmoedig is nie. Glad nie. Allermins. Hoe lekker het ek nie gelag, sommer in die eerste storie al, vir oom Abé wat een aand sy balans verloor en sy oog teen die draadtafel stukkend geslaan het.Ek praat spesifiek van “stories” en nie “rubrieke” nie, want soveel van die vertellings wil meer wees as net die inventaris van iemand se frustrasies. Madré, anders as soveel ander rubriekskrywers, kerm en kla nie oor dit en onbenullige dat nie. Sy sien die menslikheid in situasies raak, selfs die spelfoute in die kennisgewing teen die China shop op Brandfort, haar tuisdorp.Soms raak sy nostalgies, maar dis nie ’n desperate verlange dat als in die land weer moet wees soos in die jare sewentig op Sasolburg, haar grootwordplek, nie. Op haar manier maak sy deur haar skryfwerk vrede met die eise wat die nuwe Suid-Afrika aan ons stel. Haar vertelling oor hoe Brandfort sonder water sit en sy en van die ander dorpsvroue koekies vir die munisipaliteit se watermense bak, is ’n klein meesterstuk.Madré kyk met genadige oȅ na haar dorp en die wȇreld, en sy skryf eerlik en helder oor wat sy sien. Sy is my tipe-skrywer.Koop hierdie boek. Jy gaan nie spyt wees nie.Maak net seker niemand sien jou wanneer jy daardie dekselse mooi storie oor die man en Buksie lees nie. 


      
 Boek is beskikbaar by Madre van Tonder madre@vodamail.co.za

No comments:

Post a Comment

Vind jou voete te midde van die warboel. Staan 'n kans om die Gospel Skouspel by te woon. Volg net die maklike stappe.

Vandag se program handel oor metamorfose.  Die proses waar jy van ‘n rou  diamant in ‘n pragtige gepoleerde diamant gaan verand...