Dinsdag 19 Julie 2016

Op watter pad bevind jy jou?


Vandag, oppad terug vanaf Pretoria, het ek tyd gehad om die natuur en omgewing met rustigheid te waardeer. Aan beide kante van die teerpad het plase, ‘n kwekery en verskeie gaste huise my uitsig versier, elkeen het kenmerkende eienskappe wat by dra tot die mooi van dié bepaalde deel van die Ooste. Gewoonlik, in ons haas, flits dit verby maar vandag kon ek die landskap geniet, skakerings van groen en bruin het my oral begroet en elkeen het ‘n ander emosie uitgelok maar die meeste van die tyd het ek net ‘n alleroorheersende rustigheid ervaar en kon ek nie anders as om te dink aan my eie lewe en die paaie wat ek al gewandel het nie.

Sommige was vlietend van aard maar dan was daar die wat ‘n weemoed in my gewek het en trane het onwillekeurig gevloei; spesifieke geleenthede van my lewe het uitgeblink en nou, lank na die lief en seer van die geleentheid verby is kon ek weer die mooi herleef asof vir die eerste keer. Dit het diep spore in my gelos wat ek altyd sal bewaar en ek het ook opnuut besef hoe nietig ek eintlik is.

Ons bestaan word versinnebeeld in die paaie wat ons daagliks wandel; sommige paaie strek voor ons uit soos ‘n groot vet slang wie se kop weg raak in die horison – eindeloos en lui.
Dan is daar paaie wat al kronkellend deur hoë bome vleg en jou uitnooi om deel te word van sy koeltes en skadus, maar, indien jy nie versigtig is nie jouself misgis met die kronkels - wat soms so vinnig kom: sonder waarskuwing – dit is dan wat jy die pad maklik byster raak: verlei deur die mooi maar daar is geen hoop aan die einde nie.



Ons kan liries raak oor ons kuslynne; ons het seker van die mooistes in die wêreld. Langs die einste kuslynne kan ons die uitgestrekte blou water massa bewonder: glimmend en golwend in sy almag. Omsoom met wit strande wat land en see skei en reusagtige rotse wat uit die branders rys, die wind ‘n konstante metgesel wat sy eie taal praat, en die toneel dwing bewondering af. Die majestueuse berge aan die ander kant van die pad troon bo ons uit en jy kan nie genoeg kry van die verskillende rots formasies en plante groei nie. Soms word ons so meegesleur deur die strome van die lewe dat ons nie die verskanste gevare raak sien nie: die gety wat jou dieper mee sleur tot waar jy maklik kan vergaan sonder dat jy dit weet.



Dan is daar die grond paaie wat ons land deurkruis, wat voor ons uitstrek met die horison wat in ‘n “see” geleë is en net altyd aanskuif asof bodemloos en jy wonder wanneer gaan dit klaar kry. Geen skaduwee om jou warmte in te baai nie en geen borde wat jou rigting of bakens aandui nie. Jy het geen benul of jy wel nog op die regte pad is nie en iewers sluimer die twyfel van omdraai, van stop. Dan, skielik sien jy ‘n windpomp uitrys soos ‘n baken van hoop en jy besef jy is nie alleen nie en ‘n glimlag sprei oor jou hele gelaat en jy beur voort totdat jy beskawing bereik.

‘n Sinkblad pad is seker die ergste op ‘n gruis pad – dit skud alles los en jy eet letterlik stof al is al die vensters toe, elke denkbare gat toegemaak en sweet jou afstroom soos riviere op die nimmereindigende geskud. Die pad het net geen genade vir jou nie, vernaamlik as jy met ‘n motor ry wat nie vir daardie tipe paaie ontwerp is nie – soos my Chevvy Sparky. Sy is rats en kan die “punch” vat die meeste van die tyd maar alles skud los binne haar en my hele lyf bewe: maak nie saak hoe stadig ek ry nie. Die lewe is soms so – al vibrëerende en jy eet grond die meeste van die tyd terwyl die verseggende hitte jou uitmergel en jou moeg en uitgewas laat. Niks wat jy doen kan die druk verminder nie maak nie saak hoe stadig jy dit vat nie. ‘n Stuk pad waarmee ek goed bekend is.



Dan is daar die menigte kruis paaie – groot kruisings sonder verkeersligte wat jou verward laat want dit lyk soos ‘n miernes. Dit kos fyn waarneming om die orde raak te sien en dan op die regte tyd te ry. Kruispaaie word altyd geidentifiseer met besluite wat geneem moet word en die meeste van die tyd is dit moeilik want in die kruispaaie van die lewe is daar geen inligtings borde nie maar jy weet jy moet ‘n besluit neem, soms is dit letterlik ‘n lewe en dood besluit voor jy weer kan asemhaal. Is dit nie interresant hoe verlig ons voel sodra ons die keuse gedoen het nie?

Hoofweë /Snelweë is gewoonlik heerlik om te ry vernaamlik as jy haastig is en vinnig by ‘n bestemming wil uitkom. Dit veroorsaak dat jy nie deur dorpe of stadige verkeer hoef te vleg wat net jou spoed belemmer nie. Jy kan voet in die hoek sit en jaag – lekker. Maar die opeenhopings agv. padwerke of ongelukke kan veroorsaak dat jy doodstil staan vir ure met geen idee wanneer jy ooit by jou eindbestemming gaan kom nie – en dan is jy afgesny van alle ander paaie. Dan is daar kere dat stadige motors spesifiek in die vinnige baan bly, net om jou die harnas in te jaag. En so kan ek maar die verskillende scenarios opnoem - julle ken dit goed. Op die oog af lyk alles wonderlik en jy geniet die op ‘n vinnige pas tot skielik – dit is daardie oomblikke wat gewoonlik ons die seerste tref, met oop wonde laat wat baie lank neem om te genees en lank na die trauma kan die spore nog raak gesien word: ‘n stille getuie van jou seer.

Persoonlik hou ek van ‘n wandel pad, jy geniet die stilte en die skoonheid van die natuur “up close & personal” en elke oomblik is ‘n vreugdevolle ontdekking. Maar, indien jy nie die gevare ken nie kan ‘n slang jou pik: dodelik in sommige gevalle. Jy kan jou vas loop in dorings: so fyn dat jy dit te laat besef, of ‘n miernes met kwaai werkers miere wat jou aanval en dan praat ons nie eers van die verseggende son wat neer brand op jou nie, die dors indien jy nie vinnig genoeg by die volgende waterbron uitkom nie. Die alleenheid: vir sommige is dit is soms oorweldigend en kan jou teneergedruk los as jy te lank afgesonder word.

Elkeen van ons bewandel verskillende paaie en soms wonder ek wanneer gaan my eindelose pad van sukkel op hou. Dit is dan wat jy ‘n gawe van hoop ontvang in die midde van die onsekerheid en jy beweeg aan. Hierdie hoop kan deur baie dinge gekenmerk word: 'n mooi lied, 'n onverwagse telefoon oproep, 'n mooi lied wat jou tot in die siel tref, die glimlag van 'n vreemdeling, 'n drukkie of iemand wat 'n hand van bemoediging uitsteek of selfs 'n gebed diep uit die hart en opreg. Dit is dan wat jy jou oë vestig op die horison en vertrou, hopelik – binnekort – kom jy by die spreekwoordelike land van melk en heuning uit. En jou paaie verander van gruis na teer en jy die prag daarvan geniet en waardeer.
Mag jou pad mooi word met elke tree.
Mooi loop





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...